marlise joubert

Marlise Joubert

Marlise Joubert

Marlise Joubert is op Elim naby Levubu gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Warmbad (nou Bela Bela) in die Waterberge en verwerf ’n B.A. (Bibl.)- en Honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy word bibliotekaresse by verskeie instansies. Na 16 jaar by die Departement Beeldende Kunste van die Universteit van Stellenbosch, werk sy vir vyf jaar in Protea Boekwinkel op Stellenbosch. In 1971 debuteer Joubert met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Daarna volg nog vyf digbundels waarvan die jongste, passies en passasies, in 2007 by Protea Boekhuis verskyn het. Sy het drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is reeds vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie.Sy skryf en skilder tans voltyds. Lees meer oor Marlise Joubert op haar webtuiste. 

  

kommerkrale. ‘n gesprek

(vir H)

 

eens was alles vrugbaar

dawerend uitgedos in die land -

 

maar selfs hierdie nuwe sokkerstadion

om ‘n stad in haar kurwes op te hef

sal later aan flardes papier en plastiek verstik

en die wind uit die weste sal kringe stof

huilend in sy hart opjaag

 

want, vertel die vrou met haar hande soos engele

vasgedruk teen ‘n swamsiek eikeboom, Afrika

is nie beroemd daarvoor dat hy sy bates

koester óf bewaar nie

 

dit was eens alles ingestem op pouvere in die hoed

elke digter was ‘n kroonjuweel en sieners van die land

 

en, sê die vrou met haar arms om die moeë skof

van ‘n plaasdier, kon ons liewer na hulle

as na pastore of ministers luister –

ek verdiep my eerder in die woorde

van Blake en Rimbaud

 

sy stap deur haar vesting waar verwe magies fluister

haar ysterhond bly geseglik in sy hoek

haar gipskat lig hom nooit van die kussings op nie

die boeke buig dienswillig vorentoe

 

maar hoog in die stokkiesnes van ‘n gebreekte stad

broei die stadion soos ‘n silwer eier oop en blink

vermoed ons reeds die skare nuutgeborenes

 

en wat baat dit alles, dié miljarde, wat baat dit as ons wéét

more se berigte vertel die brutale verhaal van afgedopte

murasies waar maer honde elke voël en vlinder

uit die tuine jaag

 

dit was eens so mooi en uitgedos

knus onder gebergtes, behoue en versorg

dit was eens – ja, selfs die dorpies oral nou geraamtes

met senuwees van paaie middeldeur geknip

historiese huisies rug aan rug deurgesaag

 

en nou, vertel die vrou met kommerkrale in haar skoot

geklem teen naamlose omtes van haar dagboek,  

nou het die kat die tuin as sy eie gemerk

en rol op sy rug terwyl hy luiweg na

gedroomde skoenlappers kap -

 

hy dink hy is ‘n leeu hier in die somerveld en son

‘n landskap wat al hoe kleiner sonder genade

al hoe nader in die wydtes strek

 

hy swalk hier rond met sy bosstert in die lug

soms verdwyn hy uur na uur om iewers uitgeput

uit ‘n watergat te kruip, stowwerig en wild vir kos –

 

dan bedink ek planne om hom permanent

die onderwêreld in te stuur

Afrika is tog bekend daarvoor, nie waar nie?

 

 

© M.Joubert. Jan.2010  

 

 

 

 

waarskuwings

 

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer

die wind wat die hare van gordyne roer

ek moet jou waarsku teen die strooisel vere

wat die tarentale op ons werf kom los

ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels

kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer

in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku

teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang

want hulle blink verniet

ek moet jou waarsku

teen die maan se mistige oog

die son se roomwang teen jou gesig

ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer

met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai

ek moet jou waarsku

teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug

teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos

teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad

ek moet jou waarsku

teen my kissie van roospapier

waarin al my juwele is die krabbers die hangers

en die ringe van topaas

 

ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie

minder as woorde minder as water minder as brood

want die liefde het net oë vir mekaar

liefde is sonder bril in mekaar

liefde is oë vasgewaai inmekaar

 

liefde is sonder alles omheen

liefde is ’n dennewoud

liefde is ’n beurende dennewoud

waar die boskapper

onverpoos kap

 

ek moet jou waarsku

 

 

Uit:  passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007

 

 

Bookmark and Share