marlise joubert

Marlise Joubert

Marlise Joubert

Marlise Joubert is op Elim naby Levubu gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Warmbad (nou Bela Bela) in die Waterberge en verwerf ’n B.A. (Bibl.)- en Honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy word bibliotekaresse by verskeie instansies. Na 16 jaar by die Departement Beeldende Kunste van die Universteit van Stellenbosch, werk sy vir vyf jaar in Protea Boekwinkel op Stellenbosch. In 1971 debuteer Joubert met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Daarna volg nog ses digbundels waarvan die jongste,  splintervlerk, in 2011 by Protea Boekhuis verskyn het. Sy het drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is reeds vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Van haar kortverhale het in verskeie tydskrifte verskyn. Sy skryf en skilder tans voltyds. Sy is ook die webmeester van hierdie webtuiste.  Lees meer oor Marlise Joubert se kunswerke op haar webtuiste.
 

Die volgende tekste het sedert 1971 verskyn:

 

’n Boot in die Woestyn, Perskor, 1971

Domus, Tafelberg, 1973

So ver en verder, Perskor, 1976

Klipkus, Tafelberg, 1978

Rode Granaat (Dutch translation of Klipkus), Anthos, Amsterdam, 1979

Ontruiming, Haum Literêr, 1986

Oranje Meraai, Tafelberg, 1996

Lyfsange, Protea Boekhuis, 2001

Ateljee van Glas, Protea Boekhuis, 2004

Versindaba 2006, (samesteller) Protea Boekhuis, 2006

passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007 

Versindaba 2007, (samesteller) Protea Boekhuis, 2007

Versindaba 2008, (samesteller) Protea Boekhuis, 2008

Versindaba 2009, (samesteller) Protea Boekhuis, 2009

splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011

 

Vertalings/translations:

 

English translations of some Afrikaans poems

Nederlandse vertalings van enkele Afrikaanse gedigte

 

Fotobeeld

Voorlesing op BookvideoSA Sept 2011

 

 

Eikendal-blues 

 

i

die herfsoggend is opgevang

soos koel glas teen die wang

 

my beminde trek sy grys baadjie aan

my beminde bedek sy bors

met ‘n swart hemp

 

kristalblou is die lug die berge

roerlose versamelings van klip

en gister se fynbos vernis

 

ons koers na die wynplaas toe

om ‘n middagmaal te geniet

in die Bayede-restaurant –

Heil die Koning aan die rand

van ‘n neergevelde seisoen

 

ligte skadu’s beweeg deur die dal

en wingerde trek groen mantels

om die appelgeel skouers weg

 

op ‘n ander kontinent word die blare

deursigtig lemmetjiegroen

met weerlose naels krap hulle

teen die opmars van nog ‘n lente in

 

hier sit my lief en ek by ‘n wankeltafel aan

vlak by die gladde skild van ‘n dam

 

ons eet mossels en kabeljou

terwyl die grond iewers in die land

plek-plek versuip in bloed

 

Heil die Koning en die vyand

kan kom ons wag hom in

 

ii

die dam maak plotseling ‘n oog

in die middel oop gestippel

met spierwit eende hulle vere

saamgebondelde kussinkies van vrede

 

op ‘n ander kontinent

word die eerste voëls nou wakker

 

ek kyk na die eende op die swart dam

ek probeer om wys te word –

hulle dink nie aan die dood

of die dag van môre nie

hulle dink gewoon aan niks

 

my lief en ek praat oor dominante kulture

en die swig voor die swaard

 

terwyl hy kyk na ‘n jong paar wat lag

na toeriste of kelners met borde

die spel van kinders onvermoeibaar

tussen knoetserige eike deur

 

iii

ek sou die gedagtes oor ons droewige

verganklikheid wil uitwis ek sou wil

wys word en vry soos die drywende

eende met asems wat sáám kan swem

oor die donker koue van water

 

hoe sag my beminde in sy vel

hoe beeldryk die lyn van sy nek

hoe innig en verleë die boog van sy lip

 

op ‘n ander reis begin die blare uitglip

terwyl die berge blou vaandels rangskik

vlak bokant die vergeelde wingerd en niks

niks treur ooglopend

op hierdie dag nie –

 

neste roer in die wind

die wit refleksies in die dam

sleur ongesiens onder

‘n wilgerboom in

 

my beminde het ‘n swart hemp aan

só moet ek dit onthou –

agter hom die bleek rug

van ‘n wynkelder en die kleur

van herfs wat sandsuiker

die ylerwordende hare deur

 

op ‘n ander kontinent verblind

die blare die horison

 

Heil die Koning

en die vyand kan kom –

 

ons wag hom in

 

 

© Marlise Joubert. April 2011

(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011).

 

 

waterdans

 

 

na maande

val die waterverf

van haar vingers af, kaats

terug deur omber lug.

in ‘n kobalt vlei vleg lang

nekke van flaminke sierlik na bo. 

 

met elke haal

se toonwaarde op papier,

word die somber hart van die skepper

uitgewan –

verkrummeling begin van voor af,

en die ure verloop soos ‘n wond

wat kleurvol aanhou sug.

 

na maande vloei die verf weer,

 

haar verlange geprojekteer

soos flaminke wat op dun

grafietbene dans,

 

met gelapte vlerke

gehoorsaam teruggevou.

 

 

© Marlise Joubert. April 2011

(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011)

 

 

[foto’s]

 

is dit hierdie vers

is dit die foto hiernaas –

die gesig van die digter?

 

hier is Anukka Peura

wat skryf oor die man

wat fata morgana is.

en hier is Anne Hänninen

skrywende oor talle bemindes wat sy leeg

sien staan tussen malende bye

ver buite die fluweel van rose.

en Arja Tiainen is self die Beautiful Rider

in dye vol woorde. haar uitroep ‘n verleiding

tot die liefdespel waar sy alles kan wees

soos dit ‘n minnaar behaag.

 

is dit die woord wat wakker word

anderkant die vleiende gesig op papier

of is dit die foto wat my verbeelding

op die tong wyd en wyer laat proe?

 

(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)

 

 

[in memoriam: lisbé]

 

“That’s when she stopped, she turned her face to the wind, shut her eyes -“

Jorie Graham

 

dit was nie nodig dat staal haar skraal lyf moes verskeur

dit was nie nodig dat soveel geweld herhaaldelik

moes inhamer nie –

sy het reeds gegroet voordat sy die inferno van bloed betree

voordat die geskroefde hand van ‘n moordenaar

haar in water gooi en vlug

 

sy het reeds afskeid geneem vóór die aankoms by haar huis

sy het reeds haar kinders voor skool gegroet

die kleur van die seun se hemp en die kleur

van sy wakende oog

reeds die skooljurk van haar dogter in dun

skouertjies teen verweer gestreel

reeds ‘n tree agteruit in haarself beweeg

terug in die breekskelet van ‘n droom

‘n stem wat sou roep

duskant die aardse kleed van die oggenson

 

sy het reeds gesterf

in die oomblik toe sy haar man op ‘n stasie groet

wat hom verder neem met niks behalwe

die gewig van herinnering

aan hulle

en háár veral

die geluk so naaldpunt dun gebalanseer

op elke horison wat teen die treinvenster glim

die berg wat nader groter word en met haar hart

in sy geheue so onverklaarbaar lig

soos asem op die tong kom lê

 

reeds was die afskeid daar

toe sy omdraai en huiswaarts keer

verdonker in die laaste magiese stilte van rus

wat sonder woorde sonder tyding sonder enige vermoede

vóórtydig

die klein avondmaal

van haar liggaam

skrikwekkend deurboor

 

(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)

 

 

vrou in Afganistan

[n.a.v. die film “Kandahar”]

 

die vrou was op pad na Kandahar

die vrou was alleen op pad

in die sand in die duine van bloed

in die bloed van die son

om haar suster van selfmoord te red

voor die koms van die groot eklips

 

alleen op pad was die vrou met haar jurk

‘n golf van blou ‘n dissonante vlag

oor die geel riviere van sand

afgeëts teen horison op horison

soos ‘n mens

met die skouers van ‘n vrou

met die kop van ‘n vrou

gesluier teen die on-bestaan

 

die vrou op pad na Kandahar

skommel op die donkiewa

ignoreer die soldate en landmyne

van verstikkende vuur

luister vreesloos met haar hart teen ‘n kruik

sien hoe mans op krukke by die Red Cross-kamp

eenbeen draf oor ‘n heuwel van klip

om eerste te gryp as die bene van hout

uit die lug met valskerms daal

 

sy verpand haar laaste geld vir ‘n kind

om haar te vat na Kandahar

sy weier die goue ring wat hy

tussen sandwalle van ‘n geraamte steel

en op die laaste dag

net duskant die laaste duin

voor die geel klipmuur van Kandahar

in ‘n optog van sangers

en bruide en huwelikgangers

word sy gestuit deur rebelle

met ‘n geweer se loop teen haar wang

 

word sy uitgewys as ‘n onbekende vrou

agter haar burka gekwes

met  geruite korrels van lig    

word sy weggewys as die ongewensde

wat haar suster wou red in Kandahar

 

vóór die koms van die eklips

vóór haar poging tot verduistering

die soveelste droewige dood in die sand

in die duine van bloed helder oordag

in die sonlose nag van Kandahar

 

(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)

 

 

melkbosstrand

 

duine sit borselkoppe bymekaar.

luister, luister hoe raas hoe sloep

die branders lang stremsels melk aaneen.

 

die watervoëls swenk uit die wind  

klap vlerke teen die somerskuim.

ongemerk skuif die duine hulle heupe weg.

 

veraf uit die mis wasem en breek

eers die drawwers dan die perde met ruiters.

en alles begin galop oor die strand teen ‘n son

 

wat sy brandende skip dieper laat sink.

goud kleur grys na rooskwarts jogurtwolk.

‘n hond sleep ‘n seewierarm op die sand.

 

links rys tafelberg op soos ‘n kasteel

uit die sirkelgragte vol dralende rook.

regs staan koeberg stil op kernkrag

sing atome onhoorbaar deur die lug.  

 

uit die lappie uitgeduinde sand

voor ‘n wye huis stoot mielies orent.

word blare bokkomdroog gebroei.

 

‘n vrou pluk lang vingers groenboontjies af

braai die sondag-geelstert in suurlemoen

lag en drink vonkelwyn met ‘n perskegeur.

 

ek kyk na dowwe figure met kinders al slenterend

en honde in die louwarm skemer emmersvol

verspil teen huise reeds verlig. nog ‘n hings

breek ritmies deur en verdwyn opeens in room.

 

vensters en skuifdeure staar met vaal

glasoë terug. die dreuning van ‘n boot

versink. twee stoeltjies word opgevou.

 

koeberg splits donker af teen die maan.

 

minnaars omhels en kloof uiteen.

 

in tafelberg se kasteel blaas

iemand kerse dood.

 

(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)

 

  

waarskuwings

 

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer

die wind wat die hare van gordyne roer

ek moet jou waarsku teen die strooisel vere

wat die tarentale op ons werf kom los

ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels

kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer

in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku

teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang

want hulle blink verniet

ek moet jou waarsku

teen die maan se mistige oog

die son se roomwang teen jou gesig

ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer

met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai

ek moet jou waarsku

teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug

teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos

teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad

ek moet jou waarsku

teen my kissie van roospapier

waarin al my juwele is die krabbers die hangers

en die ringe van topaas

 

ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie

minder as woorde minder as water minder as brood

want die liefde het net oë vir mekaar

liefde is sonder bril in mekaar

liefde is oë vasgewaai inmekaar

 

liefde is sonder alles omheen

liefde is ‘n dennewoud

liefde is ‘n beurende dennewoud

waar die boskapper

onverpoos kap

 

ek moet jou waarsku

 

Uit:  passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007

Bookmark and Share