Martina Klopper
|
Martina Klopper is in 1976 gebore en het grootgeword op Reitz in die Vrystaat. Sy matrikuleer aan die Bethlehem Voortrekker Hoerskool. Sy het haar B.Mus-graad in 1999 behaal by die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi in 2008 ‘n M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het begin werk as rekenaarprogrammeerder vir sowat vyf jaar lank, hoofsaaklik databasis-ontwerp. Sy werk tans as ‘n besigheidsanalis in die finansiële dienste-sektor en woon in Kaapstad. |
Besoek
Poetry arrived in search of me - Pablo Neruda
Hierdie gedig besoek my soms,
ek wag geduldig op haar koms:
sy is jy.
Haar geraamte is ‘n leë woord,
‘n spook; sy droom van lyfkry:
sy is jy.
Maar sy vertoef nooit lank nie,
sy skrik as ek aan haar raak:
sy is jy.
(c) Martina Klopper (uit: Nadoodse ondersoek, 2010: Human & Rousseau)
Gebreekte triolet
Jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen ID’s;
as die primêre band breek sal
jy vind, databasis-integriteit
is verstoor; ons as databasisse
is almal so - bandeloos - want
jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen Id’s.
© Martina Klopper. Augustus 2010






