Joan Hambidge
|
Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009). Sy is ’n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman - ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ’n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugéne Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.
Luister na die video-greep hier van ‘n voorlesing van haar verse tydens Versindaba 2007 in Stellenbosch.
Die volgende tekste het sedert 1995 verskyn:
Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995. Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995. Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad.1996. Ewebeeld. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1997. Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998. Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998. Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000. Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001. Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002. Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004. En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005. Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2006. Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2008. Kladboek. Protea, Pretoria. 2008. Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad.2009. Visums by verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011
|
Gustave Flaubert (1821 - 1880)
“Madame Bovary, c’est moi”.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Lewe geen Kasteel van Harte
nadat Louise Colet jou verlaat;
uitgespeel in die Revue de Paris.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Teenstand word jou muse:
vriende en vertrouelinge
afwysend oor jou kontrapunt.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Skryf vir jou ‘n perpetuele orgie,
‘n onnoembare, steurende ekstase,
beter as ‘n Sentimentele Opvoeding.
Altyd op soek na “le mot juste”.
In vele hoerhuise besoek jy
prostitute van beide geslagte:
dra ‘n Kaïnsmerk van dié vergrype.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Niemand kon soos jy afwysing verdoesel,
‘n afsêbrief onder ryp appelkose plaas,
én liefdesonvreug uitspeel tot ‘n slotakkoord.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
© Joan Hambidge. April 2011
*
Liz Taylor
“One take Liz”,
altyd perfek, reg
en so gereed vir die kamera:
so two-step sy deur die mynveld
van kritiek, vele huwelike én omstredenheid.
“Sukses is ‘n deodorant”, meen sy nonchalant.
Gooi haar blouswart hare terug, stal juwele uit,
fnuik nog ‘n siekte, troef gladdebek Larry King
met ‘n vinnige rughandhou. Advantage, Ms Taylor.
Kinderster, Cleoptra en ‘n latter day-Koningin
van glans: voor en agter die kameras,
toe dit nog rol, kon sy met presiese tydsberekening
‘n mede-ster (of opponent) van die baan af speel.
Hartsiektes, osteoporose; niks bring haar van stryk.
“Roll on Liz”, bits ‘n koerantopskrif neffens haar in ‘n rolstoel.
O ja, sy was ‘n glimmerende koket-van-die-baan,
sal dit altyd bly, met of sonder Richard Burton,
minnaars wat kom en gaan, in ‘n verbete afslaan
of ‘n bal wat net-net oorbons: selfs laat vir haar eie begrafnis,
‘n weergalose ster, flonkerend oor die media-baan.
Forty-love!
© Joan Hambidge. April 2011
*
Tsoenami: Japan
Sendai
Ibaraki
Iwate
Fukushima
Tochigi
Seismiese moment
naskok
(Me) of 1.9±0.5×1022 joules
600 miljoen keer kragtiger
as Hiroshima;
Noord-Oos Japan
2.4 meter nader
aan die VSA,
die aarde se as
glo geskuif.
Shinmoedake
in protesterende lawa.
Antarktika se slipstroom
praat stotterend saam.
(Daar was ‘n notifikasie
van vriendskap.)
Buite woorde die verwoesting,
ónmoontlike opruiming.
‘n Boodskap van God
op die natuur se Facebook?
© Joan Hambidge. Maart 2011
*
Derdeoog
Op ‘n markplein in Athene
sit ‘n ou man met pêrels op sy oë:
in sy ónsienlike bestaan kyk
hy na die gewerskaf, hoor die geredekawel
en, glo my vry, voorspel hulle
dat hy eendag weer sal sien.
Op die vismark glinster ‘n visoog,
kieue oopgeskeur, skubbe afgekrap.
In daardie blindeoog,
in daardie visoog, staar iets terug.
‘n Siener voorspel reise na orals
en nêrens, ‘n lewe van oorvloed.
Op daardie markplein in Athene
was daar ‘n man en ‘n vis,
beide was kortstondig hier,
vasgevang in die lens van ‘n kamera,
in die blindekol van ‘n optelvers,
presies in die derdeoog se hoek.
© Joan Hambidge. Maart 2011
*
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.
© Joan Hambidge. Feb. 2011
*
Kerstyd
Vir Fanie Olivier
Die kinders speel krieket in die straat,
die grootmense sit met ‘n sundowner
en praat oor die eerste hartoorplanting:
Louis Washkansky met ‘n jong vrou se hart.
My Tante hou ‘n bleek whisky vas, en meen,
dit-kan-tog-nie, ‘n vrouehart in ‘n man se bors?
Ouma smak aan ‘n brandy-en-water en my liewe Ma
troos ‘n gin en tonic, as ek reg onthou…
‘n Opslagbal breek die Voortrekkersaal se venster;
ons laat spaander toe die faktotum op ons skel.
My Pa, die ouderling, sal môre red wat te redde is.
Vir agtien dae leef Denise Darval in sy borskas,
soos ek herinneringe abba uit daardie tyd.
“Regrets I had a few, but then too few to mention”,
sing Frank Sinatra, die mees herhaalde lied.
Comme d’habitude.
“Hulle gooi weer klippe op die N2″…
Op die stoep word alweer oor my neef se hare gekla
en omdat hy surf. Bo sy bed in die buitekamer stook
Clint Eastwood vuur: the Good, the Bad and the Ugly:
vir ons is dit L.M.-radio, grappies maak en skelmrook.
Die lang, warm dae in die Strand met ‘n Kersboom,
geskenke en soos my Oom se snor, ‘n grasperk,
nie ‘n sprietjie uit sy plek, alles so absoluut perfek.
© Joan Hambidge. Feb. 2011
*
Droom
In die vertreksaal van ‘n lughawe
versoek jy my om jou tasse
op daardie reis saam te neem.
Jy praat woordeloos met my
deur die koue glas waar geliefdes
afskeid neem, terugdraai, vir oulaas omkyk
hoe iemand deur die doeanepunt beweeg.
Jy het my alles geleer van om-alleen-te-reis,
van die gedig wat swaardra aan stempels,
visums na onbekende streke van die hart.
In daardie vertreksaal van my droom
soek ek vervaard na my eie bagasie,
ontdek my tas in die aankomssaal
volgeprop met verse en drome
en mites en kleitablette en vrese.
‘n Droom is ‘n apostroof, ‘n palindroom,
dit laat iets weg én voeg by.
Dit is ‘n vingerwysing, ‘n dubbelpunt,
‘n weerkaatsing - dalk ‘n aankomssaal
waar die geliefde, allesbegrypende leser
jou woordoordadig dog in stilte ontvang?
© Joan Hambidge. Jan. 2011
*
Liza Minnelli unzipped
Dames en Here,
ek stel u voor aan Liza Minnelli:
GeTony, GeEmmy, GeOscar,
selfs GeGoldenGlobe
dis Liza, voorste danser,
sanger, aktrise,
aka Sally Bowles,
die dogter van Vincente Minnelli
en Judy (”Over the rainbow”) Garland.
Die lewe is ‘n kabaret, ou tjom!
“Love hurts” sing sy oë oopgesper
saam met die Pet Shop Boys.
Vier huwelike, vier egskeidings,
vele kere geBetty Ford.
Vereffen haar moeder se skuldlas:
“So sorry I said”.
Liza met ‘n zee,
unzipped,
zzzzzzzzzzzzzzz,
derms uitryg
op YouTube:
skelm gekiek
oor die muur,
kapoet, wankelend.
Op die web se reklamebord
“The night Liza Minnelli
collapsed on stage”
kliek, kliek, kliek.
© Joan Hambidge. Jan. 2010
*
Besoek,
‘n speelse vers
Hierdie week ontvang ek besoek,
van familie uit die Noorde wat afpak.
Daar is Tant Alliterasie en Oom Rymwoord
met hul telge Stanza, L’Envoi en Refrein.
O wat het geword van die rym van voorverlede jaar?
Vir ‘n tyd gaan hulle my ruimte oorheers
met vakansie-eise soos ‘n rit op die kabelkar,
‘n uitstappie na Kirstenbosch en die akwarium.
Saans sal ek moet luister na uitbarstings
oor Neef Vrye Vers se metriese manewales
en my Tante sal hoog opgee oor die gesin
se uitsonderlike manier van dig.
Die gesin Ballade van Waterkloof.
O wat het geword van die ritme van voorverlede jaar?
Elke beeld netjies en op sy plek.
Enig in hul soort stu hulle voort.
Maar ek het nie die hart om te onthul:
die ballade het ‘n streng vorm,
drie stanzas, agt reëls en drie ryme.
O wat het geword van die metrum van voorverlede jaar?
Hoe sal ek dit aan my familie verklap,
hul digterlike ambisie ten spyt,
en rusie met Neef Vrye Vers,
is hulle gesnoeker, geblok in ‘n hoek?
L’envoi
Stanza, L’envoi en Refrein
kom skink ‘n wyntjie vir die pyn.
© Joan Hambidge. Des. 2010
Nuwejaar
Snags in ons huis langs die rivier,
daardie rivier wat elke sewejaar
sy onbestendige walle oorstroom,
gis die gemmerbier in die spens
langs die dadel- en piesangbrood.
‘n Waatlemoen, spanspek, perskes
uitgepak vir die Nuwejaarspiekniek
op die groen walle van die Vaal.
‘n Man trek ‘n knewel van ‘n kurper uit
en kinders gil oor ‘n vis wat soos ‘n slang seil.
‘n Ski-boot gooi wilde esse en bierbottels bons
in die yswater langs smeulende vure.
Ma sit in ‘n geblomde rok en pa met ‘n blazer,
altyd die perfekte gentleman, luister na die kriekettelling
op ‘n klein radio. Alles is so spiekeries.
Oom Johan, die gesondheidsinspekteur,
kla oor die munisipaliteit en Tannie Six,
nou gealzheimer, neul oor mense van kleur.
“Oppas vir Bilharzia”, waarsku ma. My suster
stap stroomop met ‘n man; ek ontduik
‘n jong luitenant se giftige blik. My oë vasgenael
op ‘n meisie wat sonbrandolie insmeer.
Nou oorstroom die besmette Vaal nie meer
nie, en die Slegs Blankes-borde is onttroon.
En snags hoor ek die gemmerbierbottels
se doppe skiet in die spens van ons-huis-langs-die-rivier.
© Joan Hambidge. Des. 2010
*
Die intieme aard van die digkuns
Hoe weet ek, vra jy my,
‘n argument in ‘n vers werk of nie?
Jy soek ‘n reël, eis jy dringend; die regsgeleerde
vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.
Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,
blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,
ontdek ‘n kaart van Praag: Hotel Jalta,
110 00 Praha 1, tel.no. 265541.
Nóg my naam nóg aankoms en vertrek
hier aangestip. Maar in my verbeelding
is ek weer op soek na Franz Kafka se huis
met die klein plattegrond in my hand
na ‘n kontinentale ontbyt om ses,
verby die Krym Bar (dit was vóór die internet
ons blitsig kon konnekteer), af, af, af
tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.
Daar was ‘n wagtende geliefde, ja,
en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg
om die verlore Rembrandts te bespied.
“Die lewe is ‘n reis”, staan dit opgeteken
in ‘n klein notaboek,” en die liefde ‘n hellevaart”.
Later in die Hermitage staan ons verwonderd voor
“Die ontering van Haman” en in die meester
se fyn balans tussen donker en lig,
geskiedenis en verbeelding,
weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.
‘n Gedig word voltrek in stille toeval.
© Joan Hambidge. Desember 2010
*
Ons nag in Luxor
toe jy verdwyn
en ek wag in die klein kabine
en hoor hoe passasiers rumoer op die bodek,
selfs die kaptein bel om te hoor (is dit veilig?),
die patryspoort oopmaak en sien hoe twee lovers
in die aangrensende vertrek
(die twee logge skepe lê twee sardiens in ‘n blik teen mekaar)
met mekaar praat, foto’s van tempels laai op ‘n skerm,
watter een sou ek nie nou kon raai,
dalk Karnak? Met ‘n half-blinde Nefertiti
koekeloerend
op ‘n poskaart gekoop op ‘n mark
met gebottelde water,
Koningin Hatshepsoet
in die Deir al-Bahri,
het jou geweldig bekoor.
Daardie nag bevat al die elemente
van die einde van ‘n verhouding
en ‘n gedig se aanvang;
boonop wis ek nie toé
dat die gegewe die werklikheid vooruitreis:
jy het in die nag spoorloos verdwyn
en my stil agtergelaat sonder adres
vir daardie poskaart,
vir jou ‘n blote hiëroglief.
In ‘n andersoortige kamer,
wag ek steeds op jou:
‘n stanza is immers ‘n halte, ‘n staanplek.
Nou val daar oggendlig oor die volta
van die gedig.
© Joan Hambidge. Des. 2010
*
My pa
wou ons Sondae treat
met ‘n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaars gekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla…
En my pa wat smul aan ‘n groen Grünberger Stein…
Ek skryf hierdie vers in ‘n Italiaanse restaurant
met ‘n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ‘n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s…
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my véral wysgemaak:
die lewe is ‘n spyskaart,
een wat jy saamstel
for better or worse.
© Joan Hambidge. Desember 2010
*
Reünie
‘n Onverwagse oproep
vir ‘n samekoms: “ons matriekklas
se reünie…” vra hoeveel onse in u pond?
Ek stof die kiekies in my geheue af,
vind geen kleurfoto, net die donker grein
van onwillig, onbegrip, ongenooid…
Die Skeinat-onnie met sy ongebreidelde snor
bliksem ‘n matriekseun met ‘n bordpasser tot in trane,
Die Biologie-juffrou bloos oor die geslagsontwikkeling
van die den (en pouse is dit Nuwe verse en Eybers
in die donker biblioteek met ‘n Dewey-sisteem),
wyl Die Afrikaanse onderwyser humor uitwurg
in Die Burgemeester van Slaplaagte en Van Wyk Louw
one-two-cha-cha op die politiek van die dag gooi
soos wors en tjops op ‘n helse braaivleisvuur.
Maandag open Die Skoolhoof met skriflesing en verwyt
oor twee prefekte se gevryery op die rugbyveld
(ja, die maan het lósgekom), wyl ‘n vriendin tjank
in die Duitse klas oor dít wat nie staan nie in die skooluitgawe
van Raka. Gemuurblom kyk ek toe: die two-step
op Pretty Belinda met die hoofseun (nie met my),
maar met háár wat later wegskuif toe ons Waterloo
dek tot in die iteratief-duratief van hierdie morsige gedig.
Uit die wat van onse hemel, dreunsing ons…
Quid est? krap ek voor in die TOD se Latynhandboek.
‘n Klasparty van ‘n ryk boer se gepoetste dogter
nooi almal wat vermoeid is en kan ontlas
- behalwe die Onderdorpers en Buitebaners -
en die matriekafskeid eerder in die vergeetboek geberg.
Daar blou die swembad, groen die gras immer en altoos.
Die atletiekveld laat steeds sy skote knal:
in die geheue se rekordboek bly alles opgeteken.
My goue matriekmedalje vir beste Leerling geskaai.
Liebe Dein Symptom wie Dich Selbst!
En vermy reünies soos die pes.
© Joan Hambidge. Nov. 2010
*
Met hulle is ek
- ‘n palinode
Vir Ingrid Jonker & Johann de Lange
Met hulle is ek
wat dwelms misbruik
omdat ‘n ongelukkige jeug
of dwase oordeelsfout vir altyd bly wroet
met hulle is ek wat die hek van ‘n Weskoppies
of ‘n Valkenburg vir eens en altyd moes hoor sluit
teen die idees van wat normaal of aanvaarbaar is stuit
teen die jeugfout wat bly terugkeer soos bose swere op die lyf
met hulle wat roekeloos en volledig liefgehad het
met daardie liefde ‘n skande ‘n fout, ‘n verdriet
‘n kind moes afteken in ‘n huis vir ongehude moeders
omdat dit beter so sou wees en die kind voel roep
deur elke maandstonde en elke ongevierde verjaarsdag
‘n mondigwording sonder moeder, vader of familie ja
met hulle wat op Vlaktes grootword met verkragting en geweld
met bendelede en drug lords as die laaste gesag
verskoppelinge soekend na aanvaarding in ‘n wit sisteem
waar kleur en armoede en aksent hul immer buitehou
slapend onder swart sakke asof ‘n lyk
met hulle is ek, die Hereweet
omdat niks meer eenvoudig is nie
en die leuen juis in ongeregtigheid bly gedy,
ja met hulle is ek
© Joan Hambidge. Oktober 2010
*
My Oom
glo ‘n telefoonoperateur
laat die lyne suis
tussen
hom en my pa.
Snaaks,
my pa het nooit daaroor gepraat nie:
oor sy broer
se werk by die sentrale.
Een nag sien ek hom op die bed sit,
maar hy praat met homself.
Daar was ‘n kind
se dood by ‘n viergangstop
iets was daardie dag soos telefoonlyne gekruis.
Die ander kind heet hierna Hope.
(”Hope is the thing with feathers”, of soiets…)
My oom word ‘n alk





