martjie bosman

Martjie Bosman

Martjie Bosman

Martjie Bosman is op Groblersdal gebore en het aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang.

’n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook van haar pen verskyn. In 2010 verskyn haar bundel Toevallige tekens by Protea Boekhuis.

 

INSTALLASIE: KISPAK

vir Jan van der Merwe

 

Die intieme klein gebaar van die hand

wat die skeermes in die skottel spoel

word eindeloos in flikkerblou herhaal,

word monument vir Jan en Alleman

wat dalk maar eenmaal die kispak dra:

’n spogpak, ’n troupak, ’n aandpak,

’n pak vir ’n okkasie, met gepoetste skoene,

skoongeskeerde gesig en gekamde hare.

Dan word die pak diep weggepak

tot dié dag as die kis

die pak weer waardig is.

 

 

INSTALLASIE: VERTOONKAS

vir Jan van der Merwe

 

Hier sou hulle die beste goedjies hou

in so ’n hoekige halfmaankas

met ’n klein kopersleutel en ruite van glas:

die blomkoppies met randjies van goud

die klein kelkies vir Sondag se soet wyn,

miskien ’n hondjie of herderinnetjie,

’n blombakkie van kleurige porselein

en ’n lepeltjie van ’n vreemde plek.

Hier ook was die vergete kommetjies

wat gebeure moes herdenk, in die geheue

nou verbleik soos die vaal prent bo die kas.

Hier moet ons ook die hande onthou

wat sou vryf en vryf om iets te herwin

van ’n dowwe glans onder lae patyn.

 

 

©  Martjie Bosman. Mei 2009.

 

 

 

Wena Naudé

 

‘n Mens sou wel kon wonder wat het jou besiel

om die geliefde plaas te verlaat en aan te tou

agter die voortvarende Hollander aan.

Wat het jou laat vermoed dat jy so goed sou pas

in die rolle van vroue uit vreemde lande?

‘n Mens sou ook kon vra wat dit was

wat jou kon dra deur die desperate depressiedae,

wat het jou gees bly voed toe jy moes oorleef

deur honger, huwelike wat nie hou nie, slenterslae.

‘n Mens durf skaars dink hoe sou dit in jou klere sit

toe jy vernederd en vergeet in Foschini moes gewaar

hoe winkeljuffers agter hande fluister en veelseggend knik.

Sou ‘n mens jou vra, weet ons nou, sou jy met jou oë

steeds vertrouend blou, sonder twyfel sê:

“Dis omdat ons almal verliefde dromers was.”

 

   

Uit: Versindaba 2005, Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2005

 

Bookmark and Share