melanie grobler

Melanie Grobler

Melanie Grobler

 Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn.  In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin. Die waterbreker beeld die bewussynsreis van die self uit. Daar word weer eens na die verhouding van die “ek” met die gesin gekyk. In plaas van die biologiese word daar oor die digtersvoorgeslag geskryf. Melanie woon op Pringlebaai.

Lemoenbloeisels

 

 

Historical amnesia is a dangerous phenomenon, not only because it undermines moral and intellectual integrity, but also because it lays the groundwork for crimes that lie ahead.

Noam Chomsky −Hopes and Prospects

 

 

1.

 

ek dog mirakels bestaan nie meer nie, maar nee sê die vigslyers

met ʼn knip van die oog volg hul die man met ʼn kleurvolle vlieër

 

nooit sal hy weer lemoenbloeisels ruik nie.  ʼn skoot deur die hart

ekstaties hoog word hy nou op skouers deur modderige stegies gedra

 

die vroue ween en die wit duif vee die hemel met sy vlerke

hoër en hoër die wit geskilde lemoen van sy vlerke, die vlerke

 

van vrede wat vlieg.  in die middag as die slapelose digters

om die graf vergader sal die wit duif slaap

 

2.

 

die bloeisels is die dodemars van die sneeu

maar die politikus skil die lemoen en sê dis die son

 

3.

 

asof daar uit geweldadige rye getree word

val die grys gefluister op die grond

 

die vonnis staan op die magistraat se dorpsbef geskryf

en alles verander na ʼn grommende gerug

 

hierdie brose niks, hierdie vormlose angs wat ons

snags bedreig.  god hurk oor die huis van my kinderdae

 

en ek bid ʼn falsetto gebed, bewe soos ʼn hond

in die duisternis van ʼn laat naggedig

 

4.

 

koringbrood van moord en mielies van geweld, rogvelde

van dood.  dwarsoor die dorsland van transformasie

 

loop mans na fabrieke en mynskagte.  tussen geweerskote

en sonsondergang buk werkers agterdogtig oor

 

gerugte van gevangenisskap van skoenlappers.  die land is hoog

en die land is laag.  nou is die vers die pad van rewolusie

 

wat lei na beddings gevul met plakkers huisies versteen teen die ewigheid

 

5.

 

waar christus se varkblom blom

hang die verwonde maan oor die plakkerstad

 

by die kruispad van verbeelding is my hande

twee duiwe wat spartel.  brand weer saam met my

 

my lief, as jy afrika aanvaar kan jy hier sterwe

 

6.

 

dwalend van genesis tot die apokalips, langs lyne

en sirkels na die diepte van die labirint

 

die ou vrou, beskerm deur die waansinnige skadu

van ʼn sambreel, struikel in die straat.  as die wit duif

sy oë knip sien sy die mars van die werkers

 

o gebalde vuiste wat glimmer in die geweldadige

middagson.  o twee duiwe wat spartel buite my hande

 

 

 

© Melanie Grobler.  Ongepubliseerde gedigte. Oktober  2010.

 

 

 

Die Rugkant van die Nag

 

Sy swaaiende arms, maer en lenig

altyd in vervoering, altyd verbaas                                        

soos die dag toe hy uit die vlamme van sy klere

tree om al langs die lae strand te wandel.

 

Die transparante waansin van die argitek, getrou

aan diep innerlike waarhede as hy op die rug van die walvis ry.

As hy in sy verlange na ’n skip albatros word.

Ons onthou die intensiteit van sy lenige berekeninge, die spekulasie    

 

oor terreine, skadu lyne en projeksies,                    

eindelose volumes waar chi deur ruimtes vloei. 

Uit Middeleeue vure word alles vasgevat.

en in een heldere moment klim die argitek die trappe

 

na die tekenkamer.  Fyn geteken op ’n tekenbord

oor geteken om te onthou, ‘n wit gekalkte seehuis

’n Zen geharkte tuin van gruis, en voor die huis ’n enkele rots,              

’n sprietjie gras.  Ons huis gebou op die helder rand van die ekstreme.

 

 

 

Die Hoë Ikoon

 

Lank staan ons voor die sandsteen gebou.  Die diepte

van die dennebome.  Die wyse waarop hul staan

starend na die vloedgesig van die hoë donker berg.

 

’n Storm dra ons na ‘n lang gang.  Ons volg die vrou se ekstatiese roep,      

’n gongende roep soos van sterwende troepe.  ‘n Roep

soos koning Agamemnon vanaf sy hout verweerde skip.

 

Die tierende wind dra ons na die geheime klooster. 

Geknield op die klipvloer,                                    

swart die Spaanse spieël van haar bevrore blik.

 

Die gietende reën dra ons na die misterie, na stringe gebede in ’n sykapel.

Hoog bokant die koepel van die winterstorm, die groot geroep

in heldersiende Afrikaans.  Sien sy toe in een oomblik die verre hoë ikoon?

 

 

 

            Die Lhote  Ekspedisie na die Aouanrhet  Gebergtes. (1956)

 

Langsaam groei die vermoede.  Dis vermindering

hierdie wegval van die lyne om jou mond,           

dis hoe alles verdwyn in die grys mis van herinnering.  

Oorblufte ure, wat soos druppels deur die vingers gly.            

In weerwil van dié lewensglimpsie, bly iets omvattend

 

in die onbewuste blom.  Weggegaan,            

my van jou onttrek.  Tussen vyf en sewe                           

lê ek op die enkelbed, net duskant die kanaal van slaap           

maar binne enkele minute vra iets anders die aandag.       

Die landskap voorheen verslons en afgetakel               

 

swel uitmekaar, word onherkenbaar onbeheers.       

Heeldag lê en luister hoe reën teen die ruite val.

Dis tog onnodig hierdie durende grys gedrup op die grasdak.

’n Vrou wat gewoon na reën kyk, kan teen die verveling                

altyd ’n boek optel om saam met die reisiger

 

oor die veerligte netwerk van droë riviere te strompel.

By Ténéré en die Guezzam se hidrografiese sisteem

glip swemmers soos visse in ’n waterlose fresco op die rotswand. 

Terwyl sy geselskap op hom wag, trek Lhote

die eerste hulpelose potloodlyn, die eerste swemmende lyn                      

 

wat reguit téén die gekeepte lyn van jou getroue mond roep.                       

Oraloor huil die wind.  Die wind huil en die wind huil oraloor weer.

 

 

            *

 

Op pad na Tassili troon die massiewe Aouanrhet ses duisend voet hoog

bokant Jabbaren pas.  Ons het dae lank oor die sandduine

van die weggeveede see gestap, verby die sout van die chotts                                  

en die oesterskulpe op die hammadas.  Ons vergaan van dors, skryf Lhote.

As die kamele en die twee donkies wat argeologiese toerusting dra

struikel, rus ons by die Wadi.  In die troebel water swem iets soos steurvis.               

‘n Vis met swak sig, ‘n smal lyf en ‘n ysterkop soos die plat kant van ‘n harpoen.       

Mond  aan die onderkant. Monsteragtige voelers wat oor die slap mond hang.            

Dus ‘n bodemvreter.  Ons vang die vis met ’n gebuigde hoek,                                    

gewone lyn en stukkies dadels.  Laatmiddag bak ons vis in ‘n platboom pan.             

Die vis leef alleen, en neem ‘n honderd  jaar voordat hy paar

fluister die Tuareg gids bakhand as ons die grate op die wit vishoop  gooi. 

 

 

                                        *

 

In die fresco, by Sefar sit hulle geloofloos teenoor mekaar

elk ‘n hand wat tydloos na die ander uitgestrek.                               

Stom na jare van inkyk, ontvou hulle binnemondse

gesange om hierdie nag.  Hierdie sandduine,

hierdie donker vye teen die sandduin

waar die vrou suutjies tjank en pis op die turfriet rondom haar.

Geen man sal ooit haar lêplek binnedring nie.

 

Ek is by die einde van denke

nou in hierdie dae van ink as ek oor my Wadi skryf.

 

 

©  Melanie Grobler. November 2009

 

 

 

 

Emalia se Gedig

 

Ek hoor iemand roep jou naam

maar herken nie die klank van my mond nie.

 

Visse betree die poel en vertrek met hoogtety

die deining van diep plekke betree die skulpe van ons gehoor

en alles wat val, val na die wykende kras van die kormorant

na sanderige katedrale van vrygelate liefde en ruisende waters.

 

Slapend op die strand is die wind ‘n krul op jou mond

‘n sagte hoop, ‘n sagte rots van ‘n man

die buitelyne van jou lyf, ‘n verblykte walvis

of ‘n sug in die krul van die ewige moment.

 

 

 © Melanie Grobler – Maart 2009

 

 

 

Vietnamese gedig 1

 

oor die nag kom onthousels van die laggende militia

voëlkoutjies van bamboes reis en cyclo’s word

kyk hoe kruip my hande na die vlammende lem

wat soos ’n lampie uit ou oorlogsraampies na my wink

toe die gids my twee messe gee: een gebruik ek

maar die mes van verbeelding glip uit my hand

en sny Halongbaai en sy blou see bergies

soos seile op die koloniale atlas oop

alleen in die beweging van sy lyf ingesterf

langboot roeier op water laat hy die spane dieper sak.

 

In die middag en my droom

voor die oë van die gids en die toeriste

steek ek hom    ’n streep oor die ingedraaide gesig

en in en om die skree wat om my lippe hang

pak die oseaan soutvlekke om sy hart

herken hom skaars   roep oor die boggel van die water

Jan of Johannes of Janus maar sy naam beteken niks

deur die oop oë van die wond sien hy

’n Sjinese jonk     haar seile die naggloed

wat dwarsdeur leegtes van geen gedagtes loop.

 

 Uit: Versindaba 2005, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2005

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share