melt myburgh
|
Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword. Nadat hy in 1992 ’n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land. Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Sy debuut Oewerbestaan verskyn in 2010 by Protea Boekhuis. Hy wen die Ingrid Jonker-prys 2011 vir hierdie debuutwerk.
|
toeval
aan ‘n toeval sterf ek byna
daardie sondagmôre
in die avenida de los andaluces
sonder praat betree hy die bus
beklink sy passaat met uitgetelde munt
en neem stelling in, twee sitplekke van my af.
onthuts probeer my brein elke detail registreer;
wíl dat dié gestalte gods uit die vleuels
na die middelverhoog van my bewuste beweeg.
pepe el romano, my lippe klankloos.
golwend en git glip sy hare oor die baadjiekraag.
langs hom jukstaponeer die kaatsing in die ruit
‘n gebeitelde profiel met populiere wat hiberneer.
heupe bestendig, klim hy êrens in die vega af.
toe hy agter ons kleiner raak, sien ek hoe kleef
aan sy postuur, met die grasie van ‘n moeë gimnas,
die vervulling wat volg op ‘n deurgenaaide nag.
© Melt Myburgh. Julie 2009
upington
tussen rietbevlekte oewers, geliefde stad,
sny die gariep jou middeldeur,
sodat jou fasade, sonverskroei,
’n trae refleksie op die water bly:
mirador van ’n oewerbestaan,
hawe vir woestynskepe in sandstorms verdwaal,
in die siedendste vloed staan jou palms onverstoord
terwyl vlermuise onderstebo tussen dadels skuilte soek.
reisigers wat in u koelte vertoef, verkwiklike stad,
moet vooraf weet: Die roete wat huiswaarts
deur die naelstring knoop, word gerig deur ’n kompas
sonder naald.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008





