peter snyders
Peter Snyders is ’n bekende digter wat ook ander genres soos prosa en drama beoefen. Hy hou daarvan om sy verse aan te pas vir toonsettings. Sy verwerkings behels alle musiekstyle en dikwels kruis of verenig hy musiekgenres. Van sy publikasies sluit in: Brekfis met vier (1984) Tekens van die tye (2002) en ’n Waarskynlike mens (1992). |
Prys van armoede
Twie-en-twintag rand*
vir drie kilo’s gas
en net soeveel kos die paraffien;
en dis vyftag sents vir ’n simpele kers.
Dis die petrolprys wat almal so belas.
Maar hoekom is alles dan skielik duurder?
Ag, betaal maar, Joanie.
Ek wil ’n rok hê, nie trouklere nie.
My ma hettie ’n dwaas grootgemaakie –
En dan boenop nog BTW daarby!
Onwettige klere versmoor ons mark.
Maar iewen die Nigerians se goed is vrekduur.
Ag, betaal maar, Joanie.
’n Halwe bruinbrood is nou skielik twie rand –
Nei man! Daai’s ’n lae, gemiëne hou!
Wat wil djy my na ’n maerplaas toe stuur?
You see, my dear lady … daai’s ’n baie goeie vraag
maar daar’s geen antwoord daarop nie.
Maar niemand werk in die hys!
Waar moet ons die geld kry?
Ag, betaal maar, Joanie.
Sjoe! Ná sukke bloederige werklikheid
makeer ’n mens ’n sigaret –
Wat! Tien rand vir ’n pakkie!
Moet ek nog boenop soe duur betaal
om myself dood te maak met ’n bietjie plesier?!
Ag, betaal maar, Joanie.
* Pryse soos op 27 Julie 2004
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008