petra müller

Petra Müller

Petra Müller

Petra Müller is ’n Overberger. Sy het aanvanklik kortverhale in tydskrifte gepubliseer en later verskeie kortverhaalbundels die lig laat sien. Tussendeur het haar digbundels verskyn: Obool (1977), Patria (1979), wat met die Eugène Marais-prys bekroon word, Liedere van land en see (1984), My plek se naam is Waterval (1987), Swerfgesange vir Susan (1997) en Die aandag van jou oë (2002), waarvoor sy in 2005 die Hertzogprys ontvang het. Daarna verskyn ’n bundel gedigte in Engels, Night Crossing.

Petra Müller is in 1995 aangewys as die Boekjoernalis van die Jaar, aangesien sy ook ’n aansienlike oeuvre aan resensies en letterkundige essays gelewer het.

 

 

Stadig sweef

 

As ek soms nog die paar pelikane oor die stad sien gly

dan voel dit my Verloorvlei is tog nog steeds aan Rondevlei verbind;

ook dieper in Afrika, Chobe byvoorbeeld, waar ek pelikane

soos trosse ou en jong rose langs die waters sien sit het

 

om dan met klepperende bekke in groepe die stroom in te sak

en onsigbare vis in te hok vir die vangs.

Ronding na ronding was dit.

 

Wat gebeur hier: visse wat silwer, voëls wat roos is

en kringslaan soos vlote van skepe?

Die toeval, geslepe soos altyd,

bring my ook hier in …

 

Pelikane moet aanhaal en swaar styg en hoog sweef.

Moet altyd afstand opweeg teen vlerkspan; moet elke aan-haal

opweeg teen die moontlik voortydse afdaal na onder,

 

al roep ek ook die lengte van ’n Groot Meer vir jul op

en ’n vlugtige skittering onsigbare vis.

 

Selfs ék het eenmaal in die nag in Vloorvlei se riet

tussen julle gestaan en gevoel hoe vis

verwilderd om my skiet. Die eenmaal was ook ek omkring

deur geweldig die vlerke wat my toe nog nie geskik bevind

het vir die gevleuelde werk.

 

Ons sal nog sien wat eendag gebeur

as ek my op my eie bevind

bo die eventuele oopte van die Meer.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Bookmark and Share