Piet van Rooyen
|
Piet van Rooyen is op 17 Julie 1953 in Vryheid in Natal gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en word in 1982 as dosent in Ontwikkelingstudies aangestel word. In 1983 behaal hy’n PhD-graad aan dié universiteit. In 1989 vestig hy hom in Namibië en aanvaar ’n pos by die Boesmanstigting naby Tsumkwe in die destydse Namibiese Boesmanland, of N//oaq!’ae, waar hy jag, leef en spoorsny. Hy is tans professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië en boer deeltyds met arabierperde, wild en beeste op sy plaas naby die Gamsberg.
Van Rooyen debuteer reeds in 1973 as digter met Draak op die Erf (HAUM). Sy volgende digbundel, Rondom ‘n Boorvuur, verskyn in 1983. Daarna publiseer hy verskeie prosawerke, waaronder die Die Spoorsnyer (1994) waarvoor hy die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romanprys en die CNA-debuutprys ontvang, en Die olifantjagters waarvoor hy die MNet-prys ontvang. Sy jongste digbundel is Kwansuis wat in 2008 verskyn.
|
tafereel
uit oorblyfsels van droë stoppellanderye
tussen wit-geblertsde tele-pale
vloek gekwesde kraaie kras
op NG-dominees wat vuisskud
met stompneus-haelgewere
in ‘n eensame buurt vir barmhartiges
sluip nonne onder kaalgeskeerde koppe
vol skuld en kommunale hoop
amegtig van toegesluite deur tot deur
ons self sit met ons mede-kriminele
en skink ons grimmige glasies wyn
die lewe is ‘n maer lokasie-brak
wat grommend tussen tande kwyl
skoppend tussen benewelde vingers
elk se opgewarmde resies-kokkerot
in dun harnasse van garedraad
waar hul met wye pote
padvat oor ‘n tafelblad
diepgekerf in elke stukkie splinterhout
sit hindernisse van ou-vergete momente
van half-vervulde luste, wrewel, boete, haat
ons kloek moedig aan met skril stemme
oorwinning is soet, verliese suur:
tussen hoedende elmboë by elk
knusgepak sy hopie dertig silwerlinge
ons strydwaens jaag verwoed
in die swart gewaad van geestiges
deur moerasse van spoeg en kwyl
en plassies uitgestorte wyn
ons stoele kier op dun pote
terwyl ons diep uit mae lag
onder vloerplanke en agter toegetrekte ruite
piep-verskriklik skarrel rotte
in die donker doolhof van ‘n drein
moeg en mistroostig kom die refrein:
bedelaars steek mekaar met lemme
om laaste korsies brood
iewers in die bouval van’n kerk
steek ‘n swerm bye woedend
‘n spirits-versuipte boemelaar dood
© Piet van Rooyen. Junie 2009.





