Piet van Rooyen

Piet van Rooyen

Piet van Rooyen

 

Piet van Rooyen is op 17 Julie 1953 in Vryheid in Natal gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch  en word in 1982 as dosent in Ontwikkelingstudies aangestel word. In 1983 behaal hy’n PhD-graad aan dié universiteit. In 1989 vestig hy hom in Namibië  en aanvaar ’n pos by die Boesmanstigting naby Tsumkwe in die destydse Namibiese Boesmanland, of N//oaq!’ae, waar hy jag, leef en spoorsny. Hy is tans professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië en boer deeltyds met arabierperde, wild en beeste op sy plaas naby die Gamsberg.

Van Rooyen debuteer reeds in 1973 as digter met Draak op die Erf (HAUM). Sy volgende digbundel, Rondom ‘n Boorvuur, verskyn in 1983. Daarna publiseer hy verskeie prosawerke, waaronder die Die Spoorsnyer (1994) waarvoor hy die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romanprys en die CNA-debuutprys ontvang, en Die olifantjagters waarvoor hy die MNet-prys ontvang. Sy jongste digbundel is Kwansuis wat in 2008 verskyn.

tafereel

 

uit oorblyfsels van droë stoppellanderye

tussen wit-geblertsde tele-pale

vloek gekwesde kraaie kras

op NG-dominees wat vuisskud

met stompneus-haelgewere

 

in ‘n eensame buurt vir barmhartiges

sluip nonne onder kaalgeskeerde koppe

vol skuld en kommunale hoop

amegtig van toegesluite deur tot deur

 

ons self sit met ons mede-kriminele

en skink ons grimmige glasies wyn

die lewe is ‘n maer lokasie-brak

wat grommend tussen tande kwyl

 

skoppend tussen benewelde vingers

elk se opgewarmde resies-kokkerot

in dun harnasse van garedraad

 

waar hul met wye pote

padvat oor ‘n tafelblad

diepgekerf in elke stukkie splinterhout

sit hindernisse van ou-vergete momente

van half-vervulde luste, wrewel, boete, haat

 

ons kloek moedig aan met skril stemme

oorwinning is soet, verliese suur:

tussen hoedende elmboë by elk

knusgepak sy hopie dertig silwerlinge

 

ons strydwaens jaag verwoed

in die swart gewaad van geestiges

deur moerasse van spoeg en kwyl

en plassies uitgestorte wyn

 

ons stoele kier op dun pote

terwyl ons diep uit mae lag

onder vloerplanke en agter toegetrekte ruite

piep-verskriklik skarrel rotte

in die donker doolhof van ‘n drein

 

moeg en mistroostig kom die refrein:

bedelaars steek mekaar met lemme

om laaste korsies brood

iewers in die bouval van’n kerk

steek ‘n swerm bye woedend

‘n spirits-versuipte boemelaar dood

 

 

© Piet van Rooyen. Junie 2009.

 

Bookmark and Share