Pieter Hugo

Pieter Hugo

Pieter Hugo is op 7 Junie 1960 gebore in die NG pastorie op Greyton as die 5de kind (in 5 jaar) van George en Marieta Hugo. Sy pa was predikant op Greyton en kort na sy geboorte is ’n twaalf jaar oue dogter in pleegsorg geneem. Saam met sy twee laatlamsussies was hulle uiteindelik ’n gesin van 8 kinders.

Toe hy twee jaar oud was, het hulle Windhoek toe verhuis, waar hy sy skoolloopbaan aan die Laerskool Dr Van Rhyn en Hoërskool Jan Möhr voltooi het.

Na diensplig studeer Pieter BA aan die US, met Sielkunde en Sosiologie as hoofvakke en behaal daarna ook die Hoër Onderwys Diploma.

Hy word onderwyser in Malawi, waar beide sy kinders gebore word. Daarna word hy gemeenskapsontwikkelaar in Bonnievale en Worcester en werk in verskeie hoedanighede by die Werda beetfabriek in Bonnievale in sy ontstaansjare. Terwyl hy in sy mid-dertigs sy biblioteekgraad deur UNISA doen, doen hy ook kanotoere op die Breërivier.

Sedert 1997 werk Pieter vir die Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens, eers vir 11 jaar in Beaufort-Wes en daarna in Kaapstad.

Hugo debuteer in 2010 in Nuwe Stemme 4. Van sy gedigte verskyn ook o.a. in New Contrast, Nuwe verset, Toulopers, Sterkykers en as strokiesgedigte in Rapport. Sy debuutbundel, Alchemie van my muse, word in 2019 deur Naledi uitgegee.

Op die vraag waarom hy eers op 59 gedebuteer het, antwoord Pieter as volg: “Ek het op hoërskool al begin gedigte skryf, maar daar was lang droogteperiodes tussenin. As die lewe te intens of te vervelig raak, droog my ink soms op. Gedigte skryf is vir my ’n stokperdjie. Dit is besonder bevredigend om met ’n idee te begin en geleidelik, met skuur en skaaf en verander en uitsny, te sien hoe die idee in ’n gedig verander. Partykeer, na lang gesukkel, herskryf ek ’n gedig in ’n heel ander styl en dan werk dit skielik, maar baie idees land natuurlik ongerymd in die snippermandjie.”

 

 

Woordstof

 

Ek kuier lekker by my oudste broer

oor ‘n droomdis van vis en baie wyn.

Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:

enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

 

“Skryf ‘n sonnet. Dan is jy ‘n digter!”

daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,

maar kry net kwatryne. So breek die dag:

kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

 

Ons luister radionuus, ons lees koerant,

ons sink weg, verdrink in die alfabet!

Ek stofsuig alles op, van A tot Z,

die ganse woordgemors, van hoek tot kant,

 

maar die suier verstop letterlik. Met

die pyp se skud verskyn daar dié sonnet.

 

 

My Beaufort-Wes: 1 & 2

 

1: Vir NPvWL 

 

ek bly daar waar

die laatmiddag nog room word

maar treine wat ver fluit

ongehoord in ou gedigte hoort

 

ek bly daar waar

die nasionale pad dag en nag dreun

en Gert Vlok Nel se ou fiets

soms verbyknerp, moeg, voor my oog

 

ek bly daar waar

prossies sit op die bordienghuis se stoep:

vanaand gaan hoor ons nog hoe

die lorriedrywers vir hul toet

 

 

Nie pa se gedig nie 

 

Nee, pa, dis nie pa se gedig nie.

Nege jaar gelede, toe pa dood is,

was die skielike gat net te groot.

Om toe vir pa te moes dig

sou net nie rym nie.

 

Nee, pa, dis my skoonpa se gedig hierdie.

Hy is ook skielik dood, tussen sy skape.

Regte skape, nie soos pa se kudde

wat pa met kanselwoorde

probeer lei het nie.

 

Nee, pa, hy’t geen laaste woorde gehad nie.

Net soos pa is hy stomgeslaan deur die dood.

Al het hy vanoggend noukeurig skaap geslag,

al het pa pragtig oor die hemel gepreek,

wou julle nog nie sterf nie.

 

Ja, pa, ‘n goeie gedig rym nie op nie nie.

Ek weet, pa, maar dood rym nie met lewe nie

en nou se hartseer gaan nie hou nie,

maar ‘n pa se niemeerdaar nie

verdwyn net nooit weer nie.

 

(Uit: Alchemie van my muse, Pieter Hugo)

Bookmark and Share