pirow bekker
|
Pirow Bekker debuteer in Stiebeuel 2 met “Peins oor ’n plakkaat”, ’n gedig wat vroeër in die destydse Standpunte verskyn het en daarna in Groot Verseboek opgeneem is. In dieselfde jaar (1965) verskyn ook sy eerste digbundel Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur en Stillerlewe en Van roes en amarant in 2008. Van hom verskyn tussendeur ook ’n sestal kortverhaalbundels en ’n paar romans en novelles. Sy mees onlangse prosawerk is sy Toorop-stories ( 2005).
|
Aan Toon van den Heever
(skrywer van “Op die Hoëveld” en “Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer”)
mijn naam kwam moeilijk
uit zijn strot
Ed Hoornik (De Nederlaag)
O, sing my die lied, sing my die lied,
die lied wat my hart so raak,
van die Hoëveldse digter en die kritiek
met ’n DAAD wat soos donder slaat.
Anders as die koringboer van A.D. Keet
met sy gerwe en gerwe “haas ongeteld”
was Toontjie se oes veel minder breed,
die verskyning van ’n bundel onvoorspeld,
want in ’n vroeëre lesing het Jan F. Celliers
sy gedigte gans te uitheems bevind:
“Geen minnegode vir ons mense nie, nee,
bly by die ossewa en die keteltjie, Vrind!”
Toe ’n bundel van hom oplaas tog verskyn,
was ’n destydse ghoeroe ook meer as gereed
om met ’n oog wat nie wyk, ’n bars te kyk
en die dinamiet met sekere hand aan te steek.
O, sing my die lied, sing my die lied
van die digter van Kupido en Pan:
sy bundel is summier die lug ingeskiet
en die stukkies vir bloemlesings gevang.
O, sing my die lied, sing my die lied,
die lied wat my hart so raak
van die weg van ’n bundel na die publiek
verby ’n hardlywige keurder se kaak.
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006






