pirow bekker

 

 

Pirow Bekker

Pirow Bekker

Pirow Bekker debuteer in Stiebeuel 2 met “Peins oor ’n plakkaat”, ’n gedig wat vroeër in die destydse Standpunte verskyn het en daarna in Groot Verseboek opgeneem is. In dieselfde jaar (1965) verskyn ook sy eerste digbundel Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur en Stillerlewe en Van roes en amarant in 2008. Van hom verskyn tussendeur ook ’n sestal kortverhaalbundels en ’n paar romans en novelles. Sy mees onlangse prosawerk is sy Toorop-stories ( 2005).

 

 

 

Aan Toon van den Heever

(skrywer van “Op die Hoëveld” en “Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer”)

mijn naam kwam moeilijk

uit zijn strot

Ed Hoornik (De Nederlaag)

 

O, sing my die lied, sing my die lied,

die lied wat my hart so raak,

van die Hoëveldse digter en die kritiek

met ’n DAAD wat soos donder slaat.

 

Anders as die koringboer van A.D. Keet

met sy gerwe en gerwe “haas ongeteld”

was Toontjie se oes veel minder breed,

die verskyning van ’n bundel onvoorspeld,

 

want in ’n vroeëre lesing het Jan F. Celliers

sy gedigte gans te uitheems bevind:

“Geen minnegode vir ons mense nie, nee,

bly by die ossewa en die keteltjie, Vrind!”

 

Toe ’n bundel van hom oplaas tog verskyn,

was ’n destydse ghoeroe ook meer as gereed

om met ’n oog wat nie wyk, ’n bars te kyk

en die dinamiet met sekere hand aan te steek.

 

O, sing my die lied, sing my die lied

van die digter van Kupido en Pan:

sy bundel is summier die lug ingeskiet

en die stukkies vir bloemlesings gevang.

 

O, sing my die lied, sing my die lied,

die lied wat my hart so raak

van die weg van ’n bundel na die publiek

verby ’n hardlywige keurder se kaak.

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share