Ronelda Kamfer
|
Ronelda S. Kamfer is in 1981 in Kaapstad gebore. Sy bring haar grootwordjare in Blackheath en Grabouw deur. Sy matrikuleer in 1999 aan Eersterivier Sekondêre Skool. Sy was al verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy. Van haar gedigte verskyn in Nuwe Stemme 3, My ousie is ’n blom en Bunker Hill. Haar debuutbundel, Noudat slapende honde verskyn in 2008 by Kwela. Die bundel is 2009 bekroon met die Eugène Marais-prys. In 2011 verskyn haar tweede digbundel Grond/Santekraam.
|
Musiek
‘n prent-gedig deur Ronelda Kamfer. April 1010
die baas van die plaas
vir Mammie
ek het ’n ouma
wat net een taal praat
sy vertel my stories van baas Willem
en dr. Metzler
hoe goed baas Willem vir haar was
sy kon altyd eerste kies
watter ou klere sy wou hê
sy vertel van myle stap dorp toe
en hoe baas Willem haar voor
in die bakkie laat sit het
baas Willem het gesê haar kinders
hoef nie die standerd 10 te maak nie
hulle gaan mos op die plaas werk
en help met die kinders grootmaak
dr. Metzler het gesê
my ouma se kinders confuse hom
hulle’t ’n immorality in hul oë
hy sê my ouma kan dankie sê
die laaste een is doodgebore
daai een se naam
sou Judas gewees het
Uit: Versindaba 2008, Protea Boekhuis, 2008






