Ruan Fourie

Ruan Fourie

Ruan Fourie is in 1994 in Bloemfontein gebore. Hy onderneem in 2017 ’n honneursgraad in Afrikaanse Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy eerste gedig is in Taalgenoot en Jip gepubliseer (2012) en sedertdien het van sy gedigte op Versindaba, Storiewerf en Litnet se webruimtes verskyn. In 2016 wen hy die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se skryfkompetisie, waarna die wengedig in die bloemlesing Inkvars opgeneem is. Hy het ook as digter deelgeneem aan die Byderhand-projek tydens Aardklop 2015. ’n ope brief aan Dorian Gray (2017) is sy debuutdigbundel.

.

 

“‘But a few minutes with somebody one worships mean a great deal.’ ‘But you don’t really worship him?’ ‘I do.’”

– Oscar Wilde, The Picture of Dorian Gray

 

by jou

wil ek

die donker mond

van ’n tydlose, eindlose dier

stuk-stuk betree;

’n vakuum waarin ons

amper rug aan rug

aan weerskante van ’n kiestand

kan gaan sit.

 

“I like people either too much

or not at all,”

en eers onthinder jy my.

ek vertel jou van die aard van angs;

speel-speel ekstrovert

vergeet ek van skugter wees

wanneer ek my hiperboliese

liefdesverse voorlees

hiperboliese liefdesverse

(maar nooit erken ek

almal gaan oor jou nie).

 

al wat nou vir my voorlê

by jou

is flou skadu’s

van wat my klaar vervoer het.

maar ek ignoreer dit nie

– paai dit saggies as jy slaap –

netnou sluk die dier

ons al twee heel in.

 

’n mens raak gewoond aan liefhê,

daarom deel ek dit maklik

met jou,

maar al is jy die toonbeeld

van skoonheid en jeug

kan ek nou al voorspel

waar jou diepste plooie gaan lê.

 

daarom betree ek

(en lei jou, geblinddoek, stilletjies aan die hand)

dié ruimte waarin swaartekrag ’n fiksie is –

sodat nie een van ons kan sien

wat jou mooi maak

verlelik jou later nie.

want ek kan my liggaam voel inplof

onder die druk van alles

wat ek nie meer by jou

voel of weet nie.

 

swaartekrag

 

***

 

ek het vanoggend saam met my tee koud geword

toe ek toekyk hoe die grys motreën

die kleure van die fynbos verdrievoudig.

 

kardamom is die derde duurste spesery ter wêreld,

slegs uitgestof deur vanielje en saffraan.

hulle meng dit soms in koffie in.

 

’n misbank het oor alles gaan lê

die landskap word low-contrast-medium-brightness

en ek gaan haal ‘n roman

– my boeke lyk of hulle reeds aan die see behoort –

projekteer myself op elke dealmaker en duiwel

in die bladsye opgesluit.

dis bisar dat die stilte tussen ons

nóú al so hoorbaar leeg is,

maar ek bly dink:

daar skuil nog baie gedigte hierin.

daarom en omwille my digterlike selfsug

sal ek jou aanhou sien in die smaak en reuk van tee

en saam met die gedagte aan jou

koud word en toekyk hoe die kleure uit die wêreld gewas word.

meer as ’n peperagtige herinnering

en ’n oorlogsugtige traan of twee

sal ek jou nie gun nie.

ek het saam met die tee

koud geword.

 

tea for one

 

© Ruan Fourie / 2017

Bookmark and Share