Suzanne-Louise Bezuidenhout

Susanne Bezuidenhout

Susanne Bezuidenhout

Suzanne Bezuidenhout is in 1983 in Bloemfontein gebore. Na haar skoolloopbaan aan die Oranje Meisieskool behaal sy in 2004 die graad B.A. (Taal en Kultuur) aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2005 behaal sy ’n B.A. (Hons.) (Afrikaans en Nederlands) cum laude.

Sy behaal haar M.A.-graad in Afrikaanse letterkunde oor die werk van H.J. Pieterse. Sedert 2005 verskyn haar poësie gereeld in die Stellenbosse studentebundel Penseel.

Sy is betrokke by die Departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch waar sy Afrikaanse tutoriale en sedert 2008 die kursus Afrikaans in die Media aanbied.

 

 

Sondag in suburbia

 

Sondae dra suggende klagtes:

Hoekom het jy nie jou huiswerk gedoen nie?

Hoekom het jy die tjops verbrand?

Hoekom is daar te veel asyn in die beetslaai?

Hoekom het jy my nie meer lief nie?

Hoekom verstaan jy nie die vrae van ʼn vrou nie?

Hoekom smag jy na die mik van ʼn man?

 

Hý, ons buurman, bid saggies

(pseudo-sedigheid net ʼn oomblik versteur deur die reuk van gebrande

vleis en ʼn brandsiek blaffer buite):

“Vader laat versoeking ons versaak. Seën die hande wat die voedsel

 voorberei het. Amen.”

 

Die laaste maal

behendig berei.

Beetslaai verlok

met arseen wat stilweg verniel.

 

Buite is dit doodstil.

Slapende honde in suburbia rus nou.

 

  

 

Voyeur

 

“All photographs are memento mori.”1

                                 Susan Sontag: On Photography

 

Nuuskierige vingertjies wys dáár

“Pinky, dis Pinky

dis hy daai!”

Vingeralleen.

Sy bruin lyfie steek parmantig

skelm uit die water –

ʼn blinknat heuweltjie.

“Dis sy t-shirt daai, dis sy Nikes da oppie beach!”

 

Die vingertjies wys steeds

reeds krioel die gevoel,

ís hy dalk?

 

“Hy is! Hy is!”

Die stemme histeries,

skril,

onverklaarbaar opgewonde oor hul fatale vonds.

“Ga roep vi antie Mavis!”

“Hy is!”

Dood.

 

Die sand is koel onder voet.

Die sole dáár

deurgeskaaf.

En ek neem die foto

uit fokus.

 

 

1 Die wete dat ons almal moet sterf.

 

© Suzanne Bezuidenhout

 

 

 

 

Om jou pa te sien

 

sterf

is ’n bitter wrewelrige bedryf.

Die formaliteite vervat in pinstripes en posies.

Trane word tydsbereken,

ooms en agterkleinniggies (én gekondisioneerde dominees)

murmureer en huil on cue.

Maar ná die klimaks van koeksisters en pikante pasteitjies

(Psalm 23 was immers die voorgereg)

gaan jy alleen terug na ’n park

om te wonder

wie nou jou swaai gaan stoot

tussen denne wat donker duin.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Bookmark and Share