t t cloete

TT Cloete

TT Cloete

T.T. Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort gebore. Hy matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp en studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit. Van 1949 tot 1953 studeer hy aan die Gemeentelike Universiteit Amsterdam. Hy doseer Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit en word in 1965 as hoogleraar aan die Universiteit van Port Elizabeth aangestel. Sedert 1970 is hy hoogleraar in Afrikaans-Nederlands en Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit en bly na sy aftrede in 1983 aan as buitengewone professor. Cloete ontvang in 1976 die Gustav Preller-prys en in 2002 die N.P. van Wyk Louw-medalje vir sy literatuurwetenskaplike publikasies.

Hy debuteer in 1981 as digter en het tot dusver agt digbundels, ’n drama en twee bundels kortverhale gepubliseer. Vir sy poësie het Cloete die Ingrid Jonker–prys, die W.A. Hofmeyr-prys, die Louis-Luyt-prys, die CNA-prys, die Rapport-prys en die Hertzogprys ontvang. Cloete se herdigting van die Psalms in Afrikaans het wye erkenning ontvang. Uit die wit lig van my land gesny  (Pooka uitgewers, 2010)  is ʼn huldigingsbundel aan Anna, die vrou van TT Cloete, wat in 2007 oorlede is.  In 2011 verskyn sy bundel Onversadig by Tafelberg uitgewers.

 

foto van vrou by die see 1966

 

geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,

afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis

sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig

van die glansende see en geel wasige donsson

mymerend en byna deursigtig.

toe was sy nog veilig. hoe

veilig was sy toe

sy sit aandoenlik ingedagte en sereen

met die weerkaatsing in haar agteroorgesig

van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas

vingers aan die pols van die ander een

hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas

effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig

na haar vingers. die sigbare

stilte swyg. die oureool in haar hare

gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand

hang tastend af aan haar geknakte pols hoog

bo die skerp stut van haar elmboog.

elders, ver, baie ver veraf elders doenig

is die kanker met ‘n ander iemand

wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n broekpak by die venster in die lig

van die blink see en geel wasige donsson

dromerig mymerend en byna deursigtig

skimmig geskryf met lig

 

(Uit: Onversadig, Tafelberg, 2011)

 

 

 

Identiteit

 

Tongues are separated by words,

The natures of persons as well;

And their skins are made different

So you can distinguish the peoples.

(“Achnaton’s Hymn to Aton”, vert. J.L.Foster.)

 

Praat is menslik, maar vir mekaar

is ons soos die diere as ons praat

onderling onverstaanbaar.

 

Party kyk met amandels, party skreef

horisontaal, ander is skeel

of die oë lê soos die wolf s’n skeef.

Snaaks, ons almal, aan die mossie verwant,

is bipedies, maar elkeen met sy eie trant.

 

Duisende ander dinge onderskei

ons van mekaar. Tog weer, aan die ander kant,

op dieselfde manier berei

is almal se uitskot ’n houtbruin brei

met dieselfde afstootlike geur.

Deur die chemie van die nier

het almal se urine die kleur

van goed gebroude Black Labelbier.

En dan veral, hoe die variasies ook varieer,

ons gryns as ons huil en treur

dieselfde sout en speeksel … Die variasies

wat die reënboog ekstrapoleer

varieer op die tema van die nasies …

 

Dié winddun asempie: identiteit,

ons raak dié glibberige ding eenders kwyt.

Almal slaak dit met ’n laaste sug

en stort dan in die oer-Een terug.

 

Haal ons die ideaal

!ke e: /xarra //ke

volmaak alleen as ons ophou asemhaal?

 

 

Uit: Versindaba 2007 , Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

Bookmark and Share