tertius kapp
|
Tertius Kapp het in Kaapstad skoolgegaan. Hy studeer by die Universteit Stellenbosch en behaal ‘n MA in Kreatiewe Skryfkunde onder leiding van Prof Marlene van Niekerk. Van sy gedigte word opgeneem in versamelbundels soos Uit die stof die see … , Nuwe Stemme 2 en Die Groot Verseboek.
Tertius is ook ‘n dramaturg, regisseur, en draaiboekskrywer. Hy het die regie waargeneem van onder andere De Familie Wagenaer, Skroothonde, Sielsiek, en Harmse. Tans woon hy in Johannesburg en is ‘n vryskutskrywer.
|
Die Kannibale
Elke oggend uit sedanmotors
ruk hulle ‘n realiteit van die lamppale
(kannibale wat hulself uitkak in longdrops
waar die maaiers beroepswedders word
vir die wêreld se bitter beker).
Supermodelle vir ontbyt.
Botterbroodjies met vrees.
Asem ‘n woordaarde in met spitsverkeer
wat ontaard in koolsuurkanker vir die toekoms.
En ten minste reën dit die laaste tyd.
Gelukkig is ek net ‘n posduif na die kernoorlog.
En ek weier om my vreugdes te knip.
Solank my arm vriende lag
en my bloed vergiftig bly,
solank daar iets is om te haat, en iets om lief te hê
sal ek wag. Tot die strooitjie op my val
tot honger die droefheid oorkom
en dan
begin by my hande.
© Tertuis Kapp - Maart 2009






