Toast Coetzer
Toast Coetzer is in 1977 in Cradock gebore, het in Somerset-Oos skoolgegaan, in Grahamstad studeer en woon nou in Kaapstad. Sy eerste gedigte is in Nuwe Stemme 2 gepubliseer (2001) en sedertdien ook in ander joernale en zines. Sy debuut-novelle, Naweek, het in 2009 by Tafelberg verskyn. Hy werk as joernalis by Weg en Go!
|
geluk
hier in die onvanpaste wêreld
van verrookte stukke veld
blom die ongewone liefdes
as skaaphompe per kim
soms dwaal my gedagtes
slaap ek agter stuur
strompel boekaspaai
bladloos oor die kaart
elke nuwe brug
bly rif roep oor rivier
waterbloed in karpkieu
suurstofbobbelbed
maar snags in vreemde dorpe
neon stasies petrolpense
baddens stoom soos woorde
om somer bid die reënval
rol die spoelklip van my gedagtes
vonke in die lospad los
tong my neus jou môre-oor
rol die teesakkie lek-lek om
elke eendag reëndag
hou die hoop gepoets
mensbloed per kruiwavrag
geluk geluk geluk
(c) Toast Coetzer (Die Burger, 31 Mei 2010)