Tom Gouws
|
Tom Gouws is ‘n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg (Nag van die lang messe) en digter (Diaspora, Troglodiet, Syspoor en Ligloop). In 2011 ontvang Gouws dan ook met Ligloop die ATKV-veertjie vir Poësie. Hy doseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Hy is tans aan die stuur van ElijahAfrica, ‘n internasionele bedieningsnetwerk. Hy is getroud met Retha en hulle het ses kinders. Die gesin woon op ‘n plasie buite Pretoria.
|
advent
“She said to me: ‘What an instrument your body!
Single and perfectly distinct from everything else!
What a tool in the hands of the Lord!
Only God could have brought it to its shape!”
-D.H. Lawrence
2 Kor. 4:16
sy kyk stip na die troufoto teen die muur,
dan stip na hom waar hy stol as naakfiguur,
die los buiteflappe van sy vleestent weggeskuif.
“my bruidegom het nou ‘n middeljarige se lyf,”
sê sy hartseer bruid gedemp. met dowwe oë kyk
hy onwillekeurig na die spieël wat vaagweg lyk
soos hy, skaamherken die indertydse bruidegom,
maar veel, véél is anders nou aan hom:
die eens welige swart boskaas is nou asgrys yl;
die tande afgevyl deur tyd; die lyf wat soepel geil
en passievol kon buig, is seer en stadig, ‘n ou kolos
met wit deeg aan die flanke; uit ‘n woeste klos
snorbaard loer ‘n moeë leeu se droë snoet;
vel verlep tot ou skil, mangogeel-en-swart gesproet.
sy kyk stip na die bruidegom se gerinneweerde tent.
met dieper oë probeer sy sin sien in dié patent
van weerloosheid. diep binne eien sy dit wat latent
gloei, ‘n sagte lig wat dié ou lap sonder fondamente
openbaar: ‘n staning vol goud en edelsteen, talente
silwer, spesery … die lyf word ‘n sakrament
- beleë wyn en uitgespaarde brood - ‘n testament
sonder sediment. sy kyk stip na dié spotprent
van die Bruidegom en hoe óngesiens Hy Hom inent.
© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)





