trienke laurie

 

Trienke Laurie

Trienke Laurie

Trienke Laurie debuteer met Skietspoel (1997) waarmee sy die Ingrid Jonker-prys wen. Daarna volg die dramatiese alleenspraak oor die Anglo-Boereoorlog, Ek sien ’n rooi bul storm (1999), en Uitroep (2001). Haar jongste bundel is Sonskyf (2007).

Sy het een jaar op Vredendal onderwys gegee. Haar liefhebbery sluit die skilderkuns in: Drie van haar bundels het omslae gebaseer op haar eie skilderye.

Sy is in Kaapstad gebore en woon nou weer in Somerset-Wes na vyftien jaar in Pretoria en sewentien in Vanderbijlpark.

Delphi

 

 

Ek het die duisendpoot opgetel

en kyk, dit was lank uitgestrek-

‘n naelstring om ‘n stok of fallus.

Toe rol hy op in ‘n naeltjie,

word vrou en vagina.

 

           *

Hier by Delphi, by die middelpunt van die aarde             

kom  bymekaar: die mens, die dode en die gode.                          

Die omphalos van die wêreld

se naelstring draai,

golf na die klipperige aarde,

maar onafgesluit kring hy ook uit —

‘n ewigheidsirkel met sy voeding

van gees van bo uit die hemelblou.  

 

Bo Delphi hang die Diereriem — ‘n slang,

‘n silwer afgeslibde vel van skubbe ster

en onder dein Ouroboros met die see

wat reg om die aarde sluit.

Hier by die aarde se middelpunt,

by die omphalos, sluk hy sy stert in…

so broos die vraag:

en waar sou hy, Ouroboros, begin? 

 

Van walms bo die krater

het skaapwagters gehallusineer

en later kom die orakel

en word beelde opgetower in breinkronkels,

in die grys see van die brein en die onbewuste.

Soms stotter die orakel stink sprake voort

ander kere ‘n goed ontvangde woord.

Die bron, sou dit goed wees of kwaad?

Tog kom menige bekende hier en vra om raad.

 

En altoos bo die berg:

twee roofvoëls wat sirkel

oor die olyfbos, oor die omphalos,

al om en om….

 

 

© Trienke Laurie. Jan 2011

 

 

 

Seekat op Minoaanse amphora

     (Die kus van Zakros)

 

Haar oë is twee swart eilande

wat diepkyk in jou hart                         

Haar arms amper swagtelende sluiers.      

Suiers stippel die ranke pote –

vrolike staccato’s voortgesit in borrels.

Sy is ‘n sierlike Minoaanse prinses                           

met perdebymiddeltjie en golwende lyf.

Twee arms omlyn haar grootoogkop

terwyl die ander pote ‘n ritmiese dans uitklop

Hierdie ongewone ongrillige seekat op die amfora,

prikkel die sintuie –

sy wikkel jou tone; die seekatjie dans

sy dans ‘n Salome sekskat-riel, sowaar!  

 

 

Die Parthenon, onder andere

 

Die antieke geboue in Griekeland

selfs dié gewy aan die gode

het altyd in gedagte:

die wiggel van die gode

en die wankel van die aarde

Die stene word geanker,

want die aarde sidder

en die pilare wrik

as die gode skik…

 

 

Atheense uiltjie

 

Die uiltjie word gekerf –

Athena se wysheid in die wye kyk-

met binnekant sy verebors gekooi

en sigbaar tussen openinge:

‘n uilbal of kleiner uiltjie.                                                  

 

Dis die gees van die hout                       

ook die hart van die boom ;

sy lewe verweef met die uil,

wat ook alles uit die kruin bespied het;                          

die seder wat bo alles gesweef het

die uil wat bo alles uitgetoring het

die boom verveer, die uil verblaar het

Die gees van die boom

hoe-hoe

hoe hy gekreun het in die wind

hoe die uile in hom kom sit het

Hoe-hoe!!

 

© Trienke Laurie. April, 2009.

 

 

Ostraka

 

 

Op die wit potskerf

oefen die leerling in rooi.

Sy oë soek en meet en pas.

Met gebruik van ’n ruitenet

maak hy versigtige hale met die kwas,

volg hy die patroonboek nougeset.

Hy verf valkvlerke om ’n keweramulet,

Ra roeiende in sy manjet,

hy leer ken die verhoudings

van die liggaamsdele tot mekaar,

skilder koeie wat met geboë rug baar

en later, dramaties: ’n leeu op ’n duin

in plaas van ’n strak basislyn.

In Farao se hand kom die lusvormige kruis …

Die voltooide produk seël hy met harpuis.

 

 

Die meester korrigeer met swart

’n kontoer ietwat skeef, straks uit met ’n aks,

op wit ostraka van gemaalde kalk.

Die tekens staan vir frases klank

wat die leerling mettertyd bemeester;

ook deur die ankh, hulle lewensteken,

raak hy só begeester,

hy verf bedrewe sonder ruite –

die patroonboek ken hy reeds van buite.

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

Bookmark and Share