w l van der merwe

 

W.L. van der Merwe

W.L. van der Merwe

W.L. [Willie] van der Merwe (1957) het opgegroei op ’n plaas naby Meyerton in Gauteng. Hy behaal grade in die teologie en filosofie met lof aan die Universiteit van Stellenbosch en was lid van D.J. Opperman se letterkunde-laboratorium. Sedert 1997 is hy professor in filosofie aan die US en het reeds verskeie kere as besoekende professor opgetree aan universiteite in Nederland en België. Na sy verblyf op Stellenbosch het hy ‘n pos lwerk aanvaar in Utrecht, Nederland waar hy en sy twee kinders nou woon.

 

 

 

Donkerte

 

donker dae, donker son
die opstaan, die skuifel

die aantrek, die uitgaan

die busstop, die trein

 

donker die hysbak, die asems
die blikke, die twyfel, die wyfel
die vensters, die skerms, die letters

die syfers, die tekste, die somme

 

donker die wolke, donker die reën
donker die stasie, die trein, die bus
donker die halte, die huis, die kombuis
donker die ete, donker die wyn

 

donker die kamer, die ruit
tot ek speel op jou sonnige luit

 

 

 (Utrecht, Februarie 2009)

 

 

 

Die kleur van grys

 

ons het die hele dag gewandel

onder lae wolke

onder tin-getinte lug

van Scheveningen tot by Katwijk

en toe weer terug

 

ons het die hele dag gewandel

onder lae wolke

al langs die lewelose duine

al langs die ruggraatlose rug

wat hierdie land van grysgroen plasse

skei van die nog gryser gryse

van die houtskool see

 

 

© W.L. van der Merwe – Maart, 2009

 

 

 

Kapelaansdiens

 

son skroei die aarde

ons loop in formasie

luitenant op die spits

links die korporaal

disnis gedrink elke aand

aan Black Heart Rum en Coke

regs van hom die seiner

sy radio ons lewenslyn

 

dan volg die troepe in ’n V

dis hoe jy patrollie loop

elkeen gewapen met sy R4

en ek loop in die middel

met my pistool en pers beret

want ek is kapelaan

sou dit nodig wees

kan ek die witvlag hys

of wie vermink is

nie langer meer laat ly

– daarvoor my pistool

 

dít is oorlog:

’n kind wat waatlemoen

wou steel word afgemaai

en vanaand word daar gelag in die kroeg

oor hoe hy eers wit-oog geskrik het

en toe dubbeld gevou het toe die ratata-

ratata-ratata van ons R4’s hom in stukke ruk

 

die son brand die aarde

ons lewe in die grond

drink ons Black Heart Rum en Coke

kots en rol rond

 

want ons wil nie weet van die oorlog nie

van luitenante, korporaals, troepe, seiners

kapelane met hulle pistole

op wie dit aankom in ’n oorlog

om lewe wat alreeds vernietig is

met ’n genadeskoot te blus

 

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share