wilma stockenström
|
Wilma Stockenström is op 7 Augustus 1933 op Napier gebore, waar sy ook skoolgaan. Sy studeer aan die US waarna sy as vertaler in Pretoria werk. Sy lê haar later toe op toneelspeel, op die verhoog en in rolprente. Tans woon sy in Kaapstad. Haar eerste digbundel verskyn in 1970 gevolg deur nog ses bundels, ses romans en een toneelstuk. Sy tree op in feesprogramme plaaslik asook in die buiteland, soos in Rotterdam, Nijmegen, Antwerpen, Brussel, Aken in Duitsland en Casablanca in Marokko. ‘n Keur uit haar gedigte het in 2008 verskyn. |
Skim
’n Skim, vasgehaak in peerboomtakke
se wit fees van bloeisels, sukkel hom dood
om hom los te maak en op te styg
tot doer in die knoopwerk van melkweë.
Want die wetenskap sit kring oor die wêreld
en die ryk van die onverstaanbare krimp.
Vlug, skim, haas jou na die andersheid
voordat rekenaarratse vingers jou liefderik wreed
tot formule vonnis, fop hulle, speel kolporteur
van die heilige onsin in jou dwalinge.
Die bloeiselblare sif heerlik dwaas
deur en om ’n verligte verloste skim.
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006





