Wie is ons?
VERSINDABA - ‘n Feesblad vir Afrikaanse digters
Agtergrond
In 2005 het die eerste Versindaba-fees, wat spesifiek op die Afrikaanse digkuns fokus, plaasgevind. Die oogmerk was nie net om blootstelling te gee aan gevestigde en ontluikende digters van wie daar nuwe bundels in ‘n betrokke jaar verskyn het nie, maar ook om as waarmerk te dien van die stand van die Afrikaanse digkuns soos dit tans daaruit sien. Na vyf jaar het Marlise Joubert en Louis Esterhuizen, as inisieerders en organiseerders van dié fees, egter besluit om afstand daarvan te doen ten gunse van hierdie gelyknamige webblad en die fees aan die Universiteit Stellenbosch se Woordfees-komitee as konsep oor te gee.
Die Woordfees sal dus vanaf 2010 vir die Versindaba-fees, wat hulle van voorneme is om as ‘n aparte Woordfees-projek te berdryf, verantwoordelik wees.
Missie
Einde April 2009 is hierdie webblad tot stand gebring ter ondersteuning van bogenoemde fees. Baie gou het dit egter in dié mate gegroei dat dit tans as ‘n heeltemal afsonderlike inisiatief bedryf moet word.
In wese is die oogmerke van die blad soos volg:
-
Om nie net die stand van die Afrikaanse digkuns soos dit tans daaruit sien, te reflekteer nie, maar ook om deur middel van dié blootstelling by te dra tot die breër ontwikkeling van die Afrikaanse digkuns. Dit bly derhalwe ons voorneme - soos met die fees - om alle digters van wie daar ‘n nuwe bundel verskyn, by die webblad te betrek.
-
Om as interaktiewe ruimte te funksioneer tussen die Afrikaanse digkuns en die digkunste van ander wêrelddele en derhalwe die meer prominente sigbaarheid van Afrikaanse digkuns in die internasionale wêreld van die poësie te beding. Uiteraard sal die kwessie van vertaalde verse en onderlinge skakeling ten opsigte hiervan van kardinale belang wees.
-
Om ‘n virtuele databasis en dokumentasie-sentrum vir die Afrikaanse digkuns te vestig vir die gebruik van navorsers, studente, onderwysers en ook skoliere. Hierdie aanbod sal wissel van toeganklike, informerende stukke tot indringende plasings van ‘n hoë akademiese standaard.
-
Om daadwerklik mee te werk ten gunste van die bemarking en verspreiding van toepaslike inligting tydens die publikasie van alle boeke wat met die Afrikaanse digkuns te make het, in soverre dit vir ons as redaksie moontlik is. Hiertoe het die plasing van resensies deur ons vaste resensent(e) uiteraard ‘n beduidende rol om te speel.
-
Om die interaktiewe moontlikhede van die internet te ontgin en leserslojaliteit te vestig deur middel van relevante nuusberigte, aankondigings, kompetisies en ander inisiatiewe. Hierdie beginsel noodsaak ook die samewerking en skakeling met ander ondernemings wat ‘n soortgelyke siening huldig.
Ten slotte wens ons u as besoeker op ons blad te verwelkom. Dit is inderdaad ‘n webtuiste wat vir u as poësieliefhebber tot stand gebring is. Lees gerus, raak opgewonde en neem deel …
Soos hulle in die Kaap sê: Maak’it aan!
(foto:philip de vos)
Redaksie:
Louis Esterhuizen (Inhoudsbestuurder)
Marlise Joubert (Mede-Inhoudsbestuurder & Webmeester)
Bernard Odendaal (Residensiële resensent)
Johann de Lange (Redaksionele-medewerker)




