Nuwe bundels
Iets meer oor die nuutste digbundels
Publikasies 1, 2
Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 - 2009Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2010 - (onder konstruksie)‘n Volledige lys met publikasies, resensies, artikels, onderhoude en ook toepaslike opsommende tabelle. Kyk ook na Versindaba bloemlesings resensies en ander interessante lyste op hierdie webtuiste. Resensies oor nuutste digbundels verskyn gereeld.
|
2012 Publikasies
Flitse
Clinton V. du Plessis
Flitse is die jongste digbundel van Clinton V. du Plessis. Hy noem dit “twitter-gedigte” - kort verse wat op aweregse en soms humoristiese wyse bytend kommentaar lewer oor kuns, die globale ekonomiese krisis, dooie politici, lewende digters, die dood en die liefde. Die bundel het oor ‘n tydperk van ‘n jaar uit poste op sy Facebookblad ontstaan en hy het hom in sy seleksie laat lei deur die aantal “interaktiewe keurders” wat vir die gedigte “duim gelig” het. (ISBN: 978-0-620-53231-0, R50,00 (Posgeld ingesluit), 34 pp, Sagteband; AMA-Coloured Slowguns, 2012
LEWENSLOOP
Op twintig
skryf ek versetverse
betrokke, breytenbachbriesend:
op veertig maak ek voetnotas
by die lewe:
soveel verlore kanse/liefdes en keuses:
op sestig soek ek in afgebrande biblioteke
besete na woorde, na grepe uit ons boeke.
DIRK
Jy, Opperman van die woord
met jou wit stok
stap jy saans met Hom om die blok
tel jy jou woorde…kyk jy wrokkig noord?
Amper elders
Louis Esterhuizen
Hierdie bundel het nie verniet die subtitel “‘n Reisjoernaal” nie, want hier word poëties verslag gedoen van ‘n reis na Europa. Byna soos in ‘n dagboek word die voorbereidings, die heen- en terugvlugte, die besoek aan vier lande en die afloop van die reis aan die leser voorgehou. Die verslag bestaan egter nie net uit beskrywings van toeriste-aantreklikhede nie, maar sluit ook boeiende interaksies met die inwoners van die ooste van Engeland, Vlaandere, Nederland en Tsjeggië in. Die verteller is deurentyd bewus van die lae van die geskiedenis oor hierdie plekke en die neerslag wat dit in verskillende kunsvorme gevind het. Nuus uit Suid-Afrika staan dikwels ook in ironiese kontras met wat die reisigers in die vreemde ervaar. Op outobiografiese vlak is dit ‘n verkenningstog van die onbekende land van die psige. Dis ook die herbesinning vanuit ‘n gebied anderkant die grens van die alledaagse oor verhoudings en spesifiek die verhouding met die geliefde. Duiwe vorm ‘n deurlopende motief: Die enigmatiese figuur van die duiwedanser stuur die verteller en sy reisgenoot weg, maar hulle weet dat hulle soos die duif wat Noag uitgestuur het, weer sal terugkeer. Aan die einde van die bundel neem die duiwedanser ‘n onheilspellende gedaante aan, en die verteller besin oor die ligtheid en kortstondige vreugde van die reis, soos ‘n donsveer wat in die wolke weggeblaas word.
duiwedanser
as ‘n afgetrede sirkusarties staan hy
sononder in die oopte tussen hoë geboue,
draai met uitgestrekte arms stadig
deur die ritme
van ‘n ouwêreldse dans -
roep dan met ‘n vertroude gebaar
sy strooisel duiwe uit naburige dakke op
na waar hy met wye jas en kierie
die jare se tentflap
vir hulle eenkant toe sleep:
nogeens die kolligte en musiek,
die applous waarmee ‘n ou patroon
van drie per arm, een per kop
hom herhaal en
dan weer weg: met in sy sak
die droë krummels
vir hul ingedampte reis
elders heen
*
Louis Esterhuizen het nege digbundels gepubliseer. Hy ontvang in 2011 die Proteaprys vir die bundel Wat die water onthou. (Protea Boekhuis, 2012. Prys R150.00; ISBN: 978-1-86919-690-5; Sagteband, 94 pp.)
Weerloos lewe
Cas Vos
Die titel van die bundel is ontleen aan ‘n aanhaling van die Nederlandse digter Lucebert, “Alles van waarde is weerloos”. Dit is ook die motto van die bundel en die teken waarin die gedigte in die agt afdelings staan: Die digter kyk met deernis na die weerloses en kwesbares, en beweeg in die bundel as ‘t ware van donker na lig, van die chaos van die begin van die skepping na vervulling en troos. Dit word veral gevind in menslike verhoudings, maar ook in die aanraking van die goddelike in situasies van angs, pyn en ontreddering. Vos put uit sy kennis van die Ou Testament met gedigte oor Bybelse figure wat die taal van die Psalms en die wysheidsliteratuur eggo, maar daar is ook ‘n aansienlike klomp gedigte oor figure uit die Griekse mitologie, waar hy veral aansluit by Die Ilias en Die Odusseia. Ook moderner figure soos die Franse digters Rimbaud en Baudelaire kom aan die bod, terwyl daar ‘n hele aantal verwysings na eietydse kunstenaars soos Diane Victor en Marlene Dumas is.
Aangrypend is die reeks meer persoonlike gedigte oor siekte, angs en besinning oor die sterflikheid van die mens, soos pragtig verwoord word in “Wat nou oorbly”:
wat nóú oorbly
is die natroos
van ‘n vergane bestaan
waar die lewe weer terugkeer
na herinnering
lig en genadig soos ‘n gedig.
(Protea Boekhuis, 2012. R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-86919-551-9; hardeband, 112 pp)
Ingeboek
Karen Kuhn
Hierdie debuutdigbundel ondersoek die nosie van “ingeboek” wees. Medikasie, depressie, opname en psigiaters word op ‘n satiriese wyse vir die leser voorgestel en die pasiënt probeer sin maak van die wêreld binne en buite die inrigting. Temas wat verder ontgin word is die media en kindwees. “Ingeboek” binne die milieu van die liefde en reis word ondersoek. Godsdiens word ook aangespreek. Die tematiek word verwoord en ingelei deur die onderliggende stramien van die spreker wat die leser uitnooi om eerder in woorde ‘n tuiste te kom vind. Om binne die digkuns in te boek, waar daar nie stigmas rakende malheid en egos is nie, waar daar nie dood, verslawing of afskeid is nie, waar religie nog liefde is en daar ‘n heimat in sowel taal as stilte gevind kan word. Verse wissel tussen vormvaste partrone, konkrete verse en ook die vrye vers.
My adres
My vinger volg die letters:
D E N M A R
op die kussingsloop,
pantoffeltreë sleep
gangaf en iewers
lui ‘n badtydklok.
Maar vanaand ontsnap
ek in my aandrok
na buite, ek knik
en kla oor rentekoerse,
wonder oor Plett-pryse
en wat haar eintlike gewig is.
Terug onder kliniese lakens,
tussendeur saalgeluide
en verdoofde denke
is ek mal
daaroor om letters
te skok en te doseer:
Myself te sertifiseer.
Biografiese inligting:
Tot onlangs was Karen Kuhn betrokke by ‘n filmskool in Kaapstad waar sy o.a. klasse in die skryf van ‘n draaiboek aangebied het. Sy het haar MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Die akademiese besinning het gehandel oor die alchemistiese transformasie wat in enkele gedigte van Sheila Cussons plaasvind, hierdie proses is gekoppel aan die hand van C. G. Jung se teorie. Meeste van die verse in die bundel is dan ook tydens die periode geskryf. Sy vertrek in Maart 2012 na Poznań in Pole toe waar sy Afrikaans en Afrika Studies by die Adam Mickiewicz Universiteit gaan doseer en ook terselfdertyd inskryf vir haar Ph.D. (Griffel Uitgewery, 2012; ISBN: 978 - 1920424442; 53pp; Prys R90)
Soom
Hennie van Coller
‘n Soom is ‘n grensgebied: van skeiding, binding, maar ook van afronding. Van Coller se debuutbundel is ‘n dubbelblik op ‘n vervloë, asook die huidige wêreld; die lae lande en Suid-Afrika. Dit word bereik deur o.a. die gebruik van ‘n geslaagde samevoeging van byderwetse Afikaanse woorde en Nederlandse woorde, wat wel Afrikaans is, maar in onbruik geraak het. Die bundel het ‘n elegies-nostalgiese ondertoon en naas landskapsgedigte oorheers satiriese en vernufsverse. Deur die kontrastering van die diepsinnige met die speelse en satiriese word daar op vernuftige wyse tekstuur geskep in ‘n bundel wat andersins swaartillend of oppervlakkig sou kon lyk. Hierdeur word ‘n eiesoortige karakter aan hierdie terugblik, binneblik en uitsig op ‘n landskap verleen. Heelwat verse handel oor linguistiek. “Woordeskat”, “Dood”, “Tilburg” en “‘n Vers vir ‘n Afrikaanse morfoloog” is van die verse wat tematies hierby aansluit. Die toon van die bundel wissel voortdurend: van melancholie en nostalgie tot en met speelse satiriese verse. Die insluiting van die vertaalde sonnette uit Nederlands verruim verder die verwysingsraamwerk van die leser.
Biografiese inligting:
Prof. Hennie van Coller is die outeur van meer as 100 artikels in geakkrediteerde tydskrifte, 37 hoofstukke in boeke, talle populêre publikasies en resensies en is die outeur, mede-outeur of redakteur van 19 boeke, o.a. die driedelige literatuurgeskiedenis Perspektief en Profiel. Binne universiteitsverband was prof. Van Coller vir baie jare lid van Fakulteitskomitees, sekundus-dekaan én agerende dekaan. (Griffel, 2012, prys & ISBN nog onbekend)
Stigmata
Tom Gouws
Hierdie vyfde digbundel van Tom Gouws verken as oorkoepelende tema die verskynsel van stigmata - dat sekere gelowiges in hul eie lyf die wonde van Jesus Christus ervaar. St. Franciskus van Assisi as die eerste persoon wat die stigmata ontvang het, is uiteraard ‘n sentrale figuur in dié “weefsel van wond en wonder”. Ander eietydse figure uit ‘n eietydse brutale Suid-Afrika kom eweneens hul wonde wys: Eugène Terre’blanche, Chris Louw, Inge Lotz, Anika Smit. Maar ook die ikoniese verwondes soos Marilyn Monroe kom wys “die laaste bloedrooi ruikers rose wat jou wonde uithou na my”.
Om hierdie onstellende realiteit te verwoord, word taal se stigmata-aard eweneens in die bundel ontgin en word die proses van skryf as deel van ‘n kollektiewe geheue se pyn en lyding en identifisering op verskeie vlakke in die meevoellyf van die gedig gegraveer. Dit word langsamerhand ‘n verrekening van die stigmata-aard van soomlose intertekstualiteit waar die wonde van voorgangerdigters en eietydse kultuur-ikone onverwags verskyn in bloeiende Afrikaanse verse. In die binnetuin van die bundel verskyn en verdwyn verskeie gevalle engele en duister woordgoëlaars in die gedigte - die ganse galery van Afrikaanse volksdigters, Jack Parow, Johnny Cash, Die Antwoord, ook ander ontheemdes en dolendes, soos Paul Kruger, ook die dames van die transvestietteeparty wat Elisabeth Eybers lyfgetrou maandeliks huldig.
Onderliggend in die bundel worstel geloof en evolusie tot bloedens toe, ‘n verkenning ook van wat die kriminoloog Cesare Lombroso “the anatomical stigmata of atavism” genoem het, ook in die bloedskendige en kriminele geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.
Ten spyte daarvan dat een van die lesers van die prepublikasiebundel dit (ná Gouws se bekroonde bundel Ligloop) genoem het: “‘n skop in die solar plexus”, vind die digter se weifelende, mistieke geloofspad neerslag in verskeie verse wat soos die Middeleeuse non-digter Hadewijch in die moerbeiboom “die vaaggevlekte streel van sy moerbeiwonde” vertoon. Die lyflike soeke na en identifisering met ‘n God van “been en bloed” lei in gedig na gedig tot “my hand in die geheime kliewing in jou sy / vingerpunte wat versigtig aan jou wonde vat”.
ars poetica
a tissue of quotations
- Roland Barthes
elke gedig is terminaal aan taal
in die sluikhandel van woorde
binne versreëls wring die ongehoorde
uit elke metafoor sypel water en bloed
dowwe spoor krapmerk stom sinjaal
latwerk van rooftekstiel op fibreuse grein
fantoomflitse van ‘n verbeelde voet
‘n klad ‘n fluistering wat nahuiwer
oorblyfsels in gedwonge stilte verswendel
veilig verseël in die verdigsel
die geheime grammatika van kneusing
laat die monde binnenswonds sing
glansende parspoëtika van pyn
weefsel van wond en wonder
[Human & Rousseau, ISBN: 9780798156318, R 150.00, 96pp., 2012]
Lot se vrou
Joan Hambidge
In hierdie bundel is daar heelwat stiltes in herinneringsverse en nostalgiese verse, wat afgewissel word met verse wat die stilte verskeur. Die digter, in hierdie bundel, kla haarself aan, sy haal haar af en sy verraai haar: die digter is die kitaarspeler en “sal alles doen en selfs verraai, net dat ‘n nuwe deuntjie in my draai” (DJ Opperman). Die woord staan voorop in hierdie gedigte. Dit is “woordverse” sonder dat die idee ondergeskik gestel word aan die woord. Selde nog het Hambidge die “gevaarlike woord” so onverskrokke hanteer en hierdie bundel is van haar rykste werk tot op hede.
Die algebra van pyn
Vir Johann de Lange
Sou jy ooit kon dink toe ons op ‘n plaaspad stap
hoe die lewe genadeloos álle illusies sou afskil?
Ons ken beide die verslawing van hierdie bedryf,
verkeerdelik al as ‘n stil, eensame proses beskryf.
Op daardie plaaspad, diep in die geheue geberg,
‘n koue kelder met gemerkte bottels vol sand,
wys jy toe na ‘n sekelmaan as ‘n nael gebreek.
Vele afleggings, eindes, selfs moord oor ons lewenspad.
“Fata”, het jy uitgeroep. “Blote toeval dalk?”
Lewe soos dood toe vir jou ‘n snel-grys-fantoom.
Op hierdie nag, ver van daardie plaas met ‘n emmer
roesend in ‘n gedig en ‘n uil wat hoe-hoe roep,
vra ek vannag, enkel uit genade, dat ek, eerder as jy,
eerste uit hierdie lewe, ‘n ónsierlike gedig, sal stap.
Uit: Lot se vrou, Joan Hambidge, 2012
’n Sterk bundel waarin die spreker se weerloosheid op ‘n eerlike, ontroerende manier blootgelê word.
- Toeganklike gedigte wat terselfdertyd vir die vernuftige leser komplekse verwysings en intertekste bied om na te speur.
“Heelwat kunstenaars bevolk hierdie bundel, soos te verwagte. Skrywers, opera-sangeresse, skilders, aktrises… Elkeen van hierdie kunstenaargedigte lewer ‘n ander faset op van die mosaïek van “kuns - kunstenaar -besinning - ‘bloedige’ lewe”. Na my mening is dit van die rykste werk wat Hambidge nog gelewer het.” (-Henning Snyman)
Haar vorige bundel, Vuurwiel, is besonder goed ontvang en was op die kortlys vir die ATKV-Woordveertjietoekenning vir Poësie. Ook Visums by verstek, haar versameling reisverse, is goed ontvang.
Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ‘n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse Letterkunde en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
[Human & Rousseau, 2012. Sagteband; 96p; ISBN-13: 978-0-7981-5687-5; E- ISBN: 978-0-7981-5688-2; Prys: R150.]
In plaas van die stilte
Miriam Van hee
Vert. deur Daniel Hugo
Miriam Van hee is tans een van die mees gelese digters in die Lae Lande. In hierdie keuse uit haar poësie het Daniel Hugo, die vertaler, hom in sy keuse eerstens laat lei deur die vertaalbaarheid van die verse, maar ook probeer om die Afrikaanse leser ‘n oorsig te bied van haar werk. Van hee se poësie is so gestroop soos takke wat hulle blare verloor in die herfs, die seisoen wat dikwels in haar gedigte genoem word. Stemmings van stilte, afwagting en leegheid is oorheersend. Al is die landskappe waaroor sy skryf, met sneeu bedek, en al is die stede en huise waarin die verse geplaas word, dié van ‘n vreemde land, sal die Suid-Afrikaanse leser die emosies van verlies, weemoed en verlange maklik kan herken en daarmee identifiseer. Só word dit verwoord in ‘n strofe uit die gedig “Winter”:
langsaam sneeu die voortuin vol en
‘n vreemde saamgaan van ongeloof
en verlange hou ons staande
asof ons steeds wit,
wegvarende skepe sien
Daniel Hugo slaag uitmuntend daarin om die delikate wêreld van hierdie Vlaamse woordkunstenaar in glashelder Afrikaans oor te sit. As vertaler het hy reeds sy merk gemaak en o.a. die werke vertaal van Tom Lanoye, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen, Karel Glastra van Loon en David van Reybrouck uit Nederlands in Afrikaans. Hierdie keur bevat toeganklike poësie wat die algemeen-menslike verwoord en behoort wye waardering uit te lok.
Miriam Van hee (Gent, 1952) is een van die mees gelese digters in die Lae Lande. Sy het talle toekennings ontvang, onder meer die driejaarlikse Cultuurprijs van de Vlaamse Gemeenschap vir haar bundel Achter de bergen. In 2007 het sy die Poesias Prys vir Europese Poësie gewen en haar werk is in Engeland deur die Poetry Book Society aanbeveel. Haar verse is al in Engels, Spaans, Russies, Frans, Duits, Litous, Sweeds en Pools vertaal. R140.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-86919-543-4, FORMAAT: 213 x 137 mm., Sagteband, 128 p., Protea Boekhuis, 2012.
in die niks al om
René Bohnen
René Bohnen se tweede digbundel, in die niks al om, gaan oor die integrasie van hoop en verlies, van die Ooste en die Weste, van verskrikking en verwondering, van platteland en stad. Die digter bepleit in haar eiesoortige liriese, vroulike stem die opheffing van dogma en die versoening van die polariteite in die wêreld se geloof, taal en kultuur. Sy oorrompel haar leser wanneer sy die wysheid van die onvolmaaktheid besing. André P. Brink het Bohnen opgeneem in die laaste Groot Verseboek, en haar debuutbundel Spoorsny is positief ervaar. “Daar is meer as genoeg in die bundel om my te oortuig dat René Bohnen ‘n eie plek in die eietydse Afrikaanse digkuns kan oopskryf. Dit is ‘n belofteryke debuut.” - Bernard Odendaal in Volksblad, 26 Februarie 2001
Biografiese inligting:
René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny. Van haar verse is deur André P. Brink opgeneem in die “geblikte” Groot Verseboek. Gedigte verskyn ook in ander versamelings, o.a. As die son kom oogknip en Woordreise, asook in Tydskrif vir Letterkunde en Karapaks. René is deel van die Oopmond-span, wat opgetree het by Aardklop en Innibos. René Bohnen behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Sy tree ook as fasiliteerder op by kreatiwiteitswerkswinkels, by narratiewe terapiesessies, asook by spanbougeleenthede by die Universiteit van Johannesburg. As digter-fotograaf ondersoek René die verskillende moontlikhede van woord-beeldkuns. (Prys: R 120.00 ; Sagteband 137 x 212mm 64pp.; ISBN: 978 0 7993 4883 5, Lapa, 2011)
Pirouette
Aniel Botha
In die debuutdigbundel Pirouette word balletterminologie en die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind in ‘n helder besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling. Dit is ‘n bundel waarin ritme en metrum aansluit by die oorkoepelende dans-metaforiek om die lewe sterk beeldend vanuit ‘n dansersperspektief - gestroop, met net die nodige lyne - weer te gee: tollend, wankelend, seëvierend met ‘n bevrydende sprong na heling. “Botha het ‘n sterk beeldende vermoë en huiwer nie om psigologies komplekse temas aan te spreek nie.” Louise Viljoen. ISBN: 9780795800320; Sagteband, 64pp; prys (insl. BTW): R 150.00; Queillerie, 2012
Biografiese inligting:
Aniel Botha het ‘n B.Ed-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en daarna ‘n MA in skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Tans werk sy as privaat tutor, en sy is ook gekwalifiseer as balletonderwyser.
Pirouette is haar eerste digbundel. Haar boek ‘n Dans met die dood, oor haar ervarings in ‘n psigiatriese hospitaal se eetsteurnisafdeling, het in 2010 by Zebra Press verskyn.
Aniel woon in Durbanville en het in Kaapstad grootgeword.
Vaarwel, my effens bevlekte held
Johann de Lange
Hertzogpryswenner De Lange se jongste gedigte getuig van ‘n gevoeligheid en ‘n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Met sy fokus op die mens én die natuur, boei De Lange die leser opnuut in toeganklike verse wat wissel van die elegiese tot die sardoniese. Die erns van die menslike drama van leef en sterf word telkens verlig met heerlike humor. Maar alhoewel die ironie aan die een kant spreek van onthulling, spreek dit andersyds van deernis.
Temas sluit in vryheid, afstand, skoonheid, dood, pyn, verlies, religie, seks. Van die erotiese gedigte spreek besonder sterk van die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. En oor alles heers die woord delikaat en kragtig gehanteer.
“‘n Besondere bundel, meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, met beelding én ironie.” - Henning Snyman.
ISBN: 9780798156301; prys (insl. BTW): R 150.00; Sagteband, 112pp; Human & Rousseau, 2012.
*
2011 Publikasies
Weerlig van die ongeloof
Johann de Lange
Johann de Lange bevestig met hierdie bundel kwatryne sy meesterskap. Die bundel bestaan uit 100 kwatryne wat in ses afdelings verdeel is. Binne die klein bestek van vier reëls kry De Lange dit telkens reg om kort flitse - byna soos weerlig - van betekenis aan die leser oor te dra. Dit is haas onmoontlik om die groot verskeidenheid temas wat in hierdie gedigte aangeraak word, saam te vat. Daar is liefdesverse, verse oor voëls, plante, verwysings na ander skrywers wat wissel van die ou Grieke Theognis en Anakreon tot by Afrikaanse digters soos Joan Hambidge en Sheila Cussons, daar is kort besinnings oor verganklikheid en die tydloosheid van ‘n by wat in amber gevang is, verlies en die dood. Bowenal demonstreer die digter hier op verbluffende wyse wat met die digtheid van digterlike taal vermag kan word:
Verstekeling
vir Henning
Dood is die verstekeling
in die ribbes van dié boot
wat ons met elke vaart
deur ongekaarte waters stoot.
Johann de Lange het reeds sewe digbundels en twee bundels kortverhale gepubliseer en het as samesteller van vier bundels opgetree. Hy is met die Ingrid Jonker-prys (1983), die Rapport-prys (1988) en die Hertzogprys (2011) bekroon. R140.00; ISBN: 978-1-86919-451-2, 76p, Protea Boekhuis, 2011
Kô lat ons sing
‘n Keur uit die gedigte van Adam Small
Hierdie keur wat deur Steward van Wyk saamgestel is uit al vyf Afrikaanse digbundels van Adam Small, gee ‘n beeld van sy onmisbare plek in die verruiming van die Afrikaanse letterkunde. Die meerderheid van die gedigte kom uit Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet. Die keur weerspieël deurgaans Small se meelewende kyk in die lotgevalle van die bruin Kaapse werkersklasmense.
Dit wys ook sy knap beheersing van humor, ironie en satire om gesagsfigure te hekel, en bowenal sy kreatiewe ontginning van alledaagse spraakvorme, rympies, liedjies en veral sy aanwending van Kaaps waaroor hy in die naskrif by Kitaar gesê het: “Kaaps is ‘n taal . . . ‘n taal waarin mense hul eerste skreeu skreeu en hul doodsroggel roggel.” ISBN: 9780795703812
Prys (insl. BTW): R 165.00, Formaat: Sagteband, 96pp; 2011
Biografiese inligting:
Adam Small is op 21 Desember 1936 op Wellington gebore. In 1953 matrikuleer hy aan die St Columba-skool van die Christian Brothers in Athlone op die Kaapse Vlakte. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n graad in Tale en Filosofie en voltooi in 1963 ‘n MA cum laude oor die filosofie van Nicolai Hartmann en Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford.
In 1959 word Adam dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word. Hy raak in die vroeë sewentigs betrokke by die Swartbewussynsbeweging.
In 1973 bedank hy onder druk by die UWK. Hy woon daarna in Johannesburg, waar hy die hoof is van die Universiteit van die Witwatersrand se studentegemeenskapsdienste. In 1977 vestig hy hom weer in die Kaap en is tot 1983 werksaam as direkteur van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk. Hy keer in 1984 terug na die UWK as hoof van die Departement Maatskaplike Werk. Einde 1997 tree hy uit diens.
Adam Small het in 1957 met Verse van die liefde gedebuteer. Van sy ander bekende digbundels sluit in Kitaar my kruis (1961) en Sê Sjibbolet (1963). Sy bekendste toneelstuk is Kanna hy kô hystoe (1965).
Ghoera
Hennie Aucamp
Hennie Aucamp se belangstelling in en kennis van die verhaalkuns van die inheemse volke van Suid-Afrika word in hierdie versameling omdigtings met die subtitel Afrika-verse vir kinders weerspieël. Die bundel is in vyf afdelings verdeel en bevat vernuftige oorvertellings-op-rym van bekende en minder bekende verhale van die San, die Khoi en die swart volke. Daar is verse oor die ontstaan van die son, die maan en die sterre, verhale oor diere soos die skilpad-towenaar en die eerste eland en volstruis, ‘n mite oor waar die eerste mens vandaan kom, die sprokie van die waterslang, en ‘n aantal “hoe” - en “hoekom”-stories: Hoe Tarentaal sy spikkels gekry het, hoe Hasie sy haaslip gekry het en hoekom Reier se nek so skeef is. Die vernuftige wyse waarop Aucamp hierdie verhaaltjies in digvorm weergee, sal deur kinders en grootmense geniet word. Half vergete verhale word op hierdie wyse ook weer vir Afrikaanse lesers in herinnering geroep. ’n Aantal dieresketse van Zakkie Eloff wat dien as illustrasies vir die gedigte, maak van hierdie versameling iets waardevols en besonders.
Hennie Aucamp het in 1963 as kortverhaalskrywer gedebuteer. Benewens talle kortprosabundels het hy ook vyf digbundels gepubliseer en byna elke noemenswaardige literêre prys ontvang. (R135.00; ISBN: 978-1-86919-453-6, 80 p.; Protea Boekhuis, 2011)
Grond/Santekraam
Ronelda S Kamfer
Met dié nuwe bundel verse vestig Ronelda S. Kamfer haarself opnuut as hoogs talentvolle en dénkende digter in Afrikaans. Die landskappe Klippenkust en Skipskop figureer in dié gedigte, en ook die karakters Klippie Klip-kop en Sara-Slim-meisie, en Herrij Autshumao en Van Riebeeck.
Skeepswrakke onderwater word simbool van verledes wat nooit opgediep is nie. En “oorvertel” van die geskiedenis word uiteindelik “andervertel”, met ironie, fyn humor en ‘n spel met taal.
Grond/Santekraam is ‘n uitsonderlike bundel, en verreik die huidige kanon van Afrikaanse poësie. ISBN: 9780795703652′ 64 pp; Prys R 160.00; Kwela, 2011
Donkerkamer
Fourie Botha
Donkerkamer is ‘n debuutbundel oor beelde en oor kyk: na foto’s en kunswerke, na die ongediertes wat in drome skuil en na jeugherinnerings ingeprent op die film van die geheue. Dier- en voëlbeelde vertel van geweld, die verlies aan onskuld en weerloosheid, maar ook van begeerte en lyflikheid. Dié bundel voer aan dat kyk en oorvertel nie onskuldig kan wees nie, dat ‘n foto in ‘n donker kamer tot beeld ontwikkel. Fourie Botha het in Nuwe Stemme 4 gedebuteer.
(ISBN 9780795800221, Queillerie, 2011, R150)
splintervlerk
marlise Joubert
Marlise Joubert se sewende digbundel handel oor siekte en herstel. In die eerste afdeling, “winterklou”, word die beklemmende wêreld van die intensiewe sorgeenheid en hospitaalbed uit die perspektief van die pasiënt beskou. Die hulpeloosheid en uitgelewerdheid van iemand wat ‘n ernstige operasie moes ondergaan, neem op aangrypende wyse gestalte in die gedigte. Te midde van pyn bly sy bewus van skoonheid en die nabyheid van die geliefde. In die tweede afdeling, “rugkaatsing” word haar wêreld weer groter soos wat sy herstel; bring sy reise, besoeke en gesprekke in herinnering en tree die verskrikking van siekte en dood verder weg. Die derde afdeling, “dryfgoed”, is ‘n viering van lewe en kunstenaarskap. Die herstelproses word ‘n werklikheid soos wat sy weer begin skryf en skilder. Ander dinge, plekke en mense tree weer toe tot haar beleweniswêreld. Alhoewel die spreker bewus bly van haar kwesbaarheid en die verbygaan van die tyd, bevestig gewone dinge soos kos, wyn en blomme die waarde van die lewe en die liefde:
oudergewoonte
vanaand het ek lief omdat daar wyn is om te drink
vanaand kan ek liefhê omdat ons steeds alles
vir mekaar kan skink en langsaam wis hoeveel sagter
die reën en son in verouderde glase is
“Die spreker se instrument om heelmaking / digterwording daar te stel, is die digterlike woord. Van meet af aan is hierdie bundel ‘n gestaltegewing van transformasie van die spreker. Met die motto van Thomas wat as roetewyser vir die verse dien, word die leser gekonfronteer met verskeie vorms van verwonding, maar wat in die intiem-liriese styl van die gedigte, uitreik na heelmaking en suiwering. [...] Dis mineurpoësie - die ná-dreuning van die verse is eufonies - die liriese kwaliteit van splintervlerk is ‘n amulet teen die angel van oudword, siekte en verval. Ten spyte van gebrokenheid is daar hoop in die gedigte verwoord. Die gedigtereekse is komposisionele bewys van konstruksie as kognitiewe gegewe om te probeer behou; te bestendig.” (Mathinus Beukes)
Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ‘n Boot in die woestyn en volg dit op met Domus (1973), So ver en verder (1976), Ontruiming (1986), Lyfsange (2001) en passies en passasies (2007). Haar romans sluit in: Klipkus (1978), Oranje Meraai (1996) en Ateljee van glas (2004). Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode Granaat (1981).
Splintervlerk se verse sal tot almal spreek wat ‘n soortgelyke lot deurgemaak het, maar dit gee ook hoop in die nabyheid van geliefdes, bekende dinge en die skeppingsproses. (Protea Boekhuis, 2011, Prys: R140.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-86919-472-7, Sagteband, 96 pp.)
die lekkerste perske is ‘n vy
Anne-Ghrett Erasmus
In hierdie debuutbundel met die teenstrydige, poëtiese, titel nooi Anne-Ghrett Erasmus die leser uit om saam met haar deur haar verwoordings van haar werklikheid te loop. Die pad loop vanaf die maak van die gedig, en die skeppings van die groot meesters op wie se maat sy die woord gevind het. Jy sien ook die natuur, herinnerings aan klein dorpies en gewyde plekkies, soos geteken uit die oog van die skilder.
Sy is die vriendelike digter wat met deernis, en soms grappig, vertel van die mense wat haar lewe geraak het. Maar ook, ernstig, van die vrou, die geboorte van haar kind, met die vreugde wat hy bring, ook van sy klein pyn; en uiteindelik die vrees vir die grootword in hierdie land - van hekse, boewe, moordenaars, verkragters en kinderdiewe: ‘Ek’s mar net ‘n kind van vyf’. Dan by haar die vrees vir die groot K. Vanaf die vriendelike uitnodiging aan die begin tot die saam loop aan die einde:
Loop nugter…
want as die loop ophou loop
is die verloop
fataal.
(ISBN: 978-0-9814408-5-9, Benedic Boeke 2011)
Die lewe tussen pikkewyne
Jasper van Zyl
Jasper van Zyl se Die lewe tussen pikkewyne is ‘n skerpsinnige en eiesinnige verwoording van hoe vreemd die mees vertroude dinge kan wees, hoe onheilspellend dit wat die naaste aan ons is.
Sy digterstem is nuut en vars, sy beeldgebruik is tegelyk konkreet en verbluffend surrealisties. In vers na vers neem hy jou op ‘n woordavontuur wat jou lig verbyster maar tintelend laat.
Jasper van Zyl is in 1987 in die Paarl gebore en word as pastoriekind groot op Lambertsbaai, Kimberley en Upington, maar hoofsaaklik op Gansbaai. In 2004verskyn sy eerste verse in Antjie Krog en Alfred Schaffer se Nuwe stemme 3 terwyl hy nog op hoërskool is. Sedertdien word van sy verse in verskeie bloemlesings opgeneem en tree hy by verskeie poësiefeeste en aanlyn-skryfskole op. (Tafelberg, 2011, R130, ISBN 978-0-624-04681-3, 48 pp)
mêlee
die nuwe meisie in die skool vertel
dat sy saans, wanneer sy bad,
die water met haar hande roer.
sy verbeel haar dat seerowerskepe
in die storms om haar bene vaar,
op soek na ‘n skat wat daar laat val is.
soms, as die druppels van haar arms rol
is dít die reën wat die skepe laat sink,
maar die volgende aand is hulle terug.
die meisie met die atlantiese oë
leer my rook agter die engelsklas
met lang moue aan; sy slaap met gevoude arms
en ek wonder hoeveel bloed
sy in haar are het, in haar sag geweekte hande
met die stadige voue, skatkaarte op haar palms.























