Nuwe bundels
Iets meer oor die nuutste digbundels
Publikasies 1, 2
Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 – 2009Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2010 - 2012 – onder konstruksie)‘n Volledige lys met publikasies, resensies, artikels, onderhoude en ook toepaslike opsommende tabelle. Kyk ook na Versindaba bloemlesings resensies en ander interessante lyste op hierdie webtuiste. Resensies oor nuutste digbundels verskyn gereeld.
|
2013 Publikasies
Nuwe Stemme 5 BINNEKORT
Saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais
Die Nuwe stemme-reeks is ‘n opwindende projek waarmee Tafelberg-Uitgewers publikasiegeleenthede skep vir jong digters. Die bundelreeks het met die verloop van slegs ‘n paar jaar reeds ‘n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebuteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha. Vanjaar is daar opnuut bekende én opwindende name waaronder Desmond Painter, Fanie Viljoen, Pieter Odendaal, Gisela Ullyatt en Jaco Barnard-Naudé. (ISBN: 97806240588612013; prys (insl. BTW): R 165.00, 176pp; Tafelberg Uitgewers, 2013.
Die Gewildste Afrikaanse Gedigte
Saamgestel deur Leserskring
‘Gewildste Afrikaanse Gedigte’ is die eindproduk van ʼn gedigte-projek wat in 2012 deur Leserskring, BY en RSG van stapel gestuur is. Lede, lesers en luisteraars is gevra om die titels van hul gunsteling Afrikaanse gedigte vir Leserskring te stuur. Almal sal eersdaags kan sien of hul gunstelinge die lys gehaal het wanneer die bundel asook CD met dieselfde titel in April deur Leserskring bekendgestel word. Die bundel bevat die 100 gewildste Afrikaanse gedigte soos gekies deur mense vir die mense. Die versameling sluit gedigte van ‘n wye verskeidenheid digters in: van Eugène N Marais, DJ Opperman, NP van Wyk Louw, AG Visser, TT Cloete, Elizabeth Eybers, Lina Spies, Antjie Krog, Breyten Breytenbach tot Adam Small en Koos Kombuis. Selfs die name van stemkunstenaars wat gebruik is vir die opname van die CD lees soos ‘n lys van Suid-Afrika se gewildste en grootste talent: Johann Nel, Nic de Jager, Wilma Snyman, Stian Bam, Waldemar Schultz, Antoinette Kellerman en nog vele ander.Volgens Lana Barnett, hoofbestuurder van Leserskring, is die sukses van die projek ʼn duidelike bewys dat gedigte steeds ‘n spesiale plek in die harte van Suid-Afrikaanse lesers het. “Leserskring het nominasies van duisende mense ontvang wat graag hul gunstelinge in die bundel wou sien. Die Afrikaanse digkuns is beslis nie dood nie en die projek het ons nuwe hoop vir die toekoms van Afrikaanse gedigte gegee.”
Ook beskikbaar as e-boek. Die boek sal van Oktober beskikbaar gestel word aan die handel. (Human & Rousseau, 2013; Itemnommer: 19232; ISBN: 9780798158374; Formaat: Sagteband, bls.192, Prys R170)
Die bundel en CD is beskikbaar by Leserskring. Klublede betaal R150 vir die bundel en R199 vir die CD. (Die Gewildste Afrikaanse Gedigte (3CD-st), Itemnommer: 66225, R239)
[VII]
Gilbert Gibson
Sewe is die getal van heiligheid, van voltooiing en vervulling, ’n volmaakte sirkel. Gilbert Gibson se vierde digbundel is ’n konfrontasie met die simboliese lading van hierdie getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer.
Dit is poësie wat vernaamlik spreek van die onoorbrugbare afstand tussen woord en wêreld, van “geheime wat ’n haarbreedte van die werklikheid verwyder is”. Dit is poësie waarin woord en sintaksis tot breekpunt gespan word om nader te kom aan dit wat nie meer agterhaal kan word nie. Die verse verbeeld konkreet dat die poësie begin waar taal verbrokkel; dat die letterkunde juis ontspring uit die verbystering van sinne.
(Tafelberg, R135 ISBN: 9780624058847, 96pp.)
Duisend dae op jou spoor
Cas Vos
Cas Vos se nuwe bundel is vol apokaliptiese en mistieke motiewe. En tog skemer die lig deur. Die ontwerper en uitgewer het die letsels, die spore, die ontnugtering en die lig in die buitebladillustrasie saamgebind. Elke samelewing het sy swak plek, sy wonde. “Sit jou vinger op die wond en druk hard” (Michell Houellebecq). In die bundel voer Vos ’n boeiende gesprek met die sosiale omgewing waar diefstal, verkragting en moord voorkom.
Tristan en Isolde, ’n 6de eeuse legende, word op ’n unieke wyse met ’n digterlike kleed omhul. Die voorlaaste gedig, ’n Brief aan my Engel, gaan ’n fladdering onder lesers en resensente meebring. Die laaste gedig in die bundel roep die rower-gedigte op, maar dan op ’n ironiese en paradoksale wyse. Wat ook in die bundel opvallend is, is die rykdom metafore.
… nou hoor ek
snags drome sag asemhaal.
Duisend dae op jou spoor lei lesers op paaie waar hulle self spore moet soek en betekenis daaraan moet gee. (Hond Bk, 2013, ISBN 978-1-874969-19-8,109pp. )
Deur ruite van die reis
Melanie Grobler
Melanie Grobler verstaan die kuns om die leser los te maak van die aarde en die aardse: Die reistema, geografies sowel as deur streke van die gees, is dan ook ’n bindende en fassinerende faktor in haar nuwe digbundel. Ook die reis na die gedig, en telkens sien die leser die digter onderweg na die gedig. Die spreker van die verse vereenselwig haar dikwels met sjamaan-figure of mistici of gestorwe voorouers en hul transendentale reise. Die digter se reis stem dus by implikasie ooreen met dié van die sjamaan wat die doderyk besoek om iets waardevols vir die lewendes terug te bring.
Grobler se beelde is verrassend en lewenskragtig, en dit lok die leser om teen vermoedens in na betekenis te soek. In ’n sekere sin is hierdie soeke na ’n ewig ontwykende betekenis die ware betekenis van ’n gedig. Betowerende en evokatiewe verse.
die wond van die gedig
Aarselend loop sy verby die hoop sneeu
en is skielik in ’n rustelose droom
in die bitter lig en die dreunsang van ’n sandstorm
in ’n boomlose land
in ’n stoppelland van sand wag ek op Akhmatowa
toe sy my regterhand neem om my vingers
terug te snoei, lei sy my van put na put
na die as van ’n vuurwerk van lank gelede
in die nanag betas ons lomerige oë
die Bedoeïenemaan, maar naglopers waarsku ons
om nie die bloedmaan te vertrou nie
om in sy vlamme te staan smoor die verbeelding
eensaam maar vol poësie hoor ek die donker wind
wat deur die tamarind se takke tuimel
laat my tog net een keer weer in die helder wond
van die gedig op die vuur van Akhmatowa wag.
(Human & Rousseau, 2013, ISBN-13:978-0-7981-5749-0, 96 bls., Prys R160)
Rangeer
Clinton V. du Plessis
Oor stoomtreine raak mens passievol en vol roet. Die lokomotief onverbiddelik op sy spoor deur die wêreld, verby vergete sidings en verlore stasies, deur die vlaktes van verlatenheid en bossieveld en langs bedrywige voorstede, nou met die ene stoom en gesuis, dan weer met die vertroude klik-klik; soms ’n ver fluit in die nag. Clinton V. du Plessis se stoomtrein loop nou al bykans dertig jaar deur die hartseer landskap van ons samelewing, en lê baie stasies diep. Hierdie is sy sewende bundel en word opgedra aan sy pa. Lesers wat by Litnet inloer, sal rubrieke van Clinton in ’n ander gedaante herken, en sy vorige bundel, gedigte, talk show hosts & reality shows (wat in 2009 in beperkte oplaag verskyn het) word hier volledig opgeneem. Sowel die voorkoms en die toonaard van die gedigte bly bekend. En die verskillende landskappe waardeur die gedigte beweeg: of dit nou oor ’n politieke wildernis wil vertel, oor die oppervlakkige moderne stadsbestaan of die leë behoeftes van die vlees. En ook in die saamgesels met die Afrikaanse letterkunde herken jy jouself op ’n Noupoort, ’n Kookhuis, ’n De Aar. Maar bekend maak nie bemind nie, bly blywend ongemaklik. Ons storie is, op stuk van sake, nie ’n aand wat room geword het nie en die digter weier om daaroor bes te gee:
“hoe verset jy jou teen vergeet
hoe kom jy in opstand vir onthou?”
Ook hierdie bundel is onmiskenbaar Clinton V. du Plessis.
(ISBN 978-0-620-55604-0, 148mm x 218mm, Sagteband, 142 pp. Prys R150, Ama-coloured Slowguns, 2013 – Bestelling: amacolouredslowguns@gmail.com )
Kom in, dit vries daar buite
Alfred Schaffer
Vertaler: Daniel Hugo
In hierdie bundel vertaal Daniel Hugo gedigte uit die vyf bundels van die Nederlandse digter Alfred Schaffer asook enkele ongepubliseerde gedigte. Die keuse is deur die digter self.
Schaffer se surrealistiese verse leen hulle nie tot maklike interpretasie nie. Dit is dikwels haas onmoontlik om die situasies te kontekstualiseer of selfs net om te besluit of hier sprake van die werklike wêreld of eerder van drome en verbeelde gebeure is. Tog handel die gedigte meestal oor baie konkrete dinge: ’n ou man se verjaardag; mense in ’n swembad; besoektyd aan ‘n hospitaal; ’n tenniswedstryd. Volgens een resensent gee Schaffer met die opstapeling van skynbaar verbandlose sinne en los beelde juis die menslike kondisie van die een en twintigste eeu presies weer: “De mens heeft zijn hoofd op hol gebracht met de eindeloze stroom van ficties die hij gecreëerd heeft. Hij zoekt opgejaagd naar referentiepunten, houvast, maar vindt er geen meer” (De Tijd). Of, om dit in die digter se eie woorde te stel:
Waarheen moet ek gaan, ek kyk op,
proe die fyn reën op my tong.
Dit is nog ’n behoorlike ent om te loop
voor ek iets herkenbaars sal bereik –
ek kyk op my horlosie en begin vinniger stap.
Ek weet nie meer waar ek vandaan kom nie. (Zin opkomst in de voorstad)
OOR DIE OUTEUR
Alfred Schaffer is van Nederlands-Arubaanse afkoms en het in Leiden studeer. In 1996 verwerf hy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf vir Die Burger en Beeld oor Nederlandse gedigte en stel saam met Antjie Krog Nuwe Stemme 3 saam. Tans is hy dosent by die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch aangestel. Hy is meermale in Nederland vir sy poësie bekroon. (Protea Boekhuis, PRYS: R140, ISBN: 978-1-86919-912-8, Sagteband, 108 pp.)
Bleek planeet
Dolf van Niekerk
Reeds in die eerste gedig van Bleek planeet, “2111”, word die leser gekonfronteer met die belangrikste tema van die bundel: Tussen die vallende herfsblare in sy tuin word die digter bewus van “die aarde se beskeie plekkie in die niet” en sien hy ’n visioen van geel lug, verskroeide landskappe en verskrompelde woude op ’n geel planeet. Die skrikbeelde van tsoenami’s, verwarde seisoene, besoedeling en toenemende verwoesting word in die eerste afdeling voortgesit. Die tweede afdeling begin met die lang gedig “Garob” waarin die skepping van die aarde soos dit vasgelê is in die sedimente van die Karoo aan die orde gestel. Die bedreiging van onbesonne ontginning, gierigheid en verbruikerswellus op die brose landskap word in die gedigte geteken. Die derde afdeling bevat meditatiewe gedigte waarin onder andere deur besinning oor die werk van Helen Martins gesoek word na “God se wateraar”, terwyl die laaste afdeling ’n viering van die hier en nou is, al is die digter bewus daarvan dat hy “in brabbeltaal/moet swoeg om die sin/ van woorde te verhaal”.
Met die kommer oor die bedreiging van die balans in veral die kwesbare Karoo is Dolf van Niekerk se vyfde digbundel baie tydig. Bleek planeet is ‘n bundel vir die liefhebbers van poësie, maar ook vir almal wat bekommerd is oor omgewingskwessies in Suid-Afrika.
OOR DIE OUTEUR
Dolf van Niekerk is ’n bekende en geliefde skrywer van prosawerke soos Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Sy betrokkenheid by radiowerk het gelei tot talle radiopraatjies, hoorspele en vervolgverhale. Hy is meermale vir sy werk bekroon en het onder andere die Eugène Marais-prys, die M.E.R.-prys en die Scheepersprys ontvang. (Protea Boekhuis. PRYS: R140; ISBN: 978-1-86919-921-0, Sagteband; 60pp)
*
2012 Publikasies
Tagtig gedigte en twee essays
Michel Houellebecq
Michel Houellebecq is ‘n komplekse skrywer – dubbelsinnig, ironies, meervlakkig. Aan die een kant is sy werk snydend, wreed, seksueel eksplisiet, afsigtelik. Aan die ander kant skryf hy met ‘n besonderse deernis; oplettend, intiem en ingestel op die lyding van die oues, die broses, die onvolmaaktes, die chronies oorwonnenes. Hierdie tweede vlak word gereeld misgelees, soms doelbewus geïgnoreer. Nêrens in sy werk word die fyn verweefde kompleksiteit van sy denke so duidelik sigbaar as in sy gedigte nie. En tog is sy digkuns lank oorskadu deur sy romans. Dieselfde geld vir sy essays wat wesenlike fasette van sy denke bevat maar waarvan vertalings moeilik bekombaar is. Met hierdie vertaling van tagtig gedigte en twee essays van Houellebecq, word sy sonderlinge skeppingskrag wyer bekend gestel.
Die gedigte word gekenmerk deur ‘n afwesigheid waar emosie uit ellips opwel. In die nimmereindigende mobiliteit van die moderne lewe glip daar soms oomblikke van bewegingloosheid wat dui op ‘n swewing, ‘n onsekerheid. Dit is ‘n interval wat die estetiese moontlik maak; ‘n stille revolusie wat die lewe kans gee om in te haal; ‘n poësie van gestolde beweging.
“Die moontlikheid om te lewe, begin in die oë van ‘n ander.” – Michel Houellebecq
Vertalers: Natasha Blignault, Tabitha du Plessis, Elizma Briers, Catherine du Toit, Joubert Geldenhuys, Annelien Roberts en Frances Strooh.
Middag
Vlugtige bewegings wat eindig in swaarkry
Na die op en af loop sou jy eerder wou gaap,
In jou lewensverdriet swelg en dan maar gaan slaap
Want die liggaam van pyn is swaar en só naby
Buite is dit warm, die hemel is pragtig
Die lewe se luste laat die jong lywe tol
As die natuur hulle roep na die lentejol
Jy is allenig en die leegte spook lastig.
En jy voel die gewig van jou enkelingvlees
Hoe glo mens dat daar lewe op aarde kan wees
Jou moeë hart klop wild en pols homself disnis
Om die bloed te forseer in jou tam ledemate
Jy het heeltemal vergeet van seks as ’n bate
Die nag val oor jou soos ’n duister doodsvonnis.
(Hond Uitgewers, 2012, ISBN 9781874969181, Sagteband, 216 ble., R180.00)
Katalekte
Breyten Breytenbach
Die subtitel “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan” dui reeds op die belangrikste temas in Breytenbach se nuwe bundel: afskeid, verganklikheid, die dood. Maar tog is daar ook, soos altyd, gedigte wat ’n viering is van die lewe en van die liefde. Katalekte vorm ’n drieluik met sy vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. Soos voorheen, gedigte wat aards is én liries, sintuiglik én abstrak, eenvoudig én kompleks, onthutsend én teer. En steeds, die assosiasie van letsels, oorblyfsels, flardes, van onvolledigheid. En uiteindelik, ’n oorgang na “die bevryding van onsigbaarheid”. Die boek sluit 20 afbeeldings in kleur in, van pampoen tot nar: ’n integrale deel van die teks.
Lof vir die vorige twee bundels: “Die Windvanger bring nuwe diepte en dimensie na ’n reeds merkwaardige oeuvre” – Louise Viljoen
“Die groot krag van Breyten Breytenbach se poësie is gesetel in die buitengewone metafore wat deurgaans in sy werk voorkom.” – Willie Burger
“Die beginsel van stof is ’n verwikkelde, sterk elegiese maar ook pragtige liriese bundel.” – Helize van Vuuren. (H & R, 2012, ISBN 9780798157926 Sagteband, 224pp (met kleurafdrukke) R 220.00
In die skadu van soveel bome
Hennie Nortjé
In hierdie debuutbundel oor veral uitsonderlike bome word ’n fyn ewewig gehandhaaf tussen emosie en intellek in weloorwoë, delikate woordkuns. Dit is verstegnies vaardige, deernisvolle gedigte waarin die bome van Suid-Afrika beelde word vir menswees en psigiese ervarings.
Fyn natuurwaarneming, trefseker woordkeuses en speelse humor, ook satire, maak van die bundel ’n boeiende verkenning van die menslike psige en ons verhouding tot die natuur.
OOR DIE OUTEUR: Hennie Nortjé is in 1956 gebore en werk as mediese praktisyn. Hy bly op Stellenbosch wanneer hy nie besig is om verre paaie te bewandel op soek na uitsonderlike bome nie….
(Queillerie 2012, ISBN: 9780795800382 R 150.00 Sagteband, 80 pp)
In die bloute
Johann Lodewyk Marais
In Johann Lodewyk Marais se digbundel In die bloute is die see die ontginnings- of versamelingsbodem van sy gedigte, veral gesien binne die opdrag en idee van die wetenskaplike navorser en versamelaar wat aan die woord is:
“… wil ek ‘n bundel verse skryf
met seesand tussen die blaaie,
die diepgang van die sloepe ken …”.
Baie versamelaars van skulpe en seegoed is hier ter sprake: die digter self met sy versameling gedigte oor die dinge van die see; mense wat een of ander verbintenis met die see het of gehad het, byvoorbeeld seevaarders, matrose, moderner seereisigers en ontginners soos Jacques Cousteau; asook allerlei nuut ontdekte goed in die see, die benoeming van seediere, skulpe, ensovoorts wat hy as navorser-digter noukeurig van die kleinste tot die grootste beluister en opteken.
Die inhoudsopgawe toon reeds die verruiming van kennis rondom die dinge, en ‘n mens sou kon sê dat daar dalk aanspraak is op ‘n tema soos dié van die franciskaanse St. Bonaventura (1221-1274) met sy filosofie van “knowledge by illumination”. Talle nuwe en ou dinge van die see is in hierdie bundel gelys. Die gedigte lewer ‘n beduidende bydrae tot die taalskat van Afrikaans poësie en van bewonderenswaardige dinge. Hulle bied ‘n nuwe kyk na die see as deel van die skepping en die seelewe self, wat tot onlangs meestal ontontdek en onontgin in die Afrikaanse digkuns was, behalwe vir die digters en skrywers wat hier as voorgangers dien.
Die waarnemings in verskeie gedigte in hierdie bundel is met meer persoonlike betrokkenheid en gevoel as in sy vorige bundels ingeklee. Die gedigte adem ‘n meelewing of aanvoeling vir en eenwording met die oseaan(e), die lewenskrag daarvan en selfs met die ander lewenswesens (amper soos in die panteïstiese lewensbeskouinge, boeddhisme en andere, maar nooit eng nie).
Met hierdie verruiming het Johann Lodewyk Marais sy plek as ‘n vernuwende digter in die Afrikaanse letterkunde gevestig.
(Cordis Trust Publikasies, 2012, pp 79, ISBN: 978-0-9870397-1-2; prys: R150,00. Bestel by JLMarais@yahoo.com.)
in die afwesigheid van sin
Susan Smith
In haar debuutdigbundel bied Susan Smith ’n vroulike perspektief op die rol wat taal in die lewe van “’n onbelangrike mens” speel. Hierdie besinnings word egter nie in abstrakte terme oorgedra nie, maar word gedra deur verse oor die band tussen familielede, die weerloosheid van vroue teen misdaad, dood en ouderdom, die geborgenheid wat ’n huis kan bied en die sosiale werklikhede van ons tyd.
Die hele bundel staan in die gees van die motto, ’n aanhaling van Erica Jong, “Since flesh can’t stay, we pass the words along”. Die oorlewer van woorde van een geslag na die volgende in verskillende vorme kom ter sprake: benoeming, naamgewing, vertelling, liedjies en rympies, instruksies soos resepte en breipatrone (“in skilferdeeg toegevou”, gewone, alledaagse kommunikasie (“telefoonboekie”) en hiperteks. Naas verwondering oor die vermoë van taal, is daar ook verse oor die beperkinge en verlies van taal (“afasie”), en die taal van verlies (“terwyl ek besig was”). In verse soos “Quinera” en “karoo-narratief” word getoon hoe taal herinnering en kultuurgoedere bestendig. In die derde afdeling “muur”, word eietydse kommunikasiewyses met selfone, die internet en foto’s aangeraak, en in afdeling IV, “versin”, word die leser bewus gemaak van die mag van woorde om ook dit wat nie werklik bestaan nie, te kan oproep.
in die afwesigheid van sinis ’n heg gekonstrueerde bundel wat op byna terloopse wyse die belangrike plek van taal in die gewone lewe ondersoek.
OOR DIE OUTEUR : Susan Smith het aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en is tans letterkundedosent aan die Universiteit van Fort Hare. Sy woon in Oos-Londen. (Protea Boekhuis, 2012, R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-86919-807-7, 137 x 213 mm, Sagteband, 100pp)
Vol draadwerk
Marius Crous
Vol draadwerk is die bekroonde digter Marius Crous se derde digbundel. Die temas in hierdie bundel sluit deels aan by temas uit sy vorige bundels, maar daar is ook heelwat nuwe onderwerpe. Die gedigte oor musiek, die skilderkuns en die letterkunde in afdelings I (“Chora”) en IV toon weer eens Crous se vernuf in die ontginning van intertekste, terwyl die homoërotiese gedigte in afdeling VI voortbou op dié tema in sy tweede bundel. Nuut is die benutting van verhale uit die klassieke Griekse mitologie in afdeling II. Crous beklemtoon dikwels die grusame en makabere in dié verhale, soos in “Eumaios”, die gedig oor die varkoppasser en vriend van Odusseus, en “Antinoös”, wat handel oor een van Penelopeia se vryers, waardeur die soms oorgeromantiseerde voorstellings van die Odusseus-verhaal ontluister word. Dieselfde ontluistering vind ‘n mens ook in die afdeling “Aufhebung”, waar dit ideologieë en godsdienstige oortuigings is wat onder Crous se satiriese tong deurloop. Van die mooiste verse in die bundel kom uit die derde afdeling oor die Oos-Kaap, en toon Crous ‘n ander, meer genadige sy met reëls soos dié:
‘n sprinkelreën sak uit oor die tuin
en skielik word die plante
flukse vroue wat begin blomme uitdeel
Inderdaad ‘n bundel vol draadwerk wat soms onverwagte kinkels maak.
OOR DIE OUTEUR: Marius Crous het die UJ-prys ontvang vir sy debuutbundel, Brief uit die kolonies (2003). Hy is dosent in Afrikaans aan die Nelson Mandela Metropolitan.
(Protea Boekhuis, 2012; R150.00, ISBN: 978-1-86919-766-7, 213 x 317 mm, Sagteband, pp 84)
Teen die lig
Hennie Aucamp
Hennie Aucamp is in eerste instansie bekend vir sy fyn afgeronde kortverhale, maar hy het ook ‘n beduidende aantal lied- en kabarettekste en volwaardige digbundels op sy kerfstok. Teen die lig, die vierde digbundel wat by Protea verskyn, sluit aan by sy vroeë kortverhale wat oor sy jeugwêreld in die Stormberge handel. Aucamp noem die verse in die eerste afdeling “Boerepsalms” en besing hierin sy voorsate, die werks- en feesdae op die plaas waar hy grootgeword het en uiteindelik ook die verval van die geliefde huis en werf. Die tweede afdeling bestaan uit liedsiklusse waarvan enkeles reeds getoonset en uitgevoer is. In die in die afdeling oor woestyne en halfwoestyne kom die Boesman weer ter sprake, maar ook Namas en Himbas, en bowenal die woestyn self. Die bundel sluit met verse oor die dood, weer eens in die volksidioom, met telkens flitse humor.
Teen die lig staan in die teken van afskeid, maar afskeid-in-vreugde.
Hennie Aucamp het in 1963 as kortverhaalskrywer gedebuteer. Benewens talle kortprosabundels het hy ook vyf digbundels gepubliseer en byna elke noemenswaardige literêre prys ontvang. Hy woon in Kaapstad. (R150.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-86919-764-3, sagteband , pp 64, Protea Boekhuis, 2012)
Vi” Adam Small – ‘n digbundel
(+ CD met voorleesgedigte)
Medewerkers: Melt Myburgh, Danie Marais, Margot Luyt en Iris Bester
Hierdie gedenkbundel oor Adam Small is die resultaat van ‘ ope uitnodiging aan digters om vir Adam Small ‘n gedig te skryf vir sy 75ste verjaarsdag. Drie en twintig digters het reageer en dit is by die Versindaba 2011 op Stellenbosch deur die digters voorgelees. RSG en die US Woordfees bring op die wyse dan ook hulde aan hom met hierdie spesiale versameling van gedigte aan hom. Spesiale bydraes is ook gemaak deur Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee. Die CD wat ingesluit is by die bundel bevat klankopnames van die Versindaba 2011-program “Vir Adam Samll”. Daar is ook die hoorbeeld Adam Small 75, deur Iris Bester se ATKV-bekroonde hoorbeeld. ‘n Goed saamgestelde beeld van een van afrikaans se bleangrikste digters en dramaturge, met behulop van sy eie stemopnames uit die argief en bydraes van sy kollegas en vriende. Daar is ook ‘n opname uit die SAUK se klankargief waar Small meer as 20 van sy eie gedigte voorlees. (Naledi uitgewers, 2012, pp 81, ISBN: 978-0987038838; prys: R159.00)
Kry my by die gewone plek aguur
Loftus Marais
Loftus Marais se tweede bundel is meer as ‘n waardige opvolger vir sy buitengewone debuut. In 2008 het hy met Staan in die algemeen nader aan vensters nie minder nie as vyf letterkundepryse gewen, en die rede vir hierdie fenomenale erkenning is straks te bespeur in die selfversekerdheid van die digterstem in die nuwe bundel – die gevoel van trefsekerheid wat gewek word deur die beheer van struktuur, ritme en formulering.
Soos die titel aandui, is dit gedigte oor Kaapstad, of wat deur hierdie spesifieke stadsruimte geïnspireer is. Dit is dan ook poësie wat die vele fasette van die stad verbeeld, van ‘n argitektoniese finesse tot ‘n onderwêreldse rommeligheid. Die leser kan hier ‘n digtersoog volg wat ingestel is op die fynste kanteling van lig en stemming – ‘n begerende oog waarvan die sensitiwiteit gevoed word deur ‘n ewige hunkering. En wat jou keer op keer beïndruk van Loftus Marais se poësie is hoe sy oog jou lei van indruk tot iets wat die allure het van ‘n fundamentele insig.
Biografiese inligting : Loftus Marais is op 5 Maart 1982 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 2000 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. In 2007 verwerf hy sy MA-graad in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy verse is al in Nuwe stemme 3, ‘My ousie is ‘n blom’, Tydskrif vir letterkunde en die nuwe Groot Verseboek gepubliseer. As vryskutjoernalis het hy al ‘n hele paar literatuur-artikels vir verskeie publikasies geskryf.
Sy debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) het vyf literêre toekennings ontvang, onder meer die Eugène Marais-prys, UJ-debuutprys en die Ingrid Jonker-prys. (Tafelberg, 2012. ISBN: 9780624056461; R130.00, Sagteband, 96pp.)
Van ‘n skaap in wolfsklere
DPM Botes
DPM Botes is in 1937 te Witbank gebore. In 1961 vestig hy hom in Pretoria na vele omswerwinge deur Angola, Mosambiek, destydse Rhodesië en ook Suidwes-Afrika. In 1965 debuteer Botes met die digbundel Wat is ʼn gewone man by die Afrikaanse Pers-Boekhandel; ‘n bundel wat in 1966 bekroon is met die eerste toekenning van die pasingestelde Ingrid Jonkerprys vir debuutwerk. In 1967 volg hy dié indrukwekkende debuut op met die bundel Klein grys telegramme van die wêreld (eweneens by die Afrikaanse Pers-Boekhandel); ‘n bundel wat twee jaar later in kontroversie gedompel is vanweë R. Schutte se beskuldiging in Standpunte dat Botes twee gedigte in dié betrokke bundel op Sweedse modelle gebaseer het. Nadat Botes hom formeel van die Afrikaanse digkuns “onttrek” het, verskyn daar tog nog ‘n bundel in 1973, te wete Psalms van David – Himnes, liefdesbriewe en elegieë by Perskor Uitgewery.
En nou, na ‘n stilswye van bykans 40 jaar, ‘n vyftigtal nuwe verse wat as Van ‘n skaap in wolfsklere (Tormentoso Uitgewers) deur ‘n groepie vriende van Botes byeengebring en gepubliseer is. Hierdie voorheen ongepubliseerde verse is die werk van ‘n bedrewe digter en bevestig telkens waarom DPM Botes as so ‘n belangrike toevoeging tot ons digkuns gereken was in die laat 1960s. Dit is meestal toeganklike, melancholiese verse deur ‘n ouer persoon wat terugkyk op ‘n verlede wat gevul is met ontnugtering en verlies. Tog ook fyn gestruktureerde verse wat die lewe vier met ontroerende beskouings oor presies wat dit is wat sin en waarde verseker in die bestaan van elke individu.
my seun
daar kom ‘n tyd
dat jy die dood self moet omhels
soos ‘n beminde vrou wat oor jou rou
dat die woord sy assosiasies verloor
al sy betekenisse terugkeer na die bron
energie word riviere strome
herlei word na ‘n atoomstasie
dat jy alle vriendskappe van jou moet afwerp
soos die liefde wat verdwyn in die nag
en die roep van voëls wat nie meer praat nie
waaraan vlerke gegee is om te vlug
om agter die horisonne te kyk:
nou kan hulle nie meer vlug nie
dat herinnering ‘n skouerophaling is
wanneer niks meer aanstoot gee nie
wanneer sand proe soos sand
en water uit jou syfer soos water
dat jy staan
aan die begin van ‘n skepping:
alleen
© DPM Botes (gedig, uit: van ‘n skaap in wolfsklere, p.1)
Let wel: Van ‘n skaap in wolfsklere is in ‘n beperkte oplaag gedruk en is slegs beskikbaar by Protea Boekwinkels landwyd. [ISBN:9780987042705, sagteband, 51 ble., Tormentoso, R140.000]
Om die gedagte van geel
Petra Müller
Van een van die voorste digters in Afrikaans kom hierdie baie ongewone bundel. Dit is gewy aan die son, wat hier in die verskillende gele van aarde en hemel besing word as die bron van lewe. Dit begin met ʼn songeel landskapskildery waarop sewe telefoonpale voortstap, en waaier daarvandaan uit asof dit sewe aparte verhale uit die digter se lewe en reise op aarde vir die leser laat oopvou.
Aan die een kant skakeer die geel uit na wit – hoofsaaklik van die maan – en aan die ander kant na die rooi van vuur, lawa, orkane en tsoenami’s. Die deurlopende tema is lewe en verlies; verlies en lewe. Die gedigte praat, soms met ontstellende direktheid, oor die ervaring van vroue op ver plekke – in antieke Griekeland, Afganistan, Meksiko, Tibet, Rusland en Malta – maar kom elke keer weer tuis by die graanwêreld van die Overberg waar die digter, soos sy self sê “in die geelte van graan gebore is, en weer daar sal gaan lê”. Daar is hartstogtelike liriese gedigte, maar ook heelwat vertellende verse waarin ‘n oombliklike insig in ‘n ander mens se lewe oorvertel word. Dit is gedigte vol karakters – die gespreksgenoot Harald uit vorige bundels, die mal-Elsie wat in Müller se kortverhale te vinde is, die ontwykende Geliefde, vriende soos David en Martin, broers en ‘n suster, en dan veral die alomteenwoordige ouers, die mooi Ma en die “woeste” Pa.
ʼn Mens sou kon sê dat Müller se digwerk ʼn voortganende proses is, ʼn soort onderbroke verhaal, waarin hierdie bundel ʼn mylpaal is.
sewe kinders
as die werf- en huiswerk gedaan was
het ons kinders gejaag oor daardie geel vlak
stinkkruid in die lente
buite bereik van grootmense
én Elsie se geskree: waarheen
is julle helskinners al weer op pad?
en elk ons eie telefoonpaal gevind
wat ons omhels het met al twee arms,
ore teen die warm hout, om in te luister
op wat maar moeilik is om te verhaal -
die yl geskinder in ‘n ander taal
Biografiese inligting
Petra Helena Müller is op 27 Julie 1935 op Botrivier in die Overberg gebore. Sy matrikuleer in 1951 op 16-jarige ouderdom op Swellendam, en sy verwerf ‘n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was daarna verslaggewer by Die Burger en later verhaleredakteur by Sarie.
In die 1980′s het sy as redakteur by Tafelberg-Uitgewers gewerk. Sedert 1989 is sy voltyds aan die skryf, maar werk nog as vryskutkeurder vir die uitgewers. Sy is veral bekend as digter en kortverhaalskrywer. Haar debuut digbundel, Obool, verskyn in 1977. Drie jaar later ontvang sy die Eugène Marais-prys vir haar bundel, Patria. In 2005 ontvang sy die Hertzogprys vir poësie vir Die aandag van jou oë . Van haar bekende kortverhaalbundels sluit in Die dwerg van Infanta en ander verhale en In die omtes van die hart.
(Tafelberg, 2012, ISBN: 9780624054467, Prys (insl. BTW): R 155.00, Formaat: Sagteband, 192pp )
Die onsienlike son
Jacobus van der Riet
Die bundel bevat ‘n vyftigtal sonnette wat uitsluitlik oor heiliges handel en in dié opsig aansluit by die digkuns van Sheila Cussons. Die verse is religieuse meditasies oor die lewe en werk van heiliges waarvan ‘n hele aantal ook bekend sal wees vir lesers met ‘n Protestantse agtergrond. Ander is egter weer onbekend vir die gemiddelde Afrikaanse leser, maar kort biografiese sketse word as toeligting verskaf. ‘n Aantal oorspronklike ikone van die heiliges word in die bundel opgeneem en help skep aan ‘n sfeer waarbinne die gedigte verstaan en ervaar moet word. Die streng sonnetvorm stel hoë eise aan die digter, en in hierdie debuutbundel toon Van der Riet dat hy oor die vakmanskap beskik om nie slegs binne die bestek van veertien reëls ‘n klein wêreld te herskep nie, maar ook om die leser te nooi om die afstand te oorbrug en te besin oor die raakpunte van die heiliges met sy of haar eie leefwêreld:
Die Heilige Alipi van die Grotte van Kiëf (oorl. ong. 1114 n.C.)Soos iemand wat na ‘n tekening soek op ‘n grot se wand,
met fakkellig wat dans en oor klip en lyn en kleure speel,
verlang Alipi dat u beeltenis, Heer, in sy hart mag brand
waar hy voor ‘n esel sit met sy kwas, pigment en eiergeel.Hoe sal hy u onmeetlike majesteit en liefde vas kan vang,
hoe met dun en egalige hale u neus en mond en ore trek
en, met lig deurspek, die ronding van u voorkop en wang,
sodat u aangesig ons verwondering en aanbidding wek?
Biografiese inligting: Dr. Jacobus van der Riet is nie slegs geskool in Klassieke Grieks nie, maar is ook ‘n geordende priester in die Grieks Ortodokse Kerk. Hy is werksaam as bibliotekaris vir die Johannesburgse Metropolitaanse Raad. Hierdie bundel van die digter is bedoel vir die fynproewer, maar ook geskik vir religieuse meditasie en gebed. ( Protea Boekhuis, R160.00, ISBN: 978-1-86919-751-3, formaat: 213 x 137 mm, Sagteband, 104 pp.; aantal illustrasies: 12 (kleur)
Hanekraai
Daniel Hugo
Lesers het Daniel Hugo reeds leer ken as ‘n digter met ‘n eiesoortige, ironiese blik op die werklikheid. In hierdie bundel sluit hy aan by ander skrywers wat ‘n besorgdheid oor die agteruitgang van die omgewing in hul werk oordra, maar die titel, Hanekraai, verraai uit die staanspoor dat dit hier nie sal gaan oor die “groot vyf” van die ongerepte natuur nie. In gedigte soos “Die vrye natuur” en “Namibië” word geromantiseerde sienings van die natuur juis ontluister. Veel eerder verken die digter die verhouding tussen die mens en huis- of werfdiere, soos die haan, die duif, die hond en die kat, asook die indring van kosmiese kragte soos die son en die wind in die lewe van die verstedelikte mens. Die haan figureer in ‘n hele aantal gedigte en is tekenend van die wyse waarop natuurelemente reeds ingebed geraak het in kultuur en beskawing. Ook ander gedigte ondersoek die kulturele erflating, vanaf die openingsgedig “Kantekleer” met sy verwysing na die Middelnederlandse diere-epos “Vanden Vos Reynaerde”, tot by die aansluiting by die Japannese tradisie in die mooi haikoes en die huldigingsverse vir Afrikaanse digters soos Lucas Malan en Ina Rousseau.
Kantekleer
as ek in die nag wakker lê
voel dit of die tyd gaan staan
my hart is ‘n gravitasiekolk
waarin die laaste vonk verslaan
eeue later kraai die haan
wat kant en klaar verkondig:
die môrester flonker êrens
in hierdie verdomde donker
die nag is eindeloos lank
sonder sterre, sonder maan -
die gedig wat met hanekraai
ontstaan, skitter kortstondig
dan kom die son opgedaag:
die rooi vos wat die haan verjaag
Die metafore uit die natuur word ook deurgetrek na die hoogs persoonlike in die liefdesgedigte aan die einde van die bundel. Hanekraai is vintage Hugo: speels, vernuftig en toeganklik, maar ook deurdag, ondersoekend en prikkelend. Daniel Hugo is ‘n baie bekende digter wat ‘n gevestigde aanhang het. Hy lewer gereeld kritiese werk, veral oor die poësie, en is ‘n gerekende vertaler van werk uit Nederlands en Vlaams. (Protea Boekhuis, 2012. R130; ISBN: 978-1-86919-763-6, 72 pp)
Karos orie dyne – Nuwe Griekwapsalms en anner gedigte
Hans du Plessis
Bybelverse en liedere word poëties getransponeer in Griekwa-Afrikaans deur die bekende taalkundige en skrywer Hans du Plessis. Ontroerend in die eenvoud en piëteit daarvan. Die lank verwagte derde bundel ná die topverkopers Innie skylte vannie Jirre en Boegoe vannie liefde. In die tradisie van lewende mondelinge literatuur word eeue oue gebeure geklee in die gedaante van sake wat vir die hedendaagse spreker bekend is. So wil die verlore seun nou al sy deel van die erfbok hê. En daarna vat hy die trein ver plek toe. Hy’t gesyp, vroumense gegebryk, en allie gjelt geloop ytgemors. Maar wie in nood verkeer en vrede begeer se hart kan rus, want daar op die Grootdyn is Hy wat die wag hou en die mens alles gegee het wat hy nodig het:
Jille het alles mettie ore ennie oge by my gekry,
loop doen dit, ennie God van vrede sal by jille bly.
Hans du Plessis het reeds 160 publikasies agter sy naam. Hy het in 1978 as skeppende skrywer gedebuteer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. [ISBN: 9780799355314, sagteband, 83 ble., Lapa Uitgewers, R130.00]
Flitse
Clinton V. du Plessis
Flitse is die jongste digbundel van Clinton V. du Plessis. Hy noem dit “twitter-gedigte” – kort verse wat op aweregse en soms humoristiese wyse bytend kommentaar lewer oor kuns, die globale ekonomiese krisis, dooie politici, lewende digters, die dood en die liefde. Die bundel het oor ‘n tydperk van ‘n jaar uit poste op sy Facebookblad ontstaan en hy het hom in sy seleksie laat lei deur die aantal “interaktiewe keurders” wat vir die gedigte “duim gelig” het. (ISBN: 978-0-620-53231-0, R50,00 (Posgeld ingesluit), 34 pp, Sagteband; AMA-Coloured Slowguns, 2012
LEWENSLOOP
Op twintig
skryf ek versetverse
betrokke, breytenbachbriesend:
op veertig maak ek voetnotas
by die lewe:
soveel verlore kanse/liefdes en keuses:
op sestig soek ek in afgebrande biblioteke
besete na woorde, na grepe uit ons boeke.
DIRK
Jy, Opperman van die woord
met jou wit stok
stap jy saans met Hom om die blok
tel jy jou woorde…kyk jy wrokkig noord?
Amper elders
Louis Esterhuizen
Hierdie bundel het nie verniet die subtitel “‘n Reisjoernaal” nie, want hier word poëties verslag gedoen van ‘n reis na Europa. Byna soos in ‘n dagboek word die voorbereidings, die heen- en terugvlugte, die besoek aan vier lande en die afloop van die reis aan die leser voorgehou. Die verslag bestaan egter nie net uit beskrywings van toeriste-aantreklikhede nie, maar sluit ook boeiende interaksies met die inwoners van die ooste van Engeland, Vlaandere, Nederland en Tsjeggië in. Die verteller is deurentyd bewus van die lae van die geskiedenis oor hierdie plekke en die neerslag wat dit in verskillende kunsvorme gevind het. Nuus uit Suid-Afrika staan dikwels ook in ironiese kontras met wat die reisigers in die vreemde ervaar. Op outobiografiese vlak is dit ‘n verkenningstog van die onbekende land van die psige. Dis ook die herbesinning vanuit ‘n gebied anderkant die grens van die alledaagse oor verhoudings en spesifiek die verhouding met die geliefde. Duiwe vorm ‘n deurlopende motief: Die enigmatiese figuur van die duiwedanser stuur die verteller en sy reisgenoot weg, maar hulle weet dat hulle soos die duif wat Noag uitgestuur het, weer sal terugkeer. Aan die einde van die bundel neem die duiwedanser ‘n onheilspellende gedaante aan, en die verteller besin oor die ligtheid en kortstondige vreugde van die reis, soos ‘n donsveer wat in die wolke weggeblaas word.
duiwedanser
as ‘n afgetrede sirkusarties staan hy
sononder in die oopte tussen hoë geboue,
draai met uitgestrekte arms stadig
deur die ritme
van ‘n ouwêreldse dans -
roep dan met ‘n vertroude gebaar
sy strooisel duiwe uit naburige dakke op
na waar hy met wye jas en kierie
die jare se tentflap
vir hulle eenkant toe sleep:
nogeens die kolligte en musiek,
die applous waarmee ‘n ou patroon
van drie per arm, een per kop
hom herhaal en
dan weer weg: met in sy sak
die droë krummels
vir hul ingedampte reis
elders heen
*
Louis Esterhuizen het nege digbundels gepubliseer. Hy ontvang in 2011 die Proteaprys vir die bundel Wat die water onthou. (Protea Boekhuis, 2012. Prys R150.00; ISBN: 978-1-86919-690-5; Sagteband, 94 pp.)
Weerloos lewe
Cas Vos
Die titel van die bundel is ontleen aan ‘n aanhaling van die Nederlandse digter Lucebert, “Alles van waarde is weerloos”. Dit is ook die motto van die bundel en die teken waarin die gedigte in die agt afdelings staan: Die digter kyk met deernis na die weerloses en kwesbares, en beweeg in die bundel as ‘t ware van donker na lig, van die chaos van die begin van die skepping na vervulling en troos. Dit word veral gevind in menslike verhoudings, maar ook in die aanraking van die goddelike in situasies van angs, pyn en ontreddering. Vos put uit sy kennis van die Ou Testament met gedigte oor Bybelse figure wat die taal van die Psalms en die wysheidsliteratuur eggo, maar daar is ook ‘n aansienlike klomp gedigte oor figure uit die Griekse mitologie, waar hy veral aansluit by Die Ilias en Die Odusseia. Ook moderner figure soos die Franse digters Rimbaud en Baudelaire kom aan die bod, terwyl daar ‘n hele aantal verwysings na eietydse kunstenaars soos Diane Victor en Marlene Dumas is.
Aangrypend is die reeks meer persoonlike gedigte oor siekte, angs en besinning oor die sterflikheid van die mens, soos pragtig verwoord word in “Wat nou oorbly”:
wat nóú oorbly
is die natroos
van ‘n vergane bestaan
waar die lewe weer terugkeer
na herinnering
lig en genadig soos ‘n gedig.
(Protea Boekhuis, 2012. R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-86919-551-9; hardeband, 112 pp)

































