resensie12

Volksblad 29.10.07

 

Versindaba – die bundel en die fees
Resensent: Joan Hambidgeprofessor kreatiewe skryf en literatuur. UK skrywer en digter.

VERSINDABA 2007 Marlise Joubert (samesteller) Protea Boekhuis, R100

 

 

 

DIE Versindaba op Stellenbosch word ’n jaarlikse instelling waar digters voorlees, onderhoude voer en musiek gespeel word. Die digkuns-liefhebber kan hier die neigings in ons digkuns waarneem. En hoe het alles nie verander nie.

Lina Spies se voorlesing, ’n ligte skandaal as daar al ooit een was, het geheet: Wat is poësie?. Dit was ’n waarneming van wat die digkuns volgens haar dan sou behels. Van Emily Dickinson tot Ina Rousseau met Eybers en (sug) Opperman as die rigtingwysers. Behalwe dat haar lesing getuig van ’n volledige oningeligtheid van moderne neigings binne ons digkuns – soos die praatvers, musikaliserings, rap – is dit ook beledigend teenoor figure soos Willem Fransman jr., wat nie in haar hokkie pas nie. Daar is nie iets soos poësie nie; daar is alleen verskillende uitinge van hierdie genre.

Nou het Marlise Joubert weer opgetree as versamelaar en Martjie Bosman was die versorger. Dit is ’n tydsdokument vir die leser wat jare later sou wou terugkeer en die neigings binne die Afrikaanse digkuns op ’n bepaalde oomblik wou karteer. ’n Argeologiese oomblik dus.

Party digters vertolk verse beter as wat dit op papier staan. Bernard Odendaal se gedigte is so ’n geval van gedigte wat myns insiens te woordoordadig en vormloos voorkom en boonop word die sleutels te vinnig weggegee. Maar wanneer hy dit lees, gaan hy tot in die hartslag van die vers en ontroer hy jou. Gilbert Gibson lees weer ingetoë, amper afwysend, maar sy gedigte op papier vra vir ’n derde, vierde lees. Cas Vos weet ook hoe om die hartsnare te ruk wanneer hy voorlees. ’n Minuet van Paderewski het ’n gedig begelei en nuwe betekenis aan die vers gegee. Sy herdigtings van die Gilgamesj-epos lewer ’n besliste bydrae tot ons digkuns. Dieselfde geld H.J. Pieterse se vertaling van Rilke se Duino-Elegieë.

Die bundel gee ’n representasie van wat aan’t gebeur is: van sewentiger-digters soos Marlise Joubert wat steeds skryf tot Louis Esterhuizen se Repos Ailleurs met sy sterk politieke kommentaar. (Onthoubaar is die beeld “die sterre is rosyne”!) Sy Ode aan die deur is ’n klein kragtoer met al die sinspelings op die begrip “deur”. Hier het iets gebeur; ’n vind van die eie stem. Trefseker. En welkom terug aan Jeanne Goosen! ’n Wonderbaarlike, oorspronklike, heerlike talent sonder fieterjasies. Maar wag. In die inleiding skryf Nicol Stassen, uitgewer van Protea, dat daar die afgelope drie jaar 70 digters opgetree het op die Versindaba! Dit bevestig presies hoe ek voel oor die (mitiese) Afrikaanse digkuns: Daar is soveel woelinge en talent. T.T. Cloete lewer op 80 plus ’n merkwaardige bundel, Heilige nuuskierigheid, I.L. de Villiers is ’n sterk aanwesigheid – soos Breytenbach en Krog.

M.M. Walters is op sy satiriese stukke – weliswaar is die vers soms te uitgesponne. George Weideman maak hier ’n buiging, ’n skrywer wat in vele genres sy punt maak. Sy voorlesings van die gedig Soveel maniere om iets te dra was aangrypend – veral met die toespelings op universele politieke geweld. Daar is Dolf van Niekerk met sy delikate verse en Hans du Plessis met sy Griekwa-Psalms. ’n Hele santekraam van style en temas. Van verhewe tot pratend. Van vormbeheer tot loslit. Van Suiwer-Afrikaans tot Griekwa en Kaaps. Soos ’n jong digter dan skryf: “Ek likes democracy”. Ek likes die Afrikaanse poetry.

 

Bookmark and Share