Posts Tagged ‘Adam Small’

Wicus Luwes. Alles sal regkom

Thursday, August 4th, 2016

lemoenboom

Twee lemoenbome begroet jou in die binnehof van die museum. Die bome is ‘n klein entjie meer as ‘n honderd jaar oud, maar dit is opvallend dat dit steeds sy vrug(te) getrou dra. Daar is ‘n paar dooie takke tussen die vrugbares, maar dit is seker te verstane vir so ‘n ou boom. ‘n Brosjure wys daarop dat dit eintlik ‘n misverstand was: die lemoenbome en sy oranje vrug op die landswapen moes oorspronklik ‘n wilde olyfboom gewees het. Die wilde olyf is inheems aan die Vrystaat.

NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, word gehuisves in ‘n pragtige geskiedkundige deel van Bloemfontein. Dit dateer uit ‘n era toe die kolonies en republieke vir bestaansreg geveg het. Die derde raadsaal is reg by die ingangsportaal en die uitstallings in die voorportaal neem jou na tye toe die grense van die land en ons taal uitgemeet is. Gereedskap en geskrifte van GR Von Wielligh, wat die grense van die Krugerpark help trek het, het’n plekkie gekry. Ook Adam Small se foto’s en werke val my op. Hy sou deel gewees het van die pas afgelope Vrystaatse Kunstefees, maar is onlangs oorlede. Ek het NALN juis kom besoek in dieselfe week as die Kunstefees. Wat sou van ons taal geword het as dit nie vir die kunstefeeste was nie. Miskien moet ek eerder sê ‘waar’ sou ons taal gewees het. Voorheen was daar streeksrade met teaters en salarisse en uitvoerings en begrotings en steun en ondersteuning vir die teaterkunste. (Ons loop verby Hermien Dommisse se foto en verhaal en ons gesels oor hoe sy vir die einste streeksrade geveg het.) Teen die trap op gewaar ek ‘n foto en uitstalling van Deon Meyer – sy nuutste boek word eersdaags vrygestel.

 

 

Die Here het gaskommel
deur Adam Small

Lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en dis allright pêllie dis allright
ons kannie worry nie

‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en ‘n lekker meid en lekker anner dinge
oe!
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
wat daarvan
wat daarvan
wat maak dit saak
soes die Engelsman sê it cuts no ice
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons
daai’s maar al

so lat hulle ma’ sê skollie pêllie
nevermind
daar’s mos kinners van Gam en daar’s kinners van Kain
so dis dis allright pêllie dis allright
ons moenie worry nie

Uit:  Kitaar my Kruis, HAUM, 1975

Daar is baie storievertellers in die kamers van NALN. Baie stories ook. ‘n Mens het party van die stories en staaltjies van skrywers op skool gehoor en dit is interessant om dit in lewende lywe te sien. Die een skrywer se lessenaar, ‘n ander se pyp: talle items wat tien teen een die eerste lesers van romans en poësie  was. Selfs ‘n valdeur waar Jan F Cilliers op ‘n keer vir die Engelse weggekruip het. Daar is ‘n kamer vir bekende tydperke/bewegings: Die Vyftigers, Sestigers, kinderboek-skrywers, vroue-skrywers. Almal baanbrekers, almal mense wat die aarde bewerk het vir die nageslagte. Ek dink aan die onskatbare waarde van die items en gedeelde geheue wat in elke kamer en uitstalling vasgevang is. Wat sou van ons taal geword het sonder sulke stukkies van die gedeelde geheue? Waar sou ons taal gewees het sonder NALN? Die beweging wat verteenwoordig word in uitstallings is onder andere: Die voorlopers, soos FW Reitz en Pulvermacher. Die eerste en Tweede tydperk in die Afrikaanse Beweging – AG Visser, Eugène Marais, Jan FE Celliers, Totius en CL Leipoldt val onder hierdie groepering. Die geslag van 1920, met o.a. HA Fagan en AD Keet. Die geslag van 1930 met o.a. ID du Plessis en CM van den Heever. Die Uys Krige en Elisabeth Eybers se Groep van 1934. Ernst van Heerden, Olga Kirch en DJ Opperman verteenwoordig die 1940’s. Die dekade van 1950 word verteenwoordig deur Ina Rousseau en Peter Blum. Die Sestigers van Adam Small, Etienne Leroux en Breyten Breytenbachen kry ook ‘n plek. Dit is eintlik te veel om met een besoek in te neem en ek besef dat ek heelwat miskyk, want die werklike stories is in die kommas en punte. Daar is ongeveer 150000 eksemplare wat vir die nageslag bewaar word, meer as 84000 titels. Dit sluit natuurlik verskeie soorte Afrikaanse literatuur, musiek-erfenisstukke en teater-werke in. Ek kan die skat wat tussen die mure van NALN bestaan, nie eers na behore begryp nie.

NALN_collageUitstallings en vooraansig van NALN

20160712_125537Nola Doré, Waarnemende Kurator: NALN en Annelien Diedericks, Museum Geesteswetenskaplike

 

Ek steek vas by ‘n uitstalling wat Uys Krige se ‘Ken jy die see’ bevat. Ek bly aan die kus en moes binneland/Bloemfontein toe kom, om ‘n gedig oor die see te her-ontdek. (Later in die week het ek ook gehoor hoe Prof Nico Luwes, hierdie gedig met gevoel voordra. Luwes en Johann Nel, wat dikwels sy stem aan ‘RSG’ se ‘Vers en Klank’ uitleen, het nuwe en ou gedigte by die Kunstefees voorgedra.)

 

Ken jy die see
deur Uys Krige

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blink geskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Geen hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kombuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas
en daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur

Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ? veer gevee
deur ? grys golf hoog soos ? tronk se muur
wat help dit om te spartel en te skree “Nee Nee”!
Sluk jy eers daardie waters sout en suur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes’n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos ‘n hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Mathee,
Wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds terug vir tee
Hul slaap al drie agter die kerkhof muur

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

Op die Kunstefees se feesgronde by die Vrystaatse Universiteit sien ek ‘n bekende deur die stalletjies loop. Hy stop en kyk na leerprodukte. Hy praat ‘n rukkie met die eienaar van die stalletjie. Ek het sy foto al dikwels in koerante en artikels gesien, maar dis anders om die persoon in lewende lywe te sien. Hy was by die fees om oor sy boek, Wat Nou, Suid-Afrika, te praat. Die skrywer van hierdie boek, Theuns Eloff, oud-rektor van Pukke en deesdae by die FW de Klerk-stigting, was besig om inkopies te doen toe my oog hom gewaar het. Hy het bepaalde idees waarheen Afrikaans, Afrikaans-sprekendes en die land moet beweeg. Dit is lekker om die konteks van die geskiedenis in konteks met die toekoms te sien, of ten minste daaroor te dink. Die manier waarop ons dink oor ‘n saak, het ‘n bepalende faktor. Dis een ding om te veg, ‘n ander om te vlug. Die vraag is natuurlik of jy jouself of jou taal in so ‘n posisie sou insien. Dis verder ironies dat die plek waar een van die aanvalle op ons taal juis die plek is waar die kunstefees plaasvind. Universiteitskampusse is tradisioneel ‘n plek van debatvoering en uiteenlopende menings.

My gedagtes neem my terug na die museum. Die museum en die navorsing wat daar plaasvind, skep ‘n verwysingspunt waarop mense soos Eloff kan bou. Die moontlike uitkomste is deel van enige strategie. Dit is makliker om ‘n strategie uit te werk as jy kan sien waarheen jy op pad is. Ek gesels met Annelien en Nola van NALN. Hul vertel my van die nuwe bome wat hul besig is om te plant. Daar is oorspronklik 5 lemoenbome in die binnehof van die gebou geplant, waarvan slegs 2 nog leef. Die museum het dit toe goedgedink om nuwe bome aan te plant. Die behoud van die geskiedenis is ‘n groot prioriteit vir NALN. Genetiese materiaal van die oorblywende oorspronklike bome is egter gebruik om die nuwe lemoenbome te kweek. Dit is ongelooflik hoeveel moeite daar gedoen is om iets so eenvoudigs soos ‘n paar lemoenbome vir die nageslag te bewaar. Terwyl ek deur die uitstallings loop, bly daardie gedagte my by. Dieselfde mense wat seker gemaak het dat die nuwe lemoenbome iets van die oorspronklike lemoenbome behou, onderhou die uitstallings. Daar is heelwat bome deur die jare rondom die gebou geplant. Bekendes en heersers het dikwels hul verbintenis met die area bevestig deur bome te plant of te skenk. Ek wonder sommer watter bome die Generasie X, Y of die ‘Millenials’ aan instansies soos NALN sal skenk. Ek wonder of hul besef dat hul, soos die lemoenbome, ook geneties verbind is aan die geslagte wat in die uitstallings van die museum verteenwoordig word. Die genetiese materiaal is nie altyd fisies nie, want saadjies wat in die brein geplant word, is somtyd veel sterker as saadjies wat deur bloed voortgedra word. Een so ‘n lewegewende / voortplanting vind in die museum se ou ketelkamer plaas – hier kry skrywers gereeld kans om hul werke voor te dra en ook hul merk / handtekening op ‘n mure NALN te verewig. (Meer hieroor in ‘n volgende blog.)

20160712_134401

Terwyl my besoek aan NALN einde se kant toe staan, kry ek die geleentheid om uit te kyk oor ‘n balkon. Ek sien hoe die standbeeld van oud-pres. Jan Brand uitkyk oor Charlotte Maxeke-straat (voorheen Maitland-straat) wat eindig by Bloemfontein se stasie. Op die granietblok is ‘n bekende spreekwoord van Brand gegrafeer: “alles zal recht komen”. NALN is besig om meer oor die onderwerp na te vors, maar volgens hul bronne het Karel Schoeman in sy boek, ‘Bloemfontein Die ontstaan van ’n stad’, vermeld dat die inskripsie deur oud-pres. Reitz voorgestel is. Die interessantheid omtrent hierdie inskripsie, is vir my dat dit slegs die helfte van die spreekwoord bevat. Die volledige spreekwoord lui as volg: “alles zal recht komen indien elke man zijn plicht doet”. Jan Brand se spreekwoord het my tot nuwe insigte laat kom. ‘n Mens kan soveel uit die gedeelde geheue leer en die literêre omgewing is die perfekte wêreld om die denke te skep en te herskep. Ek dink sommer aan Peter Drucker se spreuk ter afsluiting: ‘Die beste manier om die toekoms te voorspel, is deur dit te skep’.

20160712_133023

Die Optimis
deur CJ Langenhoven

“‘n Verkleurmannetjie, a!” skree ou Stander.
En hy vang die blou klipsallemander;
En hy bring hom vir sy vrou,
En sy sê: “Maar hy’s dan blou?”
“Wag, vrou,” sê die ou, “hy sal verander”

20160712_135750

Ter Nagedagtenis aan Kommandant Louw Wepener
deur FW Reitz

Sal vreemde digters ons verhaal
van hulle grote helde,
en sal ek in my eie taal
Louw Wepener nie vermelde?

Nee, Broeder-Afrikaners, nee,
ons dapperes bly ons eie;
God het ons Wepener gegee;
waarom sou ek dan swye?

Laat hul dan Tromp en Nelson roem,
en sulke grote name;
as ek maar Wepener mag noem,
dan sal ek my nie skame.

Hy is bo almal verreweg
wat in die heldery staat;
hul ‘t ook die lewe neergeleg,
maar tog nie vir die Vrystaat.

Hy lê op Thaba Bosigo,
geen grafsteen sal hy verge;
sy monument het God gebou,
die Bouheer van die berge.

Al moet ons dan so dikwels bloos
vir onse arme nasie
gedenk aan Wepener, wees getroos,
en vat dan weer koerasie.

uit: Oorlogs en ander Gedichten, 1910

*** My opregte dank gaan aan Annelien Diedericks, Museum Geesteswetenskaplike, en Nola Doré, Waarnemende Kurator: NALN vir die vriendelike toer en inligting! ***

Breyten Breytenbach huldig die ontslape digter Adam Small

Saturday, June 25th, 2016

Adam Small. Tuin van digters

In die kuberruim vergaan mense nie. Hulle bly aanwesig en word aangespreek asof daardie gees na willekeur vergestalt kan word. Byvoorbeeld, die gedigte wat Pieter Odendaal en Bibi Slippers reeds enkele jare gelede vir Adam Small geskryf het is vandag nog net so ‘oop’ en polsend as wat hulle toe was. Dit is asof Adam op hierdie moment aangespreek word. (Twee gedagtes breek weg, asof hulle splinters is: klippe, het ek onlangs eers geleer, vergaan ook – verkrummel tot sand; en selfs in die hedendaagse Japanse estetika word ‘n skryfstuk struktureel ‘onaf’ of ‘oop’ of selfs ‘wankelrig’ gehou. Is dit om klem te lê op die onmoontlike van volledige uiting, om ‘n resonansie of ‘n ruimte te skep wat slegs deur die leser ‘voltooi’ kan word? Of is dit ‘n etiese posisionering voor die ondenkbare om voor te gee jy kan uiting gee aan dit wat buite jou is?)

Vandag, 25 Junie 2016, begin ‘n korrespondent sy kommentaar op die beriggewing oor die afsterwe van Adam Small so: “Adam, jy sal my dalk nie onthou nie, maar…”
Sover my wete strek het ek (ons – my vrou en ek) eers omtrent drie jaar gelede kennis gemaak, in lewende lywe, met Adam en Rosalie Small. Dit was by die Sentrum in Wellington en ons was daardie aand in ‘n openbare gesprek saam met Danie Marais en Bettina Wyngaard. Dit was ‘n soel aand in die Boland. Adam was keurig geklee, die kwintessensiële jintelman (sou Joan Hambidge sê). Hy was tengeriger as wat ek verwag het. ‘n Man van natuurlike waardigheid, maar ook van diep stilte. Ek kan nie onthou dat hy gelag het nie. My broer, Cloete, het ‘n foto geneem van die twee van ons op ‘n bankie voor die engelfiguur in die Digterstuin. Adam se fynbesneë gelaat en sy silwer hare het my opgeval. Hy het swaar geloop – Rosalie was altyd byderhand. Iets omtrent die bene of die voete wat sy gang onseker gemaak het. Ons het gemaklik gesels, asof ons mekaar lankal ken. En miskien was dit ook so dat ons mekaar lankal geken het. Dit kan dalk selfs wees dat ons ontmoet het danksy Daantjie Saayman, die mees natuurlike passeur wat ek ooit meegemaak het, tydens ‘n 1973 besoek aan die land. Dan sou dit in dieselfde bôrdienghuis, Grevilleas, waar die gesprek plaasvind, gewees het.
Ek onthou nie veel van die gesprek nie. Behalwe dat ek, soos gewoonlik, te veel gepraat het. En dat Adam by oomblikke baie aangedaan was. Ek weet ook nie of hy net so bewus was as ek van ons gedeelde Wellington agtergrond nie. Miskien was ek te verleë om hom te vra waar hy gebly het. Ons maak mos maar nou asof alles ‘normaal’ is. Ons beoefen die fyner (en skrynender) kuns van vergeet. Met die totsiens sê het ons mekaar belowe dat ons weer sou ontmoet. Dit het toe nie gebeur nie; nie hierdie kant van die Stiltetyd nie.
En vandag is daar die nuus van sy afsterwe. (My pa is ook oorlede aan hartversaking nadat daar aan sy been geopereer is. So ook Chris Barnard. Sonder bene kan ‘n engel nie vlieg nie.)
Murray La Vita stuur vir my die kopie van ‘n brief wat ek vir hom geskryf het. Dit was in antwoord op ‘n versoek van hom of ek iets aan die hand sou kon doen as vraag aan Adam vir ‘n beplande onderhoud. Die onderhoud was kort nadat Adam se Klawerjas verskyn het. Trouens, Murray het vir my die bundel as aanhegsel saam met die versoek gestuur. Met sy toestemming wil ek die brief sonder enige wysiging hierby aangee. En dan daarmee volstaan.
Dit gaan nie sin maak vir my om ‘n oorsig te probeer gee van Adam Small se werk en die belang van sy lewe nie. Ander is veel meer bevoeg daarvoor en te veel mense verbeel hulle hulle kan daaroor praat, miskien selfs namens hom. Maar wat vir my vas staan en weer glashelder geword het by die lees van Klawerjas, is hoe ‘n groot digter Adam Small was. Of is! En sal bly. Natuurlik was ek vertroud met sy werk, meer so die gedigte as die toneelwerk – en tot ‘n mate het ek sy denke geken en gevolg. Ek het geweet dat hy in gesprek was met inspirerende en verontrustende voorgangers, veral met Van Wyk Louw. Ek het ook geweet dat hy die werklike troebadoer was van die afgryslikhede wat so lank al teen die bruin mense gepleeg is, dat hy deur die skynheilige mombakkies van die selftevrede wittes met die kort geheuens en die baie statistieke en die plaaslik ontwikkelde fascisme van ‘bestuur’ gesien het. En dat die mens se vraatsug na magsmisbruik hom geknak het. Ek het aan hom gedink as ons Lorca…
.
Sent: 07 September 2013 01:43 PM
To: Murray La Vita
Subject: Re: ”soos Piet Retief en Breyten Breytenbach”
.
Beste Murray,
Waar sou mens begin? Dis so ‘n oorstelpende ervaring, dis so ‘n wonderlike geskenk – hierdie bundel, hierdie meestersklas van Adam Small – dat mens in alle ootmoed en bewondering en dank spraakloos is. Hoe werklik fantasties is dit nie dat ons dit nog kon belewe nie, hierdie glansende ontplooiing en die groothartige medeliefde en vrygewigheid waarvan dit spreek? Ek beny jou (en julle) wat die kans gaan hê om na hom te luister, om in lewe vir hom dankie te kan sê.
Waar sou mens begin? Vrae het ek nie. Vrae sou sinneloos wees. En alles wat mens ooit kon wou weet is in hierdie bundel en juis daarom wil mens dit met agting en met skroom benader want ook die sluiers is deel van die tot woorde bring, helder en lewegewend soos water, van komplekse gevoelens en waarnemings en geskiedenisse – net soos ook dit wat geen mens kan sê of kan oordra nie. Mens se reaksie sou, letterlik, oorbodig wees. Ek dink mens moet stil bly, en luister, en bly wees.
Met die ‘meesterklas’ hierbo bedoel ek natuurlik die wyses waarop hy ikone en begrippe en geskiedenisse herbesoek en duidelik maak en, veral, aangee. Meester Adam Small. Maar ook dat ons almal wat skrywe en sukkel om die water helder te maak by sy vanselfsprekende maar tog meervlakkige eenvoud sal bly leer.
Sê vir Rosalie dankie namens ons almal. Ek wens ek kon daar wees om dit self te doen. Haar naam is nou deel van ons erfenis, haar skoonheid en gevoeligheid vasgeweef in die tapisserie van Adam se skrywe. En vir Adam: “dankie” is nie voldoende nie; “welkom terug” sou aanmatigend wees; om te wil uitdruk hoe diep hierdie verse aan mens vat sou byna vermetel wees. Sê maar tog vir hom dat daar momente is wanneer mens maar net erkentlik op “stywe knieë” eer wil betoon, en hierdie is een daarvan.
Ek is so bly dat hy van Wellington sy Ithaka gemaak het en ek hoop van harte daar is ‘n mate van begrip by die Sentrum vir die eer wat hy die dorp besorg met hierdie eenmalige gebeurtenis. Dis nie vir my om te sê nie – van Piet Retief sal ek nie weet nie, en vir my was dit net die grootword-dorp, alhoewel beslissend so – behalwe dan slegs, en ek bedoel dit werklik: “My huis is jou huis.”
Tussen al die ander opmerkings wat mens wil maak – te veel om op te noem (daar gaan nog baie lank en met verwondering in hierdie bundel gelees word) – en nie omdat hulle van belang is nie, maar miskien vul dit jou agtergrond so ‘n bietjie aan: “ertappel”… so ‘n tipiese Robertsense streekwoord, dit roep my pa Oubaas voor my gees op; “Goree” – ek veronderstel die pleknaam verwys oorspronklik na ‘n watergat, ‘n gôrra, maar dalk is dit insiggewend (sou Adam dit weet?) dat dit ook die naam van die slawe-eiland aan die Wes-Afrika kus is, en dat dit daar verwys na die Hollandse “goede reede”, die veilige baai of ankerplek of “vlek” soos die ou matrose daarvan gepraat het; en laastens, die ortolaan (wat ‘n lieflike sinoniem, die gryspatrys tog, waarvan ek nie geweet het nie) was ook Mitterrand se geliefde dis, en aan die einde van sy lewe het hy dit met ‘n servet oor sy kop getrek geëet, eenkant, seker maar om die lyfwagte en sy tafelgaste nie te ontstig nie.
Murray – ek wens ek kon jou help (maar waarmee sou ek ook kon? en jy doen jou skryfontmoetings reeds so goed): dra asseblief my innige dank en bewondering aan Meester Adam oor. Ek is daarvan oortuig dat die digters-voorgangers, Leipoldt en Oom Wyk en Eybers en Petersen en Piet Philander en Ingrid Jonker en Uys en Pieter Blum… almal met groot waardering net buite die vuurkring se lig sit en luister, net soos die watersoekers way nog in lewe is mekaar met verbasing sal aankyk en sê: “Kan dit waar wees?” En mag die jong outjies wat dit gewaag het om hulle aan hom te wil meet nou tjoepstil en stert tussen die bene hulle ore uitwas en luister, en aan die lawwigheid van hulle dom tonge suig.
Dankie dat jy die bundel met my gedeel het.
Baie sterkte toegewens,
Breyten
.
En toe tog ‘n voetnoot:
 .
Sent: Sunday, September 08, 2013 10:13 AM
To: Murray La Vita
Subject: Re: ”soos Piet Retief en Breyten Breytenbach”
.

Murray,

Daar is tog ‘n aspek van Adam se werk (‘n implikasie) wat jy miskien vir hom die kans wil gee om meer te eksplisiteer – as hy so sou voel. In die ruim gesien, en ek vereenvoudig nou liederlik, verwys Adam na sy persoonlike trajek – die geskiedenis van sy denke en belangstellings, die figure wat vir hom dien as verwysings, sy intieme lewe met Rosalie (‘n wonderlike huldebetuiging en erkenning van haar rol en ontwikkeling), sy afskeid- of weggaanpad met sy pak kaarte – en daarnaas die gemeenskaplike. Hy was lank ‘weg’ gewees, stil, dalk in onttrekking (vir watter redes dan ook), en miskien was hy tog meer aktief en betrokke as wat mense van weet. Voor dit was hy ‘n verwysingspunt, sy stryd en sy idees was emblematies en het invloed gehad (al was dit dan ook grotendeels deur sy skryfwerk en binne ‘n herkenbare veld van godsdiens en filosofie) – trouens, in sy verwysings na ontmoetings of gesprekke met openbare figure kry mens ‘n insae in die mate waartoe hy ‘n deelnemer was in die ontplooiing van die veranderinge, of dan in die helder-maak van die implikasies. Mens lees ook raak in hierdie gedigte dat hy voel (ek praat nou van die gemeenskaplike) dat ons ten minste so ver gekom het. M.a.w., die gemeenskap(pe) het verander, daar was vooruitgang, die ergste is vermy (maar laat ons nie die aandadigheid sommer so onder die mat vee nie – die geskiedenis is ‘n motgevrete mat – en laat ons nie wegkyk van bitterheid wat daar nog is nie)… Enersyds is dit ‘n niveau, ‘n ooreenkoms, ‘n blaaskans – en dit hef nie die persoonlike en enkele klaarmaak met die lewe op nie – ek verwys nou bv. na die gedig geskryf vir Madiba. Andersyds is dit ‘n interregnum, nie net ‘n halwegstasie nie maar ook ‘n teleurstelling. My vraag aan Adam sou wees of hy nog ‘n utopie van dinamiese verandering vorentoe kan verbeel, van vrede en geregtigheid? Is daar ‘n gemene deler of ‘n gedeelde ruimte (van begrip en van versugting) in ons kollektiewe bewussyn(e) en ons gedragspatrone wat so ‘n droom (sommige sou sê ‘noodsaaklikheid’) kan dra? Sien hy elemente daarvan raak?
Miskien is dit tere sake wat hy nie wil hanteer nie. Ek sou hom nie druk as daar ontreddering of teësinnigheid is nie. Maar ek weet ook mos jy sal hom nie ‘druk’ nie!
Groete en sterkte – en blydskap dat daar nog digters soos Adam Small en Wilma Stockenström is vir ons om te belewe.
Breyten
klawerjas

Omslag

 

 

 

 

Rus in vrede, Adam Small (21.12.36 – 25.06.16)

Saturday, June 25th, 2016
Adam Small

Adam Small

Hartseernuus wat pas bekend gemaak is, is dat prof. Adam Small, digter, skrywer, akademikus en Hertzogpryswenner, vanoggend in die ouderdom van 79 jaar oorlede is. Volgens Netwerk24 se berig het hy gesterf weens komplikasies na ‘n ingewikkelde operasie gister.

Prof. Steward van Wyk, hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat sy doktorale proefskrif geskryf het oor die werk van Small, word soos volg aangehaal: “(Adam Small) was lank die gewete van die Afrikaanse gemeenskap en het hom sterk uitgespreek teen ‘n maatskaplike onreg, diskriminasie op grond van ras en die geveindsheid van leiersfigure. Hy was ‘n groot vernuwer in die Afrikaanse letterkunde, veral met sy drama Kanna hy kô hystoe. Dit is sy nalatenskap waarvoor ons hom nog baie lank sal eer.”

In 2015 het prof. Small die Hertzogprys vir letterkunde vir sy oeuvre ontvang.

Einde 2015 is ‘n eredoktorsgraad deur die Universiteit Stellenbosch aan dié ikoniese skrywer toegeken.

Verdermeer is prof. Small vanjaar met erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer.

Graag betuig ons ons meegevoel aan sy vrou, Rosalie, en hul gesin.

*

 

 

Nini Bennett. Openbare vervoer as teater van sosiale protes.

Monday, November 30th, 2015

train surfing

In 2012 word ek genader om ’n kort boekoorsig oor Imraan Coovadia se roman, The Institute for Taxi Poetry vir ’n vrouetydskrif te doen. Die verhaal handel oor fiktiewe taxi-digters in Kaapstad, en hoe die pendelaars sin probeer maak uit hulle alledaagse bestaan deur die skryf van poësie: die werkersklas se lief en leef en protes vind gestalte in digterlike vlugskrifte. Die volgende raak beskrywing val my op: The taxi poet, according to Adam, is “a chimera, part politician, part social worker, part navigator and banker, nurse and first responder. His function is to record “all the shifting sensations, impressions, and moving feelings,” some of which are so enigmatic that they can only be inserted into public memory by the poet. Implicit in these definitions of the characteristics of a taxi poet is the textualisation of contemporary concerns via the medium of poetry by an “everyman” figure. It may thus be inferred that the taxi poet is located in the nexus between public and private memory. Die volledige resensie deur Thando Njovane is hier. (http://www.litnet.co.za/a-national-treasure-imraan-coovadias-the-institute-for-taxi-poetry/).

Ek open ’n nuwe dokument op my rekenaar met die hofie: Openbare vervoer as teater van sosiale protes.

Op 1 Desember word daar wêreldwyd hulde gebring aan die menseregte-aktivis, Rosa Parks. In 1955 is Parks gearresteer nadat sy geweier het om haar sitplek in ’n bus af te staan aan ’n wit persoon, aangesien die wit gedeelte van die bus reeds beset was. Op 5 Desember 1955 is Parks skuldig bevind aan ‘n oortreding van rasseskeidingswetgewing. Menseregteleiers soos Martin Luther King jr en ED Nixon het die Montgomery-busboikot die dag van Parks se verhoor gelei, wat om die beurt aanleiding gegee het tot verskeie hervormings in die VSA.  Die 1987-Pulitzer-pryswenner en digter, Rita Dove, bring só hulde aan Parks:

 

Rosa

 

How she sat there,

the time right inside a place

so wrong it was ready.

 

That trim name with

its dream of a bench

to rest on. Her sensible coat.

 

Doing nothing was the doing:

the clean flame of her gaze

carved by a camera flash.

 

How she stood up

when they bent down to retrieve

her purse. That courtesy.

parks in bus

In Adam Small se bundel, Kitaar my kruis, word ’n Kaapse rasse-insident op ’n bus beskryf. Die gedig Vryheid toon merkwaardige ooreenkomste met Parks se verhaal. Vervolgens enkele gedeeltes uit hierdie lang gedig:

 

die leuen kry gestalte

toe ons die bus na Wynberg haal terug

die middag by die 15de bushalte

ons klim die trap, die bus is agter vol

oorvol

agter waar ons, die bruines sit, mág sit

[…]

deel van die droewe hel van hierdie rit

agt sitplekke is oop voorin die bus

vir blankes net

en ’n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit

[…]

ek vra die kondukteur mag sy maar sit

hy skud sy kop

en wys die vinger na die bord, die welbekende bord:

vir blankes net –

vir nie-blankes word vreugde opgeskort

steeds deur die bord

en ’n vrou ses maande swanger mag nie sit

[…]

sy staan vir ses, vir sewe myl, sy staan

ons almal staan, staan meer as ses en meer as sewe myl,

staan vir ’n hele lewe

en agt sitplekke oop, maar sy moet staan

o God, u hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!

 

Ek skep nog ’n hofie: Sosiale protes. Busse. Dan dwaal my geestesoog na die Groot Verseboek, en JC Steyn se bekende gedig wat berig oor die busramp waarin 23 skoolkinders op 28 Januarie 1970 gesterf het, verskyn voor my.

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.

 

Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód

 

Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodtjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.

 

Tussen bleek hande en groen sakdoeke,

honde vol manewales in rooi prenteboeke,

blaaie met aftrek- en deelsomme,

ontlede sinne, aardes, sonne,

en ’n Bybel wat vertel van sonde,

tussen die vlees en die gras

soek ’n seun in bloed en glas…

“Waar’s my sussie, ek dink sy was…”

 

Wie huil so hartverskeurend

as ’n seun by ’n verskeurde

hals oor kop tot tone?

Of is moeders se trane egter,

of die klein weggedroogde trane

van die laaste oomblikke

angs voor die slag

by Henley-on-Klip

trane-op-klip.

 

Ledemate-onder-sakke

hande onder allerhande

bewysstukke vir lykskouings,

aanklagte van heinde,

huldigings van verre

(’n monument vir die held Johan

wat gesterf het om drie maats te red).

 

Langsamerhand verloor

egter trane teen egte klip;

leed raak gou vergeet.

Die nuwe uitwiskunde word gewis

doodgewoon gewoonweg dóód.

 

Joan Hambidge onthou die Henley-on-Klip-busramp se tragiese tweeling, die Westdene-busramp op 27 Maart 1985 soos volg.

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.

 

Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.

 

’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.

 

Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.

 

Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders

 

moet gehoor, nie

gevoel word.

 

Ook Andries Bezuidenhout bring hulde aan die slagoffers in ’n gedig op Versindaba. (http://versindaba.co.za/2009/08/04/stillewe-nuwe-gedig/). Ek voeg ’n nuwe hofie by die bestaandes in my dokument: Busrampe. Digkuns as maatskaplike bewussyn.

’n Paar weke gelede wys my geliefde vir my ’n video wat handel oor train surfing. Dit is ’n waaghalsige sport of kunsvorm wat reeds sedert die vyftigerjare gewild is onder die jeug van Suid-Afrika. Werkloosheid, armoede, uitsigloosheid en verveling is van die oorsake (www.youtube.com/watch?v=seBkEutvnQU). Ek skryf verder: Maatskaplike onrus. Treine. Daar is iets poëties en aangrypend aan die doodsveragtende reis na niks. Om bo-op ’n bewegende trein se dak te dans, om te deel in die noodlotskans: óf die lewe, óf die dood. Om te heers oor die werkersklas en die apartheidsgeskiedenis van shunting – en binne ’n splytsekond wég te duik van elektriese kabels. Al die train surfers droom daarvan om beroemde Hollywoord-waaghalse te word. Hoe ironies: die choreografie van die dood bied jou niks behalwe die vlugvoetigheid van oorlewing. My internetsoektog na digkuns oor train surfing lewer nie veel op nie; dit is immers ’n donker en geslote sub-kultuur. Ek vind wel ’n paar lirieke en kletsrym van angry young men, en ’n belowende gedig op ’n aanlyndigblad van die Bokkeveld-kontreidigter, Andy Paulse, wat volgende jaar met die bundel Ôs debuteer.

Van treine gepraat: iewers in 2013 ontvang ek Clinton V du Plessis se bundel, Rangeer in die pos. (Dis tog vreemd wat ’n mens onthou: as jy ’n digbundel geskenk kry, nooi die omslagontwerp jou dadelik binne. My hart het vinniger geklop; ook dat ek Kitaar my kruis se ryk sepia-ontwerp sedert my twaalfde verjaardag iewers in die jeugargief van herinnering gebêre het). Die temas en motiewe rondom treine, stasies en sosiale protes lê kruis en dwars in Rangeer, ’n mooi bundel wat sinvol deurgekomponeer is. Dit is veral die bittersoet herinnering aan apartheid wat tref. Vervolgens strofes 1, 2, 7 en 11-12 uit dié lang gedig.

 

Vrypas

 

Pa, onthou jy ons in die derde klas

(met die harderige banke,

of soms in die oop rywa, bombela)

 

die swart passasiers met

die gevlegte rietmandjies

op die heel boonste laairak

hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,

bakbrood en koffie uit ’n fles

eerste vir ons aangebied het, my kinderskoeneles

in ubuntu

[…]

Pa, die dood is ’n boemeltrein wat niemand kan verpas nie

 

Here Pa, ons mis jou,

hiér op die toegegroeide sylyne van die lewe.

rangeer prent

Dit is Vrydagaand. In die agtergrond begin die maandelikse motorrenne soos reuse muskiete neul. Dit is betaaldag vir sommige. Betaaldag – en die dobbelsteen word gewerp. Ek trek ’n ou notaboek nader en maak ’n nota: Clinton V du Plessis se nuwe bundel, Aantekeninge teen die skemeruur verskyn volgende jaar. Tussen huishoudelike lysies, berekeninge, aantekeninge en gedigte met deurgehaalde reëls soos dwarslêers skryf ek verder. Ek onderstreep die volgende sin: Of die spreker verwys na taxi’s, busse of treine – openbare vervoergebruik bied ’n kleurryke matrys waarbinne ’n digter se protes versny in persoonlike en openbare ruimtes.

In die veraf stilte hoor ek ’n ambulans. Dit beweeg dringend nader. Dan buig die sirene om die hoek voor die klank atonaal breek en wegsterf.

Bibliografie

Du Plessis, Cinton V. 2013. Rangeer. Cradock: Ama-coloured Sloguns.

Opperman, DJ. 1980. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Small, A. 1987. Kitaar my kruis. Pretoria: HAUM-Literêr.

http://www.webpages.uidaho.edu/cae_core/Links/RitaDovePoems.htm

(Besoek 27 November 2015).

http://joanhambidge.blogspot.co.za/2015/03/joan-hambidge-jou-storie-is-nooit-weer.html

(Besoek 27 November 2015).

Annette Snyckers. Adam Small

Monday, May 5th, 2014

Adam Small in Samespreking. Vrydag 16 Mei, 14:30 –15:30.

Lokaal: Art in the Yard Gallery.

 

Op ‘n reënerige Saterdagmiddag in September verlede jaar in Wellington was ek een van die gelukkiges. Die poësiefees, Die Tuin van die Digters, was in volle swang by die Breytenbach Sentrum. Groot getalle mense het begin toustaan vir die gebeurtenis van die dag: Die digter Adam Small sou voorlees uit sy jongste bundel Klawerjas wat in 2012 verskyn het. Sy eerste bundel verse na ‘n stilswye van veertig jaar – en slegs sy tweede openbare optrede in ‘n tydperk van twaalf jaar. Die vorige optrede was toe hy in 2012 die Hertzogprys vir drama  ontvang het.

Ons het lank gewag voor die lokaal waar hy sou voorlees, maar die deur is op die bestemde tyd nie oopgemaak nie. Dit was duidelik dat die teatersaaltjie hopeloos te klein sou wees. Daar is besluit om die geleentheid na die groot tent te verskuif. Die skare het haastig binnegestroom en ek was gelukkig om een van die laaste stoele op te eis. Mense het agter in die tent en teen die kante van die tentmure gestaan.

Adam Small, nog steeds die skraal figuur soos ons hom onthou, maar nou met ‘n spierwit kop, het onder luide applous die podium betree en was duidelik bewoë. In sy emosionele voorlesing het hy gedigte met temas van ou bitterheid en uiteindelike vergiffenis voorgedra. Openhartige gedigte wat reguit praat en geen uiterlike vertoon weerspieël nie. ‘n Stem uit ons verdeelde verlede en ‘n stem van die hede. Mense was diep geraak en die gehoor het die digter lank staande toegejuig.

Adam Small sal op Vrydag 16 Mei by Franschhoek se Literêre Fees in gesprek wees met Joan Hambidge, welbekende en bekroonde  Afrikaanse digter en akademikus wie se jongste bundel Meditasies in 2013 verskyn het. Die unieke bydrae van sy werk tot die Afrikaanse drama- en digkuns sal onder bespreking wees. Die ontmoeting tussen hierdie twee uiteenlopende digters beloof ‘n intens-stimulerende en insiggewende belewenis vir liefhebbers van die digkuns.

 

 

‘n Soort chemiese proses   Adam Small

 

Die skryf van poësie tref my soms

as ‘n soort chemiese proses.

Jy sit ‘n woord, ‘n frase, ‘n reël neer

op papier, en dis ‘n klein kern, ‘n pit,

wat dan fomenteer, bruis en skuim

met die taal rondom, totdat daar –

dit verstom jou – ‘n gedig vorm

en jou papier versier.

 

ARS POëTICA   Joan Hambidge

 

Stilte, eensaamheid

dryf haar van geboorte af

van wieg tot kis:

soekend na ‘n ander

se aanraak of troos.

Op verskeie reise,

vlugtend van om verlaat-te-wees,

weg van pynlike ervarings,

terug tot in die andersoortige kissie:

hierdie klein brose ding,

genaamd ‘n gedig,

nes die amberkamer

in die Hermitage.

Te vertelle,

eenling is jy gebore,

en só sal jy die gom

van die bome sny.