Posts Tagged ‘Adam Small’
Friday, March 30th, 2012

Kosmosse is mos kitsch. Ek het iewers gelees dat die sade van die blomme hier in Suid-Afrika beland het via die perdevoer wat vanaf Meksiko ingebring is vir die Engelse perde tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle is eintlik glad nie inheems nie. Maar ʼn sekere tyd van die jaar staan die paaie en veld hier in Gauteng vol in die blom. Soos nou.
Herfs is ʼn goeie seisoen vir gemengde gevoelens, ervaar ek hierdie week. Nie dat dit al heeltemal herfs is nie, maar ek het darem ‘n paar roeserige blare raakgesien die afgelope naweek. So tussen die pienk en wit en wynrooi kosmosse deur. Johannesburg is ryk, ryk aan bome.

Hoe beeldskoon is hierdie lelike stad. Lieflik is dit om by die dam in ons park te gaan stap, hoe jammer my vriendin is daar beroof met gewere teen haar kop in die middagson. Vreemd is ons fotosessies; gewapende manne pas ons op as ons reël om herfsbruide in die veld te gaan afneem.

Hoe hard en weerloos is hierdie land. Adam Small kry uiteindelik, uiteindelik die Hertzog-prys. Uiteindelik. Maar daar is konflik. Daarom het hierdie eerste geel-en-oranje dae ná die ekwinoks my nie aan Vroegherfs laat dink nie, maar wel aan:
Ek haat en ek het lief
Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.
*
Dat liefde so tot haat kon skif.
Liefde wat tóg vol goue room was.
Haat wat sulke dun wei-water is.
(N.P. Van Wyk Louw)
Maar: oppas vir die negatiewe perspektiewe, waarsku ʼn wyse vriend my. Want naderhand verdring dit alles wat mooi is. Daarom omhels ek die ambivalensie van melankoliese herfs. Daarom verheug ek my in die skildery wat Christo Van Staden (ook bekend as Johannes van Jerusalem, digter van die bundel “Eros Ontbind”) gemaak het. Christo (verder ook bekend as JC Van, hy van vele Bekgevegte) is besig om ʼn hele reeks Johannesburg-skilderye te verf en sy digterstem is so helder hoorbaar in sy troetelname vir hierdie stad: Johannesbos, Joyburg, Johannesberg….
 Delta Park deur Christo van Staden
Herfs in Johannesburg laat hom onbekwaam voel, sê hy. Ja, dink ek. Want ook herfs het haar geheime. Dis net ons wat swaar dra aan die dubbelsinnigheid. Soms.
Tags: Adam Small, Bohnen, Christo van Staden, ek haat en ek het lief, Eros Ontbind, herfs, JC Van, Johannes van Jerusalem, Johannesburg, kosmos, NP van Wyk Louw Posted in Binneblik, René Bohnen | 2 Kommentare »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, March 29th, 2012
Nou met die skielike bohaai oor die Hertzogprys-toekenning aan Adam Small vir Kanna hy kô hystoe. het ek gister my kopie van Sê Sjibbolet uit die rak gehaal, Gesprekke met skrywers 2 met Ronnie Belcher se onderhoud met Small, en ook ’n paar vergeelde koerant-uitknipsels toe ek self in 1976 in ’n wit-produksie van Kanna hy kô hystoe opgetree het.
Toe ek Gesprekke met Skrywers2 nadertrek, moes ek eers ’n bietjie stof wegblaas, want boeke op die rak, raak oor die jare vergete en bly alleenlik as décor agter.
In hierdie gesprek wat in 1972 gepubliseer is, praat Small oor die woord kleurling, sy kleurlinggedigte. asook natuurlik oor Kanna.
SMALL: “Ek wil nie te puntenerig wees oor ’n naam nie, maar jy weet ‘What’s in a name’ geld nie orals nie. Dit geld nie hier nie. As sekere mense maar weet hoe seer hulle jou maak deur jou ’n duisend maal ’n dag te oordonder met die klank van die woord ‘Kleurling!’ Jy voel saans vol kneusplekke. Die woord beteken altyd dat jy ’n ánder mens is wat daar ánderkant hoort. Dis ’n vervreemdingswoord. Nou ís ek natuurlik ’n ánder mens en wil dit wees – maar daar is ’n begrip van ’n ánder mens, en ’n begrip van ’n ánder mens”.
En van sy gedigte in ‘kleurling-Afrikaans’, praat hy self va sy patois-gedigte.
SMALL: “Jy weet, mense mag dit verrassend vind, maar my poësie staan my nie so na aan die hart soos my drama Kanna hy kô hystoe nie. Maar, mense wat my werk ken (ek ken dit self nie so goed nie – (miskien ken geen skrywer sy werk baie goed nie), sal weet dat ek heelparty gedigte in ‘gewone’ Afrikaans geskryf is. Van my beste verse, na my eie oordeel is in gewone Afrikaans gekryf… O ja, ek het my al dikwels vervies vir mense wat die patois-gedigte geniet, omdat dit sulke ‘tipiese’ beelde van die ‘Kleurling’ oproep.”
Dan noem hy self dat hy in Opperman se 1968 uitgawe van Groot Verseboek ‘Oppie Parara’ en ‘Doemanie’ sou weglaat en ‘Second Coming’ en ‘Sideshow’ sou insluit. Wat interessant is dat André P. Brink toe wel steeds beide ‘Oppie Parara’ en ‘Doemanie’ in Groot Verseboek 2000 ingesluit het maar ‘Sideshow’ weggelaat het.
Van Kanna hy kô hystoe gepraat:
SMALL: “O ja. Ja, ons kritici se ontvangs van Kanna en ons dramawêreld se ontvangs van Kanna, is vir my nou net mooi ’n bewys dat daar groot skroewe in ons letterkundige wêreld los is. Dié stuk – wat myns insiens die beste werk is wat ek gelewer het en, al sê ek dit nou self, die beste insig ooit gee in ons Suid-Afrikaanse werklikheid en, natuurlik, in ’n deel van die universele werklikheid van die armoede hier by ons… Toe het SUKOVS dit opgevoer, skynbaar met baie groot sukses. Wel, ek kon maar net die koerante lees (en terloops ons Afrikaanse pers in die Kaap was skynbaar onbewus van die toneelgebeure in Bloemfontein – g’n woord daaroor is is in Kaapstad gepubliseer nie.” (1971)
Op Ronnie Belcher se vraag oor letterkundige pryse.
SMALL: “Ek het die indruk dat daar so ’n rat-race aan die gang is in ons letterkunde om die pryse. As jy die prys-uitdelers en die pryswenners so bekyk, is dit duidelk – daar’s ’n intelery te bespeur, iets leliks wat ons geestelike wêreld gebreklik maak.”
In SUKOVS se 1976 program van ’n opvoering van Kanna skryf Small oor die feit dat sy werk voor gesegregeerde gehore opgevoer word:
SMALL: ” Dit is algemeen bekend dat ek uiters beswaar voel deur die feit van gedwonge gesegregeerde gehore. As kunstenaar egter mag ek my werk nie van enige gehoor weerhou nie, omdat ek glo dat kommunikasie van die wese van die kuns is wat met sy eie waardes sal probeer deurdring tot elke soort mens. Aldus stem ek toe dat Kanna hier opgevoer word.”

(Vanaf 1973 tot 1977 was ek ’n vyskutoperasanger en het ek dwarsoor die land in klein, humoristiese operarolle opgetree. In 1976 was daar skielike stilte, en Johan Bernard van SUKOVS-toneel het my genooi om in bogenoemde produksie van Kanna as toneelspeler te kom optree.) Al wat ek nou nog van dé opvoering onthou was dat daar ’n skielike aardskudding in Bloemfotein was en dat ons wit toneelspelers almal buite toe gehardloop het: Babs Laker, Ernst Eloff, Marthinus Basson, Roelf Loubser, Nico Luwes… Dit was 1976 en ons was almal wit, vrolik en naïef.

Uit een van die resensies: “Only a few among the company became Coloureds. The two guitar players looked typical white students and the girls could have paid a few visits to Ashbury to study appearances and mannerisms.”
Of Adam Small ooit uitgenooi is om hierdie uitvoering in die wit Stadskouburg te kom bywoon nie, sou ek nie meer weet nie. Miskien moet Adam Small maar self die laaste woord hê:
Die poet,
wie’s hy?
Djulle het so baie bek oorie poet,
ma wie’s hy?
SMALL: Literêre pryse is nie vir my beskik nie, en ek is ook nie daarvoor beskik nie!

Erkennings:
Gesprekke met skrywers 2 (Tafelberg 1972)
The Friend: Bloemfontein
Program: SUKOVS-produksie van Kanna (1976)
Monday, January 16th, 2012
 Adam Small
Ek koop al baie jare lank tweedehandse boeke by Cafda, ʼn boekwinkel geleë net langs die Cavendish Square winkelsentrum in Claremont, Kaapstad. Cafda het altyd ʼn goeie versameling Afrikaanse boeke. Wanneer ek soms op ʼn Saterdagoggend daar gaan rondkrap, is daar amper altyd iets wat die moeite werd is om te koop; dikwels iets wat al lankal uit druk is.
Nou onlangs weer: Gesprekke met Skrywers 2, destyds uitgegee deur Tafelberg. Ek kan nie onthou hoeveel volumes daar uiteindelik in die reeks gepubliseer is nie, maar hierdie gebundelde literêre onderhoude met Afrikaanse skrywers was ‘n uitstekende projek. Ek het die eerste volume destyds toe ek nog op skool was by die Brackenfell biblioteek uitgeneem – om F.I.J. van Jaarsveld se gesprek met Etienne Leroux te lees.
Ook in Gesprekke met Skrywers 2 is fassinerende gesprekke opgeneem. Een van die interessantste in die boek is Ronnie Belcher s’n met Adam Small. Die boek is in 1972 gepubliseer; Small, gebore in 1936, was dus nog maar 36 jaar oud. Op die foto’tjie wat vir die omslag gebruik is lyk hy selfs jonger: ʼn netjiese, ernstige skoolseun. Tog was sy belangrikste werk toe al gepubliseer: Kitaar my kruis (1961), Sê sjibolet (1963) en Kanna hy kô hystoe (1965). Almal voor hy 30 was!
Aan die einde van elke gesprek word enkele feitelike vrae aan elke skrywer gestel: geboortedatum, boeke gepubliseer, pryse gewen, lewensloop, geliefkoosde skrywer, ontspanning, ens. Small se beskrywing van sy lewensloop is ʼn lieflike klein outobiografiese skets; dit verdien om volledig hier aangehaal te word:
“Lewensloop: gebore Wellington, Kaap (waar glo ook Piet Retief). Groei egter tot so 9 jaar oud op in buitewyke van Robertson waar my vader destyds ʼn plaasskooltjie van die N.G. Sending aan die gang gehou het onder die arbeiders van omringende plase. Hier waar die eerste en blywende siel van protes oor die lot van die ‘underdog’ my gegee is (God?). Gelukkige huislike lewe as kind. (Weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ʼn ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.) Moeder ʼn tot die Christendom bekeerde Mohammedaan (dus die ‘Oostersheid’ van my ‘bloed’), vader ʼn diepsinnige mens, gedissiplineerd maar liberaal in lewensuitkyk, eintlik humanis (filosofie het ek dus van albei kante en twee wêrelddele. As kinders (ek het ʼn jonger suster, en dis al), alhoewel streng grootgemaak, is ons nooit tot enigiets gedwing nie, en het ons geheel en al vry van ideologieë grootgeword, iets waaroor ek nie genoeg dankbaar kan wees nie. Word feitlik uitsluitlik Afrikaans groot, alhoewel Engels vandag vir my soms ʼn geestelike toevlug is (nooit voldoende nie; daarom dat ek dikwels teen my mede-Afrikaners vloek; dan lees ek weer N.P. van Wyk Louw). Matrikuleer aan ʼn Roomse skool in Kaapstad. Woon die Universiteit van Kaapstad by, en later dié van Londen en Oxford, met beurse. Trou. Het twee slim seuns. Probleme. Skei. Het nog die twee slim seuns. Trou later weer, en my vrou is op die oomblik van publikasie hiervan akademikus saam met my aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Walg my vir die ‘rat-race’ en probeer wég van die kleinlikheid lewe, jaloers veral op my intellektuele integriteit. Reis nou onlangs nog in Amerika en leer nogal baie by die Yanks. Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense, en dat ek van hulle notisie geneem het).”
Sunday, October 16th, 2011

Adam Small
Hoe gemaak met swye?
My belangstelling in swye - ook Adam Small s’n - is aangeblaas deur ‘n aanhaling uit Heidegger in ‘n boek van Joseph Parry; dit lui soos volg: “Falling silent is neither the absence of speech nor the impossibiity of speech, but rather a mode of speaking, of making understood…”
As enigiemand, ook ‘n digter, verkies om te swyg, moet dit gerespekteer word. Selfs van die vraag “Waarom?” is nie altyd ter sake nie. Ek vermoed die oorsprong van skepping en die oorsprong van swye lê baie na aan mekaar. Ek weet ook maar te goed daar is dinge waarvoor daar moeilik woorde te vinde is. Is dit hoekom soveel digters ook skilders is, om die onsegbare minstens sigbaar te maak?
Natuurlik is wat digters betref swye relatief: ek is, soos seker almal van ons, bly dat so lank Afrikaans bestaan, enige doemanie sy sê en sy doen sal moet ken oor Small se Doemanie met sy woera-warra op die pulpit so duidelik uitwys wat pretensie sê oor belydenis en manewales oor manel. Natuurlik sal Adam se Kanna en sy Moses en sy kitaar telkens weer vertel hoe diep die verlange is na ‘n leidsman-redder.
Die hele problematiek oor die swye van die instrument teenoor die swye van die instrumentemaker daar gelate, dit is waarskynlik Adam se swye wat my laat raakhoor het dat daar in Iris Bester se hoorbeeld wat op 15 September 2011 uitgesaai is (met argiefmateriaal tot 1995 waarin Small self aan die woord is) twee gedigte voorkom wat hy self lees en wat na my wete nog nie voorheen iewers gepubliseer was nie.
Die eerste gedig ( sonder titel) sluit aan by die afdeling “Swart landskap” in Sê Sjibbolet. Dis dié afdeling waar die digter sonder satire die menslike behoeftes aan geluk, troos, bevryding, vrede binne historiese maar ook kosmiese verband bring.
Daar bly die troos:
God sal uiteindelik bevry
En maak weer Grensloos
Die turksvy, aalwee, my
En die wilderoos. ( “Aalwee en wilderoos”)
Hier volg die onbekende gedig waarin ‘n teisterende en swygende God sy rug gekeer het nie net die mens nie maar op die aarde self tot dit in die pragtige slot die berge is wat die hande word waarmee die sinkende aarde uitreik na die sterre:
Dan sal ons dors met die slyk geslaan word
Sal ons hyg en weet hoe God kan kyk en swyg
Dan sal ons sien hoe breed is God se rug dan dreun die lug
En myle aaneen sal ons lande graan se gruwel
Wuif in die rooi oog van die maan
Een sal wonder hoe bak mens brood met roes
‘n ander in sy akker wurms oes
Dan, die aarde sak, kyk die berge
Die hande, die groot hande by die sterre
Die tweede gedig is ‘n omdigting van “Doemanie “uit Kitaar my kruis. Met die transkripsie het ek by “Doemanie” se indelings probeer hou. Die “Doemanie” word nou
HIGHPRIEST VAN DIE SOCIALISM
‘n Profit van die liberation djy?
‘n socialist?
djy met djou hys-palys
met djou lang slap mouterkar
djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die oppressed
met djou tears
en djou woera warra oppie stage
met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class vannie jets
djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal mens djou verbeel!
En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ‘n chips?
Small kon die gedigte nie bedoel het as boodskappers uit die swye nie. Kom ons aanvaar hy moes (haastig selfs) net gedigte kies wat tog ‘n aanduiding gee van wat hy self in sy digwerk as belangrik beskou. Die ander gedig wat hy voorlees, is “Wie’s hy?” uit Sê Sjibbolet handel ook oor die digterskap.
Die patroon wat deur dié twee gedigte geaksentueer word, is bekend in sy werk: die minagting ( “laughter administered in fear and trembling” - Kierkegaard) vir, satirisering van, skynheiligheid, die glansryke omkoopbaarheid van ‘n “hoëpriester” van die nuwe orde, met as rugsteun by Small ‘n intens persoonlike, maar ook “ons” - en die hele natuur se - uitreik na God.
Hierdie heilige verontwaardiging oor skynheiligheid en oneerlikheid in hul verskillende gedaantes, hierdie eenwees met die geteisterde onderdruktes - dis twee eienskappe wat Small se werk laat meespreek in nie net Sestig nie maar ook in Sewentig en Tagtig en tel maar voort.
Het dit nie hierdie afgelope week weer saamgepraat in die redes vir een van die merkwaardigste en hopelik mees rigtinggewende woedeuitbarstings van ons tyd nie? Is die redes vir Emeritus Aartsbiskop Tutu se woede oor die heersende party se onwil om eie beginsels te handhaaf en oor hul knieval voor die tirannie van handelsnulle nie ook herkenbaar in Small se heilige verontwaardiging oor hoe die Doemanie en die Highpriest verword het nie?
“Die gesigte is nuut, maar die substans, die menslike tragedie as jy dit so wil noem,”sê Small, “bly dieselfde.”
- Abraham de Vries -
{Hierdie herwaardering is ‘n hersiene mini-lesing gelewer deur dr de Vries by geleentheid van die seminaar oor Adam Small aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Die twee gedigte hierin is ook voorgelees tydens Iris Bester se huldigingsprogram op RSG. 15 September 2011. - Red.}
Lees meer oor Adam Small in sy gedigtekamer op Versindaba.
 Abraham H. de Vries
Abraham Hermanus de Vries (gebore op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith, KP) behaal in 1962 Kandidaats en Doktoraal Litt et Phil aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam, Nederland, en in 1986 die DLitt van die Universiteit van Stellenbosch. Braam was van 1963 tot 1965 kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg en is sedertdien ‘n gerekende akademikus. Hy is die skrywer van ‘n groot aantal bundels kortverhale, ‘n roman, ‘n digbundel, reisverhale, speurverhale, en televisiereekse. Pryse ontvang: die Nederlandse Reina Prinsen-Geerlig-prys, Eugène Marais-prys, Perskor-prys, eerste prys in die De Kat-Potpourri-wedstryd, Artes vir die televisiereeks Die Klein Karoo, en die RAU-prys vir skeppende werk. Hennie Aucamp se Kort voor lank, WA de Klerk se As die reier noord vlieg en Alan Paton se Ah, but your land is beautiful is aan hom opgedra.
|
Friday, October 14th, 2011
die eerste steen
vir adam small
ek sou graag net ‘n klipgooi vêr
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klippe in hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die grys skerm
van die dag projekteer
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom optel
miskien sou ek saam
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ‘n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ‘n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god
maar oukei met als gewees
hy’s ‘n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil
© Pieter Odendaal, Augustus 2011.
Let wel: Hierdie vers was geskryf as opdragvers tydens die huldiging van Adam Small tydens die pasafgelope Versindaba-fees.
 Pieter Odendaal
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?
Iewers in Augustus. Ek dink die winde het al in die Vrystaat begin waai en dit was woes reënerig in Stellenbosch. Melt Myburgh het my gevra om die gedig te skryf as deel van ‘n kollektiewe huldeblyk aan Adam Small by Versindaba.
Toe’t ek maar al Small se boeke gaan lees en besef dat ek nie weet hoe om hom te skryf nie. Ek het hom nooit ontmoet nie, net soos ek nooit die gatkant van apartheid geken het nie. Ek is in 1989 gebore, en my eerste regte herinneringe begin eers na Mandela se vrylating.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Dit het redelik lank gevat om die ding klaar te kry, maar die sperdatum het gehelp. Ek skryf baie stop-en-start, baie fragmentaries. Daar is agt drafts op my rekenaar gestoor. Die groot werk begin as ek die stukkies aan mekaar probeer stik.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Geen wit lig van bo of muse met groot buuste het neergedaal nie. Bloot met my vingers op die keyboard gaan sit, sigur ros, tumi and the volume en liszt opgesit en begin droom.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Ek het baie op ritme en klank gekonsentreer. Dis die eerste gedig wat ek geskryf het deur hoofsaaklik op die musiek van Afrikaans te fokus. Adam Small is ‘n meester van luister en hy werk so mooi met klank - die dat ek gevoel het dat ek een van sy belangrikste ordeningsbeginsels wil gebruik om die gedig te skryf.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het die gedig een of twee keer opgevoer voor my podiumdigter-vriende en hulle het baie gehelp om as klankbord te dien. Annel Pieterse het ook geluister en die regte vrae gevra. En ek het dit vir myself voor die spieël gelees. Dit help baie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Wel, die gedig is nie gepubliseer nie, maar is by Versindaba opgevoer as deel van die huldeblyk aan Small, soos ek hierbo gesê het. Ek is nog nie seker of die gedig regtig goed op papier werk nie.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
My oupa is nie dood die jaar toe my pa begin skiet het nie. Dit was eers later, maar ek het van die reël gehou, so ja. Die res is alles waar, soort van.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor hoe moeilik dit vir my is om vir en oor Adam Small te skryf en hoe moeilik dit vir my is om te skryf oor ‘n geskiedenis wat ek nie self deurleef het nie. Ag, en oor wat klippe alles kan doen om mense van mekaar te skei.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Small se werke, veral sy eerste publikasie, Die eerste steen, wat in die fifties verskyn het en ‘n redelik emosionele, maar ook onthutsende en ontstellende, aanklag teen apartheid is. Hy is werklik ‘n profeet - hy’t voorspel hoe ons menswees van ons af weggevat sou word in hierdie land.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Terwyl ek in die wêreld van die halfgeboude gedig is, dink ek nie aan enige toekomstige bewoners nie. Maar as ek later weer terugkeer om verder daaraan te skaaf, dink ek gewoonlik eers aan die volgende mense: My gesin en my vriende wat Afrikaans kan verstaan. Dan dink ek aan my ander vriende wat gaan luister na die musiek in die gedig omdat hulle nie die taal verstaan nie. Ek dink ook aan Charl-Pierre Naudé se woorde oor Afrikaans: “Afrikaans’ most noticable - and most denied - facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got seperated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I fell like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (Uit: Imagine Africa, saamgestel deur Breyten Breytenbach)
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dis die eerste opdragvers wat ek geskryf het en verskil ook in die sin dat dit die eerste gedig is waarvoor ek so baie vooraf leeswerk gedoen het.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die taal. Die klanke. Die tematiek wat dit aanspreek. Die kern van geweld waarom dit alles draai.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Sien, dis daar waar ‘n sluitingsdatum baie handig te pas kom. Jy’s bloot ‘n surrogaatmoeder en daar’s ʼn streng delivery-tyd ter sprake.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja. Ek het baie positiewe terugvoer en insiggewende kommentaar gekry. En die ou in die spieël het ook die vers gelike.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was eintlik ‘n liriek gewees. Oor visse wat heeldag lank in die see rondswem. Die liedjie was oukei, maar die woorde het swaar op ‘n Christelike kinderliedjie-interteks gesteun en ek kan net die eerste vers onthou. Ook maar goed so.
Die visse swem die visse swem
o die visse swem
hulle swem na hulle gate
en hulle eet hulle kos
o die visse swem.
_______________________________________________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Sunday, January 30th, 2011
Inleiding tot‘n Adam Small vertalingsgesprek. Dit het deel gevorm van die “Jakes Gerwel Gesprekkereeks” van die jaarlikse Suidoosterfees en het plaasgevind by SASNEV op Donderdag 27 Januarie 10:30 tot 12:30 onder die voorsitterskap van dr. Daniel Hugo. Die ander deelnemers was prof. Ilse Feinauer, Robert Dorsman en Ria Olivier.
Ek wil hierdie gesprek oor vertaling begin met ‘n stelling wat ek doelbewus ekstreem gaan formuleer: Vertaling het in die eerste en laaste instansie met taalregister te doen. Taalregister dui op die graad van formaliteit van die taalgebruik - met ander woorde of jy te doen het met kanseltaal, akademiese taal, koeranttaal, geselstaal, kroegtaal, kindertaal, ensovoorts. Voordat ‘n mens dus kan vra “Hoe vertaal jy Kaaps?” moet jy eers die vraag beantwoord: “In watter situasies word Kaaps gebruik?” Of kortom: “Wat is die status van Kaaps?”
 Adam Small
Hieroor het Adam Small uitgesproke idees gehad. In die voorwoord tot die herdruk van sy opspraakwekkende en invloedryke digbundel Kitaar my kruis (1962) skryf hy in 1973 (HAUM, Kaapstad): “Ek wil net sê, by herhaling (want ek moes dit, na die verskyning van Kitaar my kruis, meermale reeds onder die aandag bring), dat Kaaps nie is wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gamat-taal noem nie. Kaaps is ‘n taal, ‘n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: hulle volle lewe ‘met alles wat daarin is’; ‘n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ‘n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ‘n taal.”
Volgens Small is Kaaps dus ‘n volwaardige, selfstandige taal - wat by implikasie duidelik onderskei kan word van gestandardiseerde Afrikaans.
Volgens hom word dit ook in elke lewensfeer gebesig. Hier moet ek ongelukkig van hom verskil, aangesien Kaaps in ‘n redelik beperkte mate geskryf en gepubliseer word. En soos dit met ander sprekers van Afrikaans gaan, sal die meeste transaksies van Kaapse sprekers sekerlik in Engels geskied. Dit doen uiteraard geen afbreuk aan die uitdrukkingsvermoë van die taal nie. Dit kan inderdaad die “volle lewe” uitsê.
Selfs as ‘n mens Kaaps ‘n dialek noem, doen jy nie afbreuk daaraan as ‘n volwaardige taal nie. Net so min as wat die digter Guido Gezelle se Wes-Vlaams armer of yler as gestandardiseerde Nederlands is, net so min is Kaaps minderwaardig teenoor Afrikaans. Om die waarheid te sê: vir die spreker van ‘n gestandardiseerde taal klink die dialek dikwels kleurvoller en sappiger as sy eie taal. En van “kleurvol” en “sappig” is dit ongelukkig ‘n klein treetjie na “grappig” en “snaaks”.
Al is ‘n dialek soos Kaaps ‘n volwaardige taal, bevat dit tog groot uitdagings vir die vertaler - groter uitdagings as wanneer daar van een standaardtaal in ‘n ander standaardtaal vertaal word. Die rede hiervoor, myns insiens, is dat dit makliker is om die spesifieke register by verskillende standaardtaalvorme vas te stel en in ‘n ooreenkomstige register in die doeltaal weer te gee, as in die geval van ‘n dialek. Ek gee ‘n voorbeeld. As ‘n tienerkarakter in ‘n Afrikaanse boek sy of haar taal deurspek met Engelse woorde, weet die vertaler dadelik dat hy met informele taalgebruik te doen, dit wil sê met sleng of ‘n sosiolek, wat dan op ‘n ekwivalente informele wyse in die doeltaal weergegee moet word. Kaaps bevat ook ‘n groot persentasie Engelse woorde en uitdrukkings, maar dit is - soos Adam Small so nadruklik uitgewys het - nie noodwendig informele of grappige taalgebruik nie. Ongelukkig is daar baie min vertalers wat die presiese register van dialektaalgebruik kan bepaal.
 Peter Snyders
Daar is vertalers wat dit maar al te goed besef en daarom nie eens ‘n poging aanwend om ‘n egte vertaling van literêre dialektekste te maak nie. Hulle oplossing is dan om slegs die betekenisinhoud in ‘n neutrale standaardregister weer te gee, langs of onder die oorspronklike teks. Dit is wat die Vlaamse vertaler Jan Deloof byvoorbeeld gedoen het met ‘n keuse van Kaapse gedigte uit Peter Snyders se oeuvre, wat in 1996 verskyn het onder die tweetalige titel Verzachtende omstandigheden. Versagtende omstandighede. (Point 36, Germaine Droogenbroodt, Altea, Spanje) In sy “Woord vooraf” sê hy dat Snyders se taalgebruik ‘n wesenlike kenmerk van sy gedigte is. (Terloops dié uitspraak geld vir alle poësie: die unieke taalgebruik is altyd die wesenlike kenmerk daarvan.) Deloof gaan voort: “Dat is de reden waarom de originele gedichten in deze publikatie vergezeld gaan van Nederlandse transcripties, die enkel en alleen de bedoeling hebben het origineel beter toeganklik te maken. De lezer gelieve de transcripties niet als vertalingen te beschouwen, want voor mij is vertalen uit het Afrikaans zoiets als Gezelle omzetten in standaard-Nederlands.”
Ek gee graag ‘n voorbeeld van Deloof se werkwyse na aanleiding van Peter Snyders se gedig “Of hoe?” Snyders se gedig klink só:
Moetie rai gammattaal gebrykie;
dit issie mooi nie:
dit dieghreid die coloured mense -
of hoe?
wat traai djy
om ‘n coloured culture te create?
of dink djy is snaaks om soe te skryf?
of hoe?
Traai om ôs lieweste op te lig;
ôs praat mossie soe nie …?
of hoe?
En hier is Jan Deloof se “transkripsie”:
Of niet soms?
Schrijf toch niet dat koeterwaals (= gebrabbel);
dat is niet mooi:
het haalt de kleurlingen omlaag -
of niet soms?
Wat probeer je toch
een kleurlingcultuur te creëren?
of denk je dat je grappig bent
door zo te schrijven?
of wat?
Probeer liever ons te verheffen;
we praten immers niet op die manier …?
of wel soms?
Hierdie “transkripsie” is natuurlik nie naastenby so treffend, so sappig, so kleurvol as die oorspronklike nie. Deloof het sy beperkings as vertaler besef en hierdie uitweg gekies. Maar dit lewer ‘n bloedlose produk op wat skaars as ‘n gedig deur die doeltaalleser beskou sal word - selfs al bied hy sy Nederlandse weergawe in dieselfde versvorm as Snyders aan.
 Jan Deloof
Dit is interessant dat Deloof in die aangehaalde passasie uit sy voorwoord Peter Snyders se Kaaps en standaard-Afrikaans oor dieselfde kam skeer, as hy sê: “… voor mij is vertalen uit het Afrikaans zoiets als Gezelle omzetten in standaard-Nederlands.” Daarmee bedoel hy waarskynlik dat alle soorte Afrikaans eintlik vir die Nederlandstalige leser verstaanbaar is, op enkele vreemde woorde en uitdrukkings na. Dit is natuurlik nie waar nie, en veral nie ten opsigte van die register nie. En in elk geval verwag die lesers van vertaalde poësie ‘n vertaling uit die brontaal wat op sy eie bene as ‘n gedig in die doeltaal kan staan. Met sy vertalings van die gedigte van Antjie Krog, Wilma Stockenström en Gert Vlok Nel het Robert Dorsman reeds oor en oor bewys dat dit baie goed moontlik is tussen Afrikaans en Nederlands.
 Robert Dorsman
Van Robert Dorsman gepraat. In die bloemlesing O wye en droewe land. Honderd-en-een gedichten in het Afrikaans wat hy saam met Adriaan van Dis saamgestel het (Meulenhoff, Amsterdam, 1998) staan die transkripsies van die gedigte heel beskeie in klein druk onderaan elke bladsy. Dorsman noem hierdie transkripsies in sy nawoord ‘n “basisvertaling”. Hy weerspreek daarin ook by implikasie Jan Deloof se veronderstelling dat Afrikaans vir Nederlanders in ‘n groot mate verstaanbaar is, met die volgende uitspraak: “Te vaak gebeurt het dat Nederlanders het spoor bijster raken wanneer ze in aanraking komen met het Afrikaans, een taal die op Afrikaanse bodem geworden is tot wat zij is en steeds minder op het Nederlands lijkt.” In dié bloemlesing staan daar ook gedigte in Kaapse Afrikaans - van Peter Blum, Adam Small en Peter Snyders. Dorsman noem Kaaps “Afrikaans op zijn smeuïgst”, dit wil sê Afrikaans op sy soepelste, op sy sappigste.
Dat Adam Small - en daarom ook die ander Kaapse digters - veel gemakliker in Engels vertaal kan word, blyk uit Carrol Lasker se weergawes van Small se “What abou’ de lô?” en “Second Coming” in The Penguin Book of Southern African Verse (1989) saamgestel deur Stephen Gray. Maar sy worstel ook met die register en met die gepaardgaande betekenisassosiasies van sekere woorde in die oorspronklike gedigte. “What abou’ the lô” gaan oor ‘n wit meisie en ‘n bruin man wat op mekaar verlief geraak het en daarmee die destydse ontugwet oortree het. Die openingsreëls klink in Kaaps só: “Diana was ‘n wit nôi / Martin was ‘n bryn boy”. Lasker vertaal dit as: “Diana was a white girl / Martin was a black boy”. Met “girl” gaan die hele konnotasie van baasskap, of dan nôiskap, verlore - en daarmee saam die ideologiese skok wat bewerkstellig word deur die rymwoorde “nôi” en “boy”. Wat in die gedig rym, het nie in die werklikheid van die apartheidstyd gerym nie. Verder vertaal sy “bryn boy” met “black boy” wat ‘n bewuste ideologiese keuse impliseer.
Selfs al is die vertaling van poësie altyd ‘n haglike onderneming, wag ons nog steeds op die begenadigde vertalers wat Adam Small, Peter Snyders en ander Kaapse digters oortuigend en registergetrou gaan vertaal.
(c) Daniel Hugo
Friday, October 29th, 2010

- Skin
Ras as tema duik reëlmatig op in die Nederlandse samelewing. Dit is asof die eksotiese sfeer wat saamhang met swartwees hier in ‘n byna deurskynende, wit samelewing opnuut ontdek word. Die volgende twee aanbiedinge op kultuurgebied einde 2008 en begin 2009 het my aandag getrek. Dit was die film Skin van Anthony Fabian en die tentoonstelling Black is Beautiful in die Nieuwe Kerk in Amsterdam. Daarop het ek spontaan reageer.
Met die première van Skin (2009) in Amsterdam, was ek gevra om as tolk op te tree tussen joernaliste van verskillende Nederlandse dagblaaie en die Afrikaanstalige Sandra Laing, die vrou wie se lewensverhaal in Skin verfilm is. Sy was besonder ingetoë. Veral was sy bly en dankbaar dat haar lewensstryd met velkleur en rasse indeling onder apartheid soveel aandag kry. Juis haar ongemak met die pers het my nuuskierig gemaak oor die film. Ek het die feite van haar lewe uit die onderhoude geken, maar nie hoe dit verfilm is nie.
Regisseur Anthony Fabian het die potensiaal van haar dramatiese lewensverhaal, ingebed in ‘n politieke sisteem, goed raakgesien. Uit ‘n blanke egpaar, gespeel deur Alice Krige en Sam Neill, word ‘n dogtertjie met ‘n donker velkleur en kroeserige haartjies gebore. Sy ken liefde en geluk, totdat sy moet skool toe gaan. Die apartheidsmonster slaan toe op klein Sandra, gespeel deur Ella Ramangwane. Sy word met agterdog bejeën. Haar pa se stryd om haar as blank geklassifiseer te kry, begin. Intussen word op skool teen Sandra gediskrimineer - blatant en subtiel. Haar ma troos haar waar sy kan: “your skin is perfect”. Adam Small fluister in my oor terwyl ek na die mooi, onskuldige gesiggie sit en kyk:
Bushy head
so they call you
to insult you
bushy head
but bushy head
birds can nest in you
daily fly from you
and return to you
carrying home to you
in their wings for you
heaven;
have their young in you
hold their young in you
Hierdie trooswoorde kom uit die gedig O kroeskop!. As Sandra tydens haar jongmeisiejare (gespeel deur Sophie Okonedo) verlief raak op ‘n swartman, is die hel los in haar familie. Dis eintlik ‘n spontane reaksie op haar onderdrukkende omgewing. Al haar pa se moeite om haar as blank te laat opgroei, was verniet. So voel haar ouers. Hulle verwerp haar. Die apartheidsisteem kry die oorhand oor hulle gewone, ouerlike liefde. En weer tart Small se stem uit die gedig What abou’ de lô:
Diana was ‘n wit nôi
Martin was ‘n bryn boy
dey fell in love
dey fell in love
dey fell in love
sê Diana se mense
what abou’ de lô
sê Martin se mense
what abou’ de lô
sê almal se mense
what abou’ de lô
Skin het in 2009 minstens twaalf internasionale pryse gewen, onder andere in Dallas, Santa Barbara, Los Angeles, Bari (Italië) en Bordeaux (Frankryk).
 Tentoonstelling in De Nieuwe Kerk, Amsterdam
In die somer van 2008 was die tentoonstelling Black is Beautiful in De Nieuwe Kerk in Amsterdam. Dit krap aan my dat iets soos velkleur ook hiér nie en stééds nie ‘n natuurlike plek gegun word nie. Al staan dit los van die onderdrukkende apartheidsbestel. Nee, velkleur hoort in ‘n tentoonstelling! In die afdeling Bijbelse verhalen leer ek dat Pieter Paul Rubens in sy skildery Aanbidding van die Koningskind (1618), die swart koning in die sentrum plaas as verteenwoordiger van Afrika. Ander skilders gebruik soms ‘n swart figuur om ‘n skadu in te vul. Die liefde tussen koning Salomo en die donkere koningin van Skeba word ook op skilderye in hierdie afdeling uitgebeeld. Hooglied verwys blykbaar na hulle liefdesverhaal. Volgens sommige verhale is daar nege maande na koningin Skeba se besoek aan koning Salomo ‘n seun gebore. Hy is Menelik I, die eerste koning van Ethiopië.
In die afdeling Hofcultuur en pages word onder ander gefokus op Zwarte kinderen aan het hof. Op baie skilderye is die tienjarige swart slafies van ryk Nederlandse families in die agtergrond op familieportrette (bv. van die familie Friesheim) uitgebeeld. Agter hulle meester of meesteres (bv. Margaretha van Raephorst) is hulle altyd dienend. Asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is! Die boek De zwarte met het witte huid van Arthur Japin kry natuurlik ook ‘n spesiale plekkie in die tentoonstelling. Dit vertel die geskiedenis van die twee Afrikaanse prinsies, Kwame en Kwasi, wat in 1837 aan Koning Willem I geskenk is. Die begin met:
“De eerste tien jaar van mijn leven was ik niet zwart.
Ik was op veel manieren anders dan de mensen om mij
heen, maar donker was ik niet. Dat weet ik. …”
Dit was omdat die “ek” die eerste tien jaar van sy lewe in Afrika tussen sy eie mense was. Hy het geen kleuronderskeid gesien nie. Dieselfde, maar dan omgekeerd, geld vir Bram Vermeulen. Hy was die vorige verslaggewer van die NRC-Handelblad in Suid-Afrika. In sy boek Help, ik ben blank geworden vertel hy hoe hy die eerste keer bewus word van sy wit velkleur deur die steeds sluimerende newe-effekte van apartheid.
Tussen al hierdie vanselfsprekendhede oor ras en klas in Black is Beautiful, verkneukel ek my tog in die woorde van SV Petersen as hy alles omkeer. Hy ontmasker die luiheid en wantrou en hekel die posisie van die hoër, sosiale klasse in Suid-Afrika in sy gedig Kamee:
Sy kom haar dagtaak toegetree
van vooraf skugter en verleë,
en vryf die vloere blink van dié
wat nie wil weet van arbeid nie.
Teenoor die werkgewer voer die skoonmaakster in die gedig ‘n harde, maar eerlike bestaan. Petersen eindig met:
‘n Deur wat oopklap soos ‘n hek,
en aan ‘n muur ‘n ereplek
sit prinses Margaret, - opgewek!
Skielik wonder ek maar net in die gees van Petersen, sal daar nie dalk in die verre toekoms ‘n tentoonstelling in Johannesburg - White is Beautiful - gereël word nie?
Sien hier ‘n resensie & video oor Skin.
Kyk ook na die webblad van die tentoonstelling, Black is Beautiful, hieronder:
Filmpjes & Kijktest Wilt u meer weten? Hier vindt u filmpjes met achtergronden, persoonlijke verhalen, bijzonder archief en meer kunstwerken. Bovendien kunt u testen hoe goed u kijkt…
O kroeskop! en What abou’ de lô kom uit die bundel Kitaar my Kruis (1962).
Kamee kom uit die bundel Die kinders van Kian (1960).
Saturday, December 12th, 2009
Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.
Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.”
W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.
Tags: Adam Small, André P. Brink, Athol Fugard, Boerneef, Breyten Breytenbach, DJ Opperman, Filosofie, I.D. du Plessis, Jacques Derrida, Jeremy Cronin, Marlene van Niekerk, Marthinus Versfeld, Martin Heidegger, NP van Wyk Louw, Petra Müller, Universiteit van Kaapstad, W.A. de Klerk, W.E.G. Louw Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|