Posts Tagged ‘Afro-Amerikaanse letterkunde’

Marlies Taljard: Wie was Bra Willie?

Tuesday, May 8th, 2018

 

Wanneer hy ingekom het, het daar altyd ʼn eerbiedige stilte (hushed silence) oor ons gedaal. Die glimlag, dáárdie glimlag, het almal ingesluit. Dit het vanuit die siel, deur die oë na die mond, na die hele gesig versprei. As sy arms vir jou oopgaan, het jy gevoel jy ís íémand. Hy het ons almal by die naam en die beroep geken – die hele SALA-beoordelingspaneel. Hy was een van die mín mense wie se uitstraling van liefde, deernis en respek ʼn mens nie onaangeraak kón laat nie. Hy was oor baie jare ʼn vader en ʼn mentor vir ons, soos vir honderde ander hier en orals ter wêreld. Sy plek is akuut leeg. Dit is my indrukke van ʼn onvergeetlike mens. Wat hierna volg, kan enige iemand op Google gaan naspeur. Tog dink ek is hierdie blog op ʼn Afrikaanse webwerf nodig, aangesien ek glo baie min Afrikaanssprekendes bekend was met die lewe en die werk van hierdie enigmatiese digter.

Keorapetse William Kgositsile (algemeen bekend as Bra Willie)  is op 19 September 1938 in die agterplaas van ʼn voorstedelike huis in Johannesburg gebore. Sy ma het destyds as ʼn meid bekend gestaan. Sy het hom met haar karige inkomste deur matriek gehelp. Op 3 January 2018 sterf hy op 79-jarige ouderdom na ʼn kort siekbed in die Milparkkliniek. Benewens sy bekendheid as digter (hy het 10 digbundels die lig laat sien), is Kgositsile veral bekend as politieke aktivis wat gedurende die 1960’s en 1970’s in Amerika in ballingskap geleef het. Hy was onder andere getroud met Baleka Mbete, die Speaker van die Parlement. Ten spyte van die feit dat daar in die biblioteke waartoe hy op skool toegang gehad het (en selfs in sg. “blanke” biblioteke) baie min boeke oor Afro-Amerikaanse literatuur en kultuur te vinde was, het hy reeds as skoolseun ʼn studie darvan gemaak, veral van jazz. Terwyl hy in Amerika geleef het, het hy dikwels in New Yorkse jazzklubs sy eie gedigte en dié van ander Afrikadigters voorgelees en sodoende die aandag gevestig op Afrikakuns. Hy het destyds kultusstatus in New York beklee.

Sy eerste kennismaking met die politieke beleid van uitsluiting van die destydse Suid-Afrikaanse regering was dat hy nie verstaan het waarom hy nie saam met sy wit maatjies kon skoolgaan nie. Nadat hy in ʼn bakleiery met ʼn wit seun betrokke was omdat hulle hom nie in hulle boksklub wou toelaat nie, het sy outsider-status tot hom begin deurdring. Dat hy na dié voorval nie meer toegelaat is om saam met die wit kinders van die buurt te speel nie, het daartoe gelei dat hy al hoe meer begin lees het. Langston Hughes en Richard Wright het sy gunstelingskrywers geword, maar sy werk is ook beïnvloed deur ander Europese skrywers soos Charles Dickens en D. H. Lawrence. Reeds op ʼn vroeë ouderdom het hy stories begin skryf, maar nie met die doel om te publiseer nie. Omdat sy ma hom nie verder as matriek kon laat leer nie, het hy na skool ʼn verskeidenheid werke verrig, maar uiteindelik het sy skryfvermoë vir hom ʼn werk by die radikale anti-apartheidskoerant New Age besorg. Een van sy eerste gedigte verskyn in dié koerant:

Remember in baton boot and bullet ritual

The bloodhounds of Monster Vorster wrote

SOWETO over the belly of my land

with the indelible blood of infants

So the young are no longer young

Not that they demand a hasty death.

 

In 1961 verlaat hy die land en werk eers in Dar es Salaan, toe in Tanzanië en emigreer later na die VSA. Daar studeer hy onderskeidelik aan die Lincoln University, Pennsylvania University, University of New Hampshire en verwerf ʼn Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Columbia University. In hierdie tyd publiseer hy sy debuut, Spirits unchained wat besonder goed ontvang word en waarvoor hy bekroon word met die Harlem Cultural Council Poetry Award, asook met die  National Endowment for the Arts Poetry Award. In 1971 verskyn My Name is Afrika wat deur sommige kritici as sy beste werk beskou word. Hierdie bundel vestig hom as een van die bekendste Afro-Amerikaanse digters. The Last Poets, ʼn groep rewolusionêre Afro-Amerikaanse digters se naam is aan ʼn gedig uit dié bundel ontleen. Hy publiseer in die tyd waarin hy in New York klasgee ook akademiese artikels oor Amerikaanse jazz en stig die Black Arts Theatre in Harlem waar hy legendariese status verwerf vir sy dinamiese voorlesings van Afrikaskrywers in downtown klubs. In 1974 stig hy, saam met ander vooraanstaande Afrikaskrywers, onder andere Mazisi Kunene, die African Literature Association.

Kgositsile se oeuvre word gekenmerk deur sy liefde vir jazz, ʼn musiekgenre wat hy beskou as die universele swart stem wat alle swartmense in die diaspora saambind in hulle sug na vryheid. Sigmund Ro haal Kgositsile in ʼn 1985-artikel in ʼn Amerikaanse tydskrif soos volg aan:

There is nothing like art—in the oppressors sense of art. There is only movement. Force. Creative power. The walk of Sophiatown tsotsi or my Harlem brother on Lenox Avenue. Field Hollers. The Blues. A Trane riff. Marvin Gaye or mbaqanga. Anguished happiness. Creative power, in whatever form it is released, moves like the dancers muscles. [sic.]

In New York ontmoet hy verskeie beroemde jazzkunstenaars. Hy dra onder andere een van sy bekende gedigte op aan Johnny Dyani:

 

For Johnny Dyani

When I swim in my music

a harmattan of colours

becomes an area of feeling

where a rainbow of feathers

peoples all space

dancing in my heart

 

Here I do not even know

what flowers pop out of my eye

I move

without even touching air

 

Johnny you take us out there

where we gasp silently

amidst a bombardment of sound

in the spell of the witchdoctor’s son

where I cannot even ponder

how a witch and a doctor paradox

could be one entity

 

Your bass

Johnny pins nothing down. Your bass

rides on wave or height or rock

or depth or crevice of sound

to bathe us in music

 

And we are moved

where we cannot even

hear ourselves gasp

 

In 1975 kry hy ʼn aanstelling as professor by die universiteit in Dar es Salaam (Tanzanië). Daar ontmoet hy sy tweede vrou, Baleka Mbete. Later werk hy ook in Kenia, Botswana en Zambië. In 1990 – die jaar waarin When clouds clear verskyn – kom hy terug na Suid-Afrika waar hy na die 1994-verkiesing Adviseur van die Minister van Kuns en Kultuur word. Hoewel hy tydens die apartheidsregime fel kritiek teen apartheid en die regering uitspreek, is hy nie blind vir die vergrype van die nuwe ANC-regering nie. Tot sy dood sou hy onreg, korrupsie en wanadministrasie ten sterkste veroordeel en persoonlike onderhoude met ministers aanvra ten einde raad, leiding en kritiek te verskaf.

In 1996 word Kgositsile deur die South African Literary Awards (SALA) aangewys as die Suid-Afrikaanse hofdigter (Poet Laureate) en in 2008 word hy vereer met die National Order of Ikhamanga vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur. Tydens dié geleentheid word hy ook geloof vir sy rol in die bekendstelling van Afrikaletterkunde en veral diasporaliteratuur aan die Amerikaanse publiek.

Hoewel sy diasporagedigte, soos die meeste versetliteratuur, soms ongebreidelde woede en sterkbewoorde veroordelings van apartheid bevat wat die kwaliteit van gedigte negatief beïnvloed, is sy poësie na 1990 van ʼn meer gematigde aard, asook beter afgewerk en deurdag. Ek dink byvoorbeeld aan frases soos die volgende uit sy “Random notes to my son”:

Beware, my son, words

that carry the loudnesses

of blind desire also carry

the slime of illusion (…)

 

… today it is fashionable to scream

of pride and beauty as though it were not known that

‘slaves and dead people have no beauty’ (…)

 

… I have

fallen with all the names I am

but the newborn eye, old as

childbirth, must touch the day

that, speaking my language, will

say, today we move, we move?

 

Ontnugtering en sinisme word in later jare kenmerkend van Kgositsile se digterstem. Gematigdheid raak ook al hoe meer deel van sy lewensfilosofie, soos spreek uit sy later digterlike werk, maar veral ook uit sy openbare optredes en sy ander skryfwerk. Hoewel Bra Willie ʼn Amerikaanse kultusfiguur was en veral in downtown New York bekend was tydens sy rewolusionêre fase, word hy in Suid-Afrika onthou as vegter vir menseregte en kenner van Afrikaletterkunde, maar ook vir sy ander bydraes op kulturele gebied. Hoe hoog hy geag is, blyk onder andere uit president Cyril Ramaphosa se huldeblyk na sy dood.

Ek sal hom onthou vir sy wysheid, vir sy menslikheid … en die glimlag wat ek glo hom selfs in die dood nie sou verlaat het nie.

Hamba kahle, Bra Willie.

 

(Hierdie blog is ʼn opsomming van ʼn aantal internetartikels wat na Bra Willie se dood verskyn het.)