Posts Tagged ‘Albert Camus’

Damon Galgut en die vervlietende reis

Wednesday, September 8th, 2010

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made” — Damon Galgut, In a Strange Room.

Ek is terug uit die buiteland – en Victoriastraat is of groen van jaloesie, of dit is inderdaad lente in Stellenbosch! Ek wou meer gereeld uit Engeland blog, maar eers het die kongres (in Southampton) my aandag opgeneem en daarna (nog twee dae in Londen) het ek probleme met my skootrekenaar se webkonneksie ondervind. Ek sal wel nog af en toe hier na my reis terugverwys: ek wil byvoorbeeld graag ‘n paar bloginskrywings maak oor jong Britse digters.

Maar eers iets anders (of dalk ook nie…). My resensie van Damon Galgut se uitstekende In a Strange Room het eergister in Die Burger verskyn. Moenie dat hierdie boek by jou verby gaan nie. Galgut is ‘n uitstekende skrywer, en hierdie is een van die beste prosawerke uit Suid-Afrika tot dusver hierdie jaar. Myns insiens. Dit is ‘n fynbesnaarde, subtiele teks en ’n diepgaande meditasie oor reis, eensaamheid en die ‘enigma van tuiskoms’ — om Naipaul aan te haal. Ek plaas dit hier vir diegene wat nie Die Burger te lese kry nie:

Damon Galgut op reis

Damon Galgut op reis

As jy onder die indruk verkeer dat Engelstalige prosa in Suid-Afrika altyd in die skadu van die Nobelpryswenners Nadine ­Gordimer en J.M. Coetzee sal staan, of dat dinamiese hedendaagse prosa hier te lande slegs in Afrikaans geskryf word, maak jy ’n baie groot fout.

Skrywers soos Ivan Vladislavic en Damon Galgut, om maar twee persoonlike gunstelinge uit te ­sonder, lewer werk van wêreld­formaat. Albei is meesters van ’n soort afstandelike, maar altyd deernisvolle perspektief op die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Albei ontgin en strek die estetiese moontlikhede van Engels om ’n Suid-Afrikaanse werklikheid ná apartheid onder woorde te bring.

Boeke soos Vladislavic se ­Portrait with Keys, seker een van die skitterendste Suid-Afrikaanse prosawerke van die afgelope ­dekade, en Galgut se roman The Good Doctor hoort op enige ­ernstige ­leser se boekrak.

Dit kom dus nie as ’n verrassing dat Galgut hom met sy jongste boek, In A Strange Room, weer ­binne trefafstand van die gesogte Man-Bookerprys bevind nie. Met The Good Doctor het hy in 2003 reeds die kortlys gehaal, en sy jongste is onlangs tot die langlys van 13 boeke benoem.

In A Strange Room het as sub­titel “Three Journeys”. Die werk word op die flapteks getipeer as ’n ­roman, maar die drie verhale het oorspronklik as afsonderlike ­tekste in die tydskrif Paris Review verskyn. Hulle kan gelees word as outobiografiese reissketse, as ­lange­­rige kortverhale, en inderdaad ook as ’n novelle of roman in drie episodes.

Maar hoe jy hierdie boek ook al benader, Galgut verbluf met subtiele maar trefseker karak­teri­sering, en met die onder­­beklem­toonde, maar psigologies baie ­presiese oopskryf van inter­­per­soon­like verhoudings. Dit is ’n boek vir herlees, waarin die ­­­eint­like dramas onder die oppervlak speel. Dit is ’n boek vol een­saam­heid en verlange, maar ­sonder ­melo­drama of onnodige ­effusie.

Galgut vertel drie verhale. In elk is die verteller op reis –- in ­Griekeland, Afrika en Indië. In elk bevind die verteller hom in ’n ­komplekse, soms aftakelende ­verhouding met ’n reisgenoot. In die proses skryf Galgut eintlik ’n reeks meditasies oor die sielkunde van die reis, die soeke na immer ontwykende ­liefde en tuiskoms, en die aard van vriendskap en gemeenskap.

In die hand van ’n mindere ­skrywer kon die gegewens van die reis en gedoemde verhoudings maklik geyk geword het, maar by Galgut is dit nie die geval nie. Dit is verhale wat ’n mens bybly en, by tye, lank by ’n mens spook. Die laaste verhaal, “The Guardian”, het my katswink geslaan. Dit is een van die aangrypendste, hartseerste verhale wat ek in ’n lang tyd ­gelees het; en die siel­kundige ­profiel wat daarin ter sprake kom word absoluut outentiek ver­gestalt.

Galgut se evokasie van landskappe is deurgaans meer as bloot romantiese verfraaiing. Die vreemde landskap, en die in­heemse bevolkings, is ook nie bloot ’n skerm waarteen ’n uit­eindelik egosentriese, eksisten­siële ­proble­matiek geprojekteer word nie. Soos in Albert Camus se briljante verhaal, “Die Owerspelige Vrou”, word landskap en reis by Galgut bemiddelend vir die interpersoonlike en psigologiese ver­stol­pings en verskuiwings waaroor die ­verhale eintlik ­handel.

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made”. Só skryf Galgut aan die ­einde van ’n boek waarin hy die ­gebaar of beweging wat ons “reis” noem met bedrieglike eenvoud verken. In die proses lewer hy ’n teks wat die vervlietende aard van daardie reis beslis sal oorleef.

Die ongeliefde Jean-Paul Sarte

Wednesday, July 28th, 2010
Jean-Paul Sartre

Jean-Paul Sartre

Dit is darem fassinerend hoe intellektuele en skrywers uit die openbare oog kan verdwyn; of, wanneer hulle daar bly, stelselmatig verander word in figure van minagting. So asof hulle nagedagtenis moet boet vir die roem en bewondering wat ons voorheen aan hulle verleen het!

Jean-Paul Sartre is so ‘n figuur. Op sy dag was hy seker die mees beroemde filosoof op aarde, en boonop die eerste en enigste skrywer wat nog ooit die Nobelprys vir Letterkunde van die hand gewys het. Maar is daar iemand wat hom nog lees? Of hom selfs ernstig opneem as skrywer en denker?

Dit blyk asof Sartre die karikatuur geword het van die selfbelangrike, obskure en boheemse Paryse intellektueel; van die tipiese kampusradikaal met sy idealistiese, soms sentimentele en dikwels opportunistiese politieke oortuigings en kwasi-intervensies. Filosofies het hy die absolute teenpool, en selfs die teiken, geword vir feitlik elke intellektuele beweging in Frankryk sedert die strukturalisme van Levi-Strauss. Van regs is hy sedert die 1970’s aangeval as ‘n hardvogtige, siniese ondersteuner van die Stalinisme en ander vorme van totalitarisme en ‘n slagoffer van oordrewe Euro-selfhaat oor kolonialisme. Van links is hy aangeval as beide inkonsekwent in sy marxisme en naïef in sy geloof in menslike vryheid en agentskap.

En as ’n skrywer van letterkundige werke? In twee artikels oor Camus wat laasjaar in die BY verskyn het maak André P. Brink geen geheim van sy minagting van Sartre nie. Hy noem hom ‘n “blinkboetie” wat neergesien het op Camus se arm herkoms en afgunstig was op sy sukses; ‘n “vername heer” wat ”te papbroekig was om self ’n negatiewe resensie te skryf [oor 'n boek van Camus] en liewer ’n snuiter van ’n student gevra het om Camus namens hom te beswadder.” Brink gaan so ver as om Sartre as ‘n “skeeloog-dwerg” te beskryf, nou nie juis die soort taalgebruik wat spreek van sensitiwiteit oor liggaamlike gebreke nie…

Daar is baie sulke voorbeelde. Minagting, irrasionele woede, agtelose afwysing: Sartre moet in sy graf wens hy kon eerder maar net van vergeet word! In werklikheid is Sartre darem ‘n veel meer komplekse figuur as wat sulke maklike, soms hete verdoeming suggereer. Sartre was ongetwyfeld een van die eerste Westerse filosowe wat ernstig aandag gegee het aan rassisme en kolonialisme — as maatskaplike en politieke kwessies maar ook as inherent aan die Westerse filosofiese tradisie. (In hierdie verband word sy vaderskap van die sg. postkoloniale teorie dikwels ten onregte onderbeklemtoon.) Hy het hom bemoei met die komplekse, dikwels teenstrydige prosesse van dekolonisasie, terwyl denkers soos Derrida en selfs Foucault amper geen aandag daaraan in hulle werk gegee het nie. So kan ’n mens aangaan; jy hoef nie ‘n eksistensialis te wees of Sartre se vele foute te oorsien om te besef dat hierdie denker en skrywer ‘n beduidende rol gespeel het in die desentrering van ‘n alte Eurosentriese politieke en filosofiese tradisie. 

Octavio Paz het ‘n kritisiese maar waarderende essay oor Sartre opgeneem in sy On Poets and Others, waarin hy onder meer die volgende skryf: “I believe he was not a good traveler: he had too many opinions. His real journeys he took around himself, shut up in his room. Sartre’s candor, his frankness and rectitude, impressed me as much as the solidity of his convictions. These two qualities were not at odds: his agility was that of the heavyweight boxer. He lacked grace but made up for it with a hearty, direct style. This lack of affectation was itself an affectation and could go beyond frankness to bluntness. Nonetheless, he welcomed the stranger cordially, and one guessed he was harsher with himself than with others. He was chubby and a little slow in movement; a round, unfinished face: more than a face, a ground plan of a face. The thick lenses of his spectacles made his person seem more remote. But one only had to hear him to forget his face. It’s odd: though Sartre has written subtle pages on the meaning of the look and the act of looking, the effect of his conversation was quite the opposite; he annulled the power of sight.”

Paz het Sartre persoonlik geken. Hulle het ernstige verskille gehad oor die filosofie, die letterkunde en die politiek, maar Paz se skets van Sartre is nogtans ruimhartiger en mensliker as Brink se minagtende en geniepsige verwysing na Sartre as ‘n “skeeloog dwerg”. Besluit maar self wie jy in hierdie verband bereid is om te glo, Brink of Octavio Paz… 

Indien jy belangstel om ‘n goeie herwaardering van Sartre se politieke denke te lees, spesifiek in die konteks van dekolonisering en die postkoloniale situasie, kan ek Paige Arthur se onlangse boek, Unfinished Projects: Decolonization and the Philosophy of Jean-Paul Sartre (Verso, 2010) van harte aanbeveel. Behalwe dat dit Sartre en ander Franse filosowe se werk polities kontekstualiseer, is dit ook ‘n goeie inleiding tot Sartre se belangrikste politieke geskrifte – onder andere sy veelbesproke inleiding tot Frantz Fanon se Black Skin, White Masks. Ek het baie lanklaas aan Sartre aandag gegee, maar hierdie was regtig ‘n openbarende boek.

Maar sou ek een van Sartre se romans of toneelstukke weer lees?        

Digters op reis

Monday, September 28th, 2009

Ek weet nie hoeveel lesers onthou nog die wonderlike aanhaling van Albert Camus voor in Hennie Aucamp se kortverhaalbundel Enkelvlug nie: ‘Dit is geen plesier om te reis nie. Ek sien eerder ‘n askese daarin. Vir sy eie ontwikkeling gaan ‘n mens op reis, wanneer ‘n mens onder “ontwikkeling” verstaan die afrigting van sy diepste sintuig, dié vir die ewigheid.’

Nou ja, self is ek maar eksistensieel ongesofistikeerd; ek is versot op Camus en kie, maar reis is nogtans vir my een groot, ononderbroke plesier. Afrigting vir die ewigheid? Whatever, soos ons in Afrikaans sê. Laat die ewigheid vir homself sorg; dit sal in elk geval nie die eerste keer wees dat ek ongeoefen vir iets opdaag nie.

Nee wat, selfs die kleinere teenspoedjies is vir my lekker, want hulle maak goeie stories vir die mense by die huis. Van daardie oomblik af dat ek my eerste whisky op die vliegtuig bestel tot wanneer ek die gevange gehoor van vriende en familie onderwerp aan my foto’s, is ek in my selftevrede element. Om jou daaglikse roetine vir ‘n wyle ter syde te stel en al die plekke van jou gunsteling flieks en boeke te besoek, is niks minder nie as ‘n reuse voorreg en plesier. ‘n Mens kan sommer liries raak! 

Ek vermoed dit is hoe baie digters ook maar voel, met die gevolg dat reisgedigte baie maklik anekdoties, soetsappig, oorromanties, en cliché-matig kan klink. Die ‘onthou jy nog die middag in [vul in: enige Europese stad]’ soort vers hou beslis groot risikos in. In daardie opsig is reisgedigte seker soos liefdesgedigte: pragtig as hulle werk, maar vol slaggate vir die goedbedoelende digter!  

Ted Hughes

Ted Hughes

Die reis, of die verblyf elders, kan natuurlik ook ‘n onwennige ervaring wees. En goeie skrywers en digters het die fisieke reis nog altyd ontgin as ‘n kragtige, durende metafoor vir die meer ‘geestelike’ of eksistensiële reise wat ons ook moet aflê. Albert Camus se eie kortverhaal, ‘Die owerspelige vrou’ (in Afrikaans vertaal deur J.D. Stemmet en opgeneem in Hennie Aucamp se Wys my waar is Timboektoe), is ‘n skitterende voorbeeld hiervan.

Een van die dinge wat my aanspreek in Danie Marais se eerste bundel, In die buitenste ruimte, is juis sy bevreemdende, wrang blik op die Europese gegewe, die verblyf in Duitsland. Daar is ander voorbeelde ook in Afrikaans: enkele van Marlene van Niekerk se gedigte oor Amsterdam in Groenstaar; die beste van Joan Hambidge se gedigte oor reise na afloop van ‘n liefdesverhouding.  

Is daar egter ‘n meer manjifieke voorbeeld van die ingesteldheid waarvan ek praat as die Engelse digter Ted Hughes se ‘You Hated Spain’? Dit is een van die gedigte waarin hy Sylvia Plath aanspreek en het eers in New Selected Poems 1957-1994 en later in Birthday Letters verskyn. Hier is die eerste paar reëls:

Spain frightened you.
Spain.
Where I felt at home.
The blood-raw light,
The oiled anchovy faces, the African
Black edges to everything, frightened you.
Your schooling had somehow neglected Spain.
The wrought-iron grille, death and the Arab drum.
You did not know the language, your soul was empty
Of the signs, and the welding light
Made your blood shrivel.
 

My bewondering vir hierdie gedig is so groot dat ek Hughes se idee ‘n paar jaar terug vir ‘n eie skryfsel gesteel het, ‘n soort alter-perspekstief op daardie wonderlikste van wonderlike plekke, die Griekse eilande… Ek plaas dit hier, maar wees my maar genadig: ek het mos al in my eerste aflewering gesê ek is nie ‘n digter nie!

 

JY HET GRIEKELAND GEHAAT
(n.a.v. Ted Hughes se You hated Spain)

 

Jy het Griekeland gehaat

die son was vir jou te warm 

die rondloperhonde het aan jou gekou

hulle het dag en nag en sonder ophou

gekerm en byt om ons bed se enkels.

Later het ons nog net in jou slaap gepraat.

 

Jy het Griekeland gehaat

elke onverbiddelike heuwel met sy kerk

ver van alles swygend en die verploeterende hitte 

alewig in die middag en die eentonig afgewitte

ure met hulle stowwerige donkies en ooms

en swartgeklade tannies op straat.

 

Jy het Griekeland gehaat

die gekibbel en gelatenheid van die mense

die gefnuikte gasvryheid van elke gebaar:

Jy sou eensaam bly eerder as om jou te skaar

by die té intussen menswees van hierdie land

van eilande klip en baie water.

 

Jy het griekeland gehaat.

Daagliks gedoog die bouer die argeoloog

want die lewe hier is altyd wat dit was en dan ook meer.

Jy het weggegaan in die wete dat niks wat teer

is tog oorbly waar soveel ten spyt oorleef. Liefde is ‘n ruïne hier

en elke dag ‘n duisend jaar te laat.