Posts Tagged ‘Alwyn Roux gedigte’

Alwyn Roux. mens herken aan die mond van iemand

Tuesday, March 11th, 2014

mens herken aan die mond van iemand

 

mens herken aan die mond van iemand

iets anders wat die oë nie kan

onderneem ek om stil te word

elke oggend voor die son opkom

soos Daniel se vriende ingetoë

 

onthou ek die voël se dooie liggaam

in die bergpad voor my huis

die beeld van Afrika in die son

wat skyn en amper reeds verdwyn

 

is my lyf dan hierdie ou-ou sonbesie

se geluid wat dringend groet

as die son-son-son

die Afrikageluid weerklink

nou reeds in my oor

en ek onthou

mens herken aan die mond

die iets wat oë

nie kan

 

© Alwyn Roux / 2014



Alwyn Roux. stilte aan die ander kant van ruite

Friday, February 28th, 2014

stilte aan die ander kant van ruite1

 

hy staar ʼn tydlank stip na die skerm

scroll na 2.4.1   dink die wysgeer het gelyk

die kunswerk onthul ʼn stryd

tussen wêreld en aarde

sit terug            lees die gedig (vir analise)

maak ʼn lys van woorde om te wys

hoe elk tot die een of ander hoort

 

is wêreld die onvoorstelbare geheel

waaraan ons onderworpe is

solank die paaie van lewe en dood

en seëning en vloek

ons in vervoering bring  

 

aarde dit waarin die oprys van alles

teruggeneem en beskut word

dit wat nie gedwing kan word nie

wat onvermoeid

en sonder inspanning is

 

luister hy met die geluid

van voëls hoe stilte aan die ander kant

van ruite klink

kyk hy weer na die skerm

en soek ʼn woord wat sonder aarde is

 

1 Met verwysing na Martin Heidegger se essay “The origin of the work of art” (2002:1-56).

 

© Alwyn Roux / 2014