Posts Tagged ‘Ampie Coetzee’

Ampie Coetzee. Wanneer woorde niks meer sê nie

Wednesday, April 26th, 2017

 WS Merwin

WANNEER WOORDE NIKS MEER Sê NIE

Die Amerikaanse digter W.S Merwin (89) het al meer as 50 poësiebundels gepubliseer, plus ander literêre werke. Hy was tweekeer die wenner van die Pulitzerprys, in 1971 en in 2009.  In 2010 word hy aangewys as die United States Poetry Laureate. In 2013 is hy die eerste ontvanger van die Poolse ‘Zbigniew Herbert International LiteraryAward’ , wat Breyen in Meimaand hierdie jaar kry. (Breyten skryf korliks ook oor Merwin en ander digters in Versindaba Jan. 2017).

Sy poësie werk met metafoor en paradoks, en daar is intuïtiewe oomblikke wat mens slegs so kan lees, feitlik sonder interpretasie-moontlikheid. Oor hom is daar ook gesê: ‘Merwin is our strongest poetry of silence and doubt, vacancy and absence’.

Ek wil ‘n gedig van hom aanhaal wat al hierdie eienskappe het; maar – en dit is belangrik – dat dit ‘n gedig vir ons tyd en ons Afrikaans hier in Suid-Afrika is. Asof hy kon geweet het wat met die skrywers van ‘n sterwende taal gebeur. (Hierdie gedig kom uit die bundel ‘The Rain in the Trees’, 1988)

Losing a Language

 

A  breath leaves the sentences and does not come back

yet the old still remember something that they could say

 

but they know now that such things are no longer believed

and the young have fewer words

 

many of the things the words were about

no longer exist

 

the noun for standing in mist by a haunted tree

the verb for I

 

the children will not repeat

the phrases their parents speak

 

somebody has persuaded them

that it is better to say everything differently

 

so that they can be admired somewhere

farther and farther away

 

where nothing that is here is known

we have little to say to each other

 

we are wrong and dark

in the eyes of the new owners

 

the radio is incomprehensible

the day is glass

 

when there is a voice at the door it is foreign

everywhere instead of a name there is a lie

 

nobody has seen it happening

nobody remembers

 

that is what the words were made

to prophesy

 

here are the extinct feathers

here is the rain we saw

 

Herinnering, geheue, is ‘n eienskap van Merwin se poësie. Hier is dit duidelik in die droefheid oor die taal wat verdwyn het. Ons het min om vir mekaar te sê. Die  implikasie is, omdat ons nie meer woorde het nie. Asem verlaat die sin en kom nie weer terug nie; net soos dit waaroor die woord was, nie meer bestaan nie. Oral is daar leuens. Woorde kan profeteer, maar net vere bly oor, en die reën wat ons gesien het.

Dikwels is daar paradokse en metafore: reën wat ons hier gesien het, is dood; en aan die begin die uitblaas van die asem. Dan, waar mens miskien intuïtief moet lees, in reëls soos: ‘ the noun for standing in mist by a haunted tree / the verb for I”

In sy tweede bundel al (‘The dancing Bears’ ,1954)skryf hy oor die poësie. Dikwels paradoksaal, soos in On the Subject of Poetry:

 

‘ do not understand the world, Father,

By the millpond at the end of the garden

There is a man who slouches listening

To the wheel revolving in the stream, only

There is no wheel to revolve … ‘

 

En aan die einde:

 

I speak of him, Father, because he is

There with his hands in his pockets, in the end

Of the garden listening to the turning

Wheel that is not there, but it is the world,

Father, That I do not understand’

 

Om nie te verstaan nie, om taal te verloor. Dis die droewige waarheid vir die digter.

 

Gedig en aanhaling uit  W.S Merwin. Migration, New and selected Poems, bls.286 en 25.  (Copper Canyon Press 2005).

 

Ampie Coetzee.

13 April 2017.

 

 

Ampie Coetzee. Seks is ‘n Gebed

Monday, April 4th, 2016

C4Pgg7y

Seks is ‘n Gebed

(Hierdie teks is ‘n verwerking van gesprekke wat plaasgevind het met die verskyning van André P. Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe, Vlam in die Sneeu, en ook met die bekendstelling van Anton Brink se kunsuitstalling, waar die verhouding tussen hom en sy pa pynlike herinneringe gebring het. Die gesprekke het plaasgevind in die galery van die Breytenbach Sentrum in Wellington, op 19 Maart. )

.

Die uitspraak van André wat ek as inleiding wil gebruik, kom uit ‘n artikel van hom wat in 1964 (Standpunte 18.2) verskyn het: ‘Oor seks en religie’. Ek haal aan :

‘Die geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed  … die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, repektiewelik, die onontbeerlike vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment: elk is ‘n daad van blootstelling vir en voor die Ander, ‘n daad van weerloos-maak in volstrekte eerlikheid …’  (Contrary, 2013, 149)

Die rol van die vrouefiguur as sleutelfiguur word dan spesifiek uitgespel:

‘Die vrou bring geboorte; daarna  bring sy val; uiteindelik bring sy die moontlikheid van wederopstanding. Religie en seks is hier ongedifferensieer'(150)

Willie Burger haal soortgelyke woorde van André aan:  ‘ …seks is vir hom ” ‘n soort Mis-hou waarin die transsubstansiasie volkome is” en hy vra of seks miskien die ‘ongelowiges’ se ‘suiwerste religie ‘ kan wees  (Vlam in die Sneeu, 2015, 11).

th

André se eerste roman waarin die seksuele oomblikke geromantiseerd figureer is  Lobola vir die Lewe (1963, 89). Die verwoording van die seksuele is die vervulling van die liefdesdaad – en hier word die Bybelse betrek:

Ek haal aan :  ‘  … hoe mooi is jy , my roos van Saron, my beminde, en my hande reis teen jou sagte heuwels op, en af weer na die dale, beminde, o vannag, o vannag sal alle menslik eeue deur ons stroom

die bronstige Lilith wat met haar seun verkeer,

en Adam en Eva,

Simson wat hom lomerig aanvly teen die listige Delila,

en Dawid teen die skone Batseba,

en Salomo teen sy lelie-van-die-dale …’ (89)

.

En dan later, nou buite Bybelse verband :  ‘Kom, sê sy teen sy wang, Kom nou.

Hy voel hom diep ingly in warmte en sagtheid en genade terug in ‘n voorwêreldlike bestaan in lou diep water, beskermend, soos ‘n poel waar hy in afduik, diep, ver, teug na alle wondere en waar alles moontlik is en alles vriendelik en alles goed, so goed, so goed; en sy met soet gelukkige oë onder hom, met vuurlig en stilte …’ (90).

Hoe sou die Calvinistiese, die gelowiges, hierop reageer het – as skokkend en verbiedbaar? Die Wet op Publikasies het gekom. Dit was aan die begin van die Sestigerjare. En vir hierdie prosabegin, moet ons vir André dankbaar wees, alhoewel hy soms pretensieus was.

Byvoorbeeld: daar is in Lobola ook ander verbintenisse met die religieuse, wat taamlik eksplisiet is, nl. Die Katolieke Stasies van die Kruis. Dan ook ‘n soektog na selfontdekking (wat ‘n deurlopende tema in André se werk is). Dit sal seker verhelderend wees om die inhoud van hierdie 14 stasies na te gaan; maar dit sal beteken dat ooreenkomstes met Jesus se Via Dolorosa gesoek moet word in elke hoofstuk .

Die boeke wat deur André geskryf is in die begin van die sestigerjare waar seks en religie tot ‘n mate saamgaan (alhoewel die religie minder as die seksuele is), is dan Lobola vir die lewe ; Die Ambassadeur, ook in 1963; die liefdesbriewe van André Brink en Ingrid Jonker vanaf 1963-1965. Vlam in die Sneeu, onder redaksie van Francis Galloway. Dis uitgegee in 2015. Dan ook Orgie in 1965.  Dis belangrik om te besef dat die briewe nie fiksie is nie, maar dat daar deurgaans verwys word, spesifiek na die skryf van Die Ambassadeur, en in ‘n mindere mate Orgie.

thuneOs

Aangesien die briewe in Vlam dan waarskynlik van die eerste tekste was waarin die seks/religie-verbintenis tot ‘n mate figureer, sal ek eerste daarmee begin.

Die volgende gedagtes in die reeks is:

.

bl. 320: ‘Ek lees – of peusel – aan ‘n werk oor die magie The key of the mysterious. Mooi dinge in. Vir jou stuur ek dít: ‘”The least perfect act of love is worth more than the best act of piety. Judge not; speak hardly at all, love and act”‘

Ek verskil net:: elke daad van liefde is ‘n “act of piety”, is essensieel religieus. Dis al religie wat ons hét, waarvan ons séker is, en dalk wat ons nodig het.’

.

In Engels is ‘pious’: ‘for the glory of  God and the good of man’ (Oxford Woordeboek). Ek dink die gedagte in Engels gaan meer oor liefde in die algemeen, nie net tussen man en vrou nie. André wíl egter hê dat dit spesifiek ‘n ‘daad’ moet wees, die seksuele, en nie net liefde vir almal nie.

Dit gaan dan ook oor die verlange na die geliefde. In een van die briewe aan Ingrid skryf hy:

.

‘Ek leef in suiwerder verlange na jou as ooit tevore. Toe ek klein was, het my ma my soet gehou met ‘moenie liewejesus se hart seermaak nie’ Wees jy, my kokon, my liewe jesus. Dat ek in elke ding, elke dag, eers vra: is ek hierin waardig aan jou liefde’.

.

 (‘Kokon’ – die omhulsel waarin papies van skoenlappers toegespin word. André gebruik allerlei metafore vir aanspreekvorme by sy briewe. Hier is dit die pudenda, die privaatdele. Oral is daar sulke naampies waarmee briewe begin – meer by André as by Ingrid. Soos ‘Lagkind, my Kokon’; ‘Liefste liefling, ‘Kontjie; ‘ Beminde soos aarde’, ens. Mens sou ‘n bloemlesing kon maak – maniere om hallo te sê vir jou geliefde!)

Jesus, waardigheid, verlange, gaan saam met die godsdiens. Waarhede soos hierdie, dink ek, is emosioneel geskryf, wat natuurlik natuurlik is; maar ek glo nie dat ware liefde – seksuele liefde – met die liefde vir Liewe Jesus  hand-aan-hand hoef te gaan nie.

4daa35345cd645878bae6fa107ca07e5

In sy beskrywing van die seksuele daad, en ook die romantiek daar om is dit die meesterlike skryfvermoë van André, en (ook van Ingrid –miskien aanvanklik ingegee deur die leidende skrywer) die literêre insig, die kennis van ander skrywers se werk. Dis ‘n bloemlesing van aanhalings en metafore en beskrywings. Maar die sterkste was die seksuele.

Maar André dig ook vir haar. Hy sê:

.

 ‘En – gek, sal jy sê –jy’t ‘n onvermoede iets in my oopgemaak en my aan die dig gemaak! G’n “hoë en dwingende taak”nie – maar dalk ‘n soort noodklep om ons paar, maar kosbare, dinge te besweer en te laat dúúr’.  En van tyd tot tyd stuur hy ‘n paar ‘pleegsels’ (24. Dit was einde April, 1963).  Op die 9de Mei antwoord sy op hierdie gedig van hom:  ‘Weet jy, my hartjie, hierdie gedig “selfs heiliges” van jou is die mees geslaagde een sover. Het jou reeds gesê: net die einde aard te veel na Van Wyk Louw: wil voorstel dat jy dit inperk en werk om dié reëls’.

Dan haal sy aan:

.

Selfs heiliges

moet tekens nalaat om onthou te word

‘en: maar méér poëties: Dan’ (Sê sy tussenin)

maar jy word onthou net deur my liggaam

‘en:’ (sé sy)

die manier waarop jou klein duiweborste nesgemaak het

in my hande;

en jou maagdelike stil soet slaap by my daarná.

Maar noudat jy weg is

en ek jou enigste argief

wie sal hom op die woord verlaat …

…klein vergeefse vergeetbare tekens …(45)

.

Sy sê ook daarby  …’ ek stem ook saam met jou en Durrell: “‘Love is a form of metaphysical enquiry'”. (Miskien eerder dit as ‘n gebed!). (41)

André reageer nie op haar aantwoord nie. Sy het ook bygeskryf, as Ns.

‘Hoe lank sal dit duur

oomblik van werklikheid

sonder die waansin

En in aanraking met die droom’ (46-7).

.

Dit sal boeiend wees om te probeer vasstel vasstel watter van Ingrid se gedigte verwys direk na die liefdsverhouding.

Rook en Oker verskyn in 1963. Mens sou miskien al daaruit iets kon lees. Byvoorbeeld het die laaste strofe van die eerste gedig daarin – ‘Op alle gesigte’- nie iets wat alreeds, aan die begin van die verhouding, iets van ‘n eindiging daarvan, veral die bloed wat ‘wil verander in water’?

.

‘My dae soek na die voertuig van jou liggaam

my dae soek na die gestalte van jou naam

altyd voor my in die pad van my oë

en my enigste vrees is besinning

wat jou bloed wil verander in water

wat jou naam wil verander in ‘n nommer

en jou oë ontsê soos ‘n herinnering’ (3)

.

Dis briewe van die verhouding vanaf  21 April 1963 tot 31 Desember 1963, met ander woorde na die verskyning van Rook en Oker (die hele verhouding het natuurlik aangegaan tot 1965).

In Junie 1963 is daar  die volgende gedig:

.

Ons

Vir André

.

Só sal jy áfsterf van my

soos jou vergeefse saad

nakend soos water      brandblink

soos laat

april

soos hande nakend

mooi soos verganklikheid

soos ‘n laaste woord

treurig soos bloed

geen kleine

nét

dié kleine dood

Môre brandblink ons onverwekte

saad     die môre

breek aan die bloeisels

nuwe meisies soos maagde

môre

sterf en en jy                                    (Versamelde werke 91)

.

André probeer nóg gedigte skryf. Dit word later minder en minder!

Ek haal net enkele reëls uit ‘n later een aan:

.

‘Kon mens maar sonder sê

van liefhê liefhê

wéés

sodat niks gemeet hoef te word

aan die tyd nie

want hoe lank duur duur?

is? is? …..  (77)

.

Maar die liefde sterf.  Van André se kant af? Ek kan nie eintlik vasstel nie, behalwe dat hy ‘n ander vrou gekry het.

Hy en Ingrid se verhouding het twee jaar geduur, van April 1963 tot April 1965 (dit lyk asof dit beplan kon gewees het!)

Sy voorlaaste brief bring die Here by:

.

‘Twee jaar.

Ja, twee jaar. Loof die Here o my siel, en alles wat in my is, Sy Heilige Naam. Maar:

‘April is the cruellest month, breeding

Lilacs out of the dead land    …..’

.

Eers loof hy die Here (wat dan natuurlik deel van hulle liefde was!), dan haal hy aan ‘n strofe uit T S Eliot se Waste Land. Met April as eerste woord!

Die laaste brief is dan:

.

‘April

Lief kind, sit by my en luister  …..

….Ja, ek was toe by haar (Salomé). En ons het saam geslaap.

Ek staan nakend voor jou; ek wíl geen klere of beskutting behou nie.

Ek mag nie eens vergiffenis vra nie, want dit  impliseer skuld – en net so min as wat ek ooit skuld kan voel oor my en jou, kan ek dit hieroor voel’

.

Aan die begin het ek aangehaal dat André gesê het dat ‘die seksdaad is die seksuele aktiwiteit van gebed .. die belydenis van sonde’. Nou, wanneer hy afskeid neem van Ingrid sê hy dat hy by ‘n ander vrou gelaap het –en dat hy nie om vergiffenis vra nie want dit impliseer skuld .

Maar nou is dit nie die belydenis van sonde nie! En is seks dan nou nog ‘n gebed?

.

© Ampie Coetzee (Maart, 2016)

.