Posts Tagged ‘André Jolles’

Marlies Taljard: Hoe vou ʼn mens sy liggaam in die vorms van woorde (Deel 3)

Friday, June 12th, 2015

The hunted – Maureen Quin

ʼn Paar weke gelede, in my tweede blog oor Heilna du Plooy se gedigreeks Die jag, het ek probeer aantoon dat die reeks nie ʼn blote poëtiese beskrywing of ʼn eenvoudige herinterpretasie van Maureen Quin se reeks beeldhouwerke, The hunt, is nie. Sy struktureer die reeks doelbewus met inagneming van Aristoteles se beskrywing van die tragedie en maak selfs van sy terminologie gebruik om haar werkwyse openbaar te maak. In hierdie blog wil ek enkele opmerkings maak oor die mitologiese inhoud van die gedigreeks, asook oor die metaforiese struktuur van die reeks met betrekking tot die beelde wat as inspirasie daarvoor gedien het. Ek beoog nie om ʼn volledige argument te voer of selfs om ʼn omvattende interpretasie te verskaf nie – ek laat dit aan die leser oor en hoop dat iemand deur dié reeks blogs geïnspireer sal word om ʼn artikel oor hierdie interessante reeks gedigte te skryf.

Die jag as mite

In The Grail Legend skryf Emma Jung en Marie-Louise von Franz: “The fascination and vitality of myths and fairy-tales lie precisely in the fact that they depict basic forms of human experience. For this very reason the same motifs are found the world over, not only as the result of migration but also because the human psyche which produces them is everywhere the same” (p.37) (…) Whenever a motif appears in such numerous repetitions or modifications, it indicates, psychologically, that it is not understood in consciousness, and that it will therefore emerge in ever new forms in an effort to gain attention (p.242).

Die meeste bronne is dit eens dat die mite ʼn universele of argetipiese waarheid bevat. Soms is dié waarheid ʼn skeppings- of ontstaansgeskiedenis, soms hou dit verband met abstrakte aspekte van die menslike bestaan. Lees ʼn mens Heilna du Plooy se “Gesprek met die beeldreeks The hunt van Maureen Quin”, Die jag, is dit onmiddellik duidelik dat die dramatiese gegewe wat die gedigte onderlê, mities van aard is.

Die gedigreeks Die jag begin met die gedig Die man wat hoofsaklik beskrywend van aard is en nou aansluit by die beeld Bushman. Die gedig fokus, soos die beeld, op die essensiële eienskappe van die mens: hy is “tot die essensiële been / en spiere afgeskaal”, hy het “ʼn regop rugstring”, spiere, ʼn “uitgestrekte nek” en ʼn “klein kop”. Die gewrigte werk soos ʼn hefboom. Die “regop rugstring” onderskei die mens van die dier. Ofskoon sy kop klein is, is daar reeds tekens van menslikheid in hierdie wese. Dat sy kop so klein is “soos van ʼn hotnotsgod” impliseer ʼn spirituele bewustheid – die hottentotsgod is ʼn mitologiese figuur van die Sangemeenskap. Intelligensie word gesuggereer deur die “instrument” wat die mens gemaak het “wat soos ʼn speer so skerp word / wanneer hy hom verweer.” Eties gesproke is die mens dus toerekeningsvatbaar.

Die volgende gedig, Die jagter, begin met ʼn beredenering, ek wil dit selfs ʼn motivering of ʼn verweer noem waarin dit duidelik gaan oor etiese kwessies:

Dit is normaal, die jag,

want mens en dier moet eet.

Albei staan skuldig en onskuldig –

hulle moor om te oorleef.

Dan volg ʼn beskrywing van die dier na aanleiding van die beeld The hunter: “Hy weet niks van pyn”. Vervolgens word die figuur van die mens beskryf: “Op die dier se kruis sit ʼn klein figuur” (…) “Hy weet dat hy weet van reg en verkeerd.” Die mens hou die dier “streng onder beheer.” Die slot van die gedig lui:

Van trillende neusvleuel tot stertkwas is die een natuur,

die ander dra in homself die toksiese vonk van kultuur.”

In hierdie gedig kom die basiese verskille tussen mens en dier aan bod – verskille wat uiteindelik sal lei tot die uitbuiting van alles wat nie-mens is, deur die mens.

In gedig III, Jag, n.a.v. die beeld Chase I, word verder wegbeweeg van die beeld as sodanig en word die gegewe van die jag geabstraheer tot magsmisbruik as sodanig:

Iets of iemand moet val.

Dis nodig en dis mooi.

En jammer vir die prooi.

.

Weer en weer kom ʼn vyand,

ʼn versoeking van olie of goud.

Almal omhels die geleentheid

want vrede verveel en rus raak oorbodig.

(…)

Die gewete oor noodsaak

en wil eindelik afgelê,

word die spel suiwer stryd.

Beplande konfrontasie voed

die verslawing, die ekstase,

die euforie van mag in die kryt.

In gedig IV, Die prooi (n.a.v. The hunted) verskuif die perspektief van die jagter wat vasgevang is in die euforie van mag, na die gejagde. Die jagluiperd word in die beeldreeks nou met ʼn perd vervang en Du Plooy verreken hierdie verandering deur verwysing na een van die bekendste anti-oorlogkunswerke, namlik Pablo Picasso se Guernica (1937) waaarin die skreeuende perd simbool word van die verskrikking van die Spaanse Burgeroorlog. Die skildery, in skakerings van swart, grys en wit is 3.5 meter breed en 11.8 meter lank en beeld die geweld en vernietiging van die oorlog uit deur te fokus op die swaarkry van mense en diere en die vernietiging van geboue. In du Plooy se gedig, wat die “verskroeiende hitte van die geveg” uitbeeld, klink die slot só:

en in die pandemonium

is dit uiteindelik

die perd wat sy bek

erbarmlik

wyd ooprek

en hartverskeurend skreeu.

Hier het die digter geheel en al wegbeweeg van die beeldgegewe na ʼn interteks wat met dieselfde tematiese materiaal as die Quin-beeld werk.

Gedig V, Naweë, (n.a.v. The kill) bevat, in Aristoteles se terminologie, die peripeteia of ommekeer: die mens raak bewus van sy boosaardigheid en morele ontaarding. Hy “smag … na ouwêreldse woorde / van ʼn kanonieke profeet”. En dan kom die “profeet” aan die woord met verwysing na die beeld Pietà:

Pieta - Maueen Quin

Pieta – Maueen Quin

“Voordat jy omdraai

en wegloop, sal jy

jou slagoffer opneem.

.

Jy sal hom op jou skouer dra

of op jou rug, en waar jy sit,

sal hy lê op jou skoot.

.

“In jou huis sal hy saans

oor jou bene hang,

om jou knieë vou

soos ʼn swaar koue karos,

sy slap en leë lewensvel

jou doodskleed van verwyt.

.

“Jy sal oor hom buig

en treur, jou skouers

krom geknakte vlerke.

Ver vooroor sal jy hang

vanweë jou wonde

en sy pyn sal jy dra.”

In die slotstrofe van die gedig kom die abstrakte verteller weer aan die woord:

Sou jy, in die aanloop,

by die aanhef van die stryd

jouself só kon vooruitsien?

Jy, in hierdie diepste rou?

Jy, wat so goed geweet het wat jy wou?

En kán jy dit wel dra, die smart van ʼn pietà?

Gedig VI, Anagnorisis (wat die beelde Grief, Remorse, Devastation en Supplication betrek), beeld die insig van die mens in sy onbenydenswaardige, hopelose posisie uit. Soos in die vorige gedigte, werk ook hierdie gedig lankal nie meer met die fisiese beelde wat die primêre interteks van die gedigreeks vorm nie. Hier handel dit om argetipiese, abstrakte waarhede:

Was daar in elke geval ooit iemand

eerlik in die lengte en die breedte,

die hoogte en die diepte

van oerwoorde soos berou,

belydenis, boetedoening

en verootmoediging?

Dan kom die profetiese woorde van die orakel/profeet weer tot die mens:

“Teen die grond sal jy huil

omdat jy weerloos is.

Jy sal jou handpalms

oop hou, omgedraai na boontoe

want as jy nog wil lewe,

moet jy versoening soek

oor mense en oor diere.”

Die laaste gedig van die groep, VII Pathos (n.a.v. The ultimate sacrifice) suggereer die laaste deel van Aristoteles se tragedie, naamlik lyding. In hierdie gedig word ʼn reddende wese wat ooreenkoms met die Christus-figuur vertoon, deur ʼn vrou geoffer. Hierdie gedig beskryf, soos die eerste gedig in die reeks, die beeld van Quin redelik getrou. Die implikasie is dat die mens nie self die skade kan goedmaak wat hy aangerig het nie, maar dat hy ʼn (R)redder nodig het, soos dit in die vorige gedig deur die profeet/orakel waargesê word:

The ultimate sacrifice - Maureen Quin

The ultimate sacrifice – Maureen Quin

“Woordeloos sal jy jou skuld

moet toelaat om jou te oorspoel.

Totdat die storm uitgewoed is,

sal jy vergeefs jou arms oopgooi

om die verlorenes vas te hou.

Op jou knieë sal jy vra

dat jy vergewe word.”

Met inagneming van die bostaande beskrywing van die gedigreeks van Heilna du Plooy, is dit insiggewend om te kyk na die beskrywing wat André Jolles in sy boek Einfache Formen (1930) van die mite gee. Daaruit blyk des te meer die sterk mitologiese aard van die gediggegewe.

Dit is veelbetekenend dat die digter die gedigreeks juis ʼn “gesprek” noem – veral as in ag geneem word dat André Jolles die mite basies beskou as ʼn vraag en ʼn antwoord. Jolles beskryf die essensie van die mite soos volg: “Es ist etwas vorangegangen, und dieses Etwas war eine Frage, waren viele Fragen. Und nun geht dem Fragenden eine Antwort zu. Diese Antwort ist so, daß keine weitere Frage gestellt werden kann, so, daß im Augenblicke, da sie gegeben wird, die Frage erlischt; diese Antwort ist entscheidend, sie ist bündig.” (Iets het gebeur, en hierdie iets was ʼn vraag, baie vrae. En nou word aan die vraagsteller ʼn antwoord verskaf. Hierdie antwoord is van so ʼn aard dat geen verdere vrae gestel kan word nie, so dat op die oomblik waarop die antwoord verskaf word, die vraag verdwyn; die antwoord is finaal en bondig.) Die mens is die vraagsteller wat die wêreld waarbinne hy leef, wil verstaan – nie net die tasbare dinge soos die son, maan en sterre nie (vgl. Genesis 1), maar ook metafisiese verskynsels. Die antwoord op hierdie vrae, wat altyd algemeen-menslik, universeel of argetipies van aard is, is die mite. Jung en Franz verwys daarna as “basic forms of human experience”.

Jolles trek verder ʼn interessante verband tussen die mite en die orakel soos dit byvoorbeeld by Herodotus voorkom. Die orakel word geraadpleeg met die veronderstelling dat ʼn antwoord verskaf sal word op ʼn dwingende vraag. Jolles stel dit egter duidelik dat dit, anders as by die orakel, in die mite nie sommer gaan oor enige willekeurige vraag nie, maar oor iets wat vir alle mense en alle tye geld. Die mite en die orakel hoort volgens Jolles tot dieselfde Geistesbeschäftigung of geestesaktiwiteit. Beide is waarsegging (waar-segging; dit sê die waarheid). Ook die woord “openbaring” sou gebruik kon word om die mitiese aktiwiteit te beskryf, maar dan met dié voorbehoud dat dit nie in die teologiese sin gebruik word waarin die wil van God of die gode direk geopenbaar word nie, maar wel in die sin van “oopmaak” van dit wat vir die mens verborge is/was. Hierdie aktiwiteit kom ook in Du Plooy se gedigreeks voor, naamlik in die profetiese woorde van die “kanonieke profeet” wat die lot van die mens, soos dit deur homself en sy immorele optrede bepaal is, uitlê (waar-sê).

ʼn Derde interessante opmerking wat Jolles oor die mite maak, is dat wanneer mense in die hoogste nood verkeer, die moontlikheid bestaan dat ʼn reddende wese mag verskyn om hom ʼn uitweg uit sy lyding te bied. Hierdie wese is “von höherer, besonderer Art” (hoog en besonders van aard) – ʼn nie-geslagtelike wese ʼn tipe androgene god) wat egter die vorm van ʼn maagd of ʼn jongman kan aanneem. So ʼn reddende figuur is byvoorbeeld Johanna van Arkel of, soos Jolles aanvoer, Athena wat die Grieke help in die Trojaanse Oorlog deur spiese van hulle af te wend en hulle krag te gee. Sy/hy veg egter nie self nie. Jesus Christus is ʼn tipiese voorbeeld van so ʼn reddende figuur (soos deur die Quin-beeld en Du Plooy se gedig gesuggereer), asook die goddelike Uschas in die Rigveda wat, net soos Athena, op ʼn strydwa verskyn met oorlogwapens toegerus.

Die mite, soos André Jolles dit verstaan, werk soos volg: “Die Wett der Mythe ist keine Welt in der es heute so und morgen anders zugeht, in der etwas kommen, aber auch ausbleiben kann; sie ist eine Welt, die Befestigung sucht, eine feste Welt.” (Die wêreld van die mite is nie ʼn wêreld waarin dit vandag so en môre anders gaan nie, ʼn wêreld waarin iets net sowel kan gebeur as nie gebeur nie; dit is ʼn wêreld wat soek na standvastigheid, ʼn vaste wêreld.) Dus ʼn wêreld wat deur alle mense verstaan en begryp kan word, ongeag waar hulle hulleself in tyd of ruimte bevind, in hierdie geval ʼn wêreld van die gees waarin die verbod op moord en die opdrag van naasteliefde ʼn universele etiese ingesteldheid is.

Beskou in die lig van hierdie siening van die mite, is dit duidelik dat die gedigreeks Die jag mities van aard is. Die reeks gedigte wil die argetipiese inhoud wat deur die beeldreeks gesuggereer word, deur middel van die poësie verryk, toelig en nuutbedink. Dit is nie ʼn poging om die beeldreeks te beskryf nie, maar – soos in die mite – word ʼn vraag aan die reeks beelde gestel ten opsigte van hulle betekenis, en die antwoord kom in die vorm van argetipiese, algemeen-menslike insigte, profesieë en simbole. Hierdie verhouding word, retories gesproke, ook verteenwoordig deur die metafoor.

Die jag as metafoor

Die mite en die metafoor is inherent verwant aan mekaar. Randall O. Steward skryf: “As we study the ancient myths, we discover we are actually dealing with metaphors – visual and colourful figures of speech used to add depth and meaning to an idea (…) [The Greeks] believed in their myths, but only figuratively, and they were mostly speaking about their own humanity.” In Metaphor and paradox sê Thomas Ross: “The transformational power of language is an opening into myth. Myth, like metaphor, is a way of thinking about one order of things in terms of a different order (…) Myth permits a way of thinking about what we mortals mean in terms of the gods we are not.” Ten opsigte van die ikoniese beeldhouwerke wat deel uitmaak van The hunt, is die gedigreeks Die jag ʼn poging om die beelde te transformeer na ʼn ander medium, naamlik poëtiese taal, om ʼn slag anders te dink oor die beelde, ander sintuie te gebruik in terme van betekenisgewing en om die onsegbare wat in die ikoniese beeldhouwerke skuil, talig te suggereer. ʼn Mens sou kon beweer dat Du Plooy se gedigte in dieselfde verhouding ten opsigte van die beeldreeks staan, as wat ʼn metafoor ten opsigte van ʼn gedig of ʼn stuk prosa of enige ander taaluiting staan. In die woorde van William H. Gass: “We use metaphor when description, explanation and theory fall short. A metaphor moves toward meaning by circling around definition, description and explanation (…) It presents to the mind one thing in order that the mind may seem to have posession of another” (Fiction and figures of life).

Soos by die mite, is die aard van die metafoor ook dat ʼn algemeen-geldende “waarheid” daardeur geïmpliseer word. Ek wil ʼn laaste aanhaling as motivering aanbied. Joseph Campbell (Thou art that, p.91) beskryf die werking van die metafoor soos volg: “These [metaphorical] images must point past themselves to that ultimate truth which must be told: that life does not have any one absolutely fixed meaning. These images must point past all meanings given, beyond all definitions and relationships, to that really ineffable mystery that is just the existence, the being of ourselves and of our world. If we give that mystery an exact meaning we diminish the experience of its real depth. But when a poet carries the mind into a context of meanings and then pitches it past those, one knows that marvelous rapture that comes from going past all categories of definition. Here we sense the function of metaphor that allows us to make a journey we could not otherwise make, past all categories of definition.”

Deur haar gedigte oor die Quin-beelde wil Heilna du Plooy onder andere te kenne gee dat die beelde nie deur middel van letterlike woordbetekenis gerepresenteer kan word nie. Daarom maak sy van ʼn ander kodestelsel, naamlik die mite wat by wyse van ʼn poëtiese teks aangebied word, gebruik om aan te toon dat daar ʼn argetipiese waarheid aan dié beelde kleef, wat nie deur woorde (of beelde) gerepresenteer kan word nie, ʼn waarheid waaroor slegs deur middel van die mite en die metafoor, waarin die essensie ongesê bly, aangeraak kan word.