Posts Tagged ‘André P. Brink’

Louis Esterhuizen. Ons bloedband met grond

Friday, May 27th, 2011
No Master's Voice

No Master's Voice

Vanoggend ontvang ek die kostelike foto hiernaas van een van ons gewaardeerde krygers en meteens plaas dit sy mees onlangse bundel, die beginsel van stof, in ‘n totaal ánder perspektief. Die rede daarvoor is waarskynlik omrede die kwessie van grond nog altyd ‘n hoogs kontensieuse en emotiewe aangeleentheid is; in hoofsaak vanweë die feit dat ‘grond’ deur al die eeue heen ten nouste verweef lê met ‘magsbasis’ en ‘identiteit’. Trouens, ek wonder of daar enige Afrikaanssprekende in hierdie land is wat nie iewers in sy of haar verlede met ‘plaas’ en ‘grond’ te make gehad het nie …

En so is dit ook gesteld met ons digkuns. Van ons vroegste digters al. So het ek in my soeke na toepaslike gedigte op ‘n hele klomp afgekom; gedigte deur Jan FE Celliers, Totius, Leipoldt, JJ Oosthuizen, JRL Van Bruggen, Eitemal. Ook by latere geslagte soos CM & Toon van den Heever, Watermeyer en natuurlik DJ Opperman:

 

BOER

 

Hy stap van soggens vroeg
    agter vier osse
          en die ploeg,

om aarde, son en wind
    en reëen in mielies
          te verbind;

in ryke saad waaruit
    fabriek en stad en
          nasie spruit.

 

(D.J. Opperman)

 

Bogenoemde vers vind dan ook ‘n treffende weerklank met die volgende reëls uit die beginsel van stof (p.85):

 

die doolvolk dans

met ligte tred

in die donker:

o, bewussyn is

‘n stippellyn herinneringe

aan die ondergrondse baarmoeder

 

(Breyten Breytenbach)

 

Die aangenaamste ontdekking was egter die artikel oor André P. Brink se deelname aan en publikasies in die  ikoniese jeugblad Jongspan wat deur Adinda Vermaak geskryf is en volledig op Storiewerf gelees kan word. Inderdaad ‘n ongelooflike stuk navorsing en boeiend geskryf. Wat my egter getref het, is die jeugverse van etlike bekende digters en skrywers vandag wat deur Adinda Vermaak by haar artikel betrek word; nie net vanweë die vroeë aanduiding van talent wat daaruit blyk nie, maar ook vanweë die tematiese verweefdheid met júís die kwessies van grond.

In die uitgawe van 1 Maart 1946 is daar byvoorbeeld die volgende sonnet uit die pen van die elfjarige Hennie Aucamp:

 

Boereplaas

 

As die son agter die bergtop verdwyn
En die lug gekleur is in ‘n bad van karmosyn,
Dink ek aan ons ou boereplaas
Nou geheel in ‘n skemer waas.

En ek verlang, O! ek verlang om te hoor
Die beeste-geloei wat my so bekoor:
‘n Treurige liedjie van ou aia Raal
As sy by die put gaan water haal.

E sien my ou moedertjie, al roepend na my:
Kom in nou, my kindjie, die windjie sny.
So mooi is sy as die windjie speel
met haar gryse haartjies van ferweel.
Ek hoor die paddas kwaak en raas

En ek verlang dan na ons ou boereplaas.

 

Met in die daaropvolgende uitgawe van 15 Maart 1946, die volgende gedig deur einste André P. Brink; eweneens 11 jaar oud:

 

In die vlei

 

Daar onder in die vlei
Zoem, zoem ‘n by -
En skoenlappers bont
Die vlieg daar rond
Om sap uit die blomme te suig.

Die voëltjies is daar
In klompies bymekaar,
Hulle vlieg en sing,
Bou nessies in ‘n kring
Van stokkies, grassies en strooi.

Twiet, twiet, twieretwiet!
Fluit ‘n vink in die riet.
O, kom saam met my
Na die voëls in die vlei,
Want dis vrolik, so vrolik daar!

 

Ai, watter leesplesier is dié artikel nie! Daar is nog sommer heelwat interessante verwysings en vertellings oor veral die jonge André Brink se soeke na marmotjies en sywurms en enkele maande later weer wanneer hy marmotjies en sywurms te koop aanbied; en ook die handel wat hy met tweedehandse boeke via Jongspan bedryf het: “Op 26 Januarie 1951 het hy (APB) boeke om te verkoop, boeke ‘wat nog almal sonder ‘n merkie of kolletjie is’, onder andere, Geluksvoël van Allah, Jakkals en Wolf (Dele 4 & 5), Oom Kaspaas, Stories van toeka se dae en Avonture van Pinokkio. Tant Ans voeg by:’By elke drie wat bestel word, sal André nog een geadverteerde boek gratis gee. As julle ontevrede is met die kopie, kan julle dit weer terugstuur’.”

 

Gaan lees gerus die volledige artikel op Storiewerf se webtuiste.

 

Maar - terug na ons tema van grond. By wyse van groet en kopknik na ons gestileerde kryger op die foto hierbo, nog twee toepaslike gedigte:

 

DIE BOEREVROU

 

Haar wese is erns: sy gaan haar weg in swye,
gehoorsaam op die lange weg van lye-
Suid-Afrika, u moeder in haar wee-
Wat aan die wêreld ‘n nasie gee.

 

Jan F.E. Celliers (Uit: Die Vlakte; Nas. Pers. )

 

***

 

O, BOEREPLAAS

Woorde: C.F. VISSER
Musiek: “Der Tannenbaum”, gewysig; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.

O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.

O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

 

 

Die ongeliefde Jean-Paul Sarte

Wednesday, July 28th, 2010
Jean-Paul Sartre

Jean-Paul Sartre

Dit is darem fassinerend hoe intellektuele en skrywers uit die openbare oog kan verdwyn; of, wanneer hulle daar bly, stelselmatig verander word in figure van minagting. So asof hulle nagedagtenis moet boet vir die roem en bewondering wat ons voorheen aan hulle verleen het!

Jean-Paul Sartre is so ‘n figuur. Op sy dag was hy seker die mees beroemde filosoof op aarde, en boonop die eerste en enigste skrywer wat nog ooit die Nobelprys vir Letterkunde van die hand gewys het. Maar is daar iemand wat hom nog lees? Of hom selfs ernstig opneem as skrywer en denker?

Dit blyk asof Sartre die karikatuur geword het van die selfbelangrike, obskure en boheemse Paryse intellektueel; van die tipiese kampusradikaal met sy idealistiese, soms sentimentele en dikwels opportunistiese politieke oortuigings en kwasi-intervensies. Filosofies het hy die absolute teenpool, en selfs die teiken, geword vir feitlik elke intellektuele beweging in Frankryk sedert die strukturalisme van Levi-Strauss. Van regs is hy sedert die 1970’s aangeval as ‘n hardvogtige, siniese ondersteuner van die Stalinisme en ander vorme van totalitarisme en ‘n slagoffer van oordrewe Euro-selfhaat oor kolonialisme. Van links is hy aangeval as beide inkonsekwent in sy marxisme en naïef in sy geloof in menslike vryheid en agentskap.

En as ’n skrywer van letterkundige werke? In twee artikels oor Camus wat laasjaar in die BY verskyn het maak André P. Brink geen geheim van sy minagting van Sartre nie. Hy noem hom ‘n “blinkboetie” wat neergesien het op Camus se arm herkoms en afgunstig was op sy sukses; ‘n “vername heer” wat ”te papbroekig was om self ’n negatiewe resensie te skryf [oor 'n boek van Camus] en liewer ’n snuiter van ’n student gevra het om Camus namens hom te beswadder.” Brink gaan so ver as om Sartre as ‘n “skeeloog-dwerg” te beskryf, nou nie juis die soort taalgebruik wat spreek van sensitiwiteit oor liggaamlike gebreke nie…

Daar is baie sulke voorbeelde. Minagting, irrasionele woede, agtelose afwysing: Sartre moet in sy graf wens hy kon eerder maar net van vergeet word! In werklikheid is Sartre darem ‘n veel meer komplekse figuur as wat sulke maklike, soms hete verdoeming suggereer. Sartre was ongetwyfeld een van die eerste Westerse filosowe wat ernstig aandag gegee het aan rassisme en kolonialisme — as maatskaplike en politieke kwessies maar ook as inherent aan die Westerse filosofiese tradisie. (In hierdie verband word sy vaderskap van die sg. postkoloniale teorie dikwels ten onregte onderbeklemtoon.) Hy het hom bemoei met die komplekse, dikwels teenstrydige prosesse van dekolonisasie, terwyl denkers soos Derrida en selfs Foucault amper geen aandag daaraan in hulle werk gegee het nie. So kan ’n mens aangaan; jy hoef nie ‘n eksistensialis te wees of Sartre se vele foute te oorsien om te besef dat hierdie denker en skrywer ‘n beduidende rol gespeel het in die desentrering van ‘n alte Eurosentriese politieke en filosofiese tradisie. 

Octavio Paz het ‘n kritisiese maar waarderende essay oor Sartre opgeneem in sy On Poets and Others, waarin hy onder meer die volgende skryf: “I believe he was not a good traveler: he had too many opinions. His real journeys he took around himself, shut up in his room. Sartre’s candor, his frankness and rectitude, impressed me as much as the solidity of his convictions. These two qualities were not at odds: his agility was that of the heavyweight boxer. He lacked grace but made up for it with a hearty, direct style. This lack of affectation was itself an affectation and could go beyond frankness to bluntness. Nonetheless, he welcomed the stranger cordially, and one guessed he was harsher with himself than with others. He was chubby and a little slow in movement; a round, unfinished face: more than a face, a ground plan of a face. The thick lenses of his spectacles made his person seem more remote. But one only had to hear him to forget his face. It’s odd: though Sartre has written subtle pages on the meaning of the look and the act of looking, the effect of his conversation was quite the opposite; he annulled the power of sight.”

Paz het Sartre persoonlik geken. Hulle het ernstige verskille gehad oor die filosofie, die letterkunde en die politiek, maar Paz se skets van Sartre is nogtans ruimhartiger en mensliker as Brink se minagtende en geniepsige verwysing na Sartre as ‘n “skeeloog dwerg”. Besluit maar self wie jy in hierdie verband bereid is om te glo, Brink of Octavio Paz… 

Indien jy belangstel om ‘n goeie herwaardering van Sartre se politieke denke te lees, spesifiek in die konteks van dekolonisering en die postkoloniale situasie, kan ek Paige Arthur se onlangse boek, Unfinished Projects: Decolonization and the Philosophy of Jean-Paul Sartre (Verso, 2010) van harte aanbeveel. Behalwe dat dit Sartre en ander Franse filosowe se werk polities kontekstualiseer, is dit ook ‘n goeie inleiding tot Sartre se belangrikste politieke geskrifte – onder andere sy veelbesproke inleiding tot Frantz Fanon se Black Skin, White Masks. Ek het baie lanklaas aan Sartre aandag gegee, maar hierdie was regtig ‘n openbarende boek.

Maar sou ek een van Sartre se romans of toneelstukke weer lees?        

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.