Posts Tagged ‘André Pretorius’

André Pretorius: Akhmatova - Die geteisterde mond waaruit ‘n honderd miljoen huil

Thursday, May 6th, 2010
André Pretorius

André Pretorius

André Pretorius kom oorspronklik van Marble Hall in Limpopo. Ná studie aan die Universiteit van Pretoria is hy in 1996 “vir ‘n jaar” na Londen. Daardie jaar het veertien jaar geword en hom geneem na Londen, Brussel en Hongkong. Tans woon en werk hy in Cambridge. Hy skryf gereeld vir Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte oor reis, wyn, musiek en internasionale aangeleenthede.

Vroeër vanjaar het sy boek met versamelde rubrieke, Iets ver en nuut, by Protea Boekhuis verskyn. “Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op reis niks duideliker nie as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.” (André Pretorius)

 

 

Die geteisterde mond waaruit ‘n honderd miljoen huil

Musikale legendes gedy tussen die pilare en kandelare van die St. Petersburg Filharmonia se Groot Saal: die klassieke wit lyne eggo met herinneringe aan Wagner, Rachmaninov, Oistrakh, Richter en ‘n leerskaar ander.  Vanaand, op die Oujaar van 2005, is daar egter net een naam op die program: Dmitrii Shostakovich.  Want 2006 is die eeufees van St. Petersburg se beroemdste musikale seun van die 20ste eeu.

    Shostakovich se musiek is nie die eerste wat by my opkom vir Oujaarsjolyt, maar die reeks kort “ballet”-stukke is ‘n openbaring - en ‘n ideale ouverture tot die partytjienag.  Na die pouse - en die ondraaglike soet Russiese sjampanje wat Petersburgers geniet - word die verhoog oorgeneem deur ‘n Pushkin-komedie lighartig gechoreografeer op Shostakovich se musiek.  Die tiener-ster van die Mariinskiy-balletskool - ‘n toonbeeld van die onbevlekte skoonheid van jeug - steel die kollig met sy grasieuse spronge.

  Maar agter die ydeltuitery van die musiek en daardie jeugdige onskuld - soos agter al die onweerstaanbare skoonheid van hierdie stad - lê ‘n donkerder geskiedenis.  In die pouse lig die waardige oubaas langs my die sluier: Shostakovich het hierdie ligsinnige film-musiek geskryf, vertel hy, nadat sy operastem in 1936 gesmoor is omdat Stalin - by monde van Pravda - gedink het sy Lady Macbeth of Mtsensk is “primitief en vulgêr”, “chaos eerder as musiek”.

  Vanaand se partytjiemusiek is dus ‘n roggeling van verwurgde kreatiwiteit, die treurlied van een van die 20ste eeu se grootste musici.  Hierdie tweeslagtigheid - tussen skoonheid en lyding, diep menslikheid en volslae ontmensliking - is ‘n St. Petersburg-leitmotif.  Dit is ‘n digotomie waaruit van die vorige eeu se roerendste kuns gebore is.

  Neem maar daardie ander konsert tussen hierdie mure: 9 Augustus 1942, toe Shostakovich ‘n stem gegee het aan St. Petersburg se lydende massas.  Dit was die middel van die donkerste episode in die geskiedenis van die stad, die Nazi-beleg van bykans 900 dae, waarin ‘n derde van haar inwoners - miskien ‘n miljoen siele - omgekom het.

  Shostakovich het sy Sewende - of “Leningrad” - Simfonie, begin skryf kort voor die beleg en opgedra aan die stad.  Met die Nazi’s aan die poorte van Leningrad het ‘n saamgeflanste orkes van afgetrede musici en soldate - tydelik teruggeroep van die front - die musiek vanuit hierdie bom-gekwetste saal laat weerklink deur die stad se verminkte strate.

  Die tere note van die fluit in die Adagio was uiteindelik kragtiger as die Duitse kartetse - in Januarie 1944 is die Beleg opgehef - en dit het uitdrukking gegee aan ‘n menslikheid wat duursamer was as Stalin se ideologie, wat een van die bloediger uitskotte op die ashoop van die 20ste eeu sou word.

  Menslikheid self was egter reeds in sy wordingsuur onder beleg in Pieter die Grote se stad aan die Neva-rivier.  Dit is ‘n uitheemse metropool, tot bestaan gewil deur tirannieke tsaars, ‘n onwaarskynlike praalstad gebou op die beendere en lyding van ontelbare Naamloses.

  Die tiranne se nalatenskap is St. Petersburg die Skone - die Barok-paleise, die skouspelagtige kerke, die imposante pleine, die weelde van haar kanaaluitsigte.  Die Naamloses het subtieler neerslag gevind in die werke van digters, komponiste en skilders.

    Die helde van hierdie ontmenslikende stad was dié - soos Shostakovich en Fyodor Dostoyevsky - wat hulle menslikheid behou het, individue wat te midde van die ongenaakbare narratief van die geskiedenis in ‘n stad met te veel geskiedenis, in die kleine bly tas het na die ontasbare, tydlose essensie van menswees.

  Onder hierdie helde is daar miskien geen groter nie as ‘n digter vir wie Shostakovich diepe agting gehad het en wat, soos hy, tydens die Beleg in die burgerbrandweer gedien het - daardie kolos van die Russiese digkuns in die vorige eeu, Anna Akhmatova, wat vanjaar 40 jaar gelede gesterf het.  Die agting was wedersyds: in ‘n digbundel wat sy aan hom geskenk het, het sy geskryf: “Aan Dmitrii Shostakovich, in wie se era ek leef”.

  Akhmatova se lewe is soos ‘n brose paneel waarop opgeteken is die ontstuimige geskiedenis van tsaristiese Rusland se doodstuipe en die Sowjet-monster wat daaruit gebore is.  Die tragedie van Rusland in die 20ste eeu was van ‘n omvang wat - letterlik - die verstand te bowe gaan.  “Mense” vind gestalte alleen in die anonimiteit van statistieke; “individue” is vervang deur miljoene.

  Uit hierdie anonieme massa is Akhmatova se digkuns ‘n wekroep, ‘n herinnering aan die individuele pyn - haar eie en dié van ander - waarop St. Petersburg se fondamente rus.  Sy is in 1889 in Odessa aan die Swart See gebore, maar het die grootste deel van haar lewe deurgebring in hierdie stad waarmee sy vir ewig vereenselwig sal word.

  Haar jeug was die sterwensuur van Imperiale Rusland, maar in die glinsterende hoofstad sou ‘n mens dit nie raai nie.  “The whole mournful city was drifting/Towards a destination nobody guessed“, sou sy later dig.  En Deel I van haar epiese gedig, Poem Without a Hero, heet “Die jaar 1913“.  Dit is ‘n evokasie van ‘n idilliese oomblik voor die Sondeval van 1917, maar die elegiese toon is onmisbaar: dit is geskryf in die donker dae van 1940, nadat haar eerste man tereggestel is, haar seun na Siberië verban is, ‘n tweede liefde gebroke teruggekeer het van die goelag, haar digkuns onderdruk is deur ‘n regime wat haar beskryf het as “iets tussen ‘n non en ‘n hoer”.

  Vandag word die relieke van haar lyding - en uiteindelike triomf - bewaar in ‘n museum in die eertydse Sheremetev-paleis aan die Fontanka-kanaal waar sy vir meer as 30 jaar so te sê ‘n gevangene was.  Die elegante wit-en-geel woning uit die 18e eeu is na die Oktober-revolusie opgedeel in woonstelle en kantore en een is aan Akhmatova toegeken.

  Op ‘n lessenaar in die studeerkamer staan ‘n klein asbakkie as tasbare band met haar roerendste gedig, Requiem.  Dit handel oor haar ontreddering na die inhegtenisname van haar minnaar, Nikolai Poenin, en haar seun deur die voorloper van die KGB, die NKVD.

  In die dodelike atmosfeer van Stalin se Terreur van 1936-37 kon Akhmatova dit nie waag om haar gedig neer te skryf nie.  Dus het ‘n vriendin periodiek kom kuier en terwyl hulle praat oor koeitjies en kalfies ter wille van die meeluisterapparaat, het die digter haar roudig koeplet vir koeplet neergeskryf vir haar vriendin om te memoriseer, en daarna die repies papier in die asbakkie verbrand.

  Hierdie woonstel was die toneel van haar wanhoop op die oggend van die arrestasie:

They took you away at daybreak.  Half wak-

ing as though at a wake, I followed.

In the dark chamber children were crying,

In the image-case, candlelight guttered“.

  Dit was ‘n tyd van lewende dood:

In those years only the dead smiled,

Glad to be at rest:

And Leningrad city swayed like

A needless appendix to its prisons“.

  En elke strofe spreek van ontmensliking, van ‘n ambivalente wil om te lewe.  Haar seun self, die een vir wie sy voor die Kresty-tronk tou gestaan het met kospakkies, word ‘n verskrikking, want in hierdie verwronge heelal was liefde ‘n wapen:

I’ve pleaded

-O my son, my terror!-grovelled

At the hangman’s feet.

All is confused eternally-

So much I can’t say who’s

Man, who’s beast any more.

  Maar dit was Akhmatova wat in ‘n radio-uitsending gedurende die Beleg die onblusbaarheid van die vroue van Leningrad geproklameer het - “Our descendants will honour every mother who lived at the time of the war…a city which has bred women like these cannot be conquered” - en reeds in die verklarende voorwoord by Requiem sein ‘n gesteelde glimlag die uiteindelike oorwinning van onthou:

In the fearful years of the Yezhov Terror, I spent seventeen months in prison queues in Leningrad.  One day somebody ‘identified’ me.  Beside me, in the queue, there was a woman with blue lips.  She had, of course, never heard of me; but she suddenly came out of that trance so common to us all and whispered in my ear (everybody spoke in whispers there):’Can you describe this?’  And I said: ‘Yes, I can’.  And then something like the shadow of a smile crossed what had once been her face“.

  Sy sou hulle stem wees, die Naamloses in die tronktoue van Leningrad; haar strofes sou hulle mensheid basuin.

  Maar haar eie lyding was onverdun.  Die NKVD sou haar nòg lewe gun, nòg dood: elke dag moes sy voor die venster van haar woonstel verskyn sodat die agent tussen die Sheremetevs se lindebome in die binnehof kon sien sy lewe nog.

  Kommer oor haar seun in Siberië het haar gedwing om te kruip - “I shall go creep to our wailing wall/Crawl to the Kremlin towers” - voor die tiran.  In die literêre uitstalling, tussen relieke van haar sirkel van verdoemdes - Poenin wat jare in die kampe deurgebring het, Osip Mandelstam wat in 1938 in ‘n kamp naby Vladivostok sou beswyk - is ‘n konsep-brief waarin sy Stalin smeek om genade vir haar kind. 

  Die stomme papier van die brief is ‘n slagveld vir twee kragte waaraan Akhmatova nie kon ontkom nie: die alledaags-menslike van haar eie lewe - liefde, private verlies, die kommer van ‘n ma, die individuele - en die groteske ontmensliking rondom haar, ter wille van ‘n hersenskim van die “kollektiewe”.

  Op ‘n ysige Januarie-aand bevind ek my aan die oewer van die Neva by ‘n beskeie gedenkteken vir daardie epiese konflik.  Oorkant die bevrore rivier met sy pakys is die Finland-stasie - waar Lenin se standbeeld steeds helder verlig staan - en die Kresty-tronk.  En op daardie plek, soos wagte voor die poorte van lyding, staan twee brons sfinks in hulde aan die slagoffers van St.Petersburg/Leningrad se geskiedenis, aan die Naamloses.

  Die beelde is klein, maar roerend.  Die sfinks se borste maak hulle onmiskenbaar vroulik - hoe dikwels is dit vrouens wat ly onder die geskiedenis wat mans maak.  Aan een kant van die gesig is die vlees weggestroop om die skedel en kaak te ontbloot, ‘n herdenking van die dood wat Sowjet-onderdrukking vir soveel miljoene gebring het, maar ook aan die volkome gestroopheid waarin selfs die lewendes moes bestaan.

  Die sfinks staan daar, stil en uitdrukkingloos, magteloos soos die toustaners van die 1930s.

  Dit is nie ‘n monument vir Akhmatova nie, maar dit herroep ‘n foto van Akhmatova waarop sy soos ‘n sfinks lê, en dit is ‘n brons-manifestasie van die slot-koeplette van Requiem:

And may the melting snow drop like tears

From my motionless bronze eyelids,

 

And the prison pigeons coo above me,

And the ships sail slowly down the Neva.

 

*Alle vertalings deur D.M Thomas in “Anna Akhmatova - Selected Poems“, Penguin, 1988.

 

André Pretorius

St. Petersburg

Januarie 2006

 

Epilogue

 

I

 

There I learned how faces fall apart,

How fear looks out from under the eyelids

How deep are the hieroglyphics

Cut by suffering on people’s cheeks.

There I learned how silver can inherit

The black, the ash-blond, overnight,

The smiles that faded from the poor in spirit,

Terror’s dry coughing sound.

And I pray not only for myself,

But also for all those who stood there

In bitter cold, or in the July heat,

Under that red blind prison-wall.

 

II

 

Again the hands of the clock are nearing

The unforgettable hour. I see, hear, touch

 

All of you: the cripple they had to support

Painfully to the end of the line; the moribund;

 

And the girl who would shake her beautiful head and

say:’I come here as if it were home’

 

I should like to call you all by name

But they have lost the lists….

 

I have woven for them a great shroud

Out of the poor words I overheard them speak.

 

I remember them always and everywhere,

And if they shut my tormented mouth,

 

Through which a hundred million of my people cry,

Let them remember me also….

 

And if ever in this country they should want

To build me a monument

 

I consent to that honour,

But only on condition that they

 

Erect it not on the sea-shore where I was born:

My last links there were broken long ago,

 

Nor by the stump in the Royal Garden’s

Where an inconsolable young shade is seeking me,

 

But here, where I stood for three hundred hours

And where they never, never opened the doors for me

 

Lest in blessed death I should forget

the grinding scream of the Black Marias,

 

The hideous clanging gate, the old

Woman wailing like a wounded beast.

 

And may the melting snow drop like tears

From my motionless bronze eyelids,

 

And the prison pigeons coo above me,

And the ships sail slowly down the Neva.

 

 

Omslag

Omslag

As Suid-Afrikaner wat in Engeland woon, het André Pretorius die geleentheid om plekke te besoek wat vir die meeste van ons net drome bly. Maar met sy uitstekende skryfwerk bring hy in hierdie boek talle van die eksotiese plekke naby sy lesers. Hy laat ons deel in die soektog na ‘n kelim in die mark van Marrakesj, in die nostalgie van Nobelpryswenner Orhan Pamuk se Istanboel, in die verhewe skoonheid van die St. Pieterskerk in Rome en in ‘n bootrit op die magtige Irrawaddy-rivier in Birma gedurende die reënseisoen wanneer dit voel asof die waters van hemel en aarde versmelt. Daar is ook vermaaklike oomblikke, soos wanneer hy aan ‘n wynproe-cum-marathon in die Medoc-vallei deelneem (met voorspelbare gevolge) en wanneer hy met net ‘n klein lappie as bedekking dit na ‘n openbare bad in Boedapest waag.

ISBN:9781869193553
Protea Boekhuis

 

© André Pretorius

 

André Pretorius. Federico García Lorca

Monday, May 3rd, 2010

André Pretorius

André Pretorius

André Pretorius kom oorspronklik van Marble Hall in Limpopo. Ná studie aan die Universiteit van Pretoria is hy in 1996 “vir ‘n jaar” na Londen. Daardie jaar het veertien jaar geword en hom geneem na Londen, Brussel en Hongkong. Tans woon en werk hy in Cambridge. Hy skryf gereeld vir Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte oor reis, wyn, musiek en internasionale aangeleenthede.

Vroeër vanjaar het sy boek met versamelde rubrieke, Iets ver en nuut, by Protea Boekhuis verskyn: “Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op reis niks duideliker nie as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.” (André Pretorius)

 

 

Die kuspad hierlangs heet die Camino de Ronda.  Dit eggo met herinneringe aan smokkelary - ‘n voetpad langs die baaitjies en oor die naakte heuwels van die Cap de Creus-skiereiland, waar die uitlopers van die Pireneë hulleself in die Middellandse See verloor. 

  In  die see-inhammetjie van Port Lligat staan Salvador Dali se fantasie van saamgeflanste vissershuisies.  In die eertydse vissersdorpie van Cadaqués maak elke hotel en drinkplek aanspraak op ‘n Dali-eggo, want Cadaqués was ‘n muse vir Surrealisme, Kubisme, Dali, Pablo Picasso, Georges Braque en vele ander.

  Maar die dorpie se witgekalkte huisies, opgestapel onder die kroon van die Santa Maria-kerkie, het nie alleen verfkwaste geinspireer nie.  Dit was ook waar een van Spanje se grootste digters een van die gelukkigste somers van sy kort - en dikwels tragiese - lewe deurgebring het.

  Die euforie van Federico García Lorca se verblyf by die Dali’s in die somer van 1925 het neerslag gevind in sy strofes:

 

            Cadaqués, balanced between the water and the hill,

            Raises steps and hides seashells.

            The wooden flutes still the air.

            An old sylvan god gives fruit to the children.

 

            Her fishermen sleep, undreaming, on the sand.

            On the high sea a rose serves them as compass.

            The horizon, free of wounded handkerchiefs,

            Merges the large crystals of fish and moon.

 

  Lorca se vriendskap met Dali was intens, maar hierdie was nie sy wêreld nie; nee, hy was ‘n kind van die warm suide, van daardie Spanje van elke cliché - bulgevegte, flamenco, siestas, fiestas, More en sigeuners - ‘n kind van Andalusië.  Soos ‘n latere skeppende gees wie se Spaanse stem ver buite die Spaanse wêreld gehoor word - die filmmaker Pedro Almodovar - lê Lorca se wortels in ‘n niksbeduidende plattelandse dorpie in die suide.

  Vir Almodovar was dit Calzada de Calatrava, vir Lorca Fuente Vaqueros op die vrugbare vlakte van die Vega wes van die ou Moorse hoofstad, Granada.  Met ‘n verkeerde afdraai van die snelweg tussen Granada en Seville het ons Fuente Vaqueros amper raakgery, maar uiteindelik het tyd ontbreek om Lorca se geboorteplek - deesdae ‘n museum met ‘n nuwe teater - te besoek.

  Maar dit is in Granada self, in ieder geval, dat die eggo’s van Lorca se ingesteldheid die helderste klink.  In sy dieptastende biografie* van die digter beskryf Ian Gibson die temas wat vir Lorca onlosmaaklik was van sy visie van Granada: “the terror of death, the fugacity of love, the inexorable passing of time“.

  Daardie elemente is deurlopende temas in Lorca se werke - die Sigeunerballades, die Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias, die Sonnets of Dark Love en die drie groot verhoogtragedies van sy laaste jare, Yerma, Blood Wedding en Die Huis van Bernarda Alba.

  Iets van Granada se verstrengeling van melankolie en skoonheid - wat Lorca noem die “spiritual density of Granada” - vind neerslag in Fracisco Villaespesa se reëltjies:

 

            The fountains of Granada

            Have you ever heard,

            in the perfumed, starry night,

            anything more sorrowful than their sad moan?

            All reposes in a vague enchantment

            in the fluid silver of the moon.

 

  En dit is ‘n verstrengling wat in Lorca - ‘n gay man in ‘n aartskonserwatiewe samelewing - telkens gestalte vind, hierdie begeerlikheid van die onhaalbare.  Die frustrasie van self-ontkenning, van ‘n onderdrukte identiteit, die pyn van onmoontlike liefde, het sy lewe en letterkunde oorheers - en uiteindelik bygedra tot sy voortydige dood.  Uys Krige skryf in die voorwoord tot sy Verse van Lorca dat “een van sy wesenstrekke ‘n diep tragiese sin vir die lewe is”.

  Seksuele onderdruktheid - en die tragiese gevolge daarvan - is ook die dramatiese motor van Bernarda Alba, die verhaal van ‘n despotiese weduwee-matriarg wat haar vyf dogters gevange hou teen die wêreld, net vir die weerspannige jongste om haar oor te gee aan wellus in die arms van Pepe el Romano en uiteindelik bevryding te vind in die lus van ‘n tou om haar nek in haar slaapkamer.

  Hierdie onmoontlikheid van liefde kleur alle skoonheid met skakerings van dood en verganklikheid - ‘n druppel gal in die soetste wyn - soos in Uys Krige se vertaling van Lied van die Helder Dood:

 

Daar is niemand wat wyl hy, verruk, in twee stralende oë staar,

nie die gapende oogkasse sien, leeg, sonder ligte.

 

  Dood is immer teenwoordig, sy konstante metgesel: “to keep fighting the duel to the death in which I am engaged with my heart and with poetry“, sê hy in 1929.  In dood en die viering daarvan - ‘n Andalusiese instink - word Lorca poësie, soos in Seville se skouspelagtige optogte tydens die week voor Paasfees: jare later sê ‘n Kubaanse digter “to meet Lorca in Seville in the middle of those religious processions was like meeting the very stuff of poetry“.

  En tog is hy nie ‘n ondubbelsinnig morbiede figuur nie.  Gibson beskryf ‘n joviale, innemende persoonlikheid, iemand wat sy vriende verheug met sy uitstekende klavierspel en besielende vertolkings van Andalusië se tradisionele musiek, maar ook iemand wat skielik te midde van die partytjie deur ‘n donker gees oorval kon word.  Hy was, skryf Gibson, “oddly melancholy despite the euphoria of his personality“.  En Lorca se eie beskrywing aan ‘n Amerikaanse vriend - “life is laughter amid a rosary of deaths” - vervat die eenheid van skoonheid en verlies, vreugde en pyn.

  Vandaar, miskien, sy intimiteit, met daardie dikwels geterroriseerde, legendariese inwoners van Spanje, die sigeuners.  Die sigeuners van sy tuisomgewing en die Sacromonte-grotte by Granada was vir hom inspirasie - hulle flamenco-musiek, hulle aardsheid soos ‘n eggo van ‘n baie ou Spanje, hulle status as buitestaanders en Antjie Somers vir die burgery van Andalusië.

  Uys Krige skryf “die sigeuner is vir [Lorca] ‘n simbool van die ou stryd tussen droom en werklikheid”.  En in een van sy Sigeunerballades, die Ballade van die Swart, Swart Leed verwoord hy hulle lot:

 

O leed van die sigeuners, leed

van dié blas sombere gelaat!

O leed wat altyd suiwer is,

altyd alleen, altyd verlaat.

O leed van die verborge bedding

en van die vér, vér daeraad!

 

  Geen instrument besing hierdie leed beter nie, as die kitaar.  Terwyl ons deur die voetheuwels van die Sierra Nevada suid van Granada ry, speel die Romero-broers Joaquin Rodrigo se Concerto vir Vier Kitare en in die akkoorde - om die beurt uitbundig en introspektief - eggo Uys Krige se lieflike verwerking van Lorca se gedig Kitaar:

 

Nou begin die vingers

deur die snare vaar:

vyf donker treurendes

 singende altegaar.

 Nou begin die klag

 van die kitaar.

Hy ween om die hartseer

wat die teerste vesels raak.

Hy ween om die dood

wat oor alle dinge waak.

Nutteloos

om hom stil te maak!

Onmoontlik

dat hy sy klag sal staak!

 

  Uiteindelik sou die snare ook vir hom treur: die datums van Lorca se kort leeftyd val presies saam met ‘n epog van onsekerheid in Spanje - en onsekerheid baar kreatiwiteit en, al te dikwels, dood.  Hy is gebore in 1898, die jaar van Spanje se neerlaag teen die VSA en die verlies van die land se laaste noemenswaardige kolonie in die Westelike Halfrond, Kuba.

  In die onstuimige 38 jaar tot die uitbreek van die Burgeroorlog in 1936 het regerings gekom en gegaan, die monargie het in 1931 geval en is vervang deur die Republiek en ‘n sosialistiese regering - die eerste linksgesinde regering in die Spaanse geskiedenis.

  Dit was ‘n beroering wat Lorca uiteindelik sy lewe sou kos.  Sy instinkte was progressief.  Sy steun was agter die sosialiste, eerder as die regse nasionaliste en die nuwe Falangiste-beweging van Primo de Rivera.  Miskien was dit vanselfsprekend vir ‘n avant garde digter, miskien ‘n rebellie teen die kleinburgerlike - en stoer regsgesinde - burgery van Granada, miskien ‘n gepoogde ontvlugting aan die versmorende greep van die - stoer regsgesinde - Katolieke Kerk in Spanje.

  Wat dit ook al was, dit het sy lot verbind aan dié van die sosialiste.  Tydens hulle bewindsoorname was Lorca se internasionale faam reeds gevestig en met regeringsteun het hy ‘n studentetoneelgeselskap op die been gebring - La Barraca.  In hulle blou oorpakke het hulle oor die lengte en breedte van Spanje teater na gewone mense gebring.

  In parke en op dorpspleine in stede en gehuggies het hulle opgetree; Uys Krige beskryf ‘n opvoering van ‘n Lope de Vega-drama deur La Barraca in ‘n park in Madrid in Augustus 1935 as een van die drie groot toneelondervindings van sy lewe.  JC Kannemeyer noem in sy biografie van Krige dat hy by daardie geleentheid ‘n afspraak gehad het om die digter-dramaturg te ontmoet, maar dat Krige laat was.

  Die twee skrywers sou uiteindelik nooit ontmoet nie, want ‘n jaar later was Lorca dood.  Sy hoë profiel het van hom ‘n haatfiguur vir regses gemaak.  Met die uitbreek van die Burgeroorlog in Julie 1936 het hy na Granada gevlug, maar binne ‘n maand het hy deel geword van die duisende slagoffers wat deur die plaaslike Falangiste in die heuwels naby Viznar tereggestel en in vlak grafte gegooi is.

  In die strate van Granada verkoop stalletjies vandag swart-en-wit poskaarte van die plaaslike boorling wat internasionale roem verwerf het, maar ry ‘n mens deur Viznar - ‘n mistroostige dorpie oos van Granada - na die toneel van sy dood, blyk die durende ongemak van Granada met die erfenis van Lorca.

  ‘n Gedenkpark is in 1986 hier opgerig: ‘n fontein, met ‘n gedenkmuur waarteen van Lorca se poësie in ysterrame aangebring is.  Maar die monument is verwaarloos: die ysterrame is verroes, die fontein is opgedroog, die plek lyk windverwaai en verinnerweer.  Dit is asof dit iets is wat Granada moes doen “ter wille van” - ‘n herinnering aan iets wat geriefliker is om te vergeet.  Eenkant is ‘n jong olyfboom geplant op die plek waar Lorca glo doodgeskiet is.  Een van sy teregstellers het later gespog dat hy Lorca “twee keer in die gat geskiet het as ‘n moffie”.

  Daardie gewelddadige dood op hierdie verlate heuwel was miskien die berugste sterfgeval in Spanje se drie jaar van bloedvergieting tussen 1936 en 1939.  En in die sinnelose geweld daarvan was dit ‘n eggo van een van Lorca se grootste gedigte, die Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias.

  Sanchez was ‘n stiervegter en vriend van Lorca wat jare na sy uittrede uit die ring besluit het om weer die muleta op te neem.  Op 11 Augustus 1934 is hy egter in die bulring van Manzanares deur ‘n horing deurboor en die volgende oggend is hy dood aan die gevolglike gangreen.

  Lorca se gedig is ‘n meditasie oor die dood:

 

            Ek wil dit nie sien nie!

 

            Op langs die trappe styg Ignatius

            met sy hele dood op sy skouers.

            Hy soek na die daeraad,

            maar daar was geen daeraad.

            Hy soek na sy vaste profiel,

            maar ‘n droom het hom mislei.

            Hy soek na sy pragtige liggaam

            en hy vind sy stromende bloed.

            Moenie vir my sê ek moet kyk nie!

 

  Oor die dood van Mejias, het hy volgens Gibson aan ‘n Franse skrywer gesê: “Ignacio se dood is soos my eie, soos die proeflopie vir myne”.  Lorca se lewe self was ‘n oordenking van sy eie dood - gelyktydig ‘n bron van vrees en van onweerstaanbare aantrekking.  Sy strofe in die Sigeunerballade, Dood van Antoñito, kon netso goed sy eie grafskrif gewees het:

 

            ‘n Engel, droewig, plaas ‘n kussing

onder sy donker lokke waar

vier ander engele, moeg van skaamte,

waak oor hom met ‘n kandelaar.

 

  Dit het ‘n maalkolk van botsende ideologieë en kleinlike haat gekos om die self-vervullende profesie te volbring.  Dit was asof Lorca se hele lewe ‘n voorspel was tot die slotwoorde van Ballade van die Bron:

 

Die lied verstom.

Die stemme swyg.

Die sterre staan

swart ingeryg.

Dis of die stilte

stiller neig.

Net skielik ginds

die see wat hyg.

 

* Federico Garcia Lorca - A Life, Faber & Faber, 1989.

** Afrikaanse vertalings: Uys Krige, Verse van Lorca, Human & Rousseau (1987)

*** Engelse vertalings: Ian Gibson.

 

André Pretorius

Andalusië

Junie 2006

 

Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias

 

IV

Afwesige siel

 

Die bul sal jou nie ken nie, nòg die vyeboom,

nòg die perde, nog die miere van jou eie huis.

Die kind sal jou nie ken nie, nòg die agtermiddag

want jy is dood vir altyd.

 

Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,

nòg die swart symantel waarop jy verdelg is.

Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie

want jy is dood vir altyd.

 

Die herfs sal kom met al sy slakkies,

trosse van mis en saamgehurkte heuwels,

maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie

want jy is dood vir altyd.

 

Want jy is dood vir altyd,

dood soos al die dooies van die Aarde,

soos al die dooies wat vergeet word,

soos ‘n klomp dooie brakke in ‘n hoop.

 

Niemand sal jou ken nie.  Nee.  Maar ek besing jou.

Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.

Die verhewe volwassenheid van jou begrip.

Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.

En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.

 

Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,

Van ‘n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.

Ek besing jou swier en jou kordaatheid met woorde wat kreun

En ek herinner my ‘n droewe wind deur die olywe.

 

 

 

Omslag

Omslag

As Suid-Afrikaner wat in Engeland woon, het André Pretorius die geleentheid om plekke te besoek wat vir die meeste van ons net drome bly. Maar met sy uitstekende skryfwerk bring hy in hierdie boek talle van die eksotiese plekke naby sy lesers. Hy laat ons deel in die soektog na ‘n kelim in die mark van Marrakesj, in die nostalgie van Nobelpryswenner Orhan Pamuk se Istanboel, in die verhewe skoonheid van die St. Pieterskerk in Rome en in ‘n bootrit op die magtige Irrawaddy-rivier in Birma gedurende die reënseisoen wanneer dit voel asof die waters van hemel en aarde versmelt. Daar is ook vermaaklike oomblikke, soos wanneer hy aan ‘n wynproe-cum-marathon in die Medoc-vallei deelneem (met voorspelbare gevolge) en wanneer hy met net ‘n klein lappie as bedekking dit na ‘n openbare bad in Boedapest waag.

ISBN: 9781869193553
Protea Boekhuis

 

 

© André Pretorius