Posts Tagged ‘Andries Bezuidenhout’

Loftus Marais. Die purper digter se kar gaan staan duskant Opraap in die Noordwes-provinsie

Friday, February 12th, 2016
rBrandstof“Brandstof”, olie op doek, Andries Bezuidenhout

 

Die purper digter se kar gaan staan duskant Opraap in die Noordwes-provinsie

Vir die uitstalling “Gas” met werke van Andries Bezuidenhout, Kirby van der Merwe en Hanné Koster.

.

Deel 1. Sy finansieel-verstandige voertuig, ’n afbetaalde Suzuki SX4, gee die gees naby Opraap. Die purper digter klim uit. Shostakovich op die CD-speler (hy glo nog vas in physical media.). Hy dra nie jeans nie, hy is klam in sy beige broek, ’n snit polities regs van cargo pants. Hy sug en is duidelik gespanne. Hy dink:

“Wat roggel in die enjindonkertes? ’n Petrol-prewel, weet-ek-wat? Geluid soos perkussiewe afblaas en toe staan ek stil. Ja god behoed my in die snikheet landskap sis die misterie in staalse skadu. Wat weet ek, wat plante, bome in hul wáre name inheems groet – halleria lucida, voelsitboom, die witgat en die saliehout, gaan lees daar in my veelbekroonde eerste bundel – nou moet ek die heiligskennis pleeg van enjinkap verhef, o tog die terme: krukas, stootklep, olietrempomp en die koppelbuis. En alles git omgeef van swaelbrandstofstank! My rug is seer. Ek is alleen. My oë vind die skouer van die pad en dit verflou in brokkies teer. ’n Pad wat skaam is vir homself. Dit krummel hier die grasbepolde nêrens in. Maar ek bepeins die heiningdraad se liminaliteit daar dialekties: Hoekom selfs met hakies lyk dit asof dit dalk orden eerder as verdeel? ’n Grens is ook ’n eie plek, ek pluk die spanning as ’n snaar, en terug die kar in, lugverkoeling, Shostakovich wat my laat bedaar.”

Deel 2. Later, buite ’n garage in Klerksdorp, staan die purper digter en wag vir ’n mechanic om klaar te maak. Hy kyk na die landskap om hom. Nou en dan stoot hy sy cuticles senuweeagtig terug, ’n gewoonte wat hy doelbewus gekweek het teen naelbytery. Hy dink:

“Beskou die leë plaassementdam net hieranderkant. Die skurfte van die wal so skokkend pokkerig absurd soos perlemoendop en die skadu wat dit gooi so swaar dit skyn die droë aardkors in te sink. Die motorwerktuigkundige, die petroljoggie, die kafee – ek sien hul nie as draers van die platteland nie, nee, die kapitaal selfs hier skuif stil tektonies onder alles. Die besete woer: Getalletjies daar op die petrolpomp blits digitaal. Die reuk van brandstof, ingewikkeld en beskryfbaar ja soos wyn, en ek besnuif oktaanboekette! Denke en die dekadensie. Dit is hierdie afgeskilferde klein tempeltjie van groot ekonomie, die afdak oop na eerste amber in die noorde skielik soos ’n basnoot vir tereggestelde Stepan Razin. Ek dwaal af, verskoning. Petrolstasie as die transmutasie van balansstaat – nommers omgesit hier voor my oë in konkrete maar beheerste plas en spatte. Kyk hoe staan die pompe, kierts die skildwagte van soewereine syfering. Saluut. Die akoliete of verraaiers of masjinerie, dit weet ek nie. Ek wend myself dan eerder tot die landskap. Smeersels smeersels wolke, grond wat deurslaan uit verweer, en vetplantskadus, en die takkies houtjies fyngebasde lootskiet wat so wiebelkruiselings bly wag vir vuurmaak in ’n herd geswart van roet en nag. Daar, ’n windpomp. Al die heuwels diakronies maar sy kolkkop tob sinchronies, inderdaad! Merk die opgerigte hierheid – of bedoel ek inderwaarheid dáárheid – van sy staan, tog met die soort gelatenheid wat mens kan sien in die gesig van elke oorlogveteraan. Windpomp, spreek my aan! Kerf die lugstroom, diep die oerkoel waters op, ons neem ons neem ons neem, of wydsbeen jy as gas hier op ’n byna ongetraakte horison? Jy tol jou Dada-blom.”

solitaire_“Solitaire Namibië”, fotodruk,  Hanné Koster

Deel 3. Die purper digter is ingeboek in ’n plattelandse gastehuis. Daar is ’n Wedgewood-nougatjie op sy kopkussing en die eerste donkerte van die nag buite sy vensters. Hy is moeg na die dag se gebeure. Hy dink:

“Soveel vertikale in die dorp, die skoorstene en stoeppilare, pale vir die telefoon se drade, straatligte en parkieswaaie, tekens vir verkeer, en stééds is daar net een beginsel hier: Die leë straat. Wat doen die ougeteerde dorpstraat – nooi of tart of niks-nie hy verwoed? En wat van grondpaaie wat tussendeur die skemerbosse doer en ongesiens vertak? Verstaan, die oog word sagter êrens heen gelei deur sand as deur verbousel, maar ek wil beklemtoon hierdie is geen liefdesbrief vir die natuur se windgeskonsekreerde rigtings nie. Dalk eerder wil ek dreig. Ja ek beny die mense hier hul ánderse soort tyd. Die vensterbank as tyd, en sifdeure as tyd, en bekerlappies as ’n mate wat nie meet nie, ook ’n grasspriet in ’n krakie in plaveisel in die ure van die dag, die monsteragtig-heiligheid van beeste, die buiteband waarin die kinders van ’n boomtak swaai, enorme nul waarin hul net so in kan klim. Daarenteen tel ek. Ek jambe soos ’n stadsjaap. Ek kan nie arriveer nie, want ek kan nie hierdie leegtes dekodeer nie. Môre sal ek verder ry. Die werktuigkundige se oë was heel jonk maar waterig, sy hande vuil maar oop. Sy rekeningbedrag was min en op sy oorpak was sy naam, hy heet toe “Maans van Huyssteen”. Bid jou aan, ’n agsteman, ’n KP-naam! ’n Begeleier van fossielverbranding met ’n skewe oogtand en vergrote neusporieë, Maans, begryp en respondeer dan: Hoekom skik die wêreld soms homself asof hy juis presies dan só gesien wil word? Die frons van gewels en die wip van blare en die son wat as belediging op glas of wit kan val. Dit ís nie ek of jy wat projekteer nie, daar is selfbewustheid, heer ek sweer, in landskap wat homself so aanbied as die waarheid. Van eensaamheid weet dié land niks, hy is ’n rofverslete strekking van ’n stelling van ’n ding wat in homself berús. L’envoi, en goeienaand groet ek vir u meneer Van Huyssteen hiermee dan: ’n Mens van watter orde rig sy blik op landskappe en word dan nét gesus?”

Oorlogveteraan Kaapse Kleurlingkorps“WW11 Oorlogveteraan Kaapse Kleurlingkorps”,olie op doek, Kirby van der Merwe

© loftus marais / 2016

Nini Bennett. Openbare vervoer as teater van sosiale protes.

Monday, November 30th, 2015

train surfing

In 2012 word ek genader om ’n kort boekoorsig oor Imraan Coovadia se roman, The Institute for Taxi Poetry vir ’n vrouetydskrif te doen. Die verhaal handel oor fiktiewe taxi-digters in Kaapstad, en hoe die pendelaars sin probeer maak uit hulle alledaagse bestaan deur die skryf van poësie: die werkersklas se lief en leef en protes vind gestalte in digterlike vlugskrifte. Die volgende raak beskrywing val my op: The taxi poet, according to Adam, is “a chimera, part politician, part social worker, part navigator and banker, nurse and first responder. His function is to record “all the shifting sensations, impressions, and moving feelings,” some of which are so enigmatic that they can only be inserted into public memory by the poet. Implicit in these definitions of the characteristics of a taxi poet is the textualisation of contemporary concerns via the medium of poetry by an “everyman” figure. It may thus be inferred that the taxi poet is located in the nexus between public and private memory. Die volledige resensie deur Thando Njovane is hier. (http://www.litnet.co.za/a-national-treasure-imraan-coovadias-the-institute-for-taxi-poetry/).

Ek open ’n nuwe dokument op my rekenaar met die hofie: Openbare vervoer as teater van sosiale protes.

Op 1 Desember word daar wêreldwyd hulde gebring aan die menseregte-aktivis, Rosa Parks. In 1955 is Parks gearresteer nadat sy geweier het om haar sitplek in ’n bus af te staan aan ’n wit persoon, aangesien die wit gedeelte van die bus reeds beset was. Op 5 Desember 1955 is Parks skuldig bevind aan ‘n oortreding van rasseskeidingswetgewing. Menseregteleiers soos Martin Luther King jr en ED Nixon het die Montgomery-busboikot die dag van Parks se verhoor gelei, wat om die beurt aanleiding gegee het tot verskeie hervormings in die VSA.  Die 1987-Pulitzer-pryswenner en digter, Rita Dove, bring só hulde aan Parks:

 

Rosa

 

How she sat there,

the time right inside a place

so wrong it was ready.

 

That trim name with

its dream of a bench

to rest on. Her sensible coat.

 

Doing nothing was the doing:

the clean flame of her gaze

carved by a camera flash.

 

How she stood up

when they bent down to retrieve

her purse. That courtesy.

parks in bus

In Adam Small se bundel, Kitaar my kruis, word ’n Kaapse rasse-insident op ’n bus beskryf. Die gedig Vryheid toon merkwaardige ooreenkomste met Parks se verhaal. Vervolgens enkele gedeeltes uit hierdie lang gedig:

 

die leuen kry gestalte

toe ons die bus na Wynberg haal terug

die middag by die 15de bushalte

ons klim die trap, die bus is agter vol

oorvol

agter waar ons, die bruines sit, mág sit

[…]

deel van die droewe hel van hierdie rit

agt sitplekke is oop voorin die bus

vir blankes net

en ’n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit

[…]

ek vra die kondukteur mag sy maar sit

hy skud sy kop

en wys die vinger na die bord, die welbekende bord:

vir blankes net –

vir nie-blankes word vreugde opgeskort

steeds deur die bord

en ’n vrou ses maande swanger mag nie sit

[…]

sy staan vir ses, vir sewe myl, sy staan

ons almal staan, staan meer as ses en meer as sewe myl,

staan vir ’n hele lewe

en agt sitplekke oop, maar sy moet staan

o God, u hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!

 

Ek skep nog ’n hofie: Sosiale protes. Busse. Dan dwaal my geestesoog na die Groot Verseboek, en JC Steyn se bekende gedig wat berig oor die busramp waarin 23 skoolkinders op 28 Januarie 1970 gesterf het, verskyn voor my.

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.

 

Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód

 

Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodtjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.

 

Tussen bleek hande en groen sakdoeke,

honde vol manewales in rooi prenteboeke,

blaaie met aftrek- en deelsomme,

ontlede sinne, aardes, sonne,

en ’n Bybel wat vertel van sonde,

tussen die vlees en die gras

soek ’n seun in bloed en glas…

“Waar’s my sussie, ek dink sy was…”

 

Wie huil so hartverskeurend

as ’n seun by ’n verskeurde

hals oor kop tot tone?

Of is moeders se trane egter,

of die klein weggedroogde trane

van die laaste oomblikke

angs voor die slag

by Henley-on-Klip

trane-op-klip.

 

Ledemate-onder-sakke

hande onder allerhande

bewysstukke vir lykskouings,

aanklagte van heinde,

huldigings van verre

(’n monument vir die held Johan

wat gesterf het om drie maats te red).

 

Langsamerhand verloor

egter trane teen egte klip;

leed raak gou vergeet.

Die nuwe uitwiskunde word gewis

doodgewoon gewoonweg dóód.

 

Joan Hambidge onthou die Henley-on-Klip-busramp se tragiese tweeling, die Westdene-busramp op 27 Maart 1985 soos volg.

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.

 

Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.

 

’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.

 

Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.

 

Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders

 

moet gehoor, nie

gevoel word.

 

Ook Andries Bezuidenhout bring hulde aan die slagoffers in ’n gedig op Versindaba. (http://versindaba.co.za/2009/08/04/stillewe-nuwe-gedig/). Ek voeg ’n nuwe hofie by die bestaandes in my dokument: Busrampe. Digkuns as maatskaplike bewussyn.

’n Paar weke gelede wys my geliefde vir my ’n video wat handel oor train surfing. Dit is ’n waaghalsige sport of kunsvorm wat reeds sedert die vyftigerjare gewild is onder die jeug van Suid-Afrika. Werkloosheid, armoede, uitsigloosheid en verveling is van die oorsake (www.youtube.com/watch?v=seBkEutvnQU). Ek skryf verder: Maatskaplike onrus. Treine. Daar is iets poëties en aangrypend aan die doodsveragtende reis na niks. Om bo-op ’n bewegende trein se dak te dans, om te deel in die noodlotskans: óf die lewe, óf die dood. Om te heers oor die werkersklas en die apartheidsgeskiedenis van shunting – en binne ’n splytsekond wég te duik van elektriese kabels. Al die train surfers droom daarvan om beroemde Hollywoord-waaghalse te word. Hoe ironies: die choreografie van die dood bied jou niks behalwe die vlugvoetigheid van oorlewing. My internetsoektog na digkuns oor train surfing lewer nie veel op nie; dit is immers ’n donker en geslote sub-kultuur. Ek vind wel ’n paar lirieke en kletsrym van angry young men, en ’n belowende gedig op ’n aanlyndigblad van die Bokkeveld-kontreidigter, Andy Paulse, wat volgende jaar met die bundel Ôs debuteer.

Van treine gepraat: iewers in 2013 ontvang ek Clinton V du Plessis se bundel, Rangeer in die pos. (Dis tog vreemd wat ’n mens onthou: as jy ’n digbundel geskenk kry, nooi die omslagontwerp jou dadelik binne. My hart het vinniger geklop; ook dat ek Kitaar my kruis se ryk sepia-ontwerp sedert my twaalfde verjaardag iewers in die jeugargief van herinnering gebêre het). Die temas en motiewe rondom treine, stasies en sosiale protes lê kruis en dwars in Rangeer, ’n mooi bundel wat sinvol deurgekomponeer is. Dit is veral die bittersoet herinnering aan apartheid wat tref. Vervolgens strofes 1, 2, 7 en 11-12 uit dié lang gedig.

 

Vrypas

 

Pa, onthou jy ons in die derde klas

(met die harderige banke,

of soms in die oop rywa, bombela)

 

die swart passasiers met

die gevlegte rietmandjies

op die heel boonste laairak

hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,

bakbrood en koffie uit ’n fles

eerste vir ons aangebied het, my kinderskoeneles

in ubuntu

[…]

Pa, die dood is ’n boemeltrein wat niemand kan verpas nie

 

Here Pa, ons mis jou,

hiér op die toegegroeide sylyne van die lewe.

rangeer prent

Dit is Vrydagaand. In die agtergrond begin die maandelikse motorrenne soos reuse muskiete neul. Dit is betaaldag vir sommige. Betaaldag – en die dobbelsteen word gewerp. Ek trek ’n ou notaboek nader en maak ’n nota: Clinton V du Plessis se nuwe bundel, Aantekeninge teen die skemeruur verskyn volgende jaar. Tussen huishoudelike lysies, berekeninge, aantekeninge en gedigte met deurgehaalde reëls soos dwarslêers skryf ek verder. Ek onderstreep die volgende sin: Of die spreker verwys na taxi’s, busse of treine – openbare vervoergebruik bied ’n kleurryke matrys waarbinne ’n digter se protes versny in persoonlike en openbare ruimtes.

In die veraf stilte hoor ek ’n ambulans. Dit beweeg dringend nader. Dan buig die sirene om die hoek voor die klank atonaal breek en wegsterf.

Bibliografie

Du Plessis, Cinton V. 2013. Rangeer. Cradock: Ama-coloured Sloguns.

Opperman, DJ. 1980. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Small, A. 1987. Kitaar my kruis. Pretoria: HAUM-Literêr.

http://www.webpages.uidaho.edu/cae_core/Links/RitaDovePoems.htm

(Besoek 27 November 2015).

http://joanhambidge.blogspot.co.za/2015/03/joan-hambidge-jou-storie-is-nooit-weer.html

(Besoek 27 November 2015).

Wicus Luwes. Die Universele Tandeborsel

Saturday, April 25th, 2015

Ek verpes universele vrae. Ek verwys spesifiek na die vrae wat  telkemale in my reis deur die kosmos om my brein wentel. Terug by my eie huis of kajuit  in die kosmos (ter wille van die universele tema) konfronteer ek my vroulike en pragtige mede-loods met die volgende vraag:
“Waar is die skêr wat ek in my badkamersakkie hou?”
“Bedoel jy dalk die universele skêr wat in jou badkamersakkie gehou word?”
Ek besef op daardie stadium dat ons die oomblik van ‘Ja, ek weet waar dit is’ verbygesteek het en dat die universele speletjies tussen ‘n man en vrou nou van toepassing is.
Ek besef ook dat my nuuskierigheid my verhoed om die kajuit (ons kamer) te verlaat voordat ek antwoorde kry op watter gedeelde of universele items nog in my badkamersakkie te vinde is:
“Is daar ook ‘n universele tandeborsel in my badkamersakkie?”
“Nee, maar daar is wel universele sjampoe daarin.”
Daarmee het ek genoeg informasie gehad en kon ek die deur agter ons kajuit met gemoedsrus toetrek.

Ek lees dikwels van universele tema’s: die liefde, die soeke na sin. Boeiend, maar ook vasboeiend vir my as skrywer wat soek na vars stories en vars idees. Ek wonder telkemale hoe om iets nuuts en vars te sê en steeds pla my vriend se stelling my:
“Daar word nie nuwe boeke geskryf nie. Al die boeke is reeds geskryf.”
Hoe kan die vermetele stelling my so pla? Kyk almal maar net na dieselfde dinge uit verskillende hoeke en bespreek ons dalk die hoeke in plaas van die item waarna ons kyk?

 

Dwaas met bril

Die verslae vrou in my bril se raam
vra ek beleefd om uit te klim.
Sy doen dit nie. Daarop
bêre ek die nuttige toestel in sy huisie
Ek kis die vrou
telkens as sy met haar vinger
tekens trek oor my lense

Wandel ek dan deur gouddeurweefde strate
in akwamarynaande van mymering
wat my wasig omhul, wandel ek dan
in my eie wêreldjie
waarin kleure plets en biggel,
dis knus, dis goed, en ten minste my eie.
My medemens het sagte kontoere.

Ek gaan my bril vir spesiale geleenthede hou,
net wat welskape en vermaaklik is, beskou.
Maar knaend waar ek kyk, die vrou.
Sy sper haar kake oop,
wyer as God is Liefde en Waarheid.
Soos sprinkane haar wriemelende vingers. Sy stop
hulle in haar mond, en kners
om nie te skreeu, mompel,
vlerke, saagtandpote tussen die lippe.

Voor die blinkende kolle
wat my gesig tot perskeptief dwing,
voor my vensters reg rondom
wat sonwarmte binnelaat,
beduie die vrou met my gebare.

Die wolke dryf soos rôe verby
Die pienk kwal van die son betas
my glasverdieping met ‘n sleepsel garedrade,
en in rooskwarts versteen
staan my kake oopgesper
in ‘n skreeu:
glaslose diamant wat die glas
gillend sny.

(Deur Wilma Stockenström, uit Vir die Bysiende Leser)

 

Die pad van die dood

Ek vind dit amusant en interessant dat elke plek waar ek nog gebly het, ‘n ‘pad van die dood’ gehad het. Dit het my die eerste keer opgeval in ‘n koerantberig waar die inwoners van ‘n dorp langs die pad gaan bid het, aangesien die pad ‘n ontstellende hoeveelheid slagoffers in ‘n kort tyd gehad het.

Ander kere hoor ‘n mens dit weer rondom braaivleisvure of in die verbyloop by ‘n sekretaresse wat in ‘n gedempte stem vir die persoon aan die ander kant van die telefoon fluister:
“Hulle noem dit al die pad van die dood.”
Die plek varieër en die redes waarom mense dit miskien so noem ook, maar die tema bly universeel.

Besoek aan Galpin se Camera Obscura, Grahamstad, Julie 1992
“How are we to read the African landscape? Is it readable at all? Is it readable through African eyes, writable only in An African language?” – J.M. Coetzee, White Writing

Spiraal boontoe, tot in hierdie koepel, waar lig en lens
die horison soos ‘n insek op ‘n tafelblad laat spartel.
Jy hoef jou kop nie te draai nie. Jy’s ‘n krap, ‘n trapsuutjies,
dalk ‘n hottentotsgot, die periskoop ‘n spriet vir jou ronde oog.

Katedraaltorings en ‘n stadsaal proklameer: Hiér het Victoria
se beskaafde oog lank gelede ongehinderd geknip.
Straatblok en plein hoekig uitgelê om die landskap te tem
tussen koppies met aalwyne wat die hemel lem.

Galpin, horlosiemaker met ‘n sin vir orde, hou alles dop.
Ooglopende wendings, selfs subtiele skuiwe, registreer op die film
van ‘n koloniale pupil: ‘n dorpstraat vol kleur en tekstuur,
maar met elke simmetriese vorm van hier bo af obskuur.

(Deur Andries Bezuidenhout, uit Veelvuldige gebruike vir huishoudelike  toestelle)

Lense

Die lense wat ons visie bepaal is ongelooflik interessant. Die beeld wat ons sien word omgedraai deur die kamera en ons oog. In die 9de eeu het Alhazen ‘n eksperiment opgestel met drie kerse wat langs mekaar staan en hul beeld deur ‘n klein gaatjie projekteer. Dit het gewys dat die kers wat aan die linkerkant staan, sy beeld aan die regterkant projekteer en dat die regterkantste kers weer aan die linkerkant projekteer. Lig trek reguit, maar lense draai dit om.
Ons oë of lense is maar net die beginpunt van dit wat ons sien en die interpretasie is eintlik die belangrike gedeelte.

Ons universele interpretasies bind ons saam as gemeenskap en land, miskien ook as mensdom. Ons hou daarvan om mense te verstaan, om hulle dade te verstaan. Die een gemeenskap weet later hoe om ‘n ander gemeenskap te interpreteer sonder om eers na daardie gemeenskap te kyk.

Ek dink weer aan die mede-loods wat onlangs ‘n vliegtuig van ‘n Duitse lugredery laat neerstort het en die dood van al die pasasiers aan boord veroorsaak het. Hy het eenvoudig die kajuit se deur gesluit toe die loods toilet toe gegaan het en die vliegtuig laat val. Was dit die universele soeke na selfgelding, of die universele haat wat in elke mens voorkom. Miskien was dit die lens van een persoon wat gemaak het dat die beeld onderstebo of agterstevoor by sy brein uitgekom het.

Die antwoord wat die lugredery vir die ramp het, is om ten alle tye twee persone in ‘n vliegkajuit te kry. Een persoon is miskien net te gevaarlik. Twee invalshoeke is beter. Ons interpretasies van ons eie denke en ook die van ander is ‘n moeilike onderwerp en vloei soos die lugborrel in ‘n waterpas. Terwyl ek my tande borsel en vir myself in die spieël kyk, besef ek: Miskien verpes ek universele vrae omdat ek so baie daarvan hou. Hoe meer ek egter daaroor dink, besef ek dat dit eintlik universele antwoorde op universele vrae is wat ek verpes.

 

My woorde in jou mond

ek wil hê
jy moet saamkom
as ek met die mense gaan praat
jy is beter met woorde
as ek

ek wil hê
jy moet sê wat ek sê
maar sodat hulle verstaan

miskien moet ek self praat
maar soms verstaan ek nie
wat ek wil sê nie
miskien moet jy net luister of
ek reg praat
want wie weet in elkgeval
wat n ander mens vir jou sê
as jy self nie
weet
wat dit is
wat jy wil hê nie

 

Die Orakel van Orkney

Die Orakel van Orkney is afkomstig van Benoni. Hy het op ‘n dag kaalvoet en met ‘n baard soos die van Moses oor die mynhope neergedaal. Die Brandende Braambos van Benoni was op daardie stadium nog nuut in die omgewing en het vir een of ander onverklaarbare rede onophoudelik gebrand. Die wetenskaplikes het destyds gedink dat die bos dalk naby ‘n  ventilasie-tonnel van ‘n ou myn staan en dat vlambare gasse uit die ou skagte deur die wortels in die bos opstoot.

Mense van die Benoni-omgewing het nuuskierig kom kyk na die bos wat so aanhoudend brand. Koerante het geskryf en Braam, soos die Orakel voorheen bekendgestaan het, het begeleide toere gegee en vrae beantwoord met ‘n rustigheid kenmerkend aan ‘n boemelaar wat al ‘n paar jaar op die pad is. (Nie dat iemand ooit vermoed het dat Braam dalk eintlik ‘n boemelaar was nie.)

Party besoekers het Braam se fooi betaal en vir die wat nie geld gehad het nie, het hy skoene gevra.
“Dis onheilige grond hierdie en werk op ‘n man se voete,” sou hy sê en  dan so wys na sy voete.
“Ek is geroep om die mense te waarsku oor hierdie vuur wat so onophoudelik brand. Dis nie natuurlik nie.”

Op ‘n dag het die koerante berig oor ‘n nuwe vuur in Orkney en Braam was natuurlik die aangewese persoon om, as kenner van onuitblusbare vure, die nuwe brandende bos te gaan ondersoek. Dit was waar die benaming, die Orakel van Orkney, die eerste keer opgeduik het. Die Orakel het wyshede begin inbring vir besoeker aan die brandende bos. (Nie dat iemand ooit getwyfel het of die Orakel oor groot wysheid beskik nie.) Van die wyshede het ingesluit:

“Elke vuur is uniek,” en “Die vuur brand ook in elkeen van ons,” of “Maak vrede met die vuur in jou.”

Tot vandag toe bewaak die Orakel die vuur by Orkney. Hy vra steeds ‘n paar sente by besoekers en vir die wat nie geld het nie, vra hy skoene.
Ook Orkney se grond is onheilig volgens die Orakel en alhoewel dit miskien nie so uniek is as wat wetenskaplikes eers gereken het nie, is dit definitief onnatuurlik.

Bronne
1. Bezuidenhout, A. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014
2. Stockenström, W. Vir die Bysiende Leser. Kaapstad: Reijger Uitgewers, 1970
3. Internet: http://en.wikipedia.org/wiki/Camera_obscura
4. Internet: http://www.artscalendararticles.mysite.com/blank_19.html

Wicus Luwes. Vreeslose Vrydag

Friday, October 31st, 2014

Ek staan in ‘n ry in die middel van ‘n saal. Die man voor my het nou net ingedruk. Hy dink ek het maar net hier gestaan vir die lekkerte daarvan. Ek staan miskien te ver van die persoon voor my af, maar ek haat dit as mense so naby aan my staan in rye en het dit uit respek vir die mense rondom my gedoen. Hy volg my buitendien al die hele dag deur die een gang na die volgende – ons pad loop deur soliedehout lessenaars en -stoele met embleme uit vorige eras daarop uitgekerf. ‘n Batenommer is duidelik sigbaar op die stoel waarvan die een hoek se plastiek oopbeur en uitpeul. Die batenommer is A666A. Die saal en gebou dateer uit die Art Deco-styl en die lang lyne maak lang skaduwees tussen die strale van die laatmiddagson. Ek is bang. Vrees pak my beet en laat my asem jaag. Dis vreesaanjaend om laatmiddag in ‘n regeringsgebou in ‘n ry  te staan, want jy weet nie watter toonbank gaan sluit nie en miskien het ek die verkeerde vorm ingevul.
Ronald Reagan se woorde draai in my gedagtes rond:
“The most terrifying words in the English language are: I’m from the government and I’m here to help.”

Vrees manifesteer op die snaakste plekke en om die tyd in die ry meer draaglik te maak, begin ek op my selfoon lees oor Halloween. Ek klik verby boodskappe wat waarsku dat dit duiwels is en dat ‘n ware Christen nie Halloween gedenk nie.

Ek dink weer terug aan die Standerd 7-kunsfees waar ek A.G. Visser se Ruiter van Skimmelperdpan voorgedra het:
“Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!”

Die internet op my selfoon lei my na prente van pampoene met gesigte daarop uitgekerf, maar ek besef dat ek niks het om te vrees nie. Versindaba het my geleer dat prente van pampoene ‘n teken is van ‘n interessante storie of gedig.

Ek lees dat daar in party lande teruggedink word aan afgestorwenes tydens ‘All Hallows’ Eve’. Dit is die dag voor ‘All Hallows’ Day’ net soos ‘Christmas Eve’ die aand voor Kersdag is. Dit word gebruik om helde, Heiliges (‘Saints’) en martelaars te gedenk en om die simboliese krag wat die dood oor die lewe het, te konfronteer. Dit is ‘n snaakse konsep vir my en die naaste waaraan ek kon dink om dit te verstaan, is die rol van die Profeet Elia in die Joodse geloof. Elia het ‘n simboliese stoel by besnydenisse en ander Joodse
gebruike. Niemand sit op die stoel nie, maar Elia word as getuie geroep by die geleentheid waar daar vir hom ‘n stoel oopgehou word. Dit skep ‘n band tussen die moderne Joodse gelowige en die Jode van ouds. Deur die Heiliges op ‘All Hallows’ Day / All Saints’ Day’ te onthou, skep ‘n mens miskien daardie band tussen ‘n gelowige wat as voorbeeld uitstaan en die moderne gelowige. Ter selfde tyd word daar ‘n soort Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? – 1 Kor. 15:55 konfrontasie ingewerk om die dooie konsep ‘n bietjie kleur te gee. Ek begin selfs te wonder of dit nie dalk ‘n goeie idee is om die geloofshelde van jou dorp te herdenk nie – want hoe gaan die stories van ‘n omgewing in elk geval voortleef. Historici is egter verdeeld oor die oorsprong van Halloween en party sit hul geld eerder op Germaanse heidense oesfeeste as oorsprong van die fees.

In digterskringe word die Lykdig ingespan om ‘n verband met die afgestorwenes te trek. Vroeër hierdie jaar het die Lykdig-kompetisie ‘n mens laat dink aan die oop stoel wat gelaat word deur bekende digters. Hul is as getuies geroep om hul koppe instemmend te knik en baie huidige digters het as medium opgetree tussen die leser en die onderwerp van die Lykdig.

‘n Boodskap uit die dode van Peter Blum
deur Marlene van Niekerk

U vra na die taak van die digter
in tweeduisenddertien? Die wins
van wat hy doen? In Afrikaans?
Moet my wragtig nie tempteer nie.
Dis oorskulpe kerf oor orgideë
vir die adders van Eden, dis tonge inent
teen die swermery van Shofar,
dis ‘n pensklavier rig teen die kreasionis
in sy Kondratieffsiklus van stompsin
en narsisme, dis jil met jong stoppelholle
wat postkoloniale teorie en sulke vervelige
kak in gedigte druk soos aartappelskyfie-
masjiene en dink dis moeders oulik
wat anderkant uitkom, dis die koevoet
insteek onder die vyfluik verhale in die volksargief:
1. Die Lig van die Suide
2. Die trek na die Noorde
3. Rykdom deur Sanlam
4. Grens toe met Christus
5. Mandaryns op Stellenbosch
Dis boggom en voertsek op ‘n bekfluitjie blaas
as die kudde losfok, die boednate agter De la Rey aan,
die dweile agter Siener van Rensburg,
dis by dwaallig vis navermoedbaarhede
en met die bros pik van ‘n vuurhoutjie
afdaal in katakombes om die satyn
van Apollo te skeur, die museum
te poets, die akkerboulyste, die skrynwerkersboek,
die konkoksies te gedenk van die laaste magistrale bereider

Dis die vos opsaal om die saal te vertoon
in die komende Troje, dis onsin laat klink soos riksdaalders
in die drolvanger van die leksikograaf.

Een ding is duidelik, hy’s getroef julle poëet
as die lemma nagpouoog in die Pharos ontbreek,
kyk hoe hy om middernag die ontkende vlinder
hier naby in die poorte soek, ai die geween
die gekners die ontstuimige lantern,
die gatafvee met disselblomme, met die betrokke bladsy
uit die Dikke van Dale – dis dunner as Bybelpapier,
terwyl dié skepsel so inheems is soos mopaniewurms,
Gonimbrasia belina, ‘n spandrel vir chiffres.

God, ek is bly ek is weg van daardie dorp
van musiekdose, jocks, beraders en Shoprite
Die baas van Nasionale Weervoorspelling
is in elk geval ‘n boekminagtende barbaar
wat sy vingerpunte wegslyt op iPads uit Indië.

Party nagmerries is ook nie beperk tot Halloween nie. Daar is tans ‘n groot probleem in Frankryk met mense wat hulself as narre aantrek en dan mense aanval. Dit het ‘n hele kettingreaksie tot gevolg, want daar het nou ook anti-nar groepe ontstaan wat die narre regsien. Dit regverdig miskien die vrees wat kinders (en baie volwassenes) vir narre koester.

Baie dinge het ‘n donker kant en dit is moeilik om te besluit watter deel van die donker jy aan jou kinders wil wys. Party vrese is daar ter beskerming, maar ander vrese hou ‘n mens net terug in die lewe. ‘n Mens kan die kinders ook nie vir altyd weghou van die donder wêreld nie en soos Neil Gaiman dit stel, is dit belangrik dat kinders besef dat dit moontlik is dat die lig die donker kan verslaan.
If you are protected from dark things then you have no protection of, knowledge of, or understanding of dark things when they show up. – Neil Gaiman
Dit wil amper lyk asof ‘n mens die kleingoed ‘n tipe van inenting teen die donker kant van die lewe moet gee – ‘n bietjie van die donker sodat hul teenliggame op kan bou vir die toekoms.

Ek dink ek het dit al voorheen genoem, maar ek het ‘n teorie of eerder ‘n suggestie van ‘n teorie waarom ons ontmoeting met ander dimensies ons nekhare laat rys en ‘n tydelike koue gevoel tot gevolg het. Sekere geeste gebruik energie rondom ons om te kommunikeer en te funksioneer in die dimensie waar ons as mens ons bevind. Hulle onttrek dus die energie of hitte en laat ons koud, amper soos ‘n yskas die hitte onttrek en na die agterkant kanaliseer:

Koelkas
deur Andries Bezuidenhout

volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie

Volgens http://www.selfhelpcollective.com/most-common-fears.html is daar ‘n paar dinge waarvoor mense bang is en dit is altyd interessant om jou eie vrese daarin raak te sien:
1. Die vrees vir vlieg
2. Die vrees om in die openbaar te praat
3. Die vrees vir hoogtes
4. Die vrees vir die donker
5. Die vrees vir intimiteit
6. Die vrees vir dood en om dood te gaan
7. Die vrees om te misluk
8. Die vrees om verwerp te word
9. Die vrees vir spinnekoppe
10. Die vrees om jouself tot iets te verbind
(Die vrees vir narre is nommer 22.)

Doodloopstraat

deesdae is die dood en lewe
so ver as die ooste van die weste
en nie meer kop en stert
van dieselfde muntstuk nie

daar was dae toe
jy sonde kon vereffen
met silwer op die sterfling se oë
en wandaad en weldaad
na mekaar kon kyk in n spieël

daar was tye toe afdraaipaaie
die einde van die pad sou beteken
maar sonder ‘n brug of ‘n oorgang
loop alle paaie parallel aan mekaar

miskien is daar geen kruisings
geen lig aan die einde van tonnels
geen smal en breë paaie
geen eenrigtingstrate

net toegee en glyweë
om almal deur te laat
en sirkels aan die einde
van elke doodloopstraat

My selfoon se battery het genoeg gehad en ‘n vrees om sonder my selfoon te wees, oortuig my om die selfoon vir ‘n wyle te bêre. Ek besef meteens dat alhoewel ek die heeldag saam met die man in verskillende rye gestaan het, ek nog nie sy gesig gesien het nie. Ek wonder ook hoekom net ek gekla het toe hy voor my ingedruk het in die ry. Het niemand anders dit dan gesien nie? Ek besluit ook dat dit beter is as ek net slapende honde laat begaan, aangesien ek op hierdie stadium al naby die voorkant van die ry is. Met my aankoms by die toonbank sien ek die dame met die kougom wat my verveeld aanstaar. Sy het alles al gesien wat die toonbank kan bied en skrik nie vir koue pampoen of snaakse kwinkslae wat narre soos ek naby aan toemaaktyd vir haar toesnou nie. Toe ek by die deur uitstap, sien ek ‘n man wat ‘n kennisgewing teen die deur opplak – ‘n 46664 konsert ter ere van Madiba. (Skielik twyfel ek of die batenommer op die stoel nie dalk dieselfde gelyk het as die embleem op die kennisgewing nie. Ek dink terug aan Martin Luther wat sy 95 stellings op 31 Oktober teen die kerk in Wittenberg vasgespyker het en die daaropvolgende kerkskeuring wat dit tot gevolg gehad het. Die vrees vir verandering is nommer 24 op die lys van vrese wat ek voorheen raakgelees het.

Party vrese beskerm jou en party vrese hou jou terug. Ek sien nie die vrees om dieselfde persoon te bly op enige van die lyste nie en ek besef dat verskillende mense se lyste van mekaar verskil.
Elke dag dieselfde pad,
dieselfde ry
en skielik daal daar
‘n onverklaarbare vrees oor my.

Bronne
1. Bezuidenhout, A. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014
2. http://en.wikipedia.org/wiki/Halloween
3. Van Niekerk, M. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013

Foto’s
1. andrewhoffmann.wordpress.com
2. http://assets.vice.com/content-images/contentimage/195830/11clowns.jpg

Gisela Ullyatt. All apologies: Kurt Cobain (20 Febr 1967-5Apr 1994)

Saturday, April 5th, 2014

Kunswerk: Sarang Purandare

 

 

              Kurt Cobain, unplugged

 

jy krimp op

in ’n oorgroot knooptrui

 

jou lewe

kringfluit

 

die hees windbars in jou stem,

nou ’n finale knalsein

 

jou begrafnislelies en kerse

wag geduldig op jou heart-shaped box

 

jou eie grunge

het jou ingehaal

 

want jesus roep jou nie meer

vir ’n sonstraal nie

(Gedig: Gisela Ullyatt:2014)

 

8 April 1994. Die details van daardie dag is lankal uit my geheuebank gevee. Dit was my standerd nege jaar. Dit was die maand van die Groot Verkiesing. Daar was te véél blikkieskos in te veel huishoudings. Sousbone en Pilchards. Die volk se middelklaskos in tamatiesous.  

Nagwolf wat ek is, luister ek na Barney Simon se baie-laatnag-show op 5FM (helaas ontglip die presiese naam van die program my). Die nuus word uitgespu: Kurt Cobain, hoofsanger van Nirvana, het homself geskiet. Die Koning van Grunge is dood. Grunge is dood. Kurt Cobain dissipels in my skool laat druk rouswart T-hemde, haal Nirvana kassette te voorskyn (ek het niemand op daardie tydstip in my model C-skool geken wat ryk genoeg was om reeds CD’s te kon besit het nie). Almal luister of hulle sy selfmoord in die lirieke kon hoor. After the fact.

Ek besef selfdood is deesdae die meer aanvaarbare vervanging van selfmoord, ’n woord waaraan ontsettende stigma en pyn kleef. Maar gesien in die konteks van Kurt Cobain se vervlietende lewe, sal enigiemand wat sy lewe navors tot die gevolgtrekking kom dat hy ’n geweldige en gewelddadige moord van die self gekoester het. Dis voor die hand liggend in sy lirieke, dagboeke en sy  ontelbare pogings om homself met oordosisse heroïne die ewigheid in te spuit. Hy het ’n  doodsbegeerte van jongs af gekoester en reeds in 1981 het hy verskeie vriende vertel: “I’m going to be a superstar musician, kill myself, and go out in a flame of glory” (Cross:32).

Die vyfde April 1994 is egter die dag wat Kurt sy brose bestaan op aarde vaarwel geroep het. Hy was dus drie dae reeds dood in die kweekhuis bo die garage van die Lake Washington Boulevard-herehuis. Die grusame ontdekking van Kurt se stukkende lyk word gevind deur ene Gary Smith, ’n elektrisiën wat ’n nuwe sekuriteitstelsel moes installeer. Dis ironies dat  niemand daaraan gedink het om Kurt te loop soek in die mees vanselfsprekende plek waar hy sou wegkruip en homself geweld aandoen nie: daar was reeds talle soektogte deur die huis se vertrekke; Courtney Love het selfs ’n privaatspeurder gehuur om Kurt op te spoor. Niemand het daaraan gedink om in die anneks te kyk nie.

’n Remington M-11 haelgeweer en $100 Meksikaanse “black tar heroin” word deur die polisie gevind. Die outopsie openbaar ’n dodelike hoeveelheid van hierdie variëteit in sy maag. Ook ’n brief word gevind wat sy eksplisiete self-haat vir die laaste keer noteer: “I can’t stand the thought of Frances becoming the miserable self-destructive death rocker that I’ve become […] since the age of seven I’ve become hateful towards all humans in general”. Die nota sluit af met Neil Young se woorde “it’s better to burn out than to fade away” (Cross:338).

“Frances” verwys na sy dogter met Courtney Love wat in 1992 gebore is, ’n paar maande na hulle troue in Hawaii.

Ironies genoeg rig hy die nota aan ene “Boddah”, sy denkbeeldige maatjie uit sy kinderjare, wat terselfdertyd baie soos “Boeddha” klink. “Nirvana” is ’n Boeddhistiese term wat hy gekies het vir sy grunge groep se naam toe hy in ’n Boeddhistiese fase was (hy was ook tot sy dood gefassineerd met Djainisme). Verder word ’n deel van sy as deur Courtney Love na die Namgyal Buddhist Monastery naby Ithaca, New York, geneem waar dit seremonieel geseën en met spesiale klei vermeng word tot ’n tipiese Tibettaanse tsatsa gedenkbeeldjie.  

Maar wie was Kurt Cobain, of Kurdt Kobain, sy alter-ego?

Kurt is gebore en getoë in die bleek industriële dorp, Aberdeen, Washington; sy ouers, Wendy en Don was high school sweet hearts en het, soos duisende voor hulle, te vroeg getrou. Daar was altyd ’n chroniese tekort aan geld en drome; kort voor lank word Kurt se suster Kim gebore. Die familiedinamika is disfunksioneel en telkens word Kurt, omdat hy ’n hiperaktiewe kind was as die sondebok voorgehou. Terselfdertyd was hy uiters sensitief én begaafd; beide intellektueel en kunsgewys.

In sy tiende jaar skei die Cobains, ’n waterskeiding vir Kurt. Hy internaliseer hierdie gebeurtenis op ’n gewelddadige en intense wyse. Daardie jaar krap hy die volgende woorde teen sy muur uit: “I hate Mom, I hate Dad. Dad hates Mom, Mom hates Dad. It simply makes you want to be so sad” (Cross:21). Hierna word die haat vir die self egter stewiger gewortel as dié vir sy ouers en karteer Kurt sy selfvernietigingsdrange in sy dagboeke en kunswerke.

Veral die bitter verhouding tussen hom en sy pa vind neerslag in “Serve the Servants” (In Utero): “I tried to have a father, but instead I had a dad”.

Sy latere heroïne-gebruik wat veral eskaleer op Nirvana-toere het nie net te make met sy innerlike demone nie, maar ook met ’n onuithoudbare en chroniese maagkondisie wat deur die jare met min sukses gediagnoseer en behandel word. In sy dagboek skryf hy:

I decided to use heroine on a daily basis because of an ongoing stomach ailment that I had been suffering from for the past five years, [and that] had literally taken me to the point of wanting to kill myself. For five years, every single day of my life, every time I swallowed a piece of food, I would experience an excruciating, burning, nauseaus pain in the upper part of my stomach lining. The pain became even more severe on tour, due to the lack of a proper and regimented eating schedule and diet […] I consulted 15 different doctors, and tried about 50 different types of ulcer medication. The only thing I found that worked were heavy opiates. There were many times that I found myself literally incapacitated, in bed for weeks, vomiting and starving. So I decided, if I feel like a junkie as it is, I may as well be one.

Hierdie “junkie”-gevoel word uitgebeeld in Nirvana se eerste musiekvideo vir MTV (wat Kurt “Empty TV” noem), “It smells like Teen Spirit”. Die hele video het ’n chtoniese kwaliteit, wat eindig in ’n nabyskoot met Kurt in orgasmiese maar ook sinistere stuiptrekking. “Heart-shaped box” is gebaseer op kuns-konsepte in Kurt se dagboeke en daar is ‘n bisarre kruis en Christus, ’n fetus in bloed in ’n hospitaaldrup, en ’n dogtertjie in Klu Klux Klan-drag. Weer eens is ’n gevoel van kloustrofobie aanwesig, ‘n kenmerk van grunge-lirieke en -video’s.

Maar dit is tydens die opname van Nirvana, Unplugged in New York (November 1993) waarin Kurt se dowwe lig weer skyn, al is dit net vir een aand. Die atmosfeer was somber, maar nie ongewoon vir die grunge-era nie. Kurt het daarop aangedring dat die verhoog-dekor bestaan uit Stargazer-lelies, swart kerse en ’n kristalkandelaar. Ironies genoeg is die tweede song (“Come as you are”) van hierdie optrede reeds ’n waarskuwing van wat sou kom: “And I swear I don’t have a gun, and I swear I don’t have a gun”.

Hierdie lirieke vind ook neerslag in ’n blog van Andries Bezuidenhout (Versindaba, 5 Januarie 2010):

 

Geslaan aan kitare,

grunge en lang hare,

die pyn van Cobain […]

 

Jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy is okei

en Kurt Cobain het gesweer

hy’t nie ’n geweer,

Kurt Cobain het gesweer,

Kurt Cobain het gesweer

hy’t nie ’n geweer.

 

Daar is nie veel gepubliseerde gedigte oor Kurt Cobain nie. Johann de Lange (110-111) het wel ’n ontroerende gedig oor Kurt se laaste oomblikke geskryf. Die metafoor wat de Lange gebruik is ongewoon in die konteks van Kurt se lewe, omdat hy nie met swem geassosieer word nie. Tog is dit ’n geslaagde metafoor, omdat dit Cobain se verskriklike isolasie voorstel waarmee hy sy hele lewe lank geworstel het en herinner die water-konsep aan die idee van die baarmoeder waarmee gewerk word in die album In Utero:

 

Kurt Cobain (1967-1994)

 

Laastelik bly die stilte:

eensaam soos ’n swemmer

oorgehaal

op die punt van ’n duikplank

’n jong man alleen

in ’n vertrek,

voor die venster,

geen fotograwe

wat in die bome skuil,

geen kameras

wat verklik hoe on-

gelukkig hy was.

 

Die jagpet

waarmee hy hom

op straat vermom

het, afgehaal,

die blonde hare

oor sy oë laat val.

Ses dae later

is sy oorskot

eers gevind:

die Remington

dwars oor sy bors,

ID-foto op die vloer;

& die gelaat

eens só bekend,

was onherstelbaar geskend.

 

Hy het by die siel

van die grou loop

ingekyk, & toe

die koue staal

teen sy slaap

gedruk: vinger oor-

gehaal op die sluiter,

sy oë toegeknyp,

was hy vir die laaste

nabyskoot gereed.

 

          En die slag

het die vlies van stilte gekloof

soos ’n swemmer

wat boontoe kom vir

 

asem.

 

Kurt se laaste woorde, gevind in sy selfmoordbrief, lui: “It’s better to burn out than to fade away”. Hierdie woorde, gedruk op duisende T-hemde, word al te dikwels sonder hul oorsprong en konteks aangehaal. Hierdie reël is deel van Neil Young se lirieke op sy 1979-album “Rust never sleeps”. Die song is “My my hey hey (out of the blue)”:

Hiervan sê Neil Young die volgende in sy outobiografie: “John Lennon disagreed with that. Kurt Cobain quoted it in his last letter. People have asked me about that line since I first sang it in 1978. I wrote it referring to the rock and roll star, meaning that if you go while you are burning hottest, then that is how you are remembered, at the peak of your powers forever. That is rock and roll” (2012:331).

 

My my hey hey

Rock and roll is here to stay

It’s better to burn out

Than to fade away

My my hey hey

 

Bibliografie

Cross, C.R. 2001. Heavier than heaven. The biography of Kurt Cobain. Londen: Sceptre.

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

The End of Music. 2002. Kurt Cobain Journals. Londen: Viking.

Young, N. 2012. Waging heavy peace. A hippy dream. New York: Penguin.

 

 Skakels:

https://www.youtube.com/watch?v=n6P0SitRwy8 Video van “heart-shaped box”

https://www.youtube.com/watch?v=aWmkuH1k7uA  Video van “All apologies”, Nirvana Unplugged New York

https://www.youtube.com/watch?v=hTWKbfoikeg Video van “Smells like Teen Spirit”

http://news.sky.com/story/1229500 Polisiemateriaal

 

 

 

Louis Esterhuizen. Wanneer digters spoor vat na die verlede

Thursday, September 12th, 2013

‘n Besonder interessante publikasie wat hierdie naweek aan die handel beskikbaar gestel word, is Spoorvat – Skrywers en herinneringe wat deur Riana Scheepers en Leti Kleyn saamgestel en deur Lapa uitgegee word.  Met dié pretloop is daar sommer ‘n hele trop digters wat die wandeling meemaak, te wete Andries Bezuidenhout,  Zandra Bezuidenhout, Clinton V. du Plessis, Hans du Plessis, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen,  Joan Hambidge, Louis Jansen van Vuuren, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Henning Pieterse, en Wium van Zyl.  Daarom dat ek dié publikasie graag onder jul aandag bring.

Volgens die inligtingstuk wat ontvang is, die volgende: “As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literêre pryse gewen, die harte van lesers verower, diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwêreld … Ons ken hulle as openbare figure, as skeppers van verhale en romans en rubrieke, maar wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeug herinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeug herinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers?”

Riana Scheepers en Leti Kleyn (samestellers van die trefferboek Die Afrikaanse Skryfgids) het skrywers gevra om hul kinder- of jeug ervarings te woord te stel. Daar was geen beperkings of voorskrifte nie, maar slegs gepubliseerde skrywers is om bydraes gevra.

Die resultaat is ‘n unieke bloemlesing van 36 skrywers . Saam met hierdie skrywers vat ons die spoor terug na die verlede; ‘n verlede wat net so kleurvol, vrolik, hartseer, innig en uiteenlopend is soos die mense van hierdie land.

“Spoorvat is ‘n belangrike bloemlesing, nie net omdat dit voortreflike tekste bevat van skrywers wat reeds hul kleim afgesteek het nie, maar omdat dit terselfdertyd ook unieke outobiografiese sketse is. Die leser kry ‘n intieme en eerlike blik op die leefwêreld van ‘n jong kind wat later in sy/haar lewe groot hoogtes bereik het.”

By wyse van lusmaker volg enkele snitte uit die betrokke digters se bydraes.

*

Zandra Bezuidenhout

Partykeer moes ek vir Pollie ’n pakkie Cavalla King gaan koop. Die kleingeld was myne, net genoeg vir ’n pakkie lekkergoedsigarette wat ek op die stoel onder­kant die teksie soos ’n groot vrou sit en “rook” het. Pol­lie het nooit vir my gelag nie. Net soms uit die bloute laat val “Jou ma sê jy’s ’n probleemkind” en die laaste woord so half tergerig uitgerek. Ek was te skaam om te vra wat dit beteken, gedink dit was seker maar ’n naam vir die oudste of die alleenste, want ek was albei.

 ———

Andries Bezuidenhout

In die Hoërskool Silverton se klaskamers beskryf kinders van weerskante Pretoriastraat mekaar onderskeide­lik as “snobs” en “krims”. Snobs en krims voer soms hul gesprek ná skool verder met vuiste by die voetganger­brug oor die Moreletaspruit. Die krims is meesal beter met die taal van vuiste as snobs. Soms het krims selfs ouer broers in die polisie. Vir snobs is dit half vreemd dat die ergste krims in die polisie beland, maar mens weet nie of mens hierdie morele vraagstuk aan dominee Wan­nenburg in die katkisasieklas kan stel nie.

Ons Silvertonners is bewus van die feit dat die kinders van Menlopark en Waterkloof ons woonbuurt “Slither­ton” noem. Gegoede mense soos Laetitia-hulle is egter nie van Slitherton nie. Hul tydslotte is bo dit alles ver­hewe. Hoeveel huise in Waterkloof en Menlopark kan met tydslotte spog?

———

Joan Hambidge

Die nag kan ek nie slaap nie. “Oh Mamy, Oh Mamy . . . Oh Mamy blue,” huil die radio. Ek weet die kind is dood en Sara hou my die hele nag vas teen haar bors. En ek sien weer en weer die motor wat die kinders tref. Skoene wat deur die lug trek in stadige beweging.

En ek wonder wie sal háár vannag vashou?

O, roos van my hof

Wat was haar naam nou weer?

Daardie kind wat onder ’n motor beland

het saam met drie en twintig ander

in ’n Lenteloop toe ons moes geld insamel.

Jy weet mos, daardie kind, wat rég voor

ons oë opgelig en neergegooi is?

Reg voor die robot waar ’n Valiant beheer

oor sy remme verloor het. Malus, -a, -um.

Alles het in slow motion gebeur

met skoene soos swaarde deur die lug.

Die een onder ’n vaal kombers,

met haar voet na binne gedraai.

Ons almal by haar begrafnis:

“Wat ’n vriend het ons in Jesus . . .”

Daardie kind wie se dood later

uitgebloei het in ’n Latynse toets:

Timidi estis en Puella pulchra est.

En vertaal: “Die rose in die tuin is mooi.”

Verdomp, wát was haar naam nou weer?

——–

Louis Jansen van Vuuren

Die swart-en-wit reghoekie het ’n skerp gekartelde randjie. Dit is ’n monochroomoomblik wat met die dwaling van tyd veraf en dof geword het. Dis nie dat mens aspris vergeet nie, maar die lewe gaan onoplettend sy gang. Die foto’tjie is met deurskynende driehoekies op die album se blaai geplak. Om die kiekie van naderby te bekyk moet ek dit uit sy rusplek lig. Die glansoppervlak­te word ’n spieëltjie in my hand waarin aspekte van my studeerkamer weerkaats: die plafonroos met die kande­laar en die venster wat uitkyk oor die tuin. Onderaan die kiekie is daar met wit Indiese ink in sierskrif geskryf: Ifafa Beach 1951.

“Inyoka! Inyoka!”

———

Marlise joubert

Die terugblik na jeugjare is een met verwondering, met nostalgie, en terselfdertyd een van vervreemding. Jy weet instinktief dat dit nooit geheel en al getrou jou eie “verlede” reflekteer nie. Daar is altyd verwarring tussen feit en ervaring. Dis ’n bewegende poel water waarin gestaltes vervorm, rondskuif en wegraak. Jou interpre­tasie word beïnvloed deur allerlei ander belewenisse, bykomende verledes tussenin, en deur jou onmiddel­like werklikheid. Gestolde oomblikke in vensters word lewend gemaak deur jou dialoog, jou eie klankbaan.

dis ’n taal wat niemand anders verstaan

wat snitte uit hibiskus speel

uit die vlamboom se tuite rooi trompet

wat krap soos witdoringnaalde in diep gleuwe –

die grammofoonkas van geheue

Wat oorbly in die magdom lae van die geheue, is dikwels net ’n gevoel, afhanklik van die tydgleuf waardeur die lig speel op die klein bloeisel wat oopgaan, wat veel meer beteken vir jouself as wat dit miskien was in ’n groter konteks.

Daar was twee plekke wat ’n rol gespeel het in my jeugjare, Levubu naby Louis Trichardt en Warmbad in die Waterberge (vandag bekend as Bela-Bela).

———–

Trienke Laurie

As baba is ek glo wild gewieg

op ’n vrolike soldatelied

en toe ek begin opskiet

trap ek hoog op sy steltevoete

“Walking on the green grass”.

Die opgeskote meisie leer

met ’n aardige hoppie ’n wals.

Die klein Griekse vaas

is deur Vader gekoop vir my

 

 

dat ek vir hom ’n roeskleur blaar

as najaarsteken daarin plaas . . .

 

Eendag het ek met my jonger sussie see toe geloop. Die vierjarige bokstertjies het haar tassie gepak met nartjies. Ons het met die blaartjiepad geloop en toe het ons ver­sigtig oor die hoofpad geloop om by die swaaie naby die see te kom. Heila was gouer verveeld en ek het haar teruggehelp oor die grootpad by die verkeerslig en self weer see toe gegaan en skulpies in die tassie gegooi. Hoe dit gekom het, weet ek nie meer nie, maar ek het later saam met ’n polisieman gestap wat sy fiets gestoot het tot by ons huis. Ons is gewiks met ’n leerband, maar erger nog: Ons moes tot twaalfuur die oggend stil lê op ons bed­dens!

———-

Clinton du Plessis

Maar, soos ek sê, dit was die tyd van Apollo 13. Die maan was hopeloos te ver om enige invloed op my lewe uit te oefen. Soms het ek saans op die stoep gesit en kyk na die affêre daar ver weg.

“Wat gaan soek hulle daar?” was my gevoel dan.

“Hulle krap in die Here se kaggel,” het Ma gewaar­sku en “Ek het julle mos gesê,” het sy vol genoegdoening gespog toe die nuus kom van die ontploffing van die suurstoftenks aan boord. Daardie aand het ek met vrees en bewing gebid dat ek nooit met die Here se kole moes bodder nie, nooit in sy rooi konka moes krap nie.

Die gedeelte van die dorp waar ons gewoon het, was gemeng. Bantoe en kleurling. Dit is hoe mense toe genoem is.

———

Hans du Plessis

Sonder ’n kettie om jou nek was jy onbehoorlik aan­getrek, eintlik ’n bietjie kaal – of jy was ’n meisiekind. Kettieklippe was volop in die berg, net partykeer as Pa by ’n bouery moes laat dak opsit, kon ons loodwassers steel en dit vierkantig kap om duiwe mee te skiet.

Meisiekinders was iewers ver op Mars of op die maan. Ook maar goed, want wat het hulle nou van ’n kettie ver­staan? Hulle kon ook nie met ’n ghoen skiet of ’n pylpunt uit ’n drieduimspyker plet nie. Van poppe en goed het ons niks geweet nie, want daar was nie meisiekinders in ons huis of in ons bende nie. Die enigste meisiekinders wat ons geken het, was die niggies wat Sondae ná kerk kom kuier het. Sondag was stilsitdag met skoene en ’n pak en ’n das – dit was sulke oneindige lang geel dae.

———–

Heilna du Plooy

Hierdie meisie met haar musieksak in die sandpad was eintlik ’n gelukkige kind. Daar was natuurlik die klein opstootjies en tienerreaksies soos in enige nor­male huis, maar die soort ontwrigting en donker weer­sin in ouers waarvan jong skrywers tans skryf, was vir haar onbekend. Sy het nie gedink sy was buitengewoon bevoorreg nie, maar in breër verband beskou, was sy natuurlik. Haar ouers wat albei onderwysers was, het hulle drie dogters aangemoedig en hoewel hulle streng was oor dinge soos selfdissipline en verantwoorde­likheid, was daar ook baie pret en vrolikheid in die huis. Dit was nie ’n lewe van luukshede of geskenke nie, want daar was nooit baie geld nie, maar daar was be­trokkenheid en sorg. Waar die pa soms geneig was om nogal streng te wees (later sou sy weet hy was gewoon oorangstig oor sy dogters se welsyn), was hy nogtans ’n ernstige en sensitiewe man en hulle ma was mooi en gemaklik en toeganklik. En die wêreld was eenvoudig: Hierdie jong meisie het soos baie van haar tydgenote min van politiek en ekonomie en sosiale problematiek geweet.

————

Louis Esterhuizen

En die dorpsirene elke aand om agtuur. O, hoe goed onthou ek die weemoedige geskal wat aandui dat alle nieblankes uit die dorp moet wees! Dit was die vroeë 1960’s en dié sirene was algemene praktyk in bykans alle plattelandse dorpe. Eers later sou ek die werklike betekenis – en implikasie – hiervan snap. Op dié tyd­stip was ek normaalweg al in my bed terwyl die sirene deur die leë strate huil en kyk ek na die ouwêreldse straatlampe wat in sulke eweredige strepe deur die Ve­netian blinds oor my bed val.

Ook Ouma se erf het ’n windpomp gehad en drie wa­tertenks op drie hoeke van die huis waar die water versamel is. Daar was nie ’n grasperk nie, maar grond wat elke oggend met ’n besembos netjies skoongevee moes word. En die breë plankstellasies waar sy haar perskes gedroog het wanneer dit persketyd was.

En die bessieboom voor die garagedeur.

———–

Henning Pieterse

Ek onthou hoe ons saam met die werkers sakke soja­bone uitslaan totdat jou hande vol blase is. Hoe ’n haan, afkop en met vlerkgeklap, oor die werf hardloop terwyl ’n dun vlies oor sy oë trek in sy afgekapte kop, eenkant. Ek onthou hoe ’n skaap spartel en skop en sy oë glasig word nadat die ergste bloed uitgespuit het, net nadat sy keel afgesny is. Ek onthou die geskree van die lammers wan­neer hulle gekastreer word en dol van pyn in die kamp rondhol, tot teen die drade in. Ek onthou hoe oom Piet, my ma se tweelingbroer, sy haelgeweer lig en ’n paar skote in ’n reusagtig hoë bloekomboom afvuur en hoe honderde vinke soos geel reën uit die takke neerdaal.

VRYSTAATSE ELEGIE

Vir A.M. Fouché 1902–1975

 

Herinnerings vergeel. Gras

verkleur in Vrystaatse winters.

Ek moes jou nie teen die einde gesien het nie,

op ’n helder middag in ’n warm stad.

Eerder ’n foto: ’n jong meisie

met rybroek, of ’n bruid met lang hare

wat jy saans uitgekam en uitgekam het.

Jy staan by ’n dennelaning, dae is vol

verhale, oor ’n oumagrootjie

wat haar ring by ’n fontein verloor het.

Ek onthou: jy is op ’n wa gebore,

in ’n brandende nag in laatwinter,

opstalle in puin soos die land

wat julle deurkruis het.

Aletta was die laaste plaas,

jou naam, Aletta, waar wind

uit die holkranse altyd waai

en sandsteen digter om vloere vou.

Op sestien, moes ek belowe,

sou ek ’n klipstapel in die middel

van die plaasdam pak. Dit is nooit

gebou nie en staan sonder offer

in herinnering. Jou foto met die tweeling

is dof. ’n Jong vrou wat deur die raam

na buite staar. Ek kyk weg.

Die ring kon ek nooit vind nie;

die wind vee alles skoon, waai

gedagtes ver en naby.

Ek het langs die denne gestap,

langs die leë dam,

en die dou het die hele dag

op die gras bly lê.

 

1 Jare later sou ek ’n gedig oor ouma Lettie skryf (uit: Alruin, HAUM-Literêr, 1989.)

 

———

Wium van Zyl

Hierdie kontrei rivierop van die dorpie Heidelberg (Kaap) is my geboorteplek, grootwordplek, staan ewig in my hart gebrand. Op ’n September-nag het ek aangekom en ná die dokter se vertrek het tant Mêggie opgedaag om vir die sekerheid ’n ou Kaapse pennie op my naeltjie te sit. Dat die werf songeel was met tulpe, van die aandblom in volle geur, skaamrosies wat bloos in die môredou, het ek toe nog nie geweet nie. Ten minste nie bewustelik nie.

My eerste skerp herinnering is van my blou-en-wit driewieletjie op die skuinserige werf. En veral dit: Op­draande is moeiliker as afdraande. Dit is ’n kwessie wat nooit weer uit my lewe sou verdwyn nie.

 ——–

Uit: Spoorvat, 2013: Lapa Uitgewers.

Saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn.

 

 

Desmond Painter. Gaza: ‘n Jeugmanifes

Tuesday, November 20th, 2012

Op 4 Januarie 2011 het ek hierdie vertaling van ʼn manifes, opgestel deur ʼn groep jeugaktiviste in Gaza, op my blog geplaas. Ek gebruik gewoonlik nie dieselfde materiaal vir meer as een bloginskrywing nie, maar vandag wil ek tog ʼn uitsondering maak – omdat die hernude aanvalle in Gaza so ontstellend is; en ook in reaksie op iets wat Breyten Breytenbach in sy onderhoud hier met Andries Bezuidenhout oor die Palestynse krisis gesê het, naamlik dat dit die ‘morele merker van ons tyd’ is.

Die manifes verwoord die woede en frustrasie van hierdie jong aktiviste met die rolspelers in daardie nimmereindigende konflik: Israel, Hamas, die VN, en ook ons, die internasionale gemeenskap. Dit bly, amper twee jaar later, ʼn hartstogtelike kuberkreet uit ʼn oorlogsgeteisterde gebied; ʼn soort ‘anthem for doomed youth’:

 

Fok Hamas. Fok Israel. Fok Fatah. Fok VN. Fok UNWRA. Fok VSA!

 

Ons, die jeug van Gaza, is gatvol van Israel, Hamas, die besetting, die vertrapping van ons menseregte, en die onverskilligheid van die internasionale gemeenskap!

Ons wil skree, deur hierdie muur van stilswye, ongeregtigheid en onverskilligheid breek soos Israel se F16s deur die klankgrens breek; met alle mag uit ons siele uit skree, sodat ons bevry kan word van ons oorweldigende, verterende frustrasie met hierdie fokken situasie waarin ons leef…

Ons is siek daarvan om vasgevang te wees in hierdie politieke stryd; siek van kooldonker nagte met vliegtuie wat bo-oor ons huise rondvlieg; siek daarvan dat onskuldige boere in die buffersone geskiet word, bloot omdat hulle na hulle landerye omsien; siek van bebaarde mans met gewere, wat hulle mag misbruik en jong mense opneuk of opsluit omdat hulle betoog vir dit waarin hulle glo; siek van die muur van skaamte wat ons skei van die res van ons land, wat ons gevange hou op ʼn stukkie aarde die grootte van ʼn posseël; siek daarvan om uitgebeeld te word as terroriste, tuisgemaakte fanatici met plofstof in ons broeksakke en boosheid in ons oë; siek van die onverskilligheid waarmee ons deur die internasionale gemeenskap bejeën word, sogenaamde deskundiges in die lug van opinies en opstel van resolusies, maar lafaards wanneer dit kom by die toepassing van enigiets waaroor hulle ooreengekom het; ons is siek en sat daarvan om hierdie kak lewe te lei, om in die tronk aangehou te word deur Israel, om opgefok te word deur Hamas, om totaal geïgnoreer te word deur die res van die wêreld.

Daar is ʼn revolusie aan die broei in ons, ʼn reusagtige ontevredenheid en frustrasie wat ons sal vernietig as ons nie ʼn manier kan vind om hierdie energie te kanaliseer in iets wat die status quo kan uitdaag en ons een of ander vorm van hoop kan gee nie.

Ons het Operasie Cast Lead, waartydens Israel met groot effektiwiteit die hel uit ons uit gebombardeer het, en duisende huise en selfs meer lewens en drome vernietig het, skaars oorleef. Gedurende die oorlog het ons onmiskenbaar die gevoel gekry dat Israel ons graag sal wil uitwis van hierdie Aarde. Gedurende die laaste paar jaar doen Hamas alles in hulle vermoë om ons gedagtes, gedrag en strewes te beheer. Hier in Gaza is ons bang om opgesluit, ondervra, geslaan, gemartel, gebombardeer en doodgemaak te word. Ons kan nie beweeg soos ons wil nie, sê wat ons wil nie, doen wat ons wil nie.

GENOEG! Genoeg pyn, genoeg trane, genoeg lyding, genoeg beheer, beperkinge, onregverdige regverdigings, terreur, marteling, verskonings, bombarderings, slapelose nagte, dooie burgerlikes, swart herinneringe, troostelose toekoms, hartverskeurende hede, versteurde politiek, fanatiese politici, godsdienstige stront, genoeg gevangehouding! ONS Sê STOP! Hierdie is nie die toekoms wat ons wil hê nie! Ons wil vry wees. Ons wil ʼn normale lewe kan lei. Ons wil vrede hê.

Is dit te veel gevra?

 

Onderhoud met Breyten Breytenbach

Monday, November 19th, 2012

Breyten Breytenbach in gesprek

 met Andries Bezuidenhout

 

*

Andries Bezuidenhout (AB): Breyten, baie geluk met die publikasie van katalekte en dankie vir hierdie geleentheid om namens Versindaba ʼn gesprek met jou daaroor aan te knoop.

Breyten Breytenbach (BB): Dankie, Andries.

AB: Die bundel is deel van ʼn driemanskap in blou, geel en rooi, met verwysing hulle baadjies, die skilder se primêre kleure. Die ander twee is die windvanger (2007) en die beginsel van stof (2011). Willem de Vries het jou reeds gevra of die drieluik uit ʼn doelbewuste skryfproses kom, waarop jy geantwoord het dat dit eerder ʼn produk van hoe dit uitgegee is: “Dit bied ruimte vir verontskuldiging.” Aangesien ons hier sonder subredakteurs met skêre en bladsye sonder voete kan werk, wil ek hoor of jy nie dalk hier daaroor wil uitbrei nie?

omslag

 BB: Tja, vrypas beteken seker nog nie dat mens Versindaba moet oorlaai en die rug breek nie! Jy sien dat ek in rooi so tussen jou reëls praat (en ek weet nie of die webmeester dit so sal kan gebruik nie) omdat ek eintlik by die beweging van jou denke en vrae wil inval as “tweede stem”. In my pa se tyd was om “tweede stem” te sing ʼn kuns van versterking /verdieping en om “in te val” by die toonwysie ʼn daad van beswering en van solidariteit. Nou, met die verheerliking van die individu, die goggol, het ons die subtiele verwewing van tweesang of meersang verleer (en verloën) en wil ons in ons ego-gekanker nie wéét dat die oppervervlakking van “individuering” geen oplossing bied vir eksistensiële angs nie. Dis nou vir die mondvol as invalstegniek! Die strekking van die antwoord op Willem de Vries se vraag was bloot dat aanbieding as drieluik die illusie van deurlopendheid skep, die behoefte aan ordening en beheer gelyk gee (wat menslik is) en die onaangename inhoud daarom lêgemaak kan word in die herkenbare gerusstelling van struktuur- en patroonmaking. Waarmee ek geensins wil sê dat aan bande lê en snoering nie goeie tugtiging vir die wydlopende gees is nie; Inteendeel! Die gesprek ontstaan in die dialektiek met verstomming. Bv. (ek dwaal af): met die toemaak van katalekte was die gevoel, “ik heb gezeg,” – en kyk nou net hoe wyd en syd mondloop ek al weer hier…

AB: Ek lees verder in die onderhoud met Willem de Vries dat katalekte ʼn “versameling fragmente van ou dig- of prosastukke” beteken.

omslag

BB: Dit is so. Ek probeer self nie sin maak uit fragmentariese aantekeninge of flardes van die droomvanger in die venster opgehang nie. As ek my mag weerspreek: vryheid lê in die ontoeganklike of onverhaalbare. Die tweede afdeling veral bestaan uit die stuipbewegings wat oorgebly het van die donker vlammedans rondom die helder – ? – denke van maak. Dis notaboekgemompel.

AB: Ek het natuurlik gedink dis ʼn Breytenbach-nuutskepping, maar dit blyk dat die taaloutoriteite die woord in die woordeboek aangee. Die subtitel is “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”. Die versameling van artefakte het natuurlik ook ʼn hele paar beeldende kunswerke in. Ek het Willie Burger een keer hoor sê dat jy gewoonlik jou dig- en skilderwêrelde uit mekaar uit hou.

BB: Willie het gelyk. To each day its own sins and imperfections. En mens se behoefte aan interpretasie is, om dit so te stel, om klipspringerig oor ʼn vol rivier waar daar nie klippe is nie te wil padgee.

AB: Jou bundels het meestal van jou kunswerke op die omslag, maar hierdie gesprek tussen woord en beeld lyk na ʼn pasverandering in hoe die bundel aangepak is. Dalk iets daaroor?

BB: Die poging om beeld en woord met mekaar te laat praat sonder dat die een noodwendig ʼn tweede stem vir die ander is, het ek al op ander maniere ook vroeër gedoen. Soos in All One Horse. Miskien is ek op soek na die “derde stem”, die spookstem (tussen die twee) as legitimering! Wat my besig hou is die ooreenkomste in kernelemente tussen woordtaal en beeldbeweging: kleur, ritme, gesprek geïnisieer deur tekstuur of onderlaag, die handloop en die uit-die-hand-laat-loop. Maar wanneer jy twee soorte van beweging of ossillering binne dieselfde aandagsveld plaas gaan hulle wil “digstring” al is hulle ook hoe uiteenlopend van aard.

AB: Ek sien daar is ʼn kopknik in Versindaba se rigting, vir digstringe in “kleinreis” en “die digters se manifes van meelewing” wat voorheen elektronies gepubliseer is en wat nou op papier verskyn. Dalk iets oor jou ervaring van Versindaba as ʼn forum vir digters?

BB: ʼn Lekker werf waar daar meestal op beskaafde manier omgegaan word met gedigte as konsentraat van ʼn eiesoortige geblaf. En ʼn lekker manier om op hoogte te bly met wat in en rondom die poësiewêreld aangaan.

AB: Laat ek nog ʼn stert aan die vraag se romp spyker: Sien jy publikasie op die web as iets heeltemal anders as publikasie op papier?

BB: Eintlik wel. Maar dis nie ʼn waarde-oordeel nie. Papier is ʼn gesprekgenoot, ʼn “répondant” wat nie deur die virtuele vervang kan word nie. (ʼn Tydsame mond-en-gat-afvee soos in teenstelling met die redelik onverantwoordelike en amper anonieme vervlugtiging van broek-aftrek op die web – om dit effens te kru kaalkop te stel.) Versindaba se waarde en sin vir waardes is juis dat dit ʼn forum bied vir woordvreters wat nie die aas van poësie kan weerstaan nie.

AB: Jy het pas by ʼn geleentheid in Frankryk oor die werk van Mahmoud Darwisj opgetree. Jy het ook onlangs in Johannesburg van jou vertalings en omdigtings van sy werk voorgelees. Ek het twee vrae hieroor. Eerstens oor die vertaling van gedigte. Ek het dit besonder baie geniet toe jy by die geleentheid in Johannesburg gepraat het oor die gebruike van die rekenaarwoordeboek en die middelvinger op die muis se “right click”. Ek wil jou uitlok om iets hieroor te sê.

BB: Vertaalwerk het vir my baie in gemeen met die “objet trouvé”, ʼn collage-agtige werkwyse waar die naaimasjien en die engelboud saam op dieselfde tafel beland en lang stukke (of stikke?) gesels. Wanneer jy gebruik maak van ʼn spellchecker, sê nou maar ʼn Engelse een wat deur jou Afrikaanse teks hardloop, word ʼn aantal moontlike woorde vir jou aan die hand gedoen wat skielik klank- of stam- of oorsprongsverbintenisse met die “oorspronklike” woord uitwys (of nie) wat jou anders gaan laat kyk na stuk en stik. Dit word ʼn taalverskieting.

AB: Ook oor vertaling, maar op ʼn ernstiger noot, wil ek jou vra om iets te sê oor die Pirogue Kollektief  se werk en hoe julle jul betrokkenheid by die publikasie van vertaalde werke sien.

BB: Die Kollektief hoop om elke jaar drie vertaalde bundels van Afrikadigters te publiseer in ons reeks Pirogue Poets. Dit sal hopelik ʼn versameling van “modern classics” daarstel. Elke publikasie onder die vaandel (want selfs ʼn pirogue het ʼn vlag) van ons eie uitgewery, Island Position, word slegs deur die kwaliteit van die werk bepaal; dit verskyn in die digter se eie taal met daarnaas die vertaling in Frans of Engels. Die eerste het so pas die lig gesien: ʼn boeklengte gedig van Abdellatif Lâabi vertaal deur André Nafis-Sahély.

AB: Nou vir die tweede vraag oor Mahmoud Darwisj en jou betrokkenheid by kwessies rondom Palestina. Ek wil glad nie terugkeer na gesprekke oor “betrokke literatuur” nie, maar dit lyk vir my asof daar in hierdie absurde tye ʼn nuwe bewussyn van kuns as vorm van morele agentskap is. Jy woon vir dele van die jaar onderskeidelik in Suid-Afrika, Frankryk, Senegal en die VSA. Is daar ʼn verskil in die onvangs van byvoorbeeld iemand soos Darwisj se poësie in plekke soos New York en Toulouse?

BB: Natuurlik. Ek is tans in New York (Sandy se sandsakke is nog plek-plek te bespeur) maar kom nie meer gereeld hier nie. In Toulouse waar ek vorige week deelgeneem het aan ʼn reeks verrigtinge rondom Darwiesj se lewe en sy werk was daar ʼn sterk emosionele entoesiasme omdat daar al lank ʼn Arabies-sprekende bevolking in die streek is, met burgerlike organisasies en publikasies en aktiwiteite. Hier in die rogue state van Kapitaal en Doodstraf word Darwiesj deur kenners as digter gereken maar enige uiting van pro-Palestinisme (wat nié noodwendig anti-Joods is nie behalwe vir dié wat dik tussen die ore is) word gelykgestel aan proto-terrorisme. Terloops, ek dink die sg. Palestynse kwessie is die morele merker van ons tyd – soos Apartheid dit was vroeër jare – en ons algemene oë-toemaak en anderpad-kyk is die lafhartige teken van die insinking van etiese verbeelding.

The Memory of birds

AB: Die volgende vraag begin met ʼn uittreksel uit jou toespraak in Stockholm in 1991, wat later in The memory of birds in times of revolution (1996) gepubliseer is: “[C]reating is a coming to grips with death through the illusion of life. Africans, Asians and Arabs may not be in the position to outlive the West, but they are certainly much better at dying than the Whites are; they do so all the time in many unsolicited and ingenious ways. Creation is the making of death. I’m not going to elaborate any further on this except to say that to my mind there’s a difference between exploring the void and adding to the emptiness” (bl. 68). Ek skat “void” sou as “leegte” vertaal kon word en “emptiness” as “leegheid”. Skepping gaan dus oor leegtes (of die leegte), eerder as leegheid?

BB: In die praktyke van zen (soos in die poësie) sal daar verwys word na die bearbeiding of beoefening – lering, lediging – van die “leegte” of die niet (om nou maar met Nietzshe te praat, dis nou te sê as die snor nie in die pad kom nie); om die maan as skepding te gebruik. Terwyl die “maak van leegheid” byvoorbeeld hysbakmusiek of geblikte applous of pornografie of die oorfoonverduideliking van kunswerke of politici se toesprake of die politieke korrektheid van die ôsom cool se poetry sal wees.

AB: Die volgende uit dieselfde toespraak: “[I]n presenting these works to you (more precisely, these workings) I hope to have you share in the joy I experienced when making them. They are certainly not intended to transmit guilt, or a message or some late post-modernist truth; if anything, I wanted them to flesh out the nakedness of being by way of exploring and, ideally, extending consciousness, a joyful pilgrim’s guide along the miserable road from the agony of birth to the obscenity of death” (bl. 67).

BB: As ons nie saam-saam in ʼn dans die niet kan vertrap nie sal die ysterkoei mos nooit sweet nie.

AB: Oor Leonard Cohen het ons al gesels, so ek kan die versoeking nie weerstaan om die aanhaling op bl. 9 van katalekte uit sy gedig “You’re not supposed to be here” in die bundel Death of a lady’s man (1978) te noem nie. Ek weet daar is spore van baie ander se artefakte in katalekte, maar ek noem Cohen omdat hy ook ʼn digter, musikant en beeldende kunstenaar is, alhoewel op ʼn ander manier. Ek wil ʼn meer onlangse liriek van Cohen betrek: “Going home” van sy laaste plaat Old ideas (met hierdie titel kan dit net ʼn plaat wees!), wat ook as gedig in die New Yorker gepubliseer is.  Dit lyk vir my of daar ooreenkomste tussen Breytenbach en Cohen se gewoonte om hulself aan te spreek is en deur middel van die gesprek die obseenheid van die dood minder obseen te maak.

BB: Ek voel geëerd dat jy B se naam selfs net in dieselfde asem as Cohen s’n noem. Soos die verwaande skilder eens sou gesê het: “Ek het alles in gemeen met Pablo Picasso behalwe dat ek nie Picasso is nie.” Probleem met beide B en Cohen is dat hulle terugpraat wanneer hulle aangespreek word – en ook, verdomp, nie wil ophou praat nie. Die niet is skynbaar eindeloos!

AB: Die Cohen van “You’re not supposed to be here” en die een van “Going home” klink vir my verskillend, asof hy in ʼn ander ruimte beland het. Ek het waarskynlik nou ʼn subredakteur nodig om hierdie relaas te snoei. (Vra vrae, Bezuidenhout, moenie opstelle skryf nie!) Eintlik wil ek uitvis oor hoe jy Cohen lees.

BB: Met die hart. “Van my hart tot joune.”

AB: Breyten, hierdie vraag het ook ʼn lang aanloop. Ek sou egter bereid wees om van al die ander vrae ontslae te raak as dit beteken dat ek net hierdie een kan inglip. In die toespraak waarna ek reeds verwys het praat jy oor die kunswerk as ʼn landskap, ʼn selfportret en ʼn afbeelding van die kunstenaar se voorouers (bl. 68-69) – anders gestel, ruimte, die self en geskiedenis. Ek hou nogal van Tony Hoagland se gedigte, maar ook sy essays oor die digkuns. Die volgende aanhaling kom uit sy bundel Real sofistikashun: Essays on poetry and craft (2006): “Modern consciousness may indeed be splintered, but it is one function of poetry in our time to fasten it back together – which does not mean to deny its complexity. When poetry can name the parts and position them, when it brings us out of the speedy, buzzing fog that is selfhood and modern life, our sense of being alive is heightened and intensified. How strange it is that when I read a particular poem, which brings the world into focus for me, that I can feel my own self come into focus. I was already part of that world, I know – but the unifying, clarifying impact of the poem delivers me to a deeper, and more conscious state of being-in-the-world. Deeper and better than before, when I was only lost in it.” (bl. 172) Ek deel sy sentiment oor die gebrek aan ruimte wat die tipe omhelsing van die versplintering van ons tye vir poësie as iets betekenisvol laat. Om by katalekte uit te kom: in hierdie verband het die artefak getiteld “’n Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming” vir my baie beteken – “Ruimte is beweging.” Soos die manifes wat daarop volg, lees ek dit as ʼn tipe waardering van die rol wat die verbeelding in dig- en skilderkuns speel om die (gewaande?) spanning tussen tyd en ruimte te ondermyn. Ek weet jy voel woorde op papier moet vir sigself praat, maar kan ek jou versoek om iets meer hieroor te sê? Die rede vir my astrantheid is my eie worsteling met vrae oor die ruimte vir digkuns as ʼn staanplek (of loopplek?) vir morele agentskap.

BB: Ek wil nie jou vraag ontduik nie – en tog is die “antwoord”, die “tweede stem” reeds in die noot wat jy aangegee het. Is beweging, die opgaan en afgaan daarin, die herkenning van die besitname van bewussyn (ook die opvang van die onbewuste se seine) wat, paradoksaal, besittingloos word en die afkortings tussen jou as loopplank en jy-as-jou-eie-voorsaat-en-landskap ophef – is daardie dans met die niet dan nie ook ʼn “worsteling” nie? Dis by Hoagland se “better than before” waar ek dalk kapsie sou wou maak. Miskien is die beginbetekenis reeds ʼn goeie begin (tensy hy daarmee meer doeltreffend as voorheen bedoel): die belangrikheid van die openingsreël waarna Ritsos verwys in ʼn brief geskryf terwyl hy in ballingskap was, dat beweging die etiese kartering moontlik maak? Ek hou van die gebondelde implikasies van “morele agentskap” want dan vra mens ook soos aan enige agent, agent namens wié of wat? Wie probeer ons verteenwoordig? In watter hoedanigheid probeer ons ʼn aandeel in Utopia verkwansel? Want dan kom ons by die geskiedenis van etiese verbeelding (wat niks met moralisme te doen het nie). Ek verkies dit eintlik bo “morele agentskap.”

AB: Ek sien die gebruik met onderhoude oor nuwe digbundels op Versindaba is om die digter te vra of daar ʼn gedig is wat hulle sou wou uitlig en hier weergee. Kan ek hierdie gebruik as ʼn laaste astrante versoek rig?

BB: Ha! Nou maar kom ons speel die spel en beproef die arme webmeester nog meer. En voor ek afsluit wil ek jou bedank, Andries. Ek is seker dis die begin van ʼn ganse cohen van gesprekke.

 

die hand se oggendbewegings

1.

wanneer jy soggens wakker word

op die rug

soos ʼn lyk

asof uit ʼn ryk gloeiende tuin

is jou arms op skouerhoogte gevou

met die hande twee verlepte blomme

leeg teen die bors geklou

 

uit watter ruimte van vlug

het ek gestort?

 

of het die lyk te swaar

soos ʼn droom van verlore vryheid

teen die hart gekoester

uit jou hande geglip

oor hierdie grens van lig?

 

2.

dis stil

jy loop soos ʼn kat deur die huis

versigtig om hierdie stilte

die nog bewerige opweging

tussen onsigbaarheid en ewigheid

nie te versteur nie

 

tot op die terras buite:

laatseisoen se eerste newel

het alles gestol in ʼn gloed

van stilte

 

die byna onruikbaarheid

van as op die lug uit dowwe

verkoolde berge

en stof uit die Sahara

 

die swaar somer het alles gedors

tot versenging

en dis nog nie die uur

van skaduwees nie

 

deur stoppels van die buurman se tuin

sluip ʼn kat op vieserige voete

op jag na ʼn tor

of die spartelende stowwerige sakdoekie

van ʼn mot

 

onder die vyeboom waar dit nog nag is

sit en pik ʼn gekuifde hoepoe

vlytig soos ʼn optekenaar

na wat nie te sien is nie

asof die hele wêreld ʼn toetsbord sou wees

 

dis stil in die kloof

dis stil langs die druiweprieel

dis stil teen die mure

 

miskien het ʼn boot vol stil stemme

deur die nag gevaar

om die stilte tot oopmaak te klief

want as jy stil genoeg luister

na jou asem se handbeweging

kom daar weer wolke

die eerste strooisel swaels

lig teen die heuwel

ʼn hond se blaf uit die vallei

en kan jy weer verte en die nabyheid

van kanferfoelie ruik

 

hoeveel oë het so oor geslagte en geboortes

gesien hoe hartstilte die enigste tikmasjien is

om te getuig van beweging

se newel van kom en vergaan

soos vlerkies om die mond

met ʼn sakdoek afgevee?