Posts Tagged ‘Andries Bezuidenhout’
Tuesday, June 14th, 2011
Dis waar, Mevrou, ek’s ʼn bietjie duurder.
Maar sien, ek bring my eie goed –
besem, lappe, borsels,
Sunlight, Cobra, Dandy Andy-skuurder,
Selfs die Hoover, Mevrou, myne sucks sweeter
as ʼn Lektrolux. Net stiller, hahaha.
Met shopping kan mevrou als nou maar los.
Met my sak die vlakke meel en suiker
in die flesse nie onverklaarbaar nie
en die telefoonrekening word nie opgeja’ nie.
Verder, Mevrou, bring ek eie kos.
G’n gelol met beker en blikbord nie.
My seun laai my af, Mevrou,
in sy eie kar. Van treingeld of taxigeld
is daar geen spraak nie,
of wegbly oor strikes en geweld
of die tsotsi’s se vermaak nie.
So ja, Mevrou, dis immers waar:
My beskaafde loon ís effe duurder
as die koste van ʼn garden variety char.
Maar op Mevrou se gewete
kom my kinders nie rus nie. Almal deur die skool.
Een in Australië (loodgieter as nering),
die ander terug van die myn
(die ene met die motor, gekoop van die geld vir die tering).
Sielsrus met my, Mevrou –
jou blinkwit automaid, in lewende lywe.
Ons kyk mekaar mos in die oë as gelykes.
Net dít Mevroutjie, as u een ding sal doen –
as Mevrou my tog maar Tannie sal noem.
Wednesday, June 8th, 2011
(aan my daaglikse dosis amlodipienmaleaat)
hierdie hart ʼn vlermuis
wat aan ribbebene hang
sleutelbene vlerke
wat vlak onder die vel span
snags wriemel die gedierte, koponderstebo
slaan aan my borswand
krap aan my maag
hamer die bloedlus
wat so aanhou knaag
© Andries Bezuidenhout. Junie 2011
Thursday, February 10th, 2011
Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.
 Digstring
Inhoud
A-B
Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010
Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010
Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011
C, D, E
TT Cloete. Swerwende verse
Toast Coetzer. geluk
Marius Crous. Die ander man
Anne-Ghrett Erasmus. Skilder
Sydda Essop. Ek lewe in stilswye
Louis Esterhuizen. Melopee
F, G
Gilbert Gibson. Another roadside attraction
Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.
H, I, J
Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010
Joan Hambidge. Parys
Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010
Pieter Hugo. Honde
Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010
K, L
Ronelda Kamfer. Stof. Junie 2010
Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht
Martine Klopper. Kwatryn
Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010
Kobus Lombard. Kameeldoring
M, N
Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey
Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie
Melt Myburgh. Toeval
Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010
O, P, Q
Pieter Odendaal. die eerste steen.
Johannes Prins. Man diesel
R, S
Andries Samuel. All god’s children took their toll
Carina Stander. Lima
Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010
T, U
V, W
Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite
Ilse van Staden. Fluistering
Cas Vos. Kersrook
Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com
Tags: Andries Bezuidenhout, Andries Samuel, Anne-Ghrett Erasmus, Annie Klopper, Antjie Krog, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Digstring, Fourie Botha, Gilbert Gibson, Ilse van Staden, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Johannes Prins, Kobus Lombard, Louis Esterhuizen, Lucie Möller, Marius Crous, Marius Swart, Marlene van Niekerk, marlise joubert, Martina Klopper, Melanie Grobler, Melt Myburgh, Pieter Hugo, Ronelda Kamfer, Sydda Essop, Toast Coetzer, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Indekse | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, February 1st, 2011
Elwe & Selwe - En kuier kán die spulletjie!
Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder
 Melt Myburgh
Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.
Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.
Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.
Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.
|
Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?
Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.
Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?
 Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh
My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.
Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?
 TT Cloete
Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.
Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.
Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?
Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.
Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.
 Joke van Leewen
ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?
Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693.
Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.
Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.
Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?
Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.
 Oopmonddigters
Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.
Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!
En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?
 Gert Vlok Nel
Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.
Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.
Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.
Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.
Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.
Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.
Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.
Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?
 Petra Müller
Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.
Ten slotte - ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?
Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.
Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.
Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe“ hieronder.
Elwe & Selwe
Op hierdie Woordfees gaan ons delwe
na die vele elwe en die selwe.
Deur woorde, kuns en die musiek
lig ons die sluiers oor geheime,
en reis ons met die oog en oor
langs al die wonderlike weë
wat die sinne en die hart bekoor.
Eintlik is ons almal elwe,
elkeen anders, elk uniek,
party met een, party met baie selwe.
Die Woordfees wil die pad plavei
vir jou en my om saam te dans
langs duisend kronkels van genot,
waar elf en self, vermom as kunstenaars,
kom goël en smokkel met die kop.
Elke asem, elke elf en self,
kan deelhê aan die spel van twintig-elf.
Die taal se pyl en boog, so word vertel,
is droom en fantasie se metgesel.
Maak dus jou koker vol;
kom jag die storie-bokkies sonder tal.
Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop
maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!
(c) Zandra Bezuidenhout
Tags: Andries Bezuidenhout, Andries Samuel, Danie Marais, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Joke van Leeuwen, Loftus Marais, Martina Klopper, Melt Myburgh, Niel van Deventer, Petra Müller, Ronel Nel, Ronelda Kamfer, Tom Gouws, TT Cloete, Woordfees, Zandra Bezuidenhout Posted in Artikels, essays, e.a. | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Wednesday, October 13th, 2010
SINEKDOGEE
i am tired, so very tired
tired of the hate stare
- Wopko Jensma
Suid-Afrika, moenie nou met my foeter nie,
ek bevind myself in ʼn situation
in my kamer vol oorlamse Dorpers en verkeersknope.
Jy’t in elk geval moer toe verdwyn
& sit met ʼn bek vol skande agter baksteen en klei.
Ek’s dr. Roelof Serfontein wat yl,
ek’s Trompie gehok, ek’s die Buiter
ontmasker in die Kasteel se gat.
Wat het régtig met Lazar Bach gebeur?
Ag Suid-Afrika, ek kan jou slegs verbeel,
jou ruik in die rook bo Skukuza of Sharpeville.
Jy seil nie deur die skoorsteen nie, nè?
Jy snuif my murg, vibreer in my harsings.
Is dit jy wat biblioteekboeke in rakke laat smeul?
Is dit jou kwasjiorkorkraaie wat kinderoë uitpik?
Is dit jy wat pes uit slymvliese broei?
Ek voel jou wankel, steier -
jy’s om my, ek dryf in jou domein,
hierdie binnekant is jou vertrek.
Suid-Afrika, ek wil slaap,
maar jy lol met my deur die vliegtuigpatryspoort.
Ek sien jou daar onder sluip. As ek skree, sal jy my hoor?
Ek’s Pierre van Ryneveld, Enola Gay
met ʼn klein seuntjie uit Pelindaba in my pens.
Is dit jou mynskagte wat etter uit die aarde naald?
Is dit jou torings daardie, sonwysers vir verdwaalde tyd?
Hoe kwaadaardig is die suburbs op jou rug?
Raak jy dronk van jou kampongs se madalalyne,
van spilpuntbesproeiing se uitspattige spirale,
die verbete kolk van verneder en wraak?
Hoor hoe huil hulle in Kanada en Australië
as o moedertong, o soetste tong hul verhemeltes rasper.
Ja, jy met jou bladwisselende kleurslagbome,
is dit jy wat die stok langs Piet Retief se rugstring af moker
en hom plant sodat sy bene in die lug marionet?
Suid-Afrika, ek sien jou hoeke, jou kante, jou rante -
die plekke wat jou opmaak laat spaander soos krappe.
Dis net ek, sagte doppie, wat op die strand agterbly.
Suid-Afrika, hier waar ek tuimel kan ek net grense sien.
Is jy ʼn ertjie, ʼn nier, ʼn kriewelende dier,
die drol op die drumpel van Afrika se hol?
Ek is Laika, Loeloeraai, ek’s Yuri Gagarin.
Sal ek jou oopvlek soos ʼn kosmiese chirurg,
of ʼn gangster met ʼn lem?
Wie’t die arak vir Autshumao geskink?
Wie het die prys van paraffien opkatrol?
Sal ons kommuniste of kwerekweres verkwalik,
Robert Mugabe of die Amerikaners?
Waar is jou buttonkoppe en tiksters nou?
Nou’t Doman al jou koringlande kom brand.
Moerland, as jou wet maar net woord was,
hoe lyk jou as of jou is, jou was of jou word
as jy doer is, ʼn buitelyn, van jou binnegoed verwyder?
Suid-Afrika, vanaf die maan kan jy my nie sien of hoor nie
al stuur ek krete in Morsekode -
omdat almal dit kan lees, slaan niemand ag nie.
Ek is Niel Armstrong, Fritz Deelman, Buks de la Rey.
Gmf. Jy weet nie wie Deelman is nie?
G’n wonder. Hy’s uit die toekoms van ʼn ander verlede.
Suid Afrika, my fok, make up your mind!
Kom Susanna van Mombassa, Madagaskar of Macassar?
Ruik jy dit ook - statistiek of boeke wat oorkook,
of die stank van aangebrande hoop?
Geknelde land, is jy iewers op die sfeer?
Is jy die klank wat ʼn ooglid maak as dit toeknip?
Is jy die toonaard van lippe wat oopsmak voor stembande tril,
die strot wat mik voor die derm sluk?
Is jy die geluid van spons voor hande dit wring
om Ruth First van die muur af te was?
Is jy die ritsel van ʼn lykbesorger se kam
deur hare aan die kop op ʼn kis se kussing?
Sal ek uiteindelik kan aankom deur jou te verlaat?
Die wyse vrou van Mahlabatini wil nie sê nie.
Suid-Afrika, luister nou, ál jou stukkende parte,
jou verwikkelde dele van die groter geheel -
ek hang in suspensie bo my bed,
in die vliegtuig, ʼn satelliet,
ek dryf in die maan se slu atmosfeer
& ʼn god het ek nie teëgekom wat jou kan seën nie,
ook nie by God’s Window of Golden Gate nie.
Waar’s Gito Baloi en Lucky Dube?
Word nasies gebore, of borrel hulle tot lewe
uit lou konkoksies van plasma en selle?
Of sterf hulle net, die dood as genesis
wat jy duskant die graf tot lewe roep?
Suid-Afrika, ek is moeg, so vreeslik moeg.
Hoe roep ek jou afvallige lede
met my stem, akrobaat op ʼn string
tussen sterre en komete, selle en atome?
Hoe lyk die weerkaatsing van donker materie?
Kom jy hiérna toe,
na die padstal diékant van die dood?
Of is jou somtotaal maar net
die afwagting voor jy eendag jou opwagting maak?
(Na Allen Ginsberg se “America”)
Monday, August 16th, 2010
Ek probeer eerskomende Vrydagaand (20 Augustus) iets nuuts, by die Centurionteater. Ek het twee van Antjie Krog se gedigte, “Huwelikslied 2″ uit die bundel Verweerskrif en “Verhuising” uit Beminde Antarktika, getoonset en die talentvolle kitaarspeler Erika Strydom gevra om saam met my op te tree. Ons gaan hierdie twee toonsettings opvoer, asook songs van my twee CD’s Insomniak se droomalmanak (2003) en die meer onlangse Bleek berus (2009). Ek en Erika het ook besluit om ʼn paar Brixton Moord & Roof Orkes-treffers in te sluit, maar effe te herinterpreteer. Die vertoning is deel van ʼn woord- en sangweek waaraan kunstenaars soos Coenie de Villiers, Jak de Priester en Herman van den Berg ook deelneem. Kaartjies kos R100 en is by Computicket beskikbaar. Ek en Erika begin 20:00 speel.
Tuesday, May 11th, 2010
| Taxi-rit ná die aand
Weer op Melvillesypaadjie vomeer,
nou metertaxi ons skommelend naar huis.
Lense fokus loop en val met Empire langs,
skrams deur Hillbrow (klinkersteen skullfuck Corbusier),
in Louis Botha by metro-cops en kapers verby.
Dreine soog oopkeel aan die maan,
hul deksels skroot vir ʼn high-rise in Beijing.
Aan pale wurg ligvaandels in slierte,
gelynch deur een of ander kontrakteur
met ʼn better connection dan al die ander
bloedsuiers, klaplopers en woekeraars.
“Ek verlang terug,” bibber jy,
“na ʼn bus uit die neëntien dertigs.”
Ek hoes: “Yl weerkaatsings van nóú…”
Weimarbusse het lank gelede rymelik verroes.
“Home, James! And don’t spare the potholes,”
giggel jy. In minibusvensters sit hulle suf,
waiters en casuals wat huis toe gaan.
© Andries Bezuidenhout
|
Let wel: Hierdie gedig is as wenner vir April se Blogfokus aangewys. Die opdrag was om ‘n eietydse vers in antwoord op ‘n klassieke Afrikaanse vers te skryf. Andries Bezuidenhout se antwoorde moet dus teen hierdie agtergrond gesien word;
ook met Elisabeth Eybers se gedig “Busrit in die aand” wat hier gelees kan word.
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Andries? Hoe het dit ontstaan?
In April hierdie jaar. ʼn Kollega, wat deel is van die internasionale anargistiese beweging (ʼn nadraai van die sogenaamde Wobblies - oftewel die Industrial Workers of the World), het my ʼn ruk gelede uitgevra oor Afrikaanse werkersklasgedigte. Hy het vorendag gekom met ʼn studie wat werkersklasgedigte van Afrikaners uit die dertigs en veertigs met dié van die African werkersklas van later vergelyk. “Busrit in die aand” word ook in die studie bespreek. Dit het my met ander oë na die gedig laat kyk, alhoewel dit eerder ʼn gedig is waarin werkers voorkom as ʼn werkersklasgedig. Ek weet ook nie of “werkers” hier heeltemal na die werkersklas verwys waarin my kollega geïnteresseerd is nie. Dis eerder wit, witboordjie kantoorwerkers uit die dertigs. Maar ek stel in elk geval op die oomblik in die dertigs belang, omdat dit vir my voel asof daar eggo’s daarvan is in die tye waarin ons nóú leef. Toe Versindaba se tema vir die maand aangekondig word (ʼn antwoord op ʼn “klassieke” gedig), het ek onmiddellik aan “Busrit in die aand” gedink en aan my antwoord begin werk.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Dit was amper nie betyds reg vir die einde van die maand vir Blogfokus nie. Ek het veel daaraan getorring. Dis steeds nie klaar nie. Die oorgang na die laaste strofe werk nog nie.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Baie daarvan kom uit die oorspronklike teks, wat dit maklik maak om te dink oor die verskille tussen hoe mense in busse ry tóé en nóú. Dis kwessies waaroor ek in elk geval wonder. En soveel het tussen tóé en nóú met busse gebeur - Rosa Parks, apartheid en busbankies, die Alexandra busboikot. O, my siel, daar’s ryke stof!
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Dit moes soos die oorspronklike vers lyk, maar steeds heeltemal eietyds wees. (Ek wil nie die woord “modern” hier gebruik nie, want die oorspronklike gedig is stilisties diep modern.) Ek het heeltemal afgewyk van die oorspronklike wat rym en metrum betref - dit ritmies afgebreek en slegs binnerym gebruik.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ja, Irma du Plessis. Ek het verder geskaaf ná haar kommentaar. Ek het oorweeg om dit ook aan Marlene van Niekerk en Willem Anker te stuur vir kommentaar, maar die maand was te dol.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek moes dit maar elektronies ophang voor die einde van die maand - reguit blog toe. Ek weet nie wat ek verder daarmee moet maak nie.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Al feit is die eerste reël. Die res is eerder vrees as fiksie.
Is dit ‘n narratiewe vers?
Eerder anekdoties.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan oor die verskille tussen busritte in Johannesburg in die dertigs en nóú. Dalk ook oor toestande wat ʼn oplewing in fascisme voorafgaan. Veel meer as dit wil ek nie hier sê nie.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gehad het?
Karl Polanyi se boek The Great Transformation. Dis kort na die Tweede Wêreldoorlog geskryf en is vandag steeds relevant (dis nogal ontstemmend). Ook gesprekke met Irma oor iets wat Walter Benjamin geskryf het oor Joodse intellektuele wat nie betyds tydens die Tweede Wêreldoorlog uit Parys gevlug het nie, al het hulle geweet hulle moet. Sien ook jou eie bundel, Liefland (Protea Boekhuis, 2004), bladsye 38 en 46. Ek het daar gaan steel.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nie juis nie, soos enige narcissis.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Goeiste. Al my verse verskil op die oomblik van mekaar, omdat ek rondval op soek na iets nuuts. Dalk het dit meer gemengde taal en dialoog in as gewoonlik. Dis maar omdat dit “in reaksie” is.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die plekverwysings, anders as Eybers s’n. Maar hoekom dink ek Eybers se gedig gaan oor Johannesburg? Dalk as gevolg van haar vers oor Wespark. Ek sien die bus naby Wesparkbegraafplaas verbyry as ek dit lees. Dalk is my poging meer postkoloniaal as Suid-Afrikaans. Maar postkoloniale Suid-Afrika is waarskynlik ʼn baie spesifieke plek. Dis Johannesburg.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Die einde van die maand het in my nek geblaas. Dis nog nie klaar nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Daar was nie eintlik enige openbare reaksie van lesers waarvan ek bewus is nie. Ek is egter baie in my noppies oor die prysgeld vir die poging. Met my vorige besoek aan Stellenbosch het ek die nuwe vertalings van Szymborska en apostroof gekoop. Beide het ek in die huurmotor vergeet, omdat ek alweer laat vir my vlug was. Nou kan ek die twee boeke weer aanskaf sonder dat dit my kredietkaart knak.
 Andries Bezuidenhout
Andries Bezuidenhout is ‘n sanger, digter en akademikus. Hy is ʼn lid van die Afrikaanse rockgroep die Brixton Moord & Roof Orkes. Die orkes het twee CD’s vrygestel, Spergebied (2002) en Terug in skubbe (2004). Hy het ook twee solo-CDs, Insomniak se droomalmanak (2003) en Bleek Berus (2009), vrygestel. Hy skryf ‘n tweeweeklikse rubriek vir Rapport. Sy debuutbundel Retoer is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer en ʼn versameling koerantrubrieke, Toeris in Hillbrow, kom binnekort by Human & Rousseau uit. In die dag werk hy as sosioloog aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Wednesday, April 28th, 2010
Blogfokus
| BUSRIT IN DIE AAND
Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.
Skaduwee-skimme gly verby…Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ‘n dam die blinkpad na die maan.
Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand…
Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,
terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë…
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.
- Elizabeth Eybers
|
TAXI-RIT NÁ DIE AAND
Weer op Melvillesypaadjie vomeer,
nou metertaxi ons skommelend naar huis.
Lense fokus loop en val met Empire langs,
skrams deur Hillbrow (klinkersteen skullfuck Corbusier),
in Louis Botha by metro-cops en kapers verby.
Dreine soog oopkeel aan die maan,
hul deksels skroot vir ʼn high-rise in Beijing.
Aan pale wurg ligvaandels in slierte,
gelynch deur een of ander kontrakteur
met ʼn better connection dan al die ander
bloedsuiers, klaplopers en woekeraars.
“Ek verlang terug,” bibber jy,
“na ʼn bus uit die neëntien dertigs.”
Ek hoes: “Yl weerkaatsings van nóú…”
Weimarbusse het lank gelede rymelik verroes.
“Home, James! And don’t spare the potholes,”
giggel jy. In minibusvensters sit hulle suf,
waiters en casuals wat huis toe gaan.
- Andries Bezuidenhout |
Tuesday, January 12th, 2010
Die opkomende digter en lid van die band Radio Suid-Afrika, Niel van Deventer, het ʼn program met poësie en musiek saamgestel wat eerskomende Saterdagaand (16 Januarie) by Steak & Ale in Bothalaan, Lyttelton, plaasvind.
Die volgende digters en musikante tree op: Andries Bezuidenhout, Rian Malan, Kabous Verwoed, Riku Lätti, John-Henry Opperman, Niel van Deventer, Karlien van der Merwe, Pieter de Jager (van die Tuin Dwergies), Melanie van As en Francois Brill.
Kom ons hoop Kabous is nie weer hierdie keer in ʼn motorongeluk betrokke nie en is in staat om op te daag vir die geleentheid.
Sien julle daar!
Tags: Andries Bezuidenhout, Francois Brill, John-Henry Opperman, Kabous Verwoed, Karlien van der Merwe, Melanie van As, Niel van Deventer, Pieter de Jager, Rian Malan, Riku Latti, Steak & Ale Posted in Andries Bezuidenhout | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, November 2nd, 2009
Tags: Andries Bezuidenhout, Carina Stander, Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, digter-skilders, Heilna du Plooy, Ilse van Staden, kunsuitstalling Versindaba 2009, marlise joubert, Rosa Smit, Trienke Laurie Posted in Artikels, essays, e.a. | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, October 26th, 2009

Album: BLEEK BERUS
Kunstenaar: ANDRIES BEZUIDENHOUT
Label: ONE F MUSIC
Release: Oktober 2009
One F Music kondig met genoegdoening die vrystelling van Andries Bezuidenhout se tweede solo-CD, Bleek Berus, aan. Andries is reeds bekend as een van die land se mees toonaangewende singer-songwriters.
Bleek Berus bevat tien splinternuwe songs, waarvan die meeste deur Drikus Barnard tussen 2007 en 2009 opgeneem is. Dit bevat ook “Die laaste brandwag,” wat deur Paul Riekert in 2004 opgeneem is vir KykNet se program “Die liedjies wat ons ken.”
Tematies sny die meeste van die lirieke by die tema “woestyn” aan, hetsy die Namib, of die Hoëveld as menslike woestyn. “Vernichtungsbefehl,” die laaste track, is ook beskikbaar as gedig in Andries se digbundel Retoer. Temas soos identiteit en emigrasie word weer ontgin, maar op nuwe maniere.
Musikaal is Bleek Berus in die styl van baie van hedendaagse Americana en alt-country opgeneem, maar met ʼn plaaslike inslag - sterk akoestiese buitelyne wat subtiel met elektronika ingekleur word.
Die nuwe album volg na Insomniak se Droomalmanak (2003), asook Spergebied (2002) en Terug in Skubbe (2005), wat hy saam met die nou ontbinde Brixton Moord en Roof Orkes vrygestel het. Aan die einde van 2007 het sy debuutdigbundel Retoer by Protea Boekhuis verskyn.
CLAIR CANTRELL VAN ONE F MUSIC VRA MOEILIKE VRAE AAN ANDRIES OOR BLEEK BERUS:
1. Why did it take you so long to release another solo album?
Most of the songs and the concept for the album were ready a few years back. I had initially planned to record and release it shortly after the last Brixton Moord & Roof Orkes album “Terug in Skubbe”. Since the band’s first CD “Spergebied” was followed by a solo one, “Insomniak se Droomalmanak”, I thought it would be a productive rhythm. Kind of like band, solo, band, solo, and so on. But things didn’t work out that way. The band was in a bit of a crisis because of a shortage of new material, so I decided to suspend the solo project and to use the songs for the band. And then that also didn’t work out. I guess the songs were too introspective for the band, which was a rock band after all. When the band finally disbanded, I focused on poetry for a while, but the songs nagged to be recorded. Now, finally, after many years, I can release them.
2. The album is imbued with a sense of loss. Do you think it is time to, “Vat jou goed en trek Ferreira”?
For many it is, but not for me. My answer to that question is in the song “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry.” I’ve given far too much to this country and I’ve taken far too much from it to pack up and leave. But many of the songs deal with those decisions, and friends and family who decide otherwise.
3. You chose Drikus Barnard, who is a relatively unknown producer. What sparked that decision and what was the experience like?
Drikus, also known as Brixton Barnard, started recoding the songs for the Brixton Moord & Roof Orkes album, as bass player and co-vocalist. It made sense to continue working with him on the songs when the band project didn’t work out. He knows my songs well and is the right cynical antidote to the little bits of sentimentality that sometimes creep into my songs. In the end the recoding process took two years and I think he did a wonderful job. I hope people sit up and take notice of his work as a left field music producer.
4. Tell me more about your book in relation to this album and also the book launch you are attending on the 21st?
The book is called “As almal ver is”. It is a collection of essays about Diasporas and South Africans abroad, edited by Afrikaans poet Danie Marais. I contributed a piece on my visits to my sister in Australia and to Ockert (the former drummer of the Brixton Moord & Roof Orkes) in Canada. The book also contains comic strips and a beautiful lyric by David Kramer about a man, who emigrated to Canada, who visits the South African town where he grew up. Danie asked my to sing some of my songs that deal with the issue at the launch. But I must say, my album is more about staying than it is about leaving.
5. “Bring die buie, bring die reën, laat die wolke hulle trane oor droë grond ween” - has it happened yet? It has a response almost Nick Caves “Weeping Song” with a beacon of hope and also the “Ship Song”, with a bit of “1000 kisses deep”, this is your Bittervrug, “Ek sien jou in my drome”. You tell me…
The inspiration for the song comes from Lüderitz in Namibia. The town gets its water from deep under the surface of the desert; age old fossil water. The water tastes pure and feels soft on your skin. The Afrikaans poet Wilma Stockenström wrote a beautiful, but cynical poem about this called “Koichab se water.” My song about water under the desert’s surface is an attempt at a love song. I’m not very good at writing love songs, or declaring my love, so it is filled with trepidation. I can only hope that it works.
6. Explain the themes intrinsic to your album, and the relationship with Joburg - do you hope she misses you?
I initially wanted to call the album “Dorsland,” but that title had been used by someone else. Most of the songs are about the desert. I love the Karoo, the Kalahari, and the Namib. That is where I feel at home. Those are also the parts of southern Africa where Afrikaans is mostly spoken. In the Karoo Afrikaans cannot pretend to be a European language, it is unashamedly indigenised. Like the landscape, it is a tough, barren language, filled with sand and dust. I don’t feel I belong in Johannesburg, as if I’m just one of many immigrants from across the world who scrape a living here. But the Highveld also has its own beauty, especially in winter. That is what the song “Hoëveld-utopia” is about, where the album’s title comes from - bleek berus - bleak resignation. Even though the Highveld is a cold human desert, people seem to find beauty and warmth here. When I think of the place as a desert, I do too.
7. Do you make the same statements with your visual art as you do with music and your written word projects, do you speak the same ‘language’ in each medium? Not necessarily a written but emotional language?
I’m currently working on landscapes, or rather cityscapes of Johannesburg as seen from the balcony of my apartment. So I guess so. But painting allows me to escape words. When I paint I stop thinking in language and go numb. Without it, I think I’d go completely mad.
8. Making an album is making something and letting it walk its own road, Nick Cave likened his songs to being sad eyed children, your poetry, music and visual art - what is your relationship to these?
The problem with recorded albums and printed poems is that, unlike people, they can’t grow further. It’s final. So they’re not children. But some psychoanalysts argue people make art because of a fear of death. Apparently they also have children for this reason. So art and children are both attempts at immortality. Since I’ve never been in therapy, apart from the occasional session with Jack Daniels, I’m not sure about this. I’m happy to live a life that is only examined in lyrics. Who cares about immortality? That is the joy of working in a dying language. You know there won’t be people who speak or read Afrikaans two centuries from now, so Afrikaans songwriters and poets can never have pretentions of immortality. I hope this doesn’t sound too melodramatic, but at least we’re allowed to give our language a decent funeral.
9. This is certainly your most eloquently written album - tell me how your studies have broadened your ability to communicate what it is you wish the listener to “see”.
Thanks for the compliment. I guess you’re referring to the course in creative writing I’m doing with Marlene van Niekerk and Willem Anker? That is more for poetry, but I hope in future it will improve my lyrics as well.
10. Why are your comments on life so ‘bleak’ - why the dry, dark, ironic side of life - comment?
I don’t know. I don’t think I’m a particularly depressed or depressing individual. I hope people hear the humour in the lyrics and appreciate some of the tongue-in-cheek arrangements as well. After all, a little light makes you see the dark even better.
KOMMENTAAR OOR VORIGE ALBUMS

Spergebied, Brixton Moord & Roof Orkes (2002)
“Firmly in the middle of the new wave of Afrikaans rock bands, BMRO plays driving folk rock - kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana… Their debut album is uncomplicated in sound and filled with great songs (good lyrics is one of their hallmarks) about women, drinking, Jo’burg, yuppies, road rage and life in general… On the whole, music that will make you feel better the morning after you did something reprehensible.”
- Toast Coetzer, SL Magazine, December 2002/January 2003
“Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig.”
- Pieter Redelinghuys, Insig, Junie 2002
“This is not a very cheerful album on the lyrical side, but the music really rocks. So, to mis-quote Syd (Kitchen, not Barrett), this CD is not for sissies, but the brave listener who ventures into this Restricted Area will be rewarded with some very unrestricted Afrikaans Rock.”
- Brian Currin, South African Rock Digest
“Afrikaans music in the folk or folk/rock style has been around for ages, producing excellent song writers like the superb Koos du Plessis and Koos Kombuis, reflecting many aspects of life in South Africa. This album carries on in that fine tradition… No-go areas of the human psyche, despair, hope, deterioration, love and violence are confronted with humour, anger, irony and sensitivity using brilliant imagery… Don’t let me give you the impression that this album is all doom and gloom. There is a great balance and serious fun, some great lines and good music that will leave you wondering when the next Brixton Moord en Roof Orkes CD will be coming out.”
- Etienne Creux, Pretoria News, 21 August 2002
“Hierdie is woordemusiek, maar nie daai kak soort wat traai diep wees nie. Lyrics gaan oor gewone stuff soos die lewe in Joburg, hoe kak yuppies is, armgeid, en road rage. En wie sal ooit weer kan stry dat daar meriete is in dronkword op mens se eie?… Doen nou julself ‘n moerse guns en gaan kry die CD of check die ouens live. Die CD het 12 befokte tracks op, dis bedonnerd gerecord met ‘n lekker cover en dis meer as die moeite werd. En moenie by ons kom huil as jy jou broek natpis na “Geraamtes in jou kas” nie. Sterk wees vir daai song.”
- CHopper CHarlie, watkykjy? Augustus 2002

Insomniak se Droomalmanak, Andries Bezuidenhout (2003)
“It has taken more than ten years, but at last there is a proper follow-up to Koos Kombuis’ seminal ‘Niemandsland’. On ‘Insomniak se Droomalmanak’ singer/songwriter Andries Bezuidenhout has taken Koos’ knack for melody and bittersweet Afrikaans lyrics and catapulted them into the new millennium. The fourteen songs tackle life in Gauteng, with its suburbia, yuppies and old lefties now living behind huge walls. There’s irony, protest and literary references. And not a single trace of Afrikaner nationalism.”
- Fred de Vries
“While some idiots give Afrikaans music a terrible name with their badly produced songs about rugby or Rooi Rok Bokkies, at least there are some artists like Koos Kombuis, Kobus! and Piet Botha to save the genre from becoming a line-dancing joke. Andries Bezuidenhout subscribes to the introspective, thought-provoking school of minimalist philosophical expression, commenting on life and the world, from the little things to the bigger picture. The poetic themes of the dream world, the waking dream, sleepwalking existence and the reflection of South African city and suburban life, changes, angst and being white these days may be a heady mix, but it works. There are reflections on idealistic student-type causes and ideals, on hope, longing and the current dispensation - not merely politically but socially, economically and everything else. While it is quite obvious, the only really accurate comparison to be drawn would be with Andre LeToit (better known as Koos Kombuis), both in style and some subject matter. Bezuidenhout loves the language and uses it expressively…”
- Paul Blom, Cape Argus, 27 October 2003
“Daar word baie gepraat oor ons land, sy probleme en die mense wat in hierdie omstandighede vasgevang is. Wanneer hierdie kwessies deur rym en sang getakel word, kyk jy weer op ‘n ander manier na die vreemde en wonderlike land waarin ons woon. As kunstenaars nog oor die moeilikhede kan sing en humor in situasies raaksien, kan dit jou help vrede maak met elektriese heinings en sekerheidsmaatskappye wat moet sorg dat vriende veilig kan kuier. Andries Bezuidenhout (van Brixton Moord & Roof Orkes) se kommentaar op die hedendaagse Suid-Afrika is skerp, op die man af en hartverskeurend mooi. Die lirieke vir sy CD Insomniak se droomalmanak maak vir elkeen sin, of hy uit die generasie linkses van ouds kom, of ‘n produk van die reënboog-situasie is… Soos die titelsnit aandui, is die saambindende tema wakkelê(wees) en droom van rus. Die ironie van iemand wat die wêreld juis in die donker nag duidelik sien, blyk uit feitlik al die lirieke. Op die meeste albums is ‘n snit of twee wat minder indruk maak as die ander. Selde gebeur dit dat elke snit op sy eie manier onder die luisteraar se vel kruip. Sonder om opdringerig te wees, maak Bezuidenhout ‘n sinvolle stelling in elke lied…”
- Mariana Malan, Die Burger, 6 Oktober 2003

Terug in Skubbe, Brixton Moord & Roof Orkes (2005)
” ‘Wie wil nou ‘n mens wees?’ vra Moord Greeff in ‘Vis’, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.”
- Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005
“Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.”
- Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005
“To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.”
- Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005
“Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.”
- Pieter Redelinghuys, Insig, Mei 2005
“Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedilver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.”
- Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005
“Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as middelklasbuurte en die middelklas- of minder as middelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…”
- Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005
“Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.”
- Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005
“BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (”Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (”Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.”
- Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005

One F Music
Wednesday, October 21st, 2009
 Loftus Marais (Foto: Michael Hammond)
Ons is omtrent in die seisoen van pryswenners lyk dit my. So is dit pas bekend gemaak dat Loftus Marais vanjaar die Ingrid Jonker-prys ontvang vir sy debuutbundel Staan in die Algemeen Nader aan Vensters (Tafelberg, 2008). Vorige pryse wat hy reeds met dié bundel ingepalm het, is die Eugène Marais-prys (wat hy met Rondelda S. Kamfer deel) en die Universiteit Johannesburg se debuutprys. Die amptelike persverklaring deur die reëlingskomitee lees soos volg:
Marais se poësie word aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme. Een beoordelaar sien die spreker as ‘n ”geïnspireerde flâneur” wat aan ‘n veronderstelde gespreksgenoot die absurde in die alledaagse uitwys. Dieselfde beoordelaar bestempel ook hierdie poësie as sterk intellektueel en vormvas, en as “heilige spot”. Nietemin, soos ‘n ander beoordelaar dit stel, is dit ‘n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte. Die bundel word ook aangeprys vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring.
Die beoordelaars het ook daarop gewys hoe moeilik dit was om ‘n wenner te kies, en beskou Ronelda S. Kamfer se Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) as ‘n baie sterk naaswenner. Haar poësie, sê een van die beoordelaars, word gekenmerk deur belydenis, “maar dan ‘n belyding wat ‘n gat deur die bladsy brand.” Nog ‘n beoordelaar stel dit so: “‘n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taal-demografie praat deur haar in ‘n besondere sterk stem op ‘n manier soos nog nooit tevore nie.”
Die Ingrid Jonker-prys word elke jaar aan ‘n debuutbundel toegeken, alternatiewelik vir poësie in Afrikaans en Engels. Die prys sal op 28 November tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch aan Marais oorhandig word.
Trienke Laurie, Petra Müller and Charl-Pierre Naudé was die beoordelaars.
***
Veels geluk, Loftus! Ons klap saam hande. Myns insiens was hierdie groep debutante ‘n besonder sterk groep en om as wenner uit dié besonderse groep aangewys te word, is geen geringe prestasie nie. Die ander bundels wat beoordeel was, (in aflabteiese volgorde, volgens outeur) is: Retoer (Andries Bezuidenhout), Noudat slapende honde (Rondelda S. Kamfer) en Onbedoelde land (Bernard Odendaal). Mag hierdie debutante se loopbaan as digters veelvuldig en roemryk wees.
Ter wille van volledigheid - Vorige wenners (Afrikaanse afdeling) is soos volg: Danie Marais (2006), Ilse van Staden (2004), Martjie Bosman (2002), Zandra Bezuidenhout (2000), Trienke Laurie (1998), Charl-Pierre Naudé (1996), Gert Vlok Nel (1994), PJ Bosman (1992), HJ Pieterse (1990), Rosa Smit (1998), Donald Riekert (1986), Johann Lodewyk Marais (1984), Johann de Lange (1982), TT Cloete (1980), Marlene van Niekerk (1978), JC Steyn (1976), Leon Strydom (1974), Lina Spies (1972), Sheila Cussons (1970), MM Walters (1968) en DPM Botes (1966).
Ander name sluimer nog …
Redaksie
|
|