Posts Tagged ‘Andries Visagie’

Onderhoud. Louis Esterhuizen

Tuesday, February 16th, 2010

Eenheid in teenstelling

Andries Visagie in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen behaal ‘n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001) en Liefland (2004) volg. Sy sewende digbundel, Sloper, het in 2007 verskyn. Van sy verse is in bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ‘n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ‘n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen was een van die inisieerders van die jaarlikse poësiefees Versindaba. Tans is hy inhoudsbestuurder van die Versindaba webblad sedert 2009.

 

Louis, vir die poësie begin die jaar op ‘n hoë noot met die verskyning van jou nuwe bundel wat die water onthou.  Veels geluk met ‘n pragtige versameling gedigte.  Die gehalte van jou digkuns volg nog steeds ‘n stygende lyn, waaraan André P. Brink ook onlangs erkenning gegee het met die groot aantal van jou gedigte wat hy in sy nuwe Groot verseboek opgeneem het.

 

Reeds die titel van jou bundel is al oorrompelend mooi.  In die gedig “dat herakleitos reeds aan die begin” lig jy die sluier oor die betekenis van die bundeltitel wanneer jy skryf “dat water nooit terug- / draai nie, maar te alle tye alles opneem // en onthou”.  Gaan dit vir jou daaroor om die oeroue en basiese bestaansvorm van water (en ander dinge) onder woorde te bring? En het die geheue van water daarmee te make dat dit weens die primordiale aard daarvan sedert die vroegste tye feitlik alles al oorspoel en gekonstitueer het?  Kan jy ook aandui hoe jy met die titel by Herakleitos aansluit?

 

Dankie vir die vriendelike woorde, Andries, maar nee, die primordiale aard van water was vir my van minder belang by dié verse. Wel die kwessie van “eenheid in teenstelling”, soos Herakleitos dit verwoord het aan die hand van sy opmerking dat jy nie dieselfde rivier twee keer kan betree nie. Water as simbool van sikliese tydsverloop (proses én konstante) is dus vir my belangriker as die primordiale. Water is immers teenwoordig in alle dinge; van die begin van die skepping af (as konstante) en tog is dit ook terselfdertyd in ʼn staat van volgehoue verandering. Soos dit ook die geval is met geheue.

 

Ek het êrens gelees dat jou vrou en mededigter Marlise Joubert (aan wie jy wat die water onthou opdra) onlangs ook ‘n kunsuitstalling met dieselfde titel gehad het.  Beteken dit dat julle gesamentlik hierdie verkenningstog aangepak het?  Is daar voorbeelde van Marlise se werk in digitale vorm beskikbaar sodat ons dit te siene kan kry?

 

wat die water onthou

wat die water onthou

Inderdaad het die bundelkonsep by Marlise ontstaan. Sy het haar naamlik met groot entoesiasme begin toespits op waterverf as tegniek van skilder. Uiteraard het ons baie gesels oor die “poëtiese” implikasies van die akwarel as kunsvorm in teenstelling tot olieverf, byvoorbeeld. Die gedigtereeks “die geduld van water” was die direkte uitloop van dié gesprekke, maar uiteindelik was dit ʼn kruisbestuiwing met gesprekke wat gedigte word en gedigte weer skilderye. Terloops, hierdie reeks vorm myns insiens die ruggraat van die bundelkonsep aangesien die “afgebeelde landskap” wat behoue bly na die water verdamp het, die konstante verteenwoordig (= taal / woord /gedig), terwyl die “water wat verdamp” weer die veranderlike is (= gesprek / tydsverloop / geheue). En ja, Marlise se akwarelle kan wel op haar persoonlike webblad gesien word.

 

Dit is opvallend dat die meeste van die gedigte in jou nuwe bundel begin met die voegwoord dat, soos byvoorbeeld in die volgende vers oor jou jeugjare in die mynwêreld van Virginia:

 

dat jy ‘n leeftyd reeds sit en kyk

na ‘n landskap wat jy ken, en tog

ook nie: die afwesige berge

 

van jou kindertyd, die slyk en dam

wat vorm kry wanneer tonnels

oopgeskiet word ondergronds

 

Wou jy met hierdie ongewone sintaktiese vormgewing van jou gedigte ‘n forse kopknik in die rigting van N.P. van Wyk Louw maak wie se “Klipwerk” met die volgende bekende reëls begin:  “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek”?

 

Weereens ʼn besliste “nee”. Trouens, “Klipwerk” het nêrens in my gedagtes gefigureer nie. Vanweë die sikliese aard van die bundelopset was dit vir my belangrik om die een vers na die volgende te laat “vloei”. Daarom - geen hoofletters of punte nie, met bykans elke gedig wat met ‘n voegwoord begin. Die “dat” is maar om die titelreël te voltooi: “wat die water onthou (is) dat …” Die geheue is immers iets wat nie puntsgewys “afgesluit” kan word nie; dit stroom gewoon voort van die een moment na die volgende.

 

In nog ‘n treffende gedig, “dat jou pa se pa ‘n delwer was”, keer jy soos dikwels in die verlede terug na jou voorsate en hulle mynwerkersagtergrond.  Jy skryf oor Virginia “waar jy as eersgeborene, / oplaas jou geboortereg verruil / vir woorde, woorde wat jy // soms uit die taal uit delf”.  Ek is huiwerig om hierdie woorde te persoonlik op jou van toepassing te maak, maar is hier nie ‘n suggestie van verlies en selfs skuld oor die “jy” wat as woordsmid ‘n breuk met die delwersvoorsate gemaak het nie?  Sou jy bereid wees om iets van jou familiegeskiedenis aan ons oor te vertel?

 

My familiegeskiedenis is maar soos dit in die gedigte geskryf staan, Andries. My oupagrootjie was inderdaad ʼn delwer en my pa (na bepaalde omswerwinge) ʼn mynwerker in die Goudveld. Ek is op Welkom gebore, maar het in Virginia gematrikuleer. Vir ʼn tydperk van twee jaar - terwyl my pa tabakboer was in die toentertydse Rhodesië - het ek by my ouma op Philippolis gebly ten einde my skoolloopbaan daar te begin. Oor die kwessies van “verlies” en “skuld” sou ek liefs nie hier wou uitbrei nie. Dit is egter wel so dat daar met elke besluit wat jy ook al in jou lewe mag neem, elemente van “wins” en “verlies” ter sprake is. So ook vreugde en frustrasie. Of ontnugtering.

 

In nog een van die watergedigte in jou bundel, die werklik voortreflike “dat ‘n landskap van oewer en rivier”, skryf jy boeiend oor die verhouding tussen werklikheid en kuns.  Die gegewe van ‘n kanovaarder op ‘n rivier wat op film vasgelê word, is die vertrekpunt:

 

dat ‘n landskap van oewer en rivier

bestaan, ‘n oomblik met bome

enkeldiep oor die breedte van ‘n foto

 

en mis wat lê in elke kolking

deur die spaan gevorm

toe die roeier sy dun kano ritmies

 

wou stuur die spieëlbeeld in

na waar geen

versnelling moontlik is

 

in die bevrore posisie

van die lens nie

 

In dié gedig wil dit lyk asof die werklikheid van die rivier, die bome, die mis en die kanovaarder iets moet inboet wanneer hulle in die lens van die kamera vasgevang word.  Die bome word nou maar net met ‘n “enkeldiep” grootte op die foto weergegee en die kanovaarder kom noodwendig tot stilstand “in die bevrore posisie / van die lens”.  Vind jy dat die kuns (en dus ook die poësie) maar net op ‘n ontoereikende manier op die werklikheid kan reageer of kan die kuns ook waarde aan die natuur en die werklikheid toevoeg?

 

Die gedig is ‘n voorloper van die reedsgenoemde reeks “die geduld van water” en net soos dit die geval is met die akwarelle, werk dit met die opposisie van “vloei” en “stol”. Maar om jou vraag te beantwoord: alles wat ons waarneem (en onthou) word gekleur deur ʼn hele reeks assosiasies en/of suggesties. Die kunswerk is dus myns insiens net nog een manier waarop waarde aan ʼn bepaalde belewenis toegevoeg (of verdoesel) kan word. Die vervlietende moment of indruk wat vir altyd (en almal) behoue bly en interpreteerbaar is, is waarskynlik die belangrikste funksie van ‘n kunswerk. Terloops, dié gedig vind ʼn belangrike teenwig in die slotvers van die bundel (”Melopee”) waar daar weer van ‘n kanovaarder sprake is. Maar nou het die kanovaarder buite sig verdwyn en al wat bly, is die water “as enigste verloop”.

 

Louis, jy het “Tema met veertien variasies” na aanleiding van ‘n gedig van Rosa Alice Branco geskryf.  Die twaalfde variasie bestaan uit twee insiggewende reëls waarmee jy kommentaar lewer op al die voorafgaande watergedigte in die bundel:

 

Niks behoort aan jou nie.

Nie eens die woorde waarmee jy die water heg nie.

 

Kan jy dalk iets meer sê oor Rosa Alice Branco en hoekom jy juis by haar werk aanklank gevind het?

 

Op dié vraag sal ek uitgebreid moet antwoord, aangesien dit direk met die struktuur van die bundel te make het. Vanweë die volgehoue klem op vloeipatrone in die bundel het ek ‘n probleem gehad oor hoe om die bundel sinvol te “sluit” aangesien water tog nie net liniêr vloei van geboorte (”dat daar altyd ʼn begin is”) na sterfte (”Melopee”) nie; dit vorm ook sirkels en kolkings en bestaan natuurlik ook in die vorm van waterdamp. Derhalwe wóú die bundel eindig met ‘n oorskouende reeks gedigte wat soos wolke oor die voorafgaande gedeeltes “dryf” met behoud van tema (en veral toon) wat in hul dampkring opgeneem is … Aanvanklik het ek ‘n ander reeks in gedagte gehad; een wat meer op die primordiale aard van water (soos jy dit noem) ingespeel het, maar na ek ‘n deeglike en uiters werkbare verslag van my keurder ontvang het, het ek besluit om - op die keurder se aanbeveling - dié reeks te laat vaar aangesien dit sowel ‘n strukturele as tematiese breuk met die voorafgaande gedigte tot gevolg gehad het.

Op hierdie tydstip het ek die Portugese digter, Rosa Alice Branco, se drie gedigte in New European Poets (2008: Graywolf Press) raakgelees, die ooreenkomste ten opsigte van tema en toon geregistreer, en meteens was die oplossing daar: om die bundel af te sluit met drié reekse gedigte wat ek losweg en ietwat ambisieus volgens ‘n fugale-struktuur van tese-antitese-sintese probeer struktureer het. Die slotvers, “Melopee”, is dus as coda bedoel  en die voorafgaande titellose, voegwoord-deurdrenkte gedigte die voorspele. “Tema met veertien variasies” vorm dus die “tese” en is persoonlik/privaat van aard by monde van ʼn ander (Branco), terwyl “Posisies op ‘n bord” as antitese meer eksistensiële, nie-persoonlike temas aanspreek. Die derde reeks, “Duskant die uitloop” bevat elemente van beide voorafgaande reekse en oorskouend, ook van die bundel in sy geheel. Op dié manier (hoop ek) word die watersiklus voltooi.

Maar hoekom Rosa Alice Branco, vra jy? Die waarheid is dat dit net sowel ‘n ánder digter kon wees, want ek wóú in die betrokke reeks met ‘n ander, bestaande teks werk; nie soseer weens intertekstualiteit nie, maar eerder om die oorwegend persoonlike trant van die voorafgaande verse te ondermyn en ook ter wille van die meerstemmigheid wat ʼn voorvereiste van die fuga is. Terselfdertyd probeer ek hiermee dan ook om die element van vervreemding, wat na die einde van die bundel al hoe sterker na vore kom, te aktiveer. Die rivier wat sy walle oorstroom, by wyse van spreke. Hierdie reeks is dus nié as vertaling of selfs interteks bedoel nie; dit is veeleer veertien tematiese verwisselings, soos ek dit in die erkenning aan die einde van die bundel stel.

In ieder geval, dit is wat ek beoog het. Of ek enigsins daarin geslaag het om dit alles sinvol by die groter opset van die bundel te integreer, is iets waaroor die kritici maar sal moet besluit.

 

Jou opmerking dat jy met Rosa Alice Branco ‘n meerstemmigheid in jou bundel wou inbring, maak my nuuskierig na jou mening oor samehang in ‘n bundel.  Pak jy jou digkuns tematies samehangend aan sodat elke bundel bestaan uit gedigte wat met mekaar verband hou?  Dink jy dat lesers van die Afrikaanse poësie tans nog geduld het met bundels wat losser gestruktureer is?

 

Inderdaad is dit hoe ek te werk gaan, Andries. ʼn Bundel is myns insiens gewoon nié ʼn bloemlesing van beste verse wat in ʼn bepaalde skryfperiode ontstaan het nie; veeleer ʼn komposisie van temas en toon wat rondom bepaalde gegewens byeengebring word. ʼn Vers word net soveel beïnvloed deur verse wat dit voorafgaan as wat daarop volg. (Natuurlik is die uitdaging aan ʼn digter dat ʼn bepaalde vers ook sterk genoeg moet wees om buite bundelverband op sy eie te kan staan.) Die plasing van ʼn vers binne bundelkonteks en -opset is vir my belangrik aangesien ander verse daarrondom resoneer en sodoende  ʼn besliste bydrae lewer tot die leeswaarde van ʼn vers. Oor die laaste deel van jou vraag is ek minder seker, omrede die meeste bundels wat ek van weet, wél van die een of ander “ordeningsbeginsel” gebruik maak. Met die saamstel van ʼn keur uit ʼn digter se oeuvre is dit natuurlik anders gesteld; alhoewel Antjie Krog die gedigte in haar keur, “Digter wordende” (2009: Human & Rousseau), tóg tematies georden het.

 

Die gedig “skoling” uit die reeks “die geduld van water” gaan oor die waterverfkunstenaar wat weens die eise van die besondere verfmedium noodwendig vinnig moet speel om beelde op papier vas te vang.  Verklap hierdie gedig ook iets oor jou eie werkswyse as jy poësie skryf?  Vind jy dat jy vinnig moet reageer op ‘n kreatiewe inval om dit in ‘n gedig vas te vang of werk dit by jou juis anders?

 

Nee, dit is nie heeltemal dieselfde as wat dit die geval is met akwarelle nie. Ek loop wel lank en dink aan ʼn gedig; doen selfs navorsing en maak notas voor ek by die skryf daarvan kom. Aangesien die toonaard van ʼn vers vir my baie belangrik is, kan ek hom gewoon nie neerskryf voor ek hom kan “voel” nie. Daarna volg ʼn bra langsame proses van skryf en herskryf tot ek tevrede is. En - namate die bundel begin vorm aanneem - sal ek weer teruggaan na vroeëre verse ten einde hulle meer gemaklik binne konteks (of opset) te laat pas. Tema en toon is dus vir my van belang; inhoud (of beelding) minder so. (Iets wat ek probeer verwoord het in die gedig “Skarniere” in die genoemde reeks.) Maar, gelukkig is die onderbewuste ʼn wonderlike ding. Soms gebeur dit wel dat ʼn vers net plotseling “daar” is, maar helaas, dit gebeur maar selde.

 

In die liefdesgedigte in wat die water onthou gaan meestal oor die indrukke van ‘n tweede persoon, ‘n “jy” wat waarneem en ervaar en dus nie ‘n “ek” of ‘n “hy” nie (bv. “dat jy soms na haar draai en sê”).  Waarom het jy hier probeer wegskryf van die eerste persoon, die “ek”?

 

Ter wille van die afstandelikheid. Aangesien die verse handel oor die geheue en deurleefde ervarings, was die gevaar groot dat die verse “ekkerig” sou aandoen; terselfdertyd was ek bang dat die volgehoue toon van melancholie deur middel van ʼn eerstepersoonverteller tot iets sentimenteels sou versand. Maar dié besluit lê ook op tematiese vlak: water was daar lánk voor die mens en sal (waarskynlik) nog lank ná die mens bestaan. Die eerste vers in die bundel handel dus oor die geboorteproses van die mens wat ook maar in hoofsaak uit water bestaan (”water wat aan water / geboorte gee”, rr. 11-12, p. 11), terwyl die mens (as kanovaarder) in die laaste vers buite sig verdwyn met net die water wat as “getuie” agterbly; dit is immers die water wat eendag sal onthou dat daar eenmaal iets soos ʼn “mens” op aarde was … Nietemin, in ʼn bepaalde opsig kan die “stem” in die bundel dus gesien word as die water wat die lewe van ʼn spesifieke persoon (die “jy“) in oënskou neem. Dié inspeling word hopelik ook deur die titel, wat die water onthou, ondersteun. (Let wel: die “jy“-aanspreekvorm word regdeur die bundel gehandhaaf; nie net met die liefdesverse nie.)

 

In die besonder treffende vers uit “Duskant die uitloop” oor die gegewe van ‘n musikale opvoering van die Kersverhaal in ‘n amfiteater wat kort-kort onderbreek word deur loeiende sirenes slaag jy daarin om die onstuimige omstandighede in die Midde-Ooste tydens Christus se geboorte te skakel met soortgelyke voorbeelde van vergrype teen kinders in die hede.  En dan ná die applous is die musiek en ook die sirenes (wat uitwys na die misdade in die hede) skielik stil “om alles weer veilig te laat / soos dit ‘n verhoog sonder gehoor betaam”.  Is ek reg met my vermoede dat jy met hierdie slotwoorde te kenne wil gee dat die kuns (hier die musikale opvoering) gevaarlik is en sowel die kunstenaar as die publiek aan ervarings blootstel waarmee hulle onstuimige waters moet aandurf?

 

Sekerlik kan dié vers so gelees word. Andersyds is dit ook ʼn poging om die “meerstemmigheid” van die beoogde fugale onderbou te versterk en die mens (as gehoor) buite sig te plaas soos dit in die volgende vers, “Melopee”, verwoord word. Maar hier gaan dit oor die gemeenskap en met laasgenoemde oor die enkeling. Ook het ek probeer om met dié vers die bundel se tydsperspektief wyer te trek deur die Bybelse gegewe met die teenswoordige te verweef. Hierin speel dit dan ook terug op die vroeëre reeks “die heiligheid van water” (pp.25 - 27) waarin die (nagmaal)beker herhaaldelik aangegee word “na wie ook al hier langs jou steeds // afwesig blyk te wees”. Die “uitloop” van dié reeks se titel kan dus op verskillende maniere vertolk word; dit dui enersyds op die voltooiing (afloop) van iets wat op hande is, en andersyds op die dood en daardeur heel letterlik die mens (gehoor) wat die teater verlaat ná ʼn wêreld (ruimte) tot stand gebring is waarbinne die mens nie (sal) kan oorleef nie. Terloops, die rede waarom ek in hierdie vers (en ander in dié reeks) deurentyd op kinders konsentreer, is om die bundel weer terug te buig na die eerste “kolking” (pp.13 - 18) waar dit in hoofsaak oor (eie) jeugherinneringe handel wat nou amper idillies voorkom in kontras tot die grusaamhede wat in hierdie voorlaaste vers verwoord word.

 

Hierdie vraag is dalk moeilik om te beantwoord, maar kom ons probeer:  As jy hierbo oor die slotgedig in die bundel, “Melopee”, opmerk dat jy die mens (hier verteenwoordig deur die roeier) “buite sig te plaas” sodat “die water / as enigste verloop” agterbly, is die implikasie dat die menslike element en ervaring weggevee word.  Betekenisvol genoeg eindig die bundel dan ook op die oomblik dat die mens uit die prentjie verdwyn.  Die vraag is:  Wat bly saam met die water oor?  Is die wegvee van die menslike element nie ook ‘n wegvee van die poësie nie?  Kan jy moontlik ook oor die titel, “Melopee” (’n monotone en melankoliese lied), waarmee jy weer een van die twee motto’s van wat die water onthou aktiveer, kommentaar lewer?

 

Op die eerste deel van jou vraag het ek helaas geen antwoord nie, Andries. Daarom dat die vers (en bundel) met ʼn aandagstreep eindig; ʼn onbepaalde, oop punktuasie. Uiteraard sál iets volg, maar helaas, vir die mens is dit nie beskore om te weet nie … Jou vraag oor die “wegvee van die poësie” vind ek interessant. En ja, sekerlik is jy reg, maar ek sal dit ook graag met die geheue in verband wil bring aangesien die geheue myns insiens identiteit onderlê, soos die Jaan Kaplinsky-motto voor in die bundel dit suggereer. Sonder geheue het jy immers géén identiteit nie. In dié omstandighede is die poësie dan inderdaad tot niet.

Paul van Ostaijen se gedig “Melopee” was nog altyd vir my ʼn gunstelingvers in enige taal. Daarom, toe die idee van die bundel in my gedagtes begin vorm, was dié vers ʼn belangrike wegwyser ten opsigte van toon, struktuur en tema; trouens dit is myns insiens só ʼn belangrike sleutel dat ek dit eenvoudig direk by wyse van motto en verstitel móés betrek.

 

As ‘n mede-organiseerder van die jaarlikse Versindaba in Stellenbosch is jy gereeld in kontak met ander digters.  Jy skep dus talle geleenthede vir ander digters om hulle werk bekend te stel en koester die netwerk wat tussen digters bestaan.  Vind jy gesprekke met ander digters leersaam en bevorderlik vir jou eie digkuns of ervaar jy soms die behoefte om jou juis van ander digterstemme af te sonder?

 

Inderdaad bevind ek (en Marlise) ons in gelukkige omstandighede. Vanweë ons betrokkenheid by Protea Boekwinkel op Stellenbosch het ons nie net uitgebreide kontak met ander skrywers en instansies nie, maar beskik ons ook oor die infrastruktuur om iets soos die Versindaba moontlik te maak. Ons aktiwiteite rondom die digkuns is eintlik maar net ʼn direkte uitvloeisel van ons leef- en werksomstandighede. Die laaste gedeelte van jou vraag is egter meer problematies, aangesien ʼn mens wel die uitgebreide kontak en gesprekke geniet en dit vir ons iets van enorme waarde is. Maar ja, soms is dit ook moeilik om by privaatdinge (soos eie skryf- en leeswerk) uit te kom. Ek moet egter erken dat ek my ook hier in ʼn gelukkige posisie bevind deurdat ek getroud is met ʼn vrou wat nie net ten volle betrokke hierby is nie, maar ook iemand is wat deur middel van begrip en leiding meehelp om dinge bymekaar (en ook uitmekaar) te hou. Dit bly maar kwessies van “hand” en “oog” en die stryd om dit alles te balanseer …

 

Louis, baie dankie vir jou antwoorde op al my vrae.  Jou opmerkings gaan beslis help om die bundel vir baie lesers toegankliker te maak.  Kom ons hoop hulle staan tou voor die boekwinkels om hulle eie eksemplaar aan te koop!

Is jy dalk bereid om ‘n vers uit die bundel hieronder as “lusmaker” te plaas?

 

Graag. Wat van die twee ‘maalgate” waarna in die onderhoud verwys is?

 

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

 

te betree nie, dat water nooit terugdraai

nie, maar te alle tye alles opneem

 

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

 

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

 

met die groter water

sonder vaart

 

***

 

Melopee

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Die aarde se agente van verweerde

versplintering: vuur, wind en verbrokkeling.

 

Afdraand, alles, alles, altyd afdraand

met die vloeikaart van ‘n hand

wat ook maanlignagte en vlaktes onthou,

 

die blinkgetrapte spinnerak van voetpaadjies

teen kliprante, selfs die droë koggel

van ‘n windpomp in ‘n verste kamp, soms.

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Soggens, met eerste lig, die mis

by ‘n studie van rivier en boom, uitasem,

 

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ‘n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop -

 

© Louis Esterhuizen (Uit: wat die water onthou. 2010: Protea Boekhuis)

Om mure poëties af te breek

Tuesday, November 17th, 2009
Berlynse muur (9 November 1989)

Berlynse muur (9 November 1989)

. . . the night they first scaled the wall,

the people at the top reached down to pull
the others up, and shouted Come on,
Come on! When the guards turned the water cannons on them,

they sprayed back from open bottles of champagne.
Then the broken chunks appeared, in the hands of those
who had loosened them, fragments of concrete

glazed with spray paint inscriptions, scarred
with sledgehammer and chisel: instruments of union.

© Mark Doty (Uit: The lesson)

 

Aanvanklik het ek nie gedink om ‘n Nuuswekker oor die twintigjaar-herdenking van die val van die Berlynse muur te skryf nie, aangesien daar meer as voldoende dekking daarvan in die media was. Maar toe kom ek af op Edward Byrne se stuk op my gunsteling Amerikaanse webtuiste: One Poet’s Notes. En ja, toe kon ek nie die versoeking weerstaan nie; in hoofsaak vanweë die foto hierbo. Terloops, die aanhaling is geneem uit Mark Doty se gedig “The lesson” wat in die New York Times verskyn het. Ander digters wie se verse deel gevorm het van dié spesiale uitgawe, is: Marie Howe, Yusef Komunyakaa, Ewa Lipska, Vera Pavlova, Tomaz Salamun, Zafer Senocak, Bruce Weigl, en C.K. Williams.

Nietemin, terug na die muur en die val wat groot was. In sy stuk het Edward Byrne die volgende hieroor te sê: “The images of young folks opening the barrier between East and West piece by piece remain among the most exciting ever witnessed on television, as their courageous acts indicated a close to the Cold War was at hand. Today, my son possesses a piece of the Berlin Wall, which continues to exist as a concrete reminder of the value of freedom.”

Lees gerus die berig hier en luisterkyk ook na die video van Bruce Springsteen se vertolking van Bob Dylan se beroemde “Chimes of freedom”. Dit is verfilm tydens ‘n konsert wat hy in Berlyn ‘n jaar voor die Groot Val gelewer het.

As lusmaker, die volgende:

In the city’s melted furnace, unexpectedly we watched
With faces hidden while the walls were tightening . . .
And we gazed upon the chimes of freedom flashing.

- Bob Dylan (Uit: “Chimes of freedom”)

***

Vanoggend is daar sommer heelwat opwindende stukke op die webblad: ‘n onderhoud met Andries Visagie oor hermetiese en toeganklike poësie, Andries Bezuidenhout se volgende aflewering oor historiese Johannesburg en Desmond Painter wat skryf oor ‘n gedig van Theodore Roethke. En dan het ons webmeester begin met die toevoeg van ‘n nuwe dimensie tot die webblad, naamlik ‘n ruimte vir vertalings. Indien jy bydraes wil stuur vir plasing, is jy welkom. Dit kan Afrikaanse tekste wees wat na ander tale vertaal is, of verse uit ander tale wat na Afrikaans vertaal is. As redaksie is ons sommer baie opgewonde oor dié toevoeging en glo dat dit nogal ‘n sinvolle manier is om mure op ‘n poëtiese manier af te breek.

Gaan kyk gerus na alles, raak opgewonde en neem deel.

Mooi bly.

LE

 

“De Taal” as driepootpot

Monday, September 21st, 2009
Driepoottaalbeleid

Driepoottaalbeleid

Dit wil voorkom asof die taaldebat in die Nederlandse taalgebied weer momentum verkry. Nie net het Jan Pollet in De Contrabas se tweeweeklikse Nuusbrief ‘n paar treffende opmerkings hieroor te make gehad nie, maar ook die volgende artikel wat in De Standaard verskyn het, handel direk daaroor. Onder die opskrif Ammehoela, een vluchtmisdrijf” word naamlik berig dat Belgies Nederlands nou die status bereik het om as volmondige taalvariant naas Nederlands Nederlands en Surinaams Nederlands.

So het Prisma, die grootste uitgewer van woordeboeke in Nederland, pas 1,800 Belgies Nederlandse woorde in hul nuwe sakgrootte woordeboek opgeneem. “Tot nu toe gingen Nederlandse vertaalwoordenboeken vooral uit van de variant zoals die in Nederland algemeen gebruikt wordt. Daardoor waren zij niet altijd toereikend voor de Vlaamse gebruiker,” het ‘n woordvoerder van Prisma aan De Standaard se verslaggewer gesê. Later vanjaar word daar ook nog ‘n verklarende handwoordeboek in die vooruitsig gestel.

Prisma se keuse van woorde wat opgeneem word, is gebaseer op ‘n lys van ongeveer 4.000 Belgies Nederlandse woorde wat onder leiding van twee Vlaminge, prof. dr. Willy Martin (VU Amsterdam) en prof. dr. Willy Smedts (KU Leuven), saamgestel is. Prof. Martin se kommentaar was soos volg: “Het is natuurlijk niet de eerste keer dat verklarende of vertaalwoordenboeken Belgisch Nederlandse woorden opnemen en labelen. Het grote verschil is dat Prisma het nu op systematische wijze doet … Het Belgisch Nederlands heeft het stadium van volwassen variant van het Nederlands bereik”, het hy gesê, en bygevoeg: “Het natiolect staat naast het Nederlands Nederlands en het Surinaams Nederlands. Men accepteert stilaan dat die evenwaardig zijn. Onze taal is een driepoot.” Ruud Hendrickx, hoofdredakteur by Van Dale, het dié siening beaam en gesê dat hy inderdaad van mening is dat Nederlandssprekendes tans ryp is om ook die variante op ‘n gelykwaardige manier te beskryf en te erken. Volgens hom sal die volgende uitgawe Van Dale beslis ook die voorbeeld van Prisma-woordeboeke volg. (Gaan kyk gerus by die skakels hier en hier indien dié onderwerp jou interesseer.)

Wat egter vir my sardoniese oog besonder interessant was, was van die kommentare onder aan die De Standaard-berig: Belgisch Nederlands’ is natuurlijk een monstervormpje. Het moet ‘Nederlands in Vlaanderen’ of ‘Vlaams Nederlands’ zijn,” het ene Marcel van Cleemput byvoorbeeld opgemerk.

Mmm, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, lyk dit my. Of wat praat ek alles?

***

Dan is ons verheug dat nog ‘n debuutdigbundel einde verlede week in die boekwinkels gearriveer het, naamlik Johannes Prins se bundel Een hart (Lapa Uitgewers). Lees gerus die onderhoud wat met Johannes gevoer is, en ook die inligtingstuk wat van die uitgewer af ontvang is. Nog heerlike leesstof wat gister op die webblad geplaas is, is die essay Eg(g)olalie van Breyten Breytenbach, asook ‘n onderhoud wat Andries Visagie met Ester Naomi Perquin gevoer het. (Indien jy nog nie prof. Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuwe bundel, Oorblyfsel/Voice over gelees het nie, moet jy gerus so maak; dit is ‘n absoluut skitterende werk.) En nog is het de einde niet - nie minder nie as drie bloggers het nuwe stukke geplaas gedurende die naweek nie, te wete: Andries Bezuidenhout, Philip de Vos en Desmond Painter

Sjoe, wat ‘n bedrywige naweek! Lekker lees aan alles. Vir jou eetplesier hierdie week plaas ons in navolging van die “driepoot-tema” die volgende resep vir ‘n beesstertpotjie; spesiaal geneem vanaf “Weg!” se webblad. Begin hom maar solank voorberei, want teen die tempo wat die tyd verbysnel, is dit weer naweek voor jy dit besef …

‘n Smaaklike week word jou toegewens en lees darem ook so nou en dan ietsie, hoor …

Mooi bly.

LE

BEESSTERTPOT

Ryk, vleiserig en lymerig. Dit neem lekker lank om te berei en gee jou die ideale geleentheid om agter te kom waaroor potjiekos eintlik gaan.

3 e kookolie
1 beesstert, in litte gesny
1 gekapte ui
2 fyngekapte knoffelhuisies
500 ml droë rooi wyn (onthou, as dit nie goed genoeg is om te drink nie, kook jy nie daarmee nie)
2 lourierblare
2 teelepels sout
1 e gedroogde roosmaryn
1 e gedroogde pietersielie
‘n paar draaie van die swart peperpot
6 middelslag-wortels, geskil
4 selderystingels met blare, in stukke gesny
3 bakhande vol vars of bevrore ertjies

Onderhoud: Ester Naomi Perquin

Sunday, September 20th, 2009

“Ek is nie ’n intellektueel nie, maar ’n chaotikus”

 

Ester Naomi Perquin gesels met Andries Visagie oor haar digkuns

 

Ester Naomi Perquin. Foto:

Ester Naomi Perquin. Foto: Maatje van Eck

Ester Naomi Perquin werd in 1980 in Utrecht geboren, verhuisde op haar achtste naar het provinciale Zierikzee, en is sinds enkele jaren woonachtig te Rotterdam. In 2006 afgestudeerd in de richting poëzie na het volgen van de vierjarige deeltijdopleiding aan Schrijversvakschool Amsterdam. Werkte in de gevangenis om haar studie te kunnen betalen. Ze publiceerde gedichten in De Tweede Ronde en Tirade en debuteerde in het voorjaar van 2007 met de bundel Servetten halfstok. Voor deze bundel ontving ze in oktober 2007 te Brussel de debuutprijs Het Liegend Konijn en in 2008 de Eline van Haarenprijs. In 2008 verscheen haar tweede bundel Namens de ander. Voor de bundels samen ontving ze de Lucy B. en C.W. van der Hoogt-prijs 2009.

____________________________________________________________

 

Op 26 September om 15H00 tree die jong Nederlandse digter, Ester Naomi Perquin saam met die Vlaamse romanskrywer Johanna Spaey by die Universiteit van Pretoria op tydens die Woordpoortfees (http://www.woordpoort.co.za/tuis.html).  Haar besoek aan Suid-Afrika word moontlik gemaak deur die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek en die Nederlandse Taalunie. Vir haar eerste twee bundels Servetten halfstok (2007) en Namens de ander (2009), albei uitgegee deur Uitgeverij Van Oorschot, het Ester Naomi Perquin reeds ’n gerf literêre pryse verower.  Vroeër vanjaar het sy byvoorbeeld die Lucy B. en C.W. van der Hoogt-prys vir haar twee bundels ontvang.  Andries Visagie het per e-pos met hierdie opwindende jong digter kontak gemaak om meer oor haar digkuns te wete te kom. Die vert. van hierdie onderhoud is ook deur Andries Visagie gedoen.

 

 

 

Ester, wanneer het jy begin om gedigte te skryf?  En kon jy op deeglike ondersteuning vanuit die Nederlandse literêre wêreld reken om jou digterskap te ontwikkel?  Jong digters in Suid-Afrika moet dikwels baie lank wag voordat hulle werk gepubliseer word.

 

Soos dikwels die geval is by jong skrywers het ek aanvanklik die plan gehad om ’n groot, meesleurende roman te skryf.  ’n Verhaal oor die dood, oor pyn en oor liefde, iets ewigs en onwankelbaars.  Daarvoor het ek beslis geen aanleg gehad nie, dank die hemele.  Ek het ure lank sit en peuter aan ’n enkele sin en het my blind gestaar teen ’n enkele woord en die resultaat was stywe en doodsbenoude prosa.

 

Slegs die essay het my aangestaan – die ontwikkeling van ’n gedagte, die weg van die persoonlike na iets wat algemene geldigheid besit – en die poësie waarin ek in ’n sekere sin dieselfde weg inslaan, al is dit dan instinktiewer as ’n soort skets.

 

In Nederland, dink ek, is dit net so moeilik om by ’n gevestigde uitgewery te debuteer as in Suid-Afrika.  Die leserspubliek vir poësie is beperk en die uitgewer neem ’n risiko.  Tog verskyn daar eintlik ongelooflik baie, gemeet aan die grootte van ons taalgebied.  En publikasie in literêre tydskrifte, op die internet of voordragte by digterlike bekgevegte (poetry-slams) en feeste bied ook almal moontlikhede.  Daar bestaan tog ’n taamlik lewendige belangstelling vir die poësie, al is dit binne ’n uitgesoekte geselskappie.  In my geval het alles vinnig verloop, my bundel het vir die buitewêreld so min of meer uit die niet verskyn toe ek sewe-en-twintig was.  Ek het toe nog nooit ’n voet op ’n podium gesit nie en het hoogstens twee of drie digters persoonlik geken; ek het geen bande in die digterlike wêreld gehad nie.  Maar die begeleiding van my uitgewery was wel baie warm en baie intensief.

 

Dit is aan my bekend dat jy met die werk van Elisabeth Eybers vertroud is.  Vind jy dat haar werk tot jou spreek, en is daar ander Suid-Afrikaanse skrywers of digters wie se werk aan jou bekend is?  Daar bestaan wel ’n aangename band tussen Afrikaans en Nederlands, maar tog is die twee lande geografies ver van mekaar verwyder en groei die twee talen in verskillende rigtings.

 

Ek ken natuurlik die “usual suspects” soos Antjie Krog, Gert Vlok Nel, iets van Marlene van Niekerk en Louis Esterhuizen en enkele gedigte van Charl-Pierre Naudé, maar van Eybers dra ek uitvoeriger kennis, maar dit is nog nie te sê dat ek “deeglike kennis” van haar werk het nie.  Groot poësie neem ruimte en tyd in beslag.  Met elke herlees wil dit lyk asof sommige bundels hulleself voortdurend volledig vernuwe.  Jy kry geen greep op hulle nie, en dit moet ook so wees.  Daarby lees ek dié werk in ’n ander taal as my eie en soiets bring ’n verskil teweeg, ’n gelaagdheid wat kan verteken, in ’n goeie of slegte sin.  Ek kan Eybers lees, maar nie as ’n “native-reader” nie.  Ek weet nie presies wat daardeur in my kop plaasvind nie.  Maar ek hou ook van daardie aspek, van die buitestanderskap.  Dit gee ’n byna kinderlik-magiese lading aan die lees van ’n gedig, asof dit nie heeltemal vir jou oë bestem was nie.

 

In Suid-Afrika is daar tans ’n diskussie tussen digters oor verhalende / anekdotiese poësie in ’n spreektaalstyl (veral die voorkeur van jonger digters soos Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais en Charl-Pierre Naudé) teenoor die liriese poësie met ’n meer gekonsentreerde woordgebruik (die voorkeur van byvoorbeeld Marlene van Niekerk en Louis Esterhuizen). Hoe sou jy jou eie gedigte tipeer?  En vind jy dat jy as ’n Nederlandse digter sonder belemmering en aandag vir literêre modes en voorskrifte kan skryf?

 

Diskussies oor vorm kon ek nog nooit so goed verstaan nie – al wil ek nie daarmee sê dat hulle nie wel van groot nut is nie.  In die uiterste geval sou ’n enkele party gelyk hê – met konsekwensies wat myns insiens gevaarlik kan wees.  Een van die mees wesenlike waardes van die poësie – as daar so iets is – is dat dit vals is, talle gesigte ken, dat die poësie homself ewe maklik verraai as waar maak.

 

Self glo ek, kompleet nes ’n egte romantikus, in die opregtheid van ’n gedig en daarmee saam in die opregtheid van ’n digter.  Dit is nou maar een van my liewe klein patetiese eienaardighede.  En verder:  “onbegryplik”, “lelik”, “ontroerend”, “verwarrend”, “melancholies” – dit kan my nie veel skeel nie.  ’n Gedig werk vir my wanneer dit waaragtig is, en om so iets te sê is natuurlik dieselfde as om niks te sê nie, dus swyg ek liewer.  My werk is ’n konstante poging om van iets te ontkom.  As daar in Nederland van my verwag word om oor iets stelling in te neem, dan doen ek dit op die volgende manier:  alles wat nie daar staan nie, het ek verwerp.  Wat oorbly is klaarblyklik dan my mening.

 

Die titel van jou tweede bundel Namens de anders vind ek baie tergend, veral na die lees van die gedig “Vreemden” waarin jy skryf:

 

Leg tussen jezelf / de ander een diepe zee en verf je haren,

hou je onhoorbaar voor elke poging tot elkaar, verzet je

tegen nadering met rotsvast uitgeproken namen.

 

Hier gaan dit blykbaar veral oor die bevestiging van ’n eie outonomie.  Maar wanneer vind jy dat dit wel geoorloof is om oor of namens die ander te praat?

 

Outonomie, in die betekenis van “selfsturend, onafhanklik” is ’n besonder vreemde, merkwaardige ding wanneer dit oor die mens gaan.  Dit is haas ondenkbaar.  Ons is sulke ingewikkelde apparate en ons vermoë om onsself te bestudeer is maar beperk, ons is so oorgelewer aan chemiese stowwe en instinkte – ek weet nie of ek dit sou waag om myself “outonoom” te verklaar nie.  Miskien is dit gewoon te ambisieus, vir my in elk geval.  In hierdie gedig is dit dan ook eerder ’n vergeefse opdrag tot daardie soort vastigheid, die oproep om veral die een ding te wees en dit desnoods te doen ten koste van ’n ander.  Dit gaan sterk oor die huidige situasie in Nederland – maar dit gaan verder as ’n enkele groep, ’n enkele tyd.  Die angs wat daaruit spreek, is nie net die angs vir die onbekende nie, maar gaan verder as dit:  dit is die angs vir alles wat vreemd is.  Dus ook jou eie buurvrou, jou eie minnaar, jou eie kind.  Self glo ek dat ek eintlik altyd namens die ander praat, dat ek – wat hierdie “ek” ook al mag wees – die toevallige verteenwoordiger is van dit wat binne my skuilhou.  Binne my verberg ek miskien ’n koor van teenstellende stemme, wie sal weet?  En intussen maak ek maar net asof ek my eie self so ’n bietjie in orde het, wat nooit werklik so is nie.  Ag, ons vertel tog sulke mooi leuentjies aan mekaar.

 

In antwoord op my vraag oor die titel van Namens de ander noem jy dat die titel ook oor die huidige situasie in Nederland gaan.  Kan jy hierop uitbrei?  In Suid-Afrika word die vraag nogal dikwels gestel of dit eties verantwoord is om namens die (kulturele) ander te praat.  Wit skrywers wat oor swart karakters skryf, moet soms kritiek verduur dat hulle hulself hoegenaamd as bevoeg sien om hulle in die ervarings van swart mense in te leef.  Self glo ek dat hierdie inlewingsvermoë in ’n multikulturele land nie alleenlik onvermydelik is nie, maar selfs baie nodig en wenslik is.

 

Wat ek bedoel met my antwoord op jou vorige vraag is dat die oproep “om die een ding te wees en dit desnoods te doen ten koste van ’n ander” te make het met wat tans in Nederland gebeur, omdat die ekonomie agteruitgaan en die regse politiek besig is om veld te wen.  Ons word dan uitgedaag om die soort Nederlanders te word wat ons na my mening nie is nie, en nog nooit was nie.  Ons moet kwansuis ’n spesifieke soort Nederlander word om ’n kloof met diegene wat nie Nederlanders is nie, aan te toon.  Blykbaar is dit dan nodig om ’n punt te maak.  Dus word daar gepraat oor aanpas en Standaardnederlands praat en om geen misbruik van die sisteem te maak nie – en so word ons dan daardeur daardie soort Nederlanders, baie keurig en vol integriteit.  Ons wil dit ook graag glo, dit is wat so merkwaardig daaromtrent is.  Dit is eintlik ook ’n aandoenlike klein eienskap.

 

Om “namens” die ander te praat, neem jy altyd ’n groot riskiko, met name as ’n verhouding al lelik beskadig is.  Maar doen ’n skrywer dit werklik, dit wil sê praat namens ’n ander?  Dit vra ek myself af.  Die skepping van karakters sou jy hoogstens kon sien as die begin van verplasing, inlewing – en uiteindelik kan nie een van die twee partye daarsonder klaarkom nie.  Wie is wel bevoeg om namens die ander te praat?  Mag mans skryf oor verkragte vroue?  Mag vroue skryf oor gay mans?  Mag gesonde mense skryf oor siekes?  Daar het eenkeer ’n gedig van my verskyn oor die verhoudings tussen ’n vader en sy seuns.  Daar was ’n man wat toe daarop reageer het.  Hy was kwaad.  Hoe kon ek as vrou dit waag om die verhouding tussen ’n vader en sy seuns op so ’n manier weer te gee?  So negatief?  Wat het ek tog daarvan geweet?  Ek was verbaas daaroor omdat ek nooit gedink het dat ’n gedig op so ’n manier gelees kon word nie.  Maar dit was ook interessant dat dit wel so gebeur het.

 

In ’n resensie van Namens de ander skryf Arie van den Berg in die NRC Handelsblad dat jou tweede bundel dikwels oor die beswering van alledaagse demone gaan.  In jou gedig “Op wacht” is daar ’n vrou wat snags na aanleiding van haar man se asemhaling dink aan die “gevangen mannen” wat in sy kop rondloop, en is daar selfs die gevaar dat een van hierdie mans (of hul gesprekke) oor “de muur” sal klim om “tussen de lakens door zijn schedel uit” te gly.  Is dit korrek om te beweer dat jy deur die verbeelding van ’n soort demonie of besetenheid wat in die gewone skuilgaan ’n kreatiewe aansporing vind vir die skryf van poësie?  Of is hier meer op die spel?

 

Ek vind Arie van den Berg se opmerking oor die “demonie van alledag” baie sterk verwoord.  Ja, ek dink dat my poësie dikwels daaroor gaan.  Dit vind asof vanself plaas as ek ’n gedagte of waarneming uitwerk.  Dit is die wens om iets sigbaar te maak van wat gemaksonthalwe verborge bly, iets wat wesenliker is as sy eie verskyningsvorm.  Maar as ek dit sê, dink ek ook: nee, nee dit is ook nie heeltemal so nie.  Ek glo nie dat ek dit bewustelik doen nie.  Ek besweer alleenlik iets, soms, waardeur dit juis gestalte kry.  Dit is moeilik om sulke dinge uit te spreek, ek skiet daarin tekort.  Dis nie werklik heeltemal so interessant nie, dink ek.

 

Die titel van die gedig “Risico’s”, ook uit Namens de ander, bied ’n verrassende blik op die gewoontes en die roetine wat vorm gee aan die daaglikse bestaan.  Ook die laaste twee reëls van die gedig versterk met die goed gekose woord “wagen” hierdie gedagte:  “We wagen ons gewoontes in, / hebben ons lief. We herhalen.”  Wil jy met hierdie gedig oor die twyfelagtige aard van gewoontes en herhaling moontlik ook iets te kenne gee oor jou siening van jou eie digterskap?  Is jy voortdurend op soek na vernuwing in jou eie werk of is daar wel plek vir herhaling en reëlmaat in jou poësie?

 

Ja, die angs vir herhaling, sleur, tradisie – dit is wel deeglik ’n kwessie die afgelope jare.  Ons verander van beroep, van lewensmaat, van woonplek, van stokperdjie.  Ons wil, so lyk dit, soveel moontlik lewens in een enkele lewe inforseer.  “Vernuwing” is een van die belangrikste woorde van hierdie periode, meen ek, net soos “eietyds”.  Dit lyk na ’n doel eerder as na ’n uitgangspunt.  Dit is natuurlik nie so dat ek herhaling nastreef nie – maar ek ervaar die geskiedenis oor die algemeen en dié van die poësie in die besonder as ’n groot see van beweging en teenbeweging.  Alles sal altyd weer omvergewerp word, daar sal altyd weer mense staan wat uitroep dat dit klaarpraat is, dat ons moet breek met die tradisie.  Dit was by die Grieke al so; dit sal altyd so wees.  Natuurlik wil ek ook nie gebruik maak van dit wat ek al klaar onder die knie het nie.  Want dan begin jy om truuks uit te haal, volg jy vaste danspatrone.  Dit is onaangenaam omdat dit jou belemmer met jou werk.  Maar die wens vir vernuwing is uiters klassiek – dit is wat gaaf is daaraan.  Bowendien:  ook as jy steeds nuwe vorme vind, nuwe ritmes, nuwe woorde – dan nog bly daar ’n reëlmaat wat jy nie presies aan kan toon nie, maar wat nietemin bepalend is.  Die groot konstante in ’n oeuvre.  Uiteindelik is dit miskien die enigste wat jy “digterskap” sou kon noem.  Dit wat ondanks alles aanwesig bly in ’n gedig, hoeseer jy ook daaraan sou wou ontkom.

 

By die lees van jou gedigte uit Servetten halfstok en Namens de ander het ek dit opvallend gevind dat liggaamlikheid gereeld ’n vertrekpunt vorm in jou poësie.  In “Zeven” (Servetten halfstok) skryf jy: “plots aarzelt mijn lichaam in zichzelf / en beschadigt zich aan nieuwe hoeken”. En in “Vertegenwoordiger”, uit dieselfde bundel, staan daar:

 

Het lichaam dat jou lijkt uit te drukken,

jou verpakt en dan in porties aan

mijn blik verkoopt, maakt de winst,

 

loopt wel binnen, doet maar alsof

het jou mag zijn, alsof het bestaat:

onverdraaglijk traag ademend ding

dat zich om je vormen wringt.

 

Is dit akkuraat om te beweer dat jy ’n gewaarwording van ’n soort onwaaragtigheid in die liggaamlike bestaan wil opteken, of is hier veel meer aan die gang?

 

Die liggaamlike duik dikwels in my werk op, dikwels in die vorm van iets hinderliks.  Ek is nie ’n intellektueel nie, ek is nie ’n denker nie.  Ek is ’n chaotikus.  Ek prutsel maar voort.  Maar my sintuie doen dit.  En hoe!  Dit verwonder my hoe ’n geur ’n belangrike beslissing kan beïnvloed, of hoe iemand se liggaam sy of haar lewe kan bepaal.  Dikwels so onbewustelik, so verskuil en magies.  Dit is ’n sterk tweeslagtige relasie wat tussen die Westerse mens en die liggaam bestaan.  ’n Ongelukkige huwelik.  Ons is ’n paar liter vog, ’n skelet, hompe vleis, vel, hare – en ons wil dit liewer nie weet nie.  Ons skeer en grimeer en skrop en verf.  “Ons sny die wolf uit ons gesig.”  Maar al daardie fantastiese, subtiele moontlikhede, al daardie onbewustelikhede dring hulle uiteindelik wel aan jou op.  En dan die beperkings waarmee jy opgeskeep is, dit is sake waaroor ek opgewonde raak.  Nee, so lyk ek tog nie, dink ek dan, in werklikheid lyk ek heeltemal anders.  ’n Bietjie minder tasbaar, of miskien skerper, as een groot oog wat kyk en kyk en kyk.  Daar bestaan wel mense wat die buitekant probeer skik aan wat hulle as hul “werklike voorkoms” beskou – dit het soms ’n baie jammerlike afloop met allerlei verminkings of grieselrige operasies.  Miskien is dit die verlange om uiteindelik saam te val met iets, om êrens tuis te voel.  Ek sou graag wou hê dat dit inderdaad so is; dan sou ek dit kon begryp.

 

Jy het opleiding in kreatiewe skryfwerk in Amsterdam voltooi met poësie as spesialisasierigting.  Vind jy dat hierdie opleiding ’n belangrike aandeel aan jou vorming as digter gehad het?  En was Servetten halfstok die eindresultaat van jou opleiding in Amsterdam? Watter ander digters het ’n belangrike rol gespeel in die vorming van jou talent as digter?

 

Dit is eintlik nogal moeilik om te omskryf wat daar by die skool vir kreatiewe skryfwerk plaasvind, al het ek tog ’n paar jaar daar rondgeloop.  Dit is miskien veral ’n versamelplek waar skrywers en aspirant-skrywers mekaar ontmoet, waar groot literatuur naas prille eie werk bespreek word, waar sake afgeleer word.  Of dit is in elk geval wat dit behoort te wees: ’n klubhuis, ’n boomhuis, iets dergliks.  Baie – byna alles – hang natuurlik af van wat die student saambring.  Ek het groot talente geken wat pragtige werk voltooi het, maar daar was ook studente wat nouliks ’n boek wou oopmaak of uitsluitlik oor hulle vreeslike moeder wou skryf.  In ’n sekere sin is dit ook die sjarme van die skool.  Dit is ’n bonte versameling, onvoorspelbaar, soms eienaardig.  Half met my tong in die kies wil ek veral die middae dat ons na die lesse die kroeg binnegevaar het, uitsonder.  Dáár het dit interessant begin word, daar is die Groot Gesprekke gevoer.  Skryfopleiding word in Nederland verder nog steeds met wantroue bejeën.  Byna alles mag jy gaan leer, daar is immers oorgenoeg kunsakademies en ambagskole; ’n fotograaf of skilder met ’n diploma is niks ongewoons nie – maar skryf val blykbaar in ’n ander kategorie.  Eintlik is dit vreemd.  ’n Bepaalde tegniese beheersing, insig in valstrikke en bedoelings, die vermoë om te formuleer waarom iets werk of haper … dit is tog voor die hand liggende sake wat jy met begeleiding kan ontwikkel.  Servetten halfstok het eers in die laaste jaar min of meer begin ontwikkel.  Teen daardie tyd was daar nie meer onderrig nie.  Ek het selfstandig aan ’n reeks gedigte gewerk, met so af en toe ’n besoek aan ’n digter vir wie ek waardering gehad het en wat saam met my gelees het en kommentaar gelewer het.  Eers ’n jaar nadat ek my studie voltooi het, het die bundel werklik vorm aangeneem, in die aanloop tot die uitgawe daarvan by Van Oorschot. 

Jy is tans een van die redakteurs van die literêre tydskrif Tirade.  Vind jy dat jou werksaamheid by Tirade ’n positiewe uitwerking op jou kreatiwiteit as digter het?

 

Tirade is ’n pragtige tydskrif om by betrokke te wees – dit het in daardie opsig op feitlik alles ’n positiewe uitwerking, behalwe natuurlik op my drankgebruik tydens redaksievergaderings.  Toevallig het ek sedert ek op die redaksie beland het nooit weer ’n gedig vir publikasie klaargemaak nie.  Om een of ander rede vind ek dit nie aangenaam nie.  Ek skryf wel so nou en dan ander tekste, flardes prosa of essayistiese werk.  Die redaksie, drie kundige here en ek, bestaan uit “wye lesers” en dit sorg daarvoor dat die hele onderneming skerpsinnig bly.  Daar is maar min dinge wat ons spesifiek onderskryf of waarteen ons pertinent gekant is – soms lewer dit idiotiese idees op vir uitgawes waarvan, dank die hemele, ook baie goeie dinge van oorbly.  Wat die poësie betref, is ek afgesien van Tirade, iets van ’n omnivoor, ’n allesleser.  Dit sal miskien ’n gebrek aan stellingname wees, maar dit bekommer my nie juis nie.  Maar ek hou daarvan om te sien hoe iets opnuut uitgevind word en weer vorm gegee word.  En ek is boonop bra wisselvallig.  Die afgelope week het ek ’n bundel van Brodsky teruggevind wat ek verlê het en laat toe die kos aanbrand toe ek daarin begin lees.  Miskien sê dit niks nie.  Maar tog.  Dat jy na jou dood nog iemand anders se middagete kan bederf, dit is vir my ’n bewys van groot meesterskap.

 

 

Die volgende nuwe gedigte (sonder titels) van Perquin het in Poëziekrant in België verskyn.

 

 

Ik kan dit verhaal maar één keer vertellen. De tweede keer dat ik het vertel

klinkt het ingestudeerd en ze houden hier niet zo van verhalen

die klinken alsof je er lang over hebt nagedacht, ze willen

plompverloren en rauw van de tong, als iets

dat ter plekke onder hun ogen gebeurt.

 

Ik kan dit verhaal maar één keer vertellen en dat valt me ongemakkelijker

dan ik van te voren zou hebben ingeschat. Het blijkt dat schuldgevoel

wel degelijk bestaat - wie had dat nu gedacht - maar ook

zou ik kunnen zeggen: het is bescheidenheid.

 

Ik kan dit verhaal maar één keer vertellen en ik vertel het daarom precies

zoals het verliep in de werkelijkheid, dat wil zeggen inclusief

hoe bepaalde personen er helemaal geen weet van hadden.

 

Ik kan dit verhaal maar één keer vertellen, ik vertel het daarom

liever in één keer goed. Ik vertel het daarom aan u.

 

Dit is het verhaal. Het verhaal begint nu.

 

 

                         ………….

 

 

Je kunt ook vinden dat alles aan de ander ligt, want

er is altijd een keuze, iedereen is altijd maker

van keuzes, iedereen is altijd maker.

 

Je kunt ook een fiets meenemen als je fiets is gejat,

niet uit wraak maar uit rechtvaardigheid.

 

Je kunt ook met biechten wachten tot een moord

is begraven, zeggen: buut vrij, zaak verjaard. 

 

Je kunt ook onthouden wie je aardig vond, als je

iemand aardig vond. Er is altijd een keuze,

iedereen is altijd maker van keuzes.

 

Je kunt een jongetje op laten groeien tot het

niet meer op een jongetje lijkt

en zeggen: man.

 

 

‘n Bos het al sy wortels nodig

Monday, July 20th, 2009

Pan Cogito

 

Ek het enkele dae gelede klaar gelees aan Danie Schreuder se bundel kortverhale, ‘n Beter hemel (2009: Tafelberg Uitgewers). Terwyl ek deur al die inspirerende leesstof op julle webblad rondsnuffel, kon ek net nie die een beeld wat Danie Schreuder in ‘n verhaal gebruik het, uit my kop kry nie. Dit is naamlik die verhaal waarin hy na die bos bome teen Papegaaiberg verwys en meer spesifiek na die wortels wat ondergronds verstrengel lê en al die bome bogronds voed; van die grotes tot selfs die heel kleintjies.

 

So is dit met die meeste skrywes op hierdie webblad gesteld, myns insiens. Neem nou byvoorbeeld Marlene van Niekerk se opmerkings en Charl-Pierre Naudé en Danie Marais se artikels. Hulle sê eintlik presies dieselfde ding; net op ‘n ander manier. Dieselfde geld Peter Holvoet-Hanssen se praatjie, oftewel vuurspeech! (Terloops, laasgenoemde stuk is as oorkoepelende kommentaar eintlik ‘n treffende samevatting van die voorafgaande stukke.) So ook die gesprek oor “toeganklike poësie” wat so ampertjies hier kop wou uitsteek. Dis nou na aanleiding van Bernard Odendaal se blog in reaksie op Jaybee Roux se dwarsklappe in Die Volksblad. In ‘n Nuuswekker het Louis Esterhuizen ook na André Kotzé se stuk op LitNet verwys …

 

Hopelik het julle ook Andries Visagie se Kopstukke (”Waar is die opstopper-gedigte?”) in Die Burger van 11 Julie gelees? Hierin lewer hy weer ‘n stewige betoog ten gunste van die hermetiese vers, soos hy dit noem. En natuurlik - die opstootjies van ‘n klompie weke gelede oor die gebruik van intertekstualiteit. Alles eintlik maar net die verstrengelde wortels ondergronds wat dieselfde bos voed, is dit nie? Waarom dan die heftige kap en die téénkap? Solank die leser van die digkuns nie ‘n homogene groep is nie, is die totale verskeidenheid van die digkuns ‘n noodwendigheid. En die wonderlikste is dat niemand eintlik daardeur bedreigd hoef te voel nie. Dis tog iets om te geniet, is dit nie? In watter vorm of gedaante dit ook al na ons toe kom … Solank julle as digters net voortgaan met dit wat julle móét doen. En dit is om gedigte te maak.

 

Voorspoed daarmee!