Posts Tagged ‘Antjie Krog’

Marlies Taljard: … die liggaam gly soos sand deur die vingers

Monday, June 19th, 2017

 

die eerste voorhoedes van die dood

het opgedaag en die liggaam gly soos sand

deur die vingers, apatie neutraliseer die sintuie

 

oorlewing ontplooi soos ʼn woestaard en sny

jou af van ander sodat jy al hoe meer vertroud

raak met die na-binne-gedraaidheid van die dood

 

laai vir laai word jy leeggemaak

tot net nog die leë binnekant jou raak

 

(Uit: namens myself – Antjie Krog, Verweerskrif, 2006)

 

Hoewel die mediese wetenskap en die letterkunde op die oog af na twee onversoenbare sfere lyk, is die hermeneutiek van siekte in die moderne letterkunde wel deeglik bekend en is siektenarratiewe stewig ingebed in die kanon van die moderne Westerse letterkunde. Dink veral aan Thomas Mann se groot werk Der Zauberberg (1924) (The magic mountain in Engels) en aan Kafka se groot epiese werk Die Verwandlung (1915) (Metamorphosis in Engels). Laasgenoemde werk begin met die volgende openingsin (wat ek in Engels aanhaal): “When George Samsa woke up one morning after a night of restless dreams, he found himself in bed, transformed into a ghastly creature.”

Hoewel baie navorsing oor siektenarratiewe of die hermeneutiek van siekte fokus op die bydrae wat die persoonlike narratief van die pasiënt kan lewer ten opsigte van ʼn beter (mediese) begrip van bepaalde siektetoestande en kan lei tot meer akkurate diagnoses en selfs heling, kan siektenarratiewe egter ook vanuit ‘n literêre oogpunt beskou word. Siekte, sy simptome en die persoonlike belewenis van ʼn pasiënt se siekte word tans beskou as ʼn belangrike narratiewe tema. Ook op poëtiese gebied ontgin digters hierdie tema – soos ek in my vorige blog aangetoon het. In hierdie blog fokus ek op die oorvleueling tussen die akademiese veld van mediese wetenskap en die poësie. Hoewel talle voorbeelde uit die Afrikaanse poësie aangehaal sou kon word (ek dink byvoorbeeld aan Sheila Cussons se magistrale Christ of the burnt men), kyk ek vandag na enkele gedigte uit Antjie Krog se bundel Verweerskrif. Soos die foto van die ouer vrou op die oorspronklike voorblad suggereer, handel hierdie bundel veral oor verwering van die menslike liggaam, maar ook (in die laaste gedigreeks) oor verwering in die natuur – spesifiek die “liggaam” van Tafelberg soos die spreker dit vanuit haar huis kan waarneem. Die gedigte wat ek vir hierdie blog kies, is gedigte wat handel oor menopouse, die veroudering van die liggaam en die pyn en ongemak wat daarmee saamgaan.

Die gedig hormone replacement therapy is een van die gedigte in die bundel wat sterk oorvleuel met die mediese wetenskap, in dié sin dat die digter gebruik maak van die mediese vakwoordeskat en jargon en selfs van iets wat grens aan die wetenskaplike navorsingsmetode, naamlik oorweging van behandelingsmoontlikhede en vergelyking van simptome van verskillende mense wat dieselfde kondisie het.

 

hormone replacement therapy

om te hormoon

of nie

te hormoon nie

is die geweldige vraag – net vir vroue

 

dit beteken: wil jy jonger lyk,

kanker kry en Alzheimers

of wil jy oud lyk

en te lank lewe?

 

as ek my ma oor menopouse uitvra

kyk sy my aan asof ek die woord ‘internet’ sê

‘het ma nooit hot flushes gekry nie?’

 

‘my kind as ek gesweet het

het ek aangeneem dis van werk

en dan gaan swem of sommer ʼn shower gevat’

 

Die eerste twee strofes van die gedig roep die inleiding op van Hamlet se bekende toespraak:

.

To be, or not to be, that is the question:

Whether ’tis nobler in the mind to suffer

The slings and arrows of outrageous fortune,

Or to take arms against a sea of troubles

And by opposing end them …

 

Die implisiete naasmekaarstelling van die spreker se tweestryd oor die gebruik van hormoonmiddels vir die ongemaklike simptome van menopouse en die innerlike tweestryd van die tragiese held Hamlet is dalk ietwat oordrewe en selfs lagwekkend, maar die punt wat die sprekende ek deur hierdie hiperboliese toespeling wil maak, kan nie vir die leser verlore gaan nie, naamlik dat die menopouse vir haar inderdaad ʼn eksistensiële krisis bied. Dié gevoel van ʼn radikaal inperkende lewenskrisis word verder geïntensiveer deur die teenstellende narratief van haar moeder oor háár belewenis van dieselfde liggaamsverandering wat die spreker se reaksie verder parodieer en selfs belaglik maak.

Die moeder se narratief lê verder klem op die uiters subjektiewe belewenis van verskillende persone wat deur dieselfde malaise geteister word – in hierdie geval die “moderne” ek en die moeder uit ʼn vorige geslag. Dit laat vermoed dat siektesimptome nie ʼn “gegewe” is nie, maar dat dit deur verskillende subjekte radikaal anders geïnterpreteer en beleef word. Ook die vermoede dat kulturele agtergrond en beïnvloeding hulle stempel op die subjek-wat-siek-is afdruk, is in hierdie geval nie ongemotiveerd nie. Die geweldige klem wat openbare media en gewilde tydskrifte op sekere toestande soos menopouse, kanker, Alzheimer se siekte en Parkinson se siekte plaas, het waarskynlik ʼn invloed op die moderne mens se beoordeling van dié toestande. Die eerste twee strofes van die gedig immiteer immers duidelik die styl en genre van Die Gewilde Vrouetydskrif!

Die bogesiteerde gedig moet eintlik in samehang met die gedig gelees word wat dit in die bundel voorafgaan, naamlik sonnet van die warm gloede. Beide die gedigte is deel van die reeks “Agt menopousale sonnette”. Die geweldige kontras tussen die sprekende ek se woede oor die warm gloede wat ʼn simptoom van menopouse is en die gelate aanvaarding van die moeder uit ʼn ander era kom dan eintlik eers werklik tot sy reg. Uit dié gedig (wat ek hieronder aanhaal) kom die “moderne” vrou se woede oor en verset teen die onwelkome liggaamlike veranderinge wat deel van die verouderingsproses uitmaak, duidelik uit die verf as verset teen die lydsaamheid van ons moeders. Teenoor die selfbeheersing (selfs sefnegering) van die sogenaamde ouer garde word hier die totale gebrek aan selfbeheersing en die neiging om te “laat gaan” gedemonstreer. Hier is geen “aanvaarding van die vrou se lot” nie. Die gedig kan ten beste gelees word binne die diskoers van die radikale feminisme met sy onverdraagsaamheid (verteenwordig deur metafore van oorlog) ten opsigte van alles wat “tipies vrou” is, ondermyning (hier veral van die normale sinstruktuur, mediese diskoers en interpunksie) en veral sy kru taalgebruik:

 

sonnet van die warm gloede

iets kram jou rugmurg êrens vas jy voel.

hoe sprei ʼn pasgestigte brand sy angs vanuit.

ʼn kern en jou are loop met vuur jou vleis.

ontvlam jou hart hou vuurvas haar balans.

jou beendere bak buite hulleself jou gesig.

verseng jou wange prut onthutsend voort en.

telkemale breek jy weg uit sissende omhulsels.

sweet jou vel vonk in ligte laaie weg.

 

maar op ʼn dag skuif jy in jou stoel – en voel

die smeltkroes kole wat jou laaste

sappigheid verwoes. die fok weet dis genoeg:

brandend soos ʼn kryger staan jy op – ʼn boeg

van vuur – aan sy strot pak jy die dood en ploeg

sy neus deur jou kaalgeplukte drooggebakte poes

 

In terme van poëtiese taalgebruik maak die digter in die bostaande gedig van ‘n besonder sterk bewoorde idioom gebruik, belaai met harde klanke en wars in ritme om die onuitstaanbare teistering van die liggaamlike kondisie uit te druk. Sou ʼn mens die gedig lees as verwoording van die simptome van ʼn “siekte”, is dit opvallend dat geen mediese terme of eufemismes gebruik word nie. In my vorige blog het ek aangetoon hoe die gebruik van mediese vakwoordeskat die poëtiese diskoers positief bevrug. Van die gedig sonnet van die warm gloede sou ʼn mens kon beweer dat dit die omgekeerde bereik, naamlik om die mediese diskoers te verryk met woorde, frases en metafore wat waarskynlik binne die kliniese praktyk as “onbehoorlik” en subjektief of oordrewe geag word. In dié verband kom Svenaeus (2000) tot die gevolgtrekking (in sy artikel Hermeneutics of clinical practice: the question of textuality): “Theoretical Medicine and medical practice contains textual elements that might be better understood by resorting to the hermeneutical skills in which literature is especially proficient”.

Terselfdertyd word egter ook die poëtiese diskoers verryk deur die uitdrukking van siekte-as-verskrikking – die nuwe, onvervreembaar Afrikaanse woordeskat van trauma. Dit is immers die aard van letterkunde (en veral van die poësie) om gevoelens en  belewenisse te ver-woord. Dit is ook in die aard van die letterkunde om simboliese ruimtes te skep waar die aard en belewenis van siekte, lyding en die versugting na heling op nuwe, kreatiewe wyses gerepresenteer en ontgin kan word. Dit is waarskynlik in hierdie narratiewe waar die eerlikste beskrywing van siektesimptome voorkom en waarin die gesanksioneerde lys van simptome wat in mediese handboeke voorkom, die volledigste ondermyn en herskryf word, naamlik deur dit deel te maak van die filosofiese en literêre raamwerke wat in staat is om nuwe lig te werp op die inligting wat slegs deur die subjek-wat-siek-is verskaf kan word.

 

 

Nuuswekker. Lady Anne binnekort in Engels beskikbaar

Thursday, February 9th, 2017
Omslag

Omslag

Goeie nuus is dat Antjie Krog se grensverskuiwende bundel, Lady Anne (1989: Human & Rousseau) teen die einde van die maand in Engelse vertaling gaan verskyn. Hierdie bundel, wat in 1990 met die Hertzogprys vir poësie bekroon is, is inderdaad 26 jaar later nog net so relevant en daarom is hierdie publikasie, in samewerking met Bucknell University Press, te verwelkom.

Volgens die uitgewer se inligtingstuk, die volgende: “In an attempt to make sense of her own existence, Krog juxtaposes her own life in the midst of a world of racial injustice and discrimination, against that of the life and times of Lady Anne Barnard, of Scottish descent, during her stay in the Cape Colony in the late eighteenth century. Ultimately the collection transforms into a document of multiple voices, highlighting the complexity of a colonial legacy.”

Aanbevelings is die volgende:

Stephen Clingman: “There is a rugged, gripping quality to Krog’s language, digging deep into the nature of South African life and her own self-challenging life to it.”

Ingrid de Kok: “Krog engages . .. with originality and power, in poetic language of great beauty, passion and complexity.”

In September 2011 het Bernard Odendaal en Hennie van Coller se artikel oor “Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)” in Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88 verskyn. Met goedgunstige verlof is dié artikel ook op Versindaba geplaas.

Onder andere was hul bevinding soos volg: “Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het ‘om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring’, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar ‘volggenote/volksgenote’ met elke volgende bundel van haar telkens te verruim – só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê ‘literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid’ (Brink, 1985:79) […] Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.”

Die volledige artikel kan hier gelees word.

Hieronder volg een van die gedigte uit dié bekroonde bundel.

Mag jou dag vreugdevol verloop.

Louis

 

*

Lady Anne by die mikrogolfoond

o my susters in kombi’s en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat soggens in fleurige leotards
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

soos ons by mekaar op oorbrûe verbyjaag
in stofwolke stop langs sportvelde
aandagtig sit en tydhou voor musiekkamers
mekaar aan die huil bid op Bybelstudies
wonder ek: van watter breed is ons?

in die meedoënlose metodiek van beplanning
herken ek die waansin van wa-pak
die drif waarmee kinders gedryf word
tot uithaal en byhou ruik na kamp en kroep

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai
en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai
weet ons ons is die laaste
die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en heuning
ons is die laaste
agter ons onder ons langs ons
stort met die sagte geluid van as
strukture wat ons soort in stand hou
in hulle maai.

 

© Antjie Krog (Uit: Lady Anne, 1998: Human & Rousseau)

Marlies Taljard: Waar sal my woorde vandaankom?

Sunday, December 11th, 2016

hierdie-mens

woordeloos staan ek

waar sal my wooorde vandaan kom?

vir die doeners

vir die huiweraars

die banges

wat bewend-siek hang

aan die geluidlose ruimte van ons onherbergsame verlede

 

wat sê ʼn mens?

wat de hel dóén ʼn mens

met dié drag ontkroonde geraamtes, oorsprong, skande en as

 

die land van my gewete verdwyn sissend

soos ʼn laken in die donker

(Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie, p.38)

 

In sy boek Beginning Postcolonialism skryf John McLeod: The ability to read and write otherwise, to rethink our understanding of the order of things, contributes to the possibility of change.  Indeed, in order to challenge the colonial order of things, some of us may need to re-examine our received assumptions of what we have been taught as ‘natural’ or ‘true’ (p.23).

Hoewel vandag se blog nie primêr oor skryf binne die postkoloniale tradisie handel nie, kan postkoloniale teorie insiggewende lig werp op die wyse waarop digters hulle worsteling om woorde te vind in hulle poësie openbaar maak. In die bostaande gedig wat in 2000 gepubliseer is, probeer die spreker woorde vind om haar skaamte vir ons apartheidsverlede te verwoord, maar ook om, aldus die Bybelse interteks “Waar sal my hulp vandaan kom?”, antwoorde, selfs hulp, van woorde af te smeek om die onseglike te verwoord. Die bundel as sodanig word gekenmerk deur ʼn voortdurende soeke na die presies korrekte woord, die woord wat in staat sal wees om die bestaande orde te verander, soos in die slot van “skryfode” (p.74):

ons wil duur om die aarde dop te hou

en taal te sny om die moment te betrag

die gemeenskap van ons bloed en ons hart

 

in die begenadigde woord

sou mens met mekaar kon hoort

 

Die bundel Kleur kom nooit alleen nie het natuurlik sterk postkoloniale trekke en ʼn duidelike ideologiese inslag met versoening as een van die sentrale temas. Dit sou egter verkeerd wees om die bundel slegs as postkoloniale diskoers te lees en te interpreteer. Die gedig “skryfode” is byvoorbeeld ook een van die aangrypendste liefdesgedigte in die Afrikaanse letterkunde en kan ook gelees word as poging om versoening tussen twee liefdesgenote te bewerkstellig. Ek sal dan in hierdie blog die postkoloniale teorie moedswillig effens verwring om ook ʼn ruimer betekenis daraan te gee – veral wat betref die twyfel aan die representasievermoë van taal wat eie is aan dié diskoers (sowel as aan die postmodernisme en die modernisme).

Ashcroft, Griffiths & Tiffin (The Post-Colonial Studies Reader, p.117) wys daarop dat die postmodernistiese sowel as die postkolonialistiese teorie daarna streef om die gesentraliseerde, logosentriese meesterkodes van (veral westerse) kulture te dekonstrueer om sodoende die denke van individue te verander. Beide dié teorieë fokus op die belangrikheid van taal en skryf in die konstruksie van identiteit en ervaring en wys op die onstabiliteit van die signifikasieproses en die dinamiese prosesse waardeur mag tot stand gebring en gedekonstrueer word.

Een van die eienskappe van taal is dat dit sekere dinge as “waar” of “reg” kan sanksioneer.  Koloniale taal, soos ook patriargale, seksistiese en enige ander onderdrukkende taal, het sekere norme en waardes as “die ware orde van dinge” gevestig en het die betekenis van bepaalde “magswoorde” gestabiliseer.  Hierdie norme, waardes en betekenisse word oor die algemeen selde bevraagteken, omdat eenvoudig aangeneem word dat dit die enigste wyse is om te dink en dat die betekenis van woorde vas is. Verset in al sy verskillende manifestasies is egter een van die belangrikste wyses waarop die die individu “nee” kan sê vir oorheersing in al sy verskriklike vorme.

Inherent aan taal is nie slegs objektiewe betekenis nie, maar taal is ook een van die sterkste draers van kultuur, soos hierbo aangedui.  Deur wat binne ʼn kultuur algemeen gelees word, word waardestelsels as natuurlik, universeel en tydloos geïmpliseer en word ʼn samelewing se denkraamwerke getransformeer na (byvoorbeeld) die Europese model van dink en in-die-wêreld-wees deur middel van verwysings, aannames en kennis wat in die literatuur ingebed is (Ashcroft, Post-Colonial Transformations, p.37).

Indien ʼn bepaalde denkpatroon, soos in Suid-Afrika, gekontamineer geword het en verandering noodsaaklik is, behels dit dat ʼn hele nuwe kultuur gevestig moet word – ʼn taak waarin skrywers ʼn belangrike rol te speel het. Volgens Ashcroft kan transformasie deur literêre werke teweeg gebring word (onder andere) deur ʼn proses van interpolasie: “The successful disruption of the territory of the dominant occurs, not by rejecting or vacating that territory but by inhabiting it differently” (Ashcroft, 2001:53).  Weerstand beteken vir Ashcroft nie noodwendig totale verwerping van die dominante kultuur nie, maar veral die vermoë om die dominante diskoers deur ‘n wye reeks kontra-diskoerse binne te dring en dit sodoende te destabiliseer en te bevraagteken, soos dit veral in Breyten Breytenbach se werk voortdurend voorkom. Taal is immers een van die kragtigste middele waardeur interpolasie bereik kan word. Daar is in onderdrukte of gekontamineerde kulture onder andere ‘n nuwe woordeskat nodig. “Ou” magswoorde moet met nuwe betekenis verryk word of met ander woorde vervang word – daarom dan ook die klem op woorde en woordbetekenis in die Afrikaanse poësie sedert ’60. Ashcroft voer aan:

… to have a language is to have a particular kind of world, a world that is simply not communicable in any other language.  At base this problem rests on the question of meaning itself: how meaning is communicated in texts.  This issue lies at the heart of the transformative capacity of post-colonial discourse, because if the ‘colonized’ and ‘colonizing’ are not to be doomed to mutual incomprehension we must understand the constitutive and dialogic way in which the meaning of texts is accomplished.  Transformation, when we examine it in the context of literary and other forms of creative discourse, focuses in the question of meaning (Ashcroft, 2001:59).

ʼn Mens kan hierdie stelling natuurik nie direk op die Afrikaanse poësie van toepassing maak nie, hoewel dit in wese geldig is. Aangesien Afrikaanse digters tydens en na die apartheidsjare teen ʼn sisteem ingeskryf het waarvan hulle in die oë van die swart bevolking deel was, was die stryd hier eerder teen elemente van die self en nie soseer teen onderdrukkers van buite nie. Die “Ander” en die “Self” was nie altyd so duidelik herkenbaar nie. Vandag geld Ashcroft se insig steeds op politieke en ideologiese vlak, maar kan ook van toepassing gemaak word op digters wat nie politieke agendas bedryf nie, maar teen ander vorme van konkrete of abstrakte onderdrukking inskryf. Ten einde klem te lê op die vind van ʼn nuwe woordeskat of kragtige woorde wat gesanksioneerde onregte besweer, is dit noodsaaklik dat die modus operandi deursigtig gemaak word sodat onnadenkende lesers nie maar weer gemaklik oor die oppervlakte van die teks heenbeweeg sonder om die diskriminerende diskoers wat gevestig is in sekere woorde en aannames raak te lees nie. Die worsteling met woorde is dus ʼn soort grawe tot by die wortel van betekenisgewing of semiose.

In die geval van letterkunde vanuit die kolonies wat ook deur die sentrum gelees word, is daar ‘n groter gaping (distance) tussen die skrywer en die leser as wat daar sou wees tussen ‘n skrywer en leser wat beide tot dieselfde kulturele groep behoort. Dit geld ook vir skrywers wat vir ʼn gehoor skryf van wie se ideologiese basis hulle sterk verskil.  Die aanname word dikwels gemaak dat die groot gaping tussen kulture die oorsaak is van ‘n gebrek aan begrip vir mekaar.  Ashcroft (2001:76) sien die kulturele gaping egter heeltemal anders: deur literêre werke wat die gaping tussen twee kulture beklemtoon, word die leser uitgenooi om deel te word van die emosionele en denkraamwerk van die vreemde kultuur.  Dit is die werkwyse wat Antjie Krog in die grootste deel van haar oeuvre aan die dag lê. In gedigte soos “klaaglied” en “slapliedjies vir Ntombizana Atoo” in Kleur kom nooit alleen nie en “bediendepraatjies” in Mede-wete (en talle ander) word die leser betrek by die leefwêreld van mense wat vir die meeste van ons die “heeltemal-Ander” verteenwoordig.  Die groot mate van ondeursigtigheid wat dikwels deel is van sodanige tekste verseker dat dit nie verswelg word deur ander tekste in die dominante taal nie.  So ‘n teks verleen sowel toegang tot die ander kultuur as wat dit eenvoudige aannames oor betekenis en betekenisoordrag tussen verskillende kulture bevraagteken en sodoende die klem plaas op sy eie kulturele andersheid.

Mede-wete

Mede-wete

In die laaste afdeling van Mede-wete, “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” kom sulke tekste voor waarin ook die ontoereikendheid van woorde en taal betreur word, byvoorbeeld:

die aarde het ek in my mond geneem. ʼn verhewigde land

probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie

 

nog van die gebral

van oorhoofse manlikheid

nog van die raafgier

van geldgrabbelary

 

nog van mense versug tot bestuurde verhongering

die waarheid wou ek bestek   die ondiep oopkap

(…)

 

Die sintaktiese en morfologiese verwringings wat die bogesiteerde gedig kenmerk, word deur Ashcroft as ʼn subtiele vorm van ‘distancing’ beskryf (Ashcroft, p.75) wat hy die metonimiese gaping noem.  Deur die inskripsie van grammatikale afwykings, vreemde woorde en neologismes word hierdie vreemdheid sinekdogeïes vir die vreemde kultuur (die deeltjie staan vir die geheel). Op ‘n metonimiese wyse staan die vreemde woorde en uitdrukkings dus vir die vreemde kultuur van die skrywer en hierdie vreemde elemente se weerstand teen interpretasie/vertaling veroorsaak ‘n gaping tussen die kultuur van die skrywer en die kultuur van die leser.  Sekere woorde en frases vorm ook dikwels ‘n tipe “mag-woord” (soos “manlikheid” en “geld” in die gedig hierbo) wat dan ‘n metafoor word vir ‘n bepaalde kulturele ervaring wat nie elke keer letterlik opgeroep word nie en wat dikwels ook moeilik in woorde omskryf kan word.  Ook hierdie gebruik van taal is metonimies en beskik dus oor die potensiaal vir die inskripsie van ‘n kulturele gaping in ‘n teks.  Veral vir skrywers uit ‘n orale tradisie is die woord as sodanig natuurlik ook belangrik omdat woorde vir hierdie mense dikwels heilig is en in staat is om nie net te representeer nie, maar om die genoemde konkreet te presenteer of op te roep.

In die Afrikaanse poësie wemel dit letterlik van voorbeelde van gedigte warin die digter se besinning oor woorde, hulle betekenis en gebruik die tema is. Een van die bekendstes is seker Van Wyk Louw se gedig “Grense” met die klem op die grensoorskrydende (selfs heilige) mag van woorde en die spreker se behoefte om dinge uit te sê wat nog nooit vantevore gesê is nie. My keuse val egter op ʼn relatief onbekende gedig.

Uit Wilma Stockenström se gedig “ʼn Mat van woorde” in haar laaste bundel, Hierdie mens blyk die spreker se skielike besef van die verskuiwing van woordbetekenisse (in die lig van die voorafgaande uiteensetting …?) en hoe dié besef haar (op outobiografiese vlak as ouer persoon) onkant betrap:

Woorde heg hulle aan woorde en word ʼn mat.

Uitgetrek onder my word die mat en ek val

op my gat. Dis nou hoekom ek sukkelend

opstaan en swetsend oor patrone / gedagtes

 

tree om die vabond te betrap, die verskuiwer

van aanvaardings, om sy skuilplek te vind:

die oerwoord. Ha of ja, wat is dit?

Uit ʼn kwylende babamond, blasies blasend

 

van tandekry, dié eina-klankie? Dié

lawwe eerste knoop? Wanneer jy so platsit,

voel jy hoe die aarde onder jou draai en draai

op al die woorde wat die wêreld weef.

 

En om nie grommend te tuimel nie

klou jy, broos van ydelheid, kneukels wit,

aan betekenis en uitleg en vertolking en hoop

op dissertasies in dik geleerde boeke, leergebonde.

 

Opvallend is die spreker se verset teen verandering wanneer sy “klou” aan die geykte en bekende betekenisse, versterk deur die dubbelbetekenis van die laaste woord in die gedig, “leergebonde”. Sy vertrou op uitleg van geleerdes omdat sy op haar eie kennis nie (meer) kan staatmaak nie. Die gedig is inderdaad ʼn bekentenis aangaande die mag van woorde – dit kan die mat onder jou uittrek en jou figuurlik op jou gat laat beland. Hierdie gedig sou vrugbaar gelees kon word as kommentaar op die wyse waarop betekenis binne kulture tot ʼn uitgesponne, gemaklike “mat” geweef word wat ʼn gerieflike basis vorm van wat as vanselfsprekend aanvaar word. Wanneer die status quo skielik bevraagteken word en die onstabiele aard van woordbetekenis aan die kaak gestel word, is woorde in staat om die lewe van diegene wat gehoor gee, ingrypend te verander.

Gisela Ullyatt. Ballade van ’n tweedehandse bibliofiel.

Friday, February 19th, 2016

Boeddha en boeke

Die reuk van tweedehandse boekwinkels is onmiskenbaar: dié van muf en ou sigarette. Sommige word deurdrenk met die giftige geur van motbolle. Uit ander sypel ’n ongedefinieerde, suurderige klankie.

Dikwels sit daar ’n triest persoon agter die kasregister. Soos in die winkel-in-‘n-stegie wat ons gedurende ’n kort besoek aan ’n ander stad ontdek het. Ter wille van veiligheid is daar ’n deurklokkie om toegang tot dié ‘boeketronk’ te beperk. Geroeste burglar bars; ruite bespikkeld met ou vuil. Metaal-hard klik die veiligheidshek oop. Toegang op eie risiko.

Die plek ruik na nat mat en verlatenheid. Agter die toonbank staan ’n bejaarde dame (dalk chronologies nie só bejaard nie). Haar gesig is gevlek; haar mond ingeplooi soos dié van ’n skilpad. Bebrilde oë volg elke beweging.

Swak ventilasie: ’n waaiertjie hersirkuleer die benoude lug.

Ons begin van ’n punt af: bibliofiele is immers ou strydrosse wat (byna) enigiets sal trotseer. Spoedig het ons ’n hele stapeltjie bymekaar: Ernst van Heerden se Etikette op my koffer en Wolk van die mooi weer. Opperman se Naaldekoker en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Etienne Leroux se Onse Hymie. Plus ’n paar interessante selfhelp-boeke in Engels. ’n Biografie of twee. Die FAK-sangbundel, derde druk: 1963.

Ons vorder fluks tot by die toonbank. Die dame kyk na elke boek voordat sy die pryse intik. Vra ons hoekom ons so baie van Afrikaanse boeke hou. Die meeste lesers is immers versot op Engels. ’n Paar gawe woorde later en haar ingetoënheid verander in ’n gebreekte damwal waardeur woorde spuit. Dis asof haar skouers minder hang.
Al meer as twintig jaar wat sy vir die eienaar van dié winkel werk.
My man grap dat dit meer na ’n vonnis klink. Haar oë word vogtig: Ja, seg sy.
Weinig customers oor die jare  het die moeite gedoen om na die storie van ’n old biddy soos sy te luister.  Soos haar man.

Dié is jare terug geboard. Stook glo soos ’n ou koolstoof. Sit-lê heeldag voor die tiewie. Sy jeremiades en rookasem kan sy nie meer verduur nie. Vyf-en-veertig jaar van haar lewe, gemors op ’n hypochondriac.
Maar wat, vra sy, is die alternatief?

Sy lyk verniel soos die winkel se weeskinders van papier.
Lankal uit druk. Moontlike waterskade. Gevreet deur silwermotte van die verlede.

Die tweedehandse dame is alleen. Sans assistent. Maar sy ken haar plig: om boeke uit bokse te pak, te sif, te organiseer. Daar is nie ’n boek in hierdie boekegrot wat nié deur haar onversorgde hande is nie.
Hier is sy die enigste doeane: sy ken elke immigrasie- en emigrasiewet van boeke op die punte van haar stomp vingers. Maar immers is die doeane niemand se vriend(in) nie.

***

Daar is ’n paar redes waarom ek die weeskinders onder boeke so bemin: elkeen is soos ’n outydse lucky packet. Jy weet nooit wat jy tussen die blaaie gaan ontdek nie: boekmerke, vergeelde resensies. Vergete briewe. Onderstreepte woorde wat eens iets vir die leser beteken het. Aantekeninge, notas; sommige netjies neergestip in potlood, ander vernielsugtig in blou of rooi ink.

Ek deel met lesers ’n paar voorbeelde van tweedehandse Afrikaanse digbundels en boeke oor poësie wat ek in die laaste jaar of wat ontdek het.

Wilhelm Knobel se Mure van mos (1970) is besonder goed opgepas en reukloos.

Wilhelm Knobel

Die eienaar was kennelik ’n musiekliefhebber: twee knipsels oor die komponis, Arnold van Wyk, die onderwerp van die reeds-bekroonde Nagmusiek deur Stephanus Muller. Die eerste knipsel dateer uit Die Volksblad van Saterdag, 20 Oktober 1979. Prys: 14c + 1 c belasting= dus ’n hele 15c. Die opskrif: “Roomse mis in ’n N.G. Kerk”. Van Wyk self is die outeur van hierdie artikel wat handel oor sy ‘Missa in illo tempore’ wat reeds in 1945 in ’n sketsboek deur dié komponis aangeteken is. Eendag hoop ek om genoeg te spaar om Muller se Nagmusiek aan te skaf.

Arnold v Wyk 2 Arnold v Wyk 3

Ook vind ek die agterkant van knipsels mateloos interessant. In hierdie geval is dit ’n veelbesproke boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en John Tate wat ‘omstreeks 22h20 gebeeldsaai’ sou word. Voorgevegte: omstreeks 18h15: een van hulle tussen Kallie Knoetze en Randy Stephens van die VSA. Wie het uiteindelik geseëvier?

Boks paradoks

Knipsel 2 oor die Van Wyk-Mis is ongedateer en moontlik ook uit Die Volksblad geknip. Die joernalis/resensent was ene ‘D. de V’. In die resensie word dit aangedui dat die Mis in die NG Kerk Dalsig, Stellenbosch, uitgevoer is. Groot lof is Van Wyk toegesing.

Arnold v Wyk 1

Die eerste druk van Breyten Breytenbach se Kouevuur (1969) bevat ’n interessante knipsel (sommer ingegom).

Breyten 1

Dié kort resensie is in Engels deur ene ‘D.M.’ geskryf. Daar is egter geen aanduiding van die koerant nie (lesers is ongelukkig nie noodwendig navorsers nie). Die Engels klink plek-plek onaf: “Breyten Breytenbach lives today in Paris” […] “Even high up in the pressurized aircraft, he can feel the heat and smell the sweat”. En “Then the poet cries: ‘Africa, my Africa, the land which is God to me. You dare not remain just an abstract, not for me.” Sela.

Breyten 2

NP van Wyk Louw se Berigte te velde. Opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse Nasionale Letterkunde (derde druk, 1971) het twee gefotostateerde gedigte: die een, “Hansie en Grietjie” en die ander, “Die slagoffer”.

Van Wyk Louw 1

Beide is gedigte van Eveleen Castelyn uit die bundel, Hemel en aarde. Verder blyk dit dat die persoon die tema wat deur beide gedigte aangespreek word, dalk persoonlik ervaar het en daarom die knipsels bewaar het. Of dalk was hulle bloot voorgeskrewe gedigte op universiteit.

Hansie en Grietjie

daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
eennag [sic?] het hansie en Grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af

Eveleen Casteleyn knipsel 2

Die slagoffer

Ma het toesig verkry oor my
volgens ’n hofbevel
op voorwaarde dat:

Pa my al om die ander naweek
kan kom haal en elke vakansie
moet ek by hom ook gaan kuier

hoekom haat hulle mekaar so dat
hulle my wil verskeur
en soos ’n pop
rondpluk aan my arms?
hulle verwyte steek
gate in my lyf
die semels loop uit
my maag voel hol
van verlange

my ma en my pa,
Mammie en Pappie,
Moeder en Vader
het my almal kwaadwillig verlaat

Eveleen Castelyn knipsel 1

Groot was my vreugde toe ek DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok by ’n boekmark opspoor.

Opperman 1

Talle potlood-aantekeninge kan in hierdie kopie gevind word, soos gesien in ‘Vreters van die Bossie’ (56).

Opperman 2

Sommige van die gekrabbel kon ek egter nie uitmaak nie. Ek haal die versreëls aan wat hier betrekking het en dui die dienooreenkomstige aantekeninge in hakies aan wat ek wel kon ontsyfer:

in die Donker Kolk [Marais] die swart serpentyn […]
en in die vreugde van die laterale lyn
die ongeordende, evangeliese walrus
preek [Erasmus Smit] […]
en wilder die goue kruier rol –
almal na die jonger nimf in blinker skubberok
wat haar treurlied tussen Drie Ankers sing [Ingrid Jonker]
in benede- en in bowetone
voor die opper- en die ondermane

Opperman 3

Eenkant wei afwykende amfibiane; [Van Wyk Louw]
diepseeskilpaaie deur lou waters […]
en die seeluis en slierdrelle
van die eerste kwalle uit die Dal, [Patrioters? (Sic?)]
[…] visse van die stok en spies, die glad en die glibberige [Peter Blum]
tong, die bekbroeiers en die horingslakkies
wat in vlakwaters vroetel
met die blaasoppies en muntelose meerminbeursies
oor die streep gespat. [die vier laaste reëls word genoteer as: ‘groepering homoseksuele digters’]

Opperman 4

Marié Blomerus se Fosforblom (1968) sluit ’n briefie tussen bladsye 54 en 55 in.

Marie Blomerus

Die gedig op eersgenoemde bladsy is ‘L’hirondelle’ wat ‘swaeltjie’ in Frans beteken:

Al die swawels is weg.
Soms haal ek een baie somers oud
wat soet soos water ruik
uit skemer sakke van my jurk
en blaas in sy neus
blaas in sy bek:
sy vleueltjies wil nie sprei
sy oë wil nie roer
hy sit
gebalsem in my hand.

Die briefie is hartseer en in ’n kinderlike handskrif. Dis gerig aan ‘Marie’, maar is nie Blomerus (Marié) nie, maar vermoedelik die vorige eienaar van die bundel, wat Mari sonder ’n ‘e’ gespel word voor in die bundel. Ek haal verbatim aan, sonder redigering van taal- en spelfoute:

Liewe Marie

Ek wil graag saam marie vakansie hou
speel in die kamer
met my asb
baie dakie
vir alles
baie dankie vir
die mooi
brief. Ek sal baie na marie vallang as marie
weggaan
ek sal eensaam
wees

maro marcelle

briefie 1briefie 2

’n Resensie oor I.L. de Villiers se Manna oor die duine (1974) word voor in die gelyknamige bundel gevind.

Izak de Villiers 1

Die eerste eienaar (1974) word aangedui as iemand wat woonagtig was in Strand waarna dit in 1995 aan ’n persoon in Stellenbosch behoort het. Die publikasie van die knipsel word nie aangedui nie, maar val onder die rubriekhoof ‘Boekbeskouing’. Die resensent word as JJM aangedui.

Izak de Villiers 3

Op die agterkant van die resensie is daar ’n interessante brief (’n leser?) van iemand genaamd GM Daneel van Pretoria; die opskrif: ‘Liefde vir swart medemense’. Wat sou die reaksie op so ’n ‘progressiewe’ brief wees?

Izak de Villiers 2

Antjie Krog se Otters in Bronslaai (1981) is in ’n goeie kondisie, behalwe vir die dele wat kwistig in blou ink genoteer en onderstreep is.

Krog 1

Dalk die swaar hand van ’n gefrustreerde student?

Krog 2

Die laaste voorbeeld van my tweedehandse boek-ervaring is geweldig sinchronisties. Ek en my gabba, Ilisna Nel, gaan verken een van die winkels in Bloemfontein. Ons steek vas by die Afrikaanse digbundels, meeste vir ‘n appel en ’n ei te koop. Ek soek vir haar twee bundels uit (maar sonder om binne-in te loer), een daarvan NP van Wyk Louw se Gestaltes en diere (1972-uitgawe).

Gestaltes en diere

Dieselfde aand kry ek ’n paar whatsapp’e van haar: ‘check bietjie wat kry ek binne-in …’
Die eerste gefotostateerde knipsel is deur ene G.T.:

Conception

At a time of such uncertain certainties
such certain uncertainties
– it’s dark in this room –
what do we know of the light beyond the windows –
of the morning which will come noisily tomorrow
using our face to call our name?
All you, for whom hurting
is synonymous with living –
I live.
I also live –
shielding my modest flame with my hand
as in a storm –
I open the door of the tomb
and go in …

Empie 1

Die tweede whatsapp lees: is hierdie digter familie van julle?

Three ways of Hearing a Solitary Bird
(for Diane)

Whispering of …
terribly far off…
my lady,
my love,
a solitary bird calls.

A solitary bird calls:
my lady my love
lady my love
my love my lady
love my lady
my lady my love
a solitary bird calls,
and I ride upon its song.

Across the empty desert lands,
a solitary bird sings,
a whisper on the wind terribly far,
and you are with me,
my lady,
my love.

Inderdaad ken ek toe die digter. A.G. Ullyatt oftewel Tony, my man. Dié gedig het verskyn in Unisa English Studies (1975). Soos menige digter voel hy dat hy hierdie ou gedig eenvoudig wil junk. Die foto wys die oorspronklike tipografie wat ongelukkig deur Word Press omgekrap is.

Empie 3

Toeval, sal party dit noem.
Vir ’n tweedehandse bibliofiel bestaan die woord ‘toeval’ nie.
Daarvoor is die kanse nét te skraal.

Bibliografie
Blomerus, M. 1968. Fosforblom. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Breytenbach, B. 1969. Kouevuur. Kaapstad: Buren.
De Villiers, I.L. 1974. Manna oor die duine. Kaapstad: Tafelberg.
Knobel, W. 1970. Mure van mos. Kaapstad: Human & Rousseau.
Krog. A. E. 1981. Otters in Bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, N.P. Van Wyk. 1939 (1971). Berigte te velde. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, N.P. Van Wyk. 1942 (1972). Gestaltes en diere. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ullyatt, A.G. 1975. “Three ways of hearing a solitary bird”. Unisa English Studies, 13(1), 26.

Waldemar Gouws. Dia!kwain en sy ma, die Ontongs, Antjie Krog en Rilke

Thursday, October 8th, 2015

dia!kwain

Dia!kwain en sy ma, die Ontongs, Antjie Krog en Rilke

Om hier te lande (in ons verbonde gesuide) voor te begin met kunstenaar – van skoon vroeg of van dekadent laat – hul instrument, en die onvryheid of die beperkings opgelȇ deur die sosiale omgewing. Enkele opmerkings. Hoe anders dan as om heel eerste na ‘n vers van ‘n verteenwoordiger van die finale geslag van /Xam-sprekende Boesmans uit die laat negentiende eeu te kyk. Die digter is Dia!kwain (ong. 1844-1876) soos weergegee deur Antjie Krog in Met woorde soos met kerse (2002):

.met woorde soos met kerse

.

die donderstorm (fragment)

.

ek lȇ op die grond en speel die ghoera

my ma word stil

sy sien ek hoor haar nie

my ma kom op die grond lȇ

ek lȇ en speel die ghoera

en toe doen die reёn dit

die reёn begin in ons oё skyn

en toe doen die reёn dit

die reёn maak ons oё toe

en verhelder dit met weerlig

ons oё is toe van donkerte

maar die reёn jaag lig deur ons oё

ons hoor die weerlig se knieё klap

en toe doen die reёn dit

ons oё is asof dit groen is

die reёn word helder terwyl ons oё groen is

die klip voor die hut sidder

my ma skreeu dat die reёn haar vel van haar lyf skeur

sy skreeu dat ek moet ophou

die reёn sál dit doen

sal ons doodmaak as ek aanhou op die ghoera speel

.

Die ma, en alles oppermagtigs wat haar skrede vir haarself en hare altyd rig!

Wat nog? In die waagmoedige – dink aan die rede vir en die geweld van Jakob se gestoei met die engel – afdeling “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” van Antjie Krog se bundel Mede-wete (2014) (ook wel mooi beblum en bejoyce as mens aan “Man wat mal word” en aan Finnegans Wake herinner word) maak Krog die woord “oud-ontongend” staan. Sy plaas hierdie skynbare vreemdeling in “ABSTRAK 7” (p.117) waar ‘n essensialistiese kyk op die Afrikaanse letterkunde aangebied word, as een van die drie sleutelnosies van daardie abstrak, t.w.: “medeklinkermedepligtigheid   bobeenversitters-in-krimpende-taal oud-ontongend.” Is James Joyce se “an artificial tongue with a natural curl” dalk hier ter sprake? Maar ek hoef nie te lank hieroor te gewonder het nie.

DF Malherbe

DF Malherbe

“Your birthwrong was, to fall in with Plan, as our nationals should …” skryf Joyce in FW. En daarom, gedagtig aan Antjie Krog se transformasie-van-geboortefoute-aangevuurde A Change of Tongue (2003) (‘n boek wat reg voor in ‘n emblematiese verduideliking gebruik van Chomsky se teorie van ‘n grammatikale struktuur) het ek dus gedog dis waar mens werk moet maak om ‘n verklaring te kan kry. Kopkrap. Hoekom het Krog byvoorbeeld nie eerder die ont- voorvoegsel i.p.v. die on- geskryf nie? Dog ‘n ander se kop, my krap ten spyt, het egter beter gewerk, want die naam van DF Malherbe se gedig “Jakob Ontong” (in Somerdae, 1928) het opgekom in ‘n resensie van Mede-wete. Op 3 Desember 2014 is lesers van LitNet deur Helize van Vuuren ingelig dat “oud-ontongend” verband hou met Malherbe se Faustiaanse ballade oor ‘n plaaswerker se liefdesteleurstelling, die kousale wens om wraak, en ‘n daaropvolgende pakt met die duiwel (“one world burrowing on another” om Joyce weer eens by te haal) ter versekering dat die doelwit bereik sal word, nl. om die ontroue vrou liederlik onguur te straf. Sy staan juis reeds aan die begin van die ballade op trou met, na Jakob Ontong se opinie, die minderwaardige Willem Skeeloog.

Vanaf Desember 2014 is dit nou al tien maande later. Oktober. U dink dalk ek probeer die ou koeie van laas jaar se sloot weer perdfris op die been kry agter maskers van maskers. Leipoldt se lachenalias blom nou ook waar hulle nog kan. Wat nog?

Anders as ‘n verdere twee, onder andere, vereensaamde (musiekmaker) kunstenaars – veral weens gebrek aan begrip jeens hulle skeppende werk – in ons letterkunde, nl. Leipoldt se “halfpad mal” figuur in “Op my ou ramkietjie” (1923) en WEG Louw se verlate skaapwagter, “Ou Flenterkatiera (1934) met sy konsertina, is Malherbe se kitaarspeler, Jakob Ontong, daarop uit om d.m.v. sy kuns weerwraak te pleeg en sy eertydse geliefde se geluk te ondermyn met sy nuutverkrege besondere vermoё met die kitaar:

.

Jakob Ontong, moeg van maaiwerk

heeldag op die hawerland,

slinger-sukkel na die hoogte

stokalleen deur stof en sand –

met die erfstuk van sy tata,

blinkgevryfde ou kitaar (…)

Gou maak, gou maak, want om twaalfuur

moet hy op die kruispad staan (…)

Daar wag Damoen, meester-speler,

om die vingers lomp en traag

met een kunsles reg te tower

dat die snaarwerk juig en klaag.

.

Aanvanklik, in die gedig wat oor 33 vierreёlige strofes heen uitgestrek is, beskryf Malherbe Ontong se sukkelende spel met behulp van klanknabootsing waarin die sillabes van sy eie (minderwaardige) van voorkom:

.

Ontong-toengtong-tongtoeng-tongtong!

simpel nog van klein-herhaal

.

Dit wil sȇ sy ontoereikende spel is, soos wat Antjie Krog dit stel, “ontongend.” Maar na die ontmoeting met Damoen by die kruispad (‘n tradisionele plek in die folklore van bv. Europa, Indiё, Japan en die Amerikas, waar demone, bose geeste, kabouters, hekse en feetjies aangetref kon word, en waar geen regskape mens ooit gaan rondlȇ het nie) hoor die leser iets heel anders, nuuts en sterkers, en besef jy watter transformasie tot stand gebring is in die “oud-ontongend(-e)” kitaarspeler:

Doemeroem-doemeroem! bind die akkoorde

(…)

Doemeroem! dreun dit oor die vlakte

.

Die volgende aand by die bruilof beїndruk Jakob Ontong almal met sy kitaar en sy sang, en as hy so teen middernag die bruid met onder meer die volgende verwens, val sy net daar flou neer:

En verniet jou diep verlangste

om jou skuldverwyt te ontkom,

tot jy in jou donker angste

soebat dat die dood mag kom.

.

Antjie Krog het dus self gevorder ná 1994 se kruispad, van ‘n Afrikaanse “ontongende” digter volgens haar eie oordeel tot by die huidige “doemeroemende” een van Mede-wete. Wel, soos Joyce geskryf het: “So mag this sybilette be our shibboleth that we may syllable her well.” O Antjie in Oktober 2015! O Pablo in Januarie 1973!

trials of slavery.

Trials of Slavery

Wat mens egter nie uit die gedig “Jakob Ontong” agterkom nie, is dat ‘n naamgenoot (was dit maar naamgenot!) van hom (van wie Jakob en sy pa moontlik hul musiekgene geёrf het) die slaaf Ontong van Boegies, “oud na gissing vijftig jaaren,” omtrent honderd jaar voor DF Malherbe se geboorte (1881) in Kaapstad gevonnis is, op 6 Mei 1779, tot die volgende straf: “omme ter ordinaire justitie plaats gebragt te werden, aldaar den scherpregter overgeleevert, met de strop om de hals onder de galg ten pronk gesteld, voorts aan een paal gebonden, met roeden op de bloote rugge strengelijk gegeeselt, daarop gebrandmerkt en vervolgens in de ketting geklonken zijnde, daarin den tijd zijn ’s leevens op Robben Eijland aan ‘s edele Compagnies gemeene werken te arbeijden” (Worden en Groenewald se Trials of Slavery: Selected Documents Concerning Slaves from the Criminal Records of the Council of Justice at the Cape of Good Hope, 1705-1794, p.502. Die boek is in 2005 gepubliseer, nadat dit in die Paarl gedruk en gebind is – dieselfde plek waar Malherbe gebore is en ook naby die plaas waar Ontong van Boegies in die Drakenstein “in de Salomons Valleij,” aangehou is as lyfeiene en sy slawewerk moes verrig alvorens hy in hegtenis eers na Stellenbosch se landdros geneem is en vandaar na Kaapstad vir die vonnisoplegging. Toe die eiland).

Die naam “Boegies” dui die Indonesiese eiland Sulawesi (of Celebes) aan, waar die Boeginese vandag steeds ‘n belangrike etniese groep is. Die pleknaam Macassar kom van daar af, aan Kapenaars bekend as die naam van ‘n strandstortoord aan die Valsbaaise kus by die mond van die Eersterivier. In Marlene van Niekerk se bundel Kaar (2013) noem die digter dat haar vers “poets van ons vaderland unite” geskryf is n.a.v. “die twee polisievroue Princess Benjamin en Sweetness Pikini wat dagga uit hulle eie polisiestasie gesteel het in Macassar.” Die VOC het destyds gereeld ontvoerde mans en vroue van Sulawesi na die Kaap gestuur om as slawe verkoop te word.

Waarvoor die vonnis hierbo? ‘n Slaaf was tog ‘n waardevolle ekonomiese eenheid vir die eienaar, hetsy nou in 500 vC toe die slawe die siergroewe in Atheense suile moes maak, of die harp moes speel soos Menander se slawe-meisie, of, in die eerste eeu v.C. toe 40% van Rome se halfmiljoen inwoners slawe was, of tydens die sewentiende eeu, Lodewyk XIV se Moorse galeislawe, of Moulei-Ismael se Christenslawe wat Moorse paleise in Noord-Afrika moes bou, of Johannes Nieuwout in die laat agtiende eeu se slawe wat op sy wynplaas in die Drakenstein-distrik moes arbei.

Op 11 Maart 1779 het Johannes Nieuwout van sy plaas in die Drakenstein sy slaaf, Ontong van Boegies, aan landdros OG de Wet van Stellenbosch oorgelewer, omdat die slaaf aggressief geraak na ‘n teregwysing in die wingerd terwyl ‘n (wit) kneg (in die rol van ‘n tipe plaasvoorman) en Ontong en nog ‘n slaaf, Adonis van die Kaap, druiwe geoes het en toe in ‘n woedebui vir Nieuwout en die kneg met ‘n mes gedreig het. Ontong het ook vir die kneg en Nieuwout uitgeskel as moervreters en hoerkinders (in teenstelling met Nieuwout se taalgebruik in sy beёdigde verklaring, want hy het vir Ontong gevra: “Oude rakker [d.w.s. deugniet] waarom luijstert gij niet”)? Die slaaf Adonis het saam met sy eienaar voor landdros De Wet teen Ontong getuig. Die saak het op 29 Maart 1779 voor die Raad van Justisie gekom, en op 6 Mei is Ontong van Boegies gevonnis, “ende geёxecuteerd den 15e daaraanvolgende.”

Maar ook op 6 Mei het die slaaf Adonis (wie se jare bloot as “van competenten ouderdom” aangedui word, dus jonk maar nie meer ‘n kind nie) op sy eie by landdros De Wet te Stellenbosch opgedaag met ‘n nuwe verklaring. Nieuwout het hom gedwing om teen Ontong te getuig. Ontong het in der waarheid nie sy eienaar uitgeskel of met ‘n mes gedreig nie, maar hy het gedreig om sy eie keel af te sny, waarna hy deur die kneg met ‘n stok platgeslaan is.

De Wet het vir Nieuwout na Stellenbosch laat kom en op 8 Mei 1779, in sy lyfheer se teenwoordigheid, het Adonis uiteindelik erken dat hy tog nie deur Nieuwout gedwing was om teen Ontong te getuig nie. Maar Adonis het hierna by die landdros gepleit “om van zijn lijfheer ontslagen te mogen worden” aangesien hy reeds besluit het om te ontsnap en ter voorbereiding van sy vryheid die volgende items tussen die Paarl en Stellenbosch weggesteek het: ‘n bietjie geld, ‘n paar kledingstukke, ‘n assegaai en ‘n viool.

Die versoek is glad nie ernstig opgeneem nie. Adonis is deur De Wet “alhier ter drostdije domesticq worde afgestraft en aan zijn lijfheer terug geleverd.”

selectedrilke

The Selected poetry of Rainer Maria Rilke

Ek kan sweer dat Ontong van Boegies ‘n kind of twee in die wȇreld (die Kaapse wȇreld) gebring het – die verbitterde biologiese pa? voordat hy as vyftigjarige na Robbeneiland gestuur is, en dat daardie viool wat Adonis van die Kaap veilig weggebȇre het buite bereik van Nieuwout, in werklikheid aan Ontong van Boegies self behoort het. Maar was hy nog Ontong sonder sy viool? Hoe beskryf Rilke nou weer vir Orpheus met sy lier terwyl hy uitstap na die bo-wȇreld met Eurudike se onhoorbare voetstappe nog al agter hom aan?

.

… the slender man in the blue cloak –

… looking straight ahead.

In large, greedy, unchewed bites his walk

devoured the path; his hands hung at his sides,

tight and heavy, out of the falling folds,

no longer conscious of the delicate lyre

which had grown into his left arm, like a slip

of roses grafted onto an olive tree.

.

Wat ‘n verhouding is dit nie soos wat Rilke dit wéét nie!

Dit was egter wel moontlik vir DF Malherbe ongeveer 140 jaar na 1779 om oor Jakob Ontong te kon skryf, en vir Antjie Krog om in 2014 ‘n plaaslike literȇre model te benut vir die identifikasie van haar eie posisie.

Wie kan regtig pa staan vir wat binne, of buite, ‘n hegemoniese verband aangaan?

En laastens, ter wat nog, ‘n gedogte van James Joyce: “Mynfadher was a boer constructor and Hoy was a lexical student.”

 

 

Gisela Ullyatt. ‘Daar waar jy woon, is baie lig’: die moederskap van verlies.

Friday, May 29th, 2015

Meimaand. Maand van moeders. Eerste wintermaand van die jaar: die lig is minder herfs; ’n bleekheid sypel in. Tog is daar ’n intensiteit wat deur die winterlandskap opgeroep word; ’n binne-leef of hibernasie.

Gedigte wat gewoonlik betrekking op Moedersdag het, word vanuit die invalshoek van die digtende kind gekies: ’n oorbekende voorbeeld hiervan is Antjie Krog se ‘Ma’. Dekades na hierdie gedig gepubliseer is, word menige Afrikaanse ma’s steeds met ’n lomp voordrag hiervan tydens ontbyt-in-die-bed gekonfronteer. Sommige gló Seuna of Sus het dit self geskryf (dalk met behulp van ’n kreatiewe onderwyseres?) en lees dit dan ook so voor aan enigiemand wat lyk of hulle belangstel.

Nietemin. ’n Minder bekende invalshoek vir Moedersdag is die moeder-as-digter. ’n Verdere demarkasie vir hierdie blog is die verlies van ’n kind, maar nie noodwendig net aan die dood nie.

Dié spesifieke konteks veronderstel dat die vrou as moeder nie slegs lewe aan die kind skenk nie, maar terselfdertyd die baarmoeder (ruimte van verseëlde bewaring) word, dus die moeder wat baar. Die pre-natale proses is verwikkeld, nie net wat die vroulike liggaam aanbetref nie, maar ook op liminale vlak: uiteraard is die fetus nie ’n blote vergroeisel van die uterus nie. Hierdie ontwikkelende baba deel ’n intieme spasie met die moeder wat as voedingsbron optree.

Die fetus betree dus nie net die fisiese ruimte van die moeder se liggaam nie, maar algaande hy/sy groei, word die moeder meer ‘ge-heg’ aan hierdie wordende wese. ’n Hegte band dus, op liggaamlike, liminale en psigologiese vlak.

Wanneer ma en kind van mekaar ‘verlos’ word (dalk ’n donker profesie wat dui op die Sturm und Drang van die tienerjare?), word ’n nuwe limen geskep: die baba moet gebore word, maar betree nou die gevaarlike buitewêreld, die ‘on-baarmoederlike’ ruimte. Fisies kan die ma die baba nie meer akkommodeer nie; hy/sy moet by die moederlike boetiekhotel uitboek (hopelik vyfster-gehalte, met aanbevelings). Die moederlike matriks word gesluit, vir nou. No new bookings for a while.

Hoe ervaar moeders-as-digters hierdie proses en hoe vertolk hulle verlies aan ’n kind, op liggaamlike, psigologiese en liminale vlak?

Eunice Basson se “Haar oë het jy nooit gesien nie” (65) verbaliseer die opstapeling van jare se emosionele pyn na ’n stilgeboorte: daar is geen herinneringe nie, net die ‘bos swart hare’, ’n ‘Savlon-walm’ en ‘vergeelde babygrows’ tussen ‘kamferblokkies’:

 

Haar oë het jy nooit gesien nie,

net die bos swart hare en klam gespartel

om by haar eerste asem uit te kom –

anders sou jy haar nooit laat gaan het nie.

Klokslag elke jaar

meld daardie dag hom aan,

hoor ek jou praat oor die Savlon-walm

en opgestapelde deppers

asof kraamsusters ’n Kersspel

vir die kindersaal voorberei.

Ek weet hoe jy jou telkens

haar eerste opstaan

teen ’n tafelpoot verbeel,

die kind in ’n luier se loop-en-val;

haar ouma wat vars kamferblokkies

tussen vergeelde babygrows wegpak;

hoe sy sou huiwer op haar eerste skooldag.

Was dit dalk sy in die mall vandag

wat iets oerbekends in jou wou eien

voordat sy twyfel, wegkyk,

en jy wegstap in ’n ander rigting.

 

Alhoewel die programgedig (“Nico”) van Petra Müller se Obool ter herinnering aan haar broer, Nico, is (wat in 1961 tragies verdrink het), stippel sy hierdie verlies dermate uit in “daar waar jy woon, is baie lig” (6), dat hierdie gedig ook op die vlak van moederlike verlies gelees sou kon word:

 

nie in die stilte

met middernag

of by die laaste gelui

sal ek jou soek nie

 

swael wat in die hoë koepel swenk

 

maar net voordat dit stil word

in die keerweer van die klepels

en voordat die spinet gaan staan

 

fladderende hart in ’n woud van klip

jy ruis in die triforium

en jou liggaampie snoer ’n ewigheid

tot jy die sonstroom tref

 

daar waar jy woon, is baie lig

Die konstante vrees van ’n ma om ’n kind binne die moederlike spasie te beskerm, word tematies ondersteun in Rika Cilliers se Vlier wat aan haar seun, Mauritz, opgedra is. Die ‘ek’ in ‘Klinker’ (30) verbaliseer ’n ongemak of on-geborgenheid: die kind is nie meer ’n klippie om te vertroetel nie, maar eerder ’n berg wat eendag van haar gaan lostuimel. Let op die verband tussen ‘bêresakkie’ en die idee van die geborgenheid van die baarmoeder asook ‘modderskoot’ wat op ‘moederskoot’ sinspeel:

 

Kindjie wat uit my gekerf is

soos ’n beeldjie van sandsteen

’n klinkertjieklip: ek wens

jy was klip om te hóú;

jy is palmpas soos ’n troetelklippie

en brand jy ’n gat in my bêresakkie

stoot iemand jou dalk voor die voet

dat jy val; en wikkel jy jou dieper

in die modderskoot van die land in,

laat die wind-en-weerjare stof

om jou nesskop tot jy berg word …

dan nóg tuimel jy eendag rots oor

die afgrond      selfs klippe

is nie geborge nie.

 

Die leënes-sindroom word deesdae meer as net ’n blote verskuiwing van die volwasse kind uit die ouerhuis ondervind. In die volgende drie gedigte ervaar die moeder-as-digter ’n spesifieke liminale leegte deur kinders wat geïmmigreer het of kontrakwerk oorsee doen. Die ma moet haarself daarmee versoen, maar hierdie proses is altyd ambivalent. Susan Smith verwoord hierdie afstand tussen moeder en dogter in ‘stukkie vir stukkie’ (43):

 

ek voel hoe ek jou

stukkie vir stukkie

tussen kontinente verloor

hoe ek die onthoue

stukkie vir stukkie vergeet […]

 

Om ’n dogter aan die vreemde af te staan, begrens die moeder se taal: in die laaste strofe word hierdie verlies onontsyferbaar:

 

ek steek die laaste woorde wat ek wou sê

agter in my mond weg

ek raak aan die slaap

terwyl ek wag

en weet

dat ek môre nog meer

as vandag van jou sal verloor het

 

Hierdie liminale leegte kan nie oorbrug word nie; die volwasse dogter krap nou haar eie potjie wat buite die moeder wat agterbly se ervaringswêreld val. Selfs al sou sy haar dogter in die vreemde besoek, is die naelstring vir ewig geknip; ’n nuwe liminaliteit geskep.

Marlise Joubert se ‘expat. Vir M’ (64) eksploreer moederlike verlies deur metafories met die opgaar van die geliefde dogter se besittings om te gaan. Die kamer waarbinne die ‘jy’ van die gedig haar fases van ontwikkeling tot jong vrou beleef het, is steeds deurdrenk van herinneringe. Die kamer sou ook as ’n baarmoeder beskou kon word wat die tasbaarheid van die dogter beskerm en ‘opgaar’. Daar is egter ’n paradoks verbonde aan hierdie proses: alhoewel die dogter in hierdie ruimte opgestapel word, het sy terselfdertyd lankal vertrek:

 

expat. vir M

 

jy het lank gelede reeds vertrek.

ek het jou soos fynhout versamel

om iewers vlam te vat,

en oral het jy agtergebly.

in jou hangkas vreet motte aan kinderklere.

die rakke loop oor met leggers en briewe.

teen die mure hang jou gedagtes

soos blou vlinders.

jy het reeds vertrek,

al is jy nog hier opgegaar.

[…]

 

In Marie Bredenkamp se ‘’n brief vir die oorsee-kind’ (2015) word liminaliteit en verlies uitgestippel deur die plaas- en stedelike milieu asook Afrika teenoor ‘oorsee’ of Engeland te jukstaponeer. Hierdie jukstaposisie word verder verfyn tot die  ‘klei en klip’ van die spreker se grootwordjare teenoor die dogter se ‘beknopte’ huis in Engeland met trappe wat ’n ouerwordende moeder se beweeglikheid strem. Die laaste gedeelte van die gedig ondersteun die idee dat die wêreld se dimensies  katastrofale afmetings aanneem:

 

vannag

skryf ek ’n brief vir jou

my kind

wat anderkant die water lê

want gisteraand begin ek ’n prentjie

soek

van die huis waar ék gebore is

en al wat ek onthou is die klei en klip

en in later jare

die ou verhale op die werf

wat skerwe porselein vertel

oor die hollands-oos-indiese kompanjie

patrone blou-en-wit

en ek onthou hoedat die spierwit pou

driftig-trots daaroor loop

asof hy die grond besit

en toe soek ek foto’s van die huis

in welgemoed

waar jy leer kruip het, praat

en loop

[…]

ek weet hoe klein jou huis is daar anderkant

en te beknop

die trappe te nou en ongelyk

vir ma se been en rug

[…]

ek is jammer ek het nagelaat

om uit te wys

hoe groot die wêreld is

en onbegrens

en dat aardbewings

die aarde van sy as af stamp

[…]

©mce 27/04/2015

Ook grootmoeders ervaar deesdae die groteske pyn van ’n kleinkind wat aan die vreemde afgestaan word. In Antjie Krog se Verweerskrif (36) word die Hebreeuse kleindogter deur middel van taal-metaforiek geskets: nie net wat afstand aanbetref nie, maar ook taal (Hebreeus vs. Afrikaans). ’n Skeidslyn het dus sigbaar geword; ’n grens wat toekomstige vervreemding tussen ouma en kleinkind voorspel:

by jou vertrek

 

1.

jy vertrek môre saam met

jou ma

na Isra-el vir

goed

 

as ons mekaar oor ’n jaar

sien, praat

jy slegs Hebreeus. vir

my

 

hartskerp herinnering waar-

in jy

lig en liefs met stingel-

dun

 

enkels in linte van my

glip, sal

ons geen enkele

woord

 

gesamentlik wakker vind.

spraakloos

sal ons mekaar aan-

staar.

 

in jou voorgeskiedenis

skeur ’n

mens klere en werp

as

 

op die hoof. ek bloei

 

uit my

milt

 

Ook in Mede-wete in die vers, ‘ek en my kleindogter bou sandkastele’ (38), word taal tematies as vervreemdingstegniek ondersoek. Die ‘ek’, die ‘ouma’, probeer nuwe skanse teen die onafwendbare vervreemding bou. Dalk sou hierdie grense ’n tipe post-verbale kommunikasie kon insluit. Tipografies is daar spasies tussen sommige woorde soos ‘swyg’ en ‘hou’: dus taalgebonde maar ook met die klem op die fisiese en simboliese holding space van die ouma. Ter wille van spasie haal ek slegs strofes 2 en 3 aan:

vanoggend het sy haar ma en pa gevra om in die kombuis agter te bly

en toe in haar sesjarige Hebreeuse woordorde voortgesluk:

‘van my af weg gegaan Ouma, wil ek nie hê jy moet wees nie’

gebruik sy woorddeurstamelde bloedeie dubbele-nie-konstruk

‘Ouma’s verskriklik lief vir jou.’ ‘Ek weet, Ouma, maar dit gehelp my nie’

 

kind met die mondgetroosde naam wat my in alle tale laat ineen

swyg     ek wil haar verlede van haar afhaal in die naam van pyn

in die naam van die behoefte om haar vas te hou     haar heel met

die heil van ons almal wat altyd en nooit uit haar lewe verdwyn

wil haar sien lag sien wawiele doen soos nou – silwer en lig soos ’n twyg

 

Ek sluit af met ’n gedig van die Britse digter, Fleur Adcock, wat in Nieu-Seeland gebore is (Astley: 230):

 

For a Five-Year-Old

 

A snail is climbing up the window-sill

into your room, after a night of rain.

You call me in to see, and I explain

that it would be unkind to leave it there:

it might crawl to the floor; we must take care

that no one squashes it. You understand,

and carry it outside, with careful hand,

to eat a daffodil.

 

I see, then, that a kind of faith prevails:

your gentleness is moulded still by words

from me, who have trapped mice and shot wild birds,

from me, who drowned your kittens, who betrayed

your closest relatives, and who purveyed

the harshest kind of truth to many another.

But that is how things are: I am your mother,

and we are kind to snails.

 

Soms is moederskap ’n helder herfsdag. Soms, ’n vaal-deurdrenkte winter. Want verlies is veelvoudig vir ’n ma of ouma. Dalk lê die geheim van verlies opgesluit in C. Day-Lewis se ‘Walking Away’:

 

How selfhood begins with a walking away

And love is proved in the letting go.

 

Bibliografie

 

Astley, N (ed). 2002. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset, Northumberland: Bloodaxe.

Basson, E. 2014. Leiboom. Kaapstad: Queillerie.

Cilliers, R. 1989. Vlier. Kaapstad: Tafelberg.

Day-Lewis, C. 1962. The Gate and Other Poems. Londen: Jonathan Cape.

Joubert, M. 2011. splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis.

Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.

Müller, P. 1977. Obool. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea Boekhuis

Gisela Ullyatt. Oor verlies, verlatenheid en die liefde.

Sunday, February 15th, 2015

Tomorrow is Saint Valentine’s Day,

All in the morning betime (Ophelia se lied uit Hamlet)

 

Februarie is die maand van die liefde. Of so word dit soos koue kos aan ons opgedis. Tematies gaan jy nie sommer ’n tydskrif van die rak oprakel sonder belowende artikels oor bedsake, beertjies, ‘Vaaltyn’-hartjies en pienk lieflikhede nie. Die foltering word voorgesit in meeste winkels: lingerie in rooi; blommewinkels se ruikerpryse skiet die hoogte in soos vuurpyle. Een so ’n eienaar het my een jaar met geur vertel dat hulle genoeg kan muntslaan uit die mite van 14 Februarie dat die res van die jaar se huur gedek word. Bloemfontein is ’n studentedorp en troppe mansstudente piekel heen en weer (o, die eerstejaartjies in tragiese baadjies en dasse, die hare sweterig in die hittegolf) om hulle laaste sakgeld of beursgeld aan rooi rose en ’n piekniekmandjie te spandeer.

Feit is: blomme verwelk byna oornag in die Afrika-hitte, die tjoklits gaan sit om treurige heupe; spoedig is daar ’n fyn kraak in die hartjie-bekers en word dan oor die tyd saam met die sagte beertjies in ’n kas geprop. Ook roep Valentynsdag ’n pynlike paradoksale vraag op: aan die een kant voer dit die allesoorheersende wens (wat aan vraatsugtig grens) na intense beminning op: om iemand se romantiese attensies op jou te vestig. Maar, aan die ander kant is die dag-van-bloedige-Valentyn ook deurdrenk van ’n goeie skeut nihilisme: die niksheid wat volg na sogenaamde verliefdheid of liefde wat al te vinnig getaan het. In my suster se kamer staan ’n rooi ‘horny devil’ (perdalks ketoolse satantjie ter vertaling?), steeds al die jare na ’n hoërskool-kys. Niks het daarvan gekom nie. Maar die duiwel se piromaniese grimas bly, so alleen daar op die boekrak van haar ou kamer. Skrynend.

Verlies, verlatenheid. Daar is vele gedigte oor die eeue geskryf oor romanse, oor die liefde. Maar hier wil ek ’n betoog uiter vir dié wat verdrink het in die maand van Februarie, gedagtig aan Ophelia. Subterranean  Homesick Valentine’s Blues.

Antjie Krog se eerste gedigte (Dogter van Jefta) roep jongmens-pyn na ’n verhoudingsbreuk op. Haar beeldgebruik spruit uit haar fisiese milieu: die landelikheid van die Vrystaat. Hier is geen stedelike verwysings soos byvoorbeeld in Loftus Marais se urban liefdesverse nie (pragtig verwoord en gesentreer in die vibiness van Kaapstad). Die eenvoud van bloekoms, kerke, jasmyn, koorsbome en mispels dra by tot die tydloosheid van Krog se jong verse. Let byvoorbeeld op hoe sy die kiewiet as objective correlative gebruik in “Kiewietjie” (29):

My flenterhartjie is gestelt

op rooikiewietbeentjies in die veld

wat aaklig roep en soek na liefde

as ek prik-prik

van die dubbeltjies verstrik.

Hélène Kesting het digterlike bekendheid verwerf deur haar uitstekende stilistiese beheer oor die haikoe in Afrikaans. Sy bly ongelukkig onderskat en daar is ’n besliste hiaat in die kanon betreffende haar oeuvre. In een van haar minder bekende gedigte, “Ek het jou dus nog”, word woordorde ’n spel van liefde en verlies; let veral op die gebruik van die punt in die eerste en tweedelaaste strofes wat finaliteit aankondig. Haar besondere klankgebruik versterk die sensitiwiteit rondom die tema van emosionele verlies; die ‘ek’ wat steeds bemin, maar nie noodwendig terugbemin word nie (15):

 

Ek het jou dus nog

lief.

En bo alle twyfel.

Omdat alle twyfel en haat

verdwyn

In die rook van jou kyk

onverwags vol son

 

Ek het jou

dus nog

lief

omdat jou besorgdheid plotseling sprei soos ’n geur

en oor mý,

my longe loop vol

 

Nog, dus,

omdat ek meteens die klankloosheid ken

van my roep

 

as jy nie daar sou wees nie

 

Nog.

Dus.

 

En ongeag groot skild

klein skild

helm

 

Marlise Joubert se digterlike forté berus op haar liriese digstyl wat dikwels op die lyflike metafoor sentreer; haar bundel Lyfsange is by uitstek ’n joernaal aan lyflike liefde. Ook skryf sy die tema van die verganklikheid van liefde tussen minnaars oop. In ‘ek het bederf geraak’ (36) berig die poëtiese ek van ’n afstandelikheid tussen haar en die geliefde en dien die reël, “ek het bederf geraak” as inkantasie wat ’n toon van berou uitstippel. Ook word die leitmotief wat die bundeltitel inhou in die laaste strofe ingemessel. Hier word die ekstase van ‘lyfsange’ verweef met ’n sterk elegiese komponent:

 

jy is ver vandag

asof jy nooit bestaan het nie

so bedrywig tussen engele

toegespin in die klanke van jou vel

 

ek het bederf geraak

met jou trosse ryp woorde se proe

daarom onthou ek kringe van jou tong

en vou my verhemelte sy duiwevlerke oop

verlangend omdat dit jy is en omdat jy

goed is soos wat nuwe bloed uit druiwe loop

 

(klink die wolke daar

soos neutedoppe teenmekaar

is daar foto’s op jou rekenaar

of ’n vers oor ’n begin

reën dit snags oor die bome

en wie tap water vir die voëls

aan die some van jou tuin?)

 

ek het bederf geraak met jou

en vandag se afstand word oorbrug

asof jy reeds bloeisels dons

op my bed versamel en ’n sug

van soene op my mond invou

 

ek het so bederf geraak

en met die lente in die wentel

van my lyfsange

skuifel ek teen jou aan

aromaties met ’n tros note

wat droewig sing

in die boorde van jou keel

Melanie Grobler verwoord die verlies van lyflike liefde tussen huweliksmaats op ’n roerende wyse. “Die verwoesting lê troosteloos tussen ons” (50) is ’n relaas wat spruit uit matelose magteloosheid wat deur die ek ervaar word. Die rouheid van hierdie magteloosheid is veral wat hierdie gedig so toeganklik aan die leser maak:

 

Die verwoesting

lê troosteloos tussen ons

en ek sidder as ek aan jou dink

 

in woede kon ek nooit

jou gelyke wees nie

oë wat morsig

oor die vertrek spat

sê wie gaan vandag

die onderspit delf

 

jou lyf worstelstoei deur my brein

en brul deur diep ravyne van die siel

 

 

Grobler se spesifieke vroulike perspektief oor erotiese verlies word verder uitgestippel in “Gister nog was jou vingerpunte” (53). Die verwonding deur so ’n verlies wat deur die vroulike komponent van ’n huwelik of verhouding ervaar word, is dikwels onderskat: vrouwees kan direk gekoppel word aan beminning en daarsonder kan daar ’n gevoel van ontsetting en isolasie ontstaan by die vrou:

 

Gister nog was jou vingerpunte

koesterend op my week buikvel

maar nou is alles nutteloos

jou liefdestoppe het my roeserige

vel verlaat

 

en ek   diep verwond

keer ek na die kortstondigheid

van die binnelyf

in die enge smalte van vrouwees

oor afgronde van isolasie

neig ek weer na ’n verlore pleitende intimiteit

 

Die ewige ontwykende sug na beminning en die gevolglike intense emosionele verlies wanneer so ’n liefde nie haalbaar was nie, is vergelykbaar met dwelmverslawing. Om jou daarvan te speen is byna onmoontlik en daarom kan die individu ’n terminale afhanklikheid ontwikkel van die geliefde, ’n tipe ‘co-dependence’:

aanbevole dosis oorskry

 

die geneesheer skryf voor

in gematigde mates,

die apteker ontsyfer dit dan so

 

maar ek

neem

jou sonder voorskrif,

vermeerder die dosis

oor die jare

 

tot ek terminaal

oordoseer

op jou.

 

(© Gisela Ullyatt 2015)

 

Verlies in liefde vir die gay vroulike digter is dikwels gedompel in ’n ander tipe problematiek waarmee die heteroseksuele vrouedigter mee te kampe het: stigma, diep verbonde aan hardnekkige patriargale sisteme. Joan Hambidge se gedig, “Vele redes waarom ’n gay vrou uit ’n straight vrou se bed moet bly” met die subtitel “’n soort ballade” (57) speel met liminaliteit op verskeie vlakke: afbakenings tussen gay en straight vroue, tussen lesbiese en heteroseksuele seks; persoonlike afbakenings tussen twee minnaresse wanneer dinge versuur, asook grense tussen die straight vrou se lewe van kinders, eggenoot en die gay vrou wat versteek moet word binne hierdie skedules: sy word die ‘ander’, the other, die slegte gewete, die Jungiaanse skadu (shadow). Soveel ambivalensie en betekenislading lê dus opgesluit in die volgende versreël: die gay girl wat bereid is om die “derdeparty-skyfie te hernieu”. Die L’envoi vestig die leser se aandag op die fallosentriese orde (‘op die paal’) wat steeds oorheers en waarteen die lesbiese vrou dus geen emosionele of seksuele verweer het nie:

 

Gewoonlik wil straight vrouens jou hê,

die gay girl,

wat help vertroos oor al die mans

wat hulle in die steek gelaat het

met aborsies, geboortes en miskrame

en nooit geweet het van post partum-depressie

of ’n orgasme ge-fake

soos koue melk oor Rice Krispies.

Gewoonlik wil hulle by jou bly,

die gay girl

wat lamstjops kan braai,

kerrie en osstert behendig kan kook,

die swembad en skottelgoedmasjien kan skoonhou,

bereid is om Pick & Pay toe te ry,

’n derdeparty-skyfie te hernieu

in ’n lang ry vol wagtende mense,

en veral ’n eksman op sy plek kan gooi.

Gewoonlik wil hulle neffens jou wees,

die gay girl

wat verstaan en vertroetel en begryp.

Maar wees gewaarsku, gay girls,

In die bed, ja, in die bed

Soek hulle méér as troos en troetel.

Dan moet jy uithaal en wys

anders haal jy nie die paal nie

en word alles ’n woordelose stryd.

 

L’envoi

 

Vergeet van vingertaal.

Hul begeer net die paal.

 

Valentynsdag: Verlies en verlaat; verdrinking in die poel van vergetelheid. Tóg berus die grootste hiervan steeds op die belofte van liefde. Die skerf van hierdie wensbeentjie haper: dit wat jy nooit in jou guns afgebreek kan kry nie. Dalk is Ophelia se blomme (helaas nie geen inter-flora hier nie) ’n sterker metafoor vir die ewige, ontwykende liefde? Ek laat dit oor aan die leser om self te besluit.

 

Bibliografie

 

Grobler, M. 1991. Tye en swye van Hester H. Kaapstad: Tafelberg.

Hambidge, J. 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.

Joubert, M. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea.

Kesting, H. 1975. Skip na die son. Kaapstad: Tafelberg.

Krog, A. 1990. Eerste Gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Resensie: “Mede-wete” (Antjie Krog)

Monday, December 8th, 2014

Mede-wete deur Antjie Krog

(Human & Rousseau, 2014, R200 TBC*,  bls. 128 :ISBN 978-0-7981-6787-1, e-ISBN 978-0-7981-6788-8)

Resensent: Marlies Taljard

omslag

Soos altyd is die verskyning van ʼn Antjie Krog-bundel groot nuus binne die Afrikaanse letterkunde – die verskyning van Mede-wete is in dié opsig nie ʼn uitsondering nie. In die titel, waarin die woorde “mede” en “wete” deur ʼn koppelteken van mekaar geskei is, resoneer ʼn verskeidenheid van temas wat in die bundel aangesny word. Die belangrikste hiervan is sekerlik dié van medewete en dus medeverantwoordelikheid. Dan is daar ook die verhouding van die self met die A/ander – die saam- of medebestaan; bewussyn – “wete”, asook kennis van die self, die A/ander en die aard en geskiedenis van ons saambestaan.

Soos verskeie van Krog se vroeër bundels, het Mede-wete ʼn sterk outobiografiese inslag. Die digtende ek ondersoek veral haar eie lewe en oortuigings soos dit ingebed is binne die groter opset van die Suid-Afrikaanse nasie in ʼn poging om sin te gee aan die wyse waarop ons naasmekaar leef in dieselfde konkrete ruimte, maar as deel van verskillende kulturele, politieke en gendergroepe. Besinning oor identiteit kom onder andere eksplisiet voor in die gedig om te ver-jy waarin die digter se worsteling vergestalt word om haarself “los te sny” uit die identiteit van diegene met wie sy in noue verbondenheid saamleef ten einde vas te stel wie sy werklik is:

(more…)