Posts Tagged ‘Arnold Schoenberg’

Andries Bezuidenhout. Skilder, komponeer, dig – ʼn liefdesdriehoek

Thursday, July 21st, 2016

20160715_105623

I

In sy biografie van Arnold Schönberg beskryf Malcolm MacDonald die Oostenrykse skilder Richard Gerstl só: “In recent years he has come to be recognized as one of the most original and underrated painters of the early Expressionist period.” Hierdie relaas oor liefdesdriehoeke begin dan met ʼn skildery deur Gerstl in die Leopold-museum in Wene, ʼn selfportret. Die werk is na alle waarskynlikheid in 1902 geskilder, toe Gerstl nog maar 19 jaar oud was. Die jong kunstenaar staan teen ʼn blou agtergrond met ʼn doek om sy lyf gedraai. Sy hare is kort teen sy kop gesny en hy het ʼn effe aansitterige snor wat waarskynlik deur ʼn pedantiese barbier gesnoei is. Die lig in die galery maak dat die blou agtergrond effe pers lyk, met ʼn rooi blerts lig aan die bokant van die doek. Die jong skilder het waarskynlik voor ʼn vollengte spieël gestaan en verf.

Die radikale geograaf David Harvey noem Parys die hoofstad van moderniteit. Dis seker waar as mens aan Haussmann se massiewe openbare werke dink, asook die pogings om ʼn sekulêre, republikeinse staat tot stand te bring. Hierteenoor het Wene, ten minste vir ʼn tyd lank, gestaan vir die idee van ʼn terugkeer na die Ou Orde (Metternich en die Kongres van Wene). Teen die laat-1800s het dinge in Wene drasties verander. As ek nou vir ʼn oomblik so aansitterig soos Gerstl se snor mag wees (en die geleentheid gegun word om hare te kloof), kan mens seker beweer dat Wene die hoofstad van modernisme is. Parys is veel vroeër met baksteen en troffel herbou, maar Wene was die plek waar vele van die impulse vir modernistiese revolusies in die kunste gebore is. Dink maar aan die impak van iemand soos Schönberg. Die vierde beweging van sy Tweede Strykkwartet, op. 10, word beskou as een van die belangrikste keerpunte in die ontwikkeling van modernistiese komposisie (luister hier daarna). Die eerste drie bewegings is in bepaalde sleutels gekomponeer, maar in die vierde beweging begin hy om sy eksperimente met atonale musiek in werking te stel. Hierdie stuk is in 1908 gekomponeer en die laaste twee bewegings verwys na gedigte deur Stefan George. In die vierde beweging:

Ich fühle luft von anderem Planeten.
Mir Blassen durch das dunkel sterven gesichter
Die Freundlich eben noch sich zu mir drehten.

[…]

Ich verliezen mich in Tönen, kreisend, webend,
Ungründigen Danks und unbenamten lobben
Dem grossen atem Wunschlos mich ergebend.

[…]

Ich fühle wie ich über letzter wolke
In einem meer kristallnen glanzes schwimme –
Ich bin ein Funke nur vom heiligen feuer
Ich bin ein dröhnen nur der heiligen stimme.

ʼn Vonk uit ʼn heilige vuur, ʼn fluistering van ʼn heilige stem – heel dramaties. Stefan George se gedigte is net die jaar voor Schönberg die komposisie voltooi het, gepubliseer. Hot off the press, soos hulle sê. Die feit dat Schönberg ʼn sopraanstem by die strykkwartet gevoeg het, was ook onkonvensioneel. Die tweede beweging verwys na ʼn ander teks, in hierdie geval die deuntjie van die bekende tradisionele Weense lied “Ach, du lieber Augustin”:

Ach, du lieber Augustin, Augustin, Augustin,
Ach, du lieber Augustin, alles ist hin.

Volgens oorlewering verwys die lied na Marx Augustine, ʼn balladesanger en doedelsakspeler uit die 1600s, wat as Lieber Augustin bekendgestaan het. Volgens hierdie oorlewering het hy per abuis tydens die pes in ʼn massagraf buite die dorp beland (hy was dronk – Augustin is nie dood nie, hy’s net uitgepass, om Koos Kombuis te verdraai). Toe hy wakker word, omring deur lyke, het hy begin om sy doedelsak te bespeel en is toe gevind. Wonder bo wonder het hy nie self aan die pes omgekom nie en die lied word, ten spyte van die uitsiglose inhoud van die liriek, deur inwoners van Wene as ʼn oproep om hoop te midde van donker tye gesien:

Geld ist weg, Mäd´l ist weg,
Alles hin, Augustin.
Ach, du lieber Augustin,
Alles ist hin.

[…]

Jeder Tag war ein Fest,
Und was jetzt? Pest, die Pest!
Nur ein groß’ Leichenfest,
Das ist der Rest.

Augustin, Augustin,
Leg’ nur ins Grab dich hin!
Ach, du lieber Augustin,
Alles ist hin!

Voor elke vers word die refrein, waarmee die lied begin, herhaal. Die lied is deur B.A. de Wet in Afrikaans vertaal en Doris Brasch het dit opgeneem (luister hier daarna – op eie risiko). Die herhaling van die refrein verdwyn uit hierdie weergawe, asook die historiese konteks van die besope Augustin wat tydens die pes in ʼn massagraf beland. Die Afrikaanse weergawe verwys eerder na liefdesteleurstellings:

O, die liewe Martatjie, Martatjie, Martatjie!
O, die kleine vabondjie het my laat staan.
Geld is weg, nooi is weg,
als is weg, alles weg!
O, die kleine vabondjie,
wat nou gedaan?

O, die liewe meisietjies, meisietjies, meisietjies!
O, die kleine skelmpies, skaam tog vir jul!
Gooi ons weg, maak ons sleg,
breek ons hart, maak ons kwaad.
Kan die liewe engeltjies
tog nie laat staan.

ʼn Mens wonder of De Wet iets van die geskiedenis van Schönberg en Gerstl geweet het, maar dis waarskynlik heeltemal vergesog. Alhoewel, die feit dat die Tweede Strykkwartet, op. 10, ten dele deur die krisis in Schönberg se huwelik geïnspireer is, kon tog bekend gewees het aan iemand wat tradisionele Europese musiek na Afrikaans toe getransponeer het.

II

Die tweede deel van die relaas gaan meer oor skilderye as oor musiek en digkuns. Dis ʼn tussenspel. Daar is twee skilderye deur Richard Gerstl wat hier van belang is. Die eerste is nog ʼn selfportret wat waarskynlik as voorstudie vir ʼn ander skildery voltooi is.

20160715_105649

Dis ʼn growwe werk, deels omdat dit met Leimfarbe (“distemper” in Engels) geverf is. Die doek is uitgesny en teen ʼn ander stuk gespande linne geplak. Gerstl se snor is weg en hy lyk minder ingenome met homself. Hy dra ʼn netjiese pak, maar die kwaswerk is losser en vryer, dalk weens die growwe medium. Die werk dateer waarskynlik uit 1906, dalk 1907. Dit bring ons by die volgende werk. Dis ʼn landskapskildery van geboue langs die Donou-kanaal.

20160715_105730

Gerstl se kwaswerk is nou heeltemal chaoties. ʼn Mens kan seker op verskillende maniere daarna kyk. Dalk voel hy vryer as ʼn paar jaar vantevore, of dalk is hy woedend. Ewenwel, die skildery is ʼn voorbeeld van Oostenrykse ekspressionisme. Tewens, sommige mense beskou Gerstl as die eerste Oorstenrykse ekspressionis, alhoewel sy werk eers in 1931 in die openbaar uitgestal is.

III

In sy biografie van Schönberg beskryf Malcolm MacDonald die komponis se verhouding met Gerstl:

“[Schoenberg] began to feel the need to express himself through a second medium: that of paint on canvas. Perhaps there were some inspirations for which he could find no musical outlet. Certainly, like other artists of the period, he believed the immediacy and intensity of his ideas made it possible to embody them directly and in creative form. He lacked technical proficiency, however, and began taking lessons from a friend, the charming, highly strung young painter Richard Gerstl, a forerunner of the Austrian Expressionists, who had rejected the prevailing style of Art Nouveau. Although Schoenberg never became as adept as Gerstl, his brushwork and approach to portraiture do show the latter’s influence.”

Alex Ross, in sy boek The Rest is Noise, gee ʼn bondige opsomming van ʼn hele aantal komplekse gebeure wat hierop gevolg het:

“Schoenberg had admitted into his circle an unstable character named Richard Gerstl, a gifted painter of brutal Expressionist tendencies. Under Gerstl’s direction, Schoenberg had taken up painting and found that he had a knack for it: his canvas The Red Gaze, in which a gaunt face stares out with bloodshot eyes, has come to be recognized as a minor masterpiece of its time and place. In May 1908 Schoenberg discovered that Gerstl was having an affair with his wife, Mathilde, and that summer he surprised the lovers in a compromising position. Mathilde ran off with Gerstl, then returned to her husband, whereupon Gerstl proceeded to stage a suicide […]: he burned his paintings and hanged himself naked in front of a full-length mirror, as if he wanted to see his own body rendered in Expressionist style. The suicide took place on November 4, 1908, on the night of a Schoenberg concert to which Gerstl had not been invited; evidently, that rejection was the final straw.”

Nie net het Gerstl homself opgehang nie, hy het op een of ander wyse daarin geslaag om homself met ʼn mes te steek. Dit moes ʼn grusame toneel gewees het. Hy was skaars 25 jaar oud. In hierdie tyd het Schönberg sy Tweede Strykkwartet voltooi en dit opgedra aan sy vrou.

IV

Twee skilderye deur Gerstl uit 1908, die jaar van sy dramatiese dood. Albei skilderye is met wilde hale van die kwas geverf.

Die eerste ʼn studie van Mathilde in ʼn tuin. Gerstl se minnares het ʼn blou rok aan. Haar gesig is met ʼn donkerder kleur as die res van haar vel geskilder. Dis moeilik om haar gesigsuitdrukking te bepaal. Is daar iets van ʼn terughoudendheid? Ons weet sy het ʼn sterk persoonlikheid gehad, dalk heeltemal te sterk vir iemand soos Schönberg se tipiese kunstenaarstemperament met ʼn groot skeut fyngevoeligheid en die tipiese patriargiese bombasme wat daaruit voortspruit. Die twee het getroud gebly tot en met haar dood aan kanker in 1923. Volgens oorlewering was die atmosfeer in die Schönberg huishouding giftig en gespanne. Arnold Schönberg sou ʼn requiem ter nagedagtenis aan sy vrou skryf, maar elf maande na haar dood is hy met Gertrud Kolisch getroud, wat 23 jaar jonger as hy was. Van die requiem het niks gekom nie.

20160715_105602

Die tweede ʼn naakte selfportret. Hier is Gerstl se geslagsdele met ʼn donkerder kleur as die res van sy lyf geskilder, asof hy dit wil beklemtoon. Tog is dit die skilder se gesigsuitdrukking wat opval. As mens dit vergelyk met die selfstudie van ʼn paar jaar terug, is daar baie min van vroeëre selfversekerdheid in die jong kunstenaar oor.

20160715_105542

V

Die skandaal waarby Gerstl betrokke was, het gemaak dat sy familie dít wat van sy skilderwerk oor was in ʼn pakhuis toegesluit het. In 1931 kon hulle nie meer die pakhuis se huur bekostig nie en is die skilderye vir die eerste keer in die openbaar uitgestal. Die Tweede Wêreldoorlog het gemaak dat daar min aandag aan die herontdekte voorloper van ekspressionisme geskenk kon word en mense het eers veel later weer werklik van sy werk notisie geneem. Die drama van die liefdesdriehoek het eers na Schönberg se dood in 1951 uitgelek en daar is sedertdien veel daaroor bespiegel en geskryf, ook oor die belangrikheid daarvan in die onstaan van atonale komposisie.

Skilderye:

Richard Gerstl, “Selbsbildnis (Akt auf blauem Grund)” [Selfportret (naakstudie teen blou agtergrond)], olie op doek, 159x109cm, 1902

Richard Gerstl, “Selbsbildnis (Studie)”, [Selfportret (Voorstudie), grondverf (distemper) op doek, 69x55cm, 1906/07

Richard Gerstl, “Am Donaukanal” [Langs die Donoukanaal], olie op doek, 63x47cm, 1907

Richard Gerstl, “Mathilde Schönberg im Garten” [Mathilde Schönberg in die tuin], olie op doek, 170x61cm, 1908

Richard Gerstl, “Selbstakt mit Palette” [Naak selfportret met palet], olie op doek, 140x119cm, 1908

Aanhalings uit:

Malcolm MacDonald, Schoenberg (Oxford University Press, 2008), bls. 6-7, 339.

Alex Ross, The Rest is Noise (Harper Perennial, 2009), bl. 54.

Sien ook:

Die kunshistorikus Raymund Coffer se webwerf oor Gerstl.