Posts Tagged ‘Ars poetica’

Marlies Taljard: voelend ʼn pad deur die vis vind

Monday, December 5th, 2016

Patricia Wauch skryf oor die metafiksionele praktyk as dié praktyk van “fictional writing which self-consciously and systematically draws attention to its status as an artifact in order to pose questions about the relationship between fiction and reality” (In: “Metafiction: The theory and practice of self-conscious fiction”, 1984). Hierdie praktyk is – soos ek in drie vorige blogs aangetoon het – ook ʼn essensie van Ars poetica-gedigte. Die Ars poetica is per definisie ʼn tipe gedig waarin die digter reflekteer oor die digterlike praktyk en meestal oor sy/haar eie praktyk, poëtiese beginsels en die teorieë wat onderliggend is aan die skryfproses. Hierdie blog handel oor ʼn bepaalde vorm van die Ars poetica, naamlik dié gedigte waarin skrywers besin oor die wyse waarop hulle skryf – met ander woorde gedigte waarin besin word oor die skryfhandeling as sodanig.

Waugh se redes waarom skrywers – veral in die postmoderne tydsgewrig – oor vakteoretiese kwessies besin, sluit in klemlegging op die besinnende aard van die skryfproses en die feit dat die eindproduk ʼn artefak is en nie noodwendig daartoe in staat is om die werklikheid (of ʼn deel van die werklikheid) te representeer nie. Die gedig is doelbewus gekonstrueer en is nie ʼn deel van die natuurlike wêreld of die realiteit nie. Die klem op tegniek en teoretiese onderbou van die digter is ook ʼn kenmerk wat reeds (veral sedert die modernisme) in sodanige literêre werke aanwesig is – dit is in sy wese ʼn tegniek waardeur die skrywer die aandag op hom- of haarself vestig en die alom-teenwoordigheid, die onbekende en selfs mitologiese aard van die digter as persoon ondermyn word, hoewel nie ontken word dat prosesse wat buite die begrip en kontrole van die skrywer lê, eweneens by die skryfproses betrokke is nie.

Die gedig waarin besin word oor skryf as proses is in wese ʼn narratief waarin literêre teorie en kritiek geïnkorporeer word om as’t ware die storie van die gedig te skryf. Soms word aannames oor die narratiewe proses of die digproses openlik bevraagteken en ondermyn (byvoorbeld dat “woorde uit die digter se kreatiewe wese vloei” of dat ʼn gedig in sy geheel aan die digter “gegee” en dan in een sitting neergeskryf word). Gedigte oor skryf as moeisame proses is redelik algemeen. Ek fokus op enkele skrywers wat absoluut willekeurig gekies is en gedigte wat sover my kennis strek nog nie in besonderhede ontleed is nie.

Hennie Aucamp se gedig “Proses” in die bundel Teen die lig is die verhaal van hoe ʼn storie tot stand kom:

 

Ek sluimer oor ʼn storietjie

maar laat dit net so lê:

Dit het te min aan inhoud

om hardop uit te sê –

 

tensy ek dit as draadjie

oor ʼn glas laat sak

waarin ʼn stroopsoet mengsel

kristalle daaraan plak

 

en klont en knoets en eindelik

– o lieflike gesig –

ʼn simpel storiedraadjie

tot teesuiker verdig.

 

Hierdie gedig is inderdaad ʼn resep vir die skryf van ʼn verhaal: dit begin by ʼn onaansienlike storielyn, dan ʼn lang fase van rus waarin “soet” dinge op dié storietjie inspeel, tot dit uiteindelik substansie het en as’t ware uitgekristaliseer het tot ʼn lekkerny – ʼn klont teesuiker. In Aucamp se eenvoudige styl met sy treffende metafore word iets belig van die magiese proses waardeur ʼn literêre kunswerk tot stand kom, maar tesame daarmee die vindingrykheid van die skrywer en die oneindige geduld wat die ordinêre koppie suikerwater lagie vir lagie en met presiese akkuratheid tot kristal struktureer.

Die verdigtingsproses word ook deur Louis Esterhuizen as metafoor gebruik in die openingsgedig van wat die water onthou:

 

dat daar altyd ʼn begin is –

daardie yl siddering wanneer korrels

langsaam verdig

en hegting gevind word

 

aan die weefsel wat sagter as grond

in dieptes lê waar dit donker

is en wyd genoeg

vir volgehoue groei

 

tot dit tyd word vir die water

om te breek: daardie eerste moment

wanneer water aan water

geboorte gee en alles weer begin

 

om stelselmatig te vloei na

die kwansuise bron tussen wolke

 

Hoewel hierdie gedig nie eksplisiet van die skryfproses melding maak nie, is dit uit die konteks van die bundel duidelik dat dit wel as sodanig gelees kan word. Ook hier is sprake van strukturering, van elemente wat verdig tot iets wat volhoubaar is. Die breek van die water waarna verwys word, suggereer geboorte, soos Aucamp se gedig die geboorte van ʼn storie suggereer. Ook Esterhuizen se gedig lê klem op ʼn byna mistieke proses wat plaasvind sonder dat die mens/digter met sy nugtere bewussyn daarby betrokke is, maar eweneens op ʼn groeiproses wat moet plaasvind alvorens die gedig afgehandel is en “gebore” kan word. Oor die moeisame proses waardeur die gedig tot stand kom, skryf Esterhuizen in ʼn ander gedig in dieselfde bundel:

 

dat jou pa se pa ʼn delwer was,

kromgetrek deur die jare

van bid oor al die leë panne

 

langs yl strome, uitgewas deur son

en vrou en honger kinders

in ʼn skuiling iewers, nog later

 

die skeefgetrekte sinkdakhuisie

by barkley-wes, jou pa

wat ʼn myner word, by verstek,

 

die diamond driller van drome,

die een wat gate boor

in welkom se eerste skagte

 

vir die uiteindelike verbryseling

van klip met dinamiet en gesin

in die pynveld van virginia

 

waar jy as eersgeborene,

oplaas jou geboortereg verruil

vir woorde, woorde wat jy

 

soms uit die taal uit delf, soms

oopskiet met die geweld

waarmeee jy jóú gesin verloor –

(…)

 

Hoewel die moeisame proses en die pyn wat met die “uitdelf” van gedigte saamhang hier beklemtoon word, maak die gedig – soos die twee voriges – óók melding van ʼn onsienlike, bowe-menslike proses wat sigself in die maak van gedigte voltrek. Die diamant is immers ook ʼn kristal wat deur middel van ʼn uiters tydsame proses diep onder die grond sonder die medewete van die mens voltrek word. Ook die goudkomme van o.a. Virginia en Welkom het lank voor die mens ontstaan in ʼn proses wat inderdaad as ʼn “oopskiet met … geweld” beskryf kan word – ʼn proses wat in duisternis en voor die ontstaan van die mens deur kragte wat sy verstand te bowe gaan, plaasgevind het.

Die “onvoorsiene” moment – mens sou dit seker die oomblik van waarheid of inspirasie kon noem – word in Emma Bekker se gedig “Die digteres as masseuse” verwoord aan die hand van die Bybelse Jona-mite:

 

Eiewys het ek geglo dat Tarsis

my ware wou hê,

 

woorde word gelaai;

woorde word komberse;

woorde word swaarde;

woorde word kerse;

woorde word swaar en lig.

 

ʼn Onvoorsiene storm het my skip gesink

en al my woorde het verdrink.

Maar my hande is gered

en kon voelend ʼn pad deur die vis vind.

Stompgespoel op ʼn vreemde strand het ek begin verstaan –

my hánde moet na Nineve gaan.

 

Die magiese moment in hierdie gedig is wanneer die verteller besef dat woorde alleen nie oor poëtiese krag beskik nie. Iets “onvoorsien” wat die mens nie kan verklaar nie, moet inspeel op ʼn gedig – al is dit dan ook net om alles wat die digter met moeite (maar waarskynlik sonder die numineuse “inspirasie”) self uitgedink het, te laat “verdrink”. Hierdie oomblik van insig lei die digter op ʼn nuwe pad, hoewel dié pad met groot ontbering en pyn gepaard gaan: die digter moet (na die oomblik van insig) nog haar pad “voelend deur die vis vind”.

Dat die beoefening van die digambag met harde werk, mislukkings, terugslae en moeite gepaard gaan, blyk uit die bostaande gedigte. Maar ook dat die muses bestaan – hoewel nie gesetel in die digter as persoon nie. Die “ingee” van die idee wat uieindelik ʼn gedig word, kom blykbaar deur iets soos genade …

Die laaste gedig is een wat oënskynlik hierdie stelling weerspreek. Dit is ook ʼn gedig van Emma Bekker, ʼn tipiese Ars poetica, “Die innerlike mevrou”:

 

Ek wil nie meer my gedagtes in uitgerekte truie indruk nie –

die vet weet, ek is moeg vir uitgewaste uitdrukkings

en gaterige idees wat met dun gare aanmekaar geflans is.

 

Deurdruk en aanhou het my versugting afgespits:

Ek korset my kokketerige denke

in verweefde sinne wat ek met dubbeldraadbetekenis aan mekaar naai.

 

Hoewel dit duidelik is dat die digter skryf oor ʼn bepaalde insig wat sy in terme van haar digterlike styl gehad het en wat sy met ʼn ander tegniek wil vervang, skemer daar ook in hierdie gedig iets deur van die bo-menslike of goddelike, naamlik die sinspeling op die skeppingsproses wat metafories uitgedruk word deur die maak van ʼn kledingstuk en die “dubbeldraadbetekenis” van die slotwoord van die gedig.

Bekker se gedig is inderdaad ʼn tipiese postmodernistiese selfrefleksiewe teks: Die beoordelingsproses aan die hand van teoretiese kriteria word in die eerste strofe deur middel van die metafoor van die uitgerekte, uitgewaste trui uitgedruk. Wauch se stelling wat aan die begin van die blog aangehaal is, naamlik dat selfrefleksiewe tekste doelbewus klem lê op hulle gekonstrueerdheid, word konkreet gemaak deur die digproses metafories gelyk te stel aan die maak van ʼn nuwe kledingstuk.

Marlies Taljard: In die begin was die woord ʼn naam wat uit sy nate bars

Saturday, June 11th, 2016

Sloper

in-die-niks-al-om

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hierdie blog is deel van ʼn reeks rondom die Ars Poetica’s van digters wat onlangs gepubliseer het. In hierdie en die volgende paar blogs bespreek ek eers temas wat dikwels in Ars Poetica-gedigte voorkom. Daarna sal ek gedigte bespreek van afsonderlike digters, soos Daniel Hugo, wat dikwels metatekstuele kommentaar lewer deurdat hulle oor die skryfambag as sodanig reflekteer.

Die eerste bestaande Ars Poetica is dié van Horatius wat die digkuns as ambag beskou en die gedig as iets wat gemaak word. Hy verskaf praktiese raad aan digters wat hy – anders as byvoorbeeld Aristoteles en Plato – binne die sosiale orde besonder hoog aanslaan. Na hom het letterlik duisende gedigte in alle moontlike tale en tradisies verskyn waarin die digter oor die skryf van poësie kommentaar lewer. Die volgende twee strofes van Pablo Neruda is sekerlik van die bekendstes in die moderne poësie:

I did not know what to say, my mouth

had no way

with names,

my eyes were blind,

and something started in my soul,

fever or forgotten wings,

and I made my own way,

deciphering

that fire,

and I wrote the firts faint line,

faint, without substance, pure

nonsense,

pure wisdom

of someone who knows nothing,

and suddenly I saw

the heavens

unfastened

and open,

planets,

palpitating plantations,

shadow perforated,

riddled

with arrows, fire and flowers,

the winding night, the universe.

 

And I, infitesimal being,

drunk with the great starry

void,

likeness, image of

mystery,

for myself a pure part of the abyss,

I wheeled with the stars,

my heart broke loose on the wind.

 

Hierdie bekende Ars Poetica handel oor ʼn oomblik van transformasie: een oomblik is die spreker nog besig om te sukkel met sy woorde; die volgende oomblik is dit asof die hemele geopen is – die tipiese spirituele ervaring wat dikwels by profete, groot meesters en bekeerlinge voorkom. Die gedig, of dan die skryf van gedigte, – so blyk dit – is blykbaar in staat om ʼn spitituele dimensie te aktiveer.

Spiritualiteit is ʼn baie breë begrip, maar hou byna altyd verband met die besef dat daar iets groters as onsself iewers, onsigbaar, teenwoordig is. Dikwels word spiritualiteit in verband gebring met die soeke na die self, na ʼn dieper dimensie van bestaan, na dit wat heilig en verborge is of selfs net die soeke na betekenis (van die lewe). As sodanig is dit ʼn universele belewenis, iets waarmee die meeste mense kan assosieer – nie noodwendig in ʼn religieuse sin nie. Dikwels ondervind digters dat hulle die spirituele dimensie die beste kan aktiveer deur die skryf van ʼn gedig. Waarskynlik omdat ʼn goeie gedig – soos ʼn spirituele ervaring – ook staatmaak op implisiete betekenis, selfs ʼn liggaamlike belewenis, wat nie volledig deur (objektiewe) woorde uitgesê kan word nie – dit wat, aldus Van Wyk Louw “om die grense flikker van my duister woorde”.

Die bekende Amerikaanse digter, Henry David Thoreau beskou die digter as dié persoon in die samelewing wat in staat is om die geestelike dimensie deur poësie te aktiveer. Hy skryf: “Where the most beautiful wild flowers grow, there man’s spirit is fed, and poets grow.” Ek verstout my om te beweer dat solank die mens die skoonheid van die natuur deur liedere en verse besing het, het digters (en sangers) besef dat die poëtiese oor die vermoë beskik om dieper dimensies van bestaan by luisteraars (vandag: lesers) te aktiveer. Trouens, alle goeie kuns beskik oor dié vermoë.

ʼn Bundel waarin bewustheid van die numineuse en die gewyde in byna al die gedigte teenwoordig is, is in die niks al om van René Bohnen. Vir hierdie digter is die skryf van ʼn gedig ʼn inisiasie- of transformasieproses. Die skryf van ʼn gedig word in die metafoor van die San-kuns van die Drakensberge aangebied:

brand die bondels soet mpepho

brand die bergwierook

 

met die koors in my

word ek

elandbul mpofu

 

word ek bruin

en motwit pigment

op kwarts of perkament

 

koggelmanders by die kambergkrans

die dassies in amfiteaters rots

groot lammergeier in sy oker vlug

mierleeutjies onder warm sand

 

hoe flikker hulle

in my hande as ek in sirkels

binne sirkels binne sirkels

die oerpad vat

 

ja my voete verf ʼn gedig

oor die gedugte gang

van tyd en lig

 

o die muse is ʼn maalklip

en alle bokke stof[.]

 

Die vat van die oerpad in sirkels is ʼn erkende simbool van die betreding van ʼn alternatiewe bewustheidsvlak wat byna altyd ʼn spitituele betekenis het. Skryf is vir die spreker in hierdie gedig dus ʼn wyse om die grense van die suiwer aardse bestaan te transendeer en ʼn spirituele reis (“die oerpad”) aan te pak. Enersyds is die begin van dié reis natuurlik ʼn aflegging of dood, maar andersyds is dit ook ʼn geboorte, soos blyk uit ʼn ander gedig, “inspeel met Dylan Thomas”:

net soos hy

het ek die beginklanke

van dood en geboorte

uit ʼn vakuum getoor[.]

 

Die laaste gedig van die bundel vat die tema van inisiasie (wat sowel ʼn dood as ʼn geboorte impliseer) saam deur na die skeppingsverhaal en die begin van die Johannes-evangelie te verwys:

want alles was see

en alles was leeg

voor die sterre losgeskeur het

uit die niks alom

 

in die begin

was die woord

ʼn naam wat uit sy nate bars.

 

Die woordspeling op “naam” is belangrik: op die basies vlak van betekenis verwys die woord na identiteit. Die frase “ʼn naam wat uit sy nate bars” sou dan kon verwys na identiteitskepping of -uitbreiding (wat met individuasie verband hou). In die Evangelie van Johannes word egter na die heilige Woord van God verwys – die Woord wat kennis van die verborge dinge openbaar. In sommige Oosterse spirituele tradisies verwys die woord “naam” ook na die woord van God, maar hier is dit direkte kontak met God deur die geluid van Stilte (of van die sterre) wat reeds aan Pythagoras en sy dissipels bekend was. Deur te luister na die Naam, word karma verbrand (en sondes dus vergewe).

ʼn Ander heilige woord uit die Oosterse tradisie (wat gesing word om ʼn meditatiewe toestand te bereik), is die woord Om, soos dit onder andere in “vlamtong” gebruik word:

en toe hy die woord ukhahlamba

spreek

was daar vuur in

sy mond

 

berg

het hy gesê en

om

het die pieke geantwoord om

eggo

die amfiteater om

 

Die heilige woord Om aktiveer ook in hierdie gedig die spirituele dimensie. Dit is eweneens, net soos Johannes se Woord, die begin waaruit alle geskape dinge hulle ontstaan het.

In die bundel Sloper van Louis Esterhuizen word verskeie temas wat ek hierbo uitgewys het, eweneens aangeraak:

Sakramente

 

Gebreekte woord en wyn,

die sakramente van verwisseling

en hoop. Dít is ʼn gedig.

 

ʼn Stad wat jy graag besoek,

maar waar jy nie mag bly nie, ʼn stad waar strate

verslinger lê en tempels

van verlange en verlies. Só is ʼn gedig, ja –

 

ʼn plek om van te vlug met krummels

en gekurkte drome as enigste sakrament

by die afreis. En lees jy terug

 

word jy steen, en die steen

sout. Ook dít is ʼn gedig: ʼn rigtingwyser

vir hulle wat gaan volg

op hierdie beskeie bedevaart

 

sonder punt.

 

Hierdie gedig speel in op verskeie belangrike Bybelse temas, soos die vermeerdering van die brode, die instelling van die sakrament van die nagmaal, Lot se vrou wat teruggekyk het na die brandende stede Sodom en Gomorra en toe in ʼn soutpilaar verander het …

Die titel van die gedig, “Sakrament”, dui op ʼn heilige teken of simbool – iets wat vir die meeste groot wêreldgodsdienste belangrik is. In die gereformeerde Christelike tradisie dink mens hier veral aan die sakramente van die doop en die nagmaal. Sowel die doop as die nagmaal kan beskou word as ʼn vorm van inisiasie of inlywing in die gemeenskap van ʼn bepaalde geloofstradisie. Sakramente is (in die Christelike tradisie) die uiterlike tekens van Christus se genade wat ʼn innerlike, spirituele ervaring (en verandering van ingesteldheid) by die gelowige veronderstel. Die simbole van brood en wyn wat tydens die nagmaal deur gelowiges geniet word, word dikwels op sigself ook as heilig beskou. Aangesien alle spirituele lig van dieselfde bron afkomstig is, is daar eweneens ʼn fundamentele, universele bron waaruit alle spirituele handelinge voortspruit. Daarom sou ʼn mens weliswar kon beweer dat sakramente en handelinge wat daarmee gepaard gaan, deel van die mens se primordiale belewenis uitmaak en daarom in staat is om alle mense op ʼn besondere wyse aan te spreek. Sakramente word in baie spirituele praktyke beskou as handelinge van God self en is nie slegs tot die Christelike kerk beperk nie.

In Esterhuizen se gedig (hierbo) word dit eksplisiet gestel dat die gedig iets van ʼn inisiasie (“verwisseling”) bevat – dit kan die leser/skrywer transformeer en tot nuwe insigte bring. Dit is egter ook hoop – soos wat die viering van die nagmaal vir deelnemers herinner aan die hoop van ʼn geestelike bestaan van die siel na die dood, soos inderdaad deur Strofe 2 geïmpliseer word. Die gedig is egter – soos ʼn sakrament – ook ʼn rigtingwyser na ʼn transendentale dimensie op ʼn “bedevaart sonder punt”. ʼn Bedevaart is ʼn pelgrimstog of soeke wat verband hou met morele en spirituele aangeleenthede. Dikwels is refleksie oor die verlede (sondes wat gepleeg is) deel van so ʼn bedevaart, soos dit uit die laaste deel van die gedig blyk. Ook dít is ʼn gedig – ʼn soektog na insig op ʼn dieper dimensie, wat ons weer terugbring na die inisiasie wat in die eerste strofe gesuggereer word … Die gedig dien in dié soektog as rigtingwyser.

Die gedig as genade – verwysend na die vermeerdering van die brode en visse by die See van Galilea – kom tot uiting in ʼn verdere gedig uit die bundel “Sloper”:

Soos skuite, die woorde

op ʼn stand uitgesleep, dan gebreek

om as stukkies uitgedroogde vis

 

aan die menigte anderkant geduld

op te dis: korsies brood

vir hulle wat vra na ʼn vangs

 

wat grootliks sal kan

vermeerder.

 

Maar tussen die skuit

en die skare

 

lê die nette steeds en wag

om heel te word.

 

Die son skuif aan.

Volgens die bogesiteerde gedig, sou gedigte as sodanig die vermoë bevat om as klein stukkies genade wat “grootliks sal kan vermeerder” te dien. Helaas is diegene aan wie gedigte gerig is, selde in staat om daardeur getransformeer te word …

Marlies Taljard: “dat hierdie siel deursigtig word”

Tuesday, April 19th, 2016

skip

There’s this need to make utterance        be heard, even understood

as I shape these words for you        gone into that silence from where

I still hear your words        as once you heard mine.

(“The words” – Gael Turnbull)

Digters word dikwels gekonfronteer met die vraag: “Hoekom dig jy?” Dié vraag word nie net deur nuuskieriges of deur joernaliste gevra nie, maar meer dikwels deur die digter self, en ʼn besinning oor die digambag of die doel daarvan om gedigte te skryf, lei tot die groot aantal Ars Poëtika-gedigte wat in die wêreldliteratuur bekend is. Ek kan myself kwalik ʼn groot digter indink wat nooit oor skryf geskryf het nie, wat nooit in poëtiese vorm besin het oor die rede waarom gedig word of die doel van die poësie nie. In baie van die bekende en beroemde dig-oeuvres kom verskeie Ars Poëtikas voor en dit is dikwels interessant hoe die fokus op skryf en die doel van skryf as kuns in die loop van ʼn lang digloopbaan verskuif. Die doel van hierdie reeks blogs is nie om die Ars Poëtikas van bekende digters (waaroor al by herhaling geskryf is) te belig nie, maar juis om te kyk na Afrikaanse Ars Poëtika-gedigte waaroor tot dusver nog min geskryf is. In hierdie inleidende blog noem ek wel interessantheidshalwe enkele bekende gedigte wat oor die digambag as sodanig handel, veral met die doel om later enkele algemene opmerkings te kan maak oor dit wat digters motiveer om te skryf en wat digters as die doel van die digkuns beskou.

In die bostaande gedig – een van my gunstelinggedigte – word die algemeen-menslike behoefte verwoord om gehoor en verstaan te word. Google die gedig gerus en lees hom in sy geheel! Hoewel woorde noodsaaklik is om kummunikasie te bewerkstellig, word die referensiële aard van woorde (m.a.w. die vermoë van woorde om die volle reikwydte van die bedoelde betekenis oor te dra) dikwels geproblematiseer, soos blyk uit die derde strofe van Turnbull se gedig:

and if your words        those we have from our forefathers

for that bread and that wine        are no longer those

I can use, I must believe        you also believe

they are only words        if necessary

in face of those questions        of that beyond where I would reach[.]

 

Die bostaande strofe raak ook ʼn ander belangrike aspek van die skryfambag aan, naamlik die probleem om woorde te vind vir die abstrakte dimensie, die psigiese, dikwels onsegbare dinge wat in die mens se gees leef. Die begeerte om die numineuse ervaring by wyse van ontoereikende woorde te beskryf, is by N.P. van Wyk Louw reeds vanaf sy eerste bundel teenwoordig. Sy siel wil na die aangesprokene

gaan met al sy donker wense,

en die heilige, nooit-gehoorde

dinge sê, waarvoor die mense

huiwer, en wat om die grense

flikker van my duister woorde.

(“Grense”)

Vir dié digter is dig ʼn grens-oorskrydende handeling – ʼn ambag wat ten doel het om die gewone, alledaagse te buite te gaan en nuwe betekenisse te ontgin en uit te sê. In ʼn ander gedig (“my venster is ʼn blanke vlak”), wat, net soos “Grense” uit die digter se debuutbundel, “Allenspraak”, kom, wag die spreker “op magiese deursuiwering: // dat hierdie siel deursigtig word”. Die rol wat die siel speel by digterlike inspirasie, is vir baie digters belangrik. Ek dink byvoorbeeld aan Pablo Neruda se bekende gedig “And it was at that age … Poetry arrived in search of me”:

I did not know what to say, my mouth

had no way

with names,

my eyes were blind,

and something started in my soul,

fever or forgotten wings,

and I made my own way,

deciphering

that fire,

and I wrote the first faint line[.]

 

Die aard van die gedig word ook dikwels as stof vir Ars Poëtikas geneem, soos in dié bekende gedig van die Amerikaanse digter Archibald MacLeish:

A poem should be palpable and mute

As a globed fruit,

 

Dumb

As old medallions to the thumb,

 

Silent as the sleeve-worn stone

Of casement ledges where the moss has grown —

 

A poem should be wordless

As the flight of birds.

 

Die bekende slotstrofe van hierdie gedig (“A poem should not mean / But be”) verwoord die modernistiese siening van kuns. In Afrikaans is D.J. Opperman se “Digter” bekend as kommentaar op die digambag. Ook in dié gedig word iets gesê oor die aard van ʼn gedig – dat dit groei soos ʼn seilskip wat (deur die digter) in ʼn bottel gebou word en dan ter see gelaat word en dalk eendag deur ʼn onbekende gevind sal word:

Digter

 

Ek is gevang

en met die stryd

êrens in die ewigheid

op ʼn Ceylon verban

 

waar al my drange

na ʼn verlore vaderland

my dag na dag geëiland

hou met horisonne en verlange,

 

en in die geel gloed van die kers

snags deur die smal poort

van die wonder elke woord

laat skik tot klein stellasies vers

 

wat groei tot boeg en mas

en takelwerk – en die uiteindelike

reis met die klein skip

geslote agter glas.

 

Wat uit hierdie gedig duidelik word, is die behoefte aan ʼn gespreksgenoot of ʼn leser (soos by Turnbull hierbo), selfs al is dié ʼn onbekende en al is dit nie altyd seker dat die boodskap sal “aankom” nie. Dit is egter ook duidelik dat die spreker die gedig beskou as iets waarmee gereis kan word (onder andere die reis van een mens na ʼn ander word geïmpliseer). Die gedig is egter ook die resultaat van ʼn lang, moeisame proses om iets van betekenis (iets herkenbaars) te maak – dit is ʼn artefak wat deur ʼn vakman vervaardig word. Ten slotte is dit vir hierdie bespreking belangrik dat ook die aard van die digter omskryf word: hy is naamlik ʼn “gevangene” wat dikwels in afsondering ʼn byna onmenslike taak móét uitvoer wat deur ʼn innerlike drang aan hom opgedring word.

Ek sou in hierdie inleidende bespreking talryke ander – selfs beter – voorbeelde kon aanhaal en ander aspekte van kommentare op skryf as kuns kon belig. Die doel is egter slegs om enkele algemene opmerkings te maak waarteen Ars Poëtika-gedigte later geprojekteer kan word en wat ook vir nie-professionele lesers as riglyn kan dien vir die problematiek van dig, soos dit deur digters self ervaar word.

Joan Hambidge. “Ars Poetica”

Monday, December 8th, 2014

Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.

Shelley

 

Daar was ‘n tyd

wat ek sonder slag of stoot

‘n versreël of inval

netjies kon ómtower in ‘n aanklag

of ‘n neulerige neuriesang.

Dit was die tyd van palinodes

en verlore simbole

met matelose selfbedrog.

En digterlike vriendskappe:

laatnag gesprekke oor Neruda

en Sheila Cussons en Opperman

as leermeesters en vir die drif

en óndaad van die digkuns.

Die anatomie van melancholie

met sjirurgiese presisie,

dié kon ek ontleed en ja,

vreesloos daardie donker labirint betree.

Vér en lank gereis in verdraaide raaisels

en telkens voor dooiemansdeur gestaan.

Die mossteppe of toendras

soos ‘n skeeloog mulatto betree.

En kriptonemies op ‘n hondegaloppie

gedraf in die skoene van die Groot Vyf.

One-two cha-cha-cha

kritikasters se parabole gesystap

op pad wég, haha Houdini.

Oor haar, ‘n sy, nes Petrarca,

daardie obsessionele woordvraat,

veelversig gecanzonier.

Nou is dit helaas beurtkrag

met die digterlike proses.

‘n Gedig word onderbreek:

bly broeiend ónafgerond,

nes reptieleiers in ‘n rivierbedding

waar mummelende mulvisse

eens vertoef het néffens muisvalke.

Dié gedwonge beelde stip alreeds

die onmag en woordelose frustrasie aan.

Miskien, miskien sal my beelde

weer eendag helder skyn.

Soos ‘n wolk van gevlerkte slange?

 

 

(c) Joan Hambidge / Desember 2014

 

Joan Hambidge. Ars poetica

Wednesday, July 23rd, 2014

Ars poetica

 

“I will survive”, neurie my moeder

onverwags nes Gloria Gaynor in daardie tyd

lank voor die vlug van Air Malaysia

met ‘n lyk wat land in iemand se kombuis;

twee jongelinge gevind nog met oorfone aan,

‘n horlosie, ‘n speelding, skoene (die gewone)

en in die diep nag YouTube ek vir Gloria

gedagtig aan háár en ons oorlewing:

had ‘n noue ontkoming terug van Hanoi

met Air Malaysia na my moederland

toe ‘n ander vliegtuig soos sonmis verdwyn

en nou is daar ‘n trein met koeltrokke op pad

om die reeds ontbinde lyke terug te neem:

miskien het een van hulle geluister na

“I will survive” en dalk was die toiletdeur

se rooi liggie aan, ‘n waarskuwingsteken

vir die missiel so venynig so dwingend so finaal:

die imperfektum van onthou ‘n fratsongeluk

met my moedertaal sonder ‘n plusquam perfektum

om presies dít wat my moveer by herhaling

op verskillende maniere te iteratief-duratief.

 

© Joan Hambidge / 2014