Posts Tagged ‘Avbob digkunsprojek’

Resensie: I wish I’d said…Vol. 2 – Red.: Johann de Lange & Mandla Maphumulo

Wednesday, September 18th, 2019

 

Resensie: I wish I’d said … Vol. 2 – Redakteurs: Johann de Lange & Mandla Maphumulo

Resensent: Marlies Taljard

Die tweede volume van I wish I’d said … is ’n lywige bundel, sag op die oog en sag op die hand, smaakvol en luuks uitgegee deur Naledi. 9×11 gedigte + 2, om die 101 jaar van AVBOB se bestaan te vier – nege gedigte in elke amptelike taal en twee |Xam-gedigte uit die Bleek & Lloyd-versameling. Die gedigte deel ’n gesamentlike tematiek, naamlik die konfrontasie en verwerking van dood en trauma. ’n Engelse vertaling van al die inheemse tale (Afrikaans ingesluit) maak deel van die aanbod uit. Die bundel is die resultaat van die tweede (2018-)AVBOB Poetry-kompetisie. Pas het die derde kompetisiesiklus afgeskop (sien www.avbobpoetry.co.za) waarvoor inskrywings in alle tale tans ingewag word.

In sy inleiding tot die bundel skryf Frik Rademan, besturende direkteur van AVBOB: “We should never underestimate the transformative power of poetry”. Met hierdie stelling sluit hy aan by een van die drie bundelmotto’s: “Poetry is ultemately mythology, the telling of the stories of the soul … These stories recount the soul’s passage through the valley of this life – that is to say, its adventure in time, in history” (Stanley Kunitz).

Dood en traumatiese verlies is temas waarmee moeilik op rasionele wyse omgegaan kan word. Dit spreek tot ’n hoër vlak van menswees, die transendentale bestaan. Die mens se lewe is nie beperk tot die aardse en liggaamlike nie en ook nie tot ruimte en tyd nie. Die menslike bestaan strek (so glo baie mense) oor die grens van die dood. Konfrontasie met dood en trauma is dus by uitnemendheid liminale ervaringe en aktiveer bewustheid van die bo-sinlike, die mistieke en selfs die misterieuse wat die mens wat verlies ervaar het, probeer verklaar. Poësie wat elegies van aard is, kom in alle beskawings voor. Dink maar aan die bekende Egidius-lied: “Egidius, waer bestu bleven? / Mi lanct na di, gheselle mijn. / Du coors die doot, du liets mi tleven.”

In sy worsteling om die bo-natuurlike en die traumatiese te probeer begryp, wend die mens hom dikwels tot spirituele waarhede (wat nie as sinoniem van die “godsdienstige” of “religieuse” gelees moet word nie). Liminale ervaringe is skrikwekkend van aard en bring die mens in direkte kontak met die afgryslike. Dit het dikwels radikale identiteitsveranderende gevolge. Om sin of betekenis te probeer vind in die gruwelike Vreemde is ten diepste ’n menslike eienskap wat dui op ’n aktiwiteit wat die bloot temporele en profane te buite gaan en nie beperk is tot die menslike bestaan in ruimte-tyd nie. Hiervoor is die mite (soos die aanhaling hierbo aandui) ’n baie geskikte medium.

Volgens André Jolles is die mite een van nege eenvoudige of basiese narratiewe vorme. ’n Mite is, aldus Jolles, die antwoord op ʼn eksistensiële vraag. Mitologisering is skepping: die mens vra die heelal om sigself aan hom te openbaar en ’n antwoord kom “hom tegemoet”. In Jolles se terme is die antwoord ’n “wederwoord” – in menslike terme nie noodwendig bevredigend nie, maar nietemin die Waarheid. So kom ʼn basiese opposisie tussen die mens en sy leefwêreld na vore: Die mens leef ongemaklik in die wêreld. Die mite is ook ʼn vorm van profesie of waar-sêery omdat die antwoord op die eksistensiële vraag altyd ʼn waarheid bevat in terme van die mens wat uitreik na die bo-menslike – dus ʼn transendentale waarheid.

Hoewel baie ander uitgangspunte moontlik is, fokus ek in hierdie resensie hoofsaaklik op mitevorming, op die mens se bemoeienis om sy bestaan en die einde daarvan (die dood) te verstaan deur dit onder woorde te probeer bring. Deur alle eeue was kunsskepping een van die maniere waarop transendentale ervarings verwerk is, want die logika en die “wetenskap” bied tot dusver nog nie vir ons genoeg bevredigende antwoorde op die vrae oor ons hierwees op aarde nie.

Wat die 9 Afrikaanse gedigte in die bundel betref, is daar 5 gedigte deur gevestigde digters wat gevra is om elk ʼn gedig by te dra en 4 pryswennergedigte. Die afdeling staan onder die redakteurskap van Dr. Daniel Hugo. Die opdragdigters is Clinton V du Plessis, Louis Esterhuizen, Lynthia Julius, Martjie Bosman en Pieter Odendaal. Tom Dreyer was die wenner van die Afrikaanse been van die kompetisie, gevolg deur Gaireyah Fredericks, Hélen Möller en Maretha Maartens.

Die openingsgedig van die bundel, dié van Clinton V du Plessis, handel op ʼn eerste vlak van interpretasie oor die digter se eie sterflikheid, wat egter ten nouste verweef is met die dood van ʼn tydvak in die land. Die kerkhof word die metafoor van verganklikheid, verval en – natuurlik – die dood. Dit is die plek waar die spreker en sy geliefde eens “op Sondae / tussen die ontslapenes gedwaal het.” Mens neem dus aan dit was ʼn geskikte plek vir Sondagmiddagwandelinge. In ʼn verbeelde hede, met die spreker nou dood, vra hy dat die geliefde hom kom ontmoet:

 

As jy dán kan, staan

net vir ʼn oomblik by my akker stil,

trek die onkruid uit die gruis

dáár waar ek, sonder jou, ontuis,

ongerieflik, my laaste lê probeer kry.

 

Benewens eksplisiete kommentaar op die aard van “doodwees”, lees ons in dié strofe – soos in die res van die gedig – kommentaar op die verlies van waardes, op die agteruitgang van openbare ruimtes, op die verval van die land as sodanig, op ʼn gebrek aan respek vir die gestorwenes en op bewussyn wat moontlik na die dood voortduur. Dit dui ook, soos ek hierbo aangetoon het, op die ongemaklikheid van die mens met die mitologiese “waarheid”.

Ook Pieter Odendaal se gedig fokus op die begraafplaas as rusplek en op ʼn gesprek oor die grense van die dood: “ek leer om met julle te praat, / die stiltes wat anderkant wag”, en die slotreël: “julle doem op uit die grafte waar ons julle laat lê het”. Ook hier dus die suggestie van “laat lê” soos in Du Plessis se gedig waar die kerkhof ʼn soort stortingsterrein is met “bierbottels splinters gebreek”.

Wat die wengedig betref, is ek lanklaas so getref deur ʼn gedig soos Tom Dreyer se “Slaap jy solank, dan hou ek die fort”, wat eweneens ʼn gesprek met ʼn gestorwe vriend is:

(…)

 

onthou jy die nag toe ons bo enigiets op aarde

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante ons was koud

en moerig individueel maar meestal vir mekaar

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis staan

en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla dis

gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel nes daai

aand by die kknk toe jou trane so vryelik soos gemorste

whiskey op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan

slaap eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

(…)

 

Soos so baie ander gedigte in die bundel, is ook dié gedig ʼn In Memoriam vir ʼn gestorwe vriend of familielid. Louis Esterhuizen betreur die dood van skrywer Chris Barnard: “Onder die gewig van tak en lower / het ʼn skaduboom middeldeur geskeur” om ʼn “volstrekte oopte oorhoofs” te laat. Martjie Bosman onthou haar ouers aan die hand van die boeke wat sy met hulle assosieer, terwyl Maretha Maartens, een van die kompetisiewenners, die verlies van haar man betreur in die metafoor van droogte en die spinasiebedding wat sy aan die lewe moet hou: “Grys is die son wanneer ek jou spinasie gaan begiet soos dit hoort.”

Ook talryke ander gedigte in die bundel – gedigte in al die tale van Suid-Afrika – maak gebruik van metafore en simbole om dood en verlies bevatlik te maak vir die treurende mens wat die raaiselagtige slegs kan beskryf deur dit in terme van bekende beelde en verhale uit te druk wat dalk iéts kan sê oor die aard van verlies.

Net so onbevatlik as die oorgang na die heel onkenbare, is die oënskynlike vermoë van die mens om in meer as een dimensie gelyktydig te leef, soos dit ook pas narratief uitgedruk word in Charl-Pierre Naudé se bekroonde roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Hélen Möller skryf oor voorkennis, oor haar ouma wat haar lewe beplan deur afsprake op die kerkalmanak te merk:

 

En dan, te midde van vergeet

wat gate uit jou lewe vreet,

trek jy die streep:

egalig deur al die oorblywende blokkies

soos ʼn pulslose EKG-skermgreep.

Jy het al die tyd geweet!

Iets van die Unheimliche kom ook in Martjie Bosman se gedig voor:

En meteens stort die boekrak

van ʼn lewe weer ineen

soos op die wintersdag

van die skel gelui van die telefoon

(…)

 

Die onverklaarbare, bo-sinlike bly in baie gedigte bloot hang as gegewe, as bewys van die mens se onvermoë om ten volle te ken.

Wat vormgewing betref, het heelwat skrywers die elegiese vorm gekies. Die elegie is ʼn antieke Griekse vorm wat in moderne tye meestal as respons op die dood van ʼn geliefde geskryf word. Dink hier aan die onvergelyklike Catullus 101 wat Catullus geskryf het by die ontvangs van sy broer se as. Tradisioneel word kwatryne in die elegie gebruik in die abab-rymskema. Baie moderne digters wyk egter van dié vorm af. Wat wel steeds belangrik is, is dat elegiese gedigte in 3 fases verloop, naamlik hartseer en rou, prys van die oorledene en vertroosting en berusting. ʼn Teksboekvoorbeeld is te vinde in die Engelse afdeling van die bundel met Chris Mann se “Elegiac ballads: a tryptych”. Veral in die afdelings vir Afrikatale kom egte elegiese gedigte voor, Soos “Duduzekani bakwethu” van Abram Jabu, “Mbala ipilo yifitjhani” van Queen Mahlangu, “Ba go letile” van Kgotso Bopape en andere. Wat my ook opgeval het, is dat digters in Afrikatale hulle dikwels wend tot tradisionele vorme van godsdiens as troos, hetsy die Christelike of inheemse gelowe, terwyl soortgelyke gedigte in Afrikaans en Engels ontbreek.

Wat hierdie bundel gedigte spesiaal maak, is dat die samestellers moeite gedoen het om die gedigte toeganklik te maak vir alle Suid-Afrikaners. Dat alle gedigte ook in ʼn Engelse vorm (hetsy vertaling of oorspronklik) verskyn, is ʼn belangrike poging om begrip vir mekaar en ons gedeelde menslikheid te bevorder. David Biespiel skryf oor die vertaling van elegiese verse: “To translate is to unveil the hidden. It’s to be humble before the task of bringing the cultural and literary drama of one language into another, while also being bold in the certainty that, as translator, one can actually do such a thing.” Of die vertalers in alle gevalle daarin geslaag het om ook ʼn nuwe kunswerk tot stand te bring, is te betwyfel. Ek kan hier meestal bloot oordeel op grond van die Engelse tekste, wat dikwels veral in klankrykheid en dramatiese impak nie met die oorspronklike gedigte kan meeding nie. Ek twyfel egter ook of dit die doel van die vertalings was – dit lyk inderdaad asof vertalers gekies het vir ʼn woord-vir-woord vertaling ter wille van beter begrip. Tog sal dit myns insiens die moeite loon om die beste gedigte weer te vertaal met die doel van kunsskepping voor oë – nie net na Engels nie, maar ook na ander tale.

Ek beskou myself nie as bevoeg om te oordeel oor die gedigte in tale anders as Afrikaans en Engels nie en om dié gedigte te beoordeel op grond van die vertalings na Engels, is onregverdig. Daar sal baie ander resensies moet volg van mense wat die tale van ons medeburgers kan verstaan. Self het ek die Afrikaanse en Engelse gedigte, wat beslis literêre meriete het, geniet. Ek het dit veral geniet om deur middel van vertalings ʼn kykie te kry in die poësie van dié mense wie se tale ek nie kan verstaan nie; in hulle leef- en denkwêreld en hulle filosofiese en spirituele tradisies.

Ek haal ten slotte weer eens Biespiel aan: “… translating life into death and death back into life is the central struggle for those suffering grief.” In die tersaaklike bundel is nie net sprake van transposisie na ander tale nie, maar transposisie van rou emosie na gestruktureerde taal – dít was die doel van die bundel.

Die goeie nuus is dat die verskyning van die I wish I’d said-bundel nie ʼn eenmalige gebeurtenis is nie, maar dat daar voortaan elke jaar so ʼn bundel gaan verskyn. Diegene wat vanjaar aan die AVBOB-poësiewedstryd wil deelneem, kan gerus AVBOB Poetry se webwerf besoek by www.avbobpoetry.co.za

 

 

Marlene Malan. Avbob digkunsprojek

Wednesday, July 31st, 2019

Die Avbob digkunsprojek

In Suid-Afrika lééf die digkuns– en dit danksy die reuse-belegging wat een maatskappy in die poësie én in die bevordering van al elf amptelike landstale maak.

Avbob se aanlyn-poësiekompetisie, wat op 1 Augustus vir die derde agtereenvolgende jaar bekend gestel is, is die bewys hiervan, sê Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap Brand et al wat dié projek namens Avbob bestuur.

So lyk die statistiek ná die suksesvolle afhandeling van twee kompetisies waaraan gepubliseerde en ongepubliseerde digters deelgeneem het: 50 000 inskrywings is ontvang wat vier temas (geboorte, hoop, liefde en die dood) dek, 6 000 gekeurde gedigte is op die Avbob Poetry-webtuiste geplaas. Elf redakteurs (een vir elke amptelike taal) en een hoofredakteur doen die oorsig- en keurwerk, en twee bundels poësie (I wish I’d said I en II) is deur Naledi gepubliseer, met onderskeidelik 100 en 101 gedigte.

Vanjaar se wenners van die Afrikaanse afdeling is Tom Dreyer (1ste), Gaireyah Fredericks (2de), Hélen Möller (3de) en Maretha Maartens (4de).

“’n Mens kan jou maar net begin indink waar die statistiek aan die einde van jaar drie, dit is op 30 November, gaan staan,” sê Van der Westhuizen. Avbob maak ‘n aansienlike belegging in die digkuns met hierdie projek. “Wat die belangrikheid van die program en projek betref, meen ek dat Avbob nie naastenby die erkenning kry wat dit verdien nie. Geen ander korporatiewe instelling het al ooit so ’n belegging in die geskrewe woord – wat nog te sê die poësie – gemaak nie. Die projek bevorder die digkuns van alle inheemse tale, waarvan Afrikaans een is. Só iets bestaan gewoon nêrens elders nie.”

Die projek is al nasionaal en internasionaal bekroon: Pendoring, Assegai, PRISM en M&M Global Awards.

Jaarliks word die nuwe skryfkompetisie op twee maniere aangekondig: Die bekendstelling van ’n nuwe bloemlesing I wish I’d said, vanjaar met Johann de Lange en Mandla Maphumulo as redakteurs (verlede jaar De Lange en Mantoa Motinyane), asook die opname van ’n TV-gespreksprogram (Ek wou nog sê …). Vanjaar bevat dit onderhoude met twintig Afrikaanse digters en liriekskrywers wat later op VIA-TV uitgesaai gaan word. Daniel Hugo is die gespreksleier. In die TV-reeks gesels die genooide digters oor die belangrikheid – en genot – van hul skryfwerk in Afrikaans.

I wish I’d said II bestaan uit die verse van die wenners sowel as dié van opdragdigters – mét die Engelse vertalings van die gedigte uit die tien inheemse tale. Dit maak daarvan terselfdertyd een van die grootste literêre vertaalprojekte in die land.

Naledi kan nou met reg as Suid-Afrika se voorste uitgewer van die digkuns beskou word, sê Hugo. Nege bundels het sedert begin vanjaar by hulle verskyn.

 Volgens Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi, beleef Suid-Afrika beslis ’n poësie-oplewing in alle taalgemeenskappe, “maar in die besonder in Afrikaans. Dis belangrik vir die behoud en groei van ons letterkunde dat daar ’n professionele en inklusiewe platform sal wees wat digters aanmoedig en beloon en die digkuns bevorder. Digkompetisies soos hierdie, asook mediablootstelling soos die TV-program, is baie waardevol. Poësie is nie meer buite bereik van gewone mense nie. As uitgewer probeer ons meedoen hieraan en ’n meer verwelkomende atmosfeer vir opkomende en gevestigde digters skep.”

“Hoewel baie gevestigde digters aan die kompetisie deelgeneem het, is die vier wenners óf ongepubliseerde óf selfgepubliseerde digters,” vertel Hugo. “Nie een is as digter deel van die hoofstroomletterkunde nie. Die gehalte van hul werk was besonder goed. Die gesprekke tydens die opname was met ’n groot verskeidenheid digters, onder andere die vertaler De Waal Venter, die liriekskrywer Jak de Priester en die toonsetter van gedigte Leon Gropp.”

Twee digters wat aan die program deelgeneem en vanjaar by Naledi gepubliseer het, Willem van der Merwe (Nuwe vrese) en Hannes Visser (Die jaar toe pa …) sê die projek en die TV-program is goeie nuus vir die digkuns.

Hannes Visser en Daniel Hugo op die stel.

Volgens Visser “is daar ’n oplewing in die Suid-Afrikaanse digkuns. Dit het ’n voor- én nadeel. Die nadeel is dat gedigte teen die spoed van lig op Facebook uitgespoeg word sonder enige redaksionele versorging. Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is. Ons almal lees poësie om persoonlike redes. Vir mý lê die waarde van digkuns daarin dat die leser met die minimum woorde ’n volledige prentjie kry – dit stimuleer die verbeelding en bied nie alles op ’n skinkbord nie. Om na ’n program soos Ek wou nog sê… te kyk, voeg ’n derde dimensie by die poësie – daar is die woorde op die blad, die klank in die ore en nou ook die visuele waar die kyker die digter kan sien.”

Van der Merwe sê “op die stel het Daniel my gerusgestel en ek het begin babbel oor inspirasie, belesenheid en hoekom ek so lank gewag het om my tweede bundel te publiseer. Ek het amper slim gevoel. En toe voel ek skielik ’n ongekende deernis oor hoe aktief en lewendig die digkuns nog in ons land is”.

Volgens Hugo het talle digters op Donderdagaand 25 Julie by die oorhandiging van die pryse gesê hulle is bekommerd oor die voortbestaan van hul moedertaal “en dat dié projek die enigste in die land is wat hul skryfwerk publiseer, op die webtuiste en in boekvorm. Jy hoop verniet die regering gaan iets doen om moedertale te bevorder. Dit móét met privaatgeld gedoen word.”

In I wish I’d said II skryf De Lange die Avbob-poësieprojek “het die reservoir vir elegiese digkuns geword”. Die gedigte kom uit “die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing. Nie net gedigte oor die dood en verlies nie, maar ook gedigte oor die viering van die lewe, gedigte wat met die afwesiges én aanwesiges praat, wat ’n stem gee aan die stilte en die stilgemaaktes, wat praat oor woorde wat mense nagelaat het om te sê.”

Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, skryf in die inleiding tot die bloemlesing dat die kompetisie nie net ’n ruimte bied waar gewone Suid-Afrikaners oor hul hartseer en hoop kan praat nie, “maar dit is ook ’n plek waar ons mekaar kan ontmoet en gedagtes uitruil, waar ons ons gevoelens met mekaar kan deel, en waar ons sáám kan droom.”

Van der Westhuizen meen die belangrikheid van die projek lê daarin dat dit “véél eerder gaan oor hoop in ’n wanhopige land en tydsgewrig. Dit laat mense óór taal- en kultuurgroeperings van hul verskille vergeet. Die poësie bind hulle saam.”

  • Besoek avbobpoetry.co.za of Avbob Poetry se Facebook-blad om aan die kompetisie deel te neem.
  • I wish I’d said I en II: naledi.co.za; R200 en R220 onderskeidelik. Bestel by info@naledi.online of te koop by alle voorste boekwinkels.
  • Digters wat aan vanjaar se TV-program deelneem, is: Tom Dreyer, Gaireyah Fredericks, Hélen Möller, Hannes Visser, Emma Bekker, Fourie Botha, Clinton V du Plessis, Willem van der Merwe, Danie Marais, Eunice Basson, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Jannie Malan, Jolyn Phillips, Fanie Olivier, De Waal Venter, Pieter Hugo, Christo van der Westhuizen, asook Leon Gropp en Jak de Priester.
  • TV-uitsendings, VIA (Kanaal 147):

.

Hoofuitsendings:

S02E01: 16 Oktober @ 18:30

S02E02: 23 Oktober @ 18:30

S02E03: 30 Oktober @ 18:30

S02E04: 6 November @ 18:30

S02E05: 13 November @ 18:30

S02E06: 20 November @ 18:30

S02E07: 27 November @ 18:30

S02E08: 4 Desember @ 18:30

S02E09: 11 Desember @ 18:30

S02E10: 18 Desember @ 18:30

Herhalings:

S02E01: 27 Oktober @ 16:00

S02E02: 3 November @ 16:00

S02E03: 10 November @ 16:00

S02E04: 17 November @ 16:00

S02E05: 24 November @ 16:00

S02E06: 1 Desember @ 16:00

S02E07: 8 Desember @ 16:00

S02E08: 15 Desember @ 16:00

S02E09: 22 Desember @ 16:00

S02E10: 29 Desember @ 16:00

.

© Marlene Malan – 2019