Posts Tagged ‘Barend J. Toerien’

Vriende en katte

Tuesday, January 26th, 2010

Ek het ’n vriendin. Nie ver by die blou see nie, sommer net hier anderkant in Pretoria. En elke keer as ek aan Phyllis dink, dan dink ek aan ’n gedig. Maar dis weer Operasie Gedigsoek hier, omdat ek nóg naam nóg skrywer daarvan kan onthou.

   In die digbundels op my rak, dié wat ek bereid is om vlugtig deur te blaai, kry ek niks. Dan maar gaan kyk wat Google weet van Phyllis en kat, en hoera! Daar is dit sowaar:

 

Met Phyllis ingekooi

 

Phyllis op die vensterbank

tel sneeuvlokkies, daglank, aandlank,

“Triljoen-en-twee-“ Ek sê: veel dank.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Phyllis lek haar hare glad

soos George Raft s’n, blink en nat

want Phyllis is my outydse kat.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Ek tel haar op – sy kyk ontstel

want wie gaan nou die sneeuval tel?

en sit haar op my kooi op bevel

van Phyllis-maak-my-voete-warm.

 

Dan in my lang wol-onderklere

(sy draai haar kop weg vir die gebeure)

krimpvarkie-kruip ek in die vere.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Lank opgewen slaan sy haar enjin

nou aan met por, voetvroetel, spin,

straal katte-Watte die komberse in.

So maak Phyllis my voete warm.

 

Dis ’n gedig van Barend J. Toerien en ek dink dis heerlik! Van sneeuvlokkies weet ek nie veel nie, maar van katte wel en hierdie is in die kol. Hulle sê mos ’n kat is nie so skoon nie, dit is net vol katspoeg.

   Juis is my liefste kat vanoggend soek, seker aan ‘t jag in die grasvelde om my huis. Wie gaan nou my skoot warm sit en kla as ek opstaan om tee te maak? Wie gaan nou my woorde tel?

Huldeblyke. Barend J. Toerien

Thursday, September 10th, 2009

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ter ere van die ontslape digter is die volgende huldeblyk ontvang.

HENNIE AUCAMP

Wat ek die duidelikste omtrent Barend Toerien onthou, is sy pragtige oë, die blouste blou denkbaar; seemens-oë.  Ek is bly Breyten het dit ook opgelet; sienersoë is nie volop nie.

En wat hierdie oë nie alles aanskou het nie.  Groot toneelopvoerings en musiekuitvoerings in New York, landskappe die wêreld oor, maar veral die Portervillese veldblommeprag.  Ná ‘n verblyf in die vreemde haal Barend sy hart op aan die veldblomme van die Kaapse blomverkopers, en probeer die volksname vir al dié blomme uitvind.  “Wat noem julle dié een?” vra hy, en beduie na ‘n wit watsonia.  “O”, sê die blomverkoopster rats, “dié een noem ons white sonia, maar daar is ook pienk sonias.”  Barend het dié grappie graag vertel, en dan geëindig met:  “Natuurlik ‘n nooienspypie, maar dit het ek eers later uitgevind.”

Van Barend Toerien se mooiste verse is jeug-evokasies.  Hy dig oor die dinge op Onder-Steenwerp se werf, en ook oor die mense en gebruike van sy kindertyd.  Maar as wêreldburger het hy ‘n wye enigmatiese register gehad.  Hy het byvoorbeeld oor Olie Frank, die vader van Anne Frank, gedig, lank voordat die media die Franks opgeëis het.  Hy het ‘n verruklike gedig oor berkebome geskryf, en hulde aan sy eie voël gebring, maar met so ‘n vanselfsprekenheid dat niemand aanstoot daaraan kon neem nie.

Dis Louise Viljoen wat Barend Toerien vir die poësieleser herwin het, met haar keur uit sy verse, Om te onthou.  Volgens my behoort Barend Toerien by die ewige seuns in die Afrikaanse letterkunde:  By Leipoldt, Boerneef en Uys Krige, digters wat nooit hul aard en aarde verloën het nie.

Barend Toerien was moedswillig, kwaslerig, maar end-uit voluit mens.  En dit kan nie van alle mense gesê word nie.

 

Gaan lees ook toepaslike huldeblyke by die volgende skakels:

 

Willem de Vries (Die Burger, 04/09/09)

Herman Lategan (LitNet, 07/09/09)

Herman Toerien (Die Beeld, 07/09/09)

Helize van Vuuren (Die Burger, 09/09/09)

Helize van Vuuren (LitNet, 10/09/09)

 

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.