Posts Tagged ‘Baudrillard’

Waldemar Gouws. Baudrillard: Die konstellasie van die misterie

Thursday, December 6th, 2018

Jean Baudrillard

Waldemar Gouws. Baudrillard: Die konstellasie van die misterie

Jean Baudrillard (1929-2007) beroep hom, lyk dit my, op die terrein van Versindaba; eintlik op die vlees en gees van Versindaba, in sy opstel Le Mal ventriloque (2008) of dan in die Engelse vertaling Ventriloquous Evil (in 2010 se Carnival and Cannibal; Ventriloquous Evil. Londen: Seagull Books).

Waarop beroep hy hom in hierdie opstel? Op die teenwoordigheid en invloed van die “konstellasie van die misterie” in die kulturele uitspansel van die mensdom. En op daardie insig wat d.m.v. die denke en vernuf van die digters (van hierdie en van alle tye) aan die lig kom: téén die nivellering van kulturele diversiteit in die opsetlike greep van globalisering, en téén die vernietiging van biodiversiteit (dink aan Monsanto, ’n Coca-Cola van kos, nou Bayer se monopolistiese grootskaalse genetiese ingryping t.o.v. graan- en gifstofproduksie in landboukringe wêreldwyd. En ook téén die proliferasie van internet-interaksie.

Ek het ’n paar paragrawe uit bg. Engelse teks vertaal, vanaf p.70 tot 73, en ’n nota op p.91 in die hoop dat Baudrillard se idees tot stimulering en onderskraging mag dien. So skryf hy:

“Ons is almal vandag genoop om die klein bietjie merkwaardigheid, die klein bietjie simboliese spasie en terrein wat vir ons oorgebly het, te red in verset teen ’n globale masjinerie, ’n globale onderneming van Goeddoenery, wat van ons die opoffering van enige wil en intellek eis (dit is nog steeds die verdrag soos deur Dostojewski se Groot Inkwisiteur aan die hand gedoen: welstand en diensbaarheid).

En vanwaar sou hierdie ‘linkse’ energie kan kom? Van daardie ondeurdringbare sone wat in elke individu is; vanaf daardie ‘hart’ wat weerstandbiedend is teen die gebod van al die apparatuur, van al die masjinerie, die gehele meganiek van rasionalisering.

Vanuit die Prometheïese perspektief van onbeperkte groei, gaan dit nie bloot oor die begeerte om alles te laat funksioneer, om alles te bevry  nie, maar ook oor die begeerte om te sorg dat alles betéken.

Alles moet onder die septer van betekenis (en realiteit) gebring word. In sommige gevalle weet ons dat kennis ons almaardeur sal ontkom. Maar in die oorgrote meerderheid gevalle weet ons nie eers wat dit is wat verdwyn het nie en ook nie wat nog die hele tyd aan ons verstand ontsnap het nie.

Nou, die wetenskap is besig met ’n stelselmatige poging ter verdelging van hierdie geheime gebied, hierdie ‘konstellasie van die misterie’* en om die afbakeningslyn tussen die aantasbare – d.w.s. die skendbare – en die onskendbare, of die onontwybare, uit te wis.

Alles wat verborge is moet blootgelê word; alles moet reduseerbaar wees tot ontleding. Hieruit lei die algehele aanslag (veral sedert die dood van God, wat hierdie poging om die natuurlike wêreld oop te breek nog beteuel het) tot ’n uitbreiding van die betekenisveld (van kennis, analise, objektiwiteit en realiteit).

Nou, alles maak ons geneig om te dink dat hierdie ophoping, hierdie oor-produksie, hierdie abnormale aanwas van betekenis (’n bietjie soos die vermeerdering van kweekhuisgasse) ’n virtuele bedreiging vir die spesie uitmaak (en vir die planeet) aangesien dit geleidelik, deur eksperimentering, daardie domein van die onaantasbare vernietig wat so te sê vir ons dien as ’n osoonlaag en wat vir ons beskerm teen die ergste – teen die dodelike bestraling en die uitwissing van ons simboliese ruimte.

Behoort ons nie dan in presies die teenoorgestelde rigting te werk om die domein van die onaantasbare te vergroot nie? Om die produksie van betekenis te temper soos wat daar probeer word om die produksie van kweekhuisgasse in te hou, om daardie konstellasie van die misterie te versterk sowel as daardie ontasbare versperring wat as ’n filter dien teen die warboel informasie, interaksie en universele ruilverkeer.

Hierdie werk wat daarteen kan opweeg bestaan wel – dit is die werk van denke. Nie die analitiese werk waardeur oorsake verstaan word, of die disseksie van die objek-wêreld nie, nie die werk van ’n kritiese, verligte denke nie, maar begrip of intelligensie in ’n ander gedaante, naamlik die intelligensie van die misterie.”

* Volgens die Engelse vertaler van hierdie stuk, Chris Turner, lees die Frans “la constellation du secret.”  Baudrillard haal Heidegger aan in Préau se Frans: “la constellation, le mouvement stellaire du secret” in “La question de la technique,” Essais et conférences, Paris: Gallimard, p.45.

Nini Bennett. Noudat almal digters is.

Sunday, August 7th, 2016

App-Icon-Large-WashingMachine-700x700

’n Nag in die lewe van Desireé Bell.

*

Ek is verstrik in ’n verhaal wat my nie aan die woord wil laat kom nie, in ’n heillose en siellose aangeleentheid, omdat die betrokkenes swyg, ook wanneer hulle met mekaar praat.

Na nog ’n nag van slapeloosheid wat soos ’n emosionele rooftog voel, staan sy op. Die elektroniese horlosie wys 3:03. In die donker loop sy kombuis toe en skakel die ketel aan, dankbaar vir goeie nagsig. Sy wil M nie steur nie. Deur die halfoop blinders kan sy die groot bloekom voor die huis sien. Sy kyk na die boom se blinde buitelyne en luister na die skoon geluid van stilte. Dit is in die silwer ure voor dagbreek wat sy die beste konsentreer.

Sy skakel haar skootrekenaar op die eetkamertafel aan. Dit is reeds die suffelste nag wat sy onverpoos aan haar roman oor Facebook-digters werk. Haar kuif het lank geword, voel sy, en woel die hare onder ’n mus in. Sy was lank afwesig van haarself.

In die oopplanvertrek kyk sy besorg na die wasmasjien en tuimeldroër: die deure staan oop. Maar die Teenwoordigheid is dáár, dit weet sy intuïtief. ’n Logiese verduideliking vir die elektriese apparate wat vanself aanskakel – enige tyd van die dag of nag – kon sy nog nie vind nie. Sy bied weerstand teen die moontlikheid van bonatuurlike verskynsels; bygelowig is sy nie. Tog laat die onverklaarbare haar met die ongemaklike waarheid dat dit nié elektromagnetisme of infrarooi lugsteurings kan wees nie. Sy het berus by die gedagte dat die onsigbare entiteit dieselfde Teenwoordigheid is wat die DSTV-afstandbeheer gereeld op die Discovery-kanaal instel en die plasmaskerm onverwags laat aanflits, die volume gevaarlik hoog. Discovery, het Dessi agtergekom, is die Teenwoordigheid se gunsteling.

Sy sluk aan haar koffie en aktiveer die rekursiewe soekalgoritme. Daar is 4163 Afrikaanse Facebook-digters werksaam in verskillende groepe, gemeenskappe, bewonderaarsbladsye en op persoonlike mure. Versigtig tik sy die veranderlike in: Kaalvoet. Oor die skerm flits twee nuwe soekresultate:

Kaalvoetdigter

Kaalvoetverse

Die gedig “Ma” uit Dogter van Jefta het inderdaad diep spore in die harte van lesers en oud-leerders, wat waarskynlik dié voorgeskrewe gedig op skool behandel het, getrap.

Sy steek ’n sigaret op en tik die nuwe veranderlike in: Palet. Een nuwe soekresultaat verskyn op die skerm. Digpalet. Die nabootsing van cliché’s is die lingua franca van digters op die sosiale media, formuleer sy, en skreef haar oë teen die rook. Die blinder ril in die skielike nagwind, maar sy kyk nie op nie. Siel:

Sielsverse

Digtersiel

Dan herhaal sy die soektog deur die veranderlikes Gypsy en Published poet in te voer. Daar is vier nuwe “gepubliseerde digters” wat die onbekende selfpubliseerder, Uurglas-uitgewers, se handelsnaam dra. Dessi Bell het stelselmatig geleer om ander mense se virtuele werklikhede te stip. Die grense tussen navorsing en fiksie is vaag, en soms betrap sy haarself dat van die data oorgaan in die spontane openbaring van ’n verhaallyn. Dit verg fyn beplanning om ’n virtuele voyeur te wees.

Die sober nagstilte word onderbreek deur ’n veraf hond se geblaf. Die hond blaf verveeld agter sy eie blaf aan. Sy druk dadelik die oorfone in die rekenaarsok, voorbereid op die steurnis van fonofobie, en luister na Wagner se Tännhauser. Wagner, weet sy uit ondervinding, is gewaarborg om enige klank te bedek. Bedags hoor sy die buurman wat aan MS ly, luidkeels kreun, gevolg deur ’n vrou se gerusstellende stem (en soms ’n sagte gehuil). ’n Goeie alternatief vir pyn is ook overtures.

Sy kyk oor haar skouer. Die wasmasjien en tuimeldroër se deure is steeds oop. Dan blaai sy na die aanlynskryfkursus wat sy aanbied. Daar het nuwe werkopdragte ingekom.

Dawn Golding is agt-en-twintig jaar oud en ’n nagraadse student in belastingreg. Dessi staar stip na haar profielfoto wat staties bo die opstel oor intertekstualiteit pryk. Dan knip sy haar oë, om van die onwerklike gevoel soos ’n séance, wat sy so dikwels op die sosiale media ervaar, ontslae te raak. Die strak gesigte wat verbydryf in haar Newsfeed – en die gekriewel op haar solar plexus wanneer iets nie pluis is nie.

Die jong vrou se ooglede is wydgesper soos ’n uil of slaappop s’n, asof sy hulle min of waaksaam knip. Haar stokperdjies sluit in die maak van porseleinpoppe en die skryf van gedigte en kortverhale. Sy werk na-uurs by ’n begrafnisondernemer om haar studies te finansier. En sy is ’n deeglike en welbelese student, het Dessi vinnig agtergekom. Agter die bleek voorkoms skuil ’n vigilante gees en ’n skerp sin vir humor. Tog is daar iets aan die vrou wat haar onstig, soos ’n onpeilbare Alter-ego, of die negatief van ’n foto – of dalk was dit bloot ’n faset van haarself wat sy negeer het. Presies wát, kon sy nooit vasstel nie.

Dawn skryf: Ek het besluit om my opstel oor intertekstualiteit te begin na analogie van Danie Marais se gedig, “Wat swak gedigte weet” (Versindaba, Februarie 2010). Die opstel is getitel SKISOTEKSTUALITEIT. Interessant, dink Dessi, en begin lees.

(…) Want Facebook-digters skryf dwarsdeur die #Mustfall-veldtogte, die beeldbestormers en betogings, die seepsages van Afrikaanse moordenaars (eers Pistorius, nou Van Breda), duskant ’n rakelingse rommelgradering, die rasse-oorloë in koerante se kommentaarkolomme, Rooihemde, postkoloniale grondwoede en vlugtende Guptas. Hulle stuur verby die waarskuwende bifokale kyke van literatore met rymwoorde wat soos potholes wag, die dromende ellipse, die futlose small talk, die plagiaat sonder geheue…papier is geduldig, maar ’n internetsein is vinnig. Die taalbulle en woordmoeders verenig in verdeelde kampe, want Afrikaans het weer ’n duidelike Ander – en almal doen iets vir Die Taal. Die Stryd is in volle swang, en dotcom-aksies en faksies vermenigvuldig. Afrikaans is groot, lekker en koel. Die moderne taalstryd is pynloos en gesofistikeerd. Teken ’n petisie, of deel ’n skakel op jou muur…En die Facebook-digters skryf: © op spelfoute-en-al; middeljarige mans word grensvegters en ontdek PTSS en vorm hegte broederskappe rondom bloederige verse. Die digters praat van hulle “werke” (en dis geen ambag nie, dit kom sommer so vanself). Selfpubliseerders floreer en skiet spek: nét so, skryf net spontaan uit die hart, dis tog waaroor digkuns gaan. In boekwinkels resoneer armbande soos die gekunstelde arms beweeg, bengelend: die hande dink, só en só, die hande beweeg in aksent.

Dessi reik na die asbak, dankbaar vir die laaste asem in haar sigaret.

Die lewe is ’n lang prulgedig, ’n gaterige string kanonvoer wat bly rol en rol. Die opium vir die massas is nie godsdiens nie, dit is Facebook-poësie. Noudat almal digters is…

Voordat sy verder lees, staan sy op. Sy voel skielik baie honger. Sy maak die yskas oop en kyk hoe rook uit die vrieshok die klam winterlug inborrel. In ’n oop pakkie lê ’n verwese Russian, wat sy vir ’n minuut lank op hoog in die mikrogolfoond kook. Aan die oonddak hang ’n paar miniatuur-stalaktiete, en toe sy die deurtjie toeklap, wonder sy verbaas wanneer dít kon gebeur het.

By die eetkamertafel eet sy die wors met ’n mes en vurk. M slaap rustig. Kouend kyk sy na die donkerbruin blinder en die bloekom wat oor haar waak. Tog vreemd hoe hoe ’n blinder se wit, gefiltreerde lig sensasies van déjà-vu by ’n mens wek. Bedags golf die lig snaardun in verskillende skakerings skadu’s deur die skuiwende ure van die son, en onthou sy duidelik die gepoleerde imbuia-lessenaar waar sy leer lees en skryf het. Die eerste letters wat sy gevorm het. Die helder verdriet van ’n kind met haar eerste versie, asof dit gister was. Steeds. Die Ponce-de-Leon van die skryfproses.

Sy skuif die bord eenkant toe en rus met haar kop op haar arms. Sy droom onrustig van Nikola Tesla en voel hoe sy uit haar liggaam beweeg; die Teenwoordigheid se uitstraling warm en geheimsinnig oor haar winterlyf. Dan dryf sy al vinniger, soos die smeerspoed in ’n treinruit al verder weg in die groter kosmos, tot sy die aarde van ’n afstand af gewaar.

Die aardbol hang klein aan ’n paar honderd satelliete. Die nuwe metabolisering van lewe is lugtyd. Hier sien sy haar ooglede onrustig flikker. Alles verander in virtuele vignette. Dit is die stofwisseling van die toekoms. Haar droom verander soos ’n amateur videoband, en sy kyk na grepe uit haar lewe as aanlynmentor. Sy sien hoe sy opstaan en ’n konjak inskink ná ’n middag se werk. Die bolglas rus in haar ronde palm, en sy staar in die amber vloeistof soos ’n fortuinverteller op soek na leidrade vir die toekoms. Dan sypel Baudrillard se hiperrealiteit die droom binne en sy ruk wakker.

Skisotekstualiteit, onthou sy. Dawn Golding se opstel. Die skootrekenaar se battery staan op 10%.

Vervolgens het ek besluit om Koos Kombuis se kortverhaal, “Skrywersnag” as tweede voorbeeld van intertekstualiteit te bespreek. Dessi vee oor haar mistige oë. ’n Beweging trek haar aandag. Sy kyk stadig en stram om na die dakvaring wat in ’n oogwink verdroog en op sy rugstring terugkrul.

Die Teenwoordigheid. Sy hoef nie Dawn Golding se opstel verder te lees nie. Sy weet reeds wat daarin staan. Die rekenaar se outomatiese skermskut verander na ’n tafereel van kwiksilwer druppels – en sy sluit haar oë, te bang om dié vermoede te bevestig.

(…) Bewoë voor die onmag van soveel skrywers se drome. Soveel drome swewend as lugtyd in die groot niet, in die eindelose Net. Daar is geen tekste nie, slegs onsself.

Wie het dit gesê? Harold Bloom? Sy kyk hoe die wasmasjien se deur toegaan en die knop vanself draai tot by Express. Die masjien maak ’n asmatiese geluid, gorrel, en ruk ’n paar keer asof dit konvulsies kry.

Dan tap die water in. Eergister se wasgoed begin stadig en skuimend te draai, en sy staar na die ronde glasvenster soos ’n patryspoort wat al verder verskiet.

 

Verwysing

Die inleindende motto is vertaal uit Der Mitmacher van Friedrich Dürrenmatt.

Dürrenmatt, F. Der Mitmacher. Text der Komödie. Dramaturgie, Erfahrungen, Berichte, Erzählungen. 1978. Zürich: Diogenes.