Posts Tagged ‘Bernard Odendaal gedigte’

Bernard Odendaal. Kleitrap met die verlede tyd

Wednesday, January 10th, 2018

kleitrap met die verlede tyd

 

geliefdes

 

het gelewe / -sterwe is so            gedane sake wees

gewees wees

wéés wees

 

terwyl dit in die sustertale onvoltooider kan

lebte leefde lived

starb stierf died

 

kort mette gemaak het nie   geleef soos ook julle lewens was

-lééf -lééf teen die sterfte in

’n sestig jaar of so

 

jul moes lustiger kinders kon bly verwek

droomdoenender bly boer en dorpuitlê het

half-oor na mekaar luisterend half-oor draadloos

(dower vir die vabondstemme van die verlede)

verstomd saans saam suidersterre kykend   blómgrotes   soos die seevaarders eens

 

in hierdie geheue   deur elke oog wat hier lees   her-innerd

heuglik aan ’t heue

 

die begeerte blyk uit die skyninfinitief

dat jul   pleks van –had (wat so klink na -haat )   liefge was en word

waar gelieben liefgehebben of being love nie kan nie

 

ek wil jul lewendig onthou

wou jul lewende onthou

jul ont- van ou gesterf het  -hou het

 

 

©  Bernard Odendaal /2018

 

 

 

Bernard Odendaal. Romeinse offisier by die Kruis

Wednesday, March 23rd, 2016

Romeinse offisier by die Kruis

 

Hy hang voor my

het net gevra: vergeef hul, God

toe ek hom vas laat kap, laat spot

 

Hy hang voor my

met “Koning van die Jode”-klag

gedoringkroon; ’n lam, geslag

 

Hy hang voor my

roep skor ’n “Eloï” se naam

en donker wolke pak nou saam

’n duisternis pak dikker saam

 

Hy hang voor my

en prewel hy’s van God verlaat

(net ek is hier om mee te praat)

 

Hy hang voor my

verpletter, arms oopgevlerk

’n blote karkas – rou soldatewerk

 

Hy hang voor my

en fluister iets aan my oor dors

Die sponswyn druppel oor sy bors

en spat oor mý gesig en bors

 

Hy hang voor my

en kyk my innig aan deur bloed

Die dank spring op in my gemoed

 

Hy hang voor my

en asem uit: “Dit is volbring”

Ek voel ’n skudding als deurdring

 

Ek staan voor hom

en hoor Jerusalem se kreet

en dan iets diep in my wat weet:

Ek staan voor Hóm!

Die seun van God,

ek staan voor Hóm!

 

© Bernard Odendaal / 2016

 

Bernard Odendaal. Botaniesetuin-rondeau

Monday, February 29th, 2016

Botaniesetuin-rondeau

(Potchefstroom)

 

Die tuin wil wildernis, gaan bloumagriet

op suiderberge; wil gaan soetgousblom

op bontebok se wei. Ou vaarlandswilg ver-

lang rivier, stoot vrug vir bonthoutkappers.

Die tuin wil véld-in gaan karee en doringboom.

 

Die weerstasie hier (pypinsek-by-vywer!)

wil snap wat paddas langs rivíére paar-

manel laat dra, paddapoësie laat praat.

Die tuin wil wildernis.

 

Bitterwortel, kalahari-ver vandaan,

staan tuitblom – soos bergtee, sand-ui, vlei-aandblom.

’n Lánd biome word van hier bedroom.

Die wetenskap wil weet wat sonder hom

gebeur; vers beklink wat haar te buite

gaan.                                                                Tuin wil wildernis.

 

 

 

© Bernard Odendaal / 2016

Bernard Odendaal. sehnsucht

Thursday, December 10th, 2015

sehnsucht

 

verlange   nie van hier en nou eens naby nie

beur uit die nes van jou omhelsings   aartsverlater   sy reikhals swaanmooi

heen ’n trekvoël nie van hier nie nou of

digby nie

 

haar hunker-

sug

hang windstilswaar   daar waar sy weggefletter het

uit die geknak-

te takelwerk van spookskip lengte-van-dae

 

jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis

maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid

jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)

 

dan kom daar poskaarte uit vanouds   van gunter af

jou kop glip naweke weg   kantien toe op vergesog   na hotel afgeleef op êrens

weke wil jy vort   jy wil hoor sy wás daar ja   ge-hitchhike glo   of ysterperd gery

dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories weet te verkoop

 

jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het

bedeloos

omwille luisterryke swyes

.

in ’n lughawe se vertreksaal

teen hoë digte vensters langs

iewers aan die einde van ’n somer

volg jou oë om en om ’n onbegonne trekswaelvlug

 

in tale aan die kwyn   haastig of langsamerhand   reis jy verslangs

onweerstaanbaar toe   na digterby en raakgesê

maar sy is soek in elke gedig

 

verseindes skiet te kort   immer sy weet dat eindes eintlik oop

soos einders is   waar jy ’n sin wil toeknoop by die punt   daar glip

verlange

 

uit

 

jul skandekind   ontdek jy op ’n dag   dool

in jou voortuin rond   kaal en maer   huil-huil

hier   nou

 

 

© Bernard Odendaal / 2015