Posts Tagged ‘Bernard Odendaal huldig Ernst van Heerden’

Bernard Odendaal. Huldiging: Ernst van Heerden

Sunday, December 4th, 2016

ernst-v-heerden

Huldiging: Ernst van Heerden (20 Maart 1916 – 30 September 1997)

(Saamgestel deur Bernard Odendaal vir RSG en uitgesaai in die program “Vers en Klank” op 29 November 2016.)

Ernst van Heerden sou op 20 Maart vanjaar 100 jaar oud gewees het – ’n geleentheid om veral sy digterlike nalatenskap te vier, sou ’n mens dink.

Tog is daar maar enkele tekens dat hy as sodanig gehuldig is vanjaar. ’n Mens kan nie anders as om te wonder hoe so nie. Was hy dan nie herhaaldelik bekroon gewees as digter nie?

Ja, selfs met die Hertzog-prys in 1962. En in 1991 is hy deur 31 digtersgenote, sowel Engelse as Afrikaanse Suid-Afrikaners, vereer met ’n bundel gedigte getiteld Verse vir Ernst.

In die bloemlesing Die gewildste Afrikaanse gedigte wat 3 jaar gelede verskyn het, is egter net een van sy gedigte opgeneem: “Die hardloper”, wat in sy heel eerste bundel, Die weerlose uur (1942), verskyn het.

.

Die hardloper

 

Met wilde maar met suiwer hart

het hy die woeste wedren fel begin,

en elke myl met rappe voet getart,

hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

 

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,

die winde het sy haregolf gelig;

met snelle draf het hy die baan gemeet,

die vreug van spierkrag was op sy gesig.

 

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,

sy ademstoot ‘n hete windgejaag,

die see se branding in sy strenge moed,

toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

 

Wie is die ongesiene maker in die loop,

van wie die voet langs syne en die wind

van asem agter hom, van wie die hoop

dat nog ‘n bors die witte lint mag vind?

 

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,

nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;

hy weet al het hy nou die loop gewen,

die ander man sal eendag eerste wees.

.

Het hy ’n grootliks vergete digter geraak, wonder ’n mens volgende.

Hom het waarskynlik die lot van sogenaamde minor poets, oftewel “digters van die tweede plan”, getref.

Sy vroegste bundels het naamlik nog te veel geklink soos dié van die Dertiger-geslag voor hy in 1942 gedebuteer het – na die belydenspoësie van ’n W.E.G. en ’n N.P. van Wyk Louw, of ’n Elisabeth Eybers; dít langs die eerste bundels van sy tydgenoot, D.J. Opperman. Opperman het, met sy minder subjektiewe gestalteverse en die fyn afwerking van sy gedigte en bundels, dadelik iets nuuts in Afrikaans gebring.

Soos nog ’n destydse tydgenoot, S.J. Pretorius, sou Ernst van Heerden se loopbaan steeds in die skaduwee van Opperman s’n staan – óók omdat sy bundels dikwels gedigte van ongelyke gehalte bevat het.

Vanaand is egter ’n geleentheid om weer ’n slag die kollig op van sy treffendste en mooiste gedigte te laat val.

.

Die Gewigopteller
.

Die taai klou van die grond

vermenigvuldig elke pond,

 

die ruie vlegsel van die spier

is  –  triomfantelik !  –  ‘n dier

 

wat met één kap blitssnel

die swaartepunt verstel.

.

Pavane  vir ’n gestorwe  prinses

 

’n Hulsel van kristal het telkens

spanninge van stoot en skok verdra,

die allerlaaste keer die ruwe hand

trotseer, en toe, vermoeid,

met rinkelinge ingestort.

 

Kaleidoskoop se fokus hunker

na sy ou bestel terug;

die skerwe-stand

kom tot ’n wonderlike eenheid weer,

waar als byeengeskud en uitgester,

die lig vang en die son,

en sy, donsfyn, verruklik-broos,

haar koninklike intog doen.

.

Ons het genoem van die gesogte literêre pryse wat hy gewen het.

Hy was egter ook ’n gesiene literêre kritikus en literator. Vier eredoktersgrade is byvoorbeeld aan hom toegeken, en in 1991 ontvang hy die Gustav Prellersprys vir literêre kritiek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hy wat op die Karoodorpie Pearston grootgeword het as seun van ’n winkelier-pa en onderwyseres-ma, het ’n gesiene Afrikaanse intellektueel in plekke soos Pietermaritzburg, Stellenbosch en Johannesburg en Kaapstad geword – iemand wat na talle plekke in die wêreld gereis het om te gaan studeer en te verken. Sy liefde vir die Karoo en vir Pearston het hy egter nooit verloor nie.

.

Pearston

.

My vader het saans met die lantern

– die winderige Karoo-aande is gitswart –

in die tuin die windpomprem gaan vasdraai,

aan sy wingerde gepeusel, ’n draai gemaak

in die agterkampe waar sy mak springbokke

blinkoog-skrikkerig opgekyk het

(die ooitjies se buike koeëlrond

van mielie- en lusernoordaad);

hy het hulle name gemompel,

en al mompelend by die koeihok

ingeloer en die goedige bruin oë

en ewig-herkouende kwylbekke gesien;

hy het so ryk en gerus gevoel

as hy krakend die huis binnekom,

dat hy skaars bewus was

van ons onrustige asems, êrens in die kamers,

ons wat die heel nag onderbroke

moes luister na sy gewerskaf,

na sy sugte, na sy aanhoudende hoes.

.

Dit is bekend dat hy lief was vir mooi goed. Hy het skilderye versamel, en boeke, en plate met klassieke musiek, glas- en keramiekware … Dit alles pas by wat digter Lucas Malan, wat ’n vriend van Van Heerden was, en ’n proefskrif oor Van Heerden se werk voltooi en gepubliseer het, as die sentrale tematiese spanning in sy poësie bestempel: die spanning tussen weerbaarheid en kwesbaarheid – soos ons eintlik al in die gedigte kon hoor wat ons tot dusver gelees het.

Daarom ook dat Van Heerden so lief was vir die paradoks en ironie as stylfigure.

 

Mediese ondersoek

.

Trek uit die maskerade-pak

en gooi dit op die vloer!:

’n uniform sal knapper pas

en die nooiens vir my loer:

.

“Dokter, jou eterhand is koud soos ys,

jou stetoskoop is koud,

en jy tik al oor my ribbekas

en jy tok ook langs my boud.”

.

Sy hand skryn bitter deur my vel

en skroei so ver hy voel,

hy teken kruisies soos hy tik:

teikens vir die koeël.

.

Hy was baie lief vir sport, en self ’n gewigopteller soos die persoon in die gedig wat ons vroeër gelees het. Trouens, hy het by die Olimpiese Spele van 1948 ’n silwermedalje gewen vir 6 gedigte wat hy vir die internasionale poësiekompetisie ingeskryf het wat saam met die spele aangebied is! Mooi liggame kon hy dus met kennersoog bewonder.

Mnr. Suid-Afrika op Cliftonstrand

 

Kinders laat drup hul roomyskeëltjies,

staar oopmond,

Pa trek ’n handdoek oor sy boepie,

en Ma bloos innerlik

oor ’n half-vergete stoute droom,

 

terwyl hy in glorieuse byna-naaktheid

met gesegmenteerde passies

verbywandel

(vreemd, die aarde sidder nie)

en lêplek soek.

 

Sy deurtrekkertjie

is ’n paradoksale driehoek

by ’n bonkige toring

van vlees

en twee almagtige been-plinte –

Pantheon en Olimpus tegelyk.

 

Die rug

dra spanningloos

twee uitspreiende spiervlerke,

Taurus-skouers

en ’n meisie-dun middeltjie;

 

die buik riffel neerwaarts,

gebiltong in gebruinde krag;

 

die knieë en bottelkuite

tors die stygende breedbou

van torso-volmaaktheid.

 

Met sy krullebol

– pril en onbesmet –

is hy ’n paradyskind

wat half hooghartig

na die swermende vleiers kyk;

 

so weer hy elke lonkoog af

en bly onaangeraak en skaars betrokke –

’n onbestygde monument,

onneembare vesting,

vir altyd buite

elke strewe en besit.

.

En toe tref ’n ramp hierdie sportman en sportliefhebber. In 1973 en 1974 moes, weens komplikasies na trombose-aanvalle, albei sy bene geamputeer word. Hy moes leer om met ’n rystoel oor die weg te kom; moes met sy kosbaarhede en al verhuis na ’n spesiaal ingerigte woning vir hom.

Na aanleiding van dié ervaring het van sy heel roerendste gedigte verskyn, in sogenaamd biografiese bundels soos Tyd van verhuising en Kanse op ’n wrak (met hulle veelseggende titels).

 

Vrae

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek onvolkome is,
en die wuiwende liggaam
se fyn haaraartjies
en polsende arterieë
langsaam gestol het;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek verbrysel is
en ingekerker soos ‘n dier
aan ‘n magtelose ketting
wat net kan kerm
en ongeneeslike wonde lek;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek gevonnis is,
gedoem tot ‘n eiland,
ontoereikend en verlate,
met die onagterhaalbaarheid
van leë horisonne;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek die donker man ken,
daagliks die bitter brood eet
en verskriklik weet:
die lewe is eensaam,
soos die dood.

.

Aan die Verhuisingsmanne

 

Dra saggies, vriende,

want sierpotte en erdewerk,

keurborde en fyn glas

sluit ’n hele lewe

met sy drome

en verlangens in;

 

Dra saggies, mededraers,

want die drag

van veerbed,

tafels, lessenaar

druk teen die bors

se dun skelet;

 

Dra saggies, regters,

want die oordeel

oor my klein bedryf

lê vasgevang

in prente, boeke

en ’n eie ou gemakstoel;

 

Dra saggies, gode,

want die hart se porselein

is broos en tot veel seer

en kwesbaarheid geneig:

die kratte van ‘n lewe

kan so maklik breek.

.

Ek het al genoem dat hy in 1991 deur 31 Suid-Afrikaanse digters gehuldig is met die bundel Verse vir Ernst. Onder andere ook Johann de Lange, Joan Hambidge en Lucas Malan sou hierná gedigte oor of aan hom skryf.

In die vroeë 1990’s was ek by toe ’n hele klomp boeke wat hy aan die Universiteit van die Vrystaat geskenk het, by sy huis in Johannesburg opgepak moes word. Hy het ons sy skilderye en ander kosbaarhede gewys, vir ons wyn geskink in sy pragtige kristalglase. Na sy dood in 1997 het ek, met daardie besoek in gedagte, ook ’n huldigingsgedig oor hom geskryf.

.

 

glasinfinitief

(ernst van heerden, 1916-1997)

 

om

pieng!

die glasmusiek te hoor

 

om

juis benewens die skoonheid

immer die dood te vermoed

die skimskadu naas die deurstraalde glas

 

om

(self geamputeer

tot die plompe rompigheid van ’n pikkewyn)

die angs om breekware te snak

die troebel wysheid te koester

aangaande die wynvlek

die kelkie sonder voet

 

om

deur die grasie gods

goedsmoeds te sterf

 

om uit fasette van geslepe verse

soos uit kosbare glase

te vonkel op die tonge van fynproewers

in heildronke en liedere van die feesdriftiges

. 

Later in sy loopbaan het sy kommer oor Afrikaans, oor ons land en eintlik oor die lot van die hele aardbol, belangrike temas in sy werk geword. Die dood was van die begin af iets waaroor hy dikwels geskryf het – en algaande meer so. Dit was asof hy vanweë sy eie lotservaring al hoe dringender bewus geword het van die onheilspellende koers waarop ons bestaan en ons aardse woning gerig was. “Huishuur” is ’n gedig wat iets hiervan uitdruk. Luisteraars wat die Nederlander Marthinus Nijhoff se werk ken, sal iets hoor weerklink van dié digter se bekende gedig “Het uur U”.

.

Huishuur

 

Vandag is mooiweer,

maar eienaardig:

my buurman

los sy grasperksnyer,

my buurvrou

haal die wasgoed in,

die kinders laat driewiele gekantel lê,

die skoppelmaai swaai onbeset,

voordeure oral is gesluit

en vensters toegeklap.

 

Dit is sy Uur,

Rentmeester wandel in die straat;

soos ’n asblikdraer

word hy gesigloos

met blawwe en beroering vergesel.

 

En as die honde korter kef,

benoud hul hokke soek,

loer huisvroue

agter kantgordyntjies,

bekommerd, grootoog,

want hy kom

gebiedend nader

deur die skielik skemerende straat.

 

.

Gelukkig is daar ook dié wesens wat dit regkry om die beperkinge van tyd en swaartekrag (en lot?) te oorstyg – as ’t ware die verganklikheid ’n bietjie te fnuik. Dink maar aan sy bekende “Bergskilpad”, daardie “Gewigopteller” van flussies – en die vlermuis waarvan ons ten slotte gaan hoor.

Die gedeë digter self – eintlik: sy geslypte verse – is ook só: weerbaarder, durender as die meeste dinge; meer verwant aan die sterre.

 

Vlermuis

.

Karoo-aand –

en ’n pieper wat sy dun gil-drade

om die stoeppaal hang;

’n klein sambreel word soos ’n mantel

toegevou

en hou

die donserige bors-pels toegedek.

.

Sien hy deur windsels van die ewenaar

ontsaglik groot die poolstreek omgekeer

as maan,

en heel die duister aardse meganiek

van vierkant, driehoek, sirkel,

in enkele stippelpunt gevang?

.

Hy fladder lomp

en vleg deur digte weefsels van gevaar,

en hang,

onduiselig en nugter,

waar donker warmte is

en hy met piep en kras

aan sagte tepels van die sterre drink.

.

Geraadpleegde bronne

 

Leserskring. 2013. Die Gewildste Afrikaanse gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Malan, Lucas. 2016. Ernst van Heerden (1916-1997). In: Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Malan, Lucas. 1992. Paradoks en parabool: ’n Sudie oor ernst van Heerden se latere poësie. Gidsreeks nr. 4. Pretoria: HAUM-Literêr.

Terblanche, Erika. 2014. Ernst van Heerden (1916-1997). In: ATKV-album, LitNet. http://www.litnet.co.za/ernst-van-heerden-19161997.

Verskeie van Ernst van Heerden se digbundels.