Posts Tagged ‘bernard odendaal resensies’
Thursday, August 25th, 2011
grond/Santekraam. Gedigte. Deur Ronelda S. Kamfer. Kwela Boeke. Prys: R160. Aantal bladsye: 64. ISBN 978-0-7957-0365-2.
 grond/Santekraam
Ronelda S. Kamfer se Noudat slapende honde van drie jaar gelede het ‘n rimpeling van opwinding deur die Afrikaanse poësiewêreld gestuur.
Haar fraaiinglose, gelade uitbeelding van spesifiek die vroulike belewing van bruinmenswees in Suid-Afrika het die tonge los gehad - en tereg. Die eis wat Van Wyk Louw aangaande digterlike taal gestel het, naamlik dat dit die dringendheid van “sterfbedwoorde” moet hê, is in hierdie debuut gehoor vanuit die situasie van iemand wat al as ‘t ware by haar eie begrafnis was (soos in die gedig “Droom” verwoord is).
Die “Happy Hotnot-mentality” is onherroeplik deur haar “opgebom” (titelgedig van Noudat slapende honde).
Terselfdertyd het die bundel uitgegroei tot veel meer as die uitbeelding van die bruinmenslot. Iets van alle vervreemdes en noodlydendes se belewenis is daarin vertolk.
In grond/Santekraam word die universele geldigheid van die betrokke bestaanservaring nóg opvallender gemaak. Een van die verskeie gedigreekse in hierdie tweede bundel van haar het byvoorbeeld “gaan” (verganklikheid) as tema. Vergelyk “gaan i”, met sy knap benutting van die spanninge tussen reëlbreuke en enjambemente, tussen vers- en sinsbou, om die huiwering tussen “gaan” en “terughou” te help suggereer:
ons moet gaan
die heeltyd ons
moet gaan
teenwinde hou
ons trug
maar gaan
is wat
ons moet
gaan weer
en weer
mettertyd gaan
ons moet[.]
Die sentrale gegewe in die bundel is dié van die verskuiwing, oftewel ontheemding en resulterende vernietiging, van die Skipskop-gemeenskap (hoofsaaklik gedek in die “Klippenkust”- en “oorvertel”-reekse, maar ook in gedigte met die name van die karakters waarvan die leser die eerste keer in die gedig “Klippenkust” verneem, as titels). Dié voorbeeld van polities-gemotiveerde, gedwonge verskuiwing van nie-blanke mense tydens die apartheidsera het besonder bekend geword vanweë David Kramer se trefferlied daaroor.
In “oorvertel i” is “oom grootvis Visser”, oud-Skipskopper, minder onder die indruk van Kramer se lied:
daai fokken Kramer-jong het mos
daai song gesing so long Skipskop
met ‘n Kaapse aksent nogals pure
djasgeit wit mens se sad en onse sad
is different hulle huil oor die plek
oor dit mooi was
onse mense huil oor hulle
net moet maak soos gesê was[.]
Van tradisionele grondbewoners en -besitters is die betrokkenes eensklaps gereduseer tot ‘n “santekraam” van ontheemdes met “afkop-kopaf-stories” (bladsy 46).
En dit kom al van ver af: van Jan van Riebeeck en Herrie die Strandloper (oftewel “Autshumao”) se tyd af, soos vertolk in ‘n reeks dokumentagtige tekste wat voorgee om korrespondensie tussen Van Riebeeck en Autshumao te verteenwoordig.
En dis waarskynlik ook in hierdie konteks dat wat ek heel rofweg ‘n Kaapse Vlakte-reeks van gedigte wil noem (bladsye 30-39; ook bladsy 49), verstaan moet word. Gevoelens van verontregting, wanhoop, vernedering en opstandigheid staan daarin verwoord. Van die treffendste gedigte in die bundel verskyn op hierdie bladsye. Vergelyk:
Martha
my ma se naam is Martha as
iemand my eendag vra hoe baie ek
haar liefhet sal ek net sê dat toe
ek vier jaar oud was het ek saam
met haar in die donker trug huis toe
gestap van ‘n biduur af waar my
pa gewag het om haar te slaan
sodra sy instap my ma het altyd
vinnig gestap huis toe na haar
ander kinders en man toe
ek moes sukkel om by te bly
toe skielik toe begin ek te huil
alleen in die donker omdat al my
liefde vir haar niks beteken nie[.]
Van ‘n oënskynlik ander toonaard is wat ‘n mens die “onder water”-gedigtereeks in die bundel kan noem. ‘n Fantasiesfeer van meerminne, vermenslikte visse en “afkopskepe” (skeepswrakke) oorheers, met fragmente wat aan sprokievertellings en ook populêre liedjies herinner. Maar “afkopskepe” en “afkopstories” deel nie verniet eerste woorddele nie: dié fantasiereeks weerspieël weldeeglik sommige van die maatskaplike toestande wat in die ander reekse ter sprake kom of gesuggereer word, sy dit dan op meer speels-ironiese trant.
Trouens, dit wil algaande meer lyk of dié parallelle onderwaterwêreld simbolies word “van verledes wat nooit opgediep is nie” (soos in die uitgewersbrief aangaande die teenwoordigheid van die skeepswrakke gestel word). Vergelyk:
slot Klippenkust
soos oom Grootvis Visser die sandpaadjie aanstap stop hy en staar
na die geldmense-kant hy trek sy mond skeef soos hy probeer
om kennis te wees maar sy ou gesig laat dit nie toe nie hy staar na
“hulle” “hulle” wat kom vakansie hou “hulle” wat prentjies verf en
foto’s vat “hulle” wat dink national heritage site beteken iets “hulle”
wat vis in die restrant eet en nooit sal sien hoe sy ma gehuil het nie
vir jare staar hy net na “hulle” en wonder wat sy pa besiel het om
hom te laat glo dat ons “hulle” is en dat “hulle” ons is
oom Grootvis Visser het “hulle” probeer haat maar een kyk na die
hemelwatersee dan sien hy die ons van sy pa
ons wat stuk-stuk stukkies skepe sonder koppe saam met ons dra[.]
Ten spyte van die antagonisering wat deur die verontregtings van die verlede meegebring is, deel ons in hierdie suidelike wêrelddeel, in hierdie verraderlike “Klippenkust”-land van ons, miskien meer as wat ons het wat ons (steeds) skei. Kamfer gee iets van laasgenoemde weer in die taalerfenisse wat sy laat opklink: Standaardafrikaans, Kaaps (met sy flardes Engels), momente van Nederlands (byvoorbeeld in “onderblijven”) en brokkies Arabies (die Islam-nalatenskap, vanuit Indies-Indonesiese oorde).
Óns, hiér, is ‘n waarlike “santekraam”.
Die vermelde reekse in hierdie bundel staan daarom onderbroke vervleg met mekaar; van bundelafdelings is daar nie sprake nie. Vandaar dat daar ‘n opstapeling van “slot”-gedigte aan die bundeleinde voorkom: “slot onder water”, “slot Klippenkust”, “slot slot” en “slot slot slot”. Laasgenoemde twee lyk soos musikale tema-en-variasie-komposisies, saamgestel uit skaars nog sinmakende woordfrases wat oorgeneem is uit, onderskeidelik, “slot Klippenkust” en “slot onder water”. So word in die kleiner formaat van enkelgedigte spieëlbeelde verskaf van die bundelopbou as geheel.
Die genoemde “onderblijven” is nog so ‘n “tema-met-variasie”-tipe gedig. Ek kon nie verhelp om by die lees daarvan te dink aan die Vlaamse digter Paul van Ostaijen se bekende “Melopee” nie - asook aan enkele van die meer eksperimenteel repetitiewe verse in Antjie Krog se Verweerskrif van enkele jare gelede nie. Enkele strofes uit Kamfer se gedig:
onderblijven skip blijft onder
onder die see blijft die skip
die skip blijft die see
onder onderblijven blijft
die see die skip die onder
God blijft die see
blijft onder God die skip
skop die see skip
[...]
Myns insiens word Afrikaans en Nederlands in hierdie gedig ietwat oorhoeks gepas op mekaar; doen dit plek-plek ‘n bietjie komieklik aan. Tewens: die “santekraam”-struktuur van die deurmekaar gepakte gedigreekse, van die taal-, spreekstem-, tema- en diksieverskeidenhede, ontsnap nie aan ‘n bepaalde indruk van gemaaktheid nie. Styl- en vormlike eksperiment pas (nog) nie naatloos by die sterk polities-maatskaplik gekleurde betekenisinhoude nie, meen ek.
Kamfer bewys egter met grond/Santekraam dat haar digterskap nie ‘n statiese, nie-innoverende een gaan wees nie. En in ‘n oortuigende mate bly sy tref. Haar digkuns bly boei; die belofte van die debuut bly springlewendig.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, March 29th, 2011
Duskant die donker / Before it darkens. Deur Cas Vos (met vertalings deur Leon de Kock). Protea Boekhuis. Prys: R150. Aantal bladsye: 128. ISBN 978-1-86919-412-3
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 Duskant die donker/Before it darkens
In net meer as ‘n dekade sedert sy debuut met Vuurtong in 1999 het Cas Vos met 5 bundels ‘n eie plek in die Afrikaans digkuns vir hom oopgeskryf.
In sy mees onlangse bundel Afrikaanse verse, Intieme afwesige (2009), het daar al ‘n Engelse vertaling van een van die gedigte langs die oorspronklike verskyn (”Afskeid” / “Farewell”). Dis verlede jaar opgevolg met die publikasie van Intimately absent, Engelse omdigtings deur bekroonde vertaler Leon de Kock van die vierde afdeling (die “Abélard en Héloïse”- en “Astralabe”-reekse) uit daardie bundel.
Met Duskant die donker / Before it darkens staan die talentvolle De Kock vir Vos verder by om laasgenoemde se digkuns wyer as die toeganklikheidsgrense van Afrikaans bekend te stel. Anders as in Intimately absent verskyn die Engelse vertalings dié keer telkens langs die Afrikaanse ‘oorspronklikes’. Dit behels ‘n keur uit die ander gebundelde gedigte van Vos, veral uit Intieme afwesige en Die afdruk van ons hande (2007), maar ook enkele nuwe gedigte.
Ek plaas ‘oorspronklik’ tussen aanhalingstekens, want ‘n hele klompie van die herpubliseerde Afrikaanse verse is in ‘n mindere of meerdere mate deur Vos herskryf.
Voorts word die keur-met-vertalings ingelei met ‘n digterskap-taksering deur Johann de Lange, wat nou al sy sout verdien het as bekwame bloemleser, bloemlesinginleier en poësievertaler.
Alles in ag geneem, tree daar nogal ‘n promoverende strewe uit die verf aangaande Vos se digterskap. ‘n Fisiese uiting van laasgenoemde is die feit dat al Vos se bundels sedert Die afdruk van ons hande, ook die bundels vertalings, aantreklik uitgegee is in hardeband - ‘n voorreg wat al lank nie meer selfs internasionaal bekende Afrikaanse digters, soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog, beskore is nie.
De Lange maak in sy inleiding, getiteld “Die spoor van papirus”, gewag van “‘n afgeronde, klassieke soort vers met tradisionele bindingsmiddele soos rym en ritme” wat Vos skryf, iets wat hy onder meer koppel aan die digter se belesenheid in byvoorbeeld klassieke en antieke literature en mitologieë.
Myns insiens is daar eerder sprake van ‘n spanning tussen vaster en vryer vormgewing in Vos se oeuvre. Dit word algaande met meer trefkrag deur hom benut om iets van die paradoksaliteit en ironie op te vang wat sy verwoorde lewenservarings kenmerk - “die spanning tussen wat oud is en nuut, verlede en hede, goddelik en Goddelik, die aardse en die boaardse, die epiese en die alledaagse”, soos De Lange ‘n aantal dergelike teenstrydighede opsom. Ek sou onder meer die spanning tussen sinneroes en sentiment aan die een kant, en intellektualiteit aan die ander kant, wou byvoeg.
Trouens, die vyf afdelings waarin die gedigte in Duskant die donker / Before it darkens gerubriseer is, kan as verteenwoordigend gesien word van die belangrikste tematiese velde wat Vos in sy oeuvre bestryk:
- religie (met aanbidding en opstand, bestaansvreugde en -pyn, vertroue en twyfel in gespanne verhouding);
- liefde (waaronder erotiese verlange en vervulling, maar ook liefdeskipbreuk, -verlatenheid en -gemis, én die impulse tot poësieskepping wat dit alles bied);
- kunsskepping en kunstenaarskap (die triomfe en verrukkings daarvan, maar ook die pyn en onvoldaanhede wat daarmee gepaardgaan);
- lyding, skeefgeloopte verhoudings, die somber kante van hierdie lewe; en, laastens,
- aftakeling (deur ouderdom en die dood, maar ook van mense ondermekaar), versuim en gefnuiktheid - dit waarop in die bundeltitel gesinspeel word.
Op boeiende en soms aantreklike wyses word geykte uitdrukkings, asook aanhalings uit en toespelings op bekende intertekste, met eie taalwendings vervleg en verlewendig om ook op stylvlak sulke spanninge op te vang. (Meersinnige) woord- en klankspel versterk in die beste gedigte die effekte wat sodoende bereik word.
Vergelyk hoe die (geïmpliseerde) uiteenplasing van die bekende samestelling “droomverlore” bykomende betekenisse moontlik maak in die volgende kwatryn - iets wat nie behoorlik spreek uit De Kock se omsetting nie:
|
volmaan
die volmaan hang
verlate oor ‘n boom
terwyl ek droom
verlore na jou verlang
|
full moon
desolate, the full moon
floats across a tree
as i dream of being free
free to take you in full swoon |
Dit alles word, in Vos se beste gedigte, onderskraag deur ‘n beeldingsvermoë wat algaande in helderheid en suggestiekrag toeneem, en wat steeds sterker uiting vind in meer objektiewe gestalteverse.
Één voorbeeld, met De Kock se (plek-plek selfs oortreffende) vertaling daarby:
|
Il Gigante
Die beeldhouer blaas asem
in ‘n massiewe stollingsklip;
sy beitel hap log marmervlees,
tap bloed in die klip tot
uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,
oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.
Hy staan onverskrokke met sy slingervel
om met Goliat, die Godterger, af te reken.
Wat weet hy van Batséba, andersmansvrou?
Of van kwellings oor kinders, twyfel
oor nasate waaruit die asem
van God iets onverwelkliks kan laat bot?
Hy staan gesnaar.
|
Il Gigante
The sculptor blows breath
into the giant, stilled rock;
his chisel bites into the hulk of marbled flesh,
taps lifeblood into the stone until
a young shepherd arises out of its frigid face,
eyes large and innocent, body soft as a lamb.
He stands there, fearless, with a sling
ready to put paid to Goliath, the godless
brute.
What would he know about Bathsheba, and
forbidden fruit?
Or about torments for the sake of children,
doubt
about descendants from whom the breath of
God
can bud into something imperishable and
strange?
Strung, he stands ready. |
Helaas blyk uit hierdie keur, hoewel uiteraard minder opvallend as uit sy oorspronklike bundels, ook dat Vos hom skuldig kan maak aan minder sekure woordkeuses en stelwyses, onder meer vanweë sy pogings om derglike spanninge te verwoord. Ietwat troebele beelding - selfs in gedigte wat hy redelik sterk herskryf het vir opname in Duskant die donker / Before it darkens - is soms ‘n bykomende gevolg hiervan.
As voorbeeld plaas ek hieronder grepe uit die oorspronklik (in Die afdruk van ons hande) gepubliseerde en uit die herskrewe weergawes van die langerige gedig “Huwelik” langs mekaar, om die vergelyking makliker te maak. Hulle word gevolg deur ‘n naasmekaarplasing van (weer eens) die herskrewe en dan die vertaalde weergawes van daardie selfde dele. Ek dui woorde en frases in Vos se herskrewe weergawe wat na my mening (steeds) ietwat mank gaan aan troebelheid, met skuinsdruk aan. Ook met betrekking tot De Kock se vertaling lig ek frases met skuinsdruk uit, maar dié keer om te fokus op hoe die vertaler (hoofsaaklik) ophelderend te werk gegaan het, of óm dowwe kolle gestuur het.
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde na die man se ore.
Sy vrou talm êrens op die drumpel van
verdriet,
met swye ontken hy alles.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bad hom in die heilige modder,
proe aan donkermaan.
Hy begin die waarheid lieg,
soos digters soms
agter ironie se masker.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Man en vrou sleep mekaar
donker slote toe.
[...]
|
’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
A year or five after the marriage
a woman turns, late at night,
utters words deliberately vague
into her husband’s deaf ear.
A woman left behind,
she lingers on the threshold of regret.
The man’s mouth is full of reticence.
He denies everything.
The coil of their satire snaps,
their silence chiseled like granite.
Thick-tongued, the man
ladles out alibis:
meetings, investments,
cocktail parties, companions;
tests for taste the moon-bereft night,
sees a body soft for the want of blind love.
He starts lying the truth,
fast and eloquent.
The night’s musk hurts him.
The jasmine in his words stabs her.
[...]
There is little place in a cold war
for god and godliness.
The man drags the wife
into a dark trench,
blesses her with curses,
sleight of hand;
she piles op reproaches against him.
[...]
|
Ek het trouens alte dikwels by die lees van die bundel die verontrustende indruk gekry dat De Kock se vertalings die brontekste ‘n bietjie in die skadu stel - en gedink hoe gelukkig Vos hom kan ag dat dié beeld van sy digterskap na die Engelstalige wêreld uitgestraal word.
Ter verdere illustrasie - en daarmee ten slotte - die verskillende weergawes van “Villanelle vir die oudag” (oorspronklik uit Enkeldiep, 2003), op dieselfde wyse as die dele uit “Huwelik” hierbo só geplaas en gekursiveer dat vergelyking vergemaklik word. (Let byvoorbeeld op hoe die gebrekkige beeldsamehang in strofe 3 deur De Kock gehanteer word.)
|
(Enkeldiep-weergawe)
Nou wil ek herinneringe vir jou koop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se koue wind jou begin sloop.
Ek skink vir jou ons volryp dae soos stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker stadig leegloop.
Mymeringe se wit gloed vonk vol hoop,
dit help om die waggeltyd te verduur,
ook as jy in die diep donkerte moet loop.
Noudat die jare jou oë in ‘n poel doop
en heimwee spoel as jy na muwwe dae tuur,
voel jy hoe die koue wind jou begin sloop.
Onthou die dae toe ons ‘n slaapmat knoop
en snags ons liefde aan mekaar afskuur;
proe in die oudag die soettyd se stroop.
As jy tyd se beker stadig sien leegloop,
laaf jou mond met herinnering se kuur;
as die jare se koue wind jou begin sloop,
proe in die grysdag die soettyd se stroop.
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
(Before it darkens-weergawe)
For you, now, I want to make memories,
thread them together
so you can endure the ravelled days when
things seem sour
when the storms of age take you to the end
of your tether.
Allow me, then, to make an elixir for us, full
of nectar
so you can taste my love in the darkest hour
when you feel time like a fearful and dreaded
spectre.
Look, our love sparks a white glow of perfect
weather
in the folds of a yellowing flower
even when you find yourself adrift in the
nether.
True, now that the years cloak your eyes in
heather,
half-blind, and you endure the cold days with
a glower,
the raging winds will take you to the end of
your tether.
Remember, then, how we braided a sleeping
mat together
and, at night, brought our love into full
flower;
revel now, in this syrup of ripe pears, this
nectar.
When time begins to drift like a windblown
feather
drink on the memories that endure, taste
their power;
when the blind winds of age take you to the
end of your tether,
taste the syrup of ripe pears, revel in their
nectar.
|
[Vanweë die voorstelling in kolomme is sekere reëlbreuke gemanipuleer om in te pas. - Red.]
Tuesday, March 8th, 2011
Toe dit nog vroeg was. Deur Mari Grobler. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04942-5. Prys: R130. 71 bladsye. Sagteband.
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 toe dit nog vroeg was
Mari Grobler, veelsydige en bekroonde skrywer uit die Oos-Kaap, se natuurliefde was die inspirasie vir die haikoe-agtige verse in Wat sigbaar is in amber. Dit was die bundel waarmee sy in 1990 gedebuteer het.
“Volkse” elemente, soos J.C. Kannemeyer dit stel in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, was toe al sigbaar in haar verskuns. Dít sou lei tot gedigte met die Khoi- en San-kulture en leefwyses as agtergrond in Eggo’s in bewolkte water (2004), haar tweede bundel.
Op die beskikbare gegewens oor die Khoi- en San-tradisies word voortgedig in Toe dit nog vroeg was, maar dié keer betrek Grobler ook die karige kennis beskikbaar oor die oer-strandlopermense wat die Khoi en San voorafgegaan het as bewoners van Suidelike Afrika. Die gedigte in die openingsafdeling, “Voortyd”, is spesifiek op laasgenoemde gebaseer.
Grobler verduidelik soos volg in ‘n onderhoud wat elders op die Versindaba-webwerf gepubliseer is: “Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord.” Sy erken dat die onderneming “‘n bietjie waagsaam” was, al was dit onderskraag deur relatiewe wetenskaplike ingeligtheid. Die strewe om die prehistorie so “sonder geskiedkundige gebeure” in momentopnames te probeer vasvang, laat iets van die haikoe-agtige aard van haar vroeër verskuns voortleef.
Verbeelding en verhaalvorming, al is laasgenoemde rudimentêr, was derhalwe haas onvermydelike hulpmiddele in haar poging. Vergelyk die suggesties in die volgende gedig:
Oer
Grotvloere hou vas
aan klip, been, skulp en as.
Vlermuise swiep soos onthou
uit rotsoorhange.
Dis vroeg
en die aarde is groot
met genoeg kos en tyd
om stories op die wind uit te laat loop.
Verromantisering (ver-eksotisering) is alte dikwels die gevolg van verbeeldingskryfwerk oor die oudste inwoners van Suider-Afrika. Iets van hierdie gevaar sien ‘n mens in die feit dat liefdesverhoudings ‘n belangrike rol in al vier die bundelafdelings van Toe dit nog vroeg was speel - soos ook die geval was in Eggo’s in bewolkte water. Waarby ‘n mens kwalik anders kan as om te begin dink aan die kritiek wat uit sekere postkolonialistiese teorie-oorde teen die (Europees-Westerse) neiging uitgespreek is om die amoreuse liefde as ‘n universele literêre tema te beskou.
Selfs in “Beweging”, die slotafdeling van Toe dit nog vroeg was en waarin die sjamaanfiguur in die kollig staan, ontbreek dit nie aan ‘n liefdeskinkel nie. As die “reënman” (”Kxau”, die sjamanistiese reënroeper) te sterwe kom, verneem ons eensklaps van die “alleen-vrou” wat hom nou moet mis:
die !gixa soek waar meisies voëls naroep
kiewiete saamloop
skadu’s onder reënswaar bome spook
sy luister met oë asof sy uit haar lyf is
eien niemand nie
nes ‘n grysbok wat lank sonder water kan bly
moet sy gewend word sonder hom
[...]
Sulke bedenkings oor die hoof gesien, is daar veel aan te prys omtrent die grootliks oortuigende, meermaals bekoorlike wyse waarop Grobler die oer-leefwêreld uitbeeld en stilisties beslag gee. Één voorbeeld:
dors
die nag is twee mane vol
dryf luglangs in die poel
waar ek maanwater drink
sterre wat eers meisies was
weerkaats blink in die reëngat
breek as ek bakhand skep[.]
Grobler vertel in die genoemde onderhoud sy moes die hele tyd streef na eenvoud en “tydlose” woorde; geen “ontydige klanke” (waarskynlik bedoelende: anachronismes) moes in die verse opklink nie.
Die benutting van - meestal ráák en suiwer - woordkeuses en natuurbeelde val dwarsdeur die bundel op; daarby die korter, dikwels enkelvoudige sinskonstruksies, soms mét kompakterende, suggestiewekkende weglatings van veronderstelde woorde. ‘n Sfeer van die magiese te midde van konkrete eenvoud word oortuigend geëvokeer.
Ek het wel ietwat langtand gekou aan ‘n uitdrukking soos “berese seeboon” in hierdie verband. En gedink die digter moes twee keer gedink het voor sy nie-inheemse fauna soos “karp” en “tier” in hierdie Suider-Afrikaanse voorwêreld laat opduik het.
Hoewel Grobler nie noodwendig berge versit in die Afrikaanse poësielandskap nie, verteenwoordig haar drie bundels, veral die laaste twee, ‘n gewaardeerde bydrae tot ‘n nou al aansienlike Afrikaanse digterlike stroom van werke oor die Khoi- en San-ervaring. In hierdie verband kan ‘n mens haar werk in dieselfde asem noem as dié van Eugène Marais, Abraham Fouché, Donald W. Riekert, Piet van Rooyen en Antjie Krog.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, February 14th, 2011
Ligloop. Deur Tom Gouws. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5239-6. Prys: R145. 91 bladsye. Sagteband.
 Ligloop
Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus - en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans.
Enersyds word byvoorbeeld die lewenseenvoud van ‘n figuur soos Moeder Theresa gehuldig, in ‘n gedig met ‘n ondertitel wat die mistieke strewes van die 13de-eeuse Vlaamse digteres Hadewijch betrek. (Deurgaans in die bundel ignoreer Gouws die konvensies van hooflettergebruik, behalwe wanneer aangehaal word, of wanneer na God en sý Naam verwys word.)
moeder theresa gee boedel oor
Der minnen ic doch mi selven al liet
- Hadewijch
moeder theresa se boedel is eenvoudig:
twee dunwit sari’s van ongebleikte linne
en ‘n moeë bybel. maar onsigbaar binne
die gerinneweerde tent skuil die minne
verterend onbenullig godgevallig[.]
Aan die ander kant kom ‘n hele paar gedigte van ‘n nogals verstandelik beredenerende aard voor, selfs voorsien van voetnotas en/of ander byskrifvorme. Vergelyk:
2. oënskoulik onbenullige detail
Lion: A primitive or bestial side of the Ego personality: its Shadow
- Tom Chetwynd: A dictionary of symbols
vir eeue al sit onze lieven [sic] meisje met haar rooi hoed
op ‘n deftige stoel met leeukoppe as puntversiering.
vir eeue al bedink die kritici die ongewone gloed
wat uit elke leeukop flonker, hul ongewone ligging.*
die oënskoulik onbenullige detail laat hul nie vermoed
hoe alles in die klein skildery ‘n sleutel tot verklaring
bied van dit wat geheimsinnig sluimer in die binnebloed.
die oorgesiene onbenullige is die genetiese tatoeëring
wat die ongesiene skadudieptes van alle tekste voed.
*”The most remarkable adjustments Vermeer made in this painting occurs with the lion-head finials … The finials … face the viewer, whereas if they belonged to the girl’s chair, they should face her. While some scholars have argued that the position of finials creates reason to doubt the attribution to the painting, these modifications of reality are consistent with those found in Vermeer’s other paintings.” (A K. Wheelock & B. Broos: Johannes Vermeer, p. 162)
(Na my wete moet “onze lieven meisje” eintlik, vanweë die onsydige verkleiningsvorm, as “ons lieve meisje” geskryf word.)
Die intellektuele beheersing in die weergee van dikwels wesenlik ekstatiese belewenisse word al vergestalt in die sametrekking van ‘n verskeidenheid betekenisassosiasies in die - nou al kenmerkende - eenwoord-titelkeuse van Gouws. Die Bybels-simboliese verbinding tussen lig en God word in die eerste plek betrek. Dit gaan oor die geloofsweg wat op die spoor van Hom, die Lig van hierdie wêreld, bewandel wil/moet word; maar ook oor die versigtige, liefs skaars gehegte ”ligloop” deur die ondermaanse, wat net maar ‘n “tydelike verblyf” is, ‘n verganklike een, soos veral in die tweede afdeling van die bundel uitgebeeld word. “[T]entatief” is dan ook die titel van dié afdeling - met die woorddeel “tent” daarin wat, eweneens in Bybelse terme, as simboliserende motief van die kortstondigheid van die aardse bestaan uitgebou word.
Lig, ligvoets, ligloop, ligspoor, ensovoorts is variasies van die titelmotief wat dwarsdeur die bundel voorkom en, soos gesê, simboliserend funksioneer. Vanweë die allesoorheersende en onverhulde Christelik-religieuse lewens- en wêreldbeskouing daarin, maak die bundel reeds ‘n hegte eenheidsindruk; die motiewedrade wat dwarsdeur loop, ook van die motiewe wat hierna ter sprake kom, versterk dié indruk.
Ewentwil, dié simboliserende werking het tot gevolg dat ‘ligloop’-uitdrukkings wat andersins, op realistiese vlak, gesog kon aandoen, tog in die betekenissamehang van enkelgedigte en van die bundelgeheel geloofwaardig word. Vergelyk die volgende voorbeeld uit die afdeling “kroniek van elia in afrika”, waar Afrikaans ‘n profeterol aan hom toegedig kry:
elia leer ligloop in afrika
die local elia vleg khoi en germaans
tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.
profeties is dié saad oor diep waters spartaans
vervoer in biesiewiegies, kontinentaal
verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens.
in die land van kus het die fetus diep asemgehaal
en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.
soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal
van God se skeppingsdroom vir afrikaans.
‘n Volgende motiewekompleks wat in vergelykbare mate simboliserend funksioneer, is die een rondom die weef-gegewe, wat veral in afdelings I (”delftse doek”) en II (”tentatief”) prominent is. Dit sluit variasies soos doek, tekstiel, kantkloswerk en tent in, en is óók meerduidig soos die bundeltitelmotief, en meermale daarmee vervleg - veral opvallend só in afdeling IV, “jerusalemgangers revisted”. Dié motief wys heen na byvoorbeeld die God-openbarende skeppingsamehang én na hoe iets soortgelyks in kunswerke nagestreef word. Luidens die alleenstaande openingsgedig van die bundel:
he wishes for the cloths of heaven
na yeats
sou dit my gegee kon wees om iets te weef
sou ek ‘n lap van lig uit brokaat en skemergrou
‘n droomfilterdoek in skakerings silwerwit weef
syspieëlings bespat met mistieke middernagblou
ek sou my lap van lig kom neerlê voor jou voete
maar ek het weinig meer as woorde om te knoop
die hemele lê ‘n verbeelde doek voor jou voete -
trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop[.]
“[T]ekstiel met siel verweef” klink ‘n paar keer soos ‘n refrein in dié bundel met sy sterk bewustheid van (profeties-) digterlike geroepenheid op - maar ook die woord “onvertaalbaar”, om die onvolkome haalbaarheid van sodanige strewe deur die mens te beklemtoon. Kwalik meer as “vae verfvermoedens en versfrakture” - dít is waartoe die kunstenaar blykens die gedig “1. blik op delft” in staat is.
En hier en daar in die bundel het dit my tóg voorgekom of die simboliekdrade, die beeldeenheid in bepaalde gedigte, ‘n bietjie rafelrig is. Vergelyk:
ek voel U soos ‘n leeu knaag aan my beendere
terwyl ek soetjies rym aan die bitter van my siel.
uit niks neurie ek sag oorwinningsliedere
en sien hoe U my driedraads indans tot tekstiel.
(”lied van hiskia”)
Of:
my woorde hang ‘n harige sak oor die son wat bloei,
‘n diep skadu van vrese en vermoedens, ‘n eklips
oor eden. maar almal min my as ‘n vlam wat skroei
as ek paradyse plant in die vrugbare turf van apokalips.
(”ek is mietjie gouws, profetes”)
Bygesê: ‘n Volgende opvallende deurlopendheid in die bundel is die benutting van (skyn-)paradokse, meermaal in die vorm van opsetlike teenstellings en (soms gepaardgaande) betekenismeerduidighede. Boonop val sulke sterk stylfigure soms saam met bykans aforisties geformuleerde insigte. Enkele voorbeelde ter illustrasie: “niks is groter as die klein aardbol van die brein / waaraan God se eindelose uitspansel ontvou” (p. 20); “die realiteit word gespeel op verbeelde fluite” (p. 23); “hoe swaar is die gewig van lig” (p. 34); “God se genade bly onvoltooi / totdat jy die allerlaaste olie uitgooi” (p. 68).
Die goddelike en wonderbaarlike word aldus, op oënskynlik teenstrydige trant, geopenbaar in die menslike en alledaagse.
Nog opmerkings oor die hegte eenheid van die bundelopset: Die reekskarakter van heelparty van die gedigte - veral dié in afdelings I (met veral die lewe en werk van Jan Vermeer as intertekste), III (oor vergestaltings van die “elia in afrika”-figuur) en IV (oor die historiese “Jerusalemgangers”, die trekkers na “die herwonne Paradys” in Afrika, waaraan ook Antjie Krog voorheen ‘n reeks gedigte gewy het) - is ‘n verdere bindingsmanifestasie. So ook die ideolektiese kenmerke van die bundel, wat al tipies van Gouws se digkuns geword het.
Wat laasgenoemde betref: Die digter maak sterk staat op klankspel (waaronder verwikkelde eindrympatrone uitstaan), op woordspel (waaronder dubbelsinnigheid wat betref letterlike en figuurlike betekenisse), op die kunstige benutting van vaster vorme en op intertekstuele verwysings, toespelings en siterings om sy poëtiese effekte te bewerkstellig.
Streng vormgewing op veral die klank- en versifikasievlakke is dus as ‘t ware ‘oppervlak’-manifestasies van die streng binding wat ook op die betekenissamehangsvlakke, soos hierbo bespreek, neerslag vind.
Altesame maak dit myns insiens duidelik dat die intellektuele, visioenêre element oorheers in Gouws se digkuns, eerder as ‘n sintuiglike of emosionele ingesteldheid. Gevolglik maak ‘n gedig soos die volgende, waarin op kennelik behaaglik bedoelde wyse talle skakerings van blou opgenoem word, nie ‘n konkreet voorstellende of sintuiglik evokatiewe indruk nie, maar werk die opnoeming eerder abstraherend en verintellektualiserend.
die dag is blou soos delft
n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”
“blue is not a colour; it is depth”
ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,
maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:
baftablou akwamarynblou dempblou persblou
rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou
fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou
marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou
turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou
poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.
hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.
Sommige verse (soos “elia en die baälprofete”, “elia en die voortrekkermonument”, “elia en die ou boereplaas” en “visioen van thomas op patmos”) se polemiserende en satiriese trekke sluit myns insiens hierby aan; dit is eweneens tekenend van die digter se sterk beskoulike standpuntinnames.
Die kunstig-strenge vormgewing, waarvan die verskeidenheid eindrympatrone ‘n alte opvallende duiding is, en die verweefdheid van die bundelgeheel, roep assosiatiewe waardes soos samehang, vastigheid, selfs sekerheid en noodwendigheid op. Dis goed te versoen met, eintlik ‘n verstegniese vergestalting van, die bepaalde lewens- en werklikheidsbeskouing wat uit die bundel spreek. Die digter - net soos Jan Vermeer as skilder, én die Woordtranskribeerders en kantklossers in die voorgeslagte van die spreker in die gedig “oorsprong” - is “een van God se kundige kurators // van voorsienigheid” (”skildery van briefskrywende vrou en kamenier”).
Daar steek ‘n ambagtelike “verrukking” in die belewing van “hoe die gedig kant en klaar tril”, van hoe “tekstiel met siel / ineenknoop” (”1. die kantklosser”, ‘n gedig met die onderskrif: “‘n kanto as selfportret”). Laasgenoemde, twaalfreëlige gedig, met sy presies-hoekige tipografie en traprymskema, is een van die opvallendste gedigte in die bundel in hierdie verband. Trouens, sestien bladsye later word dit herhaal, dié keer met byvoeging van ‘n apartstaande, paarrymende eindkoeplet om die gedig ‘n Engelse sonnet te maak wat tipografies (in die lettertipe en -grootte op die bundelbladspieël) ‘n presiese, “verbeelde vierkant” vorm - soos die (nuwe) slotwoorde dit juis wil hê.
die kantklosser II
vir johanni
tot ek daar myself raakloop in ‘n onverwagse spieël:
vooroorgebuig intens toegespits op inslag en skering
van my vingers, wat ritmies lig woorde klos tot kant
die gare word haspelend melodies naatloos gekantel
tot tapytjies teks. strooi uit ‘n verbeelde spinnewiel
word ligtende nuttelose goudspinsels vol huiwering
ononthoubare herinnering van die ou streek brabant
intiem ingeweef tot fibreuse grein. als word bladstil
totdat die garings begin ligloop, tot tekstiel met siel
ineengeknoop. verf loop soos lewe uit die stuwings
van ‘n kussing, word ‘n lewende keper in my hand,
voel hoe met verrukking die gedig kant en klaar tril
totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand
sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.
Besonder vernuftig. Sódanig (kon ek nie verhelp om plek-plek te vrees nie) dat die noodwendigheid daarvan vir die bepaalde digterlike kommunikasie-effekte selfs verbygestreef word. “[E]iesinnig” is miskien ‘n gepaste woord om die rol van die vakman hier te beskryf. Die afwerking van die boodskapvorm dreig om meer aandag te trek as die ‘boodskap’ self. Die ‘kunsmatigheid’ van die kunswerk staan voorop, sodat ook die egtheidsindruk van die beskoulike fasette van die bundel daaronder begin ly.
‘n Ballade soos “elia en die baälprofete”, met stafrym in die driereëlige strofes, ontaard na my gevoel in rymelary.
Of alle lesers dié bedenkinge sal hê, daarvan is ek nie seker nie. En selfs al sou my vrese gegrond wees, die gewig daarvan is nie genoeg om die skaal teen die voortreflikhede van Ligloop te swaai nie. Daar is baie in die bundel wat boei en beïndruk, wat tot nadenke en nalees noop, wat poëtiese genoeë doen.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, January 31st, 2011
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.
By terugskoue maak die dekade-en-’n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.
 Omslag
Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings - oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts - het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.
Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme- en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.
In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.
En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.
Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies - en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.
Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.
Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”
Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan [...] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:
as my peester ooit die magiese
voering van jou kont sou vergeet
die diepberg en die knobbeltjie kittelaar
en die polsende grootmaak van jou tong -
mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot
mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong
mag dit per ongeluk deur ‘n hond
ingesluk en uitgekak word op die strand
en indien my hart ooit die aanraak
van jou hande sou vergeet
sou verraai die golwing van jou hare
die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou -
mag die skerpregter se mes dit deurboor
mag dit versmoor in die rooivloed van bloed
mag dit deur die eeue woed van pyn
want dan het ek jou hart nooit geken nie
en ek het vir wind en sotword gelewe
ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]
(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 - ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)
Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.
En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig - ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.
Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen - soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.
[...]
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana -
As sy in glorie van songloed verwelk.
[...]
Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!
Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet [...] wat ek misgekyk het”.)
Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.
Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie - byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.
Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?
Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.
Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:
Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie
van water en witmeel maak,
dink sy weer aan ‘n man met die naam
Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie
gedra het van bruin riffelferweel
en die woord dadelik
stukkend gebreek het tot drie enkelklanke
een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik -
en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik
is onskadelik. Sy plaas die pan
in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.
Baie stadig kam sy haar hare
terwyl sy deur die raam
na die sonsondergang staar.
So baie herinneringe,
so baie herinneringe deur so baie jare
van haar bestaan,
aan ‘n man met die naam
Jan - [.]
Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek - en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:
Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.
Moenie wag. Moet niks verwag nie.
Leer die verwagting af. Leer die wág af.
Leer áf om te luister. Leer af.
Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …
Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.
Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.
Daarom: Duim gelig vir hulle!
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Sunday, December 12th, 2010
Tydelose gety. Gedigte deur Lina Spies. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-383-6. Prys: R120. 64 bladsye. Sagteband.
 Omslag
Vroeër vanjaar het ‘n keur uit Lina Spies se poësie, deur Johann de Lange onder die titel Die skyn van tuiskoms byeengebring, by Human & Rousseau verskyn. Daardeur het ‘n mens die geleentheid gekry om die beste kante van Spies se digterskap in die kalklig te sien.
Dit was ook ‘n kans om die kenmerke van haar oeuvre in oënskou te neem teen die agtergrond van ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie oor die afgelope veertig jaar. In my resensie oor dié keur op hierdie einste webblad kon ek my sieninge hiervan weergee; ek staan dus nie weer daarby stil nie.
Wat wel gesê moet word, is dat bogenoemde beskouingsgeleentheid van die voortreflikste aspekte van Spies se digkuns ongelukkig ‘n mens se teleurstelling met wat nou, in dieselfde jaar, in Tydelose gety aangebied word, groter maak. Gebrekkige aspekte van haar digwerk staan, as ‘t ware by wyse van kontrastering, nou uit in hierdie negende bundel van haar.
Die meerderheid gedigte in die openingsafdeling is geskryf na aanleiding van ‘n (onverwagte) liefdeservaring deur die ongetroude sewentigjarige. Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit “in hierdie halfwas land [...] bejammerenswaardig” geag word “om na dertig ongetroud te wees / en ondenkbaar om na sestig verlief te raak”. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ‘n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. “Voorjaarsversoek”, “Skyn”, “Heelal”, “Moment”, “Gewoon” en dalk ‘n paar ander uit hierdie afdeling gryp ‘n mens aan. Vergelyk:
Voorjaarsversoek
Hoe dra September
die vrag van geure op sy glimmerende lug?
Om vir wie jy liefhet
swaar te weeg,
moet jy so lig en so deursigtig word
soos hierdie vroeë lentedae
en swewend soos ‘n swetterjoel skoenlappers
oor sproeiwit yslandse rose
onder hierdie lighartige, uitbundige, speelse son
wat lyk asof hy sing.
In “Gewoon” word geykte uitdrukkings en twee aanhalings funksioneel benut om iets van die kosbare in die gewoon Afrikaanse van die geliefde se naam te help evokeer:
Deesdae huiwer ek om iemand anders as jy
op jou naam te noem
omdat dit so spreekwoordelik is in Afrikaans,
maar jy vernieu elke cliché;
deur jou is daar weer goud
in die mond van die oggendstond:
Morning has broken like the first morning;
Blackbird has spoken like the first bird.
Praise for the singing! Praise for the morning!
Praise for them springing fresh from the Word!
As ek jou naam fluisterend sê
soos iemand wat die vokale en konsonante
van ‘n moedertaal van voor af leer,
maak jy die wêreld om my
nuut en ongerep en skoon
soos toe God die eerste keer gedeklameer het:
Dit is goed
en die lig gestraal het oor wat ‘n sekonde vantevore
chaos was en leegheid en die duister wêreldvloed.
In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan - of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.
Dis nie nuus dat Spies sterk uitgesproke was/is in haar gehuldigde opinies oor bepaalde aangeleenthede nie; ook nie dat dit neerslag in haar verskuns vind nie. Dikwels gee dit aanleiding tot beskoulike, bespiegelende skryfwerk - soos die talle en talle retoriese vrae in Tydelose gety reeds aandui. Dié beredenerende, retoriese meegevoerdheid vind neerslag in sintaktiese uitweidings wat meermale hele strofes en selfs groter gedigdele dek. Abstrakte en prosaïese segging voer dan ook alte dikwels die botoon in sulke sinsvlegsels. Één voorbeeld (die twee slotstrofes van “Geen eiendomsreg”):
Jy laat jou Suid-Afrika los
en sluit aan by die groot eksodus
wat families uitmekaar uit skeur
en ek wonder of jy jou ‘n terugblik gun
wat die slawe ontsê is toe hulle gevaar het
uit die hawens van die vaderland wat hul liefgehad het
en soos die behoue seevaarders van ouds
- ontkom aan storms en skeurbuik -
wat die seën van God gevra het op die kolonisasie
van ‘n onherbergsame en onbekende land
kniel ek op my geboortegrond
en stamel na die swygende kranse
dat elkeen wat hier ‘n holte gevind het vir sy voet
oor die gawes beskik wat Paulus roem
in die liriese crescendo van sy brief aan die Korintiërs
maar dat as dit strategieë van oorlewing word
die grootste nie die geloof en liefde is nie,
maar die hoop.
Geykte uitdrukkings - wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen - deurspek die grootste deel van die bundel. Op byna elke bladsy lê verslete taalwendinge vir die opraap: “wellus” wat in die “lendene gloei of smeul”; “sierlike skadu’s” van bome se takke; “blosende kleintjies” se “mollige lyfie[s]“; “knallende kleure”; “oë werktuiglik neergeslaan”; “die vervlietende rooi / van die ondergaande son / teen ‘n verdonkerende hemel”; ensovoorts, ensovoorts.
Dit is so dat Spies se poësiebeskouings ouderwets-elitêre elemente bevat; dat haar digterstem nogals ‘n plegstatige toon kan aanneem. Vergelyk die openingstrofe van “Daphne en Apollo”:
Die kreet uit haar oopgesperde mond
om die bewaring van haar maagdelikheid
kon net sowel gekom het
uit orgastiese ekstase in die arms van Apollo
as hy haar soepel welwende meisieslyf
ingedring het om haar een te maak
met sy lenige, hoekiger jong liggaam[.]
Dit hoef nie tot esteties verslete gedigte aanleiding te gee nie, soos vroeër vanjaar se Die skyn van tuiskoms oortuigend gedemonstreer het.
Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings opmekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend. Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag - júís opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan.
Luidens byvoorbeeld die gedig “Lectori salutem” wou Spies met hierdie bundel uitstyg bo die geykte:
[...]
Ontvang, liewe lesers, hierdie verse,
ongeag jul leeftyd,
as die oomblik in die tyd
waarop ‘n mens jou kan verhef
bo alles wat vals is en stereotiep.
Dis dan besonder ironies - en jammer - dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Thursday, October 28th, 2010
Versindaba 2010. Bloemlesing saamgestel deur US Woordfees. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-291-4. Prys: R140. 78 bladsye. Sagteband.
 Versindaba 2010
“‘n Mens kan tans sonder enige vrees vir teëspraak sê dat dit besonder goed gaan met die Afrikaanse digkuns.”
Dít is die bevinding van Louis Esterhuizen in sy “Inleiding” tot Versindaba 2010. Daarin skets hy eers die heropbloei in die publikasie van Afrikaanse digbundels sedert “die droë jare” rondom 2000, voordat hy die redes gee vir die inisiatief deur hom en Marlise Joubert om ‘n jaarlikse Versindaba op Stellenbosch te organiseer en ‘n jaarlikse bloemlesing na aanleiding daarvan saam te stel. Hulle wou naamlik publieke en media-”blootstelling” aan Afrikaanse digters en digbundels help gee, en ‘n “waarmerk” verskaf van die stand en gehalte van die Afrikaanse poësie.
‘n Literêr-histories oorsigtelike bloemlesing soos Groot verseboek verskyn met dikwels groterige tussenposes. Daarom speel geleentheidsbundels soos die jaarlikse Versindaba tussendeur ‘n nuttige ‘boekhoudingsrol’ met betrekking tot ontwikkelinge in die Afrikaanse digkuns.
Ómdat Esterhuizen en Joubert op hierdie wyse kon meedoen om die huidige gelukkige stand van sake te help bewerkstellig en bestendig, het hulle verlede jaar, met die totstandbrenging van die Versindaba-webtuiste, die internet-perd opgesaal om ‘n volgende bestemming vir die Afrikaanse digkuns te probeer bereik: groter internasionale blootstelling en verkeer.
Vandaar dat hulle die organisering van die Versindaba-byeenkoms aan die US Woordfees oorgegee het, wat derhalwe ook die samestelling van vanjaar se bloemlesing waargeneem het.
Nicol Stassen van Protea Boekhuis, wat vanuit die staanspoor een van die belangrikste borge van die Versindaba-onderneming was, lewer ook sy gebruiklike voorwoord tot die bloemlesing. Soos voorheen is dit ‘n interessante relaas. Hy wys byvoorbeeld op die (oënskynlike) teenstrydigheid dat digkuns tans wêreldwyd “heterogener” en “regionaler” word terwýl die digterlike gesprekvoering oor grense heen toeneem. Ook hý kom dus tot die gevolgtrekking dat internasionalisering, byvoorbeeld via vertaling uit en in Afrikaans, ‘n toekomsroete vir ons digkuns inhou.
Nóg uitlatings deur hom in dier voege:
Ek vermoed dat [...] die tyd waarin Afrikaanse digters gepubliseer is sonder dat hulle in die “wêreldpoësie” belese is, verby is. Ek vermoed ook dat ons die laaste Afrikaanse literatuurgeskiedenis gesien het waarin dit geïsoleer van die wêreldliteratuur beskou word.
Ongeveer ‘n derde van die Versindaba-webblad se intekenare (wat uit meer as 120 lande kom) is uit die Lae Lande, soos ook in die geval van Protea Boekhuis se facebook-vriende, toon hy aan.
Myns insiens bewys sulke syfers dat Afrikaans-departemente aan ons universiteite wys was om Nederlands in hul kurrikula te behou, terwyl Nederlandse voorgeskrewe boeke op jammerlike wyse byna totaal uit Suid-Afrikaanse skoolleerplanne verdwyn het.
Stassen bring verder tydige hulde aan die uitgewer-redakteurs van Afrikaanse digbundels. Hy noem Martjie Bosman van Protea, Riana Barnard van Tafelberg, Etienne Bloemhof en Alida Burger van Human & Rousseau en Dineke Volschenk van Lapa by die naam.
Korttermyn finansiële voordele kan nie juis ‘n oorweging wees waarom uitgewers soveel sorg aan die publikasie van digbundels bestee nie. Die feit dat, volgens Stassen, “nie eers vier boekwinkels in die land [...] ‘n gesaghebbende aantal Afrikaanse digbundels aanhou nie”, bewys iets in hierdie verband.
‘n Mens neem dus met ‘n vleugie trots en ‘n skeutjie dankbaarheid ‘n publikasie soos Versindaba 2010 ter hand. Agtien digters, wat almal by vanjaar se indaba op Stellenbosch opgetree het, is met een of twee gedigte daarin verteenwoordig. Dit beteken dat meer as ‘n honderd digters nou in die ses jaar van die bestaan van dié poësiefees daaraan deelgeneem het, ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld.
Die eerste deel van Versindaba 2010 bevat (dikwels voorheen ongepubliseerde) werke van tien “gevestigde” digters (Floris A. Brown, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Joan Hambidge, Kobus Lombard, Johann Lodewyk Marais, Melt Myburgh, Marlene van Niekerk, M.M. Walters en Koos Oosthuysen - laasgenoemde as vertaler).
Onder alles in hierdie afdeling wat geniet kan word, haal ek ter illustrasie slegs die volgende van Marlene van Niekerk aan:
ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader
ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare ‘n wit servet om sy nek en tree met adel kuite
deur die toppe van wilde mosterd waarin die blou kieriekoppe
van tarentale roer en die someravond bruin en soet
op die stellasie sit en die horlosiegras afdraai in die stof
in hierdie kuil van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes,
maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos
geseënd wees aan ons gees
my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale[.]
Anders as sommige vorige jare, is daar hierdie keer weer ‘n afdeling met “nuwe digters”. Drie van die agt het M.A.’s in kreatiewe skryfwerk onder Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.
Hoewel dit moeilik is om digterskappe op grond van slegs twee gedigte elk te beoordeel, meen ek dat daar rede tot optimisme is dat minstens party van hierdie nuwelinge, soos ook gebeur het met Versindaba-opkomelinge in die verlede, uiteindelik met eie bundels vorendag sal kom. Verse soos Aniel Botha se “krismis” en Pieter Odendaal se “noord-namibië” sal ek byvoorbeeld lank onthou.
Die Versindaba-fees en -bloemlesing speel tesame kennelik ‘n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem. Waardevol is egter ook die genoemde besondere argivale en literêr-historiese waarde wat die bloemlesingreeks algaande aan die opbou is.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, October 11th, 2010
Nadoodse ondersoek. Martina Klopper. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5224-2. Prys: R145,00. 64 bladsye. Sagteband.
 Omslag
Dit is telkens boeiend en uitdagend om ‘n nuwe digterskap in die gestalte van ‘n debuutbundel teë te kom; des te meer as dit, byvoorbeeld op psigologiese en poësiebeskoulike vlak, om ‘n verwikkelde werk soos Martina Klopper se Nadoodse ondersoek gaan.
Nie verniet nie word aan die einde van die bundel verklaar dat dit voltooi is as ‘n M.A. in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Die uitdrukking dat poësie nie vir sissies is nie, kom hier vanpas.
Geen letterlike lykskouings word met die bundeltitel bedoel nie (hoewel Klopper in ‘n onderhoud wat elders op hierdie webwerf verskyn, getuig dat sy wel al so ‘n outopsie bygewoon het).
Dit gaan, eerstens, eerder om die ontrafeling van, en die intellektuele en emosionele beheerneming oor, bepaalde lewenservarings - volgens Jaco Barnard-Naudé in die essayportaal op hierdie selfde wefwerf waarskynlik te sien as ‘n rouproses, na aanleiding van liefdesontnugtering, wat deur middel van die poësie gevoer word. Daar is van verskillende verhoudings met mans sprake in die bundel, waarvan nie die minste nie dié met die vader. ‘n Gedig soos “Nom du père” (= die “naam van die vader”, ‘n verwysing na die Franse psigoanalis Jacques Lacan se konsep van die simboliese vader) suggereer dat die uitbeelding van aspekte van laasgenoemde (selfs bloedskandelike) verhouding nie as van outobiografiese aard gesien hoef word nie.
Nom du père
Jy’t jouself in haar panties ingepráát,
jul dogter - ‘n spieëlbeeld van haar ma -
se eerste woorde was “ek’s lief vir Pa”,
daarna het jy ophou praat.
In die begin was stilte en stilte was wet
op die reële maat van ‘n squeaking bed.
Nou is haar woordskatte onverstaanbaar
nes die vuil liefdestaal van haar pa.
Onvermydelik hou die betragting van sulke ervarings ook ‘n selfondersoek deur die “ek” (die subjek) in. Dis geen sentimentele of simpatieke selfblik wat gegee word nie. (’n Blad word nie juis voor die mond gehou aangaande byvoorbeeld selluliet, swangerskap-rekmerke, maandstondes, ensovoorts nie.) Via twee gedigtitels word byvoorbeeld na die “ek” as ‘n “skedonk” verwys. Vergelyk:
Skedonk II
Hy is ‘n diesel mechanic [sic],
sy dogter ‘n geroeste kar -
die agterplaas is swart gevlek
van haar onklaar enjin-hart se lek.
Sy word elke maand gebloei:
Ma pomp-pomp-hou-die-clutch
terwyl Pa koes vir die olie-spuit
uit sy skedonk se vuil onderbuik.
Dié ondersoeke, soos al gesê, geskied deur middel van - of dan: op die wyse van - die poësie; dis óók, luidens die slotgedigtitel, ‘n “[n]awoordse ondersoek”. Poësiebeskoulike gedigte, waarin sowel die inspirasies en prosesse van (die subjek se) digterskap as die subjek se blootgesteldheid aan die aanskouing deur die leser ter sprake kom, is dus relatief volop in die bundel. Só lui grepe uit die driedelige openingsgedig:
Patologie
[...]
Hier is my liggaam
op die praalbed van papier,
dis jóú taak om die oorsaak
van my dood te bepaal.
[...]
Gebruik die en masse-tegniek
vir interne disseksie:
weeg elke woord,
sny “hart” en “brein”
in dik stukke fillet [sic],
vind metafore vir “moord”.
Hoeveel weeg ‘n gedig?
Jou verslag sal bepaal;
lywig of te lig.
[...]
Die digter is ‘n patoloog,
‘n gedig die lykskouingsverslag:
om te skryf is om te soek
na die oorsaak van ‘n woord.
Meer as een maal word die subjek, wat in haar gedigte met haar lewenservarings en -kwessies ‘klaarspeel’, ook as ‘n “reeksmoordenaar” bestempel. Meer spesifiek word die New Yorkse reeksmoordenaar “Seun van Sam” (skuilnaam van David Berkowitz) as metafoor in hierdie verband uitgesonder.
Die toonaard in die bundel kan dus kwalik anders as ontluisterend, disillusionêr wees. Koel-afstandelik, stropend, bytend (self-)satiries, grimmig en grillig is terme wat by ‘n mens opkom as beskrywers hiervan. In meer as een gedig tree die motief van grimeringverwydering na vore.
Klopper se oog vir die abjekte laat ‘n mens plek-plek dink aan dié van iemand soos Breyten Breytenbach:
Kwatryn
Woorde krioel in jou mond
soos maaiers uit ‘n wond,
dikgevreet aan jou leuen
se versadigende gangreen.
Skending, vernieling, verval, siekte en dood is uitstaande motiewe in die bundel, en word meestal in verband met lewe gebruik. Selfs die liefde is “‘n pes / wat binnetoe vrot”. Die dood is daarom die verkiesliker toestand, bied suiwering. Soos aan die slot van die gedig “Dialise” uitgedruk: “om te sterf is om te leef [...] lewe lewer leefste dood.”
Dis in hierdie verband dat die bundelmotto, “Hic locus est ubi mors gaudet succurere vitae”, al verstaan kan word. (Funksioneel só in die ‘dooie’ Latyns aangehaal, met die betekenis: “Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help”).
Maar dit slaan in hierdie bundel ook op die “[m]isdaadtoneel” van die digkuns (soos die eerste bundelafdeling, met sy sterk poësiebeskoulike fokus, heet). Die subjektiewe lewenservarings van die digter as vrou word tot literêre objektiwiteit ‘vermoor’ via byvoorbeeld die beelding en die stilistiese en vormgewingsvernuf in die bundel: “digter ontbindend tot gedig”, soos die slotreël in die bundel dit wil hê. Eers híéruit, soos in die einste slotgedig geïmpliseer, is iets van ‘n herlewing moontlik:
[...] die lyk bloos
[...]
Spier-outolise het reeds ingetree
haar ledemate is buigbaar -
die aanvang en verloop, dus,
van rigor mortis onpeilbaar.
Die lewenservarings en -kwessies ter sprake is die onderwerp van die middelste, twee langste afdelings in Nadoodse ondersoek. Afdeling 2, “Eksterne ondersoek”, behels ‘n fokus op die subjek se eintlik deurgaans skeefgeloopte en mislukte verhoudingslewe, byvoorbeeld gekenmerk deur mishandeling en molestering, leuenagtigheid, egskeiding, (buite-egtelike) seksuele vergrype en haatlikheid (as afloop).
In “Interne ondersoek”, die derde afdeling, word die loep oor innerlike sake gehou: liefdes- en wraakgevoelens; emosionele felheid teenoor kilheid; (vroulike) seksdrange en swangerskap; kwesbaarheidsgevoelens; siektetoestande (nierversaking en migraine). Motiewe uit (veral die jonger) Elisabeth Eybers se werk, ook in soverre dit die spanning tussen “hart” en “hoof” betref (vergelyk die driedelige “Vishudda”), weerklink hier op soms grimmige wyse.
Pa
Jy het jou in haar volbring
en so ‘n nageslag begin,
van jou het sy ryp geword
en uit haar het ‘n vrug gestort.
My lyf is ‘n oorryp papaja
in die helfte deurgesny,
uit my peul jou wilde hart
pit vir pit en pikswart.
Die digterlike ‘vernuf’ in die bundel word nogal opvallend gemaak: kragtige metaforiek, klank- en woordspel, kompakte versvormgewing. Terselfdertyd gee dit selde aanleiding tot volgehoue reëlmaat of vormgeyktheid. Eindrymgevalle kom byvoorbeeld sporadies voor, en dan liefs op die paarpatroon, veral in die gedigslotposisie. Meer dikwels word die patrone daarvan egter onderbreek, word dit afgeswak tot halfryme. Kwatryne en sonnetvorme duik op, maar sonder die geykte metrum- en rympatrone.
Myns insiens kan hierdie min of meer weifelende stellingname tussen stilistiese en vormlike beheer/vastheid en onvolkomenheid as na twee kante toe funksioneel gesien word. Dit kan ‘n versvergestalting wees van die rasionele greep op die emosionele ontwrigting wat (slegs deels suksesvol) nagestreef (kan) word; én dit kan as ‘n uitdrukking gesien word van dit wat die digkuns in die traumaverwerkingsproses soos uitgebeeld in die bundel sélf verteenwoordig: objektiverende ‘geweld’ op subjektiewe inhoude.
Die digter is ‘n “eksorsis’ (bladsy 16); die digkuns as ‘n “monster” (bladsy 18).
Die merke wat hy laat
sal later rowe maak.
‘n Gedig is die litteken
van afgekrapte woorde,
staan daar in “Monster”.
Hier en daar het ek op ‘oneffenhede’ afgekom wat myns insiens nie bevredigend tuisgebring kan word onder sulke sieninge aangaande styl en vorm in die bundel nie:
- ‘n paar twyfelagtige woordkeuses (”besete / met bose beelde”; “trek [...] ‘n [...] gewaagde lae hals aan”; “tussen die lyne / vou dit toe in snawel en rug” [pleks van "tot"?]; “My hart is ‘n ou kragboks: / swaar gelaaide drade / peul daaruit”);
- enkele eindryme wat van dwang getuig (”kaal wortels droom van tak-wees / van weer groen en hand-wees“; “tot vlesige blare by my vel uitpeul - / my eie hart in dorings verseël“);
- metafore wat nie oral haaks voeg nie (uit “Die brein is ‘n aartappel”: “hy eet jou saam met bangers op / uit jou mond peul jou mashed-up kop“); of wat ‘n bietjie verstandelik geforseerd uit die outopsiewêreld betrek is; of wat (miskien as gevolg van laasgenoemde) ‘verduidelik’ (moet) word. Deel II (reeds deels aangehaal) van “Nawoordse ondersoek” kan as voorbeeld dien (die vindingryke, klinkende momente daarin ten spyt):
Rigor mortis
Beelde is soepel:
as die liggaam suurstof verloor
en die proteïene in spiere
onnatuurlik verbind
soos geheue met die leuen
verstyf beeld tot metafoor.
Wanneer is sy dood?
En was dit moord?
Spier-outolise het reeds ingetree
haar ledemate is buigbaar -
die aanvang en verloop, dus,
van rigor mortis onpeilbaar.
Maar Nadoodse ondersoek bevat baie meer wat dubbel en dwars vergoed vir sulke onafhede. Dit beïndruk as bundelgeheel en munt uit in bepaalde besonderhede, soos uit heelparty van bostaande aanhalings behoort te blyk.
Ek was bevoorreg om, as eksterne eksaminator van Klopper se M.A.-verhandeling, haar bundel in ‘n vroeër stadium van ontwikkeling onder oë te gehad het. Ek meld dit omdat daar in die afgelope week in ander portale op die Versindaba-webwerf geskryf is oor die werkinge en (vermeende) uitwerkinge van slypskole en die begeleiding van kreatiewe skryfwerk. Ja, ek meen dat ek sweme van die eie digpraktyke van Klopper se studieleier (Joan Hambidge) kan verneem - maar dit is beperk genoeg om onnoemenswaardig te wees. Wat wél werd is om te noem is dat die verdere ontwikkeling/slyping van die bundel ‘n steeds meer afgewerkte produk opgelewer het, een waarin die eie stem van Klopper duideliker en sekerder spreek.
As dít die resultaat van skryfleiding is, wil ek sê: Maak gerus weer so.
Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Sunday, July 25th, 2010
oewerbestaan. Melt Myburgh. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-369-0. Prys: R140. 76 bladsye.
 oewerbestaan
Dis al amper ‘n dekade sedert ek van Melt Myburgh as digter te wete gekom het, naamlik deur ‘n bydrae van agt gedigte tot Nuwe stemme 2 (2001).
Intussen het dié oud-onderwyser (aan ‘n Engelse privaatskool in Grahamstad) bekendheid verwerf as redakteur van LitNet, ook via sy verslaglewering oor literêre gebeure in veral die Wes-Kaap op die einste webwerf. Onlangs is verneem dat hy by die Woordfees-span op Stellenbosch aangesluit het as mede-organiseerder van dié jaarlikse fees, asook van die jaarlikse Versindaba (tot verlede jaar georganiseer deur Louis Esterhuizen en Marlise Joubert).
Poësieliefhebbers se nuuskierigheid oor sy digterskap word nou bevredig met die verskyning van oewerbestaan, sy solodebuut.
Dis ‘n ietwat teruggetrokke, fyngevoelige maar tog beheersd-hartstogtelike persona wat na vore tree uit die bundel.
Die bundeltitelwoord wys nie slegs heen na Myburgh se grootwoordjare op Karos, ‘n besproeiingsboere-nedersetting naby Upington langs die Oranjerivier nie. (Hiervan verneem ons veral uit die gedigte van afdeling1 in die bundel.) Ook die eenkant-houding van die buitestandersfiguur, die betragtende bewonderaar van die driftige lewenstroom word hierdeur aangedui - van die stoepsitter wat “geduldig die agterplaas [fynkam] / vir leidrade wat dalk mag verklap / dat ‘n visioen op hande is” (eerste strofe van die titellose openingsgedig van die derde bundelafdeling).
Daar word méérmale op die stoep gesit in dié bundel, veral in die genoemde afdeling 3. En die bundelmotto (’n vertaling van ‘n ou Sjinese spreuk) lui:
as ‘n mens lank genoeg op een plek bly sit,
sal die hele wêreld mettertyd verby jou draai.
Vandaar - vanuit ‘n ietwat onttrokke posisie - is dit miskien makliker om ‘n (illusie van) deurskouing en beheer te handhaaf. Onbewaakte blootstelling aan die werklikheid, so word in die alleenstaande openingsgedig van die bundel gesuggereer (’n gedig wat, beeldveldspronge en al, myns insiens ook iets poësiebeskouliks kommunikeer), kan ontluisterend wees:
aankoms
daar is iets sexy in die manier
waarop die falcon sy flappe beur teen die wind
en met hidrouliese presisie neerstryk op warm teer
wanneer die kajuitdeur lig en treetjies sak
slaan die hitte bloedneus
die matador se hemp geruïneer[.]
As sensitiewe, gay persoon (soos ‘n mens al uit ‘n gedig soos “swem in die kanaal” uit die openingsafdeling kan aflei) moes die digter hom van jongs af ‘n buitestander gevoel het te midde van die veeleisende, nugtere en rigiede boerderybestaan in die woestynagtige gebied waar hy opgegroei het. Dis in die lig van só ‘n lewenservaring dat ‘n kort, titellose gedig soos die volgende veelseggend word:
sleepwaens met kafbale waterpas gepak
kruip in ‘n prosessie deur hekke wawyd oop
werkers wag in oorpakke, lusernhake in die hand,
gereed om die vrag by die koöperasie
se halfklaar piramide te voeg[.]
Sonder liefde vir daardie wêreld is die digter nie. Maar dan behels dit ‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis. Één gedig ter illustrasie:
terugblik
alles lyk so eenvoudig
deur die oë van ‘n kind
bekend aan my die flets gesig
van ‘n lyk uit die rivier gebring
my oog het gewoond geraak
aan trekvoëls in oranje kolomme lig
lokasievroue rek tussen takke
na nawels soet en pit en skurf
die herfs speel met windpompsterte
bedompig luier die aandwind in wingerdblare
hart-karos, besaai met motorwrakke
standplaas van omsingelde gedagtes
eendag kom ek permanent terug
om in ‘n kameeldoring se koelte te rus[.]
“[K]anale en onderpaaie” is nie verniet die titel van afdeling 1 nie.
Iets wat met die komplekse verhouding met daardie wêreld verband hou, is die tekening van die vaderfiguur in enkele boeiende gedigte. “[I]nfancio y muerte” in die eerste afdeling lyk plek-plek voorafskaduwend van “by my pa se dood” in die slotafdeling. Uit laasgenoemde blyk dat die vader selfmoord gepleeg het (”maneuvers vir dié klein slagveld sorgsaam beplan”). Die “ek” in die gedig stel hom die vader in die hemel voor, arbeidsaam “in die grootbaas se olyfboord”, wakend oor die geliefdes wat op die aarde agtergebly het. Diepe deernis, innig identifiserende medelye met die vader, blyk uit die onstellende slotreëls:
intussen hou ek die spieël angstig dop
vir lyne wat jóú lees as voorsaat[.]
Van vroeg af in die bundel word ‘n behoefte uitgespreek om te ontsnap aan so ‘n (eintlik bedreigende) werklikheid (kyk die treffende gedig “visioen van die kanaalape”); ‘n strewe om dit te transformeer of transendeer. ‘n Lokkende figuur, wat redelik gou assosieerbaar word met die Spaanse digter Federico Garcia Lorca (vergelyk die Spaanse woorde vega en sierra, en die aanspreking van “dierbare frederik” in “karos”), duik al in enkele gedigte van afdeling 1 op.
Lorca lyk, gemeet aan wat byvoorbeeld Uys Krige in sy inleiding tot Verse van Lorca oor hom skryf (in 1987 by Human & Rousseau gepubliseer), na die identifikasiefiguur wat die ingetoë subjek in oewerbestaan wens te wees. Lorca was ‘n “vulkaan van geesdrif en lewenskrag”, onweerstaan in sy sosiale aantreklikheid, veelvuldig begaafd - aldus Krige. Dat hy homoseksueel was, en oor “‘n diep tragiese sin vir die lewe” beskik het, vermeerder die identifikasiemoontlikhede.
Vandaar dat die tweede bundelafdeling “om federico” heet, met die volgende openingstrofe:
ontvlugting bring troos
só wou hy altans glo
daarom rol hy ‘n kaart van spanje oop[.]
Die dor jeugwêreld van Myburgh (en ander dele van Suid-Afrika) word in ‘n hele paar gedigte hier verheffend parallel gestel aan die Spaanse suide (of ander dele van Spanje). Ook die vader word, in ‘n roerende gedig, by wyse van spreke na dié ‘grootser’ wêrelddeel (Lorca se geboorteplek) verplaas:
nét hier
fuente vaqueros
hierso, pa, nét hier
deur die landerye in die vega
kan jy met die honde loop
en soos christus op ‘n hoë noot
jou hande hemelwaarts reik
terwyl hulle op agterpote
jou lyf probeer natrek
hiér, pa, is die ideale plek
waarheen jy hulle ook kan lei
en met ‘n gedempte knal verlos
van pyn opgedoen met hondebaklei
soos don federico garcía rodriques eens
kan jy jou vingers berekend
oor die toppe van suikerbeetlote sprei
(die diere aanbiddend aan jou skene)
en as hulle vermoeid vas wil steek
sal jy met ‘n laaste blyk van genade
‘n oomblik lank wag
en verwonderd in die rigting van die alhambra kyk[.]
Dis eers in hierdie sfeer dat die grootliks onderdrukte (homoëroties getinte) sensualiteit tot duideliker botviering kan kom:
duende
dié gedig sneuwel in my hand
ek mis jou ek verlang ek wil aan
jou raak seën my met jou lippe
bederf my met jou hande wys my
af stal my uit beroof my van alles
draai my om eet my op ek sal jou
koester seun van my welbehae[.]
Ander wyses van omvorming of oorstyging van die alledaagse geskied deur die deurskouende, openbarende en verwonderde kyk, soos met die titel van die derde afdeling, “gesigte”, vooropgestel. Indrukke, insigte, verbeeldingsvlugte en vergesigte (ook aangaande die self), maar ook bevooroordeelde sienings en pretensies (uiteraard gesatiriseerd) word gebied in gedigte wat meermale aantreklik en/of treffend is (”eisteddfod”, “privaat skool”, “voor elsa se stoep I”, “gedagtes van ‘n stoepsitter”, ensovoorts). Gedigte oor die virtuele wêreld van digitale speletjies (”playstation 2″) en films (”sissy spacek in ‘n kombuistoneel”), asook oor die mistieke wonderwêreld wat deur “miss helen” in die Uilhuis op Nieu-Bethesda geskep is (”‘n beeld raak los”, “www.owlhouse.co.za”), kom voor - maar ook verse waarin ontdek word dat “die wêreld sy wonders versteek onder klippers / wat vir ‘n oomblik lank onder skoensole blink” (”gedagtes van ‘n stoepsitter”).
Die “donker stroom” van verval en die dood (om vir ‘n oomblik ‘n beeld by Eugène Marais te leen) maak egter dat die lewe self eintlik ook ‘n soort “oewerbestaan” is. “[I]nkdood”, die slotafdeling, stel dié tematiek, en verwante motiewe soos verlies, versaaktheid en afskeid (en ook die digterlike ínskryf daartéén), aan bod.
‘n “[C]lose encounter” word deur die digter self beleef:
dagsê, mnr. myburgh
long time no see
jy het ietwat kleiner geraak
jou oë effens rooierig
jou ken ‘n aks skerper
jou mond stink na knoffel en dooie woorde
staan bietjie terug, so ja,
laat die warm damp opklaar
ek sien
daar’s ‘n love bite
op jou nek[.]
Een van die mooiste gedigte in die bundel staan ook hier - ‘n gedig wat herinner aan bekende Afrikaanse ‘liefdeswaak’-gedigte soos Breyten Breytenbach se “nagmaal” en “slaap klein beminde”, en Stephan Bouwer se “jy slaap nou”:
jy slaap nog, my skat
terwyl ek bloots op die rug van die highway ry.
onder my vingers vibreer
die klein spiertjies van jou lae rug.
in die baai trek die fregatte laer
fyn komeetstertjies waaier olierig agter hulle.
ons is beleër in ons liefde!
op die strandfront klap nigeriërs kleurvol hulle lappe uit,
(jy roer onrustig in jou slaap) ek wonder
op watter markplein is jou droom te koop.
werkgedagtes seil stroef saam met die eerste boeing in oor
die stad.
my hart hunker na die soet reuk van jou slaap.
die taxi’s se getoet sit vas in die beton
en sinjale bly die spoor leepoog byster.
jou sluimering kerf lieflike patrone onder die laken.
ou mense trap met sweetbande en honde
‘n verbete mars teen die dood wat in die oggendmis hang
iewers los ‘n hadida ‘n smeekroep[.]
Uit die liefs onderbeklemtonende, eerder suggestiewe as uitsêende hantering van byvoorbeeld die vader- en gay-motiewe blyk ‘n sekere huiwering tussen ver- en onthulling in oewerbestaan. Dit is hoofsaaklik ‘n wins vir die bundel, deurdat die gedigte meermale aan suggestiekrag wen en gevolglik, deur die sterker appél op lesersdeelname, oorstyging van die vertolkte indiwiduele belewenisse help bewerkstellig.
Aan die debietkant staan die gevaar van mistifikasie, waaraan Myburgh myns insiens nie heeltemal ontkom nie. Om sommige van die gedigte wat inspeel op die lewens en leefwêrelde van Lorca en Helen Martins te verstaan, verg byvoorbeeld nogal besondere agtergrondkennis. En wie is die “jy” en “ek” in “waarheen dra jou voete jou, my liefste”? Watter gebeurtenis en omstandighede moet ‘n mens jou voorstel wat tot die skuldgevoelens van die digter aanleiding gee in “beswering”? Waar bevind die skrywende ek hom in “grahamstad”? (Dit sou makliker gewees het om uit te maak indien “dié ou stadjie” as “daai ou stadjie” gestel was.)
Maar selfs al trek ‘n mens hiervoor punte af, slaag Myburgh die toets van die solodebuut oortuigend. [O]ewerbestaan getuig van volbloeddigterskap.
Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, June 8th, 2010
Notas uit die empire. Deur Hans Pienaar. Alto Media, mwhanspi@mweb.co.za. ISBN 978-06-620-4509-0.
 Notas uit die empire
Hans Pienaar, joernalis wat vanweë sy beroep dikwels buitelands reis, is ietwat van ‘n geleentheidsbesoeker aan die Afrikaanse poësiewêreld.
Meer bekend vir sy drama- en fotografiekunsbydraes by kunstefeeste (waarvoor hy al vir pryse in aanmerking gekom het), of vir sy nie-fiksie-skryfwerk (in 1992 is die Rapportprys vir die geskiedskrif Die derde oorlog teen Mapoch aan hom toegeken), het ‘n klompie gedigte van hom tog wel oor die jare in literêre tydskrifte en verskunsversamelings verskyn. En in 2002 het Die taal van voëls die lig gesien, ‘n selfgepubliseerde bundel deur Pienaar.
Teen die tyd dat ek egter kontak met hom kon maak om daardie bundel aan te skaf, was dit nie meer beskikbaar nie - volgens Pienaar te wyte aan een van die bekendste kwale van Suid-Afrika: misdaad. (Die dose met die meeste van sy bundelkopieë is gesteel, as ek korrek onthou, met die motor waarin dit was en al.)
Ek lei af dat ook André P. Brink nie Die taal van voëls onder oë gehad het nie, want die vyf gedigte van Pienaar wat in die 2008-uitgawe van Groot verseboek opgeneem is, kom almal uit Nuwe stemme 2 van 2001.
‘n Opvallende verskil tussen hierdie vyf gedigte en die verse in Notas uit die empire (voortaan: Notas) betref die vormgewing en stilering. Waar die vroeër gedigte vryer vorme gehad het, is die neiging in Notas na vastigheid, en daarmee saam na stilistiese eksperiment en geswollenheid.
Hierdie kenmerke van Notas staan vermoedelik in verband met, of verteenwoordig waarskynlik ‘n vorm- en stylvergestalting van die (gewelddadige) magsuitoefening en retoriek wat met imperiale politiek geassosieer word. Historiese én eietydse imperiums en tirannieke staatsbestelle word te berde gebring, soms op a-historiese wyse deuréén. In byvoorbeeld die openingsgedig, “Lank leef”, is die funksie van die a-chronologiese aanbod om die terugkerendheid van die imperiale strewe te beklemtoon:
Dis eenvoudig. Solank daar elektrisiteit
op hierdie aarde van gods (sic! - BO) is. Solank
die nulpunt sonder huiwering (Allah
sy behaag) staan by sy aansprake. So
dikwels as wat die koeie gemelk word
in lugverkoelde stalle (Boeddha bo).
So ver as wat die blote oog kan sien,
panteïsties ofte nie. Shakespeare is
die kommissaris van ede, Marco Polo
die doeanedokter, Hammoerabi houvas
die mikrofoon. Solank sekondes sekondes
is, en tril in hul orbitale soos Helena
van Troje op haar tone in haar desperate
striptease: Ek is die verdunner in jou bloed,
die asem van mag in jou murg.
Die empire is dood. Lank leef die empire!
Pienaar wil sodanige magswellus blootlê, ook die meer verhulde vorme daarvan, byvoorbeeld die hedendaagse variante wat onder die dekmantel van “demokrasie” voortleef, maar beheers word deur die (weer eens hegemoniserende) ideale van tegnologiese vooruitgang, inligtingsvloei en welvaartskepping. Hy skryf op die agterkant van die bundelomslag: “Vandag is daar [...] net ‘empire’ wat dwarsdeur die heelal strek, en in die virtuele ruimtes tussenin en daaromheen. Sy hoofkwartiere en hoofstede is oral te vinde, en nêrens. Almal staan in diens daarvan, en almal kom in opstand daarteen.”
Uit sommige gedigte in Notas spreek ‘n byna apokaliptiese wanhoop in hierdie verband. Nie verniet word George Orwell se 1984 deur middel van suggestie én direkte verwysing (die dubbele reeks “Tweeduisend-en-vier”) betrek nie. Vergelyk ook die slotsonnet uit die reeks “Die smarte van die empire”:
Later jare sal die ryk se uitverkorenes
hul seëninge en gemodifiseerde gene
in die suiwer bloed van eersgeborenes
tel. Die regering van die algemene
belang en gedrang sal gaan oor homo sapiens
sapiens en hoe in ‘n heelal van gebrek
ons sorg vir oorlewing van die mens.
In verrinneweerde woude en gestrek
oor megaplakkerstede sal die misrook
dryf waarin goddelike gedaantes spook
om groter aanhang onder die afvalliges.
En so sal ons aanbid word, die helde
wat die aarde nog moet red en selde
iets kan doen vir sy armsaliges.
Slegs in die enkele liefdesgedigte, soos “Hals” en “Maaglandskap”, is spore van behae en suggesties van ideologiese onbevangenheid te vind.
Treffende momente kom in bepaalde gedigte voor: sekere beelde in “Dienaar”, “Au clair de lune”, “Ete in die burokratiese hoofstad” en “Gedeeltelike sonsverduistering”; en ‘n gedig soos “Die tyd is ryp vir die revolusie” bevredig byna in sy geheel. Verder is daar egter werklik te min wat die mas op kom in vergelyking met die gedigte van Pienaar wat uit Nuwe stemme 2 in Groot verseboek oorgeneem is.
Die strenger vorme en gewaagde stilistiese aanpak wat hy gekies het, het, soos al deels gesê, té dikwels iets gedwonge, gesogs of geswolle tot gevolg: rymelary en rymdwange, byvoorbeeld bewerkstellig deur geforseerde sintaktiese omkerings, valse of twyfelagtige woordkeuses (”temende lewe”, as klaarblyklik in die eerste plek iets soos “wemelende lewe” bedoel word), en afkappings waarin selfs die gewone lettergreepbreuke geïgnoreer word (”meesterlik” wat as “mee- / sterlik” afgekap word om met “smee” te rym); dreunende klankherhalingsvorme, soos alliterasies en akkonsonansies, wat gepaardgaan met vertonerige maar weinig treffende woordspel en -nuutskepping (”om pletterbote / ploeter myne, tenks vertrap, vermink, vermank / beter al beter, monderige wonder verteer / bajonet, koeël, granaatgespat…”); lomp of ongewone, implikasietroebele fraserings en beelde (”winde [...] skuur / hul af teen hierdie mure”; “verdampte voetsole / in ‘n nulgrond”).
Die vyfde ‘sonnet’ in die reeks “Die smarte van empire” (ek plaas ‘sonnet’ tussen aanhalingstekens, want dit kom my nie voor of dié gedigte die wesenskenmerkende wending van die sonnet vertoon nie) illustreer baie van hierdie stylgeforseerdhede:
Ou tale glinster op uit versigtig ontblote
palimpseste, en in fyn beplande mutasies
ontflikker hul in skimpe van hergeboorte
en wil luister gee aan ou ryke se murasies
in ‘n futurale lig van nostalgiese verval.
Waar offerandes eers gemaak is en bloed
gestort is ter wille van vermaak spel pal
die logoletters wette uit van voorspoed.
In die kampanjes om ons drome, die beleg
van skadu’s om ons idiome, is die uitweg
afgesluit soos opgeskorte woordeboeke.
Die tale van ons harte waarin ons skuiltes
eenmaal veilig was weergalm uit die holtes
van die hinterland se afgesperde hoeke.
Die styl- en vormspel word ver gevoer in party gedigte, sodat dit soms grens aan konkrete poësie (”Tombe-taal”, “Vigelied”, “Prozac Dreams”) - maar myns insiens sonder besonder verdiepende effek. Dieselfde geld die gedigte-by-foto’s in die afdeling “Tweeduisend-en-vier”, wat meestal bly steek in impressieverwoordings wat implikasiegewys nie die spesifieke situasies wat deur die foto’s en die plekaanduidings ingegee is, verbygestreef kry nie. Alternatiewelik doen die pogings tot “betekenisverdieping” bepaald geforseerd aan.
Één voorbeeld van laasgenoemde (bladsye 94-95): By ‘n foto van ‘n windverweerde muur met die oorblyfsels van ‘n haarwasmiddel-advertensieplakkaat daarop, geneem by Mampong in Ghana, staan die gedig “Sand”.
Winde waai al dekades lank en skuur
hul af teen hierdie mure, laat laag
op laag van stof gevang in sweet
en dalk bloed sodat die blindelingse
tyd wat die skrif in braille kom lees
kan voel hier was mense ook, al kan
hy nie sien al wat hul wou hê is een laaste
vlaag om die hare te skik soos ‘n voël
haar vere as sy regmaak vir die vlug[.]
Meer indrukwekkend is die Peter Blum-agtige woordwaansin oor die Amerikaanse besetting van Irak in “Edenode” - maar weens die uitgesponnenheid daarvan begin dit op die duur ongelukkig verveel.
Die ironie is dat die stilistiese en vormlike ‘geweld’ wat die taal aangedoen word, die ontstemming oor die verwoorde menslike vergrype ontkrag of fnuik. Pleks daarvan om belewing van afgryse en onthutsing oor die verwoorde gebeure en verskynsels te wek, trek die bombastiese stem van die spreker die aandag. Hiertoe dra die neiging tot abstrakte segging in baie gedigte (eerder as verlewendigende, verbeeldingprikkelende uitbeelding) nie weinig by nie. ‘n Gedig soos die volgende bly slap mededeling - ook omdat die beeldspraak wat wel voorkom, al geyk is:
Die empire heers diktatorloos en sonder
keiserlike dekreet of edik van konings.
Algar is nou howelinge aan die wonder
of hul ontvangers van belonings
is of teikens van messe in die rug.
Die gewone man dink dis demokraties
en klou aan die hardnekkige gerug
dat hy sy eweknie tot mag verkies.
Gemiddeld is sy wense en gematig
sy proteste teen alles wat te statig
plaasvind om ooit iets te kan vermag.
Dat sy wil swig voor groter besluite
geneem deur leiers wat hul te buite
gaan het hy nog maar altyd verwag.
Blykens ‘n gedig of twee uit die reeks “Die smarte van empire” besef die digter self iets van hoe sy digterskap te kort skiet - hoewel, weens die (lawwig-)ironiese trant waarin die gestel is, nie in die werklik kritiese sin soos ek dit hier moet aanvoer nie.
[...]
Die ritmes, gans te stadig, en ryme
wat hul lesers dwing tot swyme,
kan net trane pers uit weduwees.
Notas, tematies én in omvang ‘n nogal ambisieuse bundel, is mooi deur Pienaar self uitgegee (en sy fotografie dra heelwat tot hierdie indruk by). Ek skep dus geen behae daarin om soveel kritiek daarop te lewer nie.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Friday, April 23rd, 2010
apostroof. Fanie Olivier. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5168-9. R130.
 apostroof
Fanie Olivier is een van ‘n hele handvol Afrikaanse digters wat, na lang digterlike swyes, in die afgelope jare aangenaam verras het met nuwe werke. [A]postroof, Olivier se sesde eie bundel (hy het ook enkele tematiese en geleentheidsbloemlesings en ‘n literêre dagboek saamgestel), volg 22 jaar na sy voorganger, Verklarings 1967-1987, wat in 1988 verskyn het.
[A]postroof is byna uitsluitlik toegespits op die digter se sowat 20 jaar lange verhouding met sy vrou, Rike. Sy was die dogter van die Vlaamsgebore en -getoë Rob Antonissen, toonaangewende kritikus en literatuurgeskiedskrywer in Suid-Afrika in die negentien-vyftiger- en -sestigerjare. Soos Olivier self, was sy vrou ‘n Afrikaans-dosent met aansienlike bykomende kennis van die Nederlandstalige kultuur en letterkunde. Vandaar dat meer as een maal in die bundel gewag gemaak word van “jou vlakkeland” in verband met Vlaandere.
Rike Olivier is in 2007 oorlede as gevolg van ‘n rare, slopende siekte wat onder meer haar woordgeheue en derhalwe uitdrukkingsvermoë aangetas het. Blykens die gedig “tussenteks” het die digter haar as gaan uitstrooi in die Schelderivier op die grens tussen Nederland en Vlaandere.
Die bundeltitel is derhalwe om verskeie redes ‘n goedgekose een.
As retoriese figuur slaan “apostroof” op die aanspreking van afwesiges - volgens die WAT op die situasie “waarby die redenaar of skrywer hom afwend van hulle aan wie sy woorde eintlik gerig is en die persoon of saak waaroor dit gaan onmiddellik aanspreek”. In dié bundel betref dit, op dikwels ontroerende wyse, die aanspreek van die gestorwe geliefde; plek-plek egter ook van God (in gebedstrant, maar ook as verbeelde vroulike respondent in “geding”, die gedig op die agterplat).
Vergelyk in laasgenoemde verband die aanvangs- en slotgedeeltes van “en god as hy bestaan” (opgedra aan “jou, my vrou”):
neem haar na die soet soel dal
van warm skaduwees van malse gras waar
die sleutel in haar hand op alle deure pas
die paar gebare om haar skielik duisend
vlerke kry skitterend met betekenis verbind
[...]
maar op my knieë veral
o God, veral, laat woorde vir haar sin maak, oweral[.]
Die bandillustrasie vergestalt iets van die patetiek wat ook uit bostaande gedigslot opklink. Dit stel ‘n foto van ‘n 15de-eeuse pronkskild uit Boergondië, getiteld “U of die dood”, sentraal op die voorblad. Op die skild word ‘n ridder in knielende, deklamatories gebarende houding voor ‘n vrouefiguur met neergeslane oë voorgestel.
Die gedigskryf-motief, wat vanaf bladsy 22 in die bundel steeds sterker op die voorgrond tree, word ook al hierdeur aangekondig. Soos ook deur die bundelopdrag met sy parenteties gestapelde meersinnigheid: “vir rike - (vir die sinne wat sy [ge-]maak [het])”. Én soos deur die tweede van die bundelmotto’s (’n frase uit W.E.G. Louw se “Die woord”): “alles wat genoem word, lééf”.
Poësie as teenwoordigstelling van die verlorene; die gedig as apostroof. Soos dit in “ewening” lui:
ek loop nou verder, soos in die poësie, met trae
tred, maar hou jou immers dig by my, onder my vel:
herken jou in ryme [...]
Maar ‘n apostroof is ook ‘n grammatikale weglatingsteken, ‘n soort duiding van verlies. Nie alleen die pynlike verlies wat Olivier ervaar en verwoord is ter sprake nie, maar ook die woordvergetelheid waarin sy geliefde moes verval: in lewe én in sterwe - ‘n situasie met bykomend tragiese dimensies waar dit mense raak wat deurentyd met woorde gewerk en geleef het. Daar sit dus talle pynlike stekels in ‘n Persiese kwatryn soos die volgende:
afwagting
en toe dit donker word die aand gee jy die gees:
jy hou, eenvoudig, asem op: dis klaar met kees.
en gegewe dié gegewe waarom sou jy
daarbuite later iets van jou, nou ‘n hiaat, wou lees?
Die rykdom aan aanhalings uit, eggo’s van en toespelings op allerlei ander tekste (literêre werke, liedjies, die Bybel, kerklike psalms en gesange, spreekwoorde en gesegdes) wat ons in apostroof hoor (soos voorheen in Olivier se oeuvre), funksioneer in die lig van bogenoemde tweërlei: Dit herinner aan wat verlore raak of geraak het, én dit verteenwoordig ‘n inskryf teen sodanige vergetelheid - teen wat dreig om ook die herinneringe aan ‘n woordmens soos sy oorlede vrou te vernietig. Ter illustrasie ‘n passasie uit “‘soveel gedigte gaan verlore’”:
[...] net deur [die flardes van 'n verlore gedig] te noem, nóú,
deur oor dit wat weg is, te lees, te hoor
daarvan, word jy betrek: hoop jy dat ek
dit vind, voel ek hoe jy my aanpor [...]
Die breë lyne van die verhaal van die onderhawige liefdesverhouding, vanaf die eerste liefdesgewaarwordings tot die berusting soekende, nadoodse nabetragtings, is uit die bundelgegewe af te lei. Die aanbod volg ‘n min of meer chronologiese volgorde en gebeure word geplaas in ruimtes wat deur die ingeligte as biografies getrou herken word aan die lewens van die Olivier-egpaar. ‘n Hele paar gedigte is, tekenend hiervan, gedateer en gesitueer.
Pragtige liefdesverse deurspek die bundel. Hartstog en patos staan in verwikkelde balans met bespiegeling en betragting, taal- en literêre spel, vinding- en insigrykheid. Één voorbeeld in sy geheel:
dis lekker hier waar die jare opgeskort
raak en tyd met verloop tog sy loop
neem: mens spelenderwys moet ouer word
en bowendien op die koop
toe ook wyser. aan die sak sout swaar
dra terwyl mens daaraan proe. en hoe
pikant lek die liefde nie uit die hart
en kom sit op die mou nie: toe,
toe jy kan dit nie ontken nie: verward
het veel minder betekenis as eers, rol
soos wyn van die tong af. klaar
met die dinge van ‘n kind, word jy vol
van die soelte van soveel te wees, soveel
te weet, soveel, helaas, ook te verlang.
en hier eenkant met die knop in die keel
oor ek jou liefhet, skor daarom in die sang
van die verloopte nugter digter, loer
ek na jou oor die onderdeur agter
die gordyn het jou aan die snoer
onder die kombers. sagter
sagter kom jy aan bod, verjaar jy
sonder om eintlik verder te verjaar
hier in die soelte van die jaargety
staan my arms oop vir jou en klaar.
In aansluiting by Olivier se vroegste bundels, doer uit die vroeë jare sewentig toe die invloed van D.J. Opperman se “letterkundige laboratorium” op Maties sig duideliker in sy oeuvre laat voel het, is die verse in apostroof vaster van vorm; word Engelse sonnette en Persiese kwatryne opgemerk; kom paarrymende distigons en langer strofes met gevarieerde eindrympatrone en min of meer reëlmatige versreëllengtes voor. Dit sónder dat vorm-geyktheid die botoon voer. Daar is eerder iets liefderyk speels in die verstegniek, in aansluiting by die taal- en liefdespel wat dikwels die uitgebeelde verhouding kenmerk.
Kyk maar self hoe die potensiële strakheid van die paarrymende distigons in die gedig op die agterplat - in dié sin aansluitend by die plegtigheid en erns van die “geding” wat hier teen God gevoer word om die gestorwe geliefde as ‘t ware terug te eis - verbreek word deur ‘n gesprekstrant in te voer, en strofelengtes hier en daar verrassenderwys af te wissel, en ‘n woord soos “wys” grappenderwys op die Engelse “i rest my case” te laat rym - om sodoende terselfdertyd iets van ‘n vormlike ekwivalent te vind vir die “buitenissig[e]” skikking wat tussen subjek en God bereik word: “[...] / ‘kom, los die aangeleentheid nou; trek t’rug die aansoek. leer om te aanvaar. / kry ander woorde waarmee jy jou goed kan besig hou. op stuk van sake is daar // ‘n hele woordeboek om mee te werk, en ander aansprake wat jy behoort te maak. / ek het jou dáárvoor en híérvoor uitgekies - jy wéét ons het gemene saak.’”
‘n Mens kan wel kibbel oor ‘n enkele tikfout, en oor “Vlissingen” wat verkeerd gespel is in die bundel; dat enkele idiosinkratiese verwysings en woordkeuses of sintaktiese gesogthede troebel (kan) aandoen (”gorter lank reeds uit die pad geskouer: / lig word mos dowwer, ‘n mens ook ouer”; “ek lê hier / vasgekeer op ‘n kussing, deur voorafgegaan geketting / ingebed“).
Min afbreuk word egter hierdeur gedoen aan die aantreklike, boeiende, inderdaad ontroerende indruk wat apostroof op ‘n mens maak - om kontekstuele sowel as teksvergestaltingsredes.
Dié bundel neem eervol sy plek in langs ander (meermale geprese) Afrikaanse bundels van die afgelope dekade waarin die gedenking en huldiging van gestorwe geliefdes ‘n belangrike plek inneem: Anlen Marais se muur van berge (1999), H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000), Petra Müller se Die aandag van jou oë (2002), T.T. Cloete se Heilige nuuskierigheid (2007) en Dolf van Niekerk se Lang reis na Ithaka (2009).
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Friday, April 16th, 2010
Nuwe stemme 4. Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04873-2. R150.
 Nuwe stemme 4
Sedert die publikasie van Nuwe stemme 1 in 1997 het daar ongeveer elke vierde jaar daarna nog ’n Nuwe stemme-opvolg by Tafelberg verskyn, sodat ons nou by nommer 4 staan.
Laasgenoemde is op vanjaar se Woordfees te Stellenbosch bekendgestel, en om dit in breër verband te plaas betrek ek in hierdie bespreking ook van my waarnemings omtrent die voorafgaande nommers, naamlik soos dit in 2005 in die tydskrif Spilpunt gepubliseer is.
Die reeks debutante-bloemlesings is ’n nuttige instrument wat deur die NB-uitgewersgroep ontwikkel is in die laat-1990s, ’n tydvak van gedwonge herstrukturering en besuiniging in die Suid-Afrikaanse boekebedryf. Dus was die Nuwe stemme–konsep (voortaan afgekort as NS) ’n teenvoeteroplossing vir die finansiële risiko’s verbonde aan die uitgee van (veral debuut-) solobundels.
Met NS kon NB-uitgewers egter ook ’n stimulant- en ontwikkelaarsrol speel. Die verklaarde bedoeling was om digters met afgekeurde bundels deur die publikasie van ’n keur uit hulle werk aan te moedig om in die rigting van eie, geslypte bundels voort te werk. By wyse van openbare uitnodiging kon ook bydraes gelok word van digters wat nog nie wou of kon waag om bundels voor te lê nie.
Digters is bygestaan om hul gekeurde verse na bevrediging van die samestellers af te rond. Wat NS 1 en 2 betref, is dit hoofsaaklik per korrespondensie gedoen. In die geval van NS 3 (en nou ook NS 4) is daar ook slypskoolgeleenthede gereël.
Of die bedoelde aanmoediging tot eie bundelafronding veel vrugte afgewerp het? As ek reg tel, het slegs 1 van die 11 debutante in NS 1, maar 8 uit die 16 in NS 2, en 3 van die 20 in NS 3 al eie bundels die lig laat sien. (Na verneem word, volg debuutbundels van Melt Myburgh en Jasper van Zyl, onderskeidelik veteenwoordig in NS 2 en NS 3, later vanjaar.)
Waar Antjie Krog en Alfred Schaffer in hul inleiding tot NS 3 vyf jaar gelede nog kon beweer – in daardie stadium tereg – dat klaarblyklik nie veel in hierdie verband gepresteer is nie, begin die prentjie tans anders daar uitsien. Dis dus gepas om NB-uitgewers te prys oor die bydrae wat op hierdie wyse gelewer is tot ’n tans lewenskragtige Afrikaanse poësiesisteem (waarbinne jaarliks rondom 20 digbundels verskyn).
Dat bloemlesingsamestellings nie vry van persoonlike voorkeure of van ideologiese en literatuurbeskoulike oorwegings geskied nie, is nie nuus nie. Die verantwoordings sowel as die aard van die samestellings van die vier nommers van NS is derhalwe boeiende inligtingsbronne in hierdie verband.
Opvallend is dat nuutheid (’n estetiese maatstaf) en verteenwoordigendheid (eerder ’n sosiaal-politiese kriterium) deurgaans as opname-oorwegings naas mekaar genoem word, hoewel telkens in verskillende voorkeurverhoudings tot mekaar.
In NS 1 is uit die drie-paragraaf-lange inleiding af te lei dat sowel die – soos dit daar lui – “ryke verskeidenheid” van stemme uit “die Suid-Afrikaanse leefruimte” en uit “die breë Afrikaanse spraakgemeenskap”, as die moontlikheid dat die opgeneemde gedigte “in die volgende eeu steeds vars en sterk sal klink”, in berekening gebring is. Dat dit, soos reeds genoem, ook gaan om “digters wat die potensiaal het om selfstandig te publiseer”, beklemtoon egter weer die belang van die estetiese oorwegings. Waarskynlik vandaar dat die samestellers (Anastasia de Vries en George Weideman) eerder minder digters gekies het om op te neem (11 uit 70 voorleggings), maar dan ’n meer definitiewe profiel van elkeen se werk verskaf het deur byna telkens tussen 10 en 15 gedigte in te sluit.
’n Soortgelyke balans van oorwegings is uit die samestelling van Nuwe stemme 2 af te lei, hoewel in die verantwoording van vyf paragrawe uitvoeriger uitgewei word oor die “verskeidenheid”-maatstaf. Die verskeidenheid sowel as die nuutheid wat die samestellers probeer het om in dié bloemlesing op te vang, betref egter eerder stilistiese en toonaardfasette (“op en wakker, soms raserig, soms gewaag, en ook woedend”; na deeglike beraadslaging is byvoorbeeld ook besluit om gedigte met ‘n sterk aanleuning “by Engelse segswyses” op te neem). Tematiese vernuwings, soos die ervarings van uitgewekenes en soekers na “interne asiel”, word egter ook as opname-oorwegings aangegee.
’n Mens kom dus tog tot die gevolgtrekking dat die estetiese oorwegings vir die twee NS 2-samestellers (Petra Müller en Nèlleke de Jager) swaarder geweeg het as sosio-politieke redes. Is dit miskien daarom dat dit die samestellers nie gehinder het dat slegs 1 van die 16 debutante in NS 2 bruin was nie, terwyl die ooreenstemmende syfers in vorige nommer 3 uit 11 was?
Hoe dit ookal sy, ook die samestellers van NS 2 het ten gunste van minder digters (16 uit 200 voorleggings) en ’n ruimer aantal gedigte per digter (gemiddeld sowat 10) besluit, om sodoende die ingeslote digtersprofiele sterker af te teken.
Dié profielskeppende funksie word toenemend prysgegee in die derde en vierde nommers van die reeks.
Slegs 2 van die 20 ingeslote digterskappe in NS 3 word verteenwoordig deur 10 gedigte of meer. Van 6 digters is slegs 4 of minder verse opgeneem.
In die verantwoording word die nuutheidskriterium sterk beklemtoon. Tematiese sowel as stylvernuwings met betrekking tot die Afrikaanse poësietradisie word aangelê as belangrike maatstawwe. Dit word voorts duidelik dat wat vernuwend geag word, dikwels te doen het met maatskaplike en politieke omstandighede. Bruin mense word byvoorbeeld deur Krog en Schaffer “beny” omdat hulle “op ‘n goudmyn van nuwe woordeskat, nuwe agtergronde en nuwe temas sit”.
Twee stilistiese “verkennings” wat verder in hierdie verantwoording van meer as 3 bladsye uitgesonder word, is die benutting van “die bekende gebrandmerkte Engfrikaans” en die terugkeer “na ou geykte Afrikaans” om dit te “verbrokkel […] tot feitlik betekenislose stukke”. Beide “verkennings” word deur die samestellers geïnterpreteer as ’n duidelike poging van “die jonger digters” om weg te kom “van die bagasie van die ouer digters en hulle verlede”.
Die weerspieëling van die volle spektrum van die Afrikaanse taal- en sosiale werklikheid blyk dus ’n rigtinggewende oorweging by Krog en Schaffer te gewees het, selfs wat betref stilistiese aspekte. Om watter ander rede sou meer as 10 gedigte van Vernie Plaatjies weer ingesluit word, terwyl hy reeds in NS 1 as debutant blootstelling geniet het met eweveel gedigte? Saam met Plaatjies is daar dié keer 5 bruin digters se werk opgeneem (25% van die totaal - ongeveer soos in NS 1).
Vir die samestellers van NS 4 is insluitendheid ’n ewe dominante oorweging, hoewel nie in die sosiaal-politieke sin van die woord nie. Danie Marais en Ronel de Goede sonder stilistiese en tematiese verskeidenheid uit as “een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie”, maar slegs twee van twee-en-twintig digters is nie wit nie.
Die verskeidenheid wat hulle in die “Verantwoording” van amper drie bladsye beklemtoon, betref eerder poësiebeskoulike aangeleenthede. Hulle het vermy om vas te hou aan “rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie”, maar beskou – in ’n mate anders as Krog en Schaffer – ook nie vernuwing of oorspronklikheid per se as “’n oplossing” nie. Hulle gebruik die beeld van poësietradisie as “’n rivierdelta en nie ’n enkele stroom nie” om hulle poëtikale openheid te beskryf.
Gedigte van vaster en vryer vormgewing staan dus oral langs mekaar in die bloemlesing; liedtekste (deur Hunter Kennedy van die rockgroep Fokofpolisiekar) en liries belydende verse langs gedigte (deur veral Hennie Meyer, maar ook Jan A.F. du Plessis, Francilié Hoek en Pieter Hugo) wat primêr op tipografiese effekte vir hul trefkrag steun; gedigte wat eie ervarings uniek uitdruk langs verse waarin vir impak staatgemaak word op opvallende, soms parodiërende intertekstuele toespelings; werke in Standaardafrikaans langs gedigte waarin niestandaardvorme daarvan benut word om bepaalde leef- en belewingswêrelde outentiek weer te gee.
Vandaar dat die fokus nog verder as in NS 3 weggeskuif word vanaf die profilering van bepaalde indiwiduele digterskappe, in die rigting van beeldvorming van iets meer kollektiefs, naamlik van (aspekte van) ’n bepaalde tydsbestek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis. Iets soos De Goede voorheen met Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 gedoen het (in 1997 onder haar huweliksnaam Foster, en in samewerking met Louise Viljoen).
Nes in NS 3 is min gedigte (ses of minder) per digter opgeneem. Dié keer is hulle selfs nie eers bymekaar onder die digtersname geplaas nie, maar kom die verse van ’n bepaalde digter verspreid – as ’t ware buite die konteks van die spesifieke digterskap – in die bloemlesing voor. In die inhoudsopgawe agterin die boek word die gedigte van elke digter wel onder sy/haar naam gelys: alfabeties volgens die beginletters van die gedigtitels (nes die digtersname alfabeties volgens vanne vermeld word).
Meer digters (22 uit ’n oorspronklike 250 insendings), maar minder gedigte per digter as voorheen; gedigte nie geplaas volgens digterskap nie, en in die inhoudsopgawe in ‘neutrale’ alfabetiese volgorde gelys… Daar sit iets ‘onpersoonliks’ hierin. En as ’t ware ter bekragtiging hiervan, is vir die eerste keer in die reeks geen biografiese sketse van die digters in die bloemlesing ingesluit nie. In die “verantwoording” word lesers wel na die internetwebblad LitNet verwys vir “nadere inligting” en “volledige onderhoude” met die digters. Dis egter duidelik dat ’n spesiale poging van die leser vereis word om ’n beeld van die indiwiduele digterskappe te probeer vorm.
Blykens die drie afdelings waarin die bloemlesing verdeel is, is vir ’n tematiese rubrisering gekies. Maar nou word die nette met die afdelingtitels telkens so wyd gegooi, en probeer dit kennelik sulke uiteenlopenhede saamknoop (“Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd”), dat ek twyfel of die identiteite van die verskillende afdelings vir die leser helder sal wees – die verduideliking van die gekose titels in die verantwoording ten spyt. Self erken die samestellers dat “van die gedigte ook in ander afdelings sou kon figureer”.
Maar nou het dit hoog tyd geword dat ek my respek betuig vir Marais en De Goede se poging om met NS 4 iets ánders te bied as bloot ’n versameling van opkomende digterskapsindrukke; om iets meer samehangends – ’n poëtiese tydsbeeld, soos gesê – te skep.
Laasgenoemde behels myns insiens ’n karnavaleske, grens- en hiërargie-vervagende inklusiwiteit – ’n weerspieëling van die stilistiese en tematiese verskeidenheid waarvan in die samestellers se verantwoording gewag gemaak word. Dis ’n beeld verwant aan die indruk wat die gewilde Afrikaanse kunstefeeste oral in die land op ’n mens maak – daar waar digters byvoorbeeld meermale in samewerking met musiek- en visuele kunstenaars optree. NS 4 is, soos sy voorgangers, ’n kind van sy tyd.
En inderdaad word daarin geslaag om “tog interessante gesprekke tussen digters, gedigte en betekenismoontlikhede [te] bewerkstellig”, soos die samestellers in die “Verantwoording” hoop. Ek noem ’n paar dinge wat my opgeval het.
Intertekstueel is werke van N.P. van Wyk Louw (veral sy ”Karoodorp, someraand”), Gert Vlok Nel, Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers op die voorgrond as lewende Afrikaanse tradisie in NS 4. Daarby is dit duidelik dat die plattelandse wêreld van plaas en dorp steeds ’n belangrike bron van Afrikaanse digwerk is (ook via toespelings op die genoemde gedig van Van Wyk Louw, en op Gert Vlok Nel se Beaufort-Wes-verse en -lirieke).
Niestandaardvorme van Afrikaans is grootliks funksioneel benut, en “Engfrikaans” nie uit die onmag wat deesdae so dikwels spreek uit die radbraakspraak van baie Afrikaanses nie. In twee gedigte van Bibi Slippers, naamlik “words of the day” en “OMW!”, is die Engels byvoorbeeld oorheersend, maar dan as spesifieke onderwerp én as refleksie van soveel hedendaagse Afrikaanse mense – as “nuwe indigents (nuwe behoeftiges) – se ironiese belewenis van hul “exile condign” (verdiende ballingskap) in ’n Engels-oorheerste wêreld.
Of daar “opwindende moontlikhede” vir al 22 die bydraers voorlê as digters, soos in die “Verantwoording” voorspel? Dit sal die tyd maar moet leer.
Soos eintlik verwag kan word van ’n bloemlesing van hierdie aard, bevat NS 4 heelwat wat minder indrukwekkend is, selfs studentikoos aandoen. Vergelyk onderstaande vers van Hunter Kennedy, wat (bedoeld of nie) tog ’n bietjie tam aandoen, sosiale kommentaar ten spyt:
Bokbefok
ons het saam met Bok gaan probeer tuna vang
die weer was te kak so toe drink ons maar
06:00
Jägerbombs
vissermanne
hulle het hom uitgevra oor “de la Rey” en hy het verveeld
en nugter gelyk
en toe ná al die vroumens- en kaffer-grappies
het die ooms
niks oorgehad om oor te gesels
behalwe die weer nie[.]
Aan die ander kant is daar weer ’n paar digters wie se werk sterker, frisser aandoen. Ek het in die lees regmerkies moes maak – uiteraard as spieël van eie poëtikale voorkeure – by gedigte van Lewies Botha, Corné Coetzee, Francilié Hoek, Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Bibi Slippers, Adél Steyn en Marius Swart.
Die heel eerste gedig in die bundel (deur Annie Klopper) is een van dié wat my bybly, en ek sluit graag dié resensie daarmee af.
hoe om ’n dorp te verf
begin by die posbusse –
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met “oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se muur
en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
herhaal[.]
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
|
|