Posts Tagged ‘Bernard Odendaal’

Bernard Odendaal. “raar maak waar”

Monday, May 30th, 2016

raar maak waar

aan wyle ttc

 

waarneem maak kwarke waar

en leptone

wat niks en nêrens was iets hier of daar

 

donkerver sterre   sterspirale  sterrestelseltrosse ontketen glans en al

’n lig-

palimpses

wanneer ’n ruimteteleskoop se prakseerpupil

skoon staar

van nou tot toet op toet

 

doofpotstil

is beethoven sonder sy gehoor

in konsertsale   sy polifone

geluid elektrochemies onbewoë tot vol gemoed

die lied van riete   gebroke ruiswind   faal

sonder luister

sonder gerugmaak in ’n gedig

 

tree liefde nie uit ons in die bres

nie word gemis nie geheel nie tot paar gesin gemeenskap nie getransendeer nie

die uitsoekroos

word oën-skynlik eers iets wonderskoons

moet hom sy welriekendheid aan ’n neus getroos

 

bly godpartikels wiskundig onvermoed

dan word die knal van krag tot dinge nie gekloon

nie in ’n megaversnellertonnel gesimuleer nie

sonder ons modelle raak ons dalk ’n multiversum byster

 

aldagwonders word gewaar

in rare lewens van somtyds meer as neëntig jaar

 

(c) Bernard Odendaal / Mei 2016

 

 

Bernard Odendaal. “poësiewerkwinkel”

Wednesday, May 6th, 2015

poësiewerkwinkel

 

wroeging angs verlange wring en tuimel in die klein

huis

waarvan sy lees in haar gedig   in die hoek

van ’n strofe woer ’n

tuimeldroër    dáár is jou beeld

 

sê die werkwinkelleier en bekroonde digter

smyt maar die abstraksies uit   daardie beeld vol vuil wasgoed

sê genoeg van wroeg   haar oë skiet vol trane

 

nee dis meer as wasgoed   sy voel

vasgekeer

 

presies   die tuimeldroër   sê die bekroonde

 

nee die agterkamer wat hul huur   haar man

(haar onderlip die beef) wat jare lank al skryf

’n boek oor kernfisika   vroeg afgetree   bedank so sonder

eintlik pensioen   sy boek gaan egter opskudding bring glo   sý

hou huis en sonder hulp dis klein genoeg hy wou nooit kinders hy is só

’n eksplosiewe persoonlikheid   punteneurig   opvlieënd   ’n fiksasie

uit waarskynlik die anale fase volgens ouderwetse freud   ’n psigoloog

is sy ja opgelei maar wou nog

altyd eintlik

skryf

haar uit opkropsels úít

in skryfwerk

in gedigte (“gedugte” dik die padda in haar keel)

 

in gedigte agterdeure vind

vervat ’n ander werkwinkelganger sag haar sin   die vers

as bres   dáár is nou ’n beeld roep ’n derde

reël vir reël die trap af

straat

toe

bou ’n vierde voort

 

nee (’n snik as tussenwerpsel)

’n trap vanuit ’n kelder boontoe

bó-uit   sy is hier om uit te vind

hóé

 

almal   die bekroonde   swyg

 

toe: hy was ook al in die

ondergrond van die gemoed   berading bied die uitkoms waaraan

dit die verskuns moet

ontbreek   dit weet sy mos (professioneel)?   ’n gedig stel nie

die regte vrae het nie raad nie redes nie

 

dit is oukei sê sy   sy ís  vermoed net skrywe

moet sy   úitskryf tot oukei toe

 

die werkwinkelgedigte swart op wit

die reël op reël die strofes in gelid

staan voor ons oë bot-   ’n roltrap stop-

gesit   in ’n dolleë stasiehal

 

 

© Bernard Odendaal / Mei 2015

 

Gisela Ullyatt. Vir ’n pa.

Monday, June 2nd, 2014

 

Junie is die maand van pa’s; 15 Junie is Vadersdag. Jaar na jaar word egter dieselfde sotlikhede op winkelrakke en spesiale uitstallings opgestapel om die skuldige gewete aan te spreek: oorsoet sjokoladetjies en geroosterde neute, die ewige knipmes; wintersokkies. Tydskrifte adverteer glansgeskenke soos ’n peperduur biltongsnyer. Bekendes word glansend saam met pappa afgeneem en soetlike goedjies word gesê oor hulle volmaakte dad.

Maar as jou Junie begroting reeds klaaglik misluk het, kan jy natuurlik altyd ’n beker met ’n gedrukte flou grappie/cliché koop (hopelik nie tweedehands nie) en dit opvul met ’n pers Simba-pakkie grondbone-en-rosyntjie mengsel. Of dalk ’n bierbeker gaps by die Oktoberfest vir volgende jaar se Vatertag.

Hoe dit ook al sy: Junie is die maand van daddy. Die vaderfiguur is een van die bitterste beelde in die poësie. Verder is gedigte oor vaders een van die mees oorwoë temas in die digkuns: alle digters het ’n vader of ’n gebrek aan een.

Stanley Kunitz se “The portrait” (1985:296) getuig van die gebrek aan ’n vader-figuur; die gedig is geperforeer deur ’n disfunksionele familie-dinamika. Ironies genoeg dra die absolute fisiese afwesigheid van die pa daartoe by dat hy in elke ander aspek die lewens van sy gesin oorheers. Die ma, deurdrenk van woede, probeer alles om hom vir goed uit hulle lewens te verban, maar spoke laat hulleself nie verban nie. Die feit dat hy wel geleef het, kan dus nie ontken word nie:

 

My mother never forgave my father

for killing himself,

especially at such an awkward time

and in a public park,

that spring

when I was waiting to be born.

She locked his name

in her deepest cabinet

and would not let him out,

though I could hear him thumping.

When I came down from the attic

with the pastel portrait in my hand

of a long-lipped stranger

with a brave moustache

and deep brown level eyes,

she ripped it into shreds

without a single word

and slapped me hard.

In my sixty-fourth year

I can still feel my cheek

burning.

Disfunksie in die familie-eenheid word baie maal vereenselwig met die “sonde van die vaad’re”. R.D. Laing, ghoeroe in die anti-psigiatriese beweging, noem hierdie disfunksie wat oorspoel van generasie na generasie “the transgenerational transference of neuroses”. Die Amerikaanse digter, Charles Olson, som hierdie filosofie onomwonde op in sy gedig oor vaders en seuns:

 

and if I am his son, this man

is from as far a place and time

as yours is, carries with him

the strangeness you and I will carry

for our sons, and for like reason

Hierdie inter-generasionele verwondheid word veral in Johann de Lange se oeuvre aangespreek; bundels soos Snel grys fantoom (1986) en Die algebra van nood (2009) bevat roerende gedigte oor ’n meestal afwesige maar dwelmverslaafde vader. In “Pa” (2010:36) word die pa-figuur opgeroep in messelaar- en- cowboymetaforiek. Die Anne Sexton-motto omsluit die motief van vergifnis wat herhalend in die gedig “Maar ek vergewe jou” gebruik word. Die vyfde strofe staan veral uit vanweë die uitsigloosheid van die pa se dwelmhel juis omdat dit die verskriklike vervreemding en skeur tussen pa en seun  daarstel:

 

Ander aande het jy mandrax gedrink

& vroeg gaan slaap, moeg,

die woonstel onherbergsaam gemaak

met jou hortende asem. Die kroeg,

enklave waar jy kon ophou kwel,

het sy grys vergetelheid geskink.

In “Petidiendroom” (2010:119) wil die pa intimiteit tussen ouer en kind skep met ’n petidien-ampule, iets wat helaas godsonmoontlik is:

 

Ek loop my pa ná jare raak

& hy probeer weer vrede maak.

 

Hy gee vir my ’n smal ampule –

verdowing met ’n streng skedule,

 

& hoop dit sal ons nader bring

soos die naald intiem deur weefsel dring.

 

Ek soek koorsig na ’n plek om te gebruik,

maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

 

Die versugting na versoening, na heelmaak van die verskerfte en versplinterde pa-kind dinamiek word ook gesien in Lucas Malan (16) se “Versoening”:

 

Ag Pa, laat ons nou vrede maak;

jy raas so in jou kis,

jy skaaf so aan ’n kwas

wat lankal reeds vergete is […]

 

en jy’t jou hawer nooit gesaai nie –

net so min het ek miskien geword

wat Pa dalk wou, maar nietemin,

die saad is klaar gestort

 

Wyle George Weideman skryf ’n reeks gedigte oor sy pa onder die hoofopskrif “Homo Faber” (Uit hierdie grys verblyf:1987). Die subtitel – portret van ’n alchemis en sy werkplek” –  is veelseggend en sluit aan by homo faber wat losweg uit die Duits as ‘die mens as produsent’ vertaal kan word. Dit sou interessant wees om te weet of Weideman Max Frisch se roman, Homo Faber, as vertrekpunt geneem het. Weideman se “Homo Faber” is opgedeel in sewe gedigte: (wyding); (interieur); (transmutasie); (feniks); (konjunktief); (sublimasie), en (slot). Ongelukkig is daar nie spasie in hierdie blog om aandag aan elke afsonderlike titel te skenk nie; ’n aparte blog (of eintlik artikel) sal hieraan gewy kon word.

Wat egter duidelik as baken in hierdie gedigte dien, is die vader as skrynwerker of produsent (‘homo faber’), iemand wie se werkspasie ’n “heiligdom” (59) was waar teen “die mankolieke deur” die spreker hom verbeel die volgende woorde opgeplak is: “strictly private. moet asseblief nie steur/ nie. eintritt verboten”.  In (feniks) het die pa “’n duisternis apparaat” en begin die spreker reeds verval in sy pa opmerk: “al krommer /wordend, my monnik-pa aan’t vonke slaan” (62). Die pa se opgaarsels begin dien as simbole teen die ouderdom, verlies en eindelike dood (sublimasie)(64); dit dien ook as afbakening van persoonlike grense; isolasie:

 

wat vergaar kon word teen die ouderdom:

vragte onvoltooide take wat vreug

en frustrasie bring

 

En dan kulmineer die reeks verse in (slot) waar die pa triomfeer, vry word van die oorlaaide opgaarder “homo faber”, gepuur word tot pa-as-feniks en dan simbolies die vlinder in homself vrylaat (65):

 

uit die grys verblyf durf ’n feniks kom:

aanvanklik nog net ’n moontlikheid

daar rond […]  

dan word die lyf

ligweg tussen die vlerke ingeskuif

en vasgeheg. en florissant verskyn

pa, weliswaar gehawender, triomfantlik

uit die hoogoond. Hy laat die vlinder vry.

 

Olga Kirsch skryf ook ’n reeks gedigte oor haar vader, getiteld “Vyf sonnette aan my vader” (1972). Die vyfde sonnet vergestalt die Joodsheid van die pa soos gesien deur vroeë kinderherinneringe aan die sinagoge, God en gebedsjale (1990:375):

 

Toe ek nog klein was het ek aan jou sy

gestaan in die sinagoge en gevolg

terwyl jou vinger langs die letters gly

van woorde wat ek nog nie kon vertolk.

Die kantor hef sy stem op, yl en soet

wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou

slaan vlamme uit die ruit hom tegemoet –

sou die Voorsienigheid Sy guns weerhou

wanneer daar so gesmeek word? En jy vou

jou syige gebedsjaal weg en hou

jou arm om my en ek staan gedruk

vas teen jou knie en bewe van geluk.

Swaar stemme styg in stadige akkoorde –

Oomblikke veertig jare sonder woorde. 

 

Bernard Odendaal skets ’n menslike woordportret van sy pa in “Pa” (24); sy pa was “voorbanker in kerk en senaatsaal./ Ook ’n voorslag in die kooi,/met vyf voluit familievernoemde seuns”. Sy moeilike geaardheid word metafories baie geslaagd uitgedruk: “jy’t haaks gebou;/ontoeskietlik draad gespan;/jou hande lékker skurf”. Dié moeilike oubaas het dalk voor geen mens die knie gebuig nie, maar voor die Groot K het hy nie ’n keuse gehad nie:

 

tot jy in die kliniek moes wees

–       slaphandig, grootogig;

 voete watersugtig dik –

 maande lank moes kankercocktails drink.

 Rúikend na sweet en sere.

 Al minder besoek ontvangend.

 Later net woordeloos net lêend.

 

Betsie van Niekerk dra Ronkedoor aan haar pa op en in “Kruk” (13) aanvaar die spreker dat sy haar pa slegs kan bystaan, maar nie kan genees nie: “Geen elikser, Pa/of panasee/kan ek jou gee”. Uiteindelike verval van die geheue en liggaam vind plaas en word roerend uitgebeeld deur die skoenlose en tandelose pa. Hy het dus die ronkedoor van sy menslike trop geword:

 

Maar ontskoei en sonder tande

trap pa op gewyde grond

radeloos, onmagtig rond.

 

Joan Hambidge se oeuvre is deurspek van gedigte wat aan haar pa opgedra is en sy skryf só oor hierdie tendens in Dad (57), ’n bundel wat spesiaal oor haar pa geskryf is na sy dood:

 

“Reeds vanaf my debuut Hartskrif (1985) skryf ek oor my vader […] My vader as gespreksgenoot, as spieë, as iemand teen wie ek my kon meet. Op sy manier ’n man wat weens sy werk dikwels verplaas is – dit verklaar waarskynlik my obsessie met reis. As kind van die depressie het hy swaar groot geword en daar was dikwels bitterheid oor sy grootvader se hantering van sy vader Frank. Hulle is uit ’n plaas verneuk”.

 

Toevallig lees ek die deel (ook in Dad) waar Joan oor haar pa se familieverbintenis met Maggie Laubser skryf (Hannah Laubser, sy moeder, was Maggie se suster) op dieselfde dag toe ons ’n skilderytjie van Maggie Laubser laat waardeer. Dié waterverf is vergeel in sy broosheid (en brosheid) en is inderwaarheid ’n bladsy uit een van haar sketsboeke. Groot was ons verstomming toe die bladsy uit sy ewe brose raam gelig word en aan die agterkant ’n horde potloodsketse van katte gevind word!

Om dus aan te sluit by hierdie broosheid van die vergeelde Maggie Laubser, haal ek die volgende gedig, “Tien” (50) aan uit Dad, wat nie net in gesprek staan met die internet as interteks nie, maar ook met Maggie Laubser:

 

Die webruimte na jou weier

halsstarrig om oop te gaan.

Op elke soekruimte met google

staan ek voor dooiemansdeur:

www.vader.com is tans onbeskikbaar.

Elke soekenjin wys my af,

gooi my uit voor ’n grys skerm.

Laat ek nou met die deur

in die huis val: die huis van my vader

had soveel kamers.

In jou klein heiligdom

hang foto’s van jou as sportman,

’n kanon met ’n loodkoeël,

’n skildery (wat ons verpes) van die Sakekamer,

en  ’n beeld van ’n klei Bonsmara-bul.

’n Staalkabinet met papiere, agendas,

aktes en wat nog van die sekretaris

van vele komitees. Altyd tweede in bevel

’n Maggie Laubser-skets van jou as seun

wys jou weerloos op. ’n Groen brugtafel

vir Dinsdagaande, elke vierde week, by ons

staan langs ’n weggestoke drankkabinet met KWV.

En ek? Met besoeke slaap ek op die enkelbed

in die kamer waar jy alles opskryf, liasseer, behou.

Jou tweede kind, ’n andersoortige sekretaris,

soekend, wagtend dat die webruimte oopgaan. 

 

Bibliografie

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hambidge, J. 2006. Dad. Kaapstad: genugtig!

Malan, L. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal. B. 2007. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

Olson, C. 1960. The distances. New York: Grove.

Opperman, D.J. (ed). 1990. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Poulin, A. (ed). 1985. Contemporary American Poetry. Boston: Houghton Mifflin.

Van Niekerk. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 1987. Uit hierdie grys verblyf. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

Resensie. “Chokers en survivors” (Nathan Trantraal)

Wednesday, June 26th, 2013

 

Chokers en survivors. Deur Nathan Trantraal. Kwela Boeke. ISBN 978-0-7957-0488-8

 Resensent: Bernard Odendaal

Op die agterplat van Chokers en survivors word die digter van dié debuutbundel aan die leser bekend gestel as gevestigde strip- en grafiese-romanskepper (in samewerking met sy broer, André) en as eggenoot van die digter Ronelda S. Kamfer.

Dis gegewens wat as verwysings terug te vind is in sommige van die gedigte in Chokers en survivors. Tesame met die woonbuurt- en datumaanduidings as opskrifte van die drie bundelafdelings (en wat strook met wat ek aangaande Trantraal se lewe weet), word sodoende beklemtoon dat ’n outobiografiese lees van die bundel nie onvanpas sal wees nie.

Die outobiografisering moet waarskynlik as outentifiseringstrategie gesien word. Van laasgenoemde is die Kaapse taalidioom wat in hierdie bundel benut word, waarskynlik die belangrikste middel. In die “Voorwoord”-gedig word byvoorbeeld verduidelik dat die bundeltitel op “peanut-butter-en-jêm-brood” slaan, iets waarop “ôs” (die digter en sy medekunstenaarbroer, blykens uitlatings in sekere gedigte) “vi twie jaa geliewe [het]”. Op eiesoortig nadruklike wyse verklaar die digter dan dat die leser verder “fokkol” aangaande die betekenisse van uitdrukkings in die gebruikte idioom van hom moet vra nie: “as jy nie kan byhou met die storie nie, dan issitie vi jou nie”.

Die idioom is as ’t ware die vergestalting van die leefervaring wat vertolk word, vol “[m]arks of weakness, marks of woe” (blykens die aanhaling uit William Blake se “London” as een van die bundelmotto’s) ’n lewe wat “no future for you no future for me” bied (luidens ’n tweede bundelmotto, aangehaal uit ’n werk van Craig Finn). En dis eintlik net ’n eerstehandse spreker van daardie idioom wat die betrokke belewenis kan vertolk. Vandaar die derde bundelmotto (uit Jim en John Thomas se Predator):

 

Dutch: So why don’t you use the regular army? What do you need us for?  

Dillon: Cause some damn fool accused you of being the best.

 

Op afwisselend – en soms gelyktydig – sketsagtige en anekdotiese trant word die bietjie wel en die baie wee van die “chokers” (daardie betekenis skuil ook in die bundeltitel) van die Kaapse Vlakte weergegee, wat derhalwe op ’n manier ’n voortsetting verteenwoordig van die strip- en grafiese-romansierswerk van die gebroeders Trantraal.

’n Bepaalde afstandelikheid, ’n terughoudendheid van vertelling en uitbeelding, sonder opvallende waarnemers- en vertellersbewoëndheid (al voer ’n eerstepersoonsverteller die woord), kenmerk meestal die aanbieding. Sy ma het hom geleer “hustle” (“dai vrou-allien-sôg-vi-ses-kinnes hustle”), verklaar die subjek in “Hammie”:

 

My ma het my gelee

ommie sentimental te wiesie.

Die eeste ding wat sy gepawn et

was haa trouringe.

 

Let op die volgende (uit die gedig “Fifa 06”) waar die subjek sy dronk, aggressiewe pa te lyf gaan deur hom herhaaldelik teen die kop te skop:

           

Die way ek my pa skop is baie Fifa 06,

it voel ’n bietjie fake en unconvincing

asof ek net deerie motions gan.

 

Afstandelikheid, die buitestandersposisie, is die verkieslike lewenshouding vir hom:

 

            Dais my idea vanne goeie tyd,

soelank ammel hulleself enjoy

en soelank ekkie hoef te participatie.

            (“Chokers”)

 

Die styl, die taalidioom met sy argeloos-, grof- en beperkthede, werk in die ontsentimentalisering mee. “[E]k et ’n horrible Afrikaans vocabulary,” verklaar die spreker in “Groot Verseboek”: “Soe helfte vannie tyd vestaan ekkie / waarvan die cunts innie Groot Verseboek praatie.” Dis eintlik ómdat hy self ’n verstikker van die “ghetto” (bladsy 25) is – hy het “nog altyd fokkol van [homself] gemaakie”, lui dit in “Oujaasnagte” – dat hy die outentieke vertolker van daardie verstikkende armoede, uitsigloosheid, geweldpleging en bandeloosheid kan wees. Vergelyk:

 

            Daa is ganse innie pad,

’n honned stray honne,

’n dysend stray mense

en as jy vesigtig narie gesigte kyk

sal jy sien dat hulle ammel

al virre dysend jaa dood is –

            die mense,

            die ganse

            ennie honne.

            (“Valhallapark”)

 

Of:

            Ek dink by myself tronk is ampe

soese rite of passage as jy coloured is:

one way or the other gan jy vi iets mang.

Fokkol te doen met wie of wat jy issie.

Is ampe soes fokken pilgrimage,

soesie slamse wat Makka toe gan.

 

Die opvallende benutting van emosionerende stylfigure en beeldspraak soos in bostaande passasies is relatief skaars in Chokers en survivors, soos trouens al die “gewone” poëtiese skeppingsmiddele – “omdat ek wiet my poetry is kak / en dat ekkie kan skryfie,” beweer die “ek” in “South Korea”.

Punt is: Die “poëtiese” laag, die styl- en versbougrepe, dit wat die aandag op die digterlike medium self vestig, is hoofsaaklik dun aangebring. Opsetlik so. (Die subjek ken die werk van ’n Van Wyk Louw, ’n Sheila Cussons en ’n Ingrid Jonker, van ’n Vermeer en ’n Donatello, blykens die name en verwysings wat in sommige gedigte val; hy is nie rêrig so ongesofistikeerd nie. Sy belesenheid blyk trouens reeds uit die talle bundel- en gedigmotto’s in die bundel.)

Want dis die verstikkende, wanhoopwekkende realiteit self, die afgryslike en konfronterende hierheid daarvan, wat moet deurskyn – “tot hie en nie vêderie” (titel van die openingsgedig), wil die digter ons laat gaan. “Wies careful van mense wat hulle harte op hulle moue dra / wan sukke mense wysie altyd vi jou hulle regte hartie,” waarsku hy voorts in die eerste strofe van dieselfde gedig.

Daarom beeld hy vir ons ’n “Swat Hannes” uit; of ’n openbaar “skommelende” (masturberende) oupa Derra; of ’n Albert wat hom by die karaoke verbeel hy is een van die Bee Gees, naamlik die dwelmverslaafde een wat selfmoord gepleeg het en wat nou asof

 

            […] sy dood gefake et

Lavis toe getrek et

black face angesit et

my ma-hulle betaal et om te sê hy is hulle broe

 

sy cocaine exchange et vi buttons

champagne virre bier

sy mansion virre Wendy house

sy beauty virre beast

die stage virre shipyard

stardom vi obscurity

success vi failure

caviar virre chokers dite.

(“Chokers”)

 

Die digterlike effek word verreweg oorwegend deur die benutting van die Kaapse taalidioom self bewerkstellig. (Waaraangaande ek nie kon help om te wonder nie: Waarom is dit byna uitsluitlik die Afrikaanse woordeskat wat by die weergawe van Kaaps foneties gespel word, terwyl dit nie die geval is met die Engels daarin nie? Ek is nie oortuig dat dié anomalie getrou aan die werklikheid is nie.)

Die afslytende potensiaal van sodanige aanpak word op oorwegend treffende wyses teengewerk in die bundel. Hier en daar duik korter, liedagtige verse op. En die liries-roerende gedigte “Woensdag, 16 Februarie 1988” (tweede gedig in die bundel, met sy beligting van die gawe van die onbewoë dae, die “klom dae wat niks gebee nie”) en “Ronelda” (slotgedig in die bundel, oor die liefde as “electric current om ôs”) omraam as ’t ware die ontluisterende werklikheidstekening tussenin.

’n Ander reddende middel – wat, soos die liefde van die ma en die eggenote, van die “choker” iets van ’n “survivor” maak – is humorvolheid. Die tekening van die subjek se geduld met die begeerlike vrou se voorlesery uit gekanoniseerde Afrikaanse werke omwille die (verhoopte) seksuele toenadering wat daardeur bewerkstellig sou word (“Groot Verseboek”), of sy verligting as sy broer en sy pa baklei sodat dit die einde van ’n gesinsuitstappie in die “groot geel Peugeot” beteken (“”geel walvis”), is byvoorbeeld kostelik. Selfs die uitbeelding van onthutsende gebeure geskied nie sonder (aweregse) humor nie (“twie taties”, “bladwisselend”, ensovoorts). Trouens, aan die verleiding van ietwat verkneukelde voortborduring op sulke situasies (byvoorbeeld in “15 11 28 3 29 bonus: 48” en “Chokers”), soos ook op die seggingsgehalte van Kaaps (soos blyk uit die aangehaalde gedeelte uit “Chokers” hierbo), ontkom Trantraal somtyds nié.

Chokers en survivors is ’n boeiende debuut, een wat onthuts, vermaak, tref. Trantraal staan daarmee nie terug vir die uitstaande werk wat die vermelde Ronelda S. Kamfer onlangs gelewer het met betrekking tot die digterlike vertolking van die lewe in die arm woonbuurte van die Kaapse Vlakte nie.      

 

(c) Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

 

 Resensie geborg deur :

 

 

 

Bernard Odendaal. Twee nuwe gedigte

Monday, August 1st, 2011

 

 Gala-toeskouer

            A postcard from the Volcano

 

Lig- en skaduhale snelskryf die wind-,

boom- en son-

onderons oor die Wallace

Stevens-verse op my skoot. ‘n Rilbont bal rol uit die hoek

van my oog tot teen

my been

en ek kyk op: mededingerslae van die swemmers laat skitter- en skadu-

rimpelinge agter hulle wat vergly

verglad, deursigtig stol – stille waters

                 

agtergrond waarteen kinderledemate ywerend-muterend kom ‘n reeks verdwene

hardloophoudings in die meters tot hier

digby

my

– “hallo Oom/jammer Oom/ bye Oom” – bal en al daarmee heen.

Die son

 

skuif ‘n aks in die trans,

onooglik glorieryk.

 

En ek lees weer, die beendere

in andermansgedig tot lewe,

“smeared with the gold of the opulent sun”.

 

Sintaktikus

 

Geesdriftig, skeel sintaksis maar ons woorde min

ons storm met ‘n horde rededele in

– tot -kus kom keur, die wat en hoe;

toeslaan met die Gideonsbende: sin.

 

 

Bernard Odendaal en Hennie van Coller. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Thursday, July 7th, 2011

Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Bernard Odendaal en Hennie van Coller

 

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88

ABSTRACT

The poetic plot in Antjie Krog’s Lady Anne (1989)

Antjie Krog’s Lady Anne, inter alia labelled as “a novelistic poetry volume” – bears the stamp of the postcolonial discourse, more specifically as it concerns Apartheid and post-Apartheid South Africa. Aspects of the life of the historical figure lady Anne Barnard are metaphorically employed and embedded in an intricate narrative about Krog’s growth towards realising the necessity of (personal and national) transformation concerning socio-political, gender, religious and poetical issues. In this way some of the most important contemporary public discourses in the South Africa of the late 1980s are further highlighted by means of various text citations surrounding the poems in the book. This article focuses specifically on the construction of the poetic plot in Lady Anne, namely on “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), as well as on the discursive implications thereof. Observations are also made and conclusions drawn about the manipulation of aspects of the mediating dimension in the book (agents/actants, narrative levels and narrative structure, the meaningful way in which the process of writing poetry itself is emphasised).

1. Inleiding

Antjie Krog se 1989-bundel Lady Anne, staan in die teken van die postkoloniale diskoers, meer spesifiek wat dit apartheid- en postapartheid-Suid-Afrika betref1. Die vraag na wat ‘n (Afrika- en) Suid-Afrikaanse identiteit behels, is ‘n sentrale kwessie in die bundel – soos trouens ook in ander Krog-bundels, waaronder Gedigte 1989-1995 (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000). Bundels deur ander Afrikaanse digters wat kennelik deur Lady Anne geïnspireer is, of waarin op aspekte daarvan gereageer word (veral Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg: ‘n Versroman uit 1996 en onderskeidelik Heilna du Plooy en Marius Crous se bundels In die landskap ingelyf en Brief uit die kolonies uit 2003), getuig voorts hiervan.

Al genoemde bundels het boonop min of meer ‘n opvallende (hoewel verkapte) verhalende inslag, en voer reële en/of fiktiewe vertellers/sprekers ten tonele. Trouens, narratiwiteit (en digterskap) word telkens getematiseer.

Lady Anne is onder meer om bostaande redes as “‘n roman van ‘n bundel” (Brink, 1989:13) bestempel; en Esterhuizen se bundel word in die subtitel “‘n Versroman” genoem.

Hühn (2004) beweer dat narratologiese konsepte kan bydra om die tegnieke te beskryf wat in poësietekste ingespan word om elemente tot een of ander “gemotiveerde” orde te bind. Die “poetic plot” in Lady Anne, dit wil sê “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), asook die diskursiewe implikasies dáárvan (byvoorbeeld op aktansiële vlak), word in hierdie artikel onder die loep geneem. Tussendeur word waarnemings van en afleidings oor die hantering van aspekte van die mediëringsdimensie (agente/aktante, vlakke van vertelling en bundelopbou, vooropstelling van die digproses en die funksies dáárvan) gemaak.

2. Enkele opmerkings oor narratiewe poësie

Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (Odendaal, 2009:116), maar ook na wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word, sowel as “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag (Stolk, 2007:1122 & 1127).

Vaessens en Joosten (2003:86-87) verbind die wêreldwye oplewing in die verhalende soort poësie met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer. In die dominasieposisie van dergelike meesternarratiewe tree ‘n aangewesenheid op sogenaamde klein, dikwels outobiografies getinte vertellings in wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied.

In die onderhawige bundel sal aangetoon word dat (outo)biografiese, ‘klein vertellings’, dié van lady Anne Barnard en dié van “die skrywende subjek” (Crous, 2003b:151)2,  met die groter, Suid-Afrikaanse, nasionale diskoers verweef word.

‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum bestaande uit ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Soos deur Odendaal (2009:119 – in navolging van Hühn, 2004:139) opgemerk word, kan ‘n mens dus in hierdie verband praat van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeling (“mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In laasgenoemde dimensie gaan dit om die presentasie (en interpretasie) van so ‘n sekwensie vanuit ‘n bepaalde perspektief3.

Die onderskeid tussen sekwensialiteit en bemiddeling kom breedweg ooreen met bekende narratologiese onderskeidings soos “histoire” en “récit”, “fabula” en “sjužet”, “storie” en “verhaal”/”diskoers”/”teks”/”plot”, ensovoorts4. Of soos Brink (1987:38) verkies om die onderskeiding te formuleer: storie en vertelteks.

Volgens Hühn (2004:139) sal in ‘n omvattende modellering van narratief ook voorsiening gemaak moet word vir ‘n dimensie van die handeling van artikulasie of vertelling (“act of articulation or narration”), dit wil sê vir die dimensie waardeur die bemiddelde opeenvolgendheid van gegewens en gebeure bewerkstellig word, en waarvan spore in die tekstuele vormgewing nagespeur kan word. Brink (1987:40) gebruik hiervoor die term vertelproses. Verteldimensies soos konkrete of abstrakte, en eksplisiete of implisiete verteller- en outeurskap, asook handelingsdieptestrukture en aktante5 soos deur onder meer Greimas (1971) onderskei word, is hier ter sprake.

Oor spesifieke vorme van narratiwiteit in liriese poësie maak Hühn (2004:151-153) ‘n klompie rigtinggewende aantekeninge.

Hy beweer eerstens dat die kenmerkespektrum van intrigevorming (“plotting”) en vertelling in die poësie merkbaar verskil van dié in die prosa. Daar word in die digkuns byvoorbeeld graag vertel vanuit ‘n posisie binne-in die voortgaande storie (“interne” vertelling – Brink, 1987:153), eerder as vanaf ‘n posisie aan die einde (“agternavertelling” – Brink, 1987:160-161) – dit wil sê liefs op prospektiewe wyse (“vooruitvertelling” – Brink, 1987:161) of op simultane wyse (“gelyktydige” vertelling – Brink, 1987:161-162) terwyl die storie ‘gespeel’ of die gebeure-opeenvolging ‘gevorm’ word deur die vertel van die storie (die vertelteks).

‘n Besonder komplekse poëtiese intrigevormingswyse waarop Hühn (2004:151-152) wys, is waar die gebeurlikheid (“eventfulness”) die storievlak oorskry en ‘n “discourse event” word. Hy noem die voorbeeld van Shakespeare se Sonnet 107,

where the frame of the sequence is abruptly redefined – from aiming at the friend’s praise for his continued friendship and patronage to the speaker’s insistence on his own superiority, on account of his immortalizing poetic gift, over his friend’s mortality.

Soos verderaan gesien sal word, vind iets dergeliks in Lady Anne plaas wanneer lady Anne Barnard terug die Kaapse kasteel in vlug (as simboliese daad van nievereenselwiging met die Suid-Afrikaanse werklikhede).

In die tweede instansie wys Hühn (2004:152) daarop dat karakters in digtekste, in die besonder die sprekers in gedigte, gewoonlik nie deur name en beskrywings geïdentifiseer word soos dikwels in die prosa nie, maar eerder deur hulle perspektief, hulle “interiority” (of ‘interniteit’, om ‘n Afrikaanse term analoog aan die onderskeiding “interne verteller” te skep), asook op grond van die persoonlike aard van die digterlike narratiewe.

Indeed, one important function of narratives in poems is the constitution of the speaker’s or narrator’s subjectivity and individuality, the definition of his or her identity, by the self-attribution of a chain of events, of a ‘mental story’… (Hühn, 2004:152).

Vandaar dat ‘n neiging tot performatiewe vergestalting van karakter, deur middel van die houdings, sienings en handelinge van die subjek soos weerspieël in die (self-) geuiterde teks, in die poësie bemerk kan word.

‘n Derde kenmerk van vertelling in poësie is die voorkeur vir ongewone verteltye en stemmings (Hühn, 2004:152), byvoorbeeld deur die tweedepersoonperspektief of die “imperative mood” (gebiedende wyse) te benut, of ‘negatief’ te vertel (gebeure te verhaal wat nié plaasgevind het nie).

Vierdens vermeld Hühn (2004:152-153) dat narratiewe sekwensies in die poësie ‘n gebrek vertoon aan tydruimtelike plasing (“[they] lack explicit circumstantial explanations and connections”), anders as wat konvensioneel vereis word in romans (hoewel erken word dat ‘n beduidende hoeveelheid “avant-garde fiction” wél hierdie kenmerke vertoon, “arguably partly as an import from the genre of lyric poetry” – Hühn, 2004:153). Meer abstraksie en tematiese universaliteit kan sodoende bewerkstellig word, terwyl tyds- en tematiese oorgange vergemaklik word.

In die vyfde plek beklemtoon Hühn (2004:153) dat die narratiewe sekwensies in liriek deur die ‘materialiteit’ en spesifieke vormlikheid van poësie (stilistiese en strukturele aspekte soos klank, ritme, prosodie, beelding, sinsbou, tipografie, ensovoorts) beïnvloed word, “reinforcing, modifying, or counteracting the semantic plot-development”.

Meer spesifiek, skryf hy, fungeer die formele kenmerke in die poësie as paradigmatiese relasies of ekwivalensies naas motiwiese en tematiese aspekte. Hierdeur raak hy aan wat al as ‘n verikoniseringsdrif in die poësie bestempel is (Bronzwaer, 1990:99), dit wil sê die ‘demonstratiewe’ en derhalwe sterker geloofbaarmakende wyse waarop talige, stilistiese, verstegniese en vormlike middele benut word om een of ander ‘gelykenis’ met die semantiese aspekte van byvoorbeeld die gedig te vertoon, sodat die ‘boodskap van die gedig hierdeur medegekonstitueer én -gefasiliteer word6.

‘n Kernelement in narratiewe digkuns is wat ‘n mens, na Hühn se reeds vermelde bestempeling “poetic plot”, die liriese intrige kan noem. Enkele opmerkings hieroor lyk nodig vóór die toepaslikheid van die begrip vir ‘n analise van Krog se Lady Anne gedemonstreer word.

3. Liriese intrige

 Du Plooy (1992a:384 & 386) beklemtoon hoe omstrede die begrip “plot” is, want, skryf sy, daarin lê ‘n hele groep begrippe ingebed: temporele aspekte soos volgorde en opeenvolging, logika en kousaliteit, die intelligente vermoë nie net om te onthou en na temporele en logiese reekse te soek nie, maar veral om verhoudinge te kan raaksien en interpreteer. Die relevante verhoudinge sluit alle aspekte van verhalende tekste in sodat handeling, karakter, plek en tyd en al die maniere waarop hierdie elemente artistieke betekenis verkry, in ‘n bespreking van die plot  tuishoort.

In hierdie artikel word, soos in die inleiding aangedui, Hühn (2004:142) se omskrywing van “poetic plot” benut, naamlik die wyse waarop die elemente in digtekste geskakel is tot ‘n kousale, temporele of andersins ‘gemotiveerde’ ketting. Hoewel Brink (1987:66 & 155) plot ook met die terme “handelingstruktuur” en “verwikkelingsplan” benoem, word die bestempeling liriese intrige hier verkies as vertaling van poetic plot. Daardeur word eerstens gepoog om die gelykstellende assosiasies van plot met begrippe soos “verhaal”, “diskoers”, “teks” en “vertelteks” uit te skakel, terwyl met die term liries tweedens klem geplaas word daarop dat hierdie ondersoek gerig is op ‘n teks waarin verhalende elemente op die liriese genresoort ingeënt is.

Hühn (2004:142-143) brei soos volg uit oor liriese intriges: “Plots in poetry are typically constituted by mental or psychological incidents such as perceptions, imaginations, desires, anxieties, recollections, or emotions and their emergence, development, and decisive change.” So ontstaan volgens hom ‘n sintagmatiese samehang in liriese tekste. Dit is egter slegs deur die paradigmatiese verwysing na buite-tekstuele kontekste en na ‘wêreldkennis’, “i.e. to cognitive schemata already familiar and meaningful” (Hühn, 2004:143), dat lesers sin van sulke tekste kan maak. ‘Wêreldkennis’ sluit kultuurspesifieke patrone van algemene ervaring in, sowel as intertekstuele verwysings na literatuur en ander kunsvorme.

Deur middel van sulke kognitiewe skemata word paradigmatiese verhoudings gelê, word indiwiduele insidente en gegewens geselekteer, gegroepeer en sistematies getransformeer tot ‘n samehangende en betekenisvolle narratiewe sekwensie of intrige. Brink (1987:54-57) praat in hierdie verband van die vorming van gebeurtenisreekse, en wat dan verder “saamgeklonter” word tot gebeurtenissiklusse om uiteindelik ‘n verhaal te konstitueer.

Dit behels dus ‘n transformasionele proses wat herinner aan wat deur byvoorbeeld Bal (1980:16) as die omsetting van ‘n “geschiedenis” tot ‘n “verhaal” bestempel is, en wat via bewerkinge op ses vlakke geskied (volgorde, tyd, karakterinvulling, ruimte, simbolisering of verwysing, en gesigspunt).

Twee hoofsoorte kognitiewe skemata wat deur Hühn onderskei word – en wat herinner aan die bekende kategorie-onderskeidinge van W. Blok (1960) tussen abstrakte en verhaalmotiewe7 – is rame (“frames”) en skripte (“scripts”):

Frames designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read, as for instance death, growing up, or sexual love; scripts denote sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame, such as, to take up the examples given, dying as crossing the border between this world and another, unfamiliar one; personal growth as the development from childhood to adulthood seen in a positive or negative light (gaining more knowledge or losing spontaneous vitality, respectively); or the formalized ritual of courtly love barring the gratification of the lover’s desires (Hühn, 2004:143).

Waar rame lesers in staat stel om digwerke ten opsigte van hul situasionele en tematiese betekenisvolheid en samehang in primêr statiese verband te interpreteer, word die dinamiese, by name die verhalende dimensie van tekste deur die skriptuele element gevorm (Hühn, 2004:143-144). Daar kom gewoonlik ‘n beslissende wendingspunt (gebeurlikheid, of “event”) in voor – ‘n bepalende gebeurtenis, in Brink (1987:52-53) se terminologie – as ‘n sentrale kenmerk van die verhaalopset wat dit vertelwaardig maak (Hühn, 2004:145).

Ekwivalensies tussen tekstuele elemente word verder bewerkstellig deur isotopieë, dit wil sê semantiese of tematiese kenmerke (seme of kombinasies daarvan) wat in ‘n verskeidenheid woorde en uitdrukkings binne gedigte en digbundels voorkom, waardeur nuwe verbande binne die teks gelê en verdere lae betekenis toegevoeg word8.

Tipies van literêre tekste is dat op betekenisvolle wyses van die rame en skripte wat daarin geaktiveer word, afgewyk word; boonop, vanweë die konvensies van bondigheid, situasionele abstraktheid en veralgemeendheid wat vir poësie geld, is gedigte gewoonlik minder eksplisiet en omstandigheidspesifiek as prosakunswerke in die aanbied van tekstuele tekens waardeur rame en skripte geaktiveer word (Hühn, 2004:144).

4. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

4.1 Sintagmatiese koherensie in Lady Anne

Die sintagmatiese koherensie in die bundel word bewerkstellig rakende die kwessie van Afrikanisering (of verinheemsing) van blankes in Suid-Afrika, ‘n vraagstuk wat steeds relevant is in Suid-Afrika vandag, maar ten tye van die verskyning van die bundel, in die tydperk voordat die politieke transformasie vanaf 1990 op gang gekom het, in die brandpunt gestaan het.

Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het “om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring”, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar “volggenote/volksgenote” met elke volgende bundel van haar telkens te verruim – só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê “literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid” (Brink, 1985:79).

Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut9 om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.

Die bundel word egter ook meer as net ‘n ekspressiewe teks waarin Krog – via die instansie van die skrywende subjek – uiting gee aan haar gevoelens, oordele en dergelike. Om rekenskap te gee van die situasie waarin sy haar bevind, word gesien as deel van haar digterlike taak. In die eerste “slot”-gedig, met ‘n ietwat gewysigde en vertaalde sitaat uit lady Anne Barnard se boek Lives of the Lindsays, heet dit byvoorbeeld:

Die leuse van my vader wil ek herhaal:

hy wat versuim om sy lewe

en dié se plek noukeurig te ondersoek,

het die Skrywer van sy verhaal gefaal.

Dié rekenskapgewing geskied in en deur die skryf van die bundel, op die wyse van die poësie. “Feitelikhede uit lady Anne se bestaan en uit die eietydse aktualiteit van Antjie Krog word verweef met poëtiese ‘verdigsel’. Die digter sê immers: ‘ek moes baie jok en verkort'” (Viljoen, 1989:8). Die poëtiese werkswyse herinner daarom sterk aan “New Jounalism” of “faction”, waarin die boeiende spelmoontlikhede van die verhouding tussen feit en fiksie uitgebuit word.

Inderdaad word die feit dat ons te make het met ‘n literêre teks, en met wat deur Hühn as ‘n handeling van artikulasie of deur Brink as ‘n vertelproses bestempel sou word, op verskeie wyses in die bundel vooropgestel. Odendaal (1994:87-88) het voorheen sodanige vooropstelling in meer besonderhede aangetoon, en dit word hier opsommend benut om vertelteoretiese aspekte te belig.

Eerstens word geëksplisiteer dat beide die vertelinstansie (die skrywende subjek) en die metaforiese titelpersonasie kunstenaarsfigure is (lady Anne Barnard was skilder én dagboek- en joernaalskrywer) wat worstel met hul onvermoë om Afrika in kuns vas te lê of die vasteland in hul diepste wesens op te neem. Tweedens skroom die skrywende subjek nie om die maakproses van die bundel bloot te lê nie (“process made visible” – Hutcheon, 1980:6), byvoorbeeld in gedigte oor die moeitevolle pogings om aan die skryf te kom, of waarin geworstel word met die spanning tussen die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy (ook Krog) opgevoed is om te skryf en die eise van die onontkombare politieke situasie waarbinne sy haar bevind – gedigte waarin vertellerteks en personeteks kennelik ooreenstem10. Voorts word briewe, joernaal- en dagboekinskrywings (deur lady Anne Barnard én deur die skrywende subjek), selfs sketse van die tongvis in verskillende stadia van sy ontwikkeling, en afdrukke van ‘n menstruasie-almanak, ‘n munisipale-verkiesingsplakkaat uit 1988 en ‘n koerantknipsel van ‘n eiendomsadvertensie uit dieselfde tyd, as “onaf” gedigte aangebied. Derdens is die bundel deurspek met sitate wat die (literêr) estetiese en sosiopolitieke konteks waarbinne die bundel ontstaan het, invul.

Gestel met betrekking tot van sommige van die onderskeidinge wat Brink (1987) in sy inleiding tot die lees van verhalende tekste maak: Dinge behorende tot die verskillende vlakke (en kontekste) van die storie(s), die vertelteks en die vertelproses word in Lady Anne vervleg aangebied.

Sodoende word die soort situasionele (byvoorbeeld tydruimtelike) abstraksie en veralgemening in die hand gewerk wat so kenmerkend van die liriese genre (in onderskeid van die prosagenre) is, soos voorheen in navolging van Hühn aangetoon.

Laasgenoemde is bevorderlik vir die oorredende gehalte van Lady Anne as teks, dit wil sê as teks wat daarop gerig is om die opvattings, gevoelens, en selfs handelings van ‘n bepaalde deel van Krog se waarskynlike leserskorps te beïnvloed. Brink (1987:147) toon byvoorbeeld, in navolging van ‘n teoretikus soos Rimmon-Kenan (1983:86 en verder), aan dat daar “vir elke vertelfunksie […] ‘n ooreenstemmende leesfunksie in die teks beteken word. Ofte wel: vir elke ‘spreker’ is daar ‘n ‘aangesprokene'”11. In die lig van die bepaalde tematiese strekking van Lady Anne, waaroor net hierna in meer besonderhede uitgewy word, lyk dit of dit veral die sogenaamde ‘blanke’ Suid-Afrikaners, meer spesifiek die Afrikaners (Krog se “volksgenote”), is wat as ‘aangesprokenes’ in die bundel geïmpliseer word.

Inderdaad word die ekspressiwiteit van die bundel (die outentiekheid van die liriese belydenis, versterk deur datum-, plek- en ander outobiografiese verwysings), asook die literariteit daarvan (soos hierbo verduidelik), juis in hierdie verband oorredend aangewend. Dit gaan naamlik om die verhoging van die waarskynlikheid of geloofwaardigheid van die (eksemplariese) worstelstryd wat werklike kunstenaarspersoonlikhede soos lady Anne Barnard en Antjie Krog, met uiteenlopende uitkomste, hier te lande gevoer het – om wat Roland Barthes volgens Brink (1987:131-132) die “vraisemblance” of die “l’effet du réel” van mimetiese verbesondering sou noem.

In die lig van bostaande argument lyk dit gepas om die tema (of hoof- of sluitmotief) wat die sintagmatiese koherensie in Lady Anne bewerkstellig, te beskryf as die noodsaak van postkoloniale Afrikanisering in Suid-Afrika12.

4.2 Transformasie as paradigmatiese raam in Lady Anne

Die paradigmatiese raam waarbinne bogenoemde tema uitgespeel word in die bundel, is dié van transformasie, wat isotopies uitgebou word om vier intrinsiek verweefde vlakke in te sluit:

  • transformasie as blanke Suid-Afrikaner, waaronder as Afrikaner
  • transformasie as vrou
  • transformasie as Christen
  • transformasie as kunstenaar/digter

Hieroor weldra meer.

Dié (statiese) paradigmatiese raam word tot ‘n dinamiese skript uitgebou deurdat transformasie in hierdie geval as ‘n uittrede uit bevoorregte omstandighede en die self voorgestel word. Aangesien lady Anne Barnard se wedervarings en handelings deur die skrywende subjek as (aanvanklike) metafoor vir haar eie belewenisse benut word, kan sodanige eksistensiële uittrede deur die beeld van die uittog uit die kasteel (as simbool van Europees-Westerse geborgenheid) aangedui word. Dis ‘n uittog eerstens vanuit Europa na Afrika wat onderneem moet word, en vanuit die Kaapse kasteel die binneland van die kontinent in (soos lady Anne Barnard wel onsuksesvol gepoog het).

Die uittog-uit-die-kasteel-beeld geld dan vir isotopies ekwivalente houdingsveranderinge soos die volgende (telkens op een of meer van bogenoemde vlakke):

  • van selfgerigtheid na naasteliefde
  • van daadloosheid na daadkragtigheid
  • van estetiese preokkupasie (skoonheid) na maatskaplike impak (nuttigheid)
  • van afstandelikheid na vereenselwiging
  • van konserwatisme na rewolusionêre betrokkenheid

Die verbande wat dusdanige tematiese strekkings in die bundel het met die sieninge voorgestaan in die postkolonialistiese en feministiese kritiek (soos byvoorbeeld gekenskets in Van der Merwe en Viljoen, 1998), is klaarblyklik.

Om egter terug te keer na die vier paradigmavlakke van die transformasietema-raam in Lady Anne: Ook hieroor het Odendaal (1994:90-93) reeds meer breedvoerig geskryf, mét illustrasies uit die bundel, en die strekking daarvan word hier hoofsaaklik opsommenderwys weergegee.

‘Blanke’ Suid-Afrikaners word geteken as hebsugtige maghebbers, as ‘n bevoorregte, pretensieuse en selfs huigelagtige besittersklas (veral in gedigte uit Deel II van die bundel). Parallelle word getrek met die situasie in die 1980’s in Suid-Afrika, en die skrywende subjek voel haar deel hiervan. “[E]k is gebore / aan ‘n gilde / van hebsug en hoon”, skryf sy byvoorbeeld in die gedig “parool” (bladsy 37). Daar word voorts geïmpliseer dat dié blanke maghebbers ‘n wrede, bloeddorstige geslag is, maar dit word ook duidelik gemaak dat húl wêreld ‘n bedreigde een is – trouens, dat hulle aan die einde van ‘n era leef:

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en despe-

raat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en

heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

(“Lady Anne by die mikrogolfoond”, bladsy 71)

Oor die magtelose, onderdrukte niebesitters (die sogenaamde ‘nieblankes’ of ‘anderskleuriges’) word daarenteen min gesê. Die swartman bly in ‘n groot mate die onbekende “broer” met wie die digter nie mooi weet hoe om haar te versoen nie (“nuwe alfabet”, bladsy 91). Voorop staan die ellende en geweld wat dié mense die hoof moet bied. Die enkele kere waar wel iets meer aangaande hulle gesê of gesuggereer word, is die uitbeelding eerder gunstig.

Ook wat religieuse kwessies betref, is die voor- en afkeure duidelik. Die tradisionele Christelike geloof in die volkome versoening wat deur die lyding van Christus vir die mens se sondes bewerkstellig is, word as ontoereikend en uitgediend gesien. Daarom dat sowel lady Anne as die skrywende subjek hul ontuiser voel in die ‘blanke kerke’, terwyl hulle egtheid en krag van geloof ervaar in ‘anderskleurige’ gemeentes. Heil word dus eerder gesoek in ‘n teologie (die sogenaamde “bevrydingsteologie” – vergelyk Brink-de Wind, 1992) wat ‘n horisontale versoening tussen mense onderling predik, ‘n bevryding van aardse onreg deur ons tot die dood toe te verneder vir ‘ander’. Volgens die bevrydingsteologie is God aan die kant van die armes en onderdruktes. Dit staan ‘n daadwerklike ingrype in sosiale en politieke misstande voor om ‘n aardse heilstaat te bewerkstellig. Soos dit aan die einde van die gedig “Op klipplate word seile oopgegooi” (bladsye 47-48) lui: “[…] hoe meer / jy het hoe meer is jy verskuldig”. Om van haar “eksklusiewe smet” ontslae te raak, sal lady Anne – so verneem sy in die gedig “Toe Dundas met sy dik aksent” (bladsy 65-66) – intense lyding moet ondergaan. Dit is ook in die lig hiervan dat die woorde “die mens lewe van slagspreuke alleen” in die slotgedig van die bundel (bladsy 108) verstaan moet word. Eerstens word die konnotasies van geweld en lyding rondom “slag” geaktiveer. Tweedens word die honger Jesus se bekende antwoord (“Die mens kan van brood alleen nie lewe nie” – Matteus 4:4) op die duiwel se versoekende uitdaging om die klippe in brood te verander, ironies verdraai om die gevoelde noodsaak vir religieus-geïnspireerde politieke optrede uit te hef.

Oor die gemarginaliseerde posisie van die vrou in die samelewing laat die skrywende subjek haar in die bundel ewe sterk, hoewel minder eensydig uit. Die metaforiese personasie lady Anne word in haar verhoudings met verskillende mans (Dundas, Windham, Andrew Barnard) voorgestel as ‘n sterk vrou wat haar volkome bewus is van die magspel tussen man en vrou. Hiervan getuig die erotiese gedig “dis middernag en piouter” (bladsy 24) met sy byna militant feministiese klank.

Ook die skrywende subjek spreek haar uit oor die man-vrou-verhouding ten opsigte van ‘n magspel. Die erotiese spel tussen man en vrou word gesien as slagveldmaneuvers, en vrouwees word in ‘n sekere sin ervaar as nederlaag (“Soos wat jy gisteraand ingestap het”, bladsy 74). Manlike chauvinisme kan sy nie verdra nie (“given line: macho-mans gee my die creeps”, bladsy 67). Sy bly egter bewus van die kompleksiteit van die situasie, erken byvoorbeeld haar afhanklikheid en haar verantwoordelikhede as ma. Die man is nie net heerser nie, maar ook slagoffer van vrou en familie. Iets van hierdie ambivalensie spreek uit die gedigte op bladsye 72 en 73 in die bundel.

Oor die vierde paradigmavlak is reeds heelwat gesê in die bespreking hierbo van die vooropstelling van die literariteit van die bundel. Genoeg om te beklemtoon dat die spanning tussen estetiek en politiek sentraal in die bundel staan, ‘n bundel wat eintlik gekonsipieer is as ‘n opgaaf om dié ‘swart’ Afrika-kontinent en -land en hul aktualiteit, asook die rol en verantwoordelikheid van ‘n ‘blanke’, vroulike digter daarbinne, deur middel van die skryfdaad te deurgrond om sodoende daarmee versoen te raak13. ‘n Kerngedig in die bundel wat spesifiek oor hierdie spanning handel, is “parool” (bladsye 35-38), ‘n gedig wat deur Kannemeyer (1989:39) as die “ars poetica van die politieke vers” bestempel is. Die kern van die saak is dat die skrywende subjek, soos lady Anne, ervaar dat die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy opgevoed is en waarvan sy sukkel om haar te bevry, ontoereikend, nutteloos en daarom verwerplik is binne die (destydse) Suid-Afrikaanse konteks van armoede, onreg en onderdrukking. Hier is rewolusionêre poësie nodig:

woorde as AK 47’s moet veg

poësie moet nuttig wees, daad, belas

met die uitering van die stryd altyd part

staan poësie kan rewolusie puur[.]

(“parool”)

Daarom, om haar met Afrika en die swartman van Afrika te kan versoen, moet sy ‘n “nuwe alfabet” (bladsy 91) leer: “A is altyd teen apartheid / B is blind vir kleur”. Die benutting van gewoonlik niepoëties geagte tekste (soos die talle sitate van sosio-politieke en poëtikale aard, die verkiesingsplakkaat, die menstruasie-almanak, ensovoorts) is ikonies van dié anti-elitêre estetiese strewe – ‘n deurbreking “op ‘n opsigtelike manier” van “die vertroude grense van die poësie” (Viljoen, 1991b:20). Ten slotte voel die digter haar derhalwe die “groot van-kant-maker” van die nuttelose Europees-Westerse estetiek soos deur lady Anne verteenwoordig: “onder my duim lê die fyn sintaksis van jou strot”. (Albei die laaste aanhalings uit “slot”, bladsy 108.)

Trouens, soos reeds aangetoon, kan lady Anne Barnard se simboliese terugvlug die Kaapse kasteel in – waardeur sy uiteindelik as metafoor vir die skrywende subjek, as ‘n vehicle waardeur laasgenoemde haar eietydse situasie en posisie kon verken en peil, verwerp moet word – beskou word as die gebeurlikheid (“event”) wat volgens Hühn vir die keerpunt in die poëtiese intrige verantwoordelik is.

4.3 Tydshantering en bundelopbou in Lady Anne

Dié keerpunt staan duideliker uit as ‘n mens die hantering van tyd in die bundel, asook die bundelopbou, in oënskou neem.

Die chronologie van (dele van) lady Anne Barnard se lewe – “die historiese diskoers” in die bundel (Crous, 2003b:151) – kan min of meer gerekonstrueer word uit die bundel; plek-plek word dit aangevul deur grepe uit ‘n vroeër tyd (byvoorbeeld “lied geskryf voor die geboorte van lady Anne Lindsay, 1750”, bladsy 12; of die anonieme brief uit 1300, bladsy 11). Hierop gryp die skrywende subjek op verskillende wyses in. Lady Anne se reise word niechronologies herhaal, gereleveer en gerelativeer (Brink, 1989:13); én die vertelteks oor lady Anne word verkap aangebied met ‘n tweede vertelteks – dié van die belewenisse en wroeginge van die skrywende subjek van die laat 1980’s (op die vier tematiese vlakke wat in die vorige afdeling vermeld is). Boonop loop dit alles uit op die numeries afwykende afdelingaanbod in die bundel: I, II, V, IV, III.

Sodoende ontstaan ‘n verweefde veld van spanninge tussen wat ‘n mens, na die voorbeeld van Brink (1987:127), sou kon noem deurlopendheid (gedra deur die twee stories) en onderbreking (geteken deur die verkaptheid van die aanbieding van die twee stories, dit wil sê die breuke in die vertelteks). Die funksie van sodanige spanningskepping beskryf Brink (1987:127) as “‘n aktivering van die begrip van grense wat oorgesteek word (analoog aan die verskynsel van versreëls en enjambement in ‘n gedig). Dit gaan om die konstituering van betekenisse téén die bloot lineêre chronologiese patroon in”.

Bondig saamgevat, en hier ter wille van oorsigtelikheid diagrammaties voorgestel, behels die numeries afwykende bundelaanbod, dit wil sê die vertelteks soos die leser dit vanaf bladsy 1 tot 108 te lese kry, die volgende gebeuresekwens of “sjužet”14:

 

Bundelafdeling Storie 1: Lady Anne Barnard Storie 2: Die skrywende subjek
Deel 1 Lady Anne Barnard se afkoms en haar koms na die Kaap word uitgebeeld. (Hoewel hierdie “storie 1”-gedeelte later in dié bundeldeel aan die bod kom as die “storie 2”-gedeelte hiernaas vermeld.) Die moeilike begin met die bundel Lady Anne en die skrywende subjek se probleme om die regte metafoor te vind om haar worstelinge voor te stel.
Deel II Lady Anne Barnard aan die Kaap; haar flambojante, bevoorregte lewe, maar ook haar uitsonderlikheid as sterk, ondernemende vrou; haar liefdeslewe en haar skryfwerk. Daarteenoor die skrywende subjek se belewing van, en haar worsteling met, die wantoestande, ook die noodtoestand in Suid-Afrika van die jare 80; die probleme van digter-wees in sulke omstandighede.
Deel V Dagboek van lady Anne Barnard oor haar togte die Kaapse binneland in, vervleg met die skrywende subjek se dagboekaantekeninge oor háár besoek aan Skotland om lady Anne se bevoorregte afkoms na te vors. Sentraal staan lady Anne se (poging tot) kennismaking met die landskap en die mense daarin; telkens word op slavinne gefokus – hul onmisbaarheid en hoe hulle uitgebuit word. Dan beleef sy ‘n krisis op Genadendal (ironies!), ‘n “moment van insig waar sy geestelik sou kón wegbreek uit haar kondisionering as wit, adellike vreemdeling om tot ‘n vorm van handeling oor te gaan” (Brink, 1989:13); sy vlug egter terug na die kasteel. Net hierna staan ‘n rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die destyds behoudende Konserwatiewe Party afgedruk (bladsy 59; implikasie: dit gaan om dieselfde soort keuse as lady Anne s’n), onmiddellik gevolg deur ‘n ovulasie-almanak (met sy beklemtoning van die “bloedige” = lewensegte en wrede realiteit/identiteit waarmee die skrywende subjek gekonfronteer staan).
Deel IV Belewings van geweld, verset en bloed staan voorop: Lady Anne beleef die vuur in die pakkamers, daar word berig oor haar belewenisse tydens die Franse rewolusie, oor haar ervaring van die diskriminerende bevoorregting van die man, oor die ophang van rebelle, oor slawerny en haar opstandigheid daaroor. Tussendeur verneem ons ook van die skrywende subjek se situasie: haar belewing van die noodtoestand en geweld in haar eietydse SA, van die stryd tussen die geslagte, haar siening dat die Afrikaanse poësie nie in staat is om iets in hierdie omstandighede by te dra nie; haar beskrywings van beesslag, veroudering, moederskap; die transformasies wat sy sal moet ondergaan om van Afrika te word. Sy word nou ‘n eietydse lady Anne, ‘n “Lady Anne by die mikrogolfoond” (bladsy 71).
Deel III Lady Anne Barnard vertrek terug na Europa; daar is nog korrespondensie tussen haar en Andrew Barnard aan die Kaap tot en met sy dood. Die skrywende subjek voel die noodsaak van transformasie sterk aan (vergelyk “transparant van die tongvis”, bladsye 92-92), neem ondubbelsinnig afskeid van lady Anne en haar soort; leer ‘n nuwe alfabet aan, skryf ‘n gedig oor skuld – gaan dus ‘n Afrika-toekoms tegemoet.

Hiervolgens gelees, staan die draaipunt-gebeurtenis van lady Anne Barnard se terugvlug die kasteel in (waar die gebeurlikheid die storievlak oorskry en dit ‘n “discourse event” word, volgens Hühn, 2004:151-152) ongeveer in die middel van die bundel (op die 58ste van 108 bladsye). Waar lady Anne nie háár insig in dade wil of kan omsit nie, word sy vir die skrywende subjek al hoe meer irrelevant, sodat lady Anne se vertrek, soos aan die bundeleinde (deel III) beskryf word, ook ‘n finale afskeid van haar as metafoor. Die verkenning van haar eietydse aktualiteit via die historie van lady Anne word dus vanaf die middel van die bundel toenemend ‘n innerlike verkenning deur die skrywende subjek, deurdat haar metafoor ‘n ander koers as sy ingeslaan het.

In die lig hiervan, en die feit dat die bundel afskop met Antjie Krog se geworstel om aan die skryf te kom, word dit duidelik dat die storie van lady Anne inderwaarheid verkap ingebed is in dié van die eietydse skrywende subjek, naamlik aanvanklik in ‘n verhelderende of verduidelikende funksie met betrekking tot die skrywende subjek se worstelinge, maar daarna in motoriese funksie as stimulus vir laasgenoemde se eie lewensrigtingkeuse15.

Dit is eintlik deurgaans “vandag se verteller” (om ‘n slag Brink se bestempeling van die subjek te benut) se perspektief wat gebied word, ook waar dit om die uitbeelding van lady Anne se lewe gaan. “As skrywende subjek oefen sy beheer oor die diskoers uit deurdat sy besluit watter uitinge ingesluit, hoe dit georganiseer en watter uitinge uitgesluit moet word, aangesien dit nie inpas by die moderne diskoers […] in Suid-Afrika nie” (Crous, 2003b:155).

Die nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings is vir die leser – soos vir die skrywende subjek – belangrik. Dit word ‘n uitnodiging om die bundel in dié volgorde te lees (in numeriese volgorde vanaf afdeling I tot V), sodat die leser/skrywende subjek uiteindelik (in dié bevoorregte bundeleindposisie) met dieselfde keuse/insig as lady Anne gekonfronteer word, soos die plasing van die genoemde verkiesingsplakkaat en ovulasiealmanak impliseer. ‘n (Polities-sosiaal) negatiewe slot word gesuggereer: laertrek deur blankes, en ‘n bloedige toekoms.

Vandaar dat Crous (2003b:157) “Krog se diskoers” as “ideologies van aard” kan bestempel.

4.4 ‘n Oorredende teks

Ons het al aangetoon dat Lady Anne as ‘betrokke’ bundel ‘n sterk oorredende aard het – dat die pragmatiese kommunikatiewe funksie16 daarvan besonder belangrik is. Hierdie nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings, en die “uitnodiging” om dit daarvolgens te lees, versterk sodanige aard van die bundel.

In sy reeds vermelde artikel het Odendaal (1994:93-98) in meer besonderhede op die oorredende kenmerke van die bundel ingegaan. Hy kon aantoon dat die retoriese vraag (meermale gepaardgaande met ‘n inklusiewe “ons”, byvoorbeeld in “van watter breed is ons?”) ‘n stylgreep is wat redelik dikwels in die bundel benut word om lesersbetrokkenheid by die argumentatiewe proses te vergroot; ook dat daar in die aanbod van teksinformasie ‘oop plekke’, logiese lakunes en afwykings aangebring is wat die leser as ‘t ware noop om teksbetekenisse in te vul (Wierenga, 1978:161), byvoorbeeld via implisitering deur simboliek. Die tongvisdiagramme in die bundel, wat verskillende ontwikkelingsfases in die lewe van dié vissoort aandui, funksioneer byvoorbeeld simbolies van die bundelboodskap dat aanpassing deur transformasie nodig is. Daar word aanspraak gemaak op die kennis van die leser om die implikasie van die simboliek te verstaan, hoewel ‘n gedig soos “transparant van die tongvis” (bladsy 92-93) iets van die tongvis-simboliek eksplisiteer.

Amplifikasie, dit wil sê die induktiewe perspektiefverbreding of “infinitisering” van ‘n situasie of geval deur ‘n gepersonaliseerde, gelokaliseerde en getemporaliseerde situasie te veralgemeen (Wierenga, 1978:162), is ‘n volgende retoriese tegniek wat Krog inspan om die ontvanger by die konkretisering van die teks te betrek. So word die spesifieke geval van lady Anne Barnard as metafoor deur en vir die skrywende subjek gekies, juis omdat sy aanvanklik die ervaring van lady Anne Barnard as eksemplaries (of verhelderend of verduidelikend, soos hierbo vermeld) van haar eie – en van diesulkes soos sy – gesien het.

‘n Beskouing van die tydshantering in die bundel (aan die hand van Brink, 1987:93-96, se begripsverklarings) maak sodanige infinitiseringsproses duideliker. Die verkapping van die twee stories wat in die bundel opgeroep word, werk ‘n vermenging van prosestyd (die ontvouing van die storie van die skrywende subjek van waar sy sukkel om te begin skryf, tot waar sy uiteindelik vir lady Anne as metafoor van transformasie verwerp) en retrospektiewe tyd (die terugblik op lady Anne se doen en late) in die hand, sodat ‘n politemporele tydsbelewenis vir die leser moontlik word. Daardeur word die universaliteitsaanskyn van die uitgebeelde belewenisse én die tematiese strekking van die bundel versterk.

Soos reeds bekend, moet die skrywende subjek later in die bundel vir lady Anne as historiese metafoor verwerp17. Ten spyte van ‘n kritiese ingesteldheid teenoor die misstande van haar tyd, kon lady Anne haar nie uit die kettings van haar bevoorregte stand losruk nie. Daarom, soos dit in die gedig “ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef” (bladsy 40) uitgedruk word: “gearriveer met jou hele frivole lewe sit ek nou berserk / met jou op my lessenaar: as metafoor is jy fôkol werd”.

Die skrywende subjek kies om as digter die rewolusionêre weg, die weg van Afrikanisering te gaan. Dié keuse word voorgestel (in woorde wat aan dié van Maarten Luther eeue gelede herinner) as sou dit onontwykbaar wees, as sou die waaragtigheid van haar insig en haar roeping aan haar opgedring wees: “hier leer ek skryf – ek kan nie anders nie” (uit die gedig “nuwe alfabet”, bladsy 91).

Hierdie insig, hierdie hartsverandering by die skrywende subjek, word dan as eksemplaries vir ‘blanke’ Suid-Afrikaners voorgehou. Dit geskied by implikasie deur die verwerping van die voorbeeld van lady Anne, maar word nêrens geëksplisiteer nie. Eintlik het ons hier te doen met ‘n soort logiese reduksievorm. Aristoteles het reeds aangetoon hoe ‘n reduksie van die drieledige sillogisme as argumentasievorm, byvoorbeeld deur die weglating van een van die premisse of van die gevolgtrekking om ‘n tweeledige enthymema te vorm, retories aangewend kan word (Wierenga, 1978:161-162; en Hauser, 1986:75-76). ‘n Mens sou byvoorbeeld die boodskap van die bundel in die volgende sillogistiese struktuur kon saamvat:

I. Ten einde te kan aanpas by die (Suid-)Afrika-konteks en bestaande verontregting daadwerklik te kan help regstel, sal blankes moet transformeer wat betref sekere tradisionele (Christelik-Westerse) beskouings, waardes en leefwyses.

II. Lady Anne Barnard kon of wou nie sodanige transformasie ondergaan nie, en haar lewe getuig van “totale stralende nutteloosheid” (soos dit in die gedig “jy word onthou vanweë jou partye” op bladsy 96 uitgedruk word)18.

III. Daarom behoort blanke Suid-Afrikaners die voorbeeld van die skrywende subjek te volg en ten gunste van transformasie te kies.

Dit is die gevolgtrekking van die sillogisme wat in die bundel versweë bly en ‘n ‘oop plek’ is wat deur die leser ingevul moet word. Dat die (blanke) Suid-Afrikaanse lesers van die laat tagtigerjare gekonfronteer is met sodanige keuse, word duidelik gemaak deur die plasing van die genoemde munisipale verkiesingsplakkaat aan die einde van die bundel (as dit in numeriese afdelingvolgorde gelees word). Dis ‘n bevoorregte posisie in die teks, sodat die belang daarvan beklemtoon word. Boonop staan dit teen die agtergrond van die twee onmiddellik voorafgaande gedigte. In die eerste daarvan, “Drie Morawiese broeders huisves ons” (bladsye 55-57), moet lady Anne, ná haar kennismaking met die binneland, teen die einde wanhoop in die vermoë van haar kuns om iets van dié land “ingepas geskaal” te kry. Die volgende gedig, “Middagete op Blaauwbergpas …” (bladsy 58), beskryf dan haar wegvlug van die land se felle realiteite na die veiligheid van die afgeslote, ‘gekultiveerde’ Kaapse kasteel, en vandaar terug na Europa. In hierdie lig moet die plasing van die plakkaatafdruk gesien word as ‘n bedagmaking op en ‘n waarskuwing teen ‘n eietydse ideologiese bevangenheid ekwivalent aan dié van lady Anne.

Die invulling van die ‘oop plek’ word bykomend dwingend gemaak deur die intertekste, by name deur die aard van die meeste van die sitate wat verspreid in die bundel voorkom. Om ‘n enkele voorbeeld aan te haal (bladsy 8): “‘As ek my kinders nie kan leer om wit Afrikane te word nie, vernietig ek hul toekoms,’ sê dr Smith. […] ‘Ek dink hierdie land het ‘n rewolusie nodig om hom weer gesond te maak.'” Sulke sitate deurbreek nie net die fiksionaliteit van die teks deur die buitetekstuele realiteit die diskoers binne te ruk nie; deurdat die insigte en ervaring van ander persone betrek word, word die waarskynlikheid en relevansie van die bundelboodskap verder vergroot.

Ook die aanduidings dat van briewe, dagboek- en joernaalinskrywings gebruik gemaak word, die afdruk van die ovulasie-almanak en die verkiesingsplakkaat, trouens ook die hele blootlegging van die maakproses van die bundel, moet, soos voorheen aangetoon, in hierdie lig beoordeel word. Die outentiekheid van lady Anne Barnard én Antjie Krog se worstelstryd met die onderhawige vraagstukke word hierdeur beklemtoon, sodat die hartsveranderinge wat die digter voorstaan, steeds aan ‘geldigheid’ wen.

4.5 Die aktansiële dieptestruktuur in Lady Anne

Greimas (1971) se aktansiële model wat, soos onder andere Du Plooy (1992e:5) aandui, “‘n baie nuttige instrument [is] in die analise van verhalende tekste”, het ‘n toepaslikheid op Lady Anne waardeur die narratologiese dieptestruktuur van die bundel oorsigtelik gemaak kan word19.

Heel kernagtig en diagrammaties voorgestel, behels dié model die volgende:

Begunstiger       →→→→→→     OBJEK             →→→→→→     Begunstigde

(positief óf negatief)                                ↑

 ↑

 ↑

                                                            streef na

                                                             ↑

Helper   →→→→→→     SUBJEK           ←←←←←←     Teenstander

Die subjek in Lady Anne is die skrywende “ek” in die bundel wat, soos al aangetoon, in ‘n groot mate met die reële outeur Antjie Krog te vereenselwig is. Soos gesien, word vier aspekte of rolle van die subjek betrek in die bundel: dié van (Afrikaanse) blanke, dié van (blanke) vrou, dié van digter en dié van as Christen.

Die strewe, oftewel die aangevoelde ‘noodsaak’ (soos aangedui), is na Afrikanisering, wat dan die aktansiële objek uitmaak van die vertelteksdieptestruktuur (wat ook ‘n “nie-personale doel of hoedanigheid” kan wees – Du Plooy, 1992e:4). Dié abstrakte objek verteenwoordig, soos voorheen uitgewys, houdings soos die volgende: naasteliefde en vereenselwiging (die Afrika-ideaal van Ubuntu), daadkragtigheid, maatskaplike impak of nuttigheid, rewolusionêre betrokkenheid.

Die negatiewe begunstiger(s) wat die hele onderneming of strewe teenwerk of belemmer is (met betrekking tot die vier rolle waarbinne die subjek figureer): die Europees-Westerse, kolonialistiese sosio-politieke sienings (soos vergestalt in die voormalige apartheid-Suid-Afrika); fallogosentristiese beskouings (verpersoonlik deur die “macho-mans” wat die skrywende subjek “die creeps” gee – bladsy 67); die (Europees-Westerse) estetika waarbinne haar digterskap sy beslag gekry het; en die maatskaplike afstandelikheid van die Christelike hoofstroomteologie. Soos gesien, verteenwoordig dié negatiewe begunstigers houdings of eienskappe soos selfgerigtheid, daadloosheid, estetiese selfpreokkupasie, afstandelikheid en konserwatisme.

Die liberale lady Anne Barnard (‘liberaal’ in die Europees-Westerse sin van die woord) figureer aanvanklik as die oënskynlike helper van die skrywende subjek, naamlik as die metaforiese voertuig waardeur laasgenoemde haar eie tyd kan verken en ‘n moontlike weg kan baan uit die ‘kasteel’ van beperkings waarin sy haar bevind. Later, wanneer die nutteloosheid van lady Anne as metafoor ontmasker is en lady Anne letterlik en figuurlik terugvlug die kasteel in, word sy, saam met die ondersteuners van die apartheidsbestel met sy manlik-chauvinistiese kenmerke, die verwerplike teenstander van die skrywende subjek.

Laasgenoemde word vooropgestel deur die ‘dubbele’ struktuur van die bundel, die nie-opeenvolgende numerering van die afdelings. Hierdeur vorm sowel lady Anne se terugvlug die kasteel in as die rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die laat 1980’s (albei as simbolies van die onvermoë of onwilligheid om ten gunste van Afrikaniserende transformasie te kies) en die ovulasie-almanak (as simbolies van die gestereotipeerde ‘private’, polities nie-aktiewe rol van die vrou) op ‘misplaaste’ wyse een bundeleinde in die middel van die boek. Die ‘verwerping’ blyk uit wat hierop volg in die bundel – byvoorbeeld dat die sprekende subjek as ‘t ware ‘n nuwe alfabet begin aanleer, soos voorheen uitgewys.

Trouens, ‘n mens sou die poësie (die “nuwe alfabet”) en die transformerende krag daarvan as een van die verdere aktansiële ‘helpers’ in die bundel kan beskou. Let maar net op die benutting van diagramme van die tongvis in verskillende fases van ontwikkeling in die bundel. Soos Odendaal (1994:94-95) aangetoon het, word dié vis (wetenskaplike spesienaam Hippoglossus hippoglossus, saamgestel uit die Griekse woorde vir ‘perd” en ‘tong/taal’) uitgebou tot simbool van onder meer “die onvermoeide en onvermydelike bemoeienis van die digter met die taal, waarmee [die Afrikaniserings-] transformasie medebewerkstellig moet word”.

In die “slot”-gedig op bladsy 108 konstateer “die bard” derhalwe onder meer soos volg:

ek is die groot van-kant-maker! van titel en tuig

sal ek ons bevry ons prysgee hart-

lik wring tot die lady viva tongvis juig[.]

In die lig van die aangetoonde oorredende aard van die bundel, sou ‘n mens ook kon sê dat die skrywende subjek eintlik beoog het dat ook die blanke Suid-Afrikaanse kiesers, én die Afrikaanse skrywers en hulle lesers, helpers moes word in die verwerkliking van haar strewe.

Die voorsiende begunstigde in die bundel (want die strewe na Afrikanisering word nog nie verwerklik in die bundel nie, en die apartheidsbestel was in 1989 nog nie ten einde nie) is in die eerste plek die skrywende subjek (by implikasie Antjie Krog self). Soos aangetoon, word amplifiserende tegnieke in die bundel aangewend om die wedervaringe en dilemmas van dié skrywende subjek (Krog) én lady Anne uit te bou tot die eksemplariese vir blanke Suid-Afrikaners in die breë. Die strekking is dat blanke Suid-Afrikaners, en miskien veral Afrikaners, begunstig sal word deur ‘n Afrikaniserende transformasie.

5. Slotopmerkings

Uit bostaande is dit duidelik dat Lady Anne ‘n goeie illustrasie bevat van die volgende samevatting deur Hühn (2004:146) van wat ‘n liriese intrige behels:

A plot is constituted by the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences. Plots are normally attributed to an agent (e.g. the protagonist) and derive their particular function from this attribution. Events form the crucial turning points in the progression of plots and are in turn defined by these. In poetry, a plot typically uses as its medium mental phenomena such as ideas, memories, desires, emotions, imaginations, and attitudes which the agent in a monological reflective and cognitive process ascribes to himself as his plot and through which he can then define or stabilize his self-concept or identity.

Die benutting van die figuur van lady Anne as metaforiese vehicle, en die inkorporering van allerlei gewoonlik nie-poëties geagte tekste, is slegs oënskynlik nie te versoen met die kenmerk van monologiese refleksie nie. Soos gesien, staan dit alles ingebed in en geteken deur die diskoers wat Krog via die (skrywende subjek in die) bundel voer betreffende (veelvlakkige) houdingstransformasie. Sy streef om sodoende ‘n verafrikaniseerde identiteit vir haarself daar te stel, ook vir haar “volksgenote” wat sy by implikasie hoop om met haar siening te laat identifiseer.

“Sou dit verregaande wees om aan die hand te doen dat Lady Anne eintlik gelees kan word as ‘n roman in verse?” het Brink (1989:13) in sy resensie oor die bundel gevra, en spesifieke kenmerke genoem wat hom wel so laat dink: “‘n narratiewe diskoers waarin strategieë soos karakterisering en gebeure binne die dimensies van tyd en ruimte fungeer, voortgebring vanuit ‘n duidelike vertelsituasie”. So wou Krog ‘n verantwoorde sosiaal-betrokke digkuns vestig20 en haarself sodoende posisioneer as “‘n skrywer in die Derde Wêreld” (Krog, 1989b:44).

Soos gesien, sou dit tot ‘n ernstige uitdaging van die ‘tradisionele’ grense tussen die poësie- en prosagenres aanleiding gee, waardeur Lady Anne die weg gebaan het vir ‘n hele aantal Afrikaanse ‘narratiewe’ bundels, meermale in die ‘praatpoësiestyl’, in die twee dekades sedertdien (Odendaal, 2009).

AANTEKENINGE

1 Lady Anne word onder meer deur Brink (1991), in sy aanpassing van die postkoloniale model vir ‘n blik op ontwikkelinge en moontlikhede vir die Afrikaanse letterkunde, in hierdie verband uitgesonder. Hy (Brink, 1991:12) bestempel Krog se bundel as ‘n voorbeeld van “die merkwaardige verwikkelinge” wat in die aanloop tot die millenniumwending sigbaar geword het betreffende “‘n hersiening – ‘n verbreding en komplisering – van die begrip [eie identiteit en] wat aan ‘n groter besef van Suid-Afrikaansheid uiting sou kon gee”.

2 Dié term sal in die res van die artikel benut word om te verwys na die geëksplisiteerde abstrakte outeur, maar wat weens die duidelike outobiografiese gegewens in die bundel grootliks met die reële outeur, Antjie Krog, te vereenselwig is. Brink (1989:13) verwys na “vandag se verteller” in hierdie verband.

3 Die “point of view”, wat al in 1921 deur Lubbock uitgelig is as sentrale eienskap in vertelling – vergelyk Du Plooy (1992a:385) en Brink (1987:14).

4 Vergelyk Afrikaanse bronne soos Brink (1987:15, 17-18, 26-27), Du Plooy (1992a:384-387, 1992b:120-121 & 1992c:150-152) en Van Coller (1987:50).

5 Brink (1987:67 & 84) vertaal Greimas se aktante-begrip met die term akteurs.

6 Vergelyk Odendaal (1997:39-40, 61-67) vir ‘n meer uitvoerige bespreking van die ikonisiteitskonsep.

7 Vergelyk onder meer Du Plooy (1981:195) en Van Coller (1987:16).

8 Greimas (1971) het dié terme uit die veld van die semantiek vir die verhaalteorie geleen, soos onder meer Brink (1987:22) aantoon.

9 Vergelyk byvoorbeeld Brink (1987:154-158) oor hierdie vertelgreep en die funksies daarvan.

10 Kyk onder andere Bisschoff (1992:565-566) en Brink (1987:79-80) vir omskrywings van laasgenoemde terme. Die terme outeurs-, vertellers– en personeteks is van Schmid (1973:29) en word uitvoeriger behandel deur Van Coller (1980:17-21 & 1982:238-240) en Van Coller en Van Rensburg (1982:220-222).

11 Van Coller (1982) lewer ‘n uitgebreide bespreking van die verskille tussen fiktiewe leser en abstrakte leser en die belangrike metodologiese en interpretatiewe onderskeide tussen vlakke “sprekers” en “hoorders”.

12 Kyk byvoorbeeld Van Coller (1987:16) en Du Plooy (1992d:328) vir die uitruilbaarheid van die terme tema, hoof- en sluitmotief.

13 Hieroor het onder meer Gouws (1989) en Brink-de Wind (1992) meer uitvoerig geskryf.

14 Vergelyk Du Plooy (1986:139-142) se analise van Lotman se siening van die begrip sjužet, asook Van Coller (1984:1-15 & 1987:5-6, 13-15) se besprekings in hierdie verband.

15 Gekursiveerde terme geleen by Brink (1987:155).

16 Vir ‘n bespreking van die literêre werk as taalhandeling met ‘n sterk “oorredende” of “perlokusionêre” gerigtheid, vergelyk Van Coller (1992) en Van Coller en Van Rensburg (1984).

17 Terwýl sy simpatie met haar “stralende nutteloosheid” voel, soos op bladsy 96 in die bundel verwoord, en waar “stralende” naas skoonheid ook iets van ‘n heilige sfeer oproep (aldus Viljoen, 1991a:26).

18 Skaars drie strofes tevore in dieselfde gedig bely die skrywende subjek egter ook aangaande lady Anne Barnard: “god ek is verknog aan jou”. Op subtiele wyse word dus erken dat die Westerse invloede tog nie totaal verwerplik is nie.

19 Vir verdere illustrasie van die aktansiële struktuur, vergelyk Van Coller (1984:9 & 1987).

20 “[V]ir ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe ruimte […] ‘n nuwe poëtika” (Brink, 1989:13).

 

VERWYSINGS

Bal, M. 1980 (1978). De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Blok, W. 1960. Verhaal en lezer. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Brink, A.P.

1985. Literatuur in die strydperk. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

1987. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1989. Antjie Krog se Lady Anne: ‘n Roman van ‘n bundel. Vrye Weekblad, 18 Augustus:13.

1991. Afrikaans: Op pad na 2000. (Tiende D.F. Malherbe-gedenklesing.) Acta Varia 1991(1). Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Brink-de Wind, M. 1992. Lady Anne deur die oog van die vis. Tydskrif vir Letterkunde 30(2), Mei:99-112.

Bronzwaer, W. 1990. Poëzie en iconiciteit. Forum der letteren, 31(2):93-103.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.

Crous, Marius.

2003a. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

        2003b. Anne en Antjie: Die wisselwerking tussen diskoerse in Antjie Krog se Lady Anne. Stilet   15(2), September:149-171.

Du Plooy, H.J.G.

1981. Die verhaal in “Laat vrugte” en “18-44”. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

1992a. Plot. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:384-387.

1992b. Fabula en sjužet. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:120-121.

1992c. Geskiedenis/storie/verhaal en teks. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:150-152.

1992d. Motief. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:326-328.

1992e. Aktant en aktansiële model. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:3-5.

2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

Esterhuizen, Louis. 1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

Gouws, T. 1989. Krog se Lady Anne gelyke van Tristia. Insig, Oktober:43.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hauser, G.A. 1986. Introduction to rhetorical theory. New York: Harper & Row Publishers.

Hühn, P. 2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.

Hutcheon, L. 1980. Narcissistic narrative; the metafictional paradox. London & New York: Methuen.

Kannemeyer, J.C. 1989. Die horries van A.E. Samuel (gebore Krog). Tydskrif vir letterkunde 27(3), Augustus:33-42.

Krog, A.

1989a. Lady Anne. Bramley: Taurus.

1989b. Waarom praat ons van vroue-skrywers? Die Suid-Afrikaan 22:41-44.

1995. Gedigte 1989-1995. Groenkloof: Hond.

2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

Lategan, B.J. (ed.). 1992. The Reader and Beyond. Theory and Practise in South African Reception Studies. Pretoria: HSRC.

Odendaal, B.J.

        1994. Retoriese fasette van die tematiek in Antjie Krog se Lady Anne. Kruispunt, Literair kwartaalschrift 157 (jaargang 35), Junie:86-100.

        1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006). Stilet 21(2), September:114-133.

Pier, J. (ed.). 2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction. London: Methuen.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in der Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Stolk, F.R.W. 2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127.

Vaessens, Thomas & Joosten, Jos. 2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.

Van Coller, H.P.

1980. Etienne Leroux as siklusbouer. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

1982. Pilatus of Pilaar? ‘n Ondersoek na illokusieverwagtings in De Onrustzaaier van Willem van Maanen. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:235-252.

1984. ‘n Kortgids by die bestudering van ‘n kortverhaal. In: Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984: 1-15.

1987. Laat vrugte (behandel deur…). Reuse Blokboek 20. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1990. Narratiewe konvensies en Onse Hymie. Tussenkoms. Pretoria: H.A.U.M. Literêr. 43-61.

1992. Pragmatiek /Taalhandelinge en literatuur. In: Lategan, B. 1992:57-82.

Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984. Bestek. Pretoria: Juventus.

Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984. Woorde as dade. Taalhandelinge en letterkunde. Durban: McGraw Hill.

Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J.

1982. Van mond tot oor. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:213-234.

1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984: 86-98.

Van der Merwe, C.N., & Viljoen, H. 1998. Alkant olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Viljoen, L.

1989. Krog se virtuose kompleksiteit. Die Burger, 28 Desember:8.

1991a. Susanna Smit en lady Anne Barnard – enkele aspekte van Antjie Krog se historiese poësie as tagtiger-verskynsel. Stilet 3(1), Maart:57-80.

1991b. Die teks as transparant: Antjie Krog se Lady Anne binne die Suid-Afrikaanse werklikheid. Stilet 3(2), September:19-31.

Wierenga, L. 1878. Retorische tekstbeschrijving. In Grivel, C. Methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Dick Coutinho.

 

 

Pieter Odendaal.Tussen al die êrense, en nêrens

Sunday, May 1st, 2011

Ek en my pa het die afgelope Familiedag weer sy ouers se grafte besoek. Dit was reënerig en modderig – regte begrafnisweer. Bainsvlei het oop voor ons gelê. “Op helder dae kon ek die Krugersdrifdam van daardie koppie af sien blink,” wys my pa. Hy het hier tussen die koppies en die doringbome buite Bloemfontein grootgeword. Ek steek nog ‘n sigaret aan. “Oupa was mos al ‘n hoenderboer gewees op 16,” sê-vra ek. Ek vergeet altyd die stories, maar Pa gee nie om om hulle weer te vertel nie. “13. Toe jou oupagrootjie dood is, moes oupa Piet die plaaswerk oorneem. Hy’t skool gelos en ‘n hoenderboer in die Oos-Vrystaat geword. Jare later het hy sy matriek klaargeskryf, universiteit toe gegaan en jou ouma ontmoet.”

My oupa was later senator gewees en hy’t selfs sy lyf skrywer gehou. Ek het Fietsie, sy roman oor ‘n mossie, begin lees toe ek 13 was, maar nooit klaargemaak nie. Hy het van blokkiesraaisels gehou en te veel gerook. Hy’t die plot, waar my pa en sy vier broers grootgeword het, verkoop nadat hy gehoor het die longkanker is terminaal sodat my ouma vir haar ‘n plek in die stad kon koop. My oupa is dood toe my pa 22 jaar oud was – so oud soos ek vandag is. “Was dit nie sleg om die plot te verloor nie?” Dit vat ‘n rukkie voor my pa antwoord: “Nie een van die seuns wou boer nie en dit was veiliger vir Ma in die stad. Sy kon nie so alleen hier buite bly nie.”

As ek terugdink aan my ouma se huis in die stad dink ek altyd aan die reuk van houtskaafsels – Oupa Louis, haar tweede man, was ‘n skrynwerker. Hulle huis in Parfittlaan is vandag ‘n B&B. Ek onthou hoe Ouma Tina ons kinders eenkeer een sent belowe het vir elke tuinslak wat ons met sout kon doodmaak. “Die goed is ‘n plaag,” het sy hand voor die oë vanaf die rooi stoep gesê waar sy op ‘n riempiestoel gesit het. Ek onthou die vreemde mengsel van meegevoel en fassinasie terwyl ek die sterwende slakke dopgehou het. Die sout het al die vog uit hulle liggame getrek en hulle doppe het heen en weer gewieg soos hulle vir die dood probeer wegkruip het.

Ons staan voor die dubbele graf: Petrus Johannes Loock Odendaal (dis vreemd om jou eie volle name so geskryf te sien) en Christina Theron (née De Kock, voorheen Odendaal). Daar is onkruid in die blommegat aan my oupa se kant en die letters se verf is besig om af te dop. My pa sê ek moet die plantjie uittrek. Terwyl ek die klonte van die wortels afskud, wonder ek of van die molekules in die plantjie eens deel van my oupa was, of dieselfde stikstof in die plant eens gehelp het om my oupa aan die lewe te hou. Kilometers vêr maak wolke landerye nat. Ek vee die rooi grond aan my broekspype af terwyl my pa aanstap.

Hy gaan wys vir my die heldeakker: “Hulle het hierdie gebied met boompies afgesper sodat soldate wat op die grens geveg het apart begrawe kon word.” Maar daar is vars grafte tussen die enkele generaals en luitenante wat met die boompies vereer is: Katlehong, Mbuwa, Rasile – almal met handgeskrewe Psalm 23’s in Sesotho saam met blomme in plastiek toegedraai bo-op die heuweltjies. Een van die grafte staan nog oop – die begrafnis is seker môreoggend. Ek merk sardonies op dat daar te min mense in die oorlog dood is en te veel vandag doodgaan – dis seker hoekom hulle maar hier begin begrawe het.

Na die tyd gaan ry ons by die plot verby waar my pa grootgeword het – Harmonie. Die huis is omring met bome. Ek kan nie veel sien nie. “Toe dit destyds so gereën het, was daar altyd brulpaddas so groot soos rugbyballe hier in die pad.” My pa wys na waar bloekombome stil aan weerskante van die weggespoelde grondpad staan. Die son steek vir ‘n laaste keer sy kop tussen die wolke en die horison uit, voor ons saam met die aarde nag se kant toe draai. In die skemer sien ek hoe my pa se sigaretkooltjie in sy droewige brillense weerkaats.

*

Harmonie, distrik Bloemfontein

Die herkontoerde pad
trek ‘n snelstreep deur die ou kontrei.

Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer
by hoewes onder denne en karee
(windpompe briek-briek teen ‘n nukkerige wind);
BAIE
STADIG
DEAD
SLOW
aangedoen by skool, kerk, kerkhof;
‘n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte
en ‘n laaste myl op die bordjie afgepyl:
HARMONIE
HOENDERBOERDERY.

Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …
Pa was ‘n man van dade:
Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.
Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf
(helaas droomverlore)
seuns.

Langsaan was die mooi plaas Elim,
kompleet met blonde meisiemens.
En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …
adresse op die einders,
onder die woesteny van sterre en stiltes –
plasies op die rand van die niet.

Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,
Harmonie tot drie maal toe verkoop,
die Sotho’s vort na plakkerstatte.

Ek en my broers
op soek na so ‘n droomadres
tussen al die êrense, en nêrens.

© Bernard Odendaal, 2007. Onbedoelde land.

Toevallige tekens

Thursday, November 18th, 2010

Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

Toevallige tekens
Toevallige tekens

Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.

Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis),  én jeens Afrika.

As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…

In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen – en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.

In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:

 

Op die spoor

 

Wildernis is nie eenvoudig nie.

Sou dit maar iets aan ons wou wys,

iets wat soos ‘n helder fluit styg

uit swamme op ‘n verrotte stomp.

Sou ons ‘n duidelike woord kon vind

vir die kort lewe van termiete

en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.

Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,

die woekergroei van waterhiasint?

Swart miere streep oor ‘n pad.

‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.

Bruin kewers in ‘n lae web gevang.

Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.

‘n Patroon om af te lei.

‘n Verhaal om te vertel.

In die sand lê spore kruis en dwars

en droë blare val daaroor.

 

Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:

 

Toevallige digter

 

Aan die kern sit kennelik

die werkwoord “val”,

aangelap met setsels:

in-, toe-, by- en voor-.

Soos ‘n meteoriet

breek iets skielik

deur bufferlae

om die afgeplatte bol,

ontbrand en pyl

met ‘n vuurpad

tot in ‘n nagtelike tuin

waar onder fosforglans

die swart swaan

‘n oomblik lank verskyn.

 

Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord

/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:

 

            Ek soek nog na ‘n metafoor

vir die vergaan van ‘n lyf,

tevergeefs in hierdie soet seisoen.

As die rose pieringgroot oopvou

[…]

bly die metafoor van aftakeling

my gelukkig nog ontwyk.

In hierdie soet seisoen

sal ek nog talm by dié tekens

in hierdie tuin van alle liefde.

(“Soet seisoen”)

 

Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:

 

Vanishing voices

The extinction of the world’s languages

  • – Daniel Nettle & Suzanne Romaine

 

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.

 

Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?

 

            Handsak

 

By die plek van breek-en-grypslae

lê besittings argeloos uitgestrooi:

Uit al dié dinge van min waarde

sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou –

‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde

paspoortblad bleek na boontoe;

‘n rybewys skuil half onder gras;

tussen bou-afval lê ‘n besmeerde

ID-boek ouderdom en blyplek bloot;

‘n verwese sakdoek verkondig

intieme nommers van bekendes,

die huisarts, die versekeraar;

lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,

kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ek raap dit alles blindelings bymekaar,

probeer onthou hoedat ek gister was.

 

Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (“Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:

 

Wolf op die tweesprong

Na ‘n foto van Jim Brandenburg

 

Hy het reeds sy staanplek

op die ysskots verlaat

en gespring.

Sy skraal skadu weerkaats

swart in die ysblou water:

onbeduidend onder die groot groot lug,

onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,

onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.

Maar op hierdie oomblik, nou,

waag hy die sprong,

sweef hy vry in sy onveiligheid,

los en bly oor alles wat syne is:

hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,

hiérdie uitgestrekte yl bestaan.

 

Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk – hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? – in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.

Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.

 

            Die kind van Kigali

 

Dis die kind van Kigali wat moet loop

om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.

 

Die kind kom gou terug met die brood

en vind om die huis die spoor van die dood.

 

Die aanval was oorwoë en subiet:

Met mortiere is alles platgeskiet.

 

Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,

op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.

 

Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing – eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie – word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.

Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.

Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat