Posts Tagged ‘Bernard Odendaal’
Monday, August 1st, 2011
Gala-toeskouer
A postcard from the Volcano
Lig- en skaduhale snelskryf die wind-,
boom- en son-
onderons oor die Wallace
Stevens-verse op my skoot. ‘n Rilbont bal rol uit die hoek
van my oog tot teen
my been
en ek kyk op: mededingerslae van die swemmers laat skitter- en skadu-
rimpelinge agter hulle wat vergly
verglad, deursigtig stol - stille waters
agtergrond waarteen kinderledemate ywerend-muterend kom ‘n reeks verdwene
hardloophoudings in die meters tot hier
digby
my
- “hallo Oom/jammer Oom/ bye Oom” - bal en al daarmee heen.
Die son
skuif ‘n aks in die trans,
onooglik glorieryk.
En ek lees weer, die beendere
in andermansgedig tot lewe,
“smeared with the gold of the opulent sun”.
Sintaktikus
Geesdriftig, skeel sintaksis maar ons woorde min
ons storm met ‘n horde rededele in
- tot -kus kom keur, die wat en hoe;
toeslaan met die Gideonsbende: sin.
Thursday, July 7th, 2011

Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)
Bernard Odendaal en Hennie van Coller
| Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88 |
ABSTRACT
The poetic plot in Antjie Krog’s Lady Anne (1989)
Antjie Krog’s Lady Anne, inter alia labelled as “a novelistic poetry volume” - bears the stamp of the postcolonial discourse, more specifically as it concerns Apartheid and post-Apartheid South Africa. Aspects of the life of the historical figure lady Anne Barnard are metaphorically employed and embedded in an intricate narrative about Krog’s growth towards realising the necessity of (personal and national) transformation concerning socio-political, gender, religious and poetical issues. In this way some of the most important contemporary public discourses in the South Africa of the late 1980s are further highlighted by means of various text citations surrounding the poems in the book. This article focuses specifically on the construction of the poetic plot in Lady Anne, namely on “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), as well as on the discursive implications thereof. Observations are also made and conclusions drawn about the manipulation of aspects of the mediating dimension in the book (agents/actants, narrative levels and narrative structure, the meaningful way in which the process of writing poetry itself is emphasised).
1. Inleiding
Antjie Krog se 1989-bundel Lady Anne, staan in die teken van die postkoloniale diskoers, meer spesifiek wat dit apartheid- en postapartheid-Suid-Afrika betref1. Die vraag na wat ‘n (Afrika- en) Suid-Afrikaanse identiteit behels, is ‘n sentrale kwessie in die bundel - soos trouens ook in ander Krog-bundels, waaronder Gedigte 1989-1995 (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000). Bundels deur ander Afrikaanse digters wat kennelik deur Lady Anne geïnspireer is, of waarin op aspekte daarvan gereageer word (veral Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg: ‘n Versroman uit 1996 en onderskeidelik Heilna du Plooy en Marius Crous se bundels In die landskap ingelyf en Brief uit die kolonies uit 2003), getuig voorts hiervan.
Al genoemde bundels het boonop min of meer ‘n opvallende (hoewel verkapte) verhalende inslag, en voer reële en/of fiktiewe vertellers/sprekers ten tonele. Trouens, narratiwiteit (en digterskap) word telkens getematiseer.
Lady Anne is onder meer om bostaande redes as “‘n roman van ‘n bundel” (Brink, 1989:13) bestempel; en Esterhuizen se bundel word in die subtitel “‘n Versroman” genoem.
Hühn (2004) beweer dat narratologiese konsepte kan bydra om die tegnieke te beskryf wat in poësietekste ingespan word om elemente tot een of ander “gemotiveerde” orde te bind. Die “poetic plot” in Lady Anne, dit wil sê “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), asook die diskursiewe implikasies dáárvan (byvoorbeeld op aktansiële vlak), word in hierdie artikel onder die loep geneem. Tussendeur word waarnemings van en afleidings oor die hantering van aspekte van die mediëringsdimensie (agente/aktante, vlakke van vertelling en bundelopbou, vooropstelling van die digproses en die funksies dáárvan) gemaak.
2. Enkele opmerkings oor narratiewe poësie
Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (Odendaal, 2009:116), maar ook na wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word, sowel as “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag (Stolk, 2007:1122 & 1127).
Vaessens en Joosten (2003:86-87) verbind die wêreldwye oplewing in die verhalende soort poësie met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer. In die dominasieposisie van dergelike meesternarratiewe tree ‘n aangewesenheid op sogenaamde klein, dikwels outobiografies getinte vertellings in wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied.
In die onderhawige bundel sal aangetoon word dat (outo)biografiese, ‘klein vertellings’, dié van lady Anne Barnard en dié van “die skrywende subjek” (Crous, 2003b:151)2, met die groter, Suid-Afrikaanse, nasionale diskoers verweef word.
‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum bestaande uit ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Soos deur Odendaal (2009:119 - in navolging van Hühn, 2004:139) opgemerk word, kan ‘n mens dus in hierdie verband praat van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeling (”mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In laasgenoemde dimensie gaan dit om die presentasie (en interpretasie) van so ‘n sekwensie vanuit ‘n bepaalde perspektief3.
Die onderskeid tussen sekwensialiteit en bemiddeling kom breedweg ooreen met bekende narratologiese onderskeidings soos “histoire” en “récit”, “fabula” en “sjužet”, “storie” en “verhaal”/”diskoers”/”teks”/”plot”, ensovoorts4. Of soos Brink (1987:38) verkies om die onderskeiding te formuleer: storie en vertelteks.
Volgens Hühn (2004:139) sal in ‘n omvattende modellering van narratief ook voorsiening gemaak moet word vir ‘n dimensie van die handeling van artikulasie of vertelling (”act of articulation or narration”), dit wil sê vir die dimensie waardeur die bemiddelde opeenvolgendheid van gegewens en gebeure bewerkstellig word, en waarvan spore in die tekstuele vormgewing nagespeur kan word. Brink (1987:40) gebruik hiervoor die term vertelproses. Verteldimensies soos konkrete of abstrakte, en eksplisiete of implisiete verteller- en outeurskap, asook handelingsdieptestrukture en aktante5 soos deur onder meer Greimas (1971) onderskei word, is hier ter sprake.
Oor spesifieke vorme van narratiwiteit in liriese poësie maak Hühn (2004:151-153) ‘n klompie rigtinggewende aantekeninge.
Hy beweer eerstens dat die kenmerkespektrum van intrigevorming (”plotting”) en vertelling in die poësie merkbaar verskil van dié in die prosa. Daar word in die digkuns byvoorbeeld graag vertel vanuit ‘n posisie binne-in die voortgaande storie (”interne” vertelling - Brink, 1987:153), eerder as vanaf ‘n posisie aan die einde (”agternavertelling” - Brink, 1987:160-161) - dit wil sê liefs op prospektiewe wyse (”vooruitvertelling” - Brink, 1987:161) of op simultane wyse (”gelyktydige” vertelling - Brink, 1987:161-162) terwyl die storie ‘gespeel’ of die gebeure-opeenvolging ‘gevorm’ word deur die vertel van die storie (die vertelteks).
‘n Besonder komplekse poëtiese intrigevormingswyse waarop Hühn (2004:151-152) wys, is waar die gebeurlikheid (”eventfulness”) die storievlak oorskry en ‘n “discourse event” word. Hy noem die voorbeeld van Shakespeare se Sonnet 107,
where the frame of the sequence is abruptly redefined - from aiming at the friend’s praise for his continued friendship and patronage to the speaker’s insistence on his own superiority, on account of his immortalizing poetic gift, over his friend’s mortality.
Soos verderaan gesien sal word, vind iets dergeliks in Lady Anne plaas wanneer lady Anne Barnard terug die Kaapse kasteel in vlug (as simboliese daad van nievereenselwiging met die Suid-Afrikaanse werklikhede).
In die tweede instansie wys Hühn (2004:152) daarop dat karakters in digtekste, in die besonder die sprekers in gedigte, gewoonlik nie deur name en beskrywings geïdentifiseer word soos dikwels in die prosa nie, maar eerder deur hulle perspektief, hulle “interiority” (of ‘interniteit’, om ‘n Afrikaanse term analoog aan die onderskeiding “interne verteller” te skep), asook op grond van die persoonlike aard van die digterlike narratiewe.
Indeed, one important function of narratives in poems is the constitution of the speaker’s or narrator’s subjectivity and individuality, the definition of his or her identity, by the self-attribution of a chain of events, of a ‘mental story’… (Hühn, 2004:152).
Vandaar dat ‘n neiging tot performatiewe vergestalting van karakter, deur middel van die houdings, sienings en handelinge van die subjek soos weerspieël in die (self-) geuiterde teks, in die poësie bemerk kan word.
‘n Derde kenmerk van vertelling in poësie is die voorkeur vir ongewone verteltye en stemmings (Hühn, 2004:152), byvoorbeeld deur die tweedepersoonperspektief of die “imperative mood” (gebiedende wyse) te benut, of ‘negatief’ te vertel (gebeure te verhaal wat nié plaasgevind het nie).
Vierdens vermeld Hühn (2004:152-153) dat narratiewe sekwensies in die poësie ‘n gebrek vertoon aan tydruimtelike plasing (”[they] lack explicit circumstantial explanations and connections”), anders as wat konvensioneel vereis word in romans (hoewel erken word dat ‘n beduidende hoeveelheid “avant-garde fiction” wél hierdie kenmerke vertoon, “arguably partly as an import from the genre of lyric poetry” - Hühn, 2004:153). Meer abstraksie en tematiese universaliteit kan sodoende bewerkstellig word, terwyl tyds- en tematiese oorgange vergemaklik word.
In die vyfde plek beklemtoon Hühn (2004:153) dat die narratiewe sekwensies in liriek deur die ‘materialiteit’ en spesifieke vormlikheid van poësie (stilistiese en strukturele aspekte soos klank, ritme, prosodie, beelding, sinsbou, tipografie, ensovoorts) beïnvloed word, “reinforcing, modifying, or counteracting the semantic plot-development”.
Meer spesifiek, skryf hy, fungeer die formele kenmerke in die poësie as paradigmatiese relasies of ekwivalensies naas motiwiese en tematiese aspekte. Hierdeur raak hy aan wat al as ‘n verikoniseringsdrif in die poësie bestempel is (Bronzwaer, 1990:99), dit wil sê die ‘demonstratiewe’ en derhalwe sterker geloofbaarmakende wyse waarop talige, stilistiese, verstegniese en vormlike middele benut word om een of ander ‘gelykenis’ met die semantiese aspekte van byvoorbeeld die gedig te vertoon, sodat die ‘boodskap van die gedig hierdeur medegekonstitueer én -gefasiliteer word6.
‘n Kernelement in narratiewe digkuns is wat ‘n mens, na Hühn se reeds vermelde bestempeling “poetic plot”, die liriese intrige kan noem. Enkele opmerkings hieroor lyk nodig vóór die toepaslikheid van die begrip vir ‘n analise van Krog se Lady Anne gedemonstreer word.
3. Liriese intrige
Du Plooy (1992a:384 & 386) beklemtoon hoe omstrede die begrip “plot” is, want, skryf sy, daarin lê ‘n hele groep begrippe ingebed: temporele aspekte soos volgorde en opeenvolging, logika en kousaliteit, die intelligente vermoë nie net om te onthou en na temporele en logiese reekse te soek nie, maar veral om verhoudinge te kan raaksien en interpreteer. Die relevante verhoudinge sluit alle aspekte van verhalende tekste in sodat handeling, karakter, plek en tyd en al die maniere waarop hierdie elemente artistieke betekenis verkry, in ‘n bespreking van die plot tuishoort.
In hierdie artikel word, soos in die inleiding aangedui, Hühn (2004:142) se omskrywing van “poetic plot” benut, naamlik die wyse waarop die elemente in digtekste geskakel is tot ‘n kousale, temporele of andersins ‘gemotiveerde’ ketting. Hoewel Brink (1987:66 & 155) plot ook met die terme “handelingstruktuur” en “verwikkelingsplan” benoem, word die bestempeling liriese intrige hier verkies as vertaling van poetic plot. Daardeur word eerstens gepoog om die gelykstellende assosiasies van plot met begrippe soos “verhaal”, “diskoers”, “teks” en “vertelteks” uit te skakel, terwyl met die term liries tweedens klem geplaas word daarop dat hierdie ondersoek gerig is op ‘n teks waarin verhalende elemente op die liriese genresoort ingeënt is.
Hühn (2004:142-143) brei soos volg uit oor liriese intriges: “Plots in poetry are typically constituted by mental or psychological incidents such as perceptions, imaginations, desires, anxieties, recollections, or emotions and their emergence, development, and decisive change.” So ontstaan volgens hom ‘n sintagmatiese samehang in liriese tekste. Dit is egter slegs deur die paradigmatiese verwysing na buite-tekstuele kontekste en na ‘wêreldkennis’, “i.e. to cognitive schemata already familiar and meaningful” (Hühn, 2004:143), dat lesers sin van sulke tekste kan maak. ‘Wêreldkennis’ sluit kultuurspesifieke patrone van algemene ervaring in, sowel as intertekstuele verwysings na literatuur en ander kunsvorme.
Deur middel van sulke kognitiewe skemata word paradigmatiese verhoudings gelê, word indiwiduele insidente en gegewens geselekteer, gegroepeer en sistematies getransformeer tot ‘n samehangende en betekenisvolle narratiewe sekwensie of intrige. Brink (1987:54-57) praat in hierdie verband van die vorming van gebeurtenisreekse, en wat dan verder “saamgeklonter” word tot gebeurtenissiklusse om uiteindelik ‘n verhaal te konstitueer.
Dit behels dus ‘n transformasionele proses wat herinner aan wat deur byvoorbeeld Bal (1980:16) as die omsetting van ‘n “geschiedenis” tot ‘n “verhaal” bestempel is, en wat via bewerkinge op ses vlakke geskied (volgorde, tyd, karakterinvulling, ruimte, simbolisering of verwysing, en gesigspunt).
Twee hoofsoorte kognitiewe skemata wat deur Hühn onderskei word - en wat herinner aan die bekende kategorie-onderskeidinge van W. Blok (1960) tussen abstrakte en verhaalmotiewe7 - is rame (”frames”) en skripte (”scripts”):
Frames designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read, as for instance death, growing up, or sexual love; scripts denote sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame, such as, to take up the examples given, dying as crossing the border between this world and another, unfamiliar one; personal growth as the development from childhood to adulthood seen in a positive or negative light (gaining more knowledge or losing spontaneous vitality, respectively); or the formalized ritual of courtly love barring the gratification of the lover’s desires (Hühn, 2004:143).
Waar rame lesers in staat stel om digwerke ten opsigte van hul situasionele en tematiese betekenisvolheid en samehang in primêr statiese verband te interpreteer, word die dinamiese, by name die verhalende dimensie van tekste deur die skriptuele element gevorm (Hühn, 2004:143-144). Daar kom gewoonlik ‘n beslissende wendingspunt (gebeurlikheid, of “event”) in voor - ‘n bepalende gebeurtenis, in Brink (1987:52-53) se terminologie - as ‘n sentrale kenmerk van die verhaalopset wat dit vertelwaardig maak (Hühn, 2004:145).
Ekwivalensies tussen tekstuele elemente word verder bewerkstellig deur isotopieë, dit wil sê semantiese of tematiese kenmerke (seme of kombinasies daarvan) wat in ‘n verskeidenheid woorde en uitdrukkings binne gedigte en digbundels voorkom, waardeur nuwe verbande binne die teks gelê en verdere lae betekenis toegevoeg word8.
Tipies van literêre tekste is dat op betekenisvolle wyses van die rame en skripte wat daarin geaktiveer word, afgewyk word; boonop, vanweë die konvensies van bondigheid, situasionele abstraktheid en veralgemeendheid wat vir poësie geld, is gedigte gewoonlik minder eksplisiet en omstandigheidspesifiek as prosakunswerke in die aanbied van tekstuele tekens waardeur rame en skripte geaktiveer word (Hühn, 2004:144).
4. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)
4.1 Sintagmatiese koherensie in Lady Anne
Die sintagmatiese koherensie in die bundel word bewerkstellig rakende die kwessie van Afrikanisering (of verinheemsing) van blankes in Suid-Afrika, ‘n vraagstuk wat steeds relevant is in Suid-Afrika vandag, maar ten tye van die verskyning van die bundel, in die tydperk voordat die politieke transformasie vanaf 1990 op gang gekom het, in die brandpunt gestaan het.
Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het “om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring”, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar “volggenote/volksgenote” met elke volgende bundel van haar telkens te verruim - só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê “literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid” (Brink, 1985:79).
Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut9 om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.
Die bundel word egter ook meer as net ‘n ekspressiewe teks waarin Krog - via die instansie van die skrywende subjek - uiting gee aan haar gevoelens, oordele en dergelike. Om rekenskap te gee van die situasie waarin sy haar bevind, word gesien as deel van haar digterlike taak. In die eerste “slot”-gedig, met ‘n ietwat gewysigde en vertaalde sitaat uit lady Anne Barnard se boek Lives of the Lindsays, heet dit byvoorbeeld:
Die leuse van my vader wil ek herhaal:
hy wat versuim om sy lewe
en dié se plek noukeurig te ondersoek,
het die Skrywer van sy verhaal gefaal.
Dié rekenskapgewing geskied in en deur die skryf van die bundel, op die wyse van die poësie. “Feitelikhede uit lady Anne se bestaan en uit die eietydse aktualiteit van Antjie Krog word verweef met poëtiese ‘verdigsel’. Die digter sê immers: ‘ek moes baie jok en verkort’” (Viljoen, 1989:8). Die poëtiese werkswyse herinner daarom sterk aan “New Jounalism” of “faction”, waarin die boeiende spelmoontlikhede van die verhouding tussen feit en fiksie uitgebuit word.
Inderdaad word die feit dat ons te make het met ‘n literêre teks, en met wat deur Hühn as ‘n handeling van artikulasie of deur Brink as ‘n vertelproses bestempel sou word, op verskeie wyses in die bundel vooropgestel. Odendaal (1994:87-88) het voorheen sodanige vooropstelling in meer besonderhede aangetoon, en dit word hier opsommend benut om vertelteoretiese aspekte te belig.
Eerstens word geëksplisiteer dat beide die vertelinstansie (die skrywende subjek) en die metaforiese titelpersonasie kunstenaarsfigure is (lady Anne Barnard was skilder én dagboek- en joernaalskrywer) wat worstel met hul onvermoë om Afrika in kuns vas te lê of die vasteland in hul diepste wesens op te neem. Tweedens skroom die skrywende subjek nie om die maakproses van die bundel bloot te lê nie (”process made visible” - Hutcheon, 1980:6), byvoorbeeld in gedigte oor die moeitevolle pogings om aan die skryf te kom, of waarin geworstel word met die spanning tussen die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy (ook Krog) opgevoed is om te skryf en die eise van die onontkombare politieke situasie waarbinne sy haar bevind - gedigte waarin vertellerteks en personeteks kennelik ooreenstem10. Voorts word briewe, joernaal- en dagboekinskrywings (deur lady Anne Barnard én deur die skrywende subjek), selfs sketse van die tongvis in verskillende stadia van sy ontwikkeling, en afdrukke van ‘n menstruasie-almanak, ‘n munisipale-verkiesingsplakkaat uit 1988 en ‘n koerantknipsel van ‘n eiendomsadvertensie uit dieselfde tyd, as “onaf” gedigte aangebied. Derdens is die bundel deurspek met sitate wat die (literêr) estetiese en sosiopolitieke konteks waarbinne die bundel ontstaan het, invul.
Gestel met betrekking tot van sommige van die onderskeidinge wat Brink (1987) in sy inleiding tot die lees van verhalende tekste maak: Dinge behorende tot die verskillende vlakke (en kontekste) van die storie(s), die vertelteks en die vertelproses word in Lady Anne vervleg aangebied.
Sodoende word die soort situasionele (byvoorbeeld tydruimtelike) abstraksie en veralgemening in die hand gewerk wat so kenmerkend van die liriese genre (in onderskeid van die prosagenre) is, soos voorheen in navolging van Hühn aangetoon.
Laasgenoemde is bevorderlik vir die oorredende gehalte van Lady Anne as teks, dit wil sê as teks wat daarop gerig is om die opvattings, gevoelens, en selfs handelings van ‘n bepaalde deel van Krog se waarskynlike leserskorps te beïnvloed. Brink (1987:147) toon byvoorbeeld, in navolging van ‘n teoretikus soos Rimmon-Kenan (1983:86 en verder), aan dat daar “vir elke vertelfunksie [...] ‘n ooreenstemmende leesfunksie in die teks beteken word. Ofte wel: vir elke ‘spreker’ is daar ‘n ‘aangesprokene’”11. In die lig van die bepaalde tematiese strekking van Lady Anne, waaroor net hierna in meer besonderhede uitgewy word, lyk dit of dit veral die sogenaamde ‘blanke’ Suid-Afrikaners, meer spesifiek die Afrikaners (Krog se “volksgenote”), is wat as ‘aangesprokenes’ in die bundel geïmpliseer word.
Inderdaad word die ekspressiwiteit van die bundel (die outentiekheid van die liriese belydenis, versterk deur datum-, plek- en ander outobiografiese verwysings), asook die literariteit daarvan (soos hierbo verduidelik), juis in hierdie verband oorredend aangewend. Dit gaan naamlik om die verhoging van die waarskynlikheid of geloofwaardigheid van die (eksemplariese) worstelstryd wat werklike kunstenaarspersoonlikhede soos lady Anne Barnard en Antjie Krog, met uiteenlopende uitkomste, hier te lande gevoer het - om wat Roland Barthes volgens Brink (1987:131-132) die “vraisemblance” of die “l’effet du réel” van mimetiese verbesondering sou noem.
In die lig van bostaande argument lyk dit gepas om die tema (of hoof- of sluitmotief) wat die sintagmatiese koherensie in Lady Anne bewerkstellig, te beskryf as die noodsaak van postkoloniale Afrikanisering in Suid-Afrika12.
4.2 Transformasie as paradigmatiese raam in Lady Anne
Die paradigmatiese raam waarbinne bogenoemde tema uitgespeel word in die bundel, is dié van transformasie, wat isotopies uitgebou word om vier intrinsiek verweefde vlakke in te sluit:
- transformasie as blanke Suid-Afrikaner, waaronder as Afrikaner
- transformasie as vrou
- transformasie as Christen
- transformasie as kunstenaar/digter
Hieroor weldra meer.
Dié (statiese) paradigmatiese raam word tot ‘n dinamiese skript uitgebou deurdat transformasie in hierdie geval as ‘n uittrede uit bevoorregte omstandighede en die self voorgestel word. Aangesien lady Anne Barnard se wedervarings en handelings deur die skrywende subjek as (aanvanklike) metafoor vir haar eie belewenisse benut word, kan sodanige eksistensiële uittrede deur die beeld van die uittog uit die kasteel (as simbool van Europees-Westerse geborgenheid) aangedui word. Dis ‘n uittog eerstens vanuit Europa na Afrika wat onderneem moet word, en vanuit die Kaapse kasteel die binneland van die kontinent in (soos lady Anne Barnard wel onsuksesvol gepoog het).
Die uittog-uit-die-kasteel-beeld geld dan vir isotopies ekwivalente houdingsveranderinge soos die volgende (telkens op een of meer van bogenoemde vlakke):
- van selfgerigtheid na naasteliefde
- van daadloosheid na daadkragtigheid
- van estetiese preokkupasie (skoonheid) na maatskaplike impak (nuttigheid)
- van afstandelikheid na vereenselwiging
- van konserwatisme na rewolusionêre betrokkenheid
Die verbande wat dusdanige tematiese strekkings in die bundel het met die sieninge voorgestaan in die postkolonialistiese en feministiese kritiek (soos byvoorbeeld gekenskets in Van der Merwe en Viljoen, 1998), is klaarblyklik.
Om egter terug te keer na die vier paradigmavlakke van die transformasietema-raam in Lady Anne: Ook hieroor het Odendaal (1994:90-93) reeds meer breedvoerig geskryf, mét illustrasies uit die bundel, en die strekking daarvan word hier hoofsaaklik opsommenderwys weergegee.
‘Blanke’ Suid-Afrikaners word geteken as hebsugtige maghebbers, as ‘n bevoorregte, pretensieuse en selfs huigelagtige besittersklas (veral in gedigte uit Deel II van die bundel). Parallelle word getrek met die situasie in die 1980’s in Suid-Afrika, en die skrywende subjek voel haar deel hiervan. “[E]k is gebore / aan ‘n gilde / van hebsug en hoon”, skryf sy byvoorbeeld in die gedig “parool” (bladsy 37). Daar word voorts geïmpliseer dat dié blanke maghebbers ‘n wrede, bloeddorstige geslag is, maar dit word ook duidelik gemaak dat húl wêreld ‘n bedreigde een is - trouens, dat hulle aan die einde van ‘n era leef:
soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai
en die mans by ingeboude kroeë druk drink en despe-
raat praat oor naai
weet ons ons is die laaste
die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en
heuning
ons is die laaste
agter ons onder ons langs ons
stort met die sagte geluid van as
strukture wat ons soort in stand hou
in hulle maai.
(”Lady Anne by die mikrogolfoond”, bladsy 71)
Oor die magtelose, onderdrukte niebesitters (die sogenaamde ‘nieblankes’ of ‘anderskleuriges’) word daarenteen min gesê. Die swartman bly in ‘n groot mate die onbekende “broer” met wie die digter nie mooi weet hoe om haar te versoen nie (”nuwe alfabet”, bladsy 91). Voorop staan die ellende en geweld wat dié mense die hoof moet bied. Die enkele kere waar wel iets meer aangaande hulle gesê of gesuggereer word, is die uitbeelding eerder gunstig.
Ook wat religieuse kwessies betref, is die voor- en afkeure duidelik. Die tradisionele Christelike geloof in die volkome versoening wat deur die lyding van Christus vir die mens se sondes bewerkstellig is, word as ontoereikend en uitgediend gesien. Daarom dat sowel lady Anne as die skrywende subjek hul ontuiser voel in die ‘blanke kerke’, terwyl hulle egtheid en krag van geloof ervaar in ‘anderskleurige’ gemeentes. Heil word dus eerder gesoek in ‘n teologie (die sogenaamde “bevrydingsteologie” - vergelyk Brink-de Wind, 1992) wat ‘n horisontale versoening tussen mense onderling predik, ‘n bevryding van aardse onreg deur ons tot die dood toe te verneder vir ‘ander’. Volgens die bevrydingsteologie is God aan die kant van die armes en onderdruktes. Dit staan ‘n daadwerklike ingrype in sosiale en politieke misstande voor om ‘n aardse heilstaat te bewerkstellig. Soos dit aan die einde van die gedig “Op klipplate word seile oopgegooi” (bladsye 47-48) lui: “[...] hoe meer / jy het hoe meer is jy verskuldig”. Om van haar “eksklusiewe smet” ontslae te raak, sal lady Anne - so verneem sy in die gedig “Toe Dundas met sy dik aksent” (bladsy 65-66) - intense lyding moet ondergaan. Dit is ook in die lig hiervan dat die woorde “die mens lewe van slagspreuke alleen” in die slotgedig van die bundel (bladsy 108) verstaan moet word. Eerstens word die konnotasies van geweld en lyding rondom “slag” geaktiveer. Tweedens word die honger Jesus se bekende antwoord (”Die mens kan van brood alleen nie lewe nie” - Matteus 4:4) op die duiwel se versoekende uitdaging om die klippe in brood te verander, ironies verdraai om die gevoelde noodsaak vir religieus-geïnspireerde politieke optrede uit te hef.
Oor die gemarginaliseerde posisie van die vrou in die samelewing laat die skrywende subjek haar in die bundel ewe sterk, hoewel minder eensydig uit. Die metaforiese personasie lady Anne word in haar verhoudings met verskillende mans (Dundas, Windham, Andrew Barnard) voorgestel as ‘n sterk vrou wat haar volkome bewus is van die magspel tussen man en vrou. Hiervan getuig die erotiese gedig “dis middernag en piouter” (bladsy 24) met sy byna militant feministiese klank.
Ook die skrywende subjek spreek haar uit oor die man-vrou-verhouding ten opsigte van ‘n magspel. Die erotiese spel tussen man en vrou word gesien as slagveldmaneuvers, en vrouwees word in ‘n sekere sin ervaar as nederlaag (”Soos wat jy gisteraand ingestap het”, bladsy 74). Manlike chauvinisme kan sy nie verdra nie (”given line: macho-mans gee my die creeps”, bladsy 67). Sy bly egter bewus van die kompleksiteit van die situasie, erken byvoorbeeld haar afhanklikheid en haar verantwoordelikhede as ma. Die man is nie net heerser nie, maar ook slagoffer van vrou en familie. Iets van hierdie ambivalensie spreek uit die gedigte op bladsye 72 en 73 in die bundel.
Oor die vierde paradigmavlak is reeds heelwat gesê in die bespreking hierbo van die vooropstelling van die literariteit van die bundel. Genoeg om te beklemtoon dat die spanning tussen estetiek en politiek sentraal in die bundel staan, ‘n bundel wat eintlik gekonsipieer is as ‘n opgaaf om dié ‘swart’ Afrika-kontinent en -land en hul aktualiteit, asook die rol en verantwoordelikheid van ‘n ‘blanke’, vroulike digter daarbinne, deur middel van die skryfdaad te deurgrond om sodoende daarmee versoen te raak13. ‘n Kerngedig in die bundel wat spesifiek oor hierdie spanning handel, is “parool” (bladsye 35-38), ‘n gedig wat deur Kannemeyer (1989:39) as die “ars poetica van die politieke vers” bestempel is. Die kern van die saak is dat die skrywende subjek, soos lady Anne, ervaar dat die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy opgevoed is en waarvan sy sukkel om haar te bevry, ontoereikend, nutteloos en daarom verwerplik is binne die (destydse) Suid-Afrikaanse konteks van armoede, onreg en onderdrukking. Hier is rewolusionêre poësie nodig:
woorde as AK 47’s moet veg
poësie moet nuttig wees, daad, belas
met die uitering van die stryd altyd part
staan poësie kan rewolusie puur[.]
(”parool”)
Daarom, om haar met Afrika en die swartman van Afrika te kan versoen, moet sy ‘n “nuwe alfabet” (bladsy 91) leer: “A is altyd teen apartheid / B is blind vir kleur”. Die benutting van gewoonlik niepoëties geagte tekste (soos die talle sitate van sosio-politieke en poëtikale aard, die verkiesingsplakkaat, die menstruasie-almanak, ensovoorts) is ikonies van dié anti-elitêre estetiese strewe - ‘n deurbreking “op ‘n opsigtelike manier” van “die vertroude grense van die poësie” (Viljoen, 1991b:20). Ten slotte voel die digter haar derhalwe die “groot van-kant-maker” van die nuttelose Europees-Westerse estetiek soos deur lady Anne verteenwoordig: “onder my duim lê die fyn sintaksis van jou strot”. (Albei die laaste aanhalings uit “slot”, bladsy 108.)
Trouens, soos reeds aangetoon, kan lady Anne Barnard se simboliese terugvlug die Kaapse kasteel in - waardeur sy uiteindelik as metafoor vir die skrywende subjek, as ‘n vehicle waardeur laasgenoemde haar eietydse situasie en posisie kon verken en peil, verwerp moet word - beskou word as die gebeurlikheid (”event”) wat volgens Hühn vir die keerpunt in die poëtiese intrige verantwoordelik is.
4.3 Tydshantering en bundelopbou in Lady Anne
Dié keerpunt staan duideliker uit as ‘n mens die hantering van tyd in die bundel, asook die bundelopbou, in oënskou neem.
Die chronologie van (dele van) lady Anne Barnard se lewe - “die historiese diskoers” in die bundel (Crous, 2003b:151) - kan min of meer gerekonstrueer word uit die bundel; plek-plek word dit aangevul deur grepe uit ‘n vroeër tyd (byvoorbeeld “lied geskryf voor die geboorte van lady Anne Lindsay, 1750″, bladsy 12; of die anonieme brief uit 1300, bladsy 11). Hierop gryp die skrywende subjek op verskillende wyses in. Lady Anne se reise word niechronologies herhaal, gereleveer en gerelativeer (Brink, 1989:13); én die vertelteks oor lady Anne word verkap aangebied met ‘n tweede vertelteks - dié van die belewenisse en wroeginge van die skrywende subjek van die laat 1980’s (op die vier tematiese vlakke wat in die vorige afdeling vermeld is). Boonop loop dit alles uit op die numeries afwykende afdelingaanbod in die bundel: I, II, V, IV, III.
Sodoende ontstaan ‘n verweefde veld van spanninge tussen wat ‘n mens, na die voorbeeld van Brink (1987:127), sou kon noem deurlopendheid (gedra deur die twee stories) en onderbreking (geteken deur die verkaptheid van die aanbieding van die twee stories, dit wil sê die breuke in die vertelteks). Die funksie van sodanige spanningskepping beskryf Brink (1987:127) as “‘n aktivering van die begrip van grense wat oorgesteek word (analoog aan die verskynsel van versreëls en enjambement in ‘n gedig). Dit gaan om die konstituering van betekenisse téén die bloot lineêre chronologiese patroon in”.
Bondig saamgevat, en hier ter wille van oorsigtelikheid diagrammaties voorgestel, behels die numeries afwykende bundelaanbod, dit wil sê die vertelteks soos die leser dit vanaf bladsy 1 tot 108 te lese kry, die volgende gebeuresekwens of “sjužet”14:
| Bundelafdeling |
Storie 1: Lady Anne Barnard |
Storie 2: Die skrywende subjek |
| Deel 1 |
Lady Anne Barnard se afkoms en haar koms na die Kaap word uitgebeeld. (Hoewel hierdie “storie 1″-gedeelte later in dié bundeldeel aan die bod kom as die “storie 2″-gedeelte hiernaas vermeld.) |
Die moeilike begin met die bundel Lady Anne en die skrywende subjek se probleme om die regte metafoor te vind om haar worstelinge voor te stel. |
| Deel II |
Lady Anne Barnard aan die Kaap; haar flambojante, bevoorregte lewe, maar ook haar uitsonderlikheid as sterk, ondernemende vrou; haar liefdeslewe en haar skryfwerk. |
Daarteenoor die skrywende subjek se belewing van, en haar worsteling met, die wantoestande, ook die noodtoestand in Suid-Afrika van die jare 80; die probleme van digter-wees in sulke omstandighede. |
| Deel V |
Dagboek van lady Anne Barnard oor haar togte die Kaapse binneland in, vervleg met die skrywende subjek se dagboekaantekeninge oor háár besoek aan Skotland om lady Anne se bevoorregte afkoms na te vors. Sentraal staan lady Anne se (poging tot) kennismaking met die landskap en die mense daarin; telkens word op slavinne gefokus - hul onmisbaarheid en hoe hulle uitgebuit word. Dan beleef sy ‘n krisis op Genadendal (ironies!), ‘n “moment van insig waar sy geestelik sou kón wegbreek uit haar kondisionering as wit, adellike vreemdeling om tot ‘n vorm van handeling oor te gaan” (Brink, 1989:13); sy vlug egter terug na die kasteel. |
Net hierna staan ‘n rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die destyds behoudende Konserwatiewe Party afgedruk (bladsy 59; implikasie: dit gaan om dieselfde soort keuse as lady Anne s’n), onmiddellik gevolg deur ‘n ovulasie-almanak (met sy beklemtoning van die “bloedige” = lewensegte en wrede realiteit/identiteit waarmee die skrywende subjek gekonfronteer staan). |
| Deel IV |
Belewings van geweld, verset en bloed staan voorop: Lady Anne beleef die vuur in die pakkamers, daar word berig oor haar belewenisse tydens die Franse rewolusie, oor haar ervaring van die diskriminerende bevoorregting van die man, oor die ophang van rebelle, oor slawerny en haar opstandigheid daaroor. |
Tussendeur verneem ons ook van die skrywende subjek se situasie: haar belewing van die noodtoestand en geweld in haar eietydse SA, van die stryd tussen die geslagte, haar siening dat die Afrikaanse poësie nie in staat is om iets in hierdie omstandighede by te dra nie; haar beskrywings van beesslag, veroudering, moederskap; die transformasies wat sy sal moet ondergaan om van Afrika te word. Sy word nou ‘n eietydse lady Anne, ‘n “Lady Anne by die mikrogolfoond” (bladsy 71). |
| Deel III |
Lady Anne Barnard vertrek terug na Europa; daar is nog korrespondensie tussen haar en Andrew Barnard aan die Kaap tot en met sy dood. |
Die skrywende subjek voel die noodsaak van transformasie sterk aan (vergelyk “transparant van die tongvis”, bladsye 92-92), neem ondubbelsinnig afskeid van lady Anne en haar soort; leer ‘n nuwe alfabet aan, skryf ‘n gedig oor skuld - gaan dus ‘n Afrika-toekoms tegemoet. |
Hiervolgens gelees, staan die draaipunt-gebeurtenis van lady Anne Barnard se terugvlug die kasteel in (waar die gebeurlikheid die storievlak oorskry en dit ‘n “discourse event” word, volgens Hühn, 2004:151-152) ongeveer in die middel van die bundel (op die 58ste van 108 bladsye). Waar lady Anne nie háár insig in dade wil of kan omsit nie, word sy vir die skrywende subjek al hoe meer irrelevant, sodat lady Anne se vertrek, soos aan die bundeleinde (deel III) beskryf word, ook ‘n finale afskeid van haar as metafoor. Die verkenning van haar eietydse aktualiteit via die historie van lady Anne word dus vanaf die middel van die bundel toenemend ‘n innerlike verkenning deur die skrywende subjek, deurdat haar metafoor ‘n ander koers as sy ingeslaan het.
In die lig hiervan, en die feit dat die bundel afskop met Antjie Krog se geworstel om aan die skryf te kom, word dit duidelik dat die storie van lady Anne inderwaarheid verkap ingebed is in dié van die eietydse skrywende subjek, naamlik aanvanklik in ‘n verhelderende of verduidelikende funksie met betrekking tot die skrywende subjek se worstelinge, maar daarna in motoriese funksie as stimulus vir laasgenoemde se eie lewensrigtingkeuse15.
Dit is eintlik deurgaans “vandag se verteller” (om ‘n slag Brink se bestempeling van die subjek te benut) se perspektief wat gebied word, ook waar dit om die uitbeelding van lady Anne se lewe gaan. “As skrywende subjek oefen sy beheer oor die diskoers uit deurdat sy besluit watter uitinge ingesluit, hoe dit georganiseer en watter uitinge uitgesluit moet word, aangesien dit nie inpas by die moderne diskoers [...] in Suid-Afrika nie” (Crous, 2003b:155).
Die nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings is vir die leser - soos vir die skrywende subjek - belangrik. Dit word ‘n uitnodiging om die bundel in dié volgorde te lees (in numeriese volgorde vanaf afdeling I tot V), sodat die leser/skrywende subjek uiteindelik (in dié bevoorregte bundeleindposisie) met dieselfde keuse/insig as lady Anne gekonfronteer word, soos die plasing van die genoemde verkiesingsplakkaat en ovulasiealmanak impliseer. ‘n (Polities-sosiaal) negatiewe slot word gesuggereer: laertrek deur blankes, en ‘n bloedige toekoms.
Vandaar dat Crous (2003b:157) “Krog se diskoers” as “ideologies van aard” kan bestempel.
4.4 ‘n Oorredende teks
Ons het al aangetoon dat Lady Anne as ‘betrokke’ bundel ‘n sterk oorredende aard het - dat die pragmatiese kommunikatiewe funksie16 daarvan besonder belangrik is. Hierdie nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings, en die “uitnodiging” om dit daarvolgens te lees, versterk sodanige aard van die bundel.
In sy reeds vermelde artikel het Odendaal (1994:93-98) in meer besonderhede op die oorredende kenmerke van die bundel ingegaan. Hy kon aantoon dat die retoriese vraag (meermale gepaardgaande met ‘n inklusiewe “ons”, byvoorbeeld in “van watter breed is ons?”) ‘n stylgreep is wat redelik dikwels in die bundel benut word om lesersbetrokkenheid by die argumentatiewe proses te vergroot; ook dat daar in die aanbod van teksinformasie ‘oop plekke’, logiese lakunes en afwykings aangebring is wat die leser as ‘t ware noop om teksbetekenisse in te vul (Wierenga, 1978:161), byvoorbeeld via implisitering deur simboliek. Die tongvisdiagramme in die bundel, wat verskillende ontwikkelingsfases in die lewe van dié vissoort aandui, funksioneer byvoorbeeld simbolies van die bundelboodskap dat aanpassing deur transformasie nodig is. Daar word aanspraak gemaak op die kennis van die leser om die implikasie van die simboliek te verstaan, hoewel ‘n gedig soos “transparant van die tongvis” (bladsy 92-93) iets van die tongvis-simboliek eksplisiteer.
Amplifikasie, dit wil sê die induktiewe perspektiefverbreding of “infinitisering” van ‘n situasie of geval deur ‘n gepersonaliseerde, gelokaliseerde en getemporaliseerde situasie te veralgemeen (Wierenga, 1978:162), is ‘n volgende retoriese tegniek wat Krog inspan om die ontvanger by die konkretisering van die teks te betrek. So word die spesifieke geval van lady Anne Barnard as metafoor deur en vir die skrywende subjek gekies, juis omdat sy aanvanklik die ervaring van lady Anne Barnard as eksemplaries (of verhelderend of verduidelikend, soos hierbo vermeld) van haar eie - en van diesulkes soos sy - gesien het.
‘n Beskouing van die tydshantering in die bundel (aan die hand van Brink, 1987:93-96, se begripsverklarings) maak sodanige infinitiseringsproses duideliker. Die verkapping van die twee stories wat in die bundel opgeroep word, werk ‘n vermenging van prosestyd (die ontvouing van die storie van die skrywende subjek van waar sy sukkel om te begin skryf, tot waar sy uiteindelik vir lady Anne as metafoor van transformasie verwerp) en retrospektiewe tyd (die terugblik op lady Anne se doen en late) in die hand, sodat ‘n politemporele tydsbelewenis vir die leser moontlik word. Daardeur word die universaliteitsaanskyn van die uitgebeelde belewenisse én die tematiese strekking van die bundel versterk.
Soos reeds bekend, moet die skrywende subjek later in die bundel vir lady Anne as historiese metafoor verwerp17. Ten spyte van ‘n kritiese ingesteldheid teenoor die misstande van haar tyd, kon lady Anne haar nie uit die kettings van haar bevoorregte stand losruk nie. Daarom, soos dit in die gedig “ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef” (bladsy 40) uitgedruk word: “gearriveer met jou hele frivole lewe sit ek nou berserk / met jou op my lessenaar: as metafoor is jy fôkol werd”.
Die skrywende subjek kies om as digter die rewolusionêre weg, die weg van Afrikanisering te gaan. Dié keuse word voorgestel (in woorde wat aan dié van Maarten Luther eeue gelede herinner) as sou dit onontwykbaar wees, as sou die waaragtigheid van haar insig en haar roeping aan haar opgedring wees: “hier leer ek skryf - ek kan nie anders nie” (uit die gedig “nuwe alfabet”, bladsy 91).
Hierdie insig, hierdie hartsverandering by die skrywende subjek, word dan as eksemplaries vir ‘blanke’ Suid-Afrikaners voorgehou. Dit geskied by implikasie deur die verwerping van die voorbeeld van lady Anne, maar word nêrens geëksplisiteer nie. Eintlik het ons hier te doen met ‘n soort logiese reduksievorm. Aristoteles het reeds aangetoon hoe ‘n reduksie van die drieledige sillogisme as argumentasievorm, byvoorbeeld deur die weglating van een van die premisse of van die gevolgtrekking om ‘n tweeledige enthymema te vorm, retories aangewend kan word (Wierenga, 1978:161-162; en Hauser, 1986:75-76). ‘n Mens sou byvoorbeeld die boodskap van die bundel in die volgende sillogistiese struktuur kon saamvat:
I. Ten einde te kan aanpas by die (Suid-)Afrika-konteks en bestaande verontregting daadwerklik te kan help regstel, sal blankes moet transformeer wat betref sekere tradisionele (Christelik-Westerse) beskouings, waardes en leefwyses.
II. Lady Anne Barnard kon of wou nie sodanige transformasie ondergaan nie, en haar lewe getuig van “totale stralende nutteloosheid” (soos dit in die gedig “jy word onthou vanweë jou partye” op bladsy 96 uitgedruk word)18.
III. Daarom behoort blanke Suid-Afrikaners die voorbeeld van die skrywende subjek te volg en ten gunste van transformasie te kies.
Dit is die gevolgtrekking van die sillogisme wat in die bundel versweë bly en ‘n ‘oop plek’ is wat deur die leser ingevul moet word. Dat die (blanke) Suid-Afrikaanse lesers van die laat tagtigerjare gekonfronteer is met sodanige keuse, word duidelik gemaak deur die plasing van die genoemde munisipale verkiesingsplakkaat aan die einde van die bundel (as dit in numeriese afdelingvolgorde gelees word). Dis ‘n bevoorregte posisie in die teks, sodat die belang daarvan beklemtoon word. Boonop staan dit teen die agtergrond van die twee onmiddellik voorafgaande gedigte. In die eerste daarvan, “Drie Morawiese broeders huisves ons” (bladsye 55-57), moet lady Anne, ná haar kennismaking met die binneland, teen die einde wanhoop in die vermoë van haar kuns om iets van dié land “ingepas geskaal” te kry. Die volgende gedig, “Middagete op Blaauwbergpas …” (bladsy 58), beskryf dan haar wegvlug van die land se felle realiteite na die veiligheid van die afgeslote, ‘gekultiveerde’ Kaapse kasteel, en vandaar terug na Europa. In hierdie lig moet die plasing van die plakkaatafdruk gesien word as ‘n bedagmaking op en ‘n waarskuwing teen ‘n eietydse ideologiese bevangenheid ekwivalent aan dié van lady Anne.
Die invulling van die ‘oop plek’ word bykomend dwingend gemaak deur die intertekste, by name deur die aard van die meeste van die sitate wat verspreid in die bundel voorkom. Om ‘n enkele voorbeeld aan te haal (bladsy 8): “‘As ek my kinders nie kan leer om wit Afrikane te word nie, vernietig ek hul toekoms,’ sê dr Smith. [...] ‘Ek dink hierdie land het ‘n rewolusie nodig om hom weer gesond te maak.’” Sulke sitate deurbreek nie net die fiksionaliteit van die teks deur die buitetekstuele realiteit die diskoers binne te ruk nie; deurdat die insigte en ervaring van ander persone betrek word, word die waarskynlikheid en relevansie van die bundelboodskap verder vergroot.
Ook die aanduidings dat van briewe, dagboek- en joernaalinskrywings gebruik gemaak word, die afdruk van die ovulasie-almanak en die verkiesingsplakkaat, trouens ook die hele blootlegging van die maakproses van die bundel, moet, soos voorheen aangetoon, in hierdie lig beoordeel word. Die outentiekheid van lady Anne Barnard én Antjie Krog se worstelstryd met die onderhawige vraagstukke word hierdeur beklemtoon, sodat die hartsveranderinge wat die digter voorstaan, steeds aan ‘geldigheid’ wen.
4.5 Die aktansiële dieptestruktuur in Lady Anne
Greimas (1971) se aktansiële model wat, soos onder andere Du Plooy (1992e:5) aandui, “‘n baie nuttige instrument [is] in die analise van verhalende tekste”, het ‘n toepaslikheid op Lady Anne waardeur die narratologiese dieptestruktuur van die bundel oorsigtelik gemaak kan word19.
Heel kernagtig en diagrammaties voorgestel, behels dié model die volgende:
Begunstiger →→→→→→ OBJEK →→→→→→ Begunstigde
(positief óf negatief) ↑
↑
↑
streef na
↑
Helper →→→→→→ SUBJEK ←←←←←← Teenstander
Die subjek in Lady Anne is die skrywende “ek” in die bundel wat, soos al aangetoon, in ‘n groot mate met die reële outeur Antjie Krog te vereenselwig is. Soos gesien, word vier aspekte of rolle van die subjek betrek in die bundel: dié van (Afrikaanse) blanke, dié van (blanke) vrou, dié van digter en dié van as Christen.
Die strewe, oftewel die aangevoelde ‘noodsaak’ (soos aangedui), is na Afrikanisering, wat dan die aktansiële objek uitmaak van die vertelteksdieptestruktuur (wat ook ‘n “nie-personale doel of hoedanigheid” kan wees - Du Plooy, 1992e:4). Dié abstrakte objek verteenwoordig, soos voorheen uitgewys, houdings soos die volgende: naasteliefde en vereenselwiging (die Afrika-ideaal van Ubuntu), daadkragtigheid, maatskaplike impak of nuttigheid, rewolusionêre betrokkenheid.
Die negatiewe begunstiger(s) wat die hele onderneming of strewe teenwerk of belemmer is (met betrekking tot die vier rolle waarbinne die subjek figureer): die Europees-Westerse, kolonialistiese sosio-politieke sienings (soos vergestalt in die voormalige apartheid-Suid-Afrika); fallogosentristiese beskouings (verpersoonlik deur die “macho-mans” wat die skrywende subjek “die creeps” gee - bladsy 67); die (Europees-Westerse) estetika waarbinne haar digterskap sy beslag gekry het; en die maatskaplike afstandelikheid van die Christelike hoofstroomteologie. Soos gesien, verteenwoordig dié negatiewe begunstigers houdings of eienskappe soos selfgerigtheid, daadloosheid, estetiese selfpreokkupasie, afstandelikheid en konserwatisme.
Die liberale lady Anne Barnard (‘liberaal’ in die Europees-Westerse sin van die woord) figureer aanvanklik as die oënskynlike helper van die skrywende subjek, naamlik as die metaforiese voertuig waardeur laasgenoemde haar eie tyd kan verken en ‘n moontlike weg kan baan uit die ‘kasteel’ van beperkings waarin sy haar bevind. Later, wanneer die nutteloosheid van lady Anne as metafoor ontmasker is en lady Anne letterlik en figuurlik terugvlug die kasteel in, word sy, saam met die ondersteuners van die apartheidsbestel met sy manlik-chauvinistiese kenmerke, die verwerplike teenstander van die skrywende subjek.
Laasgenoemde word vooropgestel deur die ‘dubbele’ struktuur van die bundel, die nie-opeenvolgende numerering van die afdelings. Hierdeur vorm sowel lady Anne se terugvlug die kasteel in as die rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die laat 1980’s (albei as simbolies van die onvermoë of onwilligheid om ten gunste van Afrikaniserende transformasie te kies) en die ovulasie-almanak (as simbolies van die gestereotipeerde ‘private’, polities nie-aktiewe rol van die vrou) op ‘misplaaste’ wyse een bundeleinde in die middel van die boek. Die ‘verwerping’ blyk uit wat hierop volg in die bundel - byvoorbeeld dat die sprekende subjek as ‘t ware ‘n nuwe alfabet begin aanleer, soos voorheen uitgewys.
Trouens, ‘n mens sou die poësie (die “nuwe alfabet”) en die transformerende krag daarvan as een van die verdere aktansiële ‘helpers’ in die bundel kan beskou. Let maar net op die benutting van diagramme van die tongvis in verskillende fases van ontwikkeling in die bundel. Soos Odendaal (1994:94-95) aangetoon het, word dié vis (wetenskaplike spesienaam Hippoglossus hippoglossus, saamgestel uit die Griekse woorde vir ‘perd” en ‘tong/taal’) uitgebou tot simbool van onder meer “die onvermoeide en onvermydelike bemoeienis van die digter met die taal, waarmee [die Afrikaniserings-] transformasie medebewerkstellig moet word”.
In die “slot”-gedig op bladsy 108 konstateer “die bard” derhalwe onder meer soos volg:
ek is die groot van-kant-maker! van titel en tuig
sal ek ons bevry ons prysgee hart-
lik wring tot die lady viva tongvis juig[.]
In die lig van die aangetoonde oorredende aard van die bundel, sou ‘n mens ook kon sê dat die skrywende subjek eintlik beoog het dat ook die blanke Suid-Afrikaanse kiesers, én die Afrikaanse skrywers en hulle lesers, helpers moes word in die verwerkliking van haar strewe.
Die voorsiende begunstigde in die bundel (want die strewe na Afrikanisering word nog nie verwerklik in die bundel nie, en die apartheidsbestel was in 1989 nog nie ten einde nie) is in die eerste plek die skrywende subjek (by implikasie Antjie Krog self). Soos aangetoon, word amplifiserende tegnieke in die bundel aangewend om die wedervaringe en dilemmas van dié skrywende subjek (Krog) én lady Anne uit te bou tot die eksemplariese vir blanke Suid-Afrikaners in die breë. Die strekking is dat blanke Suid-Afrikaners, en miskien veral Afrikaners, begunstig sal word deur ‘n Afrikaniserende transformasie.
5. Slotopmerkings
Uit bostaande is dit duidelik dat Lady Anne ‘n goeie illustrasie bevat van die volgende samevatting deur Hühn (2004:146) van wat ‘n liriese intrige behels:
A plot is constituted by the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences. Plots are normally attributed to an agent (e.g. the protagonist) and derive their particular function from this attribution. Events form the crucial turning points in the progression of plots and are in turn defined by these. In poetry, a plot typically uses as its medium mental phenomena such as ideas, memories, desires, emotions, imaginations, and attitudes which the agent in a monological reflective and cognitive process ascribes to himself as his plot and through which he can then define or stabilize his self-concept or identity.
Die benutting van die figuur van lady Anne as metaforiese vehicle, en die inkorporering van allerlei gewoonlik nie-poëties geagte tekste, is slegs oënskynlik nie te versoen met die kenmerk van monologiese refleksie nie. Soos gesien, staan dit alles ingebed in en geteken deur die diskoers wat Krog via die (skrywende subjek in die) bundel voer betreffende (veelvlakkige) houdingstransformasie. Sy streef om sodoende ‘n verafrikaniseerde identiteit vir haarself daar te stel, ook vir haar “volksgenote” wat sy by implikasie hoop om met haar siening te laat identifiseer.
“Sou dit verregaande wees om aan die hand te doen dat Lady Anne eintlik gelees kan word as ‘n roman in verse?” het Brink (1989:13) in sy resensie oor die bundel gevra, en spesifieke kenmerke genoem wat hom wel so laat dink: “‘n narratiewe diskoers waarin strategieë soos karakterisering en gebeure binne die dimensies van tyd en ruimte fungeer, voortgebring vanuit ‘n duidelike vertelsituasie”. So wou Krog ‘n verantwoorde sosiaal-betrokke digkuns vestig20 en haarself sodoende posisioneer as “‘n skrywer in die Derde Wêreld” (Krog, 1989b:44).
Soos gesien, sou dit tot ‘n ernstige uitdaging van die ‘tradisionele’ grense tussen die poësie- en prosagenres aanleiding gee, waardeur Lady Anne die weg gebaan het vir ‘n hele aantal Afrikaanse ‘narratiewe’ bundels, meermale in die ‘praatpoësiestyl’, in die twee dekades sedertdien (Odendaal, 2009).
AANTEKENINGE
1 Lady Anne word onder meer deur Brink (1991), in sy aanpassing van die postkoloniale model vir ‘n blik op ontwikkelinge en moontlikhede vir die Afrikaanse letterkunde, in hierdie verband uitgesonder. Hy (Brink, 1991:12) bestempel Krog se bundel as ‘n voorbeeld van “die merkwaardige verwikkelinge” wat in die aanloop tot die millenniumwending sigbaar geword het betreffende “‘n hersiening - ‘n verbreding en komplisering - van die begrip [eie identiteit en] wat aan ‘n groter besef van Suid-Afrikaansheid uiting sou kon gee”.
2 Dié term sal in die res van die artikel benut word om te verwys na die geëksplisiteerde abstrakte outeur, maar wat weens die duidelike outobiografiese gegewens in die bundel grootliks met die reële outeur, Antjie Krog, te vereenselwig is. Brink (1989:13) verwys na “vandag se verteller” in hierdie verband.
3 Die “point of view”, wat al in 1921 deur Lubbock uitgelig is as sentrale eienskap in vertelling - vergelyk Du Plooy (1992a:385) en Brink (1987:14).
4 Vergelyk Afrikaanse bronne soos Brink (1987:15, 17-18, 26-27), Du Plooy (1992a:384-387, 1992b:120-121 & 1992c:150-152) en Van Coller (1987:50).
5 Brink (1987:67 & 84) vertaal Greimas se aktante-begrip met die term akteurs.
6 Vergelyk Odendaal (1997:39-40, 61-67) vir ‘n meer uitvoerige bespreking van die ikonisiteitskonsep.
7 Vergelyk onder meer Du Plooy (1981:195) en Van Coller (1987:16).
8 Greimas (1971) het dié terme uit die veld van die semantiek vir die verhaalteorie geleen, soos onder meer Brink (1987:22) aantoon.
9 Vergelyk byvoorbeeld Brink (1987:154-158) oor hierdie vertelgreep en die funksies daarvan.
10 Kyk onder andere Bisschoff (1992:565-566) en Brink (1987:79-80) vir omskrywings van laasgenoemde terme. Die terme outeurs-, vertellers- en personeteks is van Schmid (1973:29) en word uitvoeriger behandel deur Van Coller (1980:17-21 & 1982:238-240) en Van Coller en Van Rensburg (1982:220-222).
11 Van Coller (1982) lewer ‘n uitgebreide bespreking van die verskille tussen fiktiewe leser en abstrakte leser en die belangrike metodologiese en interpretatiewe onderskeide tussen vlakke “sprekers” en “hoorders”.
12 Kyk byvoorbeeld Van Coller (1987:16) en Du Plooy (1992d:328) vir die uitruilbaarheid van die terme tema, hoof- en sluitmotief.
13 Hieroor het onder meer Gouws (1989) en Brink-de Wind (1992) meer uitvoerig geskryf.
14 Vergelyk Du Plooy (1986:139-142) se analise van Lotman se siening van die begrip sjužet, asook Van Coller (1984:1-15 & 1987:5-6, 13-15) se besprekings in hierdie verband.
15 Gekursiveerde terme geleen by Brink (1987:155).
16 Vir ‘n bespreking van die literêre werk as taalhandeling met ‘n sterk “oorredende” of “perlokusionêre” gerigtheid, vergelyk Van Coller (1992) en Van Coller en Van Rensburg (1984).
17 Terwýl sy simpatie met haar “stralende nutteloosheid” voel, soos op bladsy 96 in die bundel verwoord, en waar “stralende” naas skoonheid ook iets van ‘n heilige sfeer oproep (aldus Viljoen, 1991a:26).
18 Skaars drie strofes tevore in dieselfde gedig bely die skrywende subjek egter ook aangaande lady Anne Barnard: “god ek is verknog aan jou”. Op subtiele wyse word dus erken dat die Westerse invloede tog nie totaal verwerplik is nie.
19 Vir verdere illustrasie van die aktansiële struktuur, vergelyk Van Coller (1984:9 & 1987).
20 “[V]ir ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe ruimte [...] ‘n nuwe poëtika” (Brink, 1989:13).
VERWYSINGS
Bal, M. 1980 (1978). De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.
Blok, W. 1960. Verhaal en lezer. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Brink, A.P.
1985. Literatuur in die strydperk. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
1987. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.
1989. Antjie Krog se Lady Anne: ‘n Roman van ‘n bundel. Vrye Weekblad, 18 Augustus:13.
1991. Afrikaans: Op pad na 2000. (Tiende D.F. Malherbe-gedenklesing.) Acta Varia 1991(1). Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.
Brink-de Wind, M. 1992. Lady Anne deur die oog van die vis. Tydskrif vir Letterkunde 30(2), Mei:99-112.
Bronzwaer, W. 1990. Poëzie en iconiciteit. Forum der letteren, 31(2):93-103.
Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.
Crous, Marius.
2003a. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.
2003b. Anne en Antjie: Die wisselwerking tussen diskoerse in Antjie Krog se Lady Anne. Stilet 15(2), September:149-171.
Du Plooy, H.J.G.
1981. Die verhaal in “Laat vrugte” en “18-44″. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.
1992a. Plot. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:384-387.
1992b. Fabula en sjužet. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:120-121.
1992c. Geskiedenis/storie/verhaal en teks. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:150-152.
1992d. Motief. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:326-328.
1992e. Aktant en aktansiële model. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:3-5.
2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.
Esterhuizen, Louis. 1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
Gouws, T. 1989. Krog se Lady Anne gelyke van Tristia. Insig, Oktober:43.
Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.
Hauser, G.A. 1986. Introduction to rhetorical theory. New York: Harper & Row Publishers.
Hühn, P. 2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.
Hutcheon, L. 1980. Narcissistic narrative; the metafictional paradox. London & New York: Methuen.
Kannemeyer, J.C. 1989. Die horries van A.E. Samuel (gebore Krog). Tydskrif vir letterkunde 27(3), Augustus:33-42.
Krog, A.
1989a. Lady Anne. Bramley: Taurus.
1989b. Waarom praat ons van vroue-skrywers? Die Suid-Afrikaan 22:41-44.
1995. Gedigte 1989-1995. Groenkloof: Hond.
2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
Lategan, B.J. (ed.). 1992. The Reader and Beyond. Theory and Practise in South African Reception Studies. Pretoria: HSRC.
Odendaal, B.J.
1994. Retoriese fasette van die tematiek in Antjie Krog se Lady Anne. Kruispunt, Literair kwartaalschrift 157 (jaargang 35), Junie:86-100.
1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.
2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006). Stilet 21(2), September:114-133.
Pier, J. (ed.). 2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.
Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction. London: Methuen.
Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in der Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.
Stolk, F.R.W. 2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127.
Vaessens, Thomas & Joosten, Jos. 2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.
Van Coller, H.P.
1980. Etienne Leroux as siklusbouer. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.
1982. Pilatus of Pilaar? ‘n Ondersoek na illokusieverwagtings in De Onrustzaaier van Willem van Maanen. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:235-252.
1984. ‘n Kortgids by die bestudering van ‘n kortverhaal. In: Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984: 1-15.
1987. Laat vrugte (behandel deur…). Reuse Blokboek 20. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.
1990. Narratiewe konvensies en Onse Hymie. Tussenkoms. Pretoria: H.A.U.M. Literêr. 43-61.
1992. Pragmatiek /Taalhandelinge en literatuur. In: Lategan, B. 1992:57-82.
Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984. Bestek. Pretoria: Juventus.
Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984. Woorde as dade. Taalhandelinge en letterkunde. Durban: McGraw Hill.
Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J.
1982. Van mond tot oor. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:213-234.
1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984: 86-98.
Van der Merwe, C.N., & Viljoen, H. 1998. Alkant olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.
Viljoen, L.
1989. Krog se virtuose kompleksiteit. Die Burger, 28 Desember:8.
1991a. Susanna Smit en lady Anne Barnard - enkele aspekte van Antjie Krog se historiese poësie as tagtiger-verskynsel. Stilet 3(1), Maart:57-80.
1991b. Die teks as transparant: Antjie Krog se Lady Anne binne die Suid-Afrikaanse werklikheid. Stilet 3(2), September:19-31.
Wierenga, L. 1878. Retorische tekstbeschrijving. In Grivel, C. Methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Dick Coutinho.
Sunday, May 1st, 2011
Ek en my pa het die afgelope Familiedag weer sy ouers se grafte besoek. Dit was reënerig en modderig - regte begrafnisweer. Bainsvlei het oop voor ons gelê. “Op helder dae kon ek die Krugersdrifdam van daardie koppie af sien blink,” wys my pa. Hy het hier tussen die koppies en die doringbome buite Bloemfontein grootgeword. Ek steek nog ‘n sigaret aan. “Oupa was mos al ‘n hoenderboer gewees op 16,” sê-vra ek. Ek vergeet altyd die stories, maar Pa gee nie om om hulle weer te vertel nie. “13. Toe jou oupagrootjie dood is, moes oupa Piet die plaaswerk oorneem. Hy’t skool gelos en ‘n hoenderboer in die Oos-Vrystaat geword. Jare later het hy sy matriek klaargeskryf, universiteit toe gegaan en jou ouma ontmoet.”
My oupa was later senator gewees en hy’t selfs sy lyf skrywer gehou. Ek het Fietsie, sy roman oor ‘n mossie, begin lees toe ek 13 was, maar nooit klaargemaak nie. Hy het van blokkiesraaisels gehou en te veel gerook. Hy’t die plot, waar my pa en sy vier broers grootgeword het, verkoop nadat hy gehoor het die longkanker is terminaal sodat my ouma vir haar ‘n plek in die stad kon koop. My oupa is dood toe my pa 22 jaar oud was - so oud soos ek vandag is. “Was dit nie sleg om die plot te verloor nie?” Dit vat ‘n rukkie voor my pa antwoord: “Nie een van die seuns wou boer nie en dit was veiliger vir Ma in die stad. Sy kon nie so alleen hier buite bly nie.”
As ek terugdink aan my ouma se huis in die stad dink ek altyd aan die reuk van houtskaafsels - Oupa Louis, haar tweede man, was ‘n skrynwerker. Hulle huis in Parfittlaan is vandag ‘n B&B. Ek onthou hoe Ouma Tina ons kinders eenkeer een sent belowe het vir elke tuinslak wat ons met sout kon doodmaak. “Die goed is ‘n plaag,” het sy hand voor die oë vanaf die rooi stoep gesê waar sy op ‘n riempiestoel gesit het. Ek onthou die vreemde mengsel van meegevoel en fassinasie terwyl ek die sterwende slakke dopgehou het. Die sout het al die vog uit hulle liggame getrek en hulle doppe het heen en weer gewieg soos hulle vir die dood probeer wegkruip het.
Ons staan voor die dubbele graf: Petrus Johannes Loock Odendaal (dis vreemd om jou eie volle name so geskryf te sien) en Christina Theron (née De Kock, voorheen Odendaal). Daar is onkruid in die blommegat aan my oupa se kant en die letters se verf is besig om af te dop. My pa sê ek moet die plantjie uittrek. Terwyl ek die klonte van die wortels afskud, wonder ek of van die molekules in die plantjie eens deel van my oupa was, of dieselfde stikstof in die plant eens gehelp het om my oupa aan die lewe te hou. Kilometers vêr maak wolke landerye nat. Ek vee die rooi grond aan my broekspype af terwyl my pa aanstap.
Hy gaan wys vir my die heldeakker: “Hulle het hierdie gebied met boompies afgesper sodat soldate wat op die grens geveg het apart begrawe kon word.” Maar daar is vars grafte tussen die enkele generaals en luitenante wat met die boompies vereer is: Katlehong, Mbuwa, Rasile - almal met handgeskrewe Psalm 23’s in Sesotho saam met blomme in plastiek toegedraai bo-op die heuweltjies. Een van die grafte staan nog oop - die begrafnis is seker môreoggend. Ek merk sardonies op dat daar te min mense in die oorlog dood is en te veel vandag doodgaan - dis seker hoekom hulle maar hier begin begrawe het.
Na die tyd gaan ry ons by die plot verby waar my pa grootgeword het - Harmonie. Die huis is omring met bome. Ek kan nie veel sien nie. “Toe dit destyds so gereën het, was daar altyd brulpaddas so groot soos rugbyballe hier in die pad.” My pa wys na waar bloekombome stil aan weerskante van die weggespoelde grondpad staan. Die son steek vir ‘n laaste keer sy kop tussen die wolke en die horison uit, voor ons saam met die aarde nag se kant toe draai. In die skemer sien ek hoe my pa se sigaretkooltjie in sy droewige brillense weerkaats.
*
Harmonie, distrik Bloemfontein
Die herkontoerde pad
trek ‘n snelstreep deur die ou kontrei.
Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer
by hoewes onder denne en karee
(windpompe briek-briek teen ‘n nukkerige wind);
BAIE
STADIG
DEAD
SLOW
aangedoen by skool, kerk, kerkhof;
‘n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte
en ‘n laaste myl op die bordjie afgepyl:
HARMONIE
HOENDERBOERDERY.
Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …
Pa was ‘n man van dade:
Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.
Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf
(helaas droomverlore)
seuns.
Langsaan was die mooi plaas Elim,
kompleet met blonde meisiemens.
En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …
adresse op die einders,
onder die woesteny van sterre en stiltes -
plasies op die rand van die niet.
Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,
Harmonie tot drie maal toe verkoop,
die Sotho’s vort na plakkerstatte.
Ek en my broers
op soek na so ‘n droomadres
tussen al die êrense, en nêrens.
© Bernard Odendaal, 2007. Onbedoelde land.
Thursday, November 18th, 2010
Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

- Toevallige tekens
Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.
Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis), én jeens Afrika.
As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…
In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen - en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.
In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:
Op die spoor
Wildernis is nie eenvoudig nie.
Sou dit maar iets aan ons wou wys,
iets wat soos ‘n helder fluit styg
uit swamme op ‘n verrotte stomp.
Sou ons ‘n duidelike woord kon vind
vir die kort lewe van termiete
en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.
Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,
die woekergroei van waterhiasint?
Swart miere streep oor ‘n pad.
‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.
Bruin kewers in ‘n lae web gevang.
Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.
‘n Patroon om af te lei.
‘n Verhaal om te vertel.
In die sand lê spore kruis en dwars
en droë blare val daaroor.
Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:
Toevallige digter
Aan die kern sit kennelik
die werkwoord “val”,
aangelap met setsels:
in-, toe-, by- en voor-.
Soos ‘n meteoriet
breek iets skielik
deur bufferlae
om die afgeplatte bol,
ontbrand en pyl
met ‘n vuurpad
tot in ‘n nagtelike tuin
waar onder fosforglans
die swart swaan
‘n oomblik lank verskyn.
Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord
/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”
Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:
Ek soek nog na ‘n metafoor
vir die vergaan van ‘n lyf,
tevergeefs in hierdie soet seisoen.
As die rose pieringgroot oopvou
[...]
bly die metafoor van aftakeling
my gelukkig nog ontwyk.
In hierdie soet seisoen
sal ek nog talm by dié tekens
in hierdie tuin van alle liefde.
(”Soet seisoen”)
Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:
Vanishing voices
The extinction of the world’s languages
- - Daniel Nettle & Suzanne Romaine
Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees
wat nog woorde van gewone dinge weet,
hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer
die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.
Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,
hoe eensaam as die koue nou net joune is,
as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.
Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan
as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”
Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis
dat in jou mond die sinne stol, die woorde
waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.
Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?
Handsak
By die plek van breek-en-grypslae
lê besittings argeloos uitgestrooi:
Uit al dié dinge van min waarde
sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou -
‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde
paspoortblad bleek na boontoe;
‘n rybewys skuil half onder gras;
tussen bou-afval lê ‘n besmeerde
ID-boek ouderdom en blyplek bloot;
‘n verwese sakdoek verkondig
intieme nommers van bekendes,
die huisarts, die versekeraar;
lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,
kaartjies vir die simfoniekonsert.
Ek raap dit alles blindelings bymekaar,
probeer onthou hoedat ek gister was.
Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (”Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:
Wolf op die tweesprong
Na ‘n foto van Jim Brandenburg
Hy het reeds sy staanplek
op die ysskots verlaat
en gespring.
Sy skraal skadu weerkaats
swart in die ysblou water:
onbeduidend onder die groot groot lug,
onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,
onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.
Maar op hierdie oomblik, nou,
waag hy die sprong,
sweef hy vry in sy onveiligheid,
los en bly oor alles wat syne is:
hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,
hiérdie uitgestrekte yl bestaan.
Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk - hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? - in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.
Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.
Die kind van Kigali
Dis die kind van Kigali wat moet loop
om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.
Die kind kom gou terug met die brood
en vind om die huis die spoor van die dood.
Die aanval was oorwoë en subiet:
Met mortiere is alles platgeskiet.
Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,
op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.
Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing - eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie - word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.
Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.
Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, October 18th, 2010
Diorama. Deur Johann Lodewyk Marais. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-356-2. Prys: R140. 87 bladsye. Sagteband.
 Diorama
Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk.
Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk.
Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy “voëlboek” uit 2002, Aves - hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou. Of, lewendiger gesien, en soos dit in deel III van die openingsgedig lui:
Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep
en jou uitnooi om besoek te kom bring
aan sy goed ingerigte boskampe
en wildernisgebiede langs waters
en by koeltebome waar daar rus is.
Gedigte oor soogdiere is in afdeling II van die bundel versamel, voëlgedigte in afdeling III en gedigte oor inheemse plante in afdeling IV.
Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama “‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom”.)
Die genoemde sentrale bundelafdelings II-IV word byvoorbeeld voorafgegaan deur ‘n soort natuurbewaringskundige én digterlike oriëntering in afdeling I. ‘n Mens kan jou verbeel dat dit dié twee, die digter en die natuurbewaringskundige, is wat in “Die spore van Laetoli” saam die res van die bundel in stap:
Ons twee, die aasmense, is die eerstes
wat in die skaduwee van Sadiman
se aswolk tussen die fluitdorings deur
na die opkomende son toe kan stap
met ons twee rye spore weggesak
op die pad na dié wat voor ons wegkoes:
haas, tarentaal, olifant en giraf.
Soms word die (lots-)verbondenheid tussen die mens en die ander skeppingsdinge sterk aangevoel. Één voorbeeld:
Rooijakkals
Canis mesomelas
‘n Wilde, ongetemde roep
sny skerp deur die klowe
en sterf weg in die nag.
Iets tintel teen my rug
asof daar hare op my groei
en regop sou moes staan.
Na Alda Orton
Ook sê sulke verse dikwels meer van die mens as van die natuurdinge wat uitgebeeld word. Dringend word die verhulde aanklag deur die vormgewing in die volgende gedig:
Wildehond
Lycaon pictus
Die wildehond gee nie sy woord nie.
Die wildehond toon nie berou nie.
Die wildehond het nie skaamte nie.
Die wildehond kan nie verstaan nie.
Die wildehond ken nie sy plek nie.
Die wildehond sal jou nie groet nie.
Die wildehond is nie ‘n vriend nie.
Ander kere staan die mens as (beskaamde) vyand van dier en plant geteken:
Ratel
Mellivora capensis
Ná al sy gromgeluide en draaie
was die doodmaak van die rateltaaie
regtig nie te moeilik nie - ek skaam my
daarvoor tussen hierdie boek se blaaie.
Soos tevore in Marais se oeuvre, neem hy sorg om sy uitbeeldings met wetenskaplike kennis te laat klop. Onderaan die volksname vir die fauna en flora in die gedigtitels, verskyn telkens ook die wetenskaplike name. Die digter wil ‘n optekenaar en bewaarder wees soos die natuurkundige.
Of is hy soms ook maar net ‘n soort trofeejagter?
Rooiduiker
Cephalophus natalensis
Nóg ‘n dier moet vrekgemaak word
en in my vers in die stof byt,
met wyd oopgesperde kake
die laaste asem uitroggel,
dalk jammerlik ‘n bietjie bloed
by sy neusgate laat uitloop
en met dowwe oё bly lê.
Kyk, dié keer het ‘n sku ooitjie
in die waai van die Lebombo
mooitjies in my vangstrik getrap!
In afdeling V word gefokus op “[g]rondsake” - om die titel van een van die gedigte daarin te leen - met ‘n oog vir veral die sosio-politieke spoke van grondbesit. (In meer as een gedig hier kom dwalende geeste voor.) Plaasaanvalle is ‘n verdere manifestasie van dié kwessie waaroor gedig word. Let op hoe suggesties in hierdie verband met die minimum aan middele opgeroep word in:
Afrikaanse haikoes
I
Toe die duif opvlieg,
was dit vir hom ‘n teken
om die deur te sluit.
II
Dis nag en die maan
se perdehoef trap ligweg
op die vensterbank.
III
Ná hulle weg is,
het die bloed op die kosyn
‘n bruin swam geword.
Afdelings VI behels potretterings, wat meestal ook huldigings word, van figure wat deur hulle natuurstudie en -optekenings uitgemunt het (François le Vaillant, Phillip V. Tobias, Thomas Baines, Richard E. Leaky, en derglike); of wat dit as hulle “taak” sien of gesien het “om ‘n vinger te verroer / om soos Atlas die aarde te kan dra” (”Friedrich Dürrenmatt”). Ten slotte volg ‘n afdeling met drie gedigte waarin die digter se verhouding met die natuur en met “hierdie stof” waartoe hy sal “terugkeer” (”RIV”, die bundelslotgedig), uitgedruk word.
In die verband van dié bundel en van sy raakpunte met Marais se voriges, verkry die indiwiduele gedigte bykomende waarde, vorm hulle onderling-na-mekaar-toe kaatsende onderdele van ‘n groter geheel - skyn daar ook op hierdie vlak ‘n soort lig deur hulle ter verlewendiging van enkelverse wat andersins weinigseggend sou kon wees.
Vergelyk hoe die volgende enkele, haas metonimiese duiding van Jane Goodall se reddingswerk met sjimpansees sterker resoneer teen die agtergrond van die talle “groen” gedigte in Marais se oeuvre - d.w.s. bý die versterkende werking van die verwysing na die bekende Michelangelo-skildery in die eerste strofe van die gedig:
Jane Goodall
In die begin het God
met sy wysvinger
Adam s’n
liggies aangeraak.
Lank daarna het ‘n vrou
ook só deur tralies
‘n sjimpansee se vinger
liggies aangeraak.
Daar is ‘n gevaar dat sommige gedigte van Marais op sigself yl kan aandoen, in kwalik meer as mededeling of beskrywing kan vassteek; dat hulle naderhand té min bevat om poëties/esteties te boei - júís ook vanweë Marais se kenmerkend onderbeklemtonende, weinig demonstratiewe styl. Dit is inderdaad asof hy in hierdie bundel (veral in die afdelings met die diere- en plant-”portrette”) nog vollediger gehoor gee as voorheen aan die “sy” se raad in “Ex unguine leonem”, naamlik om as subjek te “leer terugtree uit die lig”.
Kortom, ek vrees dat die voortgesette aanpak van dieselfde soort onderwerp met dieselfde gestrooptheid op die duur eenselwigheid in die hand werk.
Gelukkig bring die digter op verskeie wyses variasie in hierdie gedigte teweeg, byvoorbeeld deurdat sommige gedigte beskrywend of sketsagtig geaard is, ander bespiegelend of besinnend; of deurdat in sommige die in die titel aangekondigde onderwerp die hele gedig oorheers, terwyl die benoemde dier of plant in ander eintlik net sydelings ter sprake is.
Ook: soms word spesies kennelik bewonder; ander kere gaan dit om menslike aantastings van dié spesies (se leefwêreld), of om die verhouding tussen mens en natuurding, soos aangetoon. En gedigte soos “Okapi” (’n eenwoordgedig: “Aha!”) en “Rietduiker” bring welkome stilistiese en tipografiese afwisseling.
Rietduiker
Phalacrocorax africanus
Hy het uit die kabbelende water
geglip
en op ‘n seepgladde klip
langs die rivier tussen die mopanies
gewip
e n h o m m e t u i t g e s p r e i d e v l e r k e
in die wit son
droog gedrup en gedrup.
Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, October 4th, 2010
[A]an’t stap. Len S. Louw. Hond BK. ISBN 978-1-874969-17-4. Prys: R100. 48 bladsye. Sagteband.

- omslag
Anders as gewoonlik die geval met solobundels, is aan’t stap nie deur die digter daarvan saamgestel en afgerond nie.
Dit bevat ‘n keur van byna 40 verse uit alles wat Len S. Louw oor ‘n tydperk van 40 jaar gedig het. Die uitgewersbrief lig ‘n mens in dat ‘n ernstige siekte hom verhoed het om “die taak van verwerking en oorweging en skaaf en skuur” te onderneem ten einde die bundel publikasiegereed te kry.
Op aandrang van kollegas en vriende het “keurders en vriende” dit toe gedoen.
Wat die mate van ingrype deur laasgenoemde was, is nie duidelik nie. Die respek vir die digter wat uit die uitgewersbrief blyk, laat my egter aanneem dat die finale produk minstens sy goedkeuring wegdra.
Vandaar dat ek die opeenvolging van gedigte as bedoeld beskou, as ‘n rangskikking wat ‘n bundeleenheid verteenwoordig. Ook die bundeltitel sien ek as ‘n betekenisvolle duider in hierdie verband.
Dit blyk dat ‘n lewensloop (in relatief skrapse besonderhede) geteken word in aan’t stap, hoewel nie in streng chronologiese volgorde nie. Dat die gedigtekorpus as ‘n aaneenlopende geheel aangebied word, sonder groeperings in bundelafdelings, kan as ‘n vergestalting van die lewensloop-gedagte gesien word. Tematiese gedigreekse kan wel onderskei word: Daar is huweliksgedigte; verse oor en vir die digter se kinders en ouers; oor die Namibiese plaaswêreld waarin die digter grootgeword het; verse met Nieu-Seeland as agtergrond (die digter het ‘n tydperk daar gaan woon en werk); gedigte waaruit die digter se nering as arts blyk; en die laaste agt gedigte is gewy aan die digter se slopende siekte.
Tussendeur kom ‘n aantal gedigte voor wat, in aansluiting by die bundeltitel, die reis- en stap-motiewe op die voorgrond stoot. ‘n Sekere verydelende onafwendbaarheid aangaande die menslike lot - onderworpe soos “ons” aan byvoorbeeld die verganklikheid is - word gesuggereer. Blykens die titelgedig, in die slotposisie in die bundel, moet ons
[s]tap kleinword toe,
verkyker-gunter spikkels ver
is ons pikkewyne
in die dimensies van sneeu.
Stap ons voort,
want ons het niks om na te laat nie,
die strande skoongespoel
woestyne skoongewaai,
bosse donker toegegroei.
Rotsetse sonder handtekeninge.
Ver weg vervloei ons stap-stap soos mirages
in die dimensieloosheid van hierdie ewige oomblik.
Die lakoniese “Te voet” vat dié lotsessensie wrang-satiries vas:
pienkvoet
kaalvoet
voor die voet
katvoet, vlugvoet
koevoet
sleepvoet
sesvoet[.]
‘n Ander “stap”-gedig in die bundel het bowendien newetone wat selfs iets noodlottigs aangaande die toekoms van inheemse mense (dus ook Afrikaanses én Afrikaans) kan impliseer:
Laaste staptog
Sy skud die werwels
in ‘n abbabondel
steek twee voete in die pad
en skop hulle voor haar uit.
Hier’t ek klaar gebly, huil haar hart,
hier’t ek die klippe blink gesit.
‘n Kar toet haastig verby
en sonder askies rol haar spu
hom ewe vies toe in die stof.
Sy boggel ‘n rantjie op
tuur oor die rimpels van gister terug
en vorentoe skel die lig te fel
vir klaarte, maar
knorrig karring sy die steekse heup
agter die belofte aan
van ‘n halwe klaargebakte brood
‘n spuit teen die diepe pyn
alles in ‘n witter vreemde taal
waarin sy ten minste
sin sal vind om weg te kwyn.
Tereg word in die uitgewersbrief gewag gemaak van “‘n sombere, amper siniese ondertoon” in die bundel. Maar daar is darem ook heelparty verse, veral onder dié wat oor die huwelik- en gesinslewe handel, of waarin teruggehunker word na die grootwordjare op die plaas (na “die geur / van reën wat Khoi praat op die dakke”!), waaruit lewensvreugde en -drif duidelik spreek. Hierby sluit die volgende liries-speelse vers met sy religieuse newetone aan:
Liedjie
Wie’t gesê die sonneblom
moet son se kant toe blom?
Wie’t my voete genoop
om klippies te skop in die loop?
Wie’t die skielike springhaas verpes
dat hy so gly-gly om graspolle es?
Wie’t die tarentale gehiertjy
om so kerrelend deur die gras te kierie - jy?
Wie’t die wind reg laat draai
om drywende beelde uit die wolke te waai?
Wie’t die bosse gepaljas
om silwergroen mantels aan te pas?
Wie’t gesê ‘n stukkie geluk
moet staccato aan my snare kom pluk?
Trouens, die gehegtheid aan die hiermaalse lewe én die ontgogeling daardeur word soms, soos in die openingsgedig van die bundel, as saambestaande aangebied:
Reis
Waar ons vandaan kom,
was dit bekend, veilig en vervelig.
Ons reis deur hierdie hitte
met hipnotiese selfoortuiging.
Ons is taai van die stof
stram in die hitte
begin twyfel aan die vreemde pad
wat elke vyf minute verby
dieselfde klipkoppie lei.
Gister het ons gepraat net van ons bestemming.
Ná baie pap bande en klipkoppe
het ons versagtend
die reis begin beklemtoon
as belangrik vir ‘n bestemming.
Ons reis is nou ons bestemming:
waar ons heengaan
is dit bekend, veilig en vervelig.
Op heelparty plekke in die bundel is daar tekens van digterlike dwang, van óórsegging in die nastrewing van poëtiese effekte. Sekere gesogte samestellings (”nagsê-naam”, “dynsver”, “wonder-soek”, “weet-soek”, “glipblink”, “verkyker-gunter”) en segswyses of beelde (”die musiek van ewewig”, “om skaapskap te laat wei”, “reuke, kleure, nat soos asters / mooi”, “die see kielie / onder die blaaie van branders”, ”postpuberse mieliepapdye”, “al blaas die omkyk / beloftes van vergesigte”) getuig hiervan. En in klaag- en skeldgedigte soos “die kuur”, “Banneling ná die stryd” en “Zoo toe” lê die emosies nog te vlak, het dit nog te onvoldoende taal- en versgestalte aangeneem, om bo indiwiduele geldigheid uit te styg.
Maar dit wat beïndruk, ontroer of genot verskaf in aan’t stap oorskadu mankemente soos bogenoemde. Selfs al sou ‘n mens huiwerig wees om die bundel, gegewe die bepaalde ontstaansgeskiedenis, as ‘n afgewerkte eenheidsbundel te beoordeel, steek daar genoeg in om ‘n mens van Louw se digterskap te oortuig.
As poësieliefhebber is ek sy vriende en uitgewer dankbaar vir die geleentheid om die verse onder oë te kon kry.
[Beskikbaar by Protea Boekwinkels. Lees ook die onderhoud met Len S Louw hier.]
Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Saturday, June 26th, 2010
Vlerke vir my houteend. Deur Kobus Lombard. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-354-6. R130.
 Vlerke vir my houteend
Kobus Lombard se Geknipte naelstring uit 2001 was na my wete die heel eerste digdebuut wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. Dit was in ‘n tyd toe uitgewers nie maklik sulke finansiële ‘waagstukke’ sou aangaan nie.
Vier jaar later kon Tussen wysvinger en duim egter by dieselfde uitgewer volg, nou ook Lombard se derde bundel.
Heelparty van die temas uit sy vorige werk is terug in Vlerke vir my houteend: die liefde vir die Namibiese natuur en landskappe, asook die (christelike) geloofsworstelinge en -belydenisse (beide in veral die eerste, maar deels ook in die derde bundelafdelings); die plattelandse mens se gevoelens van ontuisheid in die stad (in enkele gedigte in die derde bundelafdeling - minder dringend verwoord as in byvoorbeeld die digter se debuut); die (gemis aan ‘n vervullende) verhouding met die biologiese, “wegloop”-ma en die identiteitskwessies wat hiermee saamhang (die kort slotafdeling).
‘n Temakompleks in sy oeuvre wat aansienlik uitgebou word in hierdie derde bundel, is die poësie- en digterskapbeskoulike gedigte van afdeling II. (In die debuutbundel het die slotgedig en in Tussen wysvinger en duim die slotafdeling dié onderwerp aangeroer.)
Die eis dat die taal in versverband ‘n sintuiglik oortuigende werking moet hê, is veral opvallend. Vergelyk:
Taal
as woorde nie op my lippe
wil sterf nie
moet dit ruik
na kameelhout se vuur
dit moet vrank wees
soos rosyntjiebosblaar,
‘n duin se maanhaar
lemskerp na kan trek
as woorde kan blêr
soos pasgebore lammers
hoe kan dit ooit op my lippe sterf[.]
Dit is daarom tog ‘n bietjie ironies dat, naas bevredigende en onthoubare voorstellings, onderdele van die beelding in hierdie afdeling (maar ook in die ander afdelings, soos ook voorheen in sy oeuvre) mank gaan aan troebel- en gesogthede. Die (titellose) openingsgedig en die slotvers van hierdie bundeldeel bied byvoorbeeld sluitende, suggestiewe beelde van die gedigskryfproses. Ek haal laasgenoemde gedig aan, omdat dit ook die een is waaraan die bundeltitel ontleen word.
Vlerke vir my houteend
‘n ruwe eend
dryf tussen snawel en stert
op die gehekelde water
van die eikehouttafel
kraaloog staar sy na die man
met ‘n plank op sy skoot
en ‘n harpsnaar in sy oor
sy woordmes gereed
om vlerke vir sy houteend te kerf[.]
Maar dan lol dit in gevalle soos die volgende (uit hierdie én ander afdelings):
kewer ek my weg
in die rooi pit
van ‘n kameelboom se stam
piets blitse my
fyn tot vuurmaakhout
(Uit: “Water, hout, sand”)
hoe ver van die sweepklap
kan jou pen se op en neer
met jou oortrom resoneer
(Uit: “Wegskryf”)
somers buig my pen
as dit vrug wil dra
(Uit: “Ryping”)
Op ‘n hele paar plekke in die bundel word die geharde kameeldoring vermeld, en eintlik tot beeld van Namibiese bewoners (van menslike slag, al dan nie) uitgebou. Ook die gedig met hierdie boomnaam as titel is belangrik in hierdie verband:
Kameeldoring
kleintyd was jy die agterplaasboom
die klimboom en die tekenboom
vir my dom hande
in ydeler jare was jy net ‘n ver boom
op die horison, ‘n vryboom
met die maan agter sy takke
maar nou is jy die nabyboom -
ons bas het ewe vaal en skurf geword
ons wortels tas na dieselfde klamte
nes jy moet ek my kroon vol dorings
met gekromde arms dra[.]
‘n Gedig met bekoorlike momente strand op ‘n haperende slotbeeld. “[M]y kroon vol dorings” is ‘n uitdrukking wat dadelik bekende voorstellings van die lydende Christus met ‘n doringkroon op die hoof oproep. As in die slotreël dan staan dat dit “met gekromde arms” gedra word, strook dit wel nog met die voorkoms van die boom oortrek van dorings aan gekromde takke en twye, maar wil dit nie steek hou met die opgeroepte beeld van ‘n persoon wat met dorings gekroon is nie.
‘n Gesonde skeut digterlike (self-)relativering, soos in die gedig “Ek maak versies, Enos”, help dan om die leser se oordele in hierdie verband ietwat te versag.
Die derde afdeling, ongetiteld soos die ander in die bundel, maak die indruk van ‘n tematiese potpourri. Trouens, hegtheid en noodwendigheid van struktuur en samehang is nie ‘n opvallende kenmerk van die bundel in sy geheel nie. Die bundeltitel kry dit myns insiens kwalik reg om die hele inhoud daarvan te oorkoepel; dit speel té beperk toe op die digterskapstrewe en -ervaringe soos verwoord in die tweede afdeling.
Hoewel (noukeurig beplande) bundelopbou geen beslissende kriterium vir oortuigende digwerk of vir ‘n suksesvol geagte digterskap hoef te wees nie, wek die spesifieke, klinkende bundeltitel - soos dit boonop resoneer binne die konteks van die gedig waaruit dit geneem is - tog bepaalde verwagtings in hierdie verband. Vandaar dat ek meen die bundel as geheel ook ‘n bietjie teleurstel.
Soos die vorige Lombard-werke bevat Vlerke vir my houteend ‘n aantal gedigte wat op alte weinig uitloop; verse waarvan die betekenisimplikasies te kort skiet. “Briefwisseling”, “Gesprek met ‘n portret”, “Skryfplank”, “Konstante veranderlike”, “Moederskamer”, “Skoonmaakster” en “Foto’s teen die muur” is na my oordeel sulkes.
Maar daar staan in die bundel ook treffender werk. Naas enkeles wat hierbo aangehaal of vermeld is, noem ek graag nog “Klokkespel” (met sy T.T. Cloete-eggo’s), “Visserman”, “Ander oë”, “Hardekool”, “Sondag in Windhoek, 2007″, “Namibië”, “Verkyker”, “Eenrigtingkaartjie”, “Naggeluide”, “Terugreis”, “Sluitsteenwerf”, “Onthou” en “Ma se erflating”.
Die afskeidsgedigte na aanleiding van die afsterwe van die “wegloopma” van die slotafdeling bou plek-plek roerend voort op veral die gedigte in Geknipte naelstring waarin die soektog na haar verwoord is.
Lombard se verse is dikwels van korter bestek, en tematies en stilisties nogal beperk. Ander digters het al gewys dat dít nie ‘n belemmering op die pad na onvergeetlikheid hoef te wees nie. Hy kan dus bemoediging put uit die wete dat sy derde bundel al ‘n klompie gedigte bevat wat ‘n stewiger indruk maak as sy vorige werk.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, May 17th, 2010
|
Die kind is steeds nie dood nie
Met apologie aan Ingrid Jonker
Die kind is steeds nie dood nie
en slaan haar moeder teen die bors
waar sy Afrika skreeu in die stank
van vullis en riool in die strate
in die roesemoes van mass rallies
die kind skreeu onhoorbaar
die kind het tering en verveling en diarree
Die kind begin klippe gooi na sy vader
wat dreunsing op imbizos van partye
en Afrika skreeu wat the people skreeu
wyl hy korrup en onkapabel is
by die werk
die kind skreeu onverhoord
want hy is honger en dakloos
Die kind is steeds nie dood nie
nòg by Upington nòg by Tembisa
nòg by Theunissen in die Vrystaat
of oral in die land
waar haar kleuterlyfie lê
deurboor van vigsige penisse
neergegooi in die sloot
die doodstil kind skreeu ten hemele
Die kind doodkry is min
nie met uitkomslose onderwys
wat haar ewig agterstel nie
nie met wederregstellende optrede
wat hom niks laat bereik nie
nie met die saai ideologie van gelykstelling
wat alles enig inhibeer nie
al moet die kind die kontinent verlaat
wil die kind lééf
Die swygsame kind is die skaduwee van die burokrate
wat te lui is om beleide uit te voer
wat onderspandeer op welsyn, mediese en ander dienste
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en afsprake
waar eers die eie sak gevul word
die kind loer deur die getraliede vensters van huise
en in die stugge oë van grootmense
om te kyk of daar ooit weer sorgloos in die son te speel is
by Nyanga
in ‘n straat op Wepener
of daar iewers veilig oor ‘n strand
of in die veld te wandel is
Die kind wat man of vrou moet word in Afrika
soek liewer elders kennis
om tot reus te groei wat sê:
Nou is Afrika mýne
nou gaan ék aan Afrika behoort
Sonder ‘n voorgeslag
(c) Bernard Odendaal (Uit: Onbedoelde land, Tafelberg, 2007)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Bernard? Hoe het dit ontstaan?
Ek het “Die kind is steeds nie dood nie” in Maart-April 2006 geskryf. Dit was omtrent ‘n jaar nadat ek ‘n kwartaal lank klas gegee het aan die Katholieke Universiteit Leuven in Vlaandere. Die byna vanselfsprekende orde en veiligheid wat ek in die Laaglande beleef het, moes my afgestomptheid vir die hoë misdaadsyfer en die geweld in Suid-Afrika laat wegraak het. By my terugkeer is ek dus geruk deur wat ek daagliks hier oor die nuus gehoor, in die koerante gelees en self ervaar het. Ook deur hoe gewoond ons as Suid-Afrikaners daaraan raak. Ons gaan hier as ‘t ware doodnormaal ons gang in dikwels dodelike, eintlik deurgaans abnormale omstandighede.
Wat anders is daar ook te doen?
Die donker en weerlig van die vreeslikhede die agtergrond waarteen ons ons magtelose lewensrolletjies vertolk, om dit fatalisties te stel. Blaai ek deur my kladwerkboek van daardie tyd, bemerk ek hoe ek oor dié dinge gebroei het.
In Leuven het ek fluks kon begin werk aan die eerste Afrikaanse vertalings van Jacques Brel-chansons wat ek, per e-poskorrespondensie, saam met my Universiteit van die Vrystaat-kollega, Naòmi Morgan, aangepak het. Terug by die huis, sit ons ywerig die vertaalwerk voort. Maar tussen kladweergawes van liedere soos “Nuwe liefde” (Le prochain amour) en “Die liefies” (Les biches) - waarvan die titels nou vir my ironiese ondertone aanneem - begin koerantknipsels oor geweldsmisdade verskyn. Byvoorbeeld oor ‘n sesjarige meisietjie, Elmonia Ashley Maku, wat buite Jacobsdal in die Modderrivier verdrink is deur die desperate, swanger, weggegooide, wrekende minnares (19 jaar oud) van haar pa. Of oor die pasgebore, verkragte baba wat in ‘n watersloot buite Hennenman deur ‘n verbyganger gevind is - waarskynlik ‘n slagoffer van die mite dat omgang met ‘n maagd ‘n mens reinig van Vigs. Of oor die Tukkiestudent wie se kar in die nag buite Witbank onklaar geraak het. Dadelik bel sy haar pa, en hy sê sluit toe die kar en wag net daar, ek laat die polisie op Witbank dadelik weet - maar húlle is onwillig om te help. Die pa jaag self en praat kort-kort per selfoon met sy bang kind. Minute voordat hy by haar kan kom, breek twee verbygangers egter by die kar in … met voorspelbare gevolge vir haar.
Dan duik daar die gedig “Pa se groente” tussen die liedvertalings op. Die rasseverhoudinge op die plaas waarop ek grootgeword het, wat opgewel het.
Nie lank daarna nie, die eerste weergawes van die gedig “‘n Kersdag se ware verhaal”: sterflikheid, ouerliefde, geloof-in-weerwil-van. Gevolg deur aantekeninge en knipsels wat uiteindelik op “Verslaggewersnotas” sou uitloop, ‘n gedig oor die verkluimdood van ‘n agtjarige, bruin dorpskind met die (in die konteks van óns land) ironie- en betekenisswangere naam Immanuel Afrikaner. Hy het onaangekondig by sy bokwagter-oupa op die Kalahariplaas waarvoor hy so lief was, gaan kuier, en toe dié nie tuis was nie, na hom gaan soek in die genadelose wydtes van daardie wêreld…
Dan is daar ‘n eerste poging om meer direk my ontsteltenis te verwoord oor die skeefloop van die nuwe Suid-Afrika ná skaars ‘n dekade. Met Leipoldt se “Vrede-aand” as interteks, wou ek iets ironies-parodiërend daarstel - maar die poging het sommer in die eerste strofe al begin rammel en wankel, belaai soos dit was met uitgediende ideologiese erfgoed en retoriek (én eie bombasme!):
Al tien jaar, man, het ons demokrasie!
Hoe is geskree en -dans, die strate vol!
Die “wonderwerk” had al wat leef op hol.
Skink dus ‘n dik dop chardonnay - en: Tjôrts!
Ons het op vryevolk-wees tyd gemors -
die REG tel koppe, is die massa s’n:
demo-krasie! Laat waai dus; waarom in
jou dop gekruip? Nou kruip maar, want dis waar:
Die Boer is dood - killed the farmer, swaer!
Lig, lig jou glas! Die son skyn deur die wyn
- en hou op sê dit smaak net soos asyn.
Kom loer hier deur die diefwering met my
en kyk hoe gons die nuwe maatskappy.
Daar klap ‘n skoot, daar word “Your purse!” geskril.
Dit laat die aandelemakelaars maar kil.
Wat is ‘n lyk nou teen ‘n lekker wins?
Wat rooftogte teen die beleggingskuns?
Wat wet en orde teen ‘n four-by-four?
Ons volkie, eens so fier, is sonder gô,
en kan getrein word soos ‘n jong bob’jaan
wat, as hy steeks is, jy weer mak kan slaan.
Sê tjôrts, sê tjôrts - lós die melankolie:
Al tien jaar, man, het ons demokrasie!
Nee, dis glad nie wát en hóé ek dit wou sê nie. Hoop op die toekoms wat verrinneweer word, versinnebeeld deur die mishandelde, misgunde kinders - dís eerder waaraan ek wou uitdrukking gee. Dalk nóg ‘n nuwe “Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”?
Maar toe begin Ingrid Jonker se “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” by my spook…
Kon jy die gedig vinnig tot sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes ontwikkel?
Ek skryf nie maklik en gou nie. Maar hoewel (gedeeltes van) “Die kind is steeds nie dood nie” óók ‘n paar herskrywings beleef het, het dit, gemeet aan hoe gedigte gewoonlik by my ontstaan, redelik gou tot sy finale vorm gevorder.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die flinke vordering met dié gedig is grootliks te wyte aan die feit dat ek toevoegend én ironiserend kon borduur op ‘n bestaande verspatroon. Sowel die vorm as die temabasis was “gegee”. Die uitdaging was om nié die geldige strekking van die welbekende oorspronklike te ondermyn nie, maar ‘n transponering na ‘n nuwe konteks te bewerkstellig (plekname word bygehaal om misdaadvoorvalle aan te dui uit die tyd van die skryf daarvan, soos ek in Volksblad daarvan te lese gekry het) waardeur ewe wrange kommentaar op sosiale misstande gelewer kon word. Sónder om in die bombasme van die hierbo aangehaalde ‘herskrywing’ van “Vrede-aand” te verval. Ek wou ook iets van die uiteindelike hoopvolheid-bý-die-aanklag van die Jonker-gedig behou - al is dit met ‘n groter skeut wrangheid daarby. Ook in Jonker se gedig reis die reuskind “deur die hele wêreld”, maar hy/sy is banneling om ander redes as in “Die kind is steeds nie dood nie”.
Het jy “Die kind is steeds nie dood nie” gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en/of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Toe die manuskrip van Onbedoelde land al so ver ontwikkel was dat ek dit in 2006 aan Tafelberg gestuur het vir keuring, was “Die kind is steeds nie dood nie” nie daarin opgeneem nie. Ek het die gedig egter aan Jaap (J.C.) Steyn en Izak (I.L.) de Villiers gegee om te lees, en hulle het gevoel dis “strong stuff” (Izak). Henning Snyman was die (werklik voortreflike!) keurder vir Tafelberg, en hy het tereg gevoel die afdeling “Huisskoonmaak” kan sterker gemaak word. By afronding van die bundel het ek toe “Die kind is steeds nie dood nie” bygevoeg, en ook die plaasmoordgedig “Hoeka soiets van daardie aard” en die reliëf verskaffende “Uitnodiging: ODENDAAL FAMILIE FEES” bygeskryf.
Izak de Villiers se dood is ook in hierdie verband vir my ‘n gevoelige verlies (soos vir ‘n paar ander digters, vermoed ek).
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hoewel die antwoord op hierdie vraag al grootliks uit voorafgaande opmerkings behoort te blyk, moet ek, jammer genoeg, byvoeg dat die aktualiteit en relevansie van die aanklagte in die gedig intussen net groter geword het.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor Afrika se grootste enkele probleem: Maghebbers wat “korrup en onkapabel” is. Maar miskien veral oor die versugting na ‘n hoopvolle toekoms hier.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?
Soos aangedui: die daaglikse nuus in Suid-Afrika.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek dink nie eintlik so nie. Maar ek het al gewens oud-president Mandela kon vandag “Die kind is steeds nie dood nie” in die parlement voordra, soos hy voorheen met Jonker se gedig gedoen het. Ek sal glad nie omgee as my naam as skrywer daarvan nie eers genoem word nie. Dit gaan nie oor my nie. Die intertekstualiteit wat byvoorbeeld deur parodiëring bewerkstellig word, werk in elk geval iets bowe-persoonliks in die hand.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dis betogender. “Gesog“, uit dieselfde afdeling in Onbedoelde land, het ‘n verwante toonaard. Sterk opinie-uitings laat my ongemaklik voel; maak selfs sterk gevoelens van weerstand in my wakker. (Self-)versekerde mense kom vir my gewoonlik ietwat gek voor.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ek weet nie of iemand wat nié intiem bekend is met die Suid-Afrikaanse werklikhede van gister en vandag nie, waardering vir “Die kind is steeds nie dood nie” kan hê nie. Die gedig is voorts nogal afhanklik van die Afrikaanse literêre eggo’s wat daarin weerklink vir sy impak: Jonker se gedig en ander voortskrywings daarop, Leipoldt se “‘n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie“.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek moet bely dat ek self nie soveel van die gedig gehou het nie. Té ‘ge-opinieerd’. Maar die vooraflesers van Onbedoelde land het gevoel dit versterk die bundelstrekking.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Die gedig het uiteenlopende reaksies in resensies oor Onbedoelde land ontlok. Vanaf dat dit onvloeiend en onnatuurlik is, “bedink en uitgewerk”, tot by bestempelings as ‘n “indrukwekkende uitbreiding” op die oorspronklike, as iets wat “Van Wyk Louw se dictum dat daar uit die ‘gevormde literatuur’ nooit weer poësie te make is nie, [oortuigend weerspreek]“. Daar was selfs die verwyt dat die “besonder swartgallige blik op die Afrikakultuur” wat daarin gebied word, dit “beslis nie die soort gedig [maak] waarmee ‘n mens nuwe swart lesers vir Afrikaans sal kan werf nie”.
André P. Brink het die gedig in die 2008-uitgawe van Groot Verseboek opgeneem. Ek lei daaruit af dat hy daarvan gehou het, hoewel ek ook weet dat hy soms voorkeur gegee het aan gedigte wat “gesprekke” voer met bekende voorgangers in die Afrikaanse tradisie.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was ‘n ontnugterende ervaring om nou weer deur my oudste kladwerkboeke te blaai. Ek haal maar ‘n gedig van toentertyd aan wat met die minste woorde werk - dan is die beskaming die minste.
Duiwe-ode aan ‘n Sondagmiddag op die plaas
Koer-koer-doek, koer-koer-doek,
koer-koer-doek, koer-koer-doek …
Koer-doek-doek. Koer-doek-doek.
Koer-doek-doek, koer-doek-doek.
Koer-doek, koer-doek, koer-doek;
roekoer, roekoer, roekoer …
Koer-koer-doek …
[Ek was jare later heel verras om Jan Hanlo se "De mus" (Die mossie) raak te lees:
Tjielp tjielp - tjielp tjielp tjielp
tjielp tjielp tjielp - tjielp tjielp
tjielp tjielp tjielp tjielp tjielp tjielp
tjielp tjielp tjielp
Tjielp
etc. ]
 Bernard Odendaal
Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore en word as een van vyf broers op die hoewe Harmonie in die Waterbron-gebied buite Bloemfontein groot.Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat gee hy Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Sedert 1990 is hy dosent in Afrikaans en Nederlands aan sy alma mater, waar hy tans ‘n medeprofessor is. Hy skryf gereeld poësieresensies, vakkundige kongresreferate en tydskrifartikels. Sedert 2000 tree hy op as subredakteur van die tydskrif Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging.
Gedurende die afgelope twee jaar het hy in samewerking met Naòmi Morgan van die Departement Frans aan die Vrystaatse Universiteit ‘n paar dosyn van Jacques Brel se beroemde chansons in Afrikaans vertaal. Naas die publikasie van sy gedigte in literêre tydskrifte is ‘n tiental van sy verse opgeneem in nuwe stemme 2 (2001). Sy debuutbundel, Onbedoelde land, verskyn in September 2007 by Tafelberg.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Tuesday, March 2nd, 2010
 Heimrad Bäcker
Met die uitsondering van Willem Boshoff se kykafrikaans is konkrete poësie maar skaars ding in ons digkuns. ‘n Meer onlangse voorbeeld is sekerlik Allooi, die tweegesprek tussen Ben Botma as kunstenaar en Bernard Odendaal as digter, wat tydens Woordfees hierdie week by die Stellenbosch Kunsgallery bekyk kan word, en dan meer spesifiek Bernard Odendaal se sms-haikoes wat hy na aanleiding van koerantberigte geskryf het. (Kyk na die voorbeelde onder aan vanoggend se Nuuswekker of lees meer op Bernard se blog. Nog haikoes is te vinde in sy gedigtekamer.)
Nietemin, in my soeke na beter begrip oor presies wat dié digstyl behels, vind ek op die New York Review of Books se webblad ‘n bespreking deur Charles Simic van ‘n fassinerende digbundel: die Oostenrykse digter, uitgewer en fotograaf, Heimrad Bäcker (1925 - 2003), se posthume bundel transcript wat deur Patrick Greaney and Vincent Kling na Engels vertaal is. Op die uitgewer, Dalkey Archive Press se webblad kry ek die volgende inligting: “transcript is a disturbing document. Using the techniques of concrete and visual poetry, Heimrad Bäcker presents quotations from the Holocaust’s planners, perpetrators, and victims. The book offers a startling collection of documents that confront us with details from the bureaucratic world of the Nazis and the intimate worlds they destroyed. Bäcker’s sources range from victims’ letters and medical charts to train schedules and the telephone records of Auschwitz. His transcriptions and reworkings of these sources serve as a reminder that everything about the Shoah was spoken about in great detail, from the most banal to the most monstrous. transcript shows us that the Holocaust was not “unspeakable,” but was an eminently describable and described act spoken about by thousands of people concerned with the precision and even the beauty of their language.”
Ter illustrasie die volgende gedig:
you are requested to leave the keys in the locks of all furniture, chests etc. as well as the keys in the locks of all interior doors. if the keys are on a separate key ring, they are to be taken off and placed in the lock of the receptacle to which they belong. to the building and hallway keys should be attached a ribbon and a piece of cardboard on which you are to write your names and apartment number and identification number. these keys are to be given to the authorized official. before leaving your residence, the list of assets that was issued to you is to be
Inderdaad, “konkrete poësie” op sy allerbeste. Volgens Charles Simic is die kumulatiewe effek van dié fragmente ‘n “harrowing experience” en sluit derhalwe sy bespreking af met die volgende opmerking: “Poetry is in the details, we usually say, but so is cruelty.” En dié uitspraak is net so van toepassing op Bernard Odendaal se sms-gedigte hier onder. Uiteraard behels die begrip “konkrete poësie” gedigte waar resonansie ontbreek, maar waarin lê die trefkrag van dié verse dan? In die buite-konteks? Ek weet nie … Dalk kan iemand dit vir my verduidelik? Want poësie is dit beslis, maar, helaas, ek beskik nie oor die vermoë om te verklaar presies hóékom nie …
***
Sedert gister oggend het Yves T’Sjoen die vyfde aflewering geplaas in sy reeks oor peritekste. Hierdie keer fokus hy op die digkuns van Roland Jooris. Dan het ons ook ‘n huldeblyk aan M.M. Walters, wat verlede jaar 80 geword het, van Daniel Hugo ontvang. Dit is in die Brieweboks geplaas.
Gepraat van die Brieweboks - Gister is die Blogfokus vir Maart bekend gemaak en vandeesmaand kyk ons na gedigte oor skilderye (of skilders). So, skryf ‘n brief aan Brieweboks en kwalifiseer vir die boekprys ter waarde van R250 by Protea Boekwinkel. Begeleidende stukke tot die Blogfokus is Carna Stander se artikel oor “Breyten Breytenbach: Die skilderdigter as mitologiese figuur” en die Indeks van die sogenaamde “beeldgedig” wat deur Johann de Lange saamgestel is en in stand gehou word.
Lekker lees en mag hierdie Dinsdag ‘n plesierige affêre wees vir jou.
Mooi bly.
LE
JUWELE TUSSEN ALLANRIDGE & BOTHAVILLE 31/05/2008
stormwatrpyp-
vonds: jweelstuke & vr-
minkte jnkvroulyk
PUTTOILET BY SPITSKOP, BFTN 13/01/2009
‘lyk’ na j gvind
duikrs in ’n puttoilet
brokkis been ’n kind
GEREEDSKAP IN VIERFONTEIN-DISTRIK 30/03/2009
boer mt ystr dood-
gslaan, 2e mt ’n graaf
& toe vee hy stoep
MIELIES BUITE ODENDAALSRUS 02/04/2009
man soos 3talig
bord by grnsdraad dryg, doodg-
moer oor milis steel
KIERIE VAN THABONG, WELKOM 12/05/2009
ouma slat klynkind
toe sy hoenrboud uit pot
gaps mt kiri pap
DOEKSPELD TE DAGBREEKBUURT, WELKOM 21/05/2009
tas mt doekspeld toe-
gsteek by moskee gelos
peutrlyk ‘sielsbom’
(c) Bernard Odendaal
Saturday, February 6th, 2010
(Erkenning: Hierdie artikel het in Stilet XXI:2 - September 2009 verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die Eindredaksie.)
Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006)
Abstract: Narrative elements in Danie Marais’ debut poetry volume in die buitenste ruimte (2006)
Deur: Bernard Odendaal
Danie Marais’ 2006 poetry debut in die buitenste ruimte (in outer space) won him three literary prizes, but also coincided with a debate in Afrikaans literary circles about the merits, if not, of what has more than once been termed “praatpoësie” (talk-poetry). ‘Talk-poetry’ is typically freer of structure and more spontaneous and accessible in style than traditional ‘lyric poetry’. It is characterised by everyday speech-rhythms and often features narrative elements in a prominent way. Poetry with narrative elements, often of an autobiographical nature, seem to be of growing importance in, amongst others, the Afrikaans and Dutch literary systems of the past thirty years (i.e. in the postmodern period).
Marais’ debut volume is taken as a case in point. Hühn’s reflections (2004) on the dimensions of sequentiality and mediacy in narratives, his definitions of scripts and frames as cognitive schemes, as well as Strydom’s distinctions (1976) between the cyclic and serial ordering of poems are employed to analyse the syntagmatic and the paradigmatic coherence of in die buitenste ruimte. It is concluded that Marais’ use of narrative elements does not result in ‘unpoetic’ poetry at all. In fact, the thematizing of the narrative aspects in this volume, the way in which the borders between poetry and prose are blurred, the ‘spontaneous’ and ‘artless’ use of everyday speech (but which is then disrupted and rhytmitised in marked poetic ways) - all serve to give poetic shape to a contemporary feeling of disruptedness.
1. Oor “praatpoësie” en ‘n oplewing in narratiewe verskuns
Tydens Versindaba 2006 op Stellenbosch is nogal skerp oor tendense in die Afrikaanse poësie verskil. Dié verskille is spesifiek op die spits gedryf tydens gespreksessie B1 op Saterdagoggend 9 September van daardie indaba, toe die gespreksinleiers gevra is om hul mening te lug oor “Tendense in kontemporêre Afrikaanse digkuns vandag” (sic).
Na my wete is die gespreksbydraes van daardie sessie nie gepubliseer nie, maar ek onthou dat breedweg twee strominge onderskei is: ‘n meer tradisioneel liriese verskuns, waarin ‘verdigtende’ elemente soos hegte klankstrukturering, ritmiese gestileerdheid, beeldsamehang, stilistiese kompaktheid, betekenisimplikasie-vermenigvuldiging asook die uitbuiting van vormgewingskodes oorheers; en ‘n vryer, spontaner en toegankliker poësie, dikwels gekenmerk deur die benutting van spreekritmes en ‘n meer verhalende inslag.
Laasgenoemde tendens is deur een gespreksinleier (Phillip John) as “anti-poësie” bestempel. Ander deelnemers, waaronder een van die digdebutante van daardie jaar, Danie Marais, het gemeen dit verteenwoordig dalk ‘n vernuwende koers in die Afrikaanse digkuns.
By Versindaba 2007 het Lina Spies, in haar (wél gepubliseerde) Dana Mouton-gedenklesing getiteld “Wat is poësie?”, haar in geen onsekere terme nie geskaar by die opponente van die “praatpoësie” - laasgenoemde ‘n bestempeling wat al meermale aangaande die tweede van die hierbo geïdentifiseerde soorte verskuns gebruik is (onder andere deur Hambidge, 2006:5, en Hugo, 2006). Spies (2007:108) meen onder meer dat hierdie soort Afrikaanse poësie van die jongste tyd, waar dit volgens haar “‘n ongekende bloeityd [beleef] gesien al die literêre geleenthede waartydens digters in die kollig staan, hulle verse voorlees en geapploudisseer word”, alte veel “bly steek in die anekdotiese; [dit] word verhalend en prosaïes; wek die indruk van poësie te wees deur kunsmatig gevormde versreëls sonder ritmiese noodsaak”.
‘n Mens moet in gedagte hou dat die opvatting dat poësie wesenlik liries van aard is, eers sedert die 18de eeu, toe die Romantiese lewens- en kunsbeskouing sy invloed laat geld het, oorheersend geword het. Dit beteken dat dít die genre geword het wat as die tuiste gesien is van primêr ekspressiewe skryfwerk, dit wil sê werk waarin die digter se lewensgevoel, sy selfbeskouing en verhouding met die omringende werklikheid, tot literêre uitdrukking kon kom. Die domein van die epiese genre is terselfdertyd toenemend as die van die romankuns gesien. (Stolk, 2007:1122; Altena, 2007:1128 & 1131)
Uit daardie Romantiese siening van die verskuns het, via die digpraktyke en onderliggende poësiebeskouings van byvoorbeeld Baudelaire en Mallarmé, in die twintigste eeu ‘n outonomistiese - en oorwegend taalpragmatiese of retoriese - fokus op die “wêreld in woorde” van veral die enkelwerk voortgevloei. Hierdie ontwikkeling het waarskynlik verder bygedra tot die onderbeligting van die narratiewe samehange in enkelgedigte, gedigreekse en bundelgehele in die grootste deel van die twintigste-eeuse literatuurstudie (Altena, 2007:1129). In sy inleidende opstel tot De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels noem Ad Zuiderent (2001:12) byvoorbeeld dat selfs in van die mees resente Nederlandstalige poësie-analisehandleidings - hy noem Brems se De dichter is een koe (1991), De Feijter se Literatuur en context (1991), Bronzwaer se Lessen in lyriek (1993), Van Alphen se Op poëtische wijze (1996) en Van Boven en Dorleijn se Literair mechaniek (1999) - daar geen eksplisiete verrekening van die plek van die gedig in ‘n digbundel, of van die betekenis van die komposisie van die bundelgeheel, voorkom nie.
Laasgenoemde is minder waar van veral die Noord-Amerikaanse literêre tradisie, met name van die Verenigde State van Amerika, al is dit die bakermat van die close reading. Amerika het naamlik ‘n sterk stroming van narratiewe poësie in die twintigste eeu geken. Digtername soos Ezra Pound, William Carlos Williams, Charles Olson en talle ander is in hierdie verband te noem. (Altena, 2007:1131-1132)
Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (soos, sê maar, na Homeros en Dante se beroemde werke, of hier by ons na N.P. Van Wyk Louw se Raka of D.J. Opperman se Joernaal van Jorik). Ook wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word (soos, byvoorbeeld, die Karibiese Nobelpryswenner-digter Derek Walcott se Omeros, of die Kanadees Ann Carsons se Autobiography of Red), word bedoel; daarby “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag. (Stolk, 2007:1122 & 1127)
Die oplewing in die verhalende soort poësie, soos byvoorbeeld in onlangse tye in die Nederlandse sisteem bespeur word, kan in samehang gesien word met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” (of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer). ‘n Aangewesenheid op sogenaamde klein vertellings wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied, is hierdeur in die hand gewerk (Vaessens & Joosten, 2003:86-87). Sulke klein vertellings, waar hulle neerslag in die poësie vind, vertoon daarom dikwels duidelike trekke van die outobiografiese.
Stolk (2007:1129-1130 & 1137) wonder selfs of daar ‘n verband kan bestaan tussen die oplewing in narratiewe digwerk en die oorgang na wat hy, vertaald, “‘n deelnemende internetkultuur” noem. Hy huiwer egter om verder te gaan as om, met analogieskeppende verwysing na ontwikkelinge in die sewentiende en agtiende eeue, net nog die volgende bespiegelende vraag in hierdie verband te stel: “Als er ooit een ‘moment’ was waarop de opkomst van de burger, het individualisme, de vrije pers en het copyright in de poëzie leidden tot een voorkeur voor lyriek, zou je dan nu kunnen stellen dat de paticipatiecultuur - die samenvalt met een crisis van het onderscheid tussen publiek en privé, van het copyright, en met een herdefinitie en herwaardering van ‘the common’ boven het ‘publieke’ - [dat dát] een voorkeur voor epische poëzie verklaart?”
Opvallend in onlangse tye is ook die aanwesigheid van artikels oor die poësie in boeke, tydskrifte en studies wat op verhaalteorie fokus. (Vergelyk, onder meer, Phelan, 1996, 2004a & 2004b; Pier, 2004; Dubrow, 2006; en die hele De Gids-nommer van November 2007.)
Die verskyning van ‘n bundel soos Danie Marais se in die buitenste ruimte (Tafelberg, 2006), die erudiete wyse waarop hy die benutting van die meer narratiewe “praatvers” daarin kontekstualiseer en motiveer (dikwels met verwysing na die Noord-Amerikaanse poësietradisie), en die herhaaldelike bekroning van hierdie debuutwerk van hom sedertdien (die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys, die Skrywersgilde se Ingrid Jonker-prys en die Universiteit van Johannesburg se prys vir debuutwerk) is straks aanduidings dat hierdie soort verskuns ‘n impak op ook die Afrikaanse poësie aan die maak is.
In die lig van bostaande is die outeur van hierdie artikel en dr. Odile Heynders van die Tilburgse Universiteit in Nederland deur prof Heilna du Plooy van die Noordwes Universiteit genooi om mee te werk aan ‘n navorsingsprojek met as titel: “Vers en verhaal. ‘n Ondersoek na die verskyningsvorme en funksies van narratiewe strukture en tegnieke in die poësie”. Die onderhawige artikel verteenwoordig ‘n bydrae in hierdie verband, naamlik as een verkennende gevallestudie tussen ander, wat hopelik uiteindelik tot ‘n oorsigtelike beskrywing en funksionele teoretisering van die verskynsel in Afrikaans en Nederlands sal bydra.
Eers sal die nuutheid, al dan nie, van die narratiewe soort vers in Afrikaans kortliks in die kollig geplaas word, voordat in meer besonderhede ingegaan word op die vorme van narratiwiteit wat in in die buitenste ruimte benut word, asook op die koherensieskeppende funksies wat dit in die betrokke bundel het.
2. Enkele opmerkings oor die literêre konteks van Danie Marais se debuut
Word Afrikaanse digkuns uit die laaste drie dekades wat narratiewe elemente bevat, maar nie streng epies van aard is nie, onder die loep geneem, is dit duidelik dat Danie Marais se bundel nie in braakland opgeskiet het nie.
Van Vuuren (1999:249) se gewagmaking van “‘n opvallende outobiografiese inslag” in die Afrikaanse digkuns “vanaf eind sewentigerjare” (sic) - volgens haar naamlik “as teenreaksie op Van Wyk Louw se byna krampagtige wering uit die teks van die ‘mens agter die boek’” - kan myns insiens as (deels) tekenend van die sterk aanwesigheid van die narratiewe element in die liriek in die genoemde tydperk gesien word. Dis tekenend hiervan as die outobiografiese inslag gesien word in die lig van wat hiervoor gesê is oor die aard van die “klein vertellings” waarvoor ‘n voorkeur in ‘n postmodernistiese konteks bestaan.
In ‘n vorige studie (Odendaal, 2006:128-129) kon ek aandui dat byna elke Afrikaanse digbundel wat tussen 1998 en 2003 verskyn het, in ‘n mindere of meerdere mate outobiografiese gegewens bevat het, al word die outobiografiese dikwels aangebied in vervlegting met of verhul deur meer ‘objektief’-beskrywende, -beeldende of -portretterende verse. Daar is aangetoon dat - hoewel die poësie sedert die Romantiek as liriese genre uitstaan, en derhalwe gewoonlik sterker deur ‘n persoonlike belydeniselement gekenmerk word as die ander literêre genres - dié outobiografiese tendens tog ook in samehang gesien moet word met byvoorbeeld die opbloei in die publikasie van egodokumente en werke toegespits op die private ache op die Afrikaanse prosaterrein sedert 1990. Ook is genoem dat dit alles in die lig staan van ‘n identiteitsvraagstuk wat deur die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke omwentelinge en deur die globaliseringstendens van die afgelope dekades in onder meer Afrikanergeledere geïntensiveer is.
Grové (2001:9), in ‘n resensie van Barend J. Toerien se bundel Die huisapteek, dui spesifiek aan dat ‘n verhalende element een van die belangrikste wyses is waarop die “persoonlike aanslag” van die outobiografiese geobjektiveer of bo-persoonlik gemaak word.
Van Vuuren (1999:282-286) sonder D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979) en Breyten Breytenbach se Soos die so (1990) in hierdie verband uit. ‘n Mens sou, as voorbeelde van liriese Afrikaanse digbundels van die afgelope dertig jaar met ‘n duidelike narratiewe of verhalende element, ook nog Antjie Krog se Jerusalemgangers (1985 - veral die “Die Jerusalemgangers”-reeks oor die Enslin-trek), Lady Anne (1989) en Kleur kom nooit alleen nie (2000) kon uitlig. Daarby P.J. Bosman se Ryp geel kring (1992); Gert Vlok Nel se Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories (1993); Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg. ‘n Versroman (1996), Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007); Anlen Marais se muur van berge (1999); H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000); Ronel Nel se [en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark] (2002); Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003); Heilna du Plooy se in die landskap ingelyf (2003); Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag (2004); Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006); Carina Stander se Die vloedbos sal weer vlieg (2006); en Bernard Odendaal se Onbedoelde land (2007a).
Behalwe uit bogenoemde tendens in die Afrikaanse poësie, kon Danie Marais, soos genoem, uit veral die Noord-Amerikaanse digtradisie put, waar narratiwiteit en outobiografie ‘n sterk stroming in die twintigste eeu gevorm het. Hy is ook geïnspireer deur die dikwels narratiewe werk in aldagtaaltrant van Duitse digters soos Rolf Dieter Brinkman en Bertolt Brecht. In onderhoude beklemtoon hy voorts hoe hy die gepaste toon en vorm vir sy verskuns ontdek het in die werk van Raymond Carver en Czeslaw Milozs, terwyl sy bewondering vir rock- en country blues-musikante soos Bob Dylan, Leonard Cohen, Tom Waits, Nick Cave, P.J. Harvey en Johnny Cash ook hierin meegespeel het. (Hugo, 2007.; Van der Merwe, 2007; Hambidge, 2006:5; Nel, 2006:8)
3. Die dimensie van opeenvolgendheid (die storiedimensie) in in die buitenste ruimte
‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum aan ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Hühn (2004:139), wanneer hy dit oor die verhalende element in liriek het, praat in hierdie verband van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeldheid (”mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In hierdie afdeling neem ek eersgenoemde dimensie, soos gemanifesteer in Marais se bundel, onder die loep.
3.1 Die sintagmatiese samehang van ‘n liefdesgeskiedenis in in die buitenste ruimte
‘n Sintagmatiese samehang word deur die opeenvolgendheidsdimensie tot stand gebring. In in die buitenste ruimte word, in die eerste plek, die storie vertel van ‘n liefdes- en huweliksverhouding wat in Suid-Afrika begin het en na nege jaar se verblyf in Duitsland op die rotse geloop het, voordat die “ek”-spreker na Suid-Afrika terugkeer. Dis nie ‘n geheim dat hierdie gegewe ooreenstem met gebeure in die digter se eie lewe nie, met ander woorde dat die “storie” wat vertel word, naastenby outobiografies van aard is.
Die gebeure word glad nie streng chronologies aangebied nie. Die bundel begin waar die ontnugterde subjek reeds met ‘n “pap hart” sit en verlang na sy geboorteland (”‘n Pass op ‘n pap hart”), en waar die haperende verhouding tussen twee homoseksuele vriende duidelik ‘n spieëlbeeld vorm van die subjek se eie verbrokkelende huwelik (”Up so close”). Eers in die agtiende gedig in die bundel (”Onder ‘n somermaan”) word die eerste keer vertel van die aanvange van die verhouding tussen die “ek” en sy Duitse vrou, jare gelede toe hy nog ‘n skaars mondige student op Stellenbosch was. In die tweede laaste gedig van die bundel (”As ek deur geslote ooglede onthou”), as die egskeiding al plaasgevind het en die spreker terug in Suid-Afrika is, hoor ons via ‘n herinneringsterugblik weer van hierdie begindae in hulle verhouding.
Maar: voor die middel van die bundel, in die 25ste gedig (”In die donker kamer”), verneem die leser al van ‘n volgende geliefde van die spreker, van “die slapende lyf van die vrou / met wie ek nou my lewe deel”.
Allerlei ander herinneringsterugblikke - in verband met die spreker se jeugjare in Suid-Afrika, sy familielewe en vroeër ontluikende seksualiteit, asook in verband met reise na ander wêrelddele gedurende sy verblyf in Duitsland - word voorts verspreid in die bundel verwoord.
Hoewel dus kennelik in brokke en stukke, en met spronge heen-en-weer in die tyd, is die basiese sintagmaties koherensieskeppende faktor in die bundel tog die vertelling van die toenemende verwydering wat tussen die huwelikspaar intree, totdat hulle uiteindelik onhoudbaar “eensaam saam” is en van mekaar skei.
3.2 ‘n (Betreklik) sikliese opbouprinsipe; tog ook met serie-kenmerke
Strydom (1976:13-16), in sy gepubliseerde proefskrif Oor die eenheid in die digbundel, sou hierdie opbouprinsipe as betreklik siklies van aard bestempel, synde gerig op “die ontwikkeling van ‘n tema in [relatief] kontinue tyd en ruimte sodat die gedigte onderling in volgorde onverwisselbaar is”, al kom daar oop plekke tussen hulle voor. (Hy gebruik hiervoor die term “woordleegtes”.) Die sikliese prinsipe word juis deur Strydom as geskik vir die daarstel van ‘n verhaal beskou.
Talle temporele aanduidings in in die buitenste ruimte versterk die indruk van ‘n hoofsaaklik sikliese verloop. Dae van die week word genoem (met beklemtoning van die subjek se neerslagtigheid op Sondae); seisoenale verwysings kom voor (met beklemtoning van die deprimerende donker, nat winters in Noord-Duitsland). En talle ander tyd- of tydsverloopaanduidings duik op, meermale in gedigtitels - vergelyk: “Na die vakansie”, “Na byna vyf jaar in Duitsland”, “Lank na die begin”, “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer” en “Barcelona - 2 en ‘n ½ jaar later”.
Ook op ander wyses word die sikliese gebeure-aanbod aangedui. Die “Ek en Jy” bereik byvoorbeeld uiteindelik “die gatkant van ons koppige liefde” (”Middagslapie”) wanneer die spreker sy lewe met ‘n volgende liefde begin deel. En die ongelukkige huwelikservaring in die vreemde - wat wesenlik metonimies funksioneer van ‘n ontheemdingsbelewenis, soos ek later sal aandui - word eers behoorlik verwerk wanneer die subjek teruggekeer het na sy geboorteland; met name wanneer hy, soos uitgebeeld in die slotgedig van die bundel, tydens die bywoning van ‘n kursus in Duitsland drie jaar later tot die besef kom dat Afrika, spesifiek Suid-Afrika, sy eintlike heimat is - dat dit dáárdie land is, en alles wat daarmee geassosieer word (byvoorbeeld “moeder, taal en verlies”), wat brandend in sy gemoed leef.
Die wesenlike rede vir die huweliksverbrokkeling is egter in die eerste plek die twee geliefdes se indiwiduele selfgerigtheid, hulle geslotenheid vir mekaar. Nie verniet nie word daar in ‘n hele paar gedigte na ‘n “ek en jy” eerder as na ‘n inklusiewe “ons” verwys - soms bykomend nadruklik gemaak deur die “Ek” en “Jy” met hoofletters te skryf (soos in “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).
Ek verskaf slegs twee aanhalings uit die bundel ter stawing van die siening aangaande die paar se onversoenbaarheid met mekaar:
- In die gedig “Middagslapie” verwyt die “jy” die “ek” dat sy, wat om “hulp en raad” by hom “bedel”, te staan kom voor al sy “negatiewe energie / [sy] permanente desperaatheid”. En dan, in ‘n dubbelsinnige beskrywing wat sowel uitmergelende gewoontebakleiery as radelose seksuele omgang suggereer, spring
[...] ek en jy
en jy en ek
oudergewoonte aan mekaar
soos taxi’s en trems
soos taxi’s en trems
hulle nat kom-en-gaan-klanke
heen en weer en op en af sleep
in ‘n reëndag
reëndag[.]
- In die terugskouende tweede laaste gedig van die bundel, “As ek deur geslote ooglede onthou”, vertel die subjek onder meer hoe hulle as egpaar by ‘n huweliksberader gaan hulp soek het:
maar ons was reeds ver anderkant woorde
vasgekeer in ‘n woonstel
saam.
Ook gaan hy voort om “jy en jou intimiderende selfgenoegsaamheid” wat “soos die Starship Enterprise / outonoom / deur tyd en ruimte suis” uit te wys - iets wat hom, as haar eggenoot, ”altyd / sentimenteel, behoeftig en alleen” laat voel het.
In die loop van die bundel lees ‘n mens telkens raak hoe die egpaar eintlik in isolasie van mekaar verkeer, byvoorbeeld in verskillende vertrekke in dieselfde huis in Bremen; of sy bínne die huis en hy búite, op die balkon. Of hoe sy slaap terwyl hy alleen en bedremmeld wakker sit; hoe sy bel om hom te laat weet dat sy uitslaap en nie huis toe kom nie, omdat daar ‘n “deadline” by die werk is om te haal…
Hierdie “saam eensaam” wees van hulle (’n woordspel wat aan dié van J.C. Steyn in die titelgedig van sy 1975-bundel Die grammatika van liefhê herinner) skakel natuurlik met Marais se bundeltitel, in die buitenste ruimte. Op letterlike vlak word die “buitenste ruimte”-seem versterk met ‘n hele paar verwysings na die hemelruim en na hemelliggame soos die maan, asook na die wetenskapsfiksiefilmreekse Star Wars en Star Trek.
Maar dan word die “buitenste ruimte”-gegewe ook op verdere semantiese vlakke uitgebou, naamlik deur middel van ‘n aantal verbandhoudende isotopieë.
- Eerstens met ‘n isotopie wat verband hou met die selftwyfel en neerslagtigheid waaraan die subjek so dikwels onderworpe is, sodat hy soms net nog na die “buitelyne van ‘n leemte” voel (”Soms ontmoet jy iemand”), of voel dat hy “hang soos Luke Skywalker / aan die einde van The Empire Strikes Back oor die niks”. Sodanig is sy amperse chroniese neerslagtigheid dat sy vrou hom in ‘n stadium uitkryt dat hy “neuroties en ipekonders (sic) en patologies pateties is” (”Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).
- ‘n Tweede isotopie in hierdie verband het te doen met die uitgewekenheid van talle Suid-Afrikaners in ons tyd (die sogenaamde expat-problematiek - vergelyk Hugo, 2006) en met, verwant hieraan, die algemene gevoel van vervreemding, ontheemding en vaderlandsnostalgie wat veral Afrikaners tans teister (soos, onder talle meer, uitgewys deur Jaap Steyn, 2009:10). In talle gedigte, waaronder “Skielik narerig”, “Die nag vol woorde”, “In my ma’le se tuin”, “Groot”, “Gebed in ‘n Boeing”, “Na die vakansie”, “‘n Hart breek soos die see”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Bundesstraße 51″ word uiting hieraan gegee.
- ‘n Derde vlak waartoe die “buitenste ruimte”-motief uitgebou word, betref die (soms net geïmpliseerde) verwyderdheid én afhanklikheid wat die spreker (en ander expats met wie hy in aanraking bly) voel jeens die tale waarmee hy grootgeword het - veral jeens sy moedertaal, Afrikaans, wat as bedreigd gesien word deur hom en wat hy skrynend mis in die vreemde. Vergelyk gedigte soos “‘n Pass op ‘n pap hart”, “Van waar ek vannag balanseer”, “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer”, “Hawad, der einzige dichtende Tuareg” en “Ouma is dood?”.
- ‘n Vierde isotopiese uitbouing in hierdie verband betref die vervreemding en vasgekeerdheid wat die subjek ervaar in die Europese, eerstewêreldse omgewing waarin hy hom tydens sy huwelik bevind, met name in Duitsland. Laasgenoemde word, luidens die tekening daarvan in die bundel, kultureel gekenmerk deur strenge gereglementeerdheid en onontkombare kunsmatigheid, asook deur ‘n ironieserwys byna verpligte soort indiwidualismekultus. “Wes-Europa,” skryf Marais in die slotgedig van die bundel, is “helaas [..] die ryk van die enkeling, / die nadoodse ondersoek van die humanisme, / ‘n verloopte piromaan se droom.” ‘n Paar keer in die bundel word dié omgewing à la T.S. Eliot en D.J. Opperman geskilder as ‘n “grysland”, tipies met betrokke en winterse weersomstandighede. Dusdanige ‘onherbergsaamheid’ van Europa word gekontrasteer met wat, in gedigte soos “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Die vlamdans van herinnering”, die “verterende skoonheid en hopeloosheid” van Afrika en Suid-Afrika genoem word - of, op dubbelsinnige wyse, “die onthoude uitspansel / van moeder, taal en verlies”.
- Laastens word die “buitenste ruimte”-gegewe verbind met die subjek se vicarious (dit wil sê “plaasvervangend[e], middellik[e], tweedehands[e]“) lewe in en via tekste, daar waar hy hom as ontheemde in Europa bevind - ‘n leefwyse waarvan sy vrou hom in die gedig “In die donkerkamer” beskuldig. In ‘n ander gedig, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”, dring sy wanhopig by hom aan dat hy
[...] moet ophou ophou ophou
met [sy] ewige
sweeping statements en grand gestures
dat [hy], o, “Herr Gott weiß” moet ophou
om vir [haar] goedjies te fokken quote.
Uit die praktyk van sy bundel blyk egter dat Marais nie gehoor gee aan hierdie pleidooi van sy gewese vrou nie. [I]n die buitenste ruimte is naamlik deurspek van aanhalings en intertekstuele toespelings. Selfs wanneer hy in die slotgedig sy finale afskeid van die ‘Duitse episode’ in sy lewe (en derhalwe sy keuse vír Suid-Afrika en Afrikaans) verwoord, doen hy dit by wyse van beeldmatige, meestal gepersonifieerde voorstellings van woordwaardes. Hy skryf byvoorbeeld oor Duitsland:
Hier brand ‘n gedig soos ‘n olietenkskip
so groot soos ‘n nag
kontinent
vir my alleen.
Hier is die woord “ma”
‘n wolkekrabber
in ligte laaie;
die woord “pa” ‘n brandstapel
vir name en plekke
wat dreig om my te vergeet.
Hier leer die woord “ek”
die vlamdans van herinnering,
van was,
tussen mense
van as.
(”Die vlamdans van herinnering”)
Op hierdie wyse dra die isotopiese uitbouing van die tematiese lae in die bundel by om die “retarderende” of “opdammingseffek” via herhalings-met-variasies te bewerkstellig wat Strydom (1976:17) met die serie-aspek van bundelstrukturering verbind. Volgens hom dra sodanige serie-aspek by om die innerlike onnoodwendigheid van sikliese strukturering te oorstyg, en om die “immanente” koppeling van en die “onderling funksionele relasies en patrone” van heg gestruktureerde gediggroepe, soos in bundelverband, te bevorder. Of om terme te benut wat nog vroeër deur Raidt (1962:6-8) gebruik is: die hoofsaaklik “lineêre” samehangendheid in epiese verband word innerlik versterk deur “konsentriese” uitbouing, in hierdie geval deur die herhaling van verbandhoudende temata en motiewe.
3.3 ‘n Leitmotiv van ontheemding, met die huwelik, transformasie in Suid-Afrika, globalisering en ‘n persoonlike identiteitskrisis as interpretasierame
Uit die aangetoonde tematiese gelaagdheid word dit ook duidelik dat die verbrokkelende liefdes- en huweliksverhouding nie die leitmotiv of bindende tema van die bundel vorm nie, maar eerder iets soos vervreemding of, beter nog, ontheemding. Die bundeltitel, soos dit ‘n funksionele bundeltitel betaam, wys al opvallend hierop. En Marais het self in onderhoude hiervan gewag gemaak (Marais, 2007).
Die relaas oor die verbrokkelende en eensaamheidskeppende huweliksverhouding vorm dus net een van die sogenaamde rame waarbinne die gedigte gelees moet word. Hühn (2004:143) skryf die raam as kognitiewe skema “designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read”. Naas die huweliksverhoudingsraam, moet die gedigte in in die buitenste ruimte dus ook verstaan word binne die raamwerke van die transformasie in Suid-Afrika sedert veral 1994 (waardeur byvoorbeeld Afrikaners gemarginaliseer voel, en talle Suid-Afrikaners as uitgewekenes elders gaan leef) en van die globaliseringsverskynsel. Laaste, maar nie die minste nie, moet die raamwerk van die subjek se identiteitskrisis en -vasstelling genoem word.
3.4 Die vreemde in en terug - die soektog na die self as intrigeskema in in die buitenste ruimte
Hühn (2004:143) identifiseer ook ‘n tweede kognitiewe skema wat koherensie en betekenisvolheid van narratiewe opeenvolgendheid en intrigevorming kan onderlê, naamlik wat hy noem: “scripts”.
Miskien sou ‘n mens in Afrikaans van skripte kan praat - of liewer nog van basiese intrigeskemas, want in die woorde van Hühn verwys dit na “sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame”. Hy onderskei intrigeskemas soos sterfte (naamlik as ‘n oorsteking van die grens tussen die hiermaalse wêreld en ‘n ander, onbekende wêreld), persoonlike groei (as die ontwikkeling van kindwees na volwassenheid - wat óf positief óf negatief gesien kan word, dit wil sê onderskeidelik as gepaardgaande met die verwerwing van gerypte kennis of met die verlies aan spontane vitaliteit) en die geformaliseerde ritueel van die hoofse liefde (wat die bevrediging van die minnaar se begeertes verhinder).
Waar die raam as kognitiewe skema betekenisvorming en -integrasie in statiese verband aandui, sinjaleer die intrigeskema ‘n dinamiese proses.
‘n Mens sou die reis die vreemde in omwille die eie identiteitsvasstelling of -bevestiging, en die terugkeer ná pynlike loutering na die heimat, as die onderliggende intrigeskema van in die buitenste ruimte kan sien. In ‘n onderhoud met Marius Crous (2007:14) het Marais self iets in dier voege verklaar: “Toe ek Duitsland toe is, was ek vasbeslote om ‘n nuwe identiteit vir myself te skep. Maar op ‘n emosionele vlak het Duitsland vir my meer na die buitenste ruimte gevoel. Vryheid en anonimiteit laat ‘n mens dikwels voel asof jy gewigloos is en vryval[.]” Dit gaan dus om ‘n intrige wat ietwat op die patroon van die Bybelse verhaal van die “verlore seun” verloop.
4. Die dimensie van bemiddeldheid (die verteldimensie) in in die buitenste ruimte
Sover dit die vertel-dimensie in Marais se bundel aangaan - die bemiddeldheidsaspek daarvan (soos Hühn dit bestempel - slegs enkele opmerkings.
Soos dikwels kenmerkend van poësie in die Romantiese en modernistiese tradisies (Hühn, 2004:149) is daar ‘n sterk kongruensie van spreker en protagonis (van die verteller- en karakterdiskoerse) in in die buitenste ruimte. Voorts aansluitend by hierdie tradisies is daar ‘n grootlikse saamval van stem en fokalisasie, naamlik deur die gebruik van die teenwoordige tyd en die eerstepersoonsvertelling. Die handeling van artikulasie word gedramatiseer om die indruk van onmiddellikheid, spontaneïteit en derhalwe outentiekheid te wek. So iets kontrasteer met die verwikkelde stem- en fokaliseringsaanbod wat in Krog-bundels soos Lady Anne en Kleur kom nooit alleen nie, of in byvoorbeeld Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg aangetref word.
Die beskuldiging wat die Duitse eggenote aan die “ek” rig dat hy ‘n vicarious lewe lei, en dat hy voortdurend skuilgaan agter quotes, laat egter blyk dat die bemiddeldheidsdimensie in hierdie bundel nie onproblematiserend gehanteer word nie. Die bemiddeldheid word trouens getematiseer, soos ek voorheen aangetoon het. Die implikasie is ongeveer dat die subjek, daar waar hy weg van sy geboorteland en moedertaal ‘n liefdesverhouding heel probeer hou, waar hy ‘n nuwe lewe probeer lei, as ‘t ware op taal en literatuur en ander teksvorme (films, televisieprogramme, liedjies) aangewese is om sy ontheemdheid te probeer oorbrug - maar daardeur ironieserwys juis die bemiddeldheid of nie-onmiddellikheid van sy bestaan kontinueer. In die gedig “Saturday night alive” (waar die titel reeds weer slaan op ‘n ander teks as die subjek se eie lewe, naamlik op ‘n bekende Amerikaanse TV-vermaaklikheidsprogram) satiriseer die “ek” sy bemiddelde, “tweedehands[e]“, derhalwe eintlik clichématige lewenswyse. Dié clichématige kenmerk van sy lewe word verikoniseer deur, naas die benutting van aanhalings en ander intertekstuele toespelings, die opstapeling van opvallende, ellelange samestellings met koppeltekens. Vergelyk die volgende strofes uit dié gedig:
Ek doen die inval-by-die-flat-
storm-die-yskas-nommer.
Ek doen die Judy-Garland-op-die-vensterbank-
met-Amaretto-en-melk-
“somewhere-over-the-rainbow”-
wat-die-dokter-my-verbied-het-program.
[...]
Maar ek doen veiligheidshalwe ook die selfkritiese-
1-2-3-blok-myself-
is-die-gedig-noodsaaklik?-
prosedure.
Ek doen die skud-en-skop-die-ou-moedertaal-
soos-’n-defekte-Coke-outomaat-in-’n-uitgestorwe-Bahnhof-
op-’n-klein-Duitse-spookdorpie-lank-na-middernag-roetine.
Hühn (2004:153) toon aan dat die - wat hy noem - “materiality” en die formele struktuur van digtekste (klank, ritme, prosodie, sintaksis, tipografie, ensovoorts) benut kan word vir bykomende modellering van narratiewe sekwensies, waardeur die semantiese intrige-ontwikkeling onderskraag, gewysig of teengewerk kan word. In sulke gevalle, skryf hy, funksioneer die formele kenmerke spesifiek as paradigmatiese relasies of ekwivalensies (bykomend tot die seme en isotopieë).
Reeds op tipografiese vlak lyk dit of Marais die tradisionele sienings oor die onderskeide tussen prosa en poësie ‘n bietjie wil uitdaag. Daniel Hugo (2006) skryf in sy LitNet-resensie dat in die buitenste ruimte, op “buitegewone” wyse, “[i]n ‘n era van kort liriese uitbarstings [...] grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse” bestaan. ‘n Mens sou selfs kon sê dat die gedigte in ‘n sekere sin kortverhaalagtig aandoen.
Opvallend is voorts dat die gedigte nie in afdelings ingedeel is nie, wat ‘n aanduiding is dat die sekwensialiteit (om die woord van Hühn weer te gebruik) deurlopend is.
Die anekdotiese, verhalende element in die gedigte gaan gepaard met ‘n opvallende voorkeur vir aldagtaal in langer, dikwels voortstromende sinne, meestal met redelik konvensionele leestekengebruik. Stukke dialoog, ook in Duits, direk aangehaal of gerapporteer, asook sitate uit boeke, liedere, films en TV-vertonings, vind gemaklik hulle plek in die gedigtekste. Die digter is ook nie bang om Engelse woordeskat, anglisismes en bepaalde ongrammatikaliteite (matig) te benut om die indruk van speektaligheid te versterk nie.
Marais (kyk Nel, 2006:8) verklaar self dat hy “met die toon van die vertellerstem [...] probeer om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel en het sodoende outomaties nader aan die ritme van die spreektaal beweeg”. Hy was “op soek na ‘n soepel kruising tussen die ‘hoë’ kultuur van die literatuur en die ‘lae’ kultuur van pop, rock en comics” - ‘n toon wat “spontaan en ongekunsteld klink”.
Die omslagontwerp, deur Karlien de Villiers, die digter se tweede vrou, pas syns insiens by die inhoud en styl van die bundel. “Die Dr.-Seuss-met-die-winterblues-illustrasie skep die regte atmosfeer. Dis vir my belangrik dat die omslag ‘n naïewe, byna kinderlike komponent het. Die Skotse digter Ivor Cutler het die volgende aanbeveling aan voornemende digters gemaak: ‘Remove your intellectual encumbrances, turn on the tap and speak like a child.’” (Nel, 2006:8)
Tog word die normale sinsbou en spreektaligheid dikwels in die bundel ietwat ontwrig, of andersyds geritmiseer. Sintaktiese hervattingstrukture, opstapelende beeldspraak en versreël- en strofe-afkappings is wyses waarop dit geskied.
Één voorbeeld ter illustrasie van laasgenoemde. Let op hoe herhalings- (soos iterasies, parallelismes en anafore) en kwantiteitsfigure (enumerasies, beeldopstapelings) in die volgende gedeeltes van die gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” stilisties bydra om die indruk van die meedoënlose gereglementeerdheid en geroetineerdheid wat die Duitse samelewing op die subjek maak, te vergestalt:
Duitsland is waar die wolke in gelid marsjeer,
waar die son ‘n permit het om te skyn,
waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie.
Duitsland lyk soos Duitsland op televisie.
Al verskil tussen Duitsland en televisie
is dat daar iets gebeur op televisie.
Die misdadigers in Duitsland droom
van groot gewere,
van Amerika.
Die booswigte het almal
warm water, elektrisiteit en ‘n mediese fonds.
Die kriminele lei lewens van stille vertwyfeling
nes die onderwysers, slagters en bankiers.
Duitsland is seker maar soos orals -
die soort van plek waar jy bang is
dat Die Mense gaan uitvind van jou,
gaan weet van jou;
dat Die Mense hulle televisies gaan afsit,
uit hulle talk shows ontsnap
om jou te kom haal,
te kom kreun en hamer aan jou ruit
op die vierde verdieping
soos die zombies in Night of the Living Dead.
[...]
In Duitsland saai jy mielies
in die blombakke op die balkon.
In Duitsland
lê ‘n see van hoekige huise nog so blou,
as jy ver stemme oor die telefoon hoor.
In Duitsland praat jy lekker Duits,
tot jy een oggend skielik weer
soos iemand wat by die tandarts was
sukkel om “selbstverständlich” te sê.
[...]
In Duitsland loop jy
perfectly digitally animated, vat jy
sonder om te raak, beweeg jy
sonder om te roer
deur mure en mense, glip jy
moeiteloos
soos ‘n stem deur ‘n telefoonlyn
deur die onverskillige dag.
[...]
In Duitsland moet jy doen
wat jy wil
of jy nou wil
of nie.
As resultaat kry ons ‘n digkuns wat helder, toeganklik maar tog ook ietwat afstandelik aandoen - myns insiens doelbewus so om ontroering teen te werk oor die droewige storie (oor die huweliksverbrokkeling en ontheemdheidservaring) wat vertel word.
Die indruk van direktheid is egter ‘n bietjie misleidend. Soos aangetoon, is die bundeltitel ‘n leidraad na die betekenisverwikkeldheid wat onder die stilistiese helderheid skuilgaan.
Marais self (kyk Nel, 2006:8) beweer dat die “Poëtiese” (sic) in die eerste plek geleë is in “die krag van beelde”. Die dikwels verrassende en treffende beelding in in die buitenste ruimte is oorwegend ontluisterend, om aan te sluit by die hoofsaaklik negatiewe belewenisse wat uitgebeeld word. Gelukkig word die neerdrukkende hiervan verlig deur, eerstens, die bewerkstelligde afstandelikheid, maar ook deur die soms humorvolle (self-) ironie. Laasgenoemde vind ook uiting in die opvallende benutting van opsetlike teenstellings (”afwesig saam”, “salige depressie”; “Duitsland is spekvet ongesond”, ensovoorts).
5. Slot
Aan die gevare verbonde aan die soort poësie waaraan hy voorkeur gee, ontkom Marais nie altyd nie. Waar ‘n mens aanvanklik intens geboeid lees aan die bundel, werk die prosa-agtigheid van sommige verse in die tweede helfte van die bundel ‘n sekere eenselwigheid in die hand - iets waaroor meer as een resensent kritiek uitgespreek het (Hugo, 2006; Hambidge, 2006:5; Odendaal, 2007b:8; Olivier, 2007; Crous, 2007:14).
Ek is bowendien van mening dat sekere gedigte in die bundel alte enumeratief uitweidend raak; dat die (meestal kennelike) opsetlikheid van woordoortollighede op die duur retories afslyt (vergelyk frases soos “probeer simpatiek toemaar kyk”, “iewers êrens orals” en “kwynende, sterwende aanwesigheid” uit verskillende gedigte in die bundel); dat die beeldopstapelings soms oordryf word (soos in die gedig “Tussen ver en nietig”); voorts dat die herhaalde gebruik van Engelse woordeskat lateraan ietwat studentikoos aandoen - veral as in ag geneem word dat soveel van die vertelde gebeure teen ‘n Duitse agtergrond plaasvind.
Kortom, die opvallende en herhaalde benutting van herhalings- en gelede of opstapelingsamplifikasiefigure soos bogenoemde (Plett, 1985:33-56, verskaf ‘n bondige oorsig van die aard van sodanige stylfigure) stuur onvermydelik op ‘n mate van oordrywing en derhalwe sentimentalisering af. Vergelyk ook die sentimentaliseringseffek van die volgende repetisies in die gedig “Barecelona - 2 en ‘n ½ jaar later”: “Die stoele en tafels is wit wit oblivion wit. / My hemp is blou, raserig Hawaii-blou”.
Tog bevat in die buitenste ruimte véél meer wat poëties treffend en ‘nuut’ is as aspekte wat prosaïes en retories is. Dit is as bundelgeheel allermins as ‘anti-poëties’ ervaar deur die kritiek.
Marais het in ‘n onderhoud met Nel (2006:4) sy digterlike strewe soos volg aangedui: “As die woorde in ‘n spesifieke volgorde by die leser bly spook, is dit poësie.”
Uit die hierbo bespreekte narratiewe dimensies blyk dat Marais op funksionele en grootliks treffende wyse die verteldimensie van sy debuutbundel met die storiedimensie daarvan (die hoe met die wat) versoen het. Die bemiddeldheidsaspek word integraal getematiseer; die tipografiese grense tussen vers- en verhaalkuns word vaer gemaak; ‘n ‘spontane’ en ‘ongekunstelde’ spreektaligheid staan op die voorgrond op die stilistiese vlak, maar word tog ook weer ontwrig en geritmiseer op kenmerkend poëtiese wyses - alles in diens daarvan “om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel”, naamlik ontheemdheid, soos die digter self in hierdie verband aangehaal is.
Die resultaat is inderdaad verse wat “by die leser bly spook” - soos bevestig deur die getal en die aard van die pryse wat deur beoordelaars daarvoor toegeken is.
Universiteit van die Vrystaat
VERWYSINGS
ALTENA, ARIE.
2007. Epische poëzie nu. De Gids, november:1128-1138.
BOSMAN, P.J.
1992. Ryp geel kring. Pretoria: HAUM-literêr.
BREYTENBACH, BREYTEN.
1990. Soos die so - toktokkie se nagregister. Amsterdam: Meulenhof / Van Gennep & Johannesburg: Taurus.
CROUS, MARIUS.
2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.
2007. Marais keer terug uit buitenste ruimte. Die Burger, 4 Mei:14.
DUBROW, HEATHER.
2006. The Interplay of Narrative and Lyric: Competition, Cooperation, and the Case of the Anticipatory Amalgam. Narrative 14(3), October:254-271.
DU PLOOY, HEILNA.
2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.
ESTERHUIZEN, LOUIS.
1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
2001. Opslagsomer. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
2004. Liefland. Pretoria: Protea Boekhuis.
2007. Sloper. Pretoria: Protea Boekhuis.
GROVÉ, A.P.
2001. Resensie oor Die huisapteek (Barend J. Toerien). Beeld, 28 Mei:9.
HAMBIDGE, JOAN.
2006. Marais se aangrypende, genoeglike debuut (resensie oor Danie marais se in die buitenste ruimte). Rapport-Perspektief, 22 Oktober:5.
HUGO, DANIEL.
2006. Buitengewone debuut verwoord buitestanderskap (resensie oor Danie Marais se in die buitenste ruimte). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 15 Maart 2007].
2007. ABSA ketting: Daniel Hugo gesels met Danie Marais. [Internet]. LitNet, 11 April. http://www.linet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].
HÜHN, PETER.
2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.
KROG, ANTJIE.
1985. Jerusalemgangers. Kaapstad: Human & Rousseau.
1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.
2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
MARAIS, ANLEN.
1999. [M]uur van berge - elegieë. Kaapstad: Tafelberg.
MARAIS, DANIE.
2006. [I]n die buitenste ruimte. Kaapstad: Tafelberg.
2007. Danie Marais: die emosie van ontheemding (onderhoud: Versindaba). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].
NAUDÉ, CHARL-PIERRE.
2004. In die geheim van die dag. Pretoria: Protea Boekhuis.
NEL, GERT VLOK.
1993. Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories. Kaapstad: Tafelberg.
NEL, RONEL.
2002. [en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark]. Pretoria: Protea Boekhuis.
2006. Marais dig kinderlik eerlik (onderhoud met Danie Marais). Beeld-Plus, 29 November:8.
ODENDAAL, B.J.
2006. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 998 tot 2003. In: Van Coller, H.P. (red.). 2006:105-148.
2007a. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.
2007b. Verskil tussen prosa en poësie uitgedaag (resensie oor in die buitenste ruimte). Volksblad, 22 Januarie:8.
OLIVIER, FANIE.
2007. Taaldinge wat jou na asem laat snak (resensie oor in die buitenste ruimte). Beeld, 10 April.
OPPERMAN, D.J.
1979. Komas uit ‘n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.
PHELAN, JAMES.
1996. Narrative as Rhetoric: Technique, Audiences, Ethics, Ideology. Columbus: Ohio State University Press.
2004a. Rhetorical Ethics and Lyric Narrative: Robert Frost’s “Home Buriel”. Poetics Today 25, Winter:627-652.
2004b. Toward a Rhetoric and Ethics of Lyric Narrative: The Case of “A Clean, Well-Lighted Place. Frame 17:627-652.
PIER, JOHN (ed.).
2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.
PIETERSE, H.J.
2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg.
PLETT, H.F.
1985. Einführung in die rhetorische Textanalyse. Hamburg: Hekmut Buske Verlag.
RAIDT, EDITH H.
1962. Die bundel as eenheid. ‘n Ondersoek na die funksie van die simbool in Opperman se Blom en baaierd. Ongepubliseerde M.A.-skripsie. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad
SPIES, LINA.
2007. Wat is poësie?: die misterie van ‘n ondefinieerbare genre (sic). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 14(1):93-109.
STANDER, CARINA.
2006. [D]ie vloedbos sal weer vlieg. Kaapstad: Tafelberg.
STEYN, J.C.
1975. Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.
2009. Min glo Zuma. Skandelike transformasie gaan lustig voort. Volksblad, 8 April:10.
STOLK, FABIAN R.W.
2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127
STRYDOM, LEON.
1976. Oor die eenheid van die digbundel. ‘n Tipologie van gedigtegroepe. Pretoria & Kaapstad: H&R Academica.
VAESSENS, THOMAS & JOOSTEN, JOS.
2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.
VAN COLLER, H.P. (red.).
1999. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
2006. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewer.
VAN DER MERWE, KIRBY.
2007. Wanneer woorde spook (onderhoud met Danie Marais). By (bylae by Beeld), 26 Oktober. [Via internet verkry - toegang op 29/04/2008.]
VAN NIEKERK, DOLF.
2006. Nag op ‘n kaal plein. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.
VAN VUUREN, HELIZE.
1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). In: Van Coller, H.P. (red.). 1999:244-304.
ZUIDERENT, AD.
2001. De tweede gisting van poëzie. Ter inleiding. In: Zuiderent, Ad & Van der Starre, Evert (reds.). De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels. Amsterdam: Amsterdam University Press. Pp. 9-28.
Thursday, December 3rd, 2009
Versindaba 2009. Bloemlesing saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-291-4.
 Versindaba 2009 bloemlesing
Soos die Versindaba self, is die gelyknamige bloemlesing vanjaar 5 jaar oud. En soos in die verlede is die bloemlesing saamgestel deur een van die feesorganiseerders (Louis Esterhuizen in 2005, Marlise Joubert sedertdien), en bevat dit telkens kort biografiese en bibliografiese aantekeninge asook twee gedigte van die digters wat tydens die fees opgetree het.
Die bloemlesing is derhalwe nie los te dink van die feesgeleentheid asook die doelstellings dáármee nie. Dit bied, soos uitgewer Nicol Stassen in sy “Voorwoord” verduidelik, “’n momentopname” van die digkuns in ’n bepaalde jaar. Van die meeste van die deelnemende digters het ’n solodigbundel verskyn in 2009 – die uitsonderings synde Pirow Bekker met Van roes en amarant, Loftus Marais met Staan in die algemeen nader aan vensters en Piet van Rooyen met Kwansuis, wat aldrie uit 2008 dateer.
Vanweë die keuringsprosedures wat geld by uitgewers, is dit dus seker dat gehalte ’n deurslaggewende rol speel by die samestelling van die bloemlesing, soos Stassen verder verklaar. Terselfdertyd bied die boek ook ’n blik op die verskeidenheid van Afrikaanse digwerk; in vorige jare is by die afdeling “Nuwe/Opkomende digters” ook werk ingesluit van versmakers wat nog nie met eie solobundels kon of kan spog nie.
Sodoende verskaf die 5 gepubliseerde Versindaba-bloemlesings ’n saamgetrekte beeld van ontwikkelinge op die Afrikaanse poësieterrein in die afgelope halwe dekade. Aangesien literêr-histories oorsigtelike bloemlesings soos Groot verseboek slegs met aansienlike tussenposes verskyn, word by wyse van hierdie bloemlesingreeks ’n unieke, deurlopende beeld gegee van sulke ontwikkelinge.
Joubert noem in haar “Inleiding” tot Versindaba 2009 dat 95 digters die afgelope 5 jaar aan Versindaba deelgeneem het. Ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld, is dus betrek.
Wat meer is: Die fees, en die daarmee gepaardgaande bloemlesing, speel kennelik ’n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem. Stassen skryf in sy “Voorwoord” dat dit vir hom voorkom of die verskeidenheid van die Afrikaanse digkuns toegeneem het (beide in temas en tegnieke) oor die afgelope 5 jaar; dat dit ook al hoe meer gebeur dat “poësie in ander tale neerslag in Afrikaans vind” (waaronder ’n klein maar merkbare toename in gepubliseerde bundels vertaalde digkuns in Afrikaans gereken moet word). Ook die gebruik om “belowende digters te nooi” en van hul werk in die bloemlesingsreeks op te neem, het vrugte afgewerp: “’n Beduidende aantal het sedertdien hulle debuutbundels gepubliseer.”
Inderdaad. Ek het deur die vorige nommers in die reeks geblaai, en kon die volgende name in hierdie verband raaksien: Danie Marais, Carina Stander, Jasper van Zyl, Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais. ’n Bundel deur Melt Myburgh is geskeduleer om vroeg volgende jaar te verskyn.
Erkenning in hierdie verband moet egter ook gegee word aan inisiatiewe soos die Nuwe stemme-reeks by Tafelberg-uitgewers, asook Charl-Pierre Naudé se samestelling My ousie is ’n blom (Snailpress, 2006).
Jannie Mouton, wie se stigting vanaf die begin die hoofborg van Versindaba was, het in sy verwelkomingstoespraak tydens vanjaar se fees uitgewys dat daar rondom 2005 sowat 10-12 Afrikaanse digbundels per jaar verskyn het; tans tel hy rondom die 20.
Versindaba 2009 verskaf ’n kompakte indruk van wat op 27 en 28 November 2009 in die Oude Libertas-teaterkompleks te hore was aan vars Afrikaanse poësie, uit penne van veterane soos Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Daniel Hugo, sowel as van ‘nuwelinge’ soos Lucie Möller, Johannes Prins en Jelleke Wierenga. Wat nie in die bloemlesing weerspieël word nie, is die kruisbestuiwng tussen vers- en ander kunsvorme wat al kenmerkend deel van die fees geword het. ’n Boeiende skildery-uitstalling deur digters soos Heilna du Plooy, Andries Bezuidenhout, Sheila Cussons, Breyten Breytenbach, Trienke Laurie, Carina Stander en Rosa Smit was te sien. Liedmakers en toonsetters soos David Kramer en Laurinda Hofmeyr, asook die ‘rympiesmaker’ Philip de Vos saam met pianis Tertia Visser-Downie (met gepaste ryme by stukke uit Mussorgsky se “Prente by ’n uitstalling”), het vir treffende en onthoubare musiekvermaak gesorg.
Lesings en paneelbesprekings dra ook tot die aanbodverskeidenheid van die fees by.
Stassen, baas van Protea Boekhuis wat die reeks vanaf die begin uitgee, erken dat die Versindaba-bloemlesings nie finansiële winste oplewer nie. Sy kommentaar is dat dit maar ’n deel is van wat hy jaarliks “vir die Here gee”!
Eintlik, so blyk dit, is die fees sowel as die bloemlesingreeks ’n ruimhartige bydrae deur die organiseerders en die borge daarvan (in haar “Inleiding” deur Marlise Joubert by name genoem) tot die Afrikaanse digkuns en tot Afrikaans self.
Iets wat waardering verdien. Waardevoller, op die keper beskou, is egter die besondere argivale en literêr-historiese waarde wat die bloemlesingreeks algaande aan die opbou is. Iets om wel ook te besít, dus, of om aan belangstellendes as geskenk te gee.
Esterhuizen en Joubert het aan die einde van die feesverrigtinge aangekondig dat hulle die organisering daarvan vanaf volgende jaar aan ’n ander instansie afstaan. Sodoende wil hul tyd en energie vry maak om die Versindaba-webblad waarmee hul vroeër vanjaar begin het, verder uit te bou. ’n Mens kan nie anders as om hul dieselfde mate van sukses en ondersteuning toe te wens as met die fees en die bloemlesing nie.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, November 17th, 2009
Reinhard Mey - vertaling uit Duits in Afrikaans deur Bernard Odendaal
“Berlin tut weh”
Ek het gewoon in jou my hele lewe:
Van binne en van buite ken ek jou,
En my herinnerings is eng verwewe
Met jou bekende name en met jou.
Hul sê jy “doen mens goed”, maar ek voel liewer
Jy roer my, wen my op, ja, keer op keer.
Jy raak my wese, tref my hart veel dieper:
Jy maak my seer!
Jy maak my seer!
Met mure skel geverf en bont beteken,
Staan jy gesmuk in oppervlakkigheid.
Maar ek sien elke skandvlek en litteken
En al die skadu’s van vervloë tyd;
Vergete, en verraai nou, en geskonde:
Ek sien wat jou fassades wil maskeer,
Dit pols in my soos nooit genese wonde.
Jy maak my seer.
Jy maak my seer.
Daar was die staatsmanne en kleiner klone,
Gewigtig met hul pratery en praal,
Jou name in hul tande goue krone
Voor hulle aandag na iets anders dwaal.
Dit was ’n pyniging soos jy misbruik is
Vir klomp clichés, vir leuentaal oor en weer:
Bombas vir strewers, beeldspraak vir gefnuiktes.
Jy maak my seer.
Jy maak my seer.
So byna al my vriende moes al weggaan.
En dikwels was hul redes baie goed.
Dis net dat jy my onweerstaanbaar aangaan,
My bron van droefnis, woede, maar ook moed.
So dikwels ek jou in die gees verlaat het,
Het ek skoorvoetend maar weer teruggekeer!
Dit was soos om ’n sieke te versaak het.
Jy maak my seer.
Jy maak my seer.
Ek weet dat jy my vir ’n ruk beperk het,
Mý, wat die vryheid so bo alles stel.
Dis juis wat bande tussen ons gesterk het:
Wat vryheid kos, weet albei alte wel.
Ek het jou lief, o stad van soveel smarte,
Hoe kies ek ooit om dit te wil ontbeer:
Daardie splinters van jou liefde in ons harte!
Jy maak ons seer.
Berlyn maak seer.
(C) Reinhard Mey (Vertaling: Bernard Odendaal)
Wednesday, October 21st, 2009
 Loftus Marais (Foto: Michael Hammond)
Ons is omtrent in die seisoen van pryswenners lyk dit my. So is dit pas bekend gemaak dat Loftus Marais vanjaar die Ingrid Jonker-prys ontvang vir sy debuutbundel Staan in die Algemeen Nader aan Vensters (Tafelberg, 2008). Vorige pryse wat hy reeds met dié bundel ingepalm het, is die Eugène Marais-prys (wat hy met Rondelda S. Kamfer deel) en die Universiteit Johannesburg se debuutprys. Die amptelike persverklaring deur die reëlingskomitee lees soos volg:
Marais se poësie word aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme. Een beoordelaar sien die spreker as ‘n ”geïnspireerde flâneur” wat aan ‘n veronderstelde gespreksgenoot die absurde in die alledaagse uitwys. Dieselfde beoordelaar bestempel ook hierdie poësie as sterk intellektueel en vormvas, en as “heilige spot”. Nietemin, soos ‘n ander beoordelaar dit stel, is dit ‘n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte. Die bundel word ook aangeprys vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring.
Die beoordelaars het ook daarop gewys hoe moeilik dit was om ‘n wenner te kies, en beskou Ronelda S. Kamfer se Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) as ‘n baie sterk naaswenner. Haar poësie, sê een van die beoordelaars, word gekenmerk deur belydenis, “maar dan ‘n belyding wat ‘n gat deur die bladsy brand.” Nog ‘n beoordelaar stel dit so: “‘n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taal-demografie praat deur haar in ‘n besondere sterk stem op ‘n manier soos nog nooit tevore nie.”
Die Ingrid Jonker-prys word elke jaar aan ‘n debuutbundel toegeken, alternatiewelik vir poësie in Afrikaans en Engels. Die prys sal op 28 November tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch aan Marais oorhandig word.
Trienke Laurie, Petra Müller and Charl-Pierre Naudé was die beoordelaars.
***
Veels geluk, Loftus! Ons klap saam hande. Myns insiens was hierdie groep debutante ‘n besonder sterk groep en om as wenner uit dié besonderse groep aangewys te word, is geen geringe prestasie nie. Die ander bundels wat beoordeel was, (in aflabteiese volgorde, volgens outeur) is: Retoer (Andries Bezuidenhout), Noudat slapende honde (Rondelda S. Kamfer) en Onbedoelde land (Bernard Odendaal). Mag hierdie debutante se loopbaan as digters veelvuldig en roemryk wees.
Ter wille van volledigheid - Vorige wenners (Afrikaanse afdeling) is soos volg: Danie Marais (2006), Ilse van Staden (2004), Martjie Bosman (2002), Zandra Bezuidenhout (2000), Trienke Laurie (1998), Charl-Pierre Naudé (1996), Gert Vlok Nel (1994), PJ Bosman (1992), HJ Pieterse (1990), Rosa Smit (1998), Donald Riekert (1986), Johann Lodewyk Marais (1984), Johann de Lange (1982), TT Cloete (1980), Marlene van Niekerk (1978), JC Steyn (1976), Leon Strydom (1974), Lina Spies (1972), Sheila Cussons (1970), MM Walters (1968) en DPM Botes (1966).
Ander name sluimer nog …
Redaksie
Thursday, October 15th, 2009
Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.
Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.
Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).
Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd’” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).
Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.
Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!
Tags: Afrikaanse prosakritiek, Antjie Krog, Bernard Odendaal, Blom van die baaierd, Danie van Niekerk, Daniel Hugo, Digters van Dertig, DJ Opperman, Dood in die berge, E. Lindenberg, Elize Botha, Etienne Leroux, Eugène N. Marais, Grimas: 1969-1973, Henriette Grové, Jochem van Bruggen, Kritiekbundels, literêre kritiek, Lord Milner-hotel, Louise Viljoen, Matjiesfontein, Merwe Scholtz, NP van Wyk Louw, Nuwe verse, Ons ongehoorde soort, Op die woord af, Over grenzen/Oor grense, Perspektief en profiel, Raka, Ronél Foster, Thomas Vaessens, TT Cloete, Woord en wederwoord, Yves T'Sjoen Posted in Uncategorized | 3 Kommentare »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|