Posts Tagged ‘Bernard Odendaal’
Thursday, October 1st, 2009
woud van nege en negentig vlerke. Deur Carina Stander. Tafelberg. R 140.
 woud van nege en negentig vlerke
Hierdie tweede digbundel van Carina Stander is duidelik ’n woordkind uit dieselfde gesin as haar debuut, die vloedbos sal weer vlieg, van 3 jaar gelede.
Die “woud” van die titel eggo die “vloedbos” van die debuut, net soos “vlerke” die “vlieg”-gegewe van voorheen. Dis kennelik belangrike motiewe in haar werk dié, waardeur die belewing van die intieme saambestaan van die geestelike (die kreatiewe verbeelding en die droom, maar ook die religieuse belewing) en die ruie aards-sintuiglike aangedui word. Trouens, daar is iets surrealisties in Stander se bemoeiing met die nie-rasionele, minder bewustelike kante van die werklikheid.
“[N]ege en negentig” sinjaleer weer (soos die “vloedbos” van die debuut) die oorvloed van wat met verwondering, genot en dankbaarheid beleef word – maar wat (nog) nie volkome kan wees in die hiermaalse nie (net “nege en negentig” in plaas van ’n ronde honderd).
Soos van die debuutwerk, is die bandskildery (en ook die sketse op die binneblaaie) van woud van nege en negentig vlerke deur Stander self. Drie vere – blykens die Versindaba-onderhoud wat Marlise Joubert met Stander gevoer het, ’n sinspeling op die Bybelse Drie-Eenheidsbegrip – hang aan ’n geraamteagtige boom op die voorbladillustrasie. Weer ’n suggestie van die reddende, vervullende teenwoordigheid van die geestelike dimensie in die aardse.
Trouens, ek sou die natuurbelewing by Stander as religieus-misties van aard wou bestempel.
Soos in die vloedbos sal weer vlieg word, wat die ruimtelike situering en die beelding betref, weer byna uitsluitlik uit die natuur en die landelike geput. Veral welige, paradyslike omgewings soos Hawaii, die Amasone en (sub-) tropiese dele van Afrika, met hulle vulkane, oerbosse, riviere, mere en seë, figureer opvallend. Waar menslike beskawing wel uitgebeeld word, betref dit in hoofsaak landelike, tradisionele leefwyses waar mens en natuur in elk geval in noue kontak saambestaan.
Dit alles weerspieël ’n paradysverlange as leitmotiv by Stander, en wat klaarblyklik ontspring aan haar jeugervarings op ’n plaas in die Waterberg-kontrei. In die afdeling “Wildernis” word daardie wêreld weer besoek, daadwerklik (soos ek uit ’n gedig soos “stofslierte in die laatlig” aflei), maar ook via herinneringe. Hier het sy “die bos se groen dors [geërf]”, oftewel die “die wildheid” van haar pa (haar natuurliefde en ‘groen bewussyn’); maar ook “die woorde van ’n ma” (taal- en literatuurgevoeligheid).
“Vlam onder die water”, die eerste afdeling (opgedra aan “die God van hemel en aarde”), verwoord die ervaring van die paradoksale, wonderbaarlike, maar ook betroubare en beskuttende goddelike teenwoordigheid in die aardse. Nie net word die troostende behoedheid van die “ek” of die mens beleef nie, maar ook van die dikwels bedreigde natuur. Daarom dat die (ongeïdentifiseerde) digtersfiguur in die openingsgedig kan voel dat hy/sy – in ’n formulering wat op betekenisvolle wyse die nuwetestamentiese gebeure van Christus se intog in Jerusalem en sy wandeling op die water in die gedagte roep – “op die rug van ’n donkie in die see [...] swem”. Dié gedig sluit soos volg:
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ’n engelkop
vanaf ’n eselrug aanskou
om die heelal en hemel só dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees[.]
Vertrouende religieuse oorgawe dus, in welke gevaarsituasie ook al:
skaars ’n armlengte onder jou voet
vloei riviere van vuur
rooi soos Bloed
rooi soos Bloed[.]
(“vulkaanklip”, p. 13)
Herhaaldelik duik engele in hierdie gedigte op (ook “Vlerkman” genoem – wat ’n verdere betekenisnuanse van die vlerk/vlieg-motief in Stander se werk belig), of laat God Hom betuig: “Ek is die groot Ek Is” (“Vloed”, p. 16-17).
Die eweneens paradoksale titel van die tweede afdeling, “vasteland, wankelland”, is ’n aanduiding van die uiteenlopende belewings op Hawaii, in Suid-Amerika en in Afrika wat daarin vertolk word: die idilliese sowel as die gevaarvolle in die natuur; droogte en vernieling, maar ook nuwe groei; (die kulturele restante van) slawerny sowel as politieke bevryding; Afrikaners se vereenselwiging met Afrika sowel as hul hedendaagse vervreemding daarvan; Afrikane (veral vroue) se swaarkry en ellende, maar ook hul deernisvolle sorgsaamheid; verwondering oor en genot aan die natuur, maar ook die mens se roekelose ontginning daarvan. In verband met laasgenoemde moet die digter dan self voel: “skuldig moet ek skryf en dig”, aangesien dit geskied op papier wat van afgekapte bome berei is (“papierplantasie”, p. 49).
Een van die aangrypendste gedigte in hierdie afdeling is “Lima” (p. 41-42), waarin die dogtertjie wat wawiele op die stippellyn te midde van die gevaarlike verkeer maak om “munte traanblink in haar hand” te kan verdien, uitgebou word tot ’n vergestalting van triomfantelike lewensdrif wat, helaas, meestal geblus raak in die terneerdrukkende armoedsomstandighede van ’n stad soos Lima.
Hierna volg “Wildernis”, die derde afdeling, geskryf “vir die Bergfonteiners” (die voormalige bewoners van Stander se grootwordwêreld). Dat dié herbesoek ’n nagaan van die oorspronge van die eie belangstellings behels, het ek reeds aangetoon. Ook hierdie belewenisse word deur paradoksaliteit gekenmerk, maar wat dan telkens binne die oorkoepelende religieuse beskutheid tuisgebring word.
So ook in “Sondoop”, die vierde afdeling. Intense natuurbelewings, spesifiek in Suider-Afrikaanse verband, en wat mitiese en mistiek-religieuse dimensies aanneem, kontrasteer met ontgogeling, ontmaagding, politieke vervreemding, afsterwing. Eggo’s van Ingrid Jonker en C. Louis Leipoldt se werk klink doelbewus op – op funksionele wyse juis in gedigte waar van kunstige vaste vorme (die rondeau en die Franse ballade) gebruik gemaak word.
Terloops, Stander beoefen in ’n paar gevalle in hierdie bundel sulke vaste vorme met sukses, hoewel sy kennelik (ook luidens die genoemde onderhoud wat met haar gevoer is) voorkeur gee aan die vrye vers. Slegs in een geval, in die eerste triolet van die tweedelige “Lobola” (p. 36), het iets opgeduik (die gebruik van “waard” pleks van “werd” omwille die rym) wat na my gevoel van vormlike dwang spreek.
Die laaste twee afdelings, “palm-pas” en “die nege-maande-moeras”, fokus op die huweliksgeluk en die eerste swangerskap binne daardie geborge, religie-deurstraalde verband. Orals in die bundel, maar veral in hierdie twee afdelings oorheers landskappe en natuuromgewings wat van (oor-)lewingskrag en vrugbaarheid spreek, en wat die paradyslikheid van die belewing benadruk. Vergelyk die aanvangsstrofe van “Middelwater”, wat in die subtitel “’n Amasone-villanelle” genoem word:
Adem. Eden. Aden. Skrýf die woord in ewige potlood
op middelwater waar die eiers wieg in ’n papierdun plant.
Hier is gerugte van geboorte en lewe ná die dood.
Die intens-herhalende aard van die villanelle as geykte vorm word effektief benut om die voortsettingsgedagte vormlik te steun.
Meer as een keer word die huwelikspaar in hierdie afdelings op byna Bybelse wyse as “man en mannin” geïdentifiseer, wat by die paradysgegewe aansluit.
Pragtige klankgebruik en beelding kenmerk woud van nege en negentig vlerke, spesifiek ook laasgenoemde twee afdelings – en op funksionele wyse. Die gevaar dat die bepaalde, ekstase-getinte lewensingesteldheid kan aanleiding gee tot inhoudelike en stilistiese oordaad, word myns insiens grootliks deur Stander vermy. Slegs die herhaalde, selfs opvallende gebruik van intensiverende of nuanserende samestellingsvorme, dikwels in verband met kleure (te wyte aan die kunsskilderkyk van Stander as opgeleide visuele kunstenaar?), het my plek-plek wou hinder, het gesog wou aandoen. Ek haal ’n paar voorbeelde aan: “rypsagte buik”, “gebrande-oranje somers”, “tongpienk bloeisels”, “warmloop”, “siekblou see”, “natgerilde woud”, “natwarm harte”, “malreën”, “nektartaai voete”, “toerank-vlegsels”.
En miskien nader Stander met hierdie tweede bundel, as opvallende voortsetting van haar debuut, die grense van afslytende ontginning van die bepaalde tematiek, bejeën soos dit is vanuit die bepaalde ekstaties-verwonderde, mistiek-religieuse lewensingesteldheid.
Talle besonder aantreklike gedigte deurspek egter die bundel. Dis bowendien steeds ’n verfrissend “wilde” perspektief wat Stander bied, met ’n helder oog vir die wonderlikhede van die “wildernis” en die grootsheid van die skepping – ’n optimistiese lewensbeskouing wat egter nie so naïef is om die verskrikkinge en droewighede van die wêreld mis te kyk nie, en wat sodoende oortuigend aandoen.
Bernard Odendaal
Thursday, September 17th, 2009
 Twisgesprek
Ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, het verlede week teruggekeer van sy oorsese reis en moes onmiddellik aan die werk spring. Met ‘n horde nuwe digbundels wat tydens sy afwesigheid verskyn het, is dit beslis géén geringe taak nie. Daarom is ons verheug dat hy sy eerste resensie oor Jelleke Wierenga se Bloot mens (Protea Boekhuis) reeds vroeër hierdie week kon geplaas het.
Onlangs het ek ‘n paar interessante stukke op die internet raakgelees betreffende die kwessie van literêre kritiek. Ten eerste was daar die kennisname van ‘n besonder unieke publikasie deur Yves T’Sjoen, een van ons nuwe bloggers. Dit is naamlik die boek Stem en tegenstem (Atlas, 2004) wat in wese negentien dubbelessays is in dialoogvorm tussen Yves en die digter wie se werk bespreek word. Intussen het ‘n webblad hieruit voortgevloei, naamlik DeRecensent waarin die digter (of skrywer) die geleentheid gebied word om op ‘n bepaalde resensie te reageer.
Waar daar onlangs nog hewige debatte in ons eie media gevoer is oor die kwessie van resensies en die unieke probleme (verdagmakings?) wat daarmee saamhang, wil ‘n mens tóg voel dat die elektroniese media in dié opsig die binnebaan het in vergeleke met die gedrukte media. Hoe kán ‘n mens immers binne die bestek van 600 woorde sinvol en indringend reageer op ‘n bepaalde teks; veral ‘n “digter” teks soos ‘n digbundel?! Voorts bied die internet die voordeel van reaksie en kontra-bespreking.
Daarom - raak betrokke en neem deel. Soos almal weldeeglik van bewus is, is die resensent ook maar net nóg ‘n leser van ‘n bepaalde teks; so ook die skrywer. Plaas dus ‘n kommentaar onder aan die resensie, of stuur ‘n e-pos na Brieweboks vir plasing.
Ter afsluiting kan jy gerus by The Quarterly Conversation gaan inloer waar daar tans ‘n baie interessante debat oor literêre kritiek gevoer word. Twee artikels wat beslis die moeite werd is, is die een hier en dan veral die antwoord hier. As lusmaker, die volgende aanhaling: “These days, the debate over how to write about reading is a cold affair: a de-militarized zone. I avoid the terms literature and criticism here, and perhaps even debate is too hifalutin a word to describe what has amounted to a decades-long pissing match between creative writers and critics. The current steely silence is evidence only of empty bladders; the combatants have become preoccupied with internal skirmishes.”
Mmm, nou ja toe. Ter wille van fatsoenlikheid eerder die volgende aanhaling deur die redaksie van The Quarterly Conversation: ” … A good critic will (to draw on Nabokov) be a storyteller, a teacher, and an enchanter. The critic will tell us a story, the critic will educate us, and the critic will convey some of the enchantment of the reading experience. Thus with every word, sentence, and paragraph the good critic will remind us why we’re spending time discussing a book in the first place.”
En dááraan voldoen ons huis-resensent beslis … Lekker lees en onthou: neem deel aan die gesprek. In Desmond Painter, ons ánder nuutverworwe blogger, het ons ‘n ekspert in diskoersanalise wat immers agterna kan help om weer al die bottelstukke en verskeurde ego’s aan mekaar te sit.
Hê pret vandag.
Mooi bly.
LE
Thursday, September 10th, 2009
 Openbare vyande
Verlede jaar is die Franse letterkunde geskud toe briewe tussen die liberaaldenkende Bernard-Henri Lévy en aartspessimis Michel Houellebecq verskyn het. Pas het hierdie korrespondensie, wat in uiterste geheimhouding via e-pos gevoer is van Januarie tot Julie 2008, in Nederlandse verskyn met die vertalings deur Rokus Hofstede (Lévy) en Martin de Haan (Houellebecq). Volgens De Papieren Man se berig is die één aspek wat die twee uiteenlopende skrywers in gemeen het, die volgende: “Tussen ons beiden ligt een wereld van verschil, behalve op één punt, en niet het minste: wij zijn allebei tamelijk verachtelijke individuen.” (Aldus Houellebecq se openingsbrief.) Volgens Houellebecq sou “veel vooraanstaande journalisten [...] een zweem van vreugde voelen wanneer ze zouden vernemen dat ik zelfmoord heb gepleegd.”
Nou kan ‘n mens natuurlik nie help om te wonder of so iets ooit in ons Afrikaanse lettere moontlik sou wees nie … Ek meen, wat is die kanse dat ons binnekort die geheime korrespondensie tussen ons openbare bekvegters sal kan aankondig? Ai, ai, ai. Die vreugde om onverwags te ontdek dat die swaargewigte van ons lettere inderdaad besig is (of was) om met mekaar te práát.
Dit laat my meteens dink aan die storie van die emmers water wat vriend Viljee bykans 35 jaar gelede al aan my vertel het: jy neem drie emmers water; die een vul jy met koue water, die volgende met lou water en die laaste een met warm water. Persoon “A” steek ‘n arm in die emmer met koue water en ‘n ander (Persoon “B”) steek sy (of haar) arm in die warm water. Op ‘n gegewe moment moet hulle hul ander arms in die emmer met lou water steek en sê of die water koud of warm is. Natuurlik gaan Persoon “A” sê die water is warm, terwyl “B” weer sal sê die water is koud. En tog, dit bly dieselfde emmer water …
Laat jou dink, nè?
Nietemin, Publieke vijanden is ‘n gesamentlike projek tussen De Arbeiderspers en De Geus. En dít op sigself is ‘n kragtoer van versoening. Die hoop beskaam dus nie.
As nagedagte, die volgende aanhaling uit die pen van W.H. Auden: “No poet or novelist wishes he (or she) was the only one who ever lived, but most of them wish they were the only one alive, and quite a number fondly believe their wish has been granted.” (Uit: Writers on writing, Jon Winoker, Headline Press, 1988.)
*
Dan wriemel die webblad omtrent vanoggend met nuwe leesstof … Welkom terug aan Bernard Odendaal na sy oorsese reis; die voorneme wat hy in sy nuwe blog uiteensit, klink beslis na ‘n opwindende onderneming. Ook besonder welkom aan Yves T’Tsjoen wat sý eerste blog geplaas het; ’n insigwekkende stuk oor Ger Groot van De Groene Amsterdammer en bepaalde aspekte tov leesstrategieë. Dan is daar natuurlik die onderhoud met Valzhyna Mort, Richard Jürgens as Charl-Pierre Naudé se derde gas-blogger, De Contrabas se tweede Nuusbrief, plus ‘n hele emmer vol nuwe verse! Gelukkig lê die naweek darem net om die draai met (hopelik) genoeg tyd om alles rustig en stelselmatig deur te lees … Of wat praat ek alles?
*
‘n Lekker Donderdag vir jou; en kyk tog jou opponent in die oog. Hy (of sy) is jou vernaamste reklame-agent.
Mooi bly.
LE
Wednesday, September 9th, 2009

Pas terug uit die “flat and drab and boring” Oos-Kaap. Vir my sondes moes ek twee aande in Hogsback oornag. Met die pad van Hogsback af Keiskammahoek toe gery, verby die plek waar die laaste slag tussen die Engelse (met hulle Mfengu en San handlangers) en die Xhosas plaasgevind het. Die Xhosas is deur die beesslagting kort voor die oorlog verswak en is deur die vallei tot oorkant die berge gejaag en afgemaai. Daarna is groot dele deur die Kaapkolonie geannekseer.
Later het hierdie spesifieke stuk grond deel van die Ciskei geword. Teen die berghange kan ʼn mens sien hoe “betterment” tydens apartheid die landskap verander het, met hutte en huise in rye en landerye en weigrond apart.
Daar is min van die voormalige bestaansboerdery oor. Landerye se vore staan braak teen heuwels. Ek het mense daaroor uitgevra. Dis nie die moeite werd om kool of mielies te plant as mense dit dood eenvoudig kom steel voor dit ryp is nie, sê hulle. Daar is pogings om organiese boerderye te vestig, met laventel, kruisement en malvas, meestal vir die vervaardiging van essensiële olies vir die uitvoermark.
Die meeste mense oorleef op toelae van die regering en geld wat trekarbeiders huis toe stuur. Dit was egter aangenaam om ʼn groep mense te sien wat swartwattelbosse uitkap as deel van die regering se Working for Water-program. Minimale lone word betaal, maar die mense het trots gelyk op die berghang waar geelhoutbome en inheemse gras nou weer kan groei.
So van bome gepraat. Ek het ʼn naweek in Stellenbosch benut om na Carina Stander te gaan luister by Protea Boekhuis. Sy het ʼn pragtige toonsetting van een van haar gedigte deur Herman van den Berg gespeel. Dis lekker dat Carina woorde, beeldende kuns en musiek in haar werk inspan. Way to go, suster!
Herman is besig om een van die voorste toonsetters van Afrikaanse gedigte te word. Hy het al “Beiteltjie” van Van Wyk Louw laat sing, asook ʼn aantal van Bernard Odendaal se lirieke. Carina het natuurlik ook ʼn CD saam met Francois Le Roux (ook bekend as Ha!man) opgeneem. Laasgenoemde is ʼn inwoner van Hogsback.
Iets anders wat my hart laat sing is die feit dat die historiese Lovedale College (hier bo is ʼn foto van die hoofgebou) nou pragtig gerestoureer is. Lovedale is deur die Presbiteriane gestig om onderwys aan die ontluikende Xhosa elite te verskaf. Ek dink Fort Hare universiteit het uit hierdie skool ontstaan. In die omgewing is daar natuurlik ook Healdtown (Metodiste) en St Matthews (Anglikane) met sy pragtige klipkappel. Toe ek laas daar was, het Lovedale uitmekaargeval.
Ek moet seker ʼn plan maak om Noni Jabavu se The Ochre People te lees. Blykbaar sukkel ʼn mens nogal om dit in die hande te kry. Soveel trauma staan op hierdie lieflike landskap se bladsye geskryf.
Tags: Bernard Odendaal, betterment, Carina Stander, Francois le Roux, Ha!man, Healdtown, Herman van den Berg, Hogsback, Lovedale, Noni Jabavu, St Matthews Posted in Andries Bezuidenhout | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, August 10th, 2009
 Vrouedag
Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus - wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.
Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”
As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?
In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook - my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.
Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.
Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.
Mooi bly.
LE
RINGDIG VIR VROUEDAG
9 Augustus 2009
Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –
altans, sy stel haar in sonlig so voor
en glimlag klandestien van oor tot oor.
Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl
as sy onder geskroeide vlerke skuil
en hemel toe versug, maar neerwaarts hel
sonder om sente of soentjies te tel.
Die vrou, glo gebore om te bekoor,
laat vallend beelde skeur, repe skildery
ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.
O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!
Ek rond my soet en kortstondige verblyf
af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.
Tags: Andries Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christo van Staden, Danie Marais, Daniel Hugo, Gerrit Brand, IL de Villiers, Johann Lodewyk Marais, Louis Esterhuizen Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, August 9th, 2009
Die lenige liefde. Herman de Coninck. (Gedigte uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Pretoria: Protea Boekhuis. 132 pp. ISBN: 978-1-86919-302-7.
 Die lenige liefde. Herman de Coninck.Vert. Daniel Hugo
Aandag vir poësievertaling in Afrikaans is in die afgelope jare deur ‘n paar gebeurtenisse geprikkel. Eerstens het ‘n aantal bundels en bloemlesings met sulke vertalings verskyn. Daar was Afrikaanse omsettings van werk uit die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale (Antjie Krog: Met woorde soos met kerse, Kwela, 2002; en die sterre sê ‘tsau’, Kwela, 2004; Mokitimi, Lenake en Swanepoel: Swerfsange. Liedere van Basotho-mynwerkers, Van Schaik, 2004). H.P. van Coller het ‘n keur uit die Vlaamse gedigte van Luuk Gruwez vertaal (Bandelose gedigte, Praag, 2007), en M.M. Walters keure uit die Sjinese en Japannese poësie (onderskeidelik Shih-Ching. Liedereboek, Protea Boekhuis, 2003, en Aki no kure / Herfsskemering - ‘n bloemlesing Japannese gedigte, Protea Boekhuis, 2006). Daniel Hugo se omdigtings van die Vlaming Herman de Coninck (Liefde, miskien, Queillerie, 1996) en die Nederlander Gerrit Komrij se digkuns (Die elektries gelaaide hand, Protea Boekhuis, 2005) neem in hierdie ry gerespekteerde plekke in.
In die tweede plek het André P. Brink op gemotiveerde wyse vertaalwerk deur Uys Krige in Groot verseboek 2000 opgeneem, maar dit met die 2008-uitgawe van dié toonaangewende bloemlesing uitgebrei om ook vertalings deur H.J. Pieterse, M.M. Walters, Cas Vos, Antjie Krog en H.P. van Coller in te sluit - dié keer sónder kennelike motivering en konsekwentheid.
Laasgenoemde het tot polemiek aanleiding gegee op die webblad LitNet, terwyl dit ook aandag getrek het op die webblad Versindaba.
Ek begin al hoe meer dink dat poësievertaling een van die heel riskantste literêre ondernemings is. Nie net word met ‘n nóg skerper oog na die verkoopbaarheid daarvan gekyk nie; ook literêr-krities word dit waarskynlik noukeuriger onder die loep geneem as selfs oorspronklike digwerk in Afrikaans. Veral as die brontaalgedigte daarmee saam gepubliseer word, soos in die geval van Hugo se vertaalwerk.
Anders as met ‘n bundel oorspronklike gedigte, sit die leser dan met “ideale tekste” waarteen hy die vertaalde weergawes kan opweeg.
En tog: Lees ‘n mens werk soos die waaroor hierdie resensie handel, weet jy weer met sekerheid dat dit van onmisbare belang vir ‘n kultuurtaal is - dat dit ‘n kosbare geskenk aan Afrikaans behels deur sowel die vertaler as die uitgewer. Van oorspronklike Engelse werk kan ‘n mens nog argumenteer dat dit in elk geval toeganklik is vir Afrikaanse mense, maar skaars nog van Nederlandse literatuur. Om nie eers te praat van tekste in die ander inheemse of vreemde tale nie.
Hoewel die uitgee van poësievertalings dalk nie veel onmiddellike sakesin maak nie (soos in die meeste gevalle eintlik ook nie die publiseer van oorspronklike digwerk nie), maak dit kulturele en taalsin - en is dit dus tog ook gesonde uitgewersbesigheid met die oog op die toekoms.
Gunther Pakendorf skryf byvoorbeeld in Rapport-Perspektief van 24 Februarie 2008, na aanleiding van H.J. Pieterse se Afrikaanse vertaling van die Duitstalige digter Rainer Maria Rilke se Duino-elegieë (Protea Boekhuis, 2007), dat die “kwasi-mistieke ervaring” van “universele heelheid” wat deur Rilke in dié elegieë uitgedruk word, “net deur middel van die kuns én deur die begenadigde digter moontlik” is.
Sonder sulke fyn kuns, wat op onvervangbare wyse uitdrukking gee aan die mees verhewe of mees diepgevoelde menslike ervaringe, kan ‘n taal kwalik op die lange duur voortbestaan. Want dan sal van sy toonaangewendste mensemateriaal (dié wat dikwels ook ywerige boekkopers is) hom verlaat, omdat hulle geen volle geesteslewe in hom kan voer nie.
Vernuwing is ‘n ander voorwaarde vir ‘n letterkunde om sy lesers taalgetrou te hou. En vernuwing van ‘n literêre sisteem kan deur middel van vertaling “ingevoer” word. Dit het Krige se werk bewys. Daarvoor het Brink hom tereg erkenning gegee.
Met Die lenige liefde bou Hugo en Protea Boekhuis voort op die genoemde Liefde miskien deur nie net ‘n keur uit De Coninck se eerste drie bundels in te sluit nie, maar uit sy hele poësie-oeuvre. (Terloops: Hoewel ‘n mens kan verstaan dat die uitgewer nie wou hê dat die nuwe bundel te dik word nie, is dit tog jammer dat ‘n hele aantal van die onvergeetlike gedigte wat in Liefde, miskien gestaan het, dié keer weggelaat moes word.)
‘n Verhelderende voorwoord help om De Coninck se digkuns te ontsluit. Eerstens word sy voorkeur vir die vergelyking as beeldspraakvorm uitgelig. (”Ach, de troost van een vergelijking, / het helpt bijna. Zodra ik nog maar ‘zoals’ / hoor, wordt alles minder alleen”, lui dit in die gedig “Bas-Oha 5″.) Voorts word die sentrale temas van sy werk aangestip (die liefde, die natuur, die dood en die poësie), asook sy kenmerkende benutting van elliptiese sintaksis, en van woordspel en idioomverletterliking om meerduidighede te bereik.
Terselfdertyd gee Hugo ook ‘n idee van die uitdagings waarvoor hy as vertaler te staan gekom het.
Soos gesê, moedig die telkense plasing van die Afrikaanse vertalings op die bladsye teenoor die oorspronklike Nederlands onvermydelik vergelyking tussen bron- en doeltekste aan.
Waardering moet uitgespreek word vir die grootliks oortuigende digterlike omsettings. Op ‘n aantal plekke is selfs poëtiese winste in die oorsetting na die Afrikaanse idioom behaal. Let byvoorbeeld op die voordelige (sensueel suggestiewe) dubbelsinnigheid wat met die woord “aangevang” in die volgende vertaling bereik word;
Zij draagt een jeans nauwsluitend
als slangehuid rondom de slangen
van haar benen, en daarover draagt zij
uitsluitend Franse dingen, onder het motto
vorm en inhoud zijn één. O, soms
denk ik inderdaad dat verstand
slechts dient om achteraf te beseffen
wat je gedaan hebt.
Sy dra ‘n paar jeans nousluitend
soos slangvel rondom die slange
van haar bene, en boontoe dra sy
uitsluitend Franse goedjies, onder die motto
vorm en inhoud is een. O soms
dink ek inderdaad dat verstand
slegs dien om agterna te besef
wat jy aangevang het.
In ‘n artikel oor Die lenige liefde wat in Rapport Boeke van 5 Julie 2009 verskyn het, wys Hugo self op die “onverdiende geskenk” van die Afrikaanse ekwivalent “Bpk.” - juis ná die noodgedwonge prysgawe van die Belgiese konteks aanduidende “comme il faut” - in die volgende gedeelte uit die gedig “St. Ives, kerkhoffie”:
Heden en verleden ontmoeten
elkaar hier op elke hoek, en dan groeten
ze, deftig comme il faut,
Heden en Verleden, van de firma Tijd en Co.
Hede en verlede ontmoet
mekaar hier op elke hoek, en dan groet
hulle, deftig soos twee here,
Hede en Verlede, van die firma Tyd Bpk.
Ek noem ook graag die vindingryke ver-eienaming “Kortverblyf” in “Oostduinkerke 2″ (na analogie van “ter Branding” hoër op in die gedig):
Wij komen hier maar één keer per jaar.
Zo kort is blijven.
Ons kom hier net een keer per jaar.
Eintlik dus: “Kortverblyf”.
Byna onvermydelik is daar egter ook plekke waar vraagtekens by die leser ontstaan oor sekere vertaalwyses. Hugo noem dat die hantering van die ritmies lompe perfektum-verledetydsvorm in Afrikaans vir die gedigvertaler problematies is, terwyl die imperfektumvorm in byvoorbeeld Nederlands digterlik beter werk. Vandaar dat meestal vir die teenwoordigetydsvorm in Afrikaans gekies word, met ‘n hulpwerkwoord van tyd soos “toe” om die gedig tydsgewys te plaas. In ‘n gedig soos “Genesis”, waarin sowel die onvoltooide as die voltooide verlede tye voorkom, verg dit dan besonder fyn voetwerk om al die regte tydtrappies raak te trap.
Hier en daar het ek gevoel dat vertaalde gedeeltes semanties nie heeltemal klop met die bronteksfrases nie. Vergelyk die slotreël van die gedig op bladsy 116 met sy Afrikaanse omsetting:
Ik probeer haar even te hebben laten gaan.
Ek probeer ‘n bietjie om haar nie te mis nie.
En verklap “as dit met jou gebeur” vir “als je klaarkomt” (bladsye 40 en 41) ‘n vleugie preutsheid aan die vertaler se kant?
“Bosse vol knapperige gehakketak van hout” (bladsy 67) kom weer vir my alte letterlik vertaald voor.
Elke keer as die vertaler frases of woorde uit die bronteks weglaat, trek dit aandag. Byvoorbeeld “kapotte nerven” in die eerste reël van die gedig op bladsy 66 (wat eers met “verkalkte nerf” in die slotreël reggestel word, maar dan met prysgawe van “knoken” dáár); of die (funksionele) herhaling-met-woordspel van “zandkorrels, zandkorzels” in die gedig “Pointillisme” (wat Hugo reduseer tot “sandspikkels”). Ewe opvallend, en nie altyd verklaarbaar nie (behalwe indien dit om ‘n gebrek aan bladspieëlruimte gaan), is wanneer Hugo woorde aan die einde van reëls in die bronteks na ‘n volgende reël verskuif in die doelteks.
Op ‘n paar plekke (byvoorbeeld bladsye 81 en 123) kom weer klein byvoegings voor tot wat in die brontekste staan, sonder om die betekenisse wesenlik te raak. Oral in die gedigte word egter ‘n neiging duidelik om lidwoorde (bepaald én onbepaald) toe te voeg waar De Coninck dit weggelaat het. Waar Hugo in die “Inleiding” juis op die sintaktiese ellipsering wys as kenmerk van die Vlaamse digter se werk, kom so iets vir my as ‘n ongerymdheid voor.
Alles in ag genome dus ‘n geslaagde omsetting in Afrikaans, hoewel nie sonder vlekke nie.
Wat egter buite kyf staan, is dat Die lenige liefde iets waardevols bydra tot die Afrikaanse poësieskat.
Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Sunday, August 9th, 2009
Lang reis na Ithaka. Dolf van Niekerk. Pretoria: Protea Boekhuis. Prys R100.00

- Lang ries na Ithaka
Dolf van Niekerk se prosa- en radiowerk het hom talle toekennings besorg. Sy bydrae op die terrein van die digkuns het in 2006, met die verskyning van Nag op ‘n kaal plein, ook weer onder die aandag gekom.
Met Lang reis na Ithaka, sy vierde digbundel, vier Van Niekerk sy tagtigste geboorteherdenking vanjaar.
Die oud-Griekse verhale oor Odusseus se gebeurtenisvolle reis na sy tuisstad Ithaka en na sy vrou Penelope, ná afloop van die slag om Troje, vorm die sentrale gegewe van die lang titelgedig aan die einde van die bundel. Dié mitiese vertellinge dien egter ook ‘n metaforiese funksie in die res van die bundel, naamlik om die “ek” se laat lewenspad, onderweg na die verlangde hereniging met die geliefde in die uiteindelike tuiste van die dood, aan te dui.
In wese gaan dit in die bundel oor die lewensfeit dat ons almal net “in onbepaalde tyd [...] vertoef”. Kenmerkend verkeer die “ek” in hierdie gedigte meestal op die grense tussen, aan die een kant, droom, herinnering en verlange en, aan die ander kant, die werklikheid. Lewe en dood is geen duidelike teengesteldes meer nie. Wat oorbly, is eintlik net die begeerte “[o]m stil te wees, / die self in self te keer / en tuis te kom in tuistelose / ruimtes van die gees” (slotgedig). In ‘n sekere sin is die bundel opgebou om hierdie reis, algaande weg van die reële, aktuele wêreld af, te weerspieël.
Die openingsafdeling heet “Pellafolio”. Pella was die antieke hoofstad van koning Argelaus van Masedonië, maar ook die geboorteplek van Aleksander die Grote. Dit roep dus enersyds die antieke Griekse werklikheid op wat in ‘n aantal van hierdie gedigte (”folio” sinjaleer waarskynlik die skryfgegewe), maar ook later in die bundel figureer. Pella is egter ook ‘n pleknaam in die Noord-Kaap. En inderdaad val verwysings na plekke en geografiese verskynsels uit die dorre, meer verlate dele van ons land op in hierdie afdeling. ‘n Fisiese reis word gesuggereer, hoewel byna deurgaans gepaardgaande met herinnerings- en hunkeringsreise.
In “Historia”, die tweede afdeling, staan (die rekonstruering van) die verlede voorop. Die vroeëre evolusionêre bestaan in water word te berde gebring, ook die geboorte van die “ek”. Maar veral die bestaan saam met die geliefde staan in die kollig, naamlik soos dit (her-)beleef word in herinneringe en drome. Om te dig daaroor word gesien as ‘n poging om gestalte aan die ervaring te gee en sodoende iets daarvan “tasbaar en begryplik” te maak (”dié hunkering”).
Van fisiese reise is daar egter geen sprake meer nie. Trouens, die waarnemingswerklikheid is beperk tot ‘n wêreld agter glas (waarskynlik binnenshuis) en tot die daarbuite betragte tuin met sy seisoene (veral herfs en winter).
In die slotafdeling verdwyn die ek-as-digter en die aktuele werklikheid dan heeltemal. Odusseus word aan die woord gestel om oor sý wedervaringe van vanslewe te vertel.
Die neiging na stilistiese vervaging in die bundel hang met die uitbeelding van ‘n grensbestaan saam. ‘n Mens sien dit reeds in die feit dat, op die slotgedig na, geen van hierdie verse getitel is nie. Ook kom helder, tekenende beelding selde voor. Trouens, die beeldspraak is eerder meer geyk, meer simboliserend van aard. Meermale word abstrak benoemend of betogend te werk gegaan. Vergelyk die slotsin van die gedig “365 dae rek ek die ure”: “Die hart moet maar / ‘n ompad vind, die brein sy onmag / toedig aan die verste ster. / Maar ek het mos vergeet: / Die wonder van liefde is idee.”
Onbepaaldmakend, selfs vertroebelend, is voorts die feit dat dit soms moeilik word om te onderskei wie of wat deur voornaamwoorde soos “ek”, “hy”, “jy”, “sy” en “ons” aangewys word. Wie of wat is byvoorbeeld die “jy” in die gedig op bladsy 46 (naas die implikasie dat dit die gestorwe geliefde kan wees)? ‘n Piet-my-vrou, soos afgelei sou kon word van die eggo uit Elisabeth Eybers se bekende gedig oor dié voël wat ‘n mens in die uitdrukking “drie note” hoor?
‘n Hele aantal verdere sintaktiese en beeldtroebelhede is aan te stip. In “Die najaar gly” word byvoorbeeld eers beskryf hoe die najaarsbome hulle blarekleed verloor. Dan vervolg die digter met die volgende beeldopstapeling oor die ontketende liefdesverlange, myns insiens sónder dat die verband tussen die seisoensverandering en die ontketende liefdesverlange, óf die metaforiese spronge vanaf winterkaalbome na liefdeswortels-in-die-lug na migrerende voëls na “die magneetveld van die hart” noodwendig (genoeg) gemaak word: “en liefde maak wortels / in die lug, / nêrens vas nie, sweef op die rug / van voëls en duiwe, / sonder horison / maar gebind aan die / magneetveld van ‘n hart.”
Ook ontgaan die implikasie van die slotreëls van die gedig “Hierdie stilte oplaas” my: “Ek verbeeld die Groot Knal / sonder knal waar klank / gebind is in ‘n heelal, / maar toe ‘n konstellasie breek / ontsnap daar klank oor ‘n planeet.”
Van Niekerk ontkom nie aan die wesenlike gevaar van mistifikasie wat die bepaalde tematiek en die genoemde vervagende tegnieke inhou nie. Boonop ontgin hy die idee van die onbepaalde grensbestaan nie diepgaande genoeg om deurgaans boeiende verskuns daar te stel nie.
- Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Sunday, August 9th, 2009
Die algebra van nood
Johann de Lange
Human & Rousseau (R140)
 Die algebra van nood
Met sy bundeltitelkeuse lui De Lange al die dringende toon van Die algebra van nood in. Dis naamlik veral die noodwendigheid van verlies, gefnuiktheid en verganklikheid, en die angste en verdriete wat dáárdeur gewek word, wat tot uitdrukking kom.
Die tematiese opbou van die bundel weerspieël iets van dié onontkombare proses - vanaf die intense belewing van aardse skoonheid en verrukking in die openingsafdeling tot by die elegiese herdenking van gestorwenes in die slotafdeling. Trouens, die ekstase van die natuurbelewings aan die begin verkry ‘n kwellende kwaliteit in die lig van die latere uitgesproke bewustheid van die verydelende kragte in die lewe.
In afdeling twee volg die uitbeelding van die (teennatuurlike) “bedrieglike paradyse” wat via dwelmgebruik nagejaag word. ‘n Beklemmende gevoel van futiliteit tree al sterker op die voorgrond.
So ook in die derde afdeling, “Naspele & voortvlugte” (’n ironiese toespeling op die subtitel van N.P. van Wyk Louw se Tristia). Die voort- én teenskrywings op die temas en stylgrepe van digterlike voorgangers verteenwoordig ‘n ewe plaasvervangende strewe as die dwelmgebruik.
Die meermaals treffende ars poetica-gedigte van afdeling vier bevestig verder die ydelheid van die digterlike strewe om die verganklikheid via kuns(her)skepping te oorstyg.
Enigsins parallel aan die natuurbelewings en die kunsstrewes is die homoërotiese ervarings wat in die afdeling “Die handgrepe van hartstog” geteken word. Dit word veelseggend gevolg word deur ‘n groep gedigte onder die titel “Die meervoud van verdriet”.
In die twee laaste bundeldele oorheers veroudering, verval en die dood, naamlik as dieptepunt van die menslike nood.
Die ingeligte leser sou uit bostaande talle bekende temas uit die De Lange-oeuvre herken het. Met hierdie agste digbundel van hom bou hy indrukwekkend voort op sy vorige werk.
Soos voorheen is die verse fyn afgewerk, munt hulle uit in veral klankspel en beelding.
‘n Estetiserende neiging is weliswaar hier en daar merkbaar, byvoorbeeld in nuutskeppings en samestellings wat ‘n bietjie gesog of versentimentaliseerd aandoen. (Vergelyk: ”‘n soebatblou Oktoberlug”.) Voorts is ek nie oortuig dat die “algebra”-motief tot naatloosheid verweef is in die bundelopset nie. Die “&”-teken wat deurgaans pleks van “en” gebruik word, verklap dalk die digter se aanvoeling van ‘n tekortkoming in hierdie verband.
Resensent: Bernard Odendaal
Boeke-Insig sê: Met hierdie bundel versterk De Lange sy oeuvre op imponerende wyse.
Sunday, August 9th, 2009
Die panorama in my truspieël. Daniel Hugo. Protea Boekhuis. Prys R130,00.
 Die panorama in my truspieël
Sewe jaar het verloop sedert die verskyning van Hugo se vorige digbundel, Die twaalfde letter.
Soos ‘n mens nou al verwag aangaande hierdie vernuftige digter, is die titel van hierdie dertiende bundel van hom meerduidig. Dit laat, soos die fasette van ‘n geslypte kristal, verskillende kante van die bundelinhoud voorafskaduwend flonker.
Die titel is ingegee deur die slotgedig, Die lang pad, waarvan die tweede laaste strofe lui: “die spieëltjie laat wat die wye voorruit bied / verdwyn in die niet van sy agterstevoor verskiet”. Verganklikheid en dood, waarby die omgewingsbedreiging deur die menslike doen en late inbegrepe is, word sodoende as een van die temakomplekse aangekondig.
Maar ook ‘n tru-gerigtheid by die middeljarige spreker op die hiermaalse (met genietlikhede en vertroostinge soos die natuurdinge en die huweliksliefde), eerder as op die hiernamaalse wat voorlê, is ter sprake. Soos dit in die bundelmotto gestel word: “Ik heb het tijdelijke met het eeuwige vaak genoeg verwisseld in mijn poëzie om te weten dat ik het tijdelijke wil.” (’n Uitlating deur die gestorwe Vlaamse digter Herman de Coninck, van wie Hugo talle verse in Afrikaans vertaal het.)
In ‘n paar gedigte is Hugo dan ook satiriserend knorrig oor en teenoor God. Die openingsgedig bevat reeds ‘n voorbeeld hiervan. God word as ‘t ware beskuldig dat Hy “sy rug op ons gedraai” het, maar tog “nuuskierig” genoeg is om deur middel van “sy kosmetiese spieël, / die maan … oor ‘n koue skouer na ons te kyk”. En dan volg die satiriserende - ook selfsatiriserende! - steek: “mens sou dink God is ‘n digter: hy leef per-vers”.
Die satire word enersyds sterker gemaak deurdat dié reël die gedig God die digter van die oortuigde religieuse digter T.T. Cloete eggo. Andersyds verklap die benutting van die koppelteken om die dubbelsinnigheid van “per-vers” te aktiveer, die nogalse gesogtheid van die (self-)satire hier.
‘n Tweede tema wat deur die bundeltitel aangekondig word, is die haglike strewe na voorstelling, weerspieëling of bevatting van die grote in die kleine, byvoorbeeld van die werklikheid in die kunswerk (gedig). Die oorweldigende werklikheid en die kosmiese kragte (soos die verganklikheid) wat daarin werksaam is, kan helaas nié deur die mens se tegniese venuf kleingekry word nie. Vergelyk gedigte soos Die hakkelaar, Natuurdigter, Lees by lamplig, Bestemming en Die lang pad.
Boonop - en hiermee word ‘n derde tema aangedui - is ons, via byvoorbeeld die taal of die poësie (as soorte “spieëls”), net in staat tot ‘n bemíddelde blik op die dinge.
Hugo s’n is ‘n besonder bewuste digterskap. Verwysings na “die digter”, digterskap en die digkuns (ook via literêre toespelings) kom dwarsdeur die bundel voor. Die onverhulde taal- en verstegniese vernuf in Hugo se werk is verder sprekend hiervan.
Woordspel en uitbuiting van betekenismeerduidighede; ‘n voorliefde vir ironisering en paradoksikalisering (treffende oksimorons kom byvoorbeeld op bladsye 15, 39 en 61 voor); sterk klank- en ritmiese gevoeligheid; en vindingryke maar ook tot sluiting deurgewerkte beelding (waarvan onder meer ‘n Etmaal ‘n treffende voorbeeld is) - dit is alles opvallende “digterlike” kenmerke van sy werk. Sodanig dat daar kritiek kan wees dat dié selfbewuste kunstigheid (soos byvoorbeeld ook in Hennie Aucamp se werk) na die kunsmátige neig - dat die vernuf vertonerig word.
Humorvolheid (al is die humor by hom dikwels sardonies getint) en die selfironiserings bewaar egter werk soos Hugo s’n van estetiese selfingenomenheid. Humor en vernuf het in hierdie geval gesamentlik eerder ‘n onderhoudende, vermaaklike werking.
Dit beteken nie dat sy (Afrikaanse) digterskap vir hom geen hartstogtelike, lewensbepalende saak is nie: “ek is … / lewenslank geklink aan my minerale taal: / helder simbaal uit hierdie land se erts gepuur”. Hy is net weerbaarder as hy sy liefde vir die taal en die letterkunde al draak stekend kan verklaar, soos in die gedig Loflied op die letterkunde.
Indiwiduele gedigte verkry groter resonansie vanweë hulle ingebedheid in ‘n redelik hegte bundeleenheid. Spieëls en weerkaatsings, skaduwees en die spel van lig en donker is motiewe wat soos ‘n draad deur Die panorama in my truspieël vleg.
Daar is geen formele gediggroepering in afsonderlike afdelings nie - wat op sigself al ‘n teken van intergedigtelike samehang is. Gedigréékse is wel te onderskei. Soms is hulle op tematiese grondslag saamgegroepeer; ander kere, soos in die geval van die haikoes en kwatryne, vormlik. Tematiese eggo’s sorg egter dat die reekse ook onderling geskakel bly.
Die eerste drie en die laaste vier of vyf gedigte in die bundel sluit tematies sterk by mekaar aan, met name rondom die verganklikheidsgedagte. Daardeur vertoon die bundel ‘n bykans sikliese opbou. Nie verniet nie lui die slotreël van die slotgedig: “”begin is bestemming en bestemming is begin”.
Die bundelsamehang, saamgetrek in die meerduidige bundeltitel, bring mee dat selfs ‘n oënskynlik lawwe gediggie soos die volgende se betekenislading toeneem: “die gekolde gans / is te groot en luidrugtig / vir hierdie haikoe” (geen haikoe).
In vergelyking met sekere tydgenote van hom, weerspieël die bladruimte wat aan Hugo se werk in die jongste samestelling van Groot verseboek afgestaan is, myns insiens nie sy relatiewe belang as digter nie. Hopelik kry ‘n hele paar verse uit Die panorama in my truspieël hul verdiende plek in ‘n volgende uitgawe van die boemlesing.
Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Gedig uit Die panorama in my truspieël :
Loflied op die letterkunde
Ek het die Afrikaanse letterkunde lief:
elke letter het ek lief, die kleinste setfout,
die slap anglisismes, die anachronismes,
elke taalfout en die blatantste plagiaat.
Ek het die dom skrywers lief, die lui redakteurs,
die gesette uitgewers, die skraal kritici
en die analfabetiese boekhandelaars:
die totale, banale bedryf het ek lief.
Maar bowenal het ek die verpulpers lief:
van boeke maak hulle bruikbare bokse
waarin jy die hele letterkunde kan pak
vir snelversending na die naaste pulpfabriek.
Sunday, August 9th, 2009
 Al is die maan 'n misverstand. Danie Marais
Al is die maan ‘n misverstand
. Deur Danie Marais. Tafelberg-uitgewers.
- Bernard Odendaal -
Danie Marais se digdebuut uit 2006 het hom drie literêre pryse in die sak gebring. Ook die leserspubliek het van in die buitenste ruimte gehou, soos goeie verkoopsyfers getuig.
By die skryf van hierdie resensie was ook reeds die helfte van die oplaag van sy tweede bundel, Al is die maan ‘n misverstand, wat maar enkele maand gelede verskyn het, deur lesers opgeraap.
Marais se debuut het ‘n roerende relaas behels oor sy jarelange verblyf in Duitsland, wat gepaard gegaan het met ‘n verbrokkelende liefdesverhouding. Uit daardie “buitenste ruimte” van vervreemding en bedruktheid het hy teruggekom Suid-Afrika toe. En na Afrikaans toe.
Al is die maan ‘n misverstand hervat as ‘t ware waar die eerste bundel geëindig het. Dit blyk al uit die openingsgedig, waarin die woorde “die buitenste ruimte” die debuuttitel eggo.
Weer staan konflikterende gevoelens van ontheemdheid en vereenselwiging voorop. Dié keer betref dit egter die botsende emosies wat (Suid-) Afrikaners ervaar te midde van die dikwels bevreemdende ontwikkelinge alhier.
Marais kies vir ‘n toekoms híér, al beleef hy ook hóéveel wat ontmoedigend is. Een van die kerngedigte in die bundel het die sprekende titel: “Maar die grootste hiervan was die hoop” (’n aanhaling uit ‘n gedig van Gert Vlok Nel).
Die wesenlike irrasionaliteit van so ‘n keuse word gesuggereer deur sowel die bundeltitel as die strekking van die bundelgeheel. Soos die eerste van die bundelmotto’s aangee: “Under every no / Lay a passion for yes that had never been broken” (Wallace Stevens).
Ten spyte van ‘n kwellende bewustheid van die haglikhede van menslike ondernemings en van die bestaan, bly die digter dus oorwegend idealisties. Die belangrikste temakomplekse in die bundel stoot almal hierdie wederwilligheid op die voorgrond.
Daar was die skipbreuk van vorige liefdesverhoudings. Nógtans vind die digter vreugde in ‘n nuwe huweliksverhouding. Hy ly onder ‘n sterk verganklikheidsbesef, en daar is kennisse en familie wat sterf of selfmoord pleeg; dikwels voel hy depressief, en staan hy as ‘t ware ontredderd voor soveel nood in die land. Desnieteenstaande neem hy en sy nuwe vrou die stap om ‘n huis te koop, met ‘n gesin te begin.
Ook bring die verskrikkende en verdrukkende van die nuwe Suid-Afrika die digter uiteindelik nié daarvan af om opbouend betrokke te bly by die plaaslike kwessies nie. In teenstelling met talle kennisse, waaronder ‘n suster en ‘n neef van hom, wat weens die misdaadgeweld, korrupsie en omgekeerde rassediskriminasie liefs ‘n heenkome in die buiteland gaan soek, bly hy agter om onder andere onderwys te gee aan ‘n private laerskool naby Mamelodi. Sy oë en sy hart kry hy nié weggedraai van die noodlydendes se lot nie. Vergelyk in laasgenoemde verband treffende gedigte soos “Die nag toe ek ons geword het” en “Daar lê ‘n ou vrou in die reën”.
En die oorblyfsels van die “ou Suid-Afrika” se rassisme en chauvinisme word fel gesatiriseer (”kamers”).
Selfs Marais se digterskap word geteken as ‘n onderneming in-weerwil-van. Al word Afrikaans bedreig, en al het die skryf van poësie (bowendien in ‘n klein taal soos Afrikaans) weinig klaarblyklike impak en nut, máák hy tyd om gedigte te skryf (”Saterdagmiddag - ‘n epiese fragment”).
Trouens, die skryf van poësie word selfs as ‘n dwingende behoefte en noodsaaklikheid beskou, juis vanweë die haglikhede wat ons bestaan kenmerk. Soos Wallace Stevens se “[round] jar in Tennessee”, of soos ‘n singende voëltjie “op ‘n koppie in die klipwoestyn”, maak dit die wildernis minder “wild” (”Groot-Karoo en voëltjie-klein”).
Té hooggestemd oor die krag van die digterskap raak Marais darem nie. Die laaste strofe in die bundel lui byvoorbeeld: “Die digter is net ‘n vetgesmeerde sonde. / Nie ‘n siener nie. / En die ek is ‘n dwaalkoeël / wat wegloei in die niet.”
Marais se digkuns is ‘n goeie voorbeeld van wat al as “praatpoësie” bestempel is. Dit is kenmerkend “losser” van bou, opvallend in spreektaal geskryf, en die inlag daarvan is dikwels sketsagtig of verhalend. Die (tradisionele) onderskeide tussen prosa en poësie vervaag dus in sulke gedigte.
Vindingryke en treffende beelding vorm egter die ruggraat van Marais se digstyl, en die verse in Al is die maan ‘n misverstand munt telkens hierin uit. Daarby kom ‘n strewe na unieke, meermaals patoswekkende segging, byvoorbeeld deur hiperboliserende wendinge. Nie alte selde nie verneem die leser in hierdie bundel byvoorbeeld van dinge (waaronder mense en gedigte) wat “brand”.
Inderdaad kry Marais dit reg om baie van sy gedigte op hierdie wyse indrukwekkend te laat vlamvat - skep hy “petrolpsalms” (”Met een asem”). Maar hy ontkom helaas ook nie aan die gevare wat dié soort vers inhou nie: somtydse spanningsarme prosa-agtigheid, sodat sulke verse by ‘n tweede lees alreeds iets van hul fut verloor; ‘n sentimentaliteit wat plek-plek deurslaan vanweë die hiperboliserende neiging.
Die boeiende en aantreklike kante van Marais se verse oorskadu egter die genoemde tekortkominge. Dis ‘n toeganklike, aktuele en meermaals aangrypende bundel wat sy klaarblyklike vroeë gewildheid verdien.
- Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
******
Thursday, July 9th, 2009
Uit die palm van die land:
Beeld- en woordkuns uit die Vrystaat
’n Uitstalling wat besoekers op 2008 se Volksblad-kunstefees (8-12 Julie) aan die praat gehad het, was een waarin beeld- en woordkunswerke met mekaar in gesprek tree.
Die projektitel “Uit die palm van die land” dui eerstens aan dat die deelnemers almal kunstenaars uit die sentraal geleë Vrystaatpovinsie was. Terselfdertyd beklemtoon dit die kreatiewe handewerk wat verrig is. Soos uit die kunswerke gesien kon word, het ’n paar van die deelnemers ook die woord “land” in die projektitel ernstig opgeneem, en is Vrystaatse landskappe en landmerke, en kwessie soos grondbesit, uitgebeeld.
Die inisieerders van die projek was, naas myself, Ben Botma (hoof van die departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en Gilbert Gibson (internis en digter en, soos ons ander twee, woonagtig in Bloemfontein).
Ses beeldende en ses woordkunstenaars het deelgeneem. Hulle is, in ’n eerste stap, genooi om elk een nuwe kunswerk te lewer met “die Vrystaat” as impuls, maar waarop hulle dan totaal vry kon reageer. En, soos die gesegde lui: Soveel hoofde, soveel sinne.
Konkrete en aktuele sake, soos die genoemde landmerke en grondkwessies, maar ook meer algemeen-menslike vraagstukke soos verlies en verganklikheid, en kreatiwiteit en lewensdrif as teendele dáárvan, is aangepak.
Ewe uiteenlopend is die media wat benut is: olieverfwerk op doek en sintetiese oppervlaktes (Janine Allen en Pauline Gutter); gemengde beeldmedia in gevarieerde kombinasies (Ben Botma, Jaco Spies en Markus Steinmann); beeldhouwerk uit hout en alledaagse dinge soos ’n persketak, ’n klakson, ’n kwartsklip en ’n oogdruppelflessie (Charlayn von Solms). Tradisionele sowel as vormlik meer eksperimentele gedigte is geskryf deur Stef Cilliers, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal en Hennie van Coller; ook ’n paar prosavertellings was te sien (Jaco Jacobs en J.C. Steyn).
Nadat die eerste 12 kunswerke voltooi is, is deur middel van loting voortgegaan om die deelnemers in pare van een beeldende en een woordkunstenaar elk te verdeel. Daarna moes die pare kunstenaars telkens op mekaar se eersterondte-kunswerke reageer deur, eweneens in vrye respons, elkeen ’n verdere kunswerk te skep.
So het uiteindelik 24 nuwe kunswerke tot stand gekom wat nie net (met mekaar) oor Vrystaatse werklikhede gepraat het nie, maar ook veel te sê gehad het oor mens- en kunstenaarswees in die algemeen. Opvallend was hoe die samewerking tot grensoorskrydende reaksies aanleiding gegee het. Beeldende kunswerke het soms woordmateriaal geïnkorporeer, en woordkunswerke plek-plek visuele kenmerke begin uitbuit.
Jaco Jacobs en Markus Steinmann het uiteindelik ’n totaal geïntegreerde kunswerkkompleks daargestel wat uitgesproke gemeenskapsbetrokke wou wees. Hulle het byvoorbeeld blikkieskos, met prosavertellings wat soos etikette daarom gedraai was, aan die feesgangers beskikbaar gestel, op voorwaarde dat elke geneemde blikkie met twee volles vervang word. Laasgenoemde is na afloop van die fees aan hulpbehoewendes in en om Bloemfontein geskenk.
Ewe belangrik as die beklemtoning van kuns se sosiale rol, was die nadenke wat die uitstalling wou stimuleer oor die plek en rol van die kultuurmens, oor die kuns self en oor die grense tussen kunssoorte.
Onderstaande werk (gemengde media en objekte, 156 x 250 cm) deur Janine Allen, ’n dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, het aanleiding gegee tot die konfigurasiegedig “Wat vergeet word, het vergaan” wat onder my naam in die gedigtekamer hiernaas op die Versindaba-webwerf verskyn.

Janine het die volgende oor bostaande werk van haar mee te deel gehad: “Inkarnasie van die puti handel oor die inherente werking van skilderkunstige prosesse en oor die aard van die skilderkuns self. Die spesifieke werk is gewortel in my belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis hiervan. Vervreemding en verabstrahering het plaasgevind in die ‘magiese’ verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het. Inkarnasie van die puti is een werk uit ’n reeks, getiteld Nekropolis, waarin ek skilderprosesse, beelde en selfs die konkrete skilderye verlewendig.”
Gilbert Gibson en Ben Botma het as paar saamgewerk. Ben het die werk Komeet (olie op digitale druk, 120 x 90 cm) gemaak na aanleiding van “die Vrystaat” as inisiële impuls. Oor dié werk skryf hy: “Geïnspireer deur ’n gedenkkruis langs die pad. Die sentrale deel van die werk behels ’n digitale foto waarom daar ’n energieveld of stralekrans van helder kleur in olieverf aangebring is. Die verfproses was ’n moeisame een, met groot sorg (met ’n baie dun kwassie) uitgevoer. Die doelbewuste ‘mooiheid’ van die kruis en die kleure staan in skrille kontras met die smart en pyn wat dit verteenwoordig.

Na aanleiding hiervan het Gilbert die gedig “another fatal roadside attraction” geskryf, en daarby opgemerk: “Die gedig speel toe op Another Roadside Attraction, Tom Robbins se eerste roman (1971; Doubleday), en vertel hier die verhaal van ’n motorongeluk waarin minstens een kind dood is, ook as (fataalste) weggaan en verlies.”
Another fatal roadside attraction
die motor was ‘n wit almera ses jaar oud
met ‘n honderd en sewe duisend kilo’s op
bande effe afgeloop (veral regs agter)
en ’n duik in die deur. die ma het voor gesit
die pa agter die wiel die boetie
agter die ma en die babasussie plat
op die bank in ’n kombers toegedraai
aan die slaap. die boetie het met ’n
tafeltennisballetjie gespeel en
probeer om die headrest voor
hom met die balletjie raak te spoeg
elke tien sekondes ’n sagte plofgeluid
die ma was besig om
te brei penne wat klikklik terwyl
sy die speedometer uit die hoek van
haar oog dophou
die pa het ’n grys langbroek aangehad
en met sy toon sy been wat jeuk probeer krap
die baba was van die dreun aan die slaap gesus
wange van te warm toe rooi
een van die boetie se spoegslae het die
balletjie by ma se wang verby laat trek
teen die truspieël vas af tot in die pa se skoot
sy oë op sy bobeen neergeslaan
die hande gewar
die sussie het
in haar kombers verstyf.
die lorrie was vandeventer vervoer, ingelyf
Tags: Ben Botma, Bernard Odendaal, Charlayn von Solms, Gilbert Gibson, Hennie van Coller, J.C. Steyn, Jaco Jacobs, Jaco Spies, Janine Allen, Markus Steinmann, Pauline Gutter, Stef Cilliers Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, July 9th, 2009
ALLOOI
van woord en beeld
Uitstalling: Volksblad-kunstefees, 14-19 Julie 2009
Produksies waarin woord- en toonkuns saamspan, is redelik bekend op Afrikaanse kunstefeeste. Minder algemeen tot dusver was egter produksies waarin tweegesprekke gevoer word tussen beeldende en woordkunswerke.
In opvolging van die visuele en woordkunsuitstalling “Uit die palm van die land” wat tydens die Volksblad-kunstefees van 2008 groot getalle toeskouers gelok het, word ’n soortgelyke uitstalling vir 2009 se fees beplan. Dis geïnisieer deur my en Ben Botma (hoof: Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en die titel daarvan is ALLOOI.
Vanjaar se deelnemende kunstenaars is gevra om indiwidueel en/of in pare (van 1 beeldende kunstenaar en 1 woordkunstenaar elk) telkens 2 nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreerd funksioneer. Laasgenoemde is wat die uitstallingtitel wil aandui. Dit gaan om ’n “samesmelting” van woord en beeld.
Ek hoop om mettertyd visuele materiaal oor die uitstalling op my blog te wys.
Geen riglyne t.o.v. tema, media, styl, en derglike is voorgeskryf nie. Die enigste voorwaarde wat gestel is, is dat elemente van sowel visuele as woordkuns in elke kunswerk moet voorkom.
Waar net Vrystaatse kunstenaars aan verlede jaar se uitstalling meegewerk het, word die net hierdie keer wyer gespan. Bekende Afrikaanse kunstenaars uit ander dele van die land, asook twee digters uit België en Nederland, het ingestem om mee te werk.
Een van hulle is Ingrid Winterbach. Sy is al herhaaldelik vir haar Afrikaanse romans bekroon, maar is ook as beeldende kunstenaar werksaam. Dieselfde geld vir Carina Stander, ’n opgeleide beeldhouer wat in 2006 met die geprese bundel die vloedbos sal weer vlieg as digter gedebuteer het. Hulle lewer op indiwiduele basis werke waarin woord en beeld “saampraat”. (Een voorbeeld is te sien in ’n onlangse blogbyrae deur Carina op die Versindaba-webwerf hiernaas.)
Die Kaapse digter Danie Marais het drie pryse vir sy debuutdigbundel in die buitenste ruimte gekry, en span met die animasiekunstenaar Diek Grobler saam om twee van die verse daarin visueel voor te stel.
Luuk Gruwez en Willem van Toorn, die een uit België en die ander uit Nederland, het reeds baie louere ingeoes vir hul digwerk. Gruwez munt onder meer as portretdigter uit. Hy is gevra om Nederlandse woordkunsekwivalente daar te stel van twee Suid-Afrikaanse portreskilderye uit die kosbare versameling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dieselfde uitdaging is aan Van Toorn gestel, maar na aanleiding van twee Suid-Afrikaanse landskapskilderye.
Uit die groep Vrystaters wat verlede jaar met “Uit die palm van die land” vorendag gekom het, het die volgende dié keer as pare saamgewerk: Ben Botma en ek; Markus Steinmann en Hennie van Coller; Pauline Gutter en Jaco Jacobs; Janine Allen en Gilbert Gibson.
My en Ben se werk dra die titel Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog. Dit bestaan uit pare selfoonbeelde en –tekste wat oor net 12 onlangse voorvalle van ernstige geweld in die sentrale Vrystaat-streek ‘berig’. Die essensie van koerantberigte is telkens as haikoes in sms-taal vasgelê. So wou ons, d.m.v. die ‘geweld’ van die gedronge vers- en taalvorme, iets vergestalt van die fisiese en psigiese geweldpleging wat mense moes ervaar.
In my gedigtekamer elders op die Versindabawerf is die 14 sms-haikoes te sien wat ek met die oog op die projek geskryf het.
Die uitstalling was reeds te sien tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeessimposium op 24-27 Junie 2009 in Bloemfontein (soos Carina reeds op haar blog vertel het). Die moontlikheid bestaan dat die uitstalling na afloop van die Volksblad-kunstefees na Stellenbosch vervoer sal word vir ’n uitstaltydperk by die Universiteit van Stellenbosch.
Tags: Ben Botma, Bernard Odendaal, Carina Stander, Danie Marais, Diek Grobler, Gilbert Gibson, Hennie van Coller, Ingrid Winterbach, Jaco Jacobs, Janine Allen, Luuk Gruwez, Markus Steinmann, Pauline utter, Willem van Toorn Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, July 9th, 2009
 BRIEWEBOKS
Noudat ons webmeester weer op volle magsterkte is, het sy met ‘n wonderlike nuwe toevoeging tot die webblad vorendag gekom: Ten einde die interaktiewe komponent te verhoog, het sy ‘n Brieweboks gelaai waar jy jou sê oor die digkuns kan sê. Jy hoef gewoon ‘n e-pos na versindaba@mweb.co.za te stuur en sy sal jou brief op dié bladsy plaas. Indien jy op die hoofblad se skakel kliek, kan jy jou brief direk na die webmeester stuur vir plasing. Die skakel onder Redaksioneel sal jou neem na die bladsy waar jy al die briewe sal kan lees. Maar - hou asseblief die spesifieke fokus en aanslag van hierdie webblad voor oë: beledigende of nie-toepaslike briewe sal gewoon nié geplaas word nie. Die oogmerk van hierdie toevoeging is júís om ‘n breë gesprek oor verskillende aspekte wat die digkuns betrek, te genereer.
So sal ‘n goeie eerste prikkel die kommentare wees wat Jaybee Roux en André Kotzé in briewe aan Die Volksblad en LitNet onderskeidelik gestuur het oor die stand van die hedendaagse digkuns. Ek dink nié dat hul opmerkings goedsmoeds eenkant toe gevee durf word nie; maar plaas hulle die blaam op die regte plek? Watter rol het die Openbare Bibilioteekdienste byvoorbeeld te speel in die beskikbaarstelling van uiteenlopende digbundels en -style vir die (waarskynlike) poësieliefhebber? Onthou ook om Bernard Odendaal se antwoord aan Jaybee Roux hier te lees, asook laasgenoemde se repliek hier. Charl-Piere Naudé se uiteensetting van die eietydse digkuns wat hier te lese is, is net so toepaslik.
So - kom ons raak aan die gesels. Hieroor of oor enige onderwerp betreffende die digkuns wat jou mag interesseer …
Ons sien uit na jou deelname.
LE
Saturday, June 27th, 2009
Wat is eietydse digkuns?
Charl-Pierre Naudé
|
Hierdie artikel het verlede jaar in Die Burger se rubriek, Flapteks, verskyn. Dit is geskryf na aanleiding van ‘n voorafgaande artikel deur Ferdi Greyling, waarin hy die afwesigheid van groot digkuns in die hedendaagse wêreld betreur. In die lig van Bernard Odendaal se geldige misnoeë met die mymeringe van die een of ander dinosauruskloutjie genaamd Jaybee Roux, lê ek die artikel voor vir herpublikasie op die Versindaba webblad.(CPN)
|
Ferdi Greyling betreur ‘n wêreld wat “nie meer groot digters het nie” en sê, “dis jammer, want die belewenis van groot digters is een van die beter dinge in die lewe”.
Sy artikel wys hoeveel mens kan ontbeer as jy nie jou verwagtingshorison verstel om nuwe werk op te vang nie. Daar is seker baie mense wat so voel. Te verstane. Want hóé om daardie horison te verstel is moeiliker as ooit in ‘n wêreld wat meer diepgaande verander het as ooit tevore.
Om te begryp hoe die aard van poësie verander het, moet mens die verandering in betekenisstelsels per se beskou, die verskuiwings in ons ganse onderbou.
Dit gaan dieper as ‘n verskil tussen romanties en deadpan. Die gelykstel van poësie aan die romantiese leef trouens nog baie sterk in SA, en is tekenend van beperkende opvattings oor digkuns. Mens sien dit in die gedigte wat getoonset word. Kyk maar, die impuls is romanties. Die romantiese kan opgesom word as wesenlik die oproeping van ‘n verlore (of vervloë) wêreld. Die epitoom daarvan is Jean-Jacques Rousseau se Sosiale Kontrak.
Die romantiese in die poësie spruit uit ‘n wonderlike aanname wat met die oorgang na die postmoderniteit ‘n groot slag gekry het: dat die “waarheid” (nie net eties nie, maar in die sin van ervaring) in argetipes weerspieël word wat onveranderlik is maar verlore geraak het en wat herontdek kan word, as die digter hulle maar net gaan uitgrawe en afstof. Die romantiese impuls is dus wesenlik bevestigend van aard.
Maar in onlangser tye is gewys dat argetipes ook aan die tydelike onderhewig is. Die romantiese impuls het dus in fetisjisme verval: ‘n blote refleks van iets waarvan die bestaansreg eintlik geruime tyd weg is.
En die postmoderniteit het die poësie aan twee groot kragte onderwerp: die tot niet making van die groot temas (wat ons nie meer by “waarheid” kan uitbring nie want hulle is nie meer groot nie); en die wêreld van die wetenskap, wat daagliks uitvindsels en ontdekkings maak.
Volgens Octavio Paz moes die poësie sy posisie van leiding wat hy in die moderniteit gehad het gevolglik aan die wetenskap afstaan. En moes hy sedertdien meeding met die wetenskap se beloftes van nuwe terrein.
En nou kon die digter maar net aanhou met sing, wat oukei is as jy in die Hemel is, maar ons is op die aarde. En baie digters hou maar net aan met sing, wat steeds so mooi is soos altyd, maar sonder wel, enige executive power.
Die matriks van die kunste en van die poësie het gevolglik begin wegskuif van die bevestigende na die ondersoekende. En dáárom het dit lesers soos Greyling verloor. Die dans rondom musiek en ou geheue het plek begin maak vir iets anders: die noodsaak vir nuwe ontwerp. Poësie is nou veel minder argeologies óf nostalgies, en veel meer verbeeldingryk.
‘n Aanvanklike reaksie op die postmoderniteit was die sg. postmodernisme as literêre stroming. Dit was ikonoklasties van aard, ‘n morbiede, kleinsielige geseëvier oor die heengaan van die modernisme en die sogenaamde ban van konteks.
Die tweede reaksie was meer belowend. As objektiewe waarhede dood is, is “waarhede” per definisie subjektief. En net daar het die poësie homself weer langs die wetenskap ingewurm, as ontwerper van eindelose nuwe (subjektiewe) “waarhede”. Met dien verstande: die skep van konteks is nou meer belangrik, nie minder - hoe anders as die oorkoepelende konteks nie meer bestaan nie?
En ‘n kardinale manier waarop die eietydse poësie kontekste skep is met ‘n herbewapening van simboliek. Soos Umberto Eco aantoon verwys simboliek nie meer na vaste betekenisse buite die teks nie (soos in die Middeleeue) of vaste inhoude in die psige (in die moderniteit), maar kom dit tot stand suiwer binne die integriteit van die eietydse teks (met min hulp van God nou óf sy agterplaasbrakkies soos Jung).
Met die klem op subjektiewe realiteite val ‘n enkel stel maatstawwe van wat poësie is, ook weg. Dit beteken nié enigiets is nou poësie nie. Dis juis moeiliker om nuwe, subjektiewe realiteite te skep as voorheen, toe digters in ‘n groot mate ‘n “score” gehad het om mee te werk.
Hoe maklik om goed te wees as jy maar net “nie eenkeer oor die lyne smeer nie”, perfek die aanvaarde kleur by die “regte” objek pas! Om jou eie haas-vorm uit die hoed van chaos te trek én die leser te oortuig van sy haas-skap, is veel moeiliker. Dit terwyl jou kollega dieselfde doen met ‘n ander “haas” wat joune soos bewer laat lyk én hy noem jou hoed ‘n tregter.
Greyling betreur te min emosie in die hedendaagse poësie. Wat is die lewensbloed van subjektiwiteit? Emosie. Wat is meer subjektief? Dis dié lokaas wat die veelvoud oopmaak, én nooit eenders lyk. Dis meer verfynd as ooit.
Nee wat, die digter woon in opwindende tye. Al wat hy kortkom is ‘n opwindende leser.
|
|