Posts Tagged ‘Bernoldus Niemand’

Hoe eensaam kan dit word, Hank Williams?

Monday, November 15th, 2010

Hank Williams

Hank Williams

 

“Orals in die strate loop die fans van country plate,” sing Bernoldus Niemand jare gelede oor Pretoria. “Hulle ry ʼn Ford Snortina en hulle eet ʼn Snorgasbord,” spot hy met die mans wat so snorre dra hier rond. Dalk pas ek goed in. Ek het ʼn snor. Darem ook ʼn baard. Onder my enjinkap is ʼn dieselenjin (ek het darem nog nie bloubulballe aangeskaf nie) en in die CD shuttle is daar ʼn versameling countryliedjies. Op die oomblik is my gunsteling een van wyle Hank Williams:

Tonight my heart is bowed in sorrow
I can’t keep the tears from my eyes
My son calls another man Daddy
The right to his love, I’ve been denied.

Hank Williams se stem snik en die Hawaise kitaar ween op daardie rou manier wat net ʼn Hawaise kitaar kan ween. ʼn Akkoordverandering kondig die loeiende refrein aan:

My son calls another man Daddy
He’ll ne’er know my name nor my face
God only knows how it hurts me
For another to be in my place.

Hank Williams is in 1923 in die Amerikaanse staat Alabama gebore. Sy pa se naam was Elonzo Huble Williams en sy ma was Jessie Lillybelle Skipper. Met ouers se name so dié kan jy óf ʼn countrysanger óf ʼn massamoordenaar word. Gelukkig het Hank Williams ʼn countrysanger geword. Op die oomblik sing hy in my CD shuttle:

Each night I laid there in prison
I pictured a future so bright
For he was the one ray of sunshine
That showed thru the darkest of nights.

Hank Williams se tannie, Alice McNeil, het hom leer kitaar speel. Sy band se naam was die Drifting Cowboys en sy eerste slidekitaarspeler, Jimmy Porter, was dertien jaar oud. Roy Acuff het blykbaar vir Hank Williams gewaarsku: “You’ve got a million-dollar voice, son, but a ten-cent brain.” In my shuttle val Williams weer met die refrein weg:

My son calls another man Daddy
He’ll ne’er know my name nor my face
God only knows how it hurts me
For another to be in my place.

Hank Williams is op die ouderdom van 29 oorlede, weens ʼn kombinasie van dwelms en alkohol. Hy was agterin ʼn Cadillac op pad na ʼn vertoning toe. Hy’t ʼn hele paar nommer 1 hits agter die rug gehad (elf, om presies te wees), maar sy misbruik van drank en dwelms het reeds gemaak dat hy byvoorbeeld van optredes by die Grand Ole Opry verban is. Sommige mense beweer dis ʼn rugstringsiekte en pyn wat hom tot dwelms en drank gedryf het. Hy sing:

Today his mother shares a new love
She just couldn’t stand my disgrace
My son calls another man Daddy
And longs for the love he can’t replace.

Die instrumentasie op “My son calls another man Daddy” laat my baie aan Frans en Sannie Briel dink. Ek dink aan hul lied vir die mynwerkers wat by Coalbrook dood is, aan “Kom haal my, my pappie,” en aan die hartseer, hartseer trein na Pretoria, waarin daar darem ʼn bietjie hoop aan die einde van die storie is. Maar ook die snik, die Hawaise kitaar:

My son calls another man Daddy
He’ll ne’er know my name nor my face
God only knows how it hurts me
For another to be in my place.

Leonard Cohen sing in sy lied “Tower of Song” oor Hank Williams:

I said to Hank Williams: How lonely does it get?
Hank Williams hasn’t answered yet
but I hear him coughing all night long,
a hundred floors above me in the Tower of Song…

Leonard Cohen het later verduidelik wat hy bedoel het met Hank Williams wat honderd verdiepings bo hom in die “Tower of Song” hoes: “When I wrote about Hank Williams ‘a hundred floors above me in the tower of song’, it’s not some kind of inverse modesty. I know where Hank Williams stands in the history of popular song. ‘Your Cheatin’ Heart’, songs like that, are sublime, in his own tradition, and I feel myself a very minor writer.”

“Totsiens en lekker shift…”

Wednesday, July 7th, 2010

In die tagtigs het ʼn platemaatskappy met die naam Shifty Records gesorg dat daar goeie musiek was om na te luister. Die man aan die stuur van sake was Lloyd Ross. Shifty Records het onlangs baie van hul musiek, asook opnames wat voorheen nie beskikbaar was nie, op die web vrygestel. Gaan loer hier in. Tik net die name van die kunstenaars in en soek. Hier is Bernoldus Niemand se plaat, byvoorbeeld, wat nogal moeilik is om elders op te spoor. Ek is besonder opgewonde oor opnames van die FOSATU kore wat nou te hore is. Lloyd het my jare gelde van die opnames vertel. FOSATU was een van COSATU se voorgangers - ʼn arbeidsfederasie wat van 1979 tot 1985 bestaan het.

Die feit dat Shifty hierdie musiek weer beskikbaar stel, het tot ʼn aantal uitstekende stukke joernalistiek gelei. Gaan lees gerus weer Theunis Engelbrecht se oorsig van die wel en wee van Shifty wat in die By gepubliseer is. Deel 1 en Deel 2. Dan het Shaun de Waal onlangs ʼn pragtige stuk oor Bernoldus Niemand se “Hou my vas, Korporaal” in die Mail & Guardian geskryf. Lees dit hier. ʼn Mens kan ook die liriek daar lees en ʼn skakel volg om daarna te luister.

NS. Die eerste persoon wat die aanhaling “Totsiens en lekker shift…” kan plaas, wen ʼn kopie van my CD Bleek Berus. En dis nie ʼn leë dreigement nie!

Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids

Saturday, July 3rd, 2010

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

 

My lewe lank probeer ek al om uit Johannesburg en Pretoria te ontsnap. Helaas, steeds onsuksesvol. Die gate wat die goudmyne hier gelos het, het een of ander magnetisme. Die mot en die myn. Deesdae vat ek soggens die snelweg noord. Donderdag by my nuwe kantoor ingetrek. Nou is ek vir ten minste nog drie jaar gecommit om hier te bly.

As ek by my kantoorvenster uitkyk, sien ek die Voortrekkermonument. Op die kampus is die Ou Merenskybiblioteek – die tipe art deco wat gewild geword het met die ontdekking van piramides in Suid-Amerika en Egipte. Dis deur Gerhard Moerdyk ontwerp, ʼn voorstudie vir die Voortrekkermonument. Dis in die foto hier bo, met die Geesteswetenskappegebou in die agtergrond. Dis waar ek op die oomblik sit.

Daar’s baie geboue op die kampus wat deur die Franse modernisme beïnvloed is. Dis meestal in die vyftigs gebou. As student het ek dit nie waardeer nie. Ek sal meer hieroor moet uitvind.

Argitektonies was die tagtigs en negentigs beroerde dekades; postmoderne argitektuur, met faux kasteeltoringkies en rooi bakstene. Selfs die sandsteen is fake, wat seker speels na die Ou Letteregebou moet verwys.

Daar word steeds gebou. Die nuwe Eeufeesgebou keer darem terug na die meer elegante modernisme van die Kanselliersgebou. Dis pragtig. Die kampus se tuine is ook lieflik, massiewe witstinkhout- en akasiabome.

Ek dink aan Koos du Plessis se lied:

Pretoria, jakarandastad,
waar ek so graag alleen
straat-op en -af geslenter het
in die lentereën;
waar meisies lank na middernag
nog deur die vensters loer
en dromend luister na die lied
van elke troebadoer.

Studentelewe. Koos du Plessis laat dit so onskuldig klink. My ouma het hier studeer. Sy’t nog in die Ou Letteregebou klasgedraf, in die dertigs. Haar pa (m.a.w. my oupagrootjie) het voor haar hier studeer, rondom 1904, aan die destydse Normaalkollege. Dis nou by die Universiteit van Pretoria geïnkorporeer. My ouers was hier in die sestigs. In die vroeë negentigs het ek my eerste studies hier aangepak.

Pretoria, jakarandastad,
die tyd gaan gou verby
en daardie jare lê soos
ylblou berge agter my.
Maar steeds is ek die troebadoer
wat almal wil vertel
van jou, ou jakarandastad,
met sang en snarespel.

Vreemd om nou terug te wees. Die plek lyk so anders. Dan is daar Bernoldus Niemand se minder vleiende lied oor Pretoria:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids in Pretoria
Ons is opsoek na net een skoon bo-lip in Pretoria
Want dit is die stad met geen bo-lip glad, dis Pretoria
Orals in die strate loop die fans van country plate, dis Pretoria…

Die grootste Afrikaanse stad in die Suidelike halfrond!
Hoe verder ek loop, dan hoe minder raak my hoop, in Pretoria
Dit lyk vir my ʼn snor is meer nodig as ʼn tjor in Pretoria
Hulle ry ʼn Ford Snortina en hul eet snorgasbord in Pretoria
Ek soek nou al jare, vir ʼn man sonder die hare van Pretoria…

O red my, Liewe God, van die nare snorkomplot in Pretoria
As ek ʼn terroris was, sou ek ʼn snorbom ontwerp het, Pretoria
O Meneer Snôrtjé, ek sien jou weer en weer en weer in Pretoria
Dis iets in die lug, dit trek die hare uit jou gesig in Pretoria

Ek wonder of ek nog my vakterminologie in Afrikaans ken. Ek hou van Bernoldus Niemand se anglisismes. Van die beste Afrikaanse musiek is deur Engelssprekendes geskryf – James Phillips, David Kramer, Rian Malan. So, hier sit ek nou met my snor. Darem ʼn baard ook.

In Pretoria…

 

James Phillips se verjaarsdag

Friday, January 22nd, 2010

Just when we thought it’s over, we found it’s only just begun
just when we thought it’s over, we’re still dying like flies underneath the sun
It’s still going crazy just like its always done
Cause when it all comes down the time has come to pay the bills and count the change…

As James Phillips nog gelewe het, sou vandag sy verjaarsdag gewees het. Volgende Donderdag moet ek Bloemfontein toe ry om te praat by die opening van ʼn uitstalling oor die werk van Walter Meyer by die Oliewenhuis kunsmuseum. Ek het Walter Meyer se werk die eerste keer se op ʼn CD-omslag raakgeloop - op Sunny Skies, van James Phillips and the Lurchers. Dis half jammer dat baie mense James Phillips slegs as Bernoldus Niemand onthou. Sunny Skies is een van die beste stukke musiek wat nog ooit in Suid-Afrika opgeneem is.

Gaan lees gerus meer oor die lewe van hierdie fenomenale musikant hier. Ek het dit lank gelede geskryf.

Radoma Court in Yeoville se storie

Tuesday, November 10th, 2009

Brendon Croft het die mooi foto van Clive Chipkin hier bo geneem. Dis saam met ʼn storie oor Clive se boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from the 1950s in Rapport gebruik. Wat die onderskrif in die koerant nie noem nie, is dat die foto reg langs Radoma Court geneem is, waaroor daar in die artikel geskryf word. In die agtergrond kan ʼn mens Bedford Flats sien, waar Chipkin grootgeword het.

ʼn Mens het soms maar min woorde om oor baie interessante dinge verslag te doen. Daar is ‘n ander storie oor Radoma Court, wat ek eers ná my onderhoud met Clive uitgevind het. Ek het met Harry Kalmer oor die onderhoud gepraat en oor die feit dat Clive as kind in Yeoville gewoon het. Clive kan steeds onthou wie destyds op watter straathoeke gewoon het, hoe hy as kind oor Louis Bothalaan skool toe gestap het - die King Edward VII-skool in Houghton. Ongeveer 60% van Yeoville se inwoners was toe Joods.

Harry vertel dat hy in die 1980s in Radoma Court gewoon het. So ook James Phillips (ook bekend as Bernoldus Niemand) en Hanepoot (Jannie) van Tonder, tromslaner en tromboonblaser van die Gereformeerde Blues Band. Die gebou is dus ook belangrik vir die underground Afrikaanse movement van die tagtigs.

Radoma Court is nou heeltemal vervalle. Toe ek en Clive Chipkin dit besoek het, het hy so half by homself geprewel dat dit waarskynlik te laat is om die gebou te red. Hier onder is ‘n foto van hoe dit lank gelede gelyk het - ‘n monument vir modernistiese ontwerp.

Kyk byvoorbeeld hoe praat die gebou met Le Corbusier en Pierre Jeanneret se Pavillon Suisse (die Switserse paviljoen) in Parys (in 1932 ontwerp, in die foto hier onder). 

Gaan kyk gerus hoe Radoma Court vandag lyk. Dis op die hoek van Cavendish- en Yeostraat. Die gebou word deur die Stadsraad as ‘n gebou van historiese belang gelys, maar helaas, dit lyk nie of dit veel in die praktyk beteken nie. Ek wonder of iemand eendag sal kans sien om ʼn biografie van die merkwaardige gebou te skryf. Ek wens ek het die tyd en geld gehad om dit self te doen.