Posts Tagged ‘Bibi Slippers Fotostaatmasjien resensie’

Resensie: Fotostaatmasjien (Bibi Slippers)

Thursday, December 8th, 2016

detail-cxsy-4282-g140-0-photo-0624080730

Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers.

(Tafelberg, 2016, ISBN: 978-0-6240-8073-2, Formaat: Sagteband, 122pp.)

 

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

Die naam Bibi Slippers was voorheen veral te ken uit haar joernalistieke bydraes. Hier en daar, in die pers en op die Wêreldwye Web, of in boekpublikasies soos Nuwe stemme 4 en die huldigingsbundel vi’ Adam Small van enkele jare gelede, was daar ook enkele gedigte uit haar pen bekend.

Haar onlangse optrede as aanbieder van die boekeprogram In die bed met Bibi op die DSTV-kanaal Via het hare egter ’n huishoudelike naam in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld begin maak. Miskien so na aan ’n opkomende literêre pop-ster as wat jy in Afrikaans kan kry?

Ek sleep die “pop”-etiket ietwat by die hare die prentjie in – juis in hierdie jaar waarin die Nobelprys vir Letterkunde aan Bob Dylan toegeken is – omdat domeinonderskeidings wat soms ewe maklik aangelê word tussen (nie literêr geagte) liedtekste/lirieke aan die een en gedigte aan die ander kant, pertinent deur Slippers in hierdie debuutbundel van haar ter herbedinking gestel word. Gedigtitels soos “Jonker as voorbok van Afrikaanse pop”, “waarlangs ek weer: herhalende temas in die treffers van Taylor Swift” en “Mix tape” uit die bundel-subafdeling “Album” spreek al boekdele in hierdie verband.  Die openingsreëls van “my pop val stukkend” uit dieselfde subafdeling lui dan soos volg (toespelings op die lewe en werk van meer as een Afrikaanse digter of liedmaker uiteraard bedoeld):

poësie is pop wat flop weens te min

bobeen te veel kop dit maak afgrond

en oonde oop waar pop dansbaan bou

en partytjies hou jy kan op pop vertrou

vir daaglikse soetbrood en sewe sakke

suiker […].

Fotostaatmasjien is ’n bundel waarin intensief, met erns maar ook nie sonder luimigheid nie, bemoeienis gemaak word met die vraag na die aard, vorme en funksies van digkuns in ’n era waarin die elektroniese media hul invloed as publikasie- en kommunikasiepodia laat voel. Daarmee saam word die houdbaarheid van polêre teenstellings soos oorspronklikheid en repetisie/nabootsing, die poëtiese en die prosaïese, virtualiteit en werklikheid, en betekenisvolheid en absurditeit aan die tand gevoel. Met beskoulike gesaghebbendheid aangaande vraagstukke soos hierdie word in die slotstrofe van die gedig “Ons” (“Na Anne Carsons”, lui die subtitel) klaargespeel – dis ménse wat saakmaak, nie kennersopinies nie.

Daar is net soveel onsin as onse en dis soms moeilik

om ’n onderskeid te tref. Daar is gewone en ongewone

onse, onse wat gewond is, waterkarre vol onse, onse

wat weer en weer in die onthou opstaan. Daar is onse wat

niks uitrig nie en onse wat aanhou al is dit nutteloos.

Daar is onse wat met soveel geweld ont-ons dat die aardkors

daarvan sidder. Maar daar is geen onnodige onse nie,

net oorbodige kenners. So skoert.

Kennelik is daar, al wou jy ’n fopdossery á la pop vermoed, weldeeglik ’n digter in hierdie bundel te ontmoet.

Die keuse van die bundeltitel word uitgelig as sleutelgegewe tot die bundelopset. Dit gebeur aan die hand van bundelkenmerke soos die volgende:

  • die aanbring, aan die begin en einde van die bundel, van grafiese voorstellings van die tegnologie betrokke by “electrophotography” soos ontwerp deur die uitvinder daarvan; daarby
  • die fokus op die lewe van dié uitvinder (“Eerste lewe: Biografie”) en op die impak van sy uitvinding op die lewe van iemand soos die digter self (“Tweede lewe: Outobiografie”) in die openingsafdeling van die bundel, getiteld “DIE REÏNKARNASIE VAN CHEST CARLSON”;
  • die ontwerp van die bundelomslag (die voorbladontwerp laat ’n fotostatiese oorheen-legging, tot feitlike onleesbaarheid toe, van gedigteks op -teks soos hulle verderaan in die bundel opgeneem is, sien); asook
  • die tipografiese en bladspieëlontwerp van talle van die binneblaaie (sodat die indruk van teksfotostatering weer en weer bevestig word).

Laasgenoemde word selfs so ver gevoer om met die gedig “Paper jam” ’n oënskynlik totaal mislukte fotostateringspoging voor te stel. Naas die smeersels droë masjien-ink oor die bladsy is slegs die genoemde gedigtitel en ’n motto-aanhaling daarby te siene: “Poems are translations from the silence. – Charles Simic”. Slippers het, in ’n MA-skripsie wat sy ’n jaar of wat gelede aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, haar nie verniet in die teorie en praktyke rondom sogenaamde kunstenaarsboeke, en konkrete en ander vorme van visuele digkuns verdiep nie. Vandaar dat byvoorbeeld ook ’n foto (by die gedig “David Tieties van Verneukpan dra sy donkie”) en snipper- en plakgedigte (“sewe klein fantasieë oor Breyten Breytenbach met fotostaatmasjien en skêr” en “kantaantekeninge”) hulle gepaste plek in die bundelopset vind. Die meeste gedigte verskyn in swart drukletters op ’n wit bladsy, maar in sommige gevalle andersom. Ook: Die meeste gedigte is in die gewone portretformaat op die blad georiënteer, maar enkeles in landskapformaat.

Om enkele ander fasette van die bundel te belig, benut ek die bundeltitel en sommige van die betekenisassosiasies daarvan as invalshoek.

Die titel dien in die eerste plek as ’n sinjaal van die reeksindruk (tematiese en/of stilistiese en/of vormlike herhalings-met-variasie) wat die gedigindelings in die bundel maak. Daar is vier afdelings, wat telkens opgebou is uit subafdelings, en wat soms op húlle beurt onderverdeel is in verdere subafdelings. Toegekende gedigtitels is, plek-plek opvallenderswys, verdere tekens van die reeksaard van die gedigte. Vergelyk: “Die eerste afskrif”, “Die eerste afbeelding”, “die eerste afwyking”, ensovoorts (in die subafdeling “Alpha Xerox: Die eerste fotostaatmasjien); of: “Wat Thamsanqa gesien het”, “Wat Thamsanqa gehoor het”, “Wat Thamsanqa gesê het”, ensovoorts (in die subafdeling “Handgebare: Die tye en swye van Thamsanqa Jantje”).

Tweedens moet weer die titel-suggestie aangaande die spanning tussen herhaling en oorspronklikheid, veral soos dit tematies neerslag vind in die bundel, onder die loep kom. Die afdeling “SKEPPINGSVERHAAL”, met subreekstitels soos “Afskrywer”, “Gedoentes”, “Afscroll” en “Afvallige amanuensis”, staan in hierdie verband sentraal. Die genoemde spanning betref nie slegs aspekte van die digterskap nie, maar ook iets soos die liefdesbelewenis in die era van gerigtheid op die (tot bewonder- en benyding aangebode) self, en van beheptheid met oombliklike behoeftebevrediging, met digitale aangekakeldheid en virtuele verplaasbaarheid. Veral die subafdelings “Gedoentes” en “Album” word tematies deur die (haas onvermydelik tot mislukking gedoemde) liefdeservaring oorheers. In ’n gedig soos die volgende speel die digterskap- en liefdestemas met nogal ontnugterende effek deureen:

halfhartige poging tot ’n oorspronklike liefdesgedig

dis so vervelig om lief te hê

die hele ding is al soveel maal gedoen

copy en paste die clichés

paarrym pampoen met soen

die enigste opwinding lê

in die fabrieksfoute

en flaterkodes

400 Bad Request

403 Forbidden

404 Not found

406 Not acceptable

409 Conflict

410 Gone

500 Internal server error

Sorry, something went wrong

A team of highly trained monkeys

have [sic] been dispatched to deal with this situation

(die Oneindige Aap-stelling sê

dat ’n aap wat lukraak die sleutels

van ’n tikmasjien oneindig slaan

byna sekerlik ’n teks sal voortbring

dalk die enkodering van YouTube

miskien die versamelde werk van Shakespeare

altemit ’n enkele oorspronklike liefdesgedig)[.]

Die herhaling/oorspronklikheid-digotomie word verder genuanseer deur toespelings op ’n (gewaande) teenstelling soos egtheid en banalisering. Onbenut word die satiriese moontlikhede wat in laasgenoemde opposisionering skuilgaan, nie gelaat nie, soos al blyk wanneer die volgende twee liedteksaanhalings opduik as motto’s by die subafdeling “Gedoentes”:

What’s love got to do with it? What’s love but a second hand emotion? – Tina Turner

ek het gedroom van ’n plek / waar die son nooit gaan set / jy was daar in ’n tronk / en ek moes jou kom red my bybie – Lianie May en Jay.  

’n Poging tot tipografiese nabootsing van ’n Japannese kunstenaar se polkakol-hebbelikheid in sy visuele werk, gaan gepaard met selfspot by Slippers in die gedig “●nders●ek na die aard van ●bsessie met spesifieke verwysing na die p●lkak●l-kunswerke van Yai●i Kusama”. Die gedig eindig soos volg:

haar trippe haar huile haar gr●●tste

gen●t is alles vir altyd bep●lkaged●t

bespikkelgetik is Yay●i Kusama

van l●tjie gestippel en k●llevers●t[.]

Die vraagstuk rondom egtheid van belewenis en uitbeelding, al dan nie, word voorts op die spits gedryf deur die (reeds vermelde) bemoeiens met die moeilik onderskeibare teenstellings tussen werklikheid en virtualiteit – iets wat redelik kenmerkend geword het van die menslike belewing in die era van die digitale media waarin ons ons bevind. Die gedig “Afrikaner: Die eerste Google Search”, visueel aangebied om aan die soekresultate te herinner wat op ’n rekenaarskerm sou verskyn indien die soekterme “die eerste” en “die begin van” by die soekvenstertjie ingetik sou word, lewer byvoorbeeld onthutsende stereotipes aangaande Afrikanerskap en die geskiedenis van dié volksgroep op (onder meer: “swangerskap”, “apartheid”, “afrikaans”, “geld”, “rugby”). In dieselfde bundelsubafdeling, “Afscroll” getiteld, staan voorts ’n reeks van “15 instagram-gedigte”. Die slotgedig van die reeks sluit ’n (self-)satiriserende toespeling op ’n bekende liefdesgedig van Sheila Cussons in, en lui soos volg:

Inkwell

ek weier om te sukkel met woorde

as ek op Instagram kan poetry maak

met ’n swipe, ’n tap, en ’n vinnige filter.

my foto van Juan se voet in ’n Converse

high top is een enkel poësie,

bitch. om te suffer vir jou art is old hat.

#aintnobodygottimeforthat[.]

Die ryke, opvallend gemaakte intertekstualiteit in Fotostaatmasjien is ’n verdere manifestasie van die digotomie-relativerings en die herhaling-met-variasie-effekte wat die bundel deurspek. Talle aanhalings, literêre en liedkunsheenwysings en -toespelings, asook oor-, voort- en verskrywings van bestaande en selfgeskepte tekste, kom dwarsdeur die bundel voor. Juis die “fout”-aard van vertalings, voort- en verskrywings kan, ironieserwys, iets vrugbaars verteenwoordig – dít is ’n strekking wat spreek uit die twee slotafdelings, op betekenisvolle wyse onderskeidelik “KEERWERK TEEN DIE SLEUR VAN KOPIEERWERK” en “DUBBELFOUTE” getiteld. “[W]oorde” is eintlik wegwysers, lui dit in “Fabrieksfout: verhouding”. In die gedigte “Foutiewe vertaling i: Copy” en “Foutiewe vertaling ii: Cut” gee vertaling op die klank af van die Engelse woorde in die gedigtitels aanleiding tot die skep van twee boeiende gedigte oor, onderskeidelik, ’n porseleinkoppie en ’n kat.

’n Kostelike produk van die (tekstuele) “foutgaan”-motief in die bundel is die subreeks “HANDGEBARE: Die tye en swye van Thamsanqa Jantjie”. Die persoon waarna in die reekstitel verwys word, is naamlik die tolk wat tydens die teraardebestelling van die voormalige Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela, ’n wêreldwyd aanskoude vertoning gelewer het van sy verstommende onvermoë tot verstaanbare gebaretaaltolking. Aan die slot van die gedig “program” word die absurditeite waartoe dié toedrag van sake aanleiding kon gee, vergestalt in die volgende klanknabootsende gebrabbel as voorstelling van wat die eerste versreël van Suid-Afrika se volkslied beteken: “niks kos nie sekel lê af riet kla”.

Slippers verkneukel haar kennelik in die komiese van die genoemde voorval, maar die “Thamsanqa Jantjie”-gedigreeks verskyn nie in die bundelopset sonder ’n angel van ernstige bedoeling nie. Dit verteenwoordig naamlik ook ’n eintlik ontstemmende ontmaskering van sowel die absurditeite en wanpraktyke wat die huidige Suid-Afrikaanse politieke bestel kenmerk, as van die ontoereikendheid wat talige en literêre kommunikasie hoeka bedreig. In die slotstrofe van die slotgedig (“The great fake”) in die reeks maan die subjek in die gedig Jantjies derhalwe tot

gebaretaal en egtheid, Thamsanqa,

want onder die vals wimpers en die praal

is die keisers en die kiesers

ewe kaal.

Met bostaande gedagtes oor hierdie prikkelende, in bepaalde opsigte baanbrekende debuutwerk, het ek maar plek-plek, en waarskynlik alte bolangs, gekrap na die kenmerke en implikasies daarvan.  ’n Verskeidenheid leesweë is deur die bundel te baan. Waarskynlik daarom dat die bundelopdrag [“Vir ……. (Gebruik asseblief slegs blokletters)”] opsetlik ruimte laat vir die indiwiduele leser om as ’t ware die eie naam daar in te vul – ’n persoonlike leeservaring tot stand te bring.

Slippers kom daag die Afrikaanse poësieleser uit met Fotostaatmasjien. So bou sy opwindend voort op wat tot dusver in maar ’n handjie vol Afrikaanse bundels te bespeur was aan die ontginning van eietydse kommunikasietegnologie-verskynsels, dit wil sê op sowel stilistiese as vormlike en tematiese vlakke.