Posts Tagged ‘Bibi Slippers’

2017 UJ-debuutprys aan Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien

Tuesday, May 2nd, 2017

Die wenner van die 2017 UJ-debuutprys, is toegeken aan Bibi Slippers vir haar digbundel FotostaatmasjienDie UJ-debuutprys word jaarliks toegeken vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000).

Bibi Slippers se debuutbundel vier die mens en kultuur as fotostaatmasjien en die gedig as foutiewe fotostaat. Die digter neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan, maar dié oorskrywer is gelyktydig ook ’n boorling van ’n digitale wêreld waar perfekte kopieë met die druk van ’n knoppie geskep kan word, en emoji’s, youTUBE-videos en Instagram-foto’s werklikheid word. Fotostaatmasjien dokumenteer die skeppingsproses in afdrukke, en maak só oorspronklike fotostate.

Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Sy het BA-grade in Skeppende Kunste en Tale van die Universiteit van Pretoria, en ‘n MA in Kreatiewe Skryfkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Sy woon in Johannesburg en gaan swem gereeld in die Kaap. (Tafelberg Uitgewers, 2016. Prys : R200, Bladsye : 108: 210 mm x 148 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624080732)

Lees ook die resensie oor Fotostaatmasjien deur Bernard Odendaal op Versindaba.

 

 

Digstring: “En route: Suid-Afrika” (Bibi Slippers)

Tuesday, February 28th, 2017

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 

“En route: Suid-Afrika”

Na Allen Ginsberg

Suid-Afrika, ek is op die highway.  Waar is jy?
Suid-Afrika, 123 kilometer per uur en ’n onbetaalde parkeerkaartjie,
onder die voetbrug wei ’n trop bokke.
Suid-Afrika waarvoor is teer ’n metafoor?
Vlieg in jou moer met jou stukkende flikkerlig!
Ek is sagmoedig, met intense road rage – jy het ook jou teenstellings.
Ek skryf agter die stuurwiel, ek weet dis gevaarlik.
Suid-Afrika waarheen gaan hierdie pad?
Waarom waai die wind weer wes?
Hoeveel van jou honde word roadkill, hoeveel voëls verlustig hulle?
Suid-Afrika waarom weier die kraaie om kommentaar te lewer?
Suid-Afrika wanneer scramble ons weer kwartel-eiers vir die kinders van Khayelitsha?

Ek is moeg gejaag en padgegee.
Ek wil ook my hoop in die stof langs die pad rondskop soos die kinders met die sokkerbal, dis meer werd daar, mens kan speel vir tyd.
Suid-Afrika, jy dink ek weet nie wat aangaan nie en partymaal is jy reg.
Jou berge weet meer as wat hulle voorgee.
Hou links, steek regs verby.
Daar moet ’n manier wees om jou volle verstand terug te kry.
Wat as ek ’n hond doodry, wat as ’n kind voor my kar inloop?
Baie van jou honde is beter af as meeste van jou kinders.
Ek probeer verbyry.
Ek is jammer maar ek dink ek gaan opgooi.
Suid-Afrika, kyk my mooi skoene.

Suid-Afrika, van hier af lyk die lughawe-liggies soos sarkastiese exit signs,
waar daar ’n wil is and all that jazz, net nie verder as die naaste shebeen nie.
Ek ken nie my regeerders se name nie, dis seker my skuld.
Suid-Afrika jou gode kom in allerlei kleure.
Suid-Afrika party se reuse penisse is oor hul skouers gedrapeer,
ander glimlag soet maar niemand word gespaar nie.
Ons snuif almal cliches.

’n Verminkte rusbank spoeg sy spons uit,
langs dit pis volwasse mans  langs die pad,
en ek word weer kwaad vir die bure se kat
wat teen ons voordeur kom pee het.
Is dit normaal om skuldig te voel oor ek ’n voordeur het en ’n agterdeur?
Ek wil soms ook langs die pad pis net om ’n punt te maak
maar ek mik nie so goed nie en
ek is jammer vir my skoene.
Suid-Afrika ek is  jou seker dit verskuldig na alles wat jy…
nee, niks nie.

Lees my heupe:
Jou asem ruik na moord en ment,
almal byt op hul gebalde vuiste.
Net die volstruise lyk nog lus om liefde te maak.
Die pad loop tussen hulle kampe deur, hulle tree hul verlange in
meters uit.
Moet mens hulle jammer kry omdat hulle nie kan vlieg nie?
Dis hulle eie skuld: onwilligheid om te verander
of dalk eerder te gewillig gewees, ek sou nie kon sê nie.
Hulle vere steek in elk geval ’n preek af, die strak
swart- en witgeit daarvan.
My gesindheid is grys in die truspieëltjie, ek is nog steeds naar.

Versigtig vir sinkgate, Suid-Afrika.
Die township is ’n bont kwilt van plastiek en bourommel en sinkplate.
Beleef die estetika van armoede!
Ek sal die oneweredige aantreklikheid daarvan mis wanneer
al die armes opgevaar het na die hemelhoë suburbs.
Jy lag kras vir my dagdroom.
Jou strome verswyg die laaste woorde van kinderlyke.
Ek sou in elk geval nie hul taal verstaan nie.
Maar die dood skuil tog onder ons almal se tonge.
Ek reken die roadkill is jou skuld.
My geel Golf is gesteel, jy ontken weer alles.
Dis dieselfde ou storie, al saaier as ’n Sondag braai.
Jy dink verniet ek is daai tipe meisie: ek eet nie vleis nie.
Wellustige taxi’s snuif om die beurt aan my Tazz se ass,
bronstige bulle, en kwaai is hulle.
Daar breek die son nou met kinderbybel-strale agter
die grys wolke deur – ’n silwer randjie, I kid you not.
Suid-Afrika, kan jy meer pateties wees?
My vriend Fred het al iemand op hierdie highway doodgery.
Daar was baie bloed op die voorruit en ’n bietjie op sy rekenaar
wat langs hom op die sitplek was.
Suid-Afrika, what would Jesus do?
Swaai mens uit of ontmoet jy jou slagoffers sonder skroom?
Alles is ongeluk.
Goeie more Suid-Afrika, ons moet opstaan en aangaan.
Lig jou gat, ek is klaar met jou stories oor bloed en berading.
Ek volg jou voorbeeld, volg jy nou myne.
Suid-Afrika, ek sit my spanner in die wiel.

 

(Uit Letter to South Africa: Poets Calling the State to Order, Umuzi 2011)

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig in 2010 geskryf, as opdragvers vir die kolokwium wat Marlene van Niekerk vir daardie jaar se Versindaba saamgeroep het. Die opdrag was om, in die gees van Allen Ginsberg se “America”, ’n brief aan Suid-Afrika te skryf. Ek het in daardie jaar in Kaapstad gewoon en in Stellenbosch gewerk, en my brief aan Suid-Afrika is geïnspireer deur my daaglikse retoer-trippie op die N2, en die dinge wat mens langs daardie pad sien.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het as fragmente begin – ek het versreëls, beelde en frases in die ry neergeskryf oor ‘n lang tydperk. Toe die openingsreël homself aanmeld (Suid-Afrika, ek is op die highway, waar is jy?”) kon ek begin om die res van my onsamehangende fragmente tot ’n sinvolle eenheid te bind.  Dit was lank gelede, maar as ek reg onthou het daardie laaste saamflans redelik vinnig gebeur.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die spesifieke gedig het redelik vinnig en natuurlik gevloei – maar het voortgespruit uit weke se oordenking en meditasie terwyl ek ry, en maande se gewroeg met ander goed wat nie gewerk het nie. Ek het nie werklik oor hierdie gedig gewroeg nie – dit was lekker om daaraan te skryf, en om stelselmatig voort te bou daarop deur dit baie hardop te lees en vir myself voor te dra in die kar.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die bloudruk vir die gedig is Ginsberg se bekende gedig “America”. Ek het daardie gedig as vertrekpunt gebruik en die realiteit van die lewe langs die N2 bo-oor daardie onderlaag geprojekteer. Ek het probeer om Ginsberg op ’n sinvolle manier na te doen, sonder om ’n direkte kopie van sy gedig te maak: byvoorbeeld waar hy in sy tweede versreëls getalle gebruik, het ek die getalle omgeskakel in ’n odometer-lesing. Hier en daar slaan gedeeltes van die Ginsberg-vers deur, soos byvoorbeeld in die slotreël, waar ek ’n eggo van Ginsberg se idee van “skouer aan die wiel” probeer behou het, maar dit tog geheel in my gedig wou laat pas – dus die spanner in die wiel.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek was op daardie stadium besig met my meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns, so my studieleiers Willem Anker en Marlene van Niekerk het beide die gedig gelees en terugvoer gegee. Die redakteur van die versamelbundel waarin die gedig oorspronklik verskyn het, Carla Potgieter, het ook insae gelewer (veral mbt die vertaling). Deesdae is Loftus Marais gewoonlik my eerste leser en klankbord, en my uitgewer Tertius Kapp lewer ook waardevolle kommentaar. Ek dink wel nie hulle het veel aan hierdie gedig gekarring met die publikasie daarvan in Fotostaatmasjien nie – dit was reeds afgerond.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek dink die versamelbundel Letter to South Africa: Poets Calling the State to Orde het in 2011 verskyn, iets minder as ‘n jaar nadat die gedig geskryf  is. Maar dis kort nadat ek dit geskryf het in die publiek voorgelees.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gegewens in die vers is grootliks gebaseer op dinge wat ek werklik gesien en ervaar het wanneer ek op die N2 ry. Dis ook waar dat my vriend Fred al iemand op die N2 raakgery het, soos dit in die vers opgeteken staan. Ons het wel, op daardie stadium, nie werklik ‘n voordeur en ’n agterdeur gehad nie. 😉

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die vers gaan oor die realiteite van die lewe in Suid-Afrika, soos uitgedruk in werklike beelde en gebeure wat langs ’n snelweg afspeel. Die feit dat die spreker in die gedig dinge vanuit die isolasie van die kajuit van ‘n voertuig bekyk, sê seker ook iets oor die kloof wat tussen mense bestaan in ons land.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Net die Ginsberg-teks.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee, ek skryf gewoonlik maar vir my eie vermaak. Maar met hierdie gedig het mens seker maar in die agterkop gehad dat dit voorgelees sou word by ’n geleentheid in Stellenbosch vir ‘n Afrikaanse gehoor wat grootliks uit ander digters sou bestaan.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek dink die gedig is eintlik ‘n prototipe vir my latere werk – dit was een van die eerste gedigte waarin ek ’n sterk sin van my eie stem gevoel het, en die werkswyse (om ‘n bestaande gedig as bloudruk vir ‘n nuwe skepping te gebruik) het vir my ’n manier geword om my stem in te oefen, en beheer daaroor te  kry.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ek dink dit is, saam met my reeks gedigte oor Thamsanqa Jantjie, seker die mees Suid-Afrikaanse gedig wat ek tot nog toe geskryf het.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek het gevoel die vers is afgehandel en afgerond.  Dit help dat ek in hierdie geval ’n ander vers as verwysing gehad het – ek het geskry f na ’n einde toe, en ek dink ek kon daar uitkom.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Mense wat bekend is met die stuk pad wat die agtergrond vir die gedig vorm, is altyd baie positief daaroor. Ek dink omdat ek so lank op die pad spandeer het, kon ek mooi fyn oplet wat om my aangaan, en ek kon lank genoeg aan die vers werk dat ek die ervarings en dinge wat ek gesien het behoorlik kon opteken, in hierdie geval.

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Hmmmm, miskien nie die eerste nie. Maar ek het van kleins af daarvan gehou om rympies en dinge te skryf, en het nog êrens ’n lêer met klomp kinderversies wat ek geskryf het. Een begin “Vyf kabouters – baie klein – ry in hul kaboutertrein” – ek dink ek het ewe illustrasies gemaak ook van die kabouters en die trein. Ek moet nou nog net ‘n vliegtuig- en ‘n boot-gedig skryf, dan het ek die vervoermiddele redelik goed gedek. 😉

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

Nuuswekker. Blomtyd vir die konkrete digkuns?

Thursday, January 19th, 2017
joanne-margaret-paul

Joanna Margaret Paul

Kyk, Nieu-Seeland is uiteraard bekend vir sportprestasies, maar hulle het darem ook ‘n besonder aktiewe digkuns om mee te spog. Daarom dat die herwaardering van Joanna Margaret Paul (1945 – 2003) se lewe en werk op Jacket2 my oog gevang het. Cy Mathews, skrywer van die artikel, motiveer die behoefte aan ‘n herwaardering van Paul se digkuns soos volg: “In 1978, Joanna Margaret Paul published Imogen, a limited edition book of poems dealing with the death of her infant daughter. Despite winning the Pen Best First Book of Poetry award, it received little critical attention. Only one brief review appeared in Landfall written by the then rising-star poet Brian Turner. Turner, while impressed with the book’s typographical layout—Paul was already an established visual artist—wrote of how he was “left drained” by its emotional intensity. The book, he concluded, was more of “an experience than a poem”: there just wasn’t “enough poetry” in it […] At a time when the literary revolutions of modernism were already being disrupted by postmodernism, it seems strange to encounter such a narrow definition of poetry.”

Terwyl haar tydgenote, insluitend Brian Turner, voortgegaan het en hul gevestig het as van die vernaamste en mees invloedryke figure in die Nieu-Seelandse lettere, het Paul vergete gebly. Volgens Mathews is die rede hiervoor nie dat sy “te min poësie” gelewer het nie, maar weens die feit dat die meeste van haar publikasies buite die hoofstroom verskyn het as kladboeke en dan boonop in beperkte oplae. Die rede vir die ovoldoende kritiese waardering reflekteer dus eerder, volgens hom, die onverkrygbaarheid van haar publikasies as die gehalte van haar digwerk.

Fotostaatmasjien se omslag

Fotostaatmasjien se omslag

Hoekom hierdie artikel my in die besonder interesseer, is dat ons hier ter lande nou nie juis kan spog met ‘n sterk tradisie van gedigte wat die tipografiese moontlikhede ontsluit nie. Enkele voorbeelde is daar wel, met Willem Boshoff en Wopko Jensma as waarskynlik die vernaamstes. En meer onlangs digters soos Hennie Meyer, Jan A.F. du Plessis en dan nou: Bibi Slippers met haar onlangse debuut Fotostaatmasjien (2016: Tafelberg).

Die vermoede bestaan dat ons in die komende jare sommer heelwat meer digkuns van hierdie aard onder oog gaan kry. Sal ons eie literatore (en lesers) in staat wees om dié opwindende, dog ongewone, tekste na waarde te skat? Graag sal ek so wil dink; veral na aanleiding van die evalueringswerk wat reeds deur persone soos Bernard Odendaal, Leti Kleyn, e.a. gedoen is. Ek voorspel ‘n uiters dinamiese bloeityd vir ons meer konkrete digters danksy Slippers se indrukwekkende publikasie.

Maar gaan lees gerus die volledige artikel op Jacket2. Die bied veel stof tot nadenke. Hieronder volg enkele voorbeelde van Joanna Margaret Paul se digwerk.

Ek groet met Cy Mathews se slotopmerkings: “The movement of Paul’s poems is a long arc inwards, but it is an arc towards a centrepoint forever out of reach. Her shapes map the body, the landscape, the ephemera of the everyday, but they also explore absence, negative space, loss.”

*

I cannot write a sonnet
that opens from rooms to measured
rooms with windows partitioned into
panes
but
only
another
poem
called
CAVE
centre
hollowed from the
ever       earth
no lights or limestone ornaments
but space
hollowed by the shape
of its
inhabitant

*

the water is ‘beautiful,’ ‘beautiful’
& ‘fucking lovely’
a thin woman
leans over a child with great
tenderness
the hills are yellow
a man’s body
white on
grey gold
water

*

eye
look look
it’s in
my pictures
all lines
converge
at the centre
not the middle
but
just outside
the picture
here

 

© Joanna Margaret Paul

Uit: Like Love Poems: Selected Poems, ed. Bernadette Hall. Victoria UP, 2006.

 

Nuwe publikasie: Fotostaatmasjien (Bibi Slippers)

Monday, November 14th, 2016

Fotostaatmasjien      

Bibi Slippers

Omslag

Omslag

Bibi Slippers se debuutbundel vier die mens en kultuur as fotostaatmasjien en die gedig as foutiewe fotostaat. Die digter neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan, maar dié oorskrywer is gelyktydig ook ’n boorling van ’n digitale wêreld waar perfekte kopieë met die druk van ’n knoppie geskep kan word, en emoji’s, youTUBE-videos en Instagram-foto’s werklikheid word.

Fotostaatmasjien dokumenteer die skeppingsproses in afdrukke, en maak só oorspronklike fotostate.

 

Biografie:

Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Sy het BA-grade in Skeppende Kunste en Tale van die Universiteit van Pretoria, en ‘n MA in Kreatiewe Skryfkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Sy woon in Johannesburg en gaan swem gereeld in die Kaap. (Tafelberg Uitgewers, 2016. Prys : R200, Bladsye : 108: 210 mm x 148 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624080732)

.

Ons

Na Anne Carson

 

 

Ons is die illusie dat sommige dinge saamhoort,

jou trui, my toestand. Ek is ’n kenner van onse,

die honde hoor my. Om te verduidelik wat ek doen

is egter ietwat ingewikkeld. ’n Kenner is iemand

wat weet, maar wat weet ons nou eintlik? Die wis

en die onwis is in konstante wisselwerking, die wete

aanhoudend aan die beweeg soos ’n vervoerband

of trapmeul onder ons voete. Ek is die versteller

van die snelheid en gradiënt, ons stap opdraande

op een plek tot die weet ons aftap. Jy mag dalk dink

dat ek self die siklus aan die gang sit, maar dit

is ’n misverstand. Ek posisioneer myself eenvoudig

op die gegewe plek en wag vir aksie. Die wonderwerk,

en dit ís ’n wonderlike werklikheid, is dat alles altyd vanself

begin. Voordat daar eindes was, was daar baie beginne,

maar ’n mens kon nooit seker wees wat iets sou afskop nie.

Slaptjips? Dronkenskap? ’n Belangstelling in boeke?

Soms is dit beter om die aanvangs te omseil.

 

’n Kenner is iemand wat weet, maar nie noodwendig

wanneer om op te hou nie.

 

Dis die manier waarop dinge tussen onse verstrengel

raak wat alles moeilik maak. Kan jy jouself warm hou

met my toestand? Moet ek jou trui met my sielkundige

bespreek? Ons is gemengde metafore, opgeklitste idiome

en vrae wat antwoorde uitkanselleer: Wat weeg meer

as twee? Wat is die meervoud van my?

 

In die ons soos ek dit sien is die trui en die toestand

soms saam in die tuimeldroër en ander kere begin jy

iets bruikbaar brei wanneer ek uitrafel.

Maar wil jy deur hierdie versamelnaam kyk? Is jy reg

om kersies, pere en pyn saam met die appels

in jou oog te hê?

 

Daar is net soveel onsin as onse en dis soms moeilik

om ’n onderskeid te tref. Daar is gewone en ongewone

onse, onse wat gewond is, waterkarre vol onse, onse

wat weer en weer in die onthou opstaan. Daar is onse wat

niks uitrig nie en onse wat aanhou al is dit nutteloos.

Daar is onse wat met soveel geweld ont-ons dat die aardkors

daarvan sidder. Maar daar is geen onnodige onse nie,

net oorbodige kenners. So skoert.

 

(Uit: Fotostaatmasjien. Bibi Slippers)

Bibi Slippers. Ondersoek na die aard van die geskilderde windhond …

Thursday, August 20th, 2015

Ondersoek na die aard van die geskilderde windhond met spesifieke

verwysing na die latere werk van Lucian Freud

 

watter weeksdag is die wind-

hond? mens wil dink ‘n woens-

dag, maar, nee: die windhond

is dunner, en ’n dinsdag, dus.

 

wie se kind is die windhond?

die aanteelt van ’n kuitspier

en ’n kantgordyn, of die klein-

tjie van ’n jakkals en ’n sweep?

 

is die windhond meer wenk-

brou of meer tong en waarvan

droom die windhond? wilder-

nis of kussing? oopte

 

of oksel waarin hy sy neus kan

wegsteek? is die windhond met ‘n

rede presies so wyd soos die spa-

sie tussen kardeur en die sit-

 

Plek, of is alles net toevallig? hoe weer-

loos is die windhond werklik? meer

of minder as wat sy effensheid en

bewerasies suggereer? laastens:

 

as die windhond dan ’n leesteken was,

watter leesteken sou hy wees?

’n komma wat ’n asemteug aandui

of die vraagteken op die laken

 

langs die hompe mens?

 

© bibi slippers / 2015

“Gedigte vir Lucian Freud se windhond” – Digters by The Whippet in Linden: Melt Myburgh, Bibi Slipppers, Loftus Marais en Andries Bezuidenhout.