Posts Tagged ‘Bloot mens’
Thursday, August 12th, 2010
Nou met die afgelope Vrouedag het ek vir my susters en vriendinne, asook twee mansvriendinne, ’n gedig van Antjie Krog gestuur. Ek hou dit op my rekenaar vir die dae dat ek soos Maer Maria voel.
Maer Maria is ’n ikoon in die Ortodokse kapel van ’n priestervriend op Robertson. Ek weet nie of Maer Maria haar regte naam is en waarom sy so gefolter lyk nie. Ek moet dit nog by vriend priester vasstel.
 Maer Maria
Maer Maria lyk soos ek partykeer voel. (Moontlik lyk ek ook so, hoewel ek van ’n konstitusie is wat nooit uitgeteer sal wees nie.) Van gees en vlees uitgemergel. Aangeval deur e-pos, werk wat nooit opgewerk word nie, blomryke kopie vir ’n linnekatalogus, aantelende skottelgoed, stof wat beskuldigend in bolle aanrol, blaffende buurbrakke en wasgoed wat huil omdat hulle al dae lank onskuldig aan die draad hang. Daarby ook insekte en onkruid van plantaardige en menslike oorsprong. En kan ’n mens ooit wegkom van die snoesige wete dat jy vasgekeer is op ’n boot met waansinniges aan die roer?
Op sulke dae sit ek sekere goed op my rekenaar se skerm. ’n Groot opkikkeraar is die klimaks uit Antjie Krog se gedig “Paternoster”:
ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my borste ’n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou
Dit kom uit haar bundel Gedigte 1989-1995, in 1995 uitgegee deur Hond. (Daardie ander bevryde gedig, “man ek lus ’n twakkie”, is ook in hierdie bundel.) Ek moet beken dat ek ’n woord in reël 10 verander het. Daardie woord, waaroor Koos Kombuis so lustig in verband met sekere “griete” sing, is vir my die lelikste in die hele Afrikaanse woordeskat. Ek weier dat dit oor my lippe kom of uit my vingers vloei. Skies, Antjie, jy moet my maar aankla van onregmatige of wederregtelike peutering.
Ek het die laaste vier reëls van die gedig by twee prente geplak. Afhangende van die bui sit ek die een of die ander op:


Die naakfiguur is ’n skildery deur myself, nie van myself nie. Ek wou dit graag op die voorblad van my digbundel Bloot mens gehad het, maar dit is met streng afwysing begroet. Ek skat dit was te bloot, hoewel Antjie reeds die weg gebaan het met die kaal bors van die ou dame op die omslag van haar Verweerskrif. Ek moes toe maar vir lief neem met ’n swierig opgedresde afkop-dame. Ek dink die af-kop het ’n besondere simboliese betekenis. Ek weet net nie wat nie.
As ek die dag ’n diep behoefte aan die solidariteit van soliede susters voel, sit ek die volgende prent op die rekenaarskerm:

Ek weet baie mans en verraaiervroue sal nou smalend sê maar wie wil in elk geval sulke lippe soen. Ék, vir een. Met sulke vroue kan ’n mens mos weer ’n volk met testosteroon in die hart kweek. Ek is veral gefassineer deur die dame tweede van links in die middelste ry. Dis of sy ’n besonder dodelike kyk aan haar het. Ek sal my oogtande gee om my vyande só te kan aanstaar.
Ag ja, en vir die dae dat ek op ander maniere bedot is, sit ek Dottie op die rekenaarskerm.

Dottie was my sus Annelise se hond en het saam met haar in die Namibiese woesteny rondgetrek, waar sus toesig oor die sink van boorgate gehou het. Sus Annelise is ’n geohidroloog of ’n hidrogeoloog. Toe haar omstandighede verander, is Dottie na sus Jets en swaer Peter in Gaborone. Van daar is Dottie na my pa in Bloemfontein sodat hy nie so alleen voel ná my ma se dood nie. Toe Pa onlangs na ’n aftree-oord trek waar honde nie welkom is nie, verhuis Dottie terug na Gaborone. Sus Jets het onlangs vir my dié sjarmante foto gestuur.
Saam met Dottie wens ek al die vroue wat dié stuk lees ’n blom in die bek toe vir die dae dat hulle soos Maer Marias voel. En ’n wonderlike heengegane Vrouedag. Laat ons nooit vergeet dat ons fokken vry vroue is nie.
Ns: Vir die mans wens ek ’n wonderlike Mansdag toe, wat enige en/of elke dag van die jaar mag wees.
Tuesday, May 25th, 2010
Blogfokus
In die eerste gedig in haar bundel haal Jelleke Wierenga die deelteken van “poësie” af. Kru miskien, maar hierdie sê is ‘n raaksê oor die houding van die gemiddelde Afrikaanssprekende teenoor die digkuns.
Sy het redelik lank gesukkel om gepubliseer te kry, dus is die gedigte in haar debuutbundel goed “ingeleef”. Ek dink deel 3, “Galery van gewese geliefdes”, is eintlik haar forté en ek het gehoor dat gedurende een van die eerste probeerslae om haar werk voor te lê vir publikasie, Charles Fryer haar aangeraai het om te konsentreer op die erotiese gedig. Dit is egter nie al nie, in deel 1 en 2 stel sy haarself en haar verhouding met die woord bekend, met ‘n aantal intertekstuele verwysings na Breyten Breytenbach.en bv. die gedig Profiel, waarin amper elke tweede woord met ‘n P begin.
Sy skryf oor die omgewingskwessies, in “Geklassifiseer Gedoem“: Bome my bome / vergewe ons: / want ons wil nie weet / wat ons doen nie. Sy sê ook haar politieke sê, bv. in die gedig “Dislojale Verset“, die titel n.a.v. N.P. van Wyk Louw se Lojale Verset.
Sy skryf diep rakende gedigte, soos 10 September 2007:
My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het
…
Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.
Sy raak geestelik in God, ons almal se pel:
Heilig ons nog iets/iemand
knieverniel op die viniel
in die koue kombuis
Ek lees poësie om twee redes. Eerstens seker die normale rede hoekom lesers poësie lees, tweedens omdat ek altyd besig is om te soek na woorde wat hulle in ritme en note wil laat hokslaan tot liedjes. Aangesien my eie woorde maar min is, soek ek ook in ander mense se woorde. En as ek dit kry, dan is daardie bundel my gunsteling bundel tot eendag. So ‘n paar weke gelede het dit met my en die gedig “Van Blou” uit hierdie bundel gebeur. Ek moet sê dit was nie maklik nie, by tye het ek gedink dis onmoonlik, maar ek het geweet daar is iets in daardie gedig. En toe werk dit. Dit wérk! Gisteraand het ons die nuwe fliek Jakhalsdans gaan kyk, ek sien Theuns Jordaan in die rol van die kluisenaarsanger Ruan Landman met sy bloedbelope oë “deur die windpomp se wieke”, welliswaar in Loxton, nie Barrydale nie, maar skielik word die liedjie vir my werklikheid:
nooit het die blou
verdof in jou dronk
of rooi geaar
of pers gepimpel
soos jou arme knol
van ‘n neus nie
Blou was jou oë
in Barrydale
die dag deur die windpomp
se wieke en blouwinde
wat wapper
Daarom is hierdie my gunsteling bundel op die oomblik, van Jelleke Wierenga, bloot mens: “Bloot mens“.
Groete,
Chris van der Westhuizen
Tuesday, November 3rd, 2009
 Tjitske Jansen
Verlede week is dit bekend gemaak dat Tjitske Jansen met die gesogte Anna Bijns-prys vir vanjaar bekroon is. Sy ontvang die prysgeld van € 10,000 vir haar bundel Koerikoeloem. Die paneel beoordelaars, wat bestaan het uit Anna Enquist, Mustafa Stitou, Jaap Goedegebuure, Marja Pruis en Fleur Speet, het bevind dat haar bundel ”een originele, gewaagde en verfrissend humoristische blik op tragische gebeurtenissen (werpt). Het vormt in z’n diversiteit zo’n compact geheel dat de jury er niet omheen kan. De bundel is licht en donker. De bundel waaiert uit en bindt in. De bundel houdt afstand en schrijnt op de huid. De bundel is een samensmelting van contrasten die schitteren als een juweel.’ Die ander digters wat vir dié prys genomineer was, is Eva Gerlach (Situaties) en Esther Jansma (Alles is nieuw). Die volledige verslag kan hier gelees word.
Inderdaad is dit geen geringe prestasie deur Jansen om haar te midde van dié uitgelese geselskap te kon laat geld nie; veral omrede haar poësie allerweë as hoogs toeganklik en selfgerig beskou word. Nogtans het daar meer as 10,000 eksemplare van haar debuutdigbundel Het moest maar eens gaan sneeuwen (2001: Podium) verkoop … (Gaan lees gerus die berig by De Papieren Man. Op die Konijnklike Biblioteek se webblad kan jy ook ‘n onderhoud te lese kry.)
Nietemin, hierdie bekroning het my aan Charl-Pierre Naudé se resensie van Jelleke Wierenga se Bloot mens op LitNet herinner en meer spesifiek aan die vrae wat hy aan die einde van sy resensie opper, aangesien soortgelyke vrae deur Bert van Weenen in sy resensie van Koerikoeloem, wat verlede jaar op Meander verskyn het, gevra word: “Blijft natuurlijk wel de vraag of je deze bundel kunt lezen los van Tjitske Jansens leven. Zou je Koerikoeloem ook gekocht hebben als het boek onder een pseudoniem op de markt was gebracht, zonder de foto van een aantrekkelijke vrouw op de achterkant? Kan deze tekst als je hem loskoppelt van de biografie van de auteur op eigen benen staan? Wat kan het mij schelen dat de schrijfster vroeger door haar broer in elkaar werd geslagen - wordt de tekst daar beter van? In mijn beleving is ‘echt gebeurd’ geen kwaliteitsaspect maar een verkoopargument. En dan nog een slecht verkoopargument bovendien, want tegenwoordig zeker geen unique selling point meer, met alle uitwassen van reality soaps die de media overspoelen. Of de ijskoningin hier, meer nog dan in Het moest maar eens gaan sneeuwen, haar ware emoties toont, is dus voor de poëzie van geen belang. Is Tjitske Jansen geslaagd in het componeren van een lang samenhangend gedicht op basis van beelden die zij ontleent aan een niet zo leuke jeugd? Dat is de centrale vraag.”
Voeg dan hiernaas Charl-Pierre Naudé se verduideliking van mimetiese ordes in die reeds genoemde resensie en jy besef dat hierdie ‘n punt is wat verdien om bepraat te word: “‘n Gedig wat van ‘n hoë mimetiese orde is, is een waar daar ‘n groot “verplasing” gebeur tussen die ervaring en die mimetiese weergawe daarvan (die kunswerk). ‘n Kunswerk van ‘n lae mimetiese orde is een waarin die “verplasing” klein is, sodat die kunswerk en die ervaring waaroor dit handel, amper sinoniem lyk. As die verplasing op meer as een manier gelyktydig gebeur én ook groot is, dan is die mimetiese waarde daarvan nog hoër. Hoe groter die gaping tussen die ervaring/objek en die kunswerk, hoe hoër is die waarde daarvan, hoe groter is die ervaring van transformasie by die leser.”
Belangrike standpunte, myns insiens. So, hoe lyk dit? Wil jy nie jou mening oor die kwessie van “middelmoot” of laer mimetiese poësie en die hantering daarvan aan die hand van (moontlik) gewysigde kriteria na die Brieweboks vir plasing stuur nie? Of wat blaf ek nou teen ‘n skeefgetrekte boom?
Vir jou leesplesier volg hieronder ‘n gedig uit Tjitske Jansen se debuutbundel Het moest maar eens gaan sneeuwen (2001); ongelukkig kry ek nie ‘n voorbeeld uit haar nuutste bundel opgespoor nie. (Terloops, Bert van Weenen se antwoord op “de centrale vraag” wat hy in die aanhaling hierbo opper, is: “Ja, beslis.”)
***
Nuwe plasings op die webblad vanoggend is die uitnodiging tot deelname aan ‘n poësie werkswinkel wat onder leiding van Ronel Foster by die Universiteit van Stellenbosch aangebied word op 27 November. Dan is ‘n interessante toevoeging tot die Versindaba vanjaar sekerlik die kunsuitstalling deur digters wat ook met die verfkwas vaardig is. Hier kan jy kyk wie die digters is wat deelneem en hoe van hul kunswerke lyk. Indrukwekkend, inderdaad.
Ten slotte - luister gerus vanaand om 09:30 na Leeskring op RSG; dan gesels ek met Daniel Hugo oor die Versindaba wat op hande is …
Mooi bly.
LE
Een groot nadeel van er nog niet zijn
je kunt ook nog niet kwijtgeraakt
nog niet verdwalen in een bos
dat toch te klein is voor verdwalen,
in jezelf of in een ander, teruggevonden.
Niet bij alle seringen stilstaan om eraan te ruiken
niet staren naar een laatje pennen en denken
waarom staar ik naar een laatje pennen?
Naar iets anders kijken! Naar de spiegel rennen.
Je kunt ook nog geen zusjes hebben en ook geen broertje
en ook geen broer en ook geen honderd moeders hebben
en niet die vader van je, niet die vrienden.
Je kunt nog nergens blijven, niet van iemand dromen
en ook niet dromen van jezelf als je er nog niet bent.
Je zou het verschil niet weten tussen maandagmorgen
en donderdagavond. Als je er bent kun je een kraan
horen druppen op vrijdag terwijl je in geluiden ligt
van trein en straat en ademhalen.
© Tjitske Jansens (Uit: Het moest maar eens gaan sneeuwen, 2001: Podium)
Thursday, September 17th, 2009
 Twisgesprek
Ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, het verlede week teruggekeer van sy oorsese reis en moes onmiddellik aan die werk spring. Met ‘n horde nuwe digbundels wat tydens sy afwesigheid verskyn het, is dit beslis géén geringe taak nie. Daarom is ons verheug dat hy sy eerste resensie oor Jelleke Wierenga se Bloot mens (Protea Boekhuis) reeds vroeër hierdie week kon geplaas het.
Onlangs het ek ‘n paar interessante stukke op die internet raakgelees betreffende die kwessie van literêre kritiek. Ten eerste was daar die kennisname van ‘n besonder unieke publikasie deur Yves T’Sjoen, een van ons nuwe bloggers. Dit is naamlik die boek Stem en tegenstem (Atlas, 2004) wat in wese negentien dubbelessays is in dialoogvorm tussen Yves en die digter wie se werk bespreek word. Intussen het ‘n webblad hieruit voortgevloei, naamlik DeRecensent waarin die digter (of skrywer) die geleentheid gebied word om op ‘n bepaalde resensie te reageer.
Waar daar onlangs nog hewige debatte in ons eie media gevoer is oor die kwessie van resensies en die unieke probleme (verdagmakings?) wat daarmee saamhang, wil ‘n mens tóg voel dat die elektroniese media in dié opsig die binnebaan het in vergeleke met die gedrukte media. Hoe kán ‘n mens immers binne die bestek van 600 woorde sinvol en indringend reageer op ‘n bepaalde teks; veral ‘n “digter” teks soos ‘n digbundel?! Voorts bied die internet die voordeel van reaksie en kontra-bespreking.
Daarom - raak betrokke en neem deel. Soos almal weldeeglik van bewus is, is die resensent ook maar net nóg ‘n leser van ‘n bepaalde teks; so ook die skrywer. Plaas dus ‘n kommentaar onder aan die resensie, of stuur ‘n e-pos na Brieweboks vir plasing.
Ter afsluiting kan jy gerus by The Quarterly Conversation gaan inloer waar daar tans ‘n baie interessante debat oor literêre kritiek gevoer word. Twee artikels wat beslis die moeite werd is, is die een hier en dan veral die antwoord hier. As lusmaker, die volgende aanhaling: “These days, the debate over how to write about reading is a cold affair: a de-militarized zone. I avoid the terms literature and criticism here, and perhaps even debate is too hifalutin a word to describe what has amounted to a decades-long pissing match between creative writers and critics. The current steely silence is evidence only of empty bladders; the combatants have become preoccupied with internal skirmishes.”
Mmm, nou ja toe. Ter wille van fatsoenlikheid eerder die volgende aanhaling deur die redaksie van The Quarterly Conversation: ” … A good critic will (to draw on Nabokov) be a storyteller, a teacher, and an enchanter. The critic will tell us a story, the critic will educate us, and the critic will convey some of the enchantment of the reading experience. Thus with every word, sentence, and paragraph the good critic will remind us why we’re spending time discussing a book in the first place.”
En dááraan voldoen ons huis-resensent beslis … Lekker lees en onthou: neem deel aan die gesprek. In Desmond Painter, ons ánder nuutverworwe blogger, het ons ‘n ekspert in diskoersanalise wat immers agterna kan help om weer al die bottelstukke en verskeurde ego’s aan mekaar te sit.
Hê pret vandag.
Mooi bly.
LE
Tuesday, September 15th, 2009
 Bloot mens
Bloot mens. Jelleke Wierenga. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-311-9. Prys: R130.
Met Bloot mens is Jelleke Wierenga, as ek reg getel het, al die sesde van die sestien digdebutante in nuwe stemme 2 (2001) wat met ’n eie solobundel vorendag kom.
Dis ’n gekwelde mens, geneig tot die uiterstes van lewensdrif en depressiwiteit, wat uit die prentjie tree by die lees van dié bundel. Pers en pienk is waarskynlik nie verniet die twee kleure wat die meeste opduik in die bundel nie; ook die swierige kledy van die vrou op die bandfoto (geneem deur Jurgen Doom) word deur hierdie kleure gestempel.
Vroulike sensualiteit, tot die swoele toe, en sentimentele gevoeligheid, maar ook pyn en kwesbaarheid, word so vooropgestel.
Die “sy” in die gedig “Argetipies” word byvoorbeeld, in ’n passasie wat plek-plek aan Cloete se uitbeelding van iemand soos Marilyn Monroe herinner, soos volg geteken:
Kaalvel koningin sy
in die tuin en beleef
hoe purper in pienk
pas en palm ooplyf:
die minnares-hedonis
Onverweer leef sy
teen die lang arm wat al vinniger
deur die sirkel swaai;
die bolip soet gekrul,
die wange weerloos:
sy[.]
’n Onvrede met die persoonlike verlede spreek uit die bundel. Dis ’n verlede gekenmerk deur onvervullende verhoudings, ook vanweë eie aandadigheid deur die subjek, soos veral uitgedruk in sekere van die gedigte in die afdeling “Galery van gewese geliefdes”. Daarby kom die besef dat die eie potensiaal nog grootliks onverwerklik is. Teen die einde van die bundel, in die gedig “Rekenskap”, bely die “ek” dat sy “’n lieg gelewe” het, “suutjies en saggies en bietjies”. As sy “eerlik” moet sê (in funksioneel verkapte taal), was sy tot dusver eintlik
[...] net pot
pot
potensiaal
gemorste mat
mat
materiaal.
Soos die titel van die gedig direk voorafgaande aan “Rekenskap” lui, is sy, wat al ouer as vyftig is, eintlik steeds net “op pad” – bowendien, luidens die gedig “Trip” in dieselfde bundelafdeling, onderweg “na wie weet watter onbewoonde / plan”. (Die ruimtevaartbeeld wat “Trip” oorheers, maak dit duidelik dat “plan” ook as “planeet” gelees moet word.)
Die leser kan dus skaars anders as om geraak te voel as Wierenga in “op pad” skryf:
[...]
en die lintwurm strek
so lank en so swart
daar’s rooi oë in die nag
en ek stop vir koffie by die Shell
een suiker asseblief
en ek is weer op pad
en ek draai die venster af
en al die sterre waai
en die maan dreunsing
op pad[.]
Die onvrede by die “ek” betref egter ook die burgerlike en/of verkommersialiseerde bestaanswyse van vandag (veral uitgedruk in afdeling 5, “Gespook”), asmede die sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika (afdeling 4, “Aan- en uitklag”).
Dié onvredes verskaf die nodige reliëf aan die hoë lewenseise wat die “ek” aan haarself stel. “Vraatsug” is ’n woord wat in die gedig “Geboortedag: 1 Mei 2007” val om dié lewensdrif te kwalifiseer. 1 Mei 2007 was klaarblyklik die dag waarop sy bevry is van ’n versmorende verhouding oor “dekades” heen wat haar “dood en gewoon” laat voel het. Nou wens sy vir haarself:
Waag.
Waar.
Wonders.
Daarby poësie, waarsonder sy “glad nie lewe [lus] nie”.
Teen hierdie tyd is die verskillende betekenisnuanses van die bundeltitel al duidelik. Dit gaan om ’n blootgestelde, verwondbare mens (nou ook deur middel van die selfopenbarende digbundel!), maar wat ook inténs mens wil wees. Trouens: bloot méns. Vergelyk die stilisties verkapte, derhalwe gestroopte (maar terselfdertyd sensuele) gedig “Kantwerk” uit die selftekenende afdeling “Profiel”:
Tuinwerk.
In blou kantbroekie.
Son op die land.
En lyf.
Buurman.
Op soldertrap.
Sien.
Wat jy sien.
Hier.
Is ek.
Kant.
En kaal.
’n Ander treffend gestroopte vers in Bloot mens is “10 September 2007” (oor die dood van ’n suster); miskien ook die slotgedig, “Waarneming”.
Sulke gedigte is egter in die minderheid. In die meeste gevalle word ’n seggingsvernuf eerder uitgestal: enersyds as ’n maskerade teen die eie weerloosheidsgevoel, andersyds as neerslag van die belyde lewens- en uitingsdrang. Daarby kom ’n opvallendmaking van aanhalings, intertekstuele verwysings en toespelings as “bewuste” literêrheid.
Soms, in gedigte soos “vir BB”, “Epos sonder helde of heldinne” en “Dit kan nie wees”, word dit hoofsaaklik boeiend of funksioneel gedoen (byvoorbeeld met betrekking tot bewussynsontwrigtheid). Meestal lei dit egter tot oordaad, tot onbeheersdheid wat selfs banaliserend kan aandoen.
In laasgenoemde verband staan die alliterasiedrif in soveel gedigte uit. “Profiel”, “Argetipies”, “Hoe gaan dit nog met jou adiposity?”, “Klaaglied van die kleintjies” en “Dislojale verset” het die twyfelagtige eer dat hulle as “uitstekende” voorbeelde hiervan genoem kan word.
Daar is waarskynlik iets uitdagends, iets aandringend poëties in die wyse waarop Wierenga vreemd- en opvallendmakende middele benut soos die volgende: woordfunksiewisselings (byvoorbeeld die reeds aangehaalde “[k]aalvel koningin sy”) en omgekeerde woordordenings, neologismes en gesogte samestellings (“bottel-bekkend”, “dwarreldaal”, “goorgrond”, ensovoorts, ensovoorts), ellipse, ontkoppelings (“sonder lei of draad”), woord- en klankspel (“poësie … ha-ha, gee ons eerder poesie”!), Loslitafrikaans en woordkontaminasies (“wondernis”), uitbuiting van spreekwoorde en geykte segswyses, herhalingseffekte soos parallelismes, anafore en repetisies, asook retoriese vrae en enumerasies (dikwels in polisindetiese opstapeling van konstruksies met “en”).
Met betrekking tot die satiriserende, sosiaal- en religieus-kritiese verse in afdelings 3, 4 en 5 sou ’n mens nog ’n saak kon uitmaak dat dit ’n speels-ondermynende werking het.
Maar dié stylopvallendhede verteenwoordig ook ’n soort digterlike naaklopery, waardeur die poësie ernstig aan subtiliteit inboet. Dit word helaas alte geforseerd, te “maklik”. Ter illlustrasie enkele passasies uit “Huis ontuis”:
[...]
Dis bedoel om my & jou
– hallusineer / droom ek –
te wakker na bewus:
no pain, my dear,
no gain:
en dis die kotsbare waarheid.
[...]
jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche
[...]
ek sel my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life
[...]
Meermale is die eindproduk banalisering, soos gesê. (Die herhaalde verwysings na en toespelings op Breyten Breytenbach in die bundel verlei my om van Breyten-vir-die-volkse-smaak te praat.)
Let maar op hoe die oppervlakkige vernufspel die morele onthutsing en aanklag in ’n geval soos die volgende ontkrag:
Die situasie
Sito-sito die situasie
op die snelweg
’n transito-oorloggie
og toggie
konsternasie op die stasie
want die fluitjie willie blasie
en die gewere is in die menasie
of geleen deur die nasie
maar alle panic op ’n knoppie
die amagents ken die wet
van etiket
en vra polite:
“Your money or your life!”
umshini wam bam bam
“Thank you, man!
And greetings to your wife!’
Clichés opgestapel saam met oorwerkte truuks.
’n Mens kry die indruk dat Wierenga ten alle koste poësie wíl maak (en publiseer). ’n Bietjie soos die blitsbesoek-minnaar in “Epos sonder helde of heldinne” wat aandring: “ek WIL jou NOU ek wil jou GOU”.
Dis jammer, want die klompie knapper gedigte in Bloot mens kom derhalwe te staan in die skadu van oorwoekerende woorduitwasse.
Resensie deur Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Wednesday, August 5th, 2009
 Rutger Kopland
Gister het Rutger Kopland (pseudoniem vir Rutger Hendrik van den Hoofdakker), een van die reuse in wêrelddigkuns, sy 75ste verjaarsdag gevier. Kopland het in 1966 gedebuteer met Onder het vee. Daarna het nog vyftien digbundels gevolg, waarvan Toen ik dit zag (2008: Van Oorschot, Amsterdam) die mees onlangse is. In sy loopbaan het hy vele pryse verower, waaronder die VSB Poësieprys (1988) en die PC Hooft-prys (1988). Kopland, wat hom as psigiater bekwaam het, het hom deur die jare heen gevestig as een van Nederland se mees geliefde digters. Die onveranderlike in die mens se doen en late kan as sentrale motief van Kopland se digwerk beskou word. In vers na vers verset hy hom teen dit wat verbygaan, met die besef dat die mens telkens daarheen terugkeer langs ánder weë. Hierdie teenstrydigheid het hy self treffend saamgevat in ‘n aanhaling op Poetry International se webblad: “Everyone finds a lost paradise in my poetry, a longing for it. I don’t long for the past, I long for experience (…) and experience is new, now.” Net so het hy by geleentheid die teenstelling tussen die nostalgiese toon van sy verse en die nie-nostalgiese betekenis daarvan, beskryf as “memories of the unknown”, ’n uitspraak wat uiteindelik as titel vir Kopland se vertaalde gedigte in Engels gebruik sou word. (Lees gerus die inligtingstuk hier.)
Hieronder volg ’n vers uit die pen van hierdie meester, plus ‘n vertaling daarvan deur Daniel Hugo.
Dan is dit vir my besonder aangenaam om ’n nuwe toevoeging tot ons digkuns te verwelkom, naamlik Jelleke Wierenga met haar debuutbundel, “Bloot mens” wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. By die eerste deurlees is dit veral die emotiewe lading van die verse en die besonderse gebruik van ironie wat ’n mens met ’n voorhamerslag tref. Ek vermoed dat ’n vergelyking met Jeanne Goosen se “Elders aan diens” en Ronelda S. Kamfer se “Noudat slapende honde” nie onvanpas is nie. (Maak seker dat jy ook die onderhoud lees wat met Jelleke gevoer is en hier op die webblad geplaas is.)
Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad.
LE
Oude vrouw met geiten
Zij komt terug, met een mand vol gras komt ze
op mij af tussen uitbundige bermen
om haar heen huppelen geiten
het is avond, in haar rug zijn de weiden nog
wit van de zomerse dag, zij is oud en klein
maar haar schaduw danst ver voor haar uit
zij is swart, om haar kousen, haar jurk,
haar hoedje, ligt een dun laagje licht
van de zon, het silhouet van het meisje
ja ze komt terug met zomers gras voor de geiten
© Rutger Kopland (uit: Verzamelde gedichten, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam.)
Ou vrou met bokke
Sy kom terug, met ‘n mandjie vol gras kom sy
op my af in die plesierige paadjie,
huppelende bokke om haar heen
dit is aand, agter haar is die weivelde nog
wit van die somerse dag, sy is oud en klein
maar haar skadu dans ver voor haar uit
sy dra swart, om haar kouse, haar rok,
haar hoedjie lê die son se dun
lagie lig, die silhoeët van die meisie
ja, sy kom terug met somerse gras vir die bokke
(Vertaling: Daniel Hugo)
Tuesday, August 4th, 2009
Bloot mens is wie ek is
Jelleke Wierenga in gesprek met Louis Esterhuizen
 Jelleke Wierenga
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer.
Haar debuutbundel, Bloot mens, het pas verskyn by Protea Boekhuis.
|
Jelleke, kan jy dalk ter inleiding iets omtrent jou persoonlike agtergrond vertel? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, en hoe het dit gebeur dat jy jou tans in Montagu bevind?
Ai, ek kry altyd so ‘n depressiewe insinking as ek oor my persoonlike agtergrond uitgevra word. Dit vermoei my erg … Dis nou drie dae later. Sug. Hier gaan ons … In my ontliggaamde staat het ek hierdie lewe wat ek op aarde sou lei (ly), lank betrag. Ek was geheel en al nie lus vir die spul nie. Toe skop ‘n ongeduldige engel my onder my ontliggaamde alie van die randjie van wik en weeg af. By die poort na die aardse lewe ruk ek my kop weg toe die afskeidsengel my wou soen, met die gevolg dat die kus van vergetelheid skrams geplant is. Ek onthou dus my ware tuiste goed en vind hierdie onderstebo, agterstevoor en deurmekaar plek genaam die aarde vreemd en onherbergsaam. Uiters raar dat sommige mense dink dis hul enigste tuiste - die engel het hulle seker vol op die mond gesoen.
Ek is op Klerksdorp in Wes-Transvaal gebore (hou dit asb. Wes-Transvaal, ek doen nie mee aan die klug van die Nuwe Suid-Afrika nie). Op Potchefstroom Afrikaans-Nederlands en Kommunikasiekunde geswot. In Johannesburg by Beeld begin werk, in die nagkantoor. Wonderlike en wilde tye.
My eerste trek was in ‘n swartman se taxi. Daai tyd was ‘n taxi ‘n gewone kar, nie ‘n kombi nie. Moenie my vra hoe my boekrak, bokse en tasse ingepas het nie. Ons het ooreengekom op ‘n fooi van R10 vir vervoer van die plek vir plattelandse meisies in Claimstraat, in die middestad van Johannesburg, na High Rise in Berea. My vyftiende trek, van McGregor na Montagu, was met ‘n oop boulorrie van Conradie’s Vervoer, plus ‘n sleepwaentjie vir al my potplante. Die dronk handlangers het die rit in weelde op my statige leerrusbank, ‘n egte ou Chesterfield, agter op die lorrie meegemaak.
Onder die adresse in my veelbewoë persoonlike agtergrond tel die Hotel 224 in Pretoria, Bosduiflaan 82 in Wierdapark en die Muizenberg-woonwapark. Hoe ek op Montagu beland het? Ek weet selwers nie en is eintlik doodverbaas - het maar elke keer beweeg wanneer die drang gekom of die binnestem gepraat of die verhouding in stukke gespat het. Dat ek al agt jaar hier bly, is skokkend … dis my lieflike ou huisie met sy solder, houtvloere en stoeptrap wat my vasgom.
Ek het onder meer vir Beeld, die WNNR, Sarie en Juta gewerk. Ek is al van 1989 af werkloos, ook bekend as vryskut.
Hoekom voel jy jou tot die poësie as uitdrukkingsmedium aangetrokke? Was daar bepaalde invloede wat ‘n rol hierin gespeel het?
In st. 4 en 5 het ek gediggies oor Meneer Van der Westhuizen, my klasonderwyser, geskryf - “Ou Wessie in sy ondervessie” - maar my pa het gedink dis onbehoorlik. Op universiteit het ek graag deur my Groot Verseboek geblaai en gelees. Ek het ook The Albatross Book of Verse in my eerste jaar ontdek. Die drang het begin roer. Ek het ‘n paar gedigte vir die universiteit se Skrywerskring geskryf en was tydens die bespreking verbaas oor al die “versteekte goed” wat daaruit gelig kon word. Goed waarvan ek glad nie bewus was nie. Dit verstom my steeds: dat ek nie regtig weet wat in my aan die kook is nie totdat ek skryf. Eers met die teruglees, soms jare later, besef ek hoe akkuraat die inskrywings in my joernaal en my gedigte allerlei onbewuste, onderdrukte en halfgevormde aspekte van myself, konflikte - ook die toekomstige verloop van my lewe - weerspieël. In dié opsig is gedigte vir my soos Freud van drome gesê het: die koninklike hoofweg na die onderbewussyn. Dalk ook die hoër bewussyn.
Die geskrewe woord was nog altyd my speelgoed, my skietgoed, my werkgoed, my toorgoed, my manier om die lewe te oorleef. As subredakteur by Beeld onder manne van naam soos Bob van Walsem en Ebbe Dommisse het ek seker die beste taalfondament denkbaar gekry. Dit het natuurlik ook gehelp om uit ‘n arm huis te kom waar die biblioteek - en die munisipale swembad - die hoofbron van vermaak was. As vryskutter het ek baie jare kopie vir onder meer Leserskring se katalogus geskryf - ‘n groot klomp inligting moes in ‘n baie klein spasie ingepas word. Hier het ek geleer om die maksimum uit elke woord te pers. Dit het my styl gestroop - die ideale slyping vir poësie skryf.
Ek het maar so deur die jare gedigte geskryf, nie vreeslik ernstig nie, en nie juis gedigte gelees nie. Ek het in 1994 ‘n klomp gedigte aan Human & Rousseau gestuur - ek was toe net as “Jeanne” bekend. Kerneels Breytenbach het my gedigte in ‘n bedagsame briefie afgekeur, onder meer omdat baie van die gedigte soos prosa klink. Hy het aanbeveel dat ek eerder prosa skryf. ” … met prosa bereik ‘n mens baie meer lesers as met poësie, wat maar steeds die kuns bly van wynige [stet] vir wyniges [stet].” Aldus Kerneels. Dit was ‘n dolk in my poëtiese hart. In 1998 stuur ek meestal dieselfde gedigte aan Tafelberg. Charles Fryer skryf ‘n bemoedigende briefie terug waarin hy sê veral die langer gedigte het ‘n vaart en speelsheid wat verras. Hy reken ek kan gerus meer gedigte oor “vleesdrif” maak en weer stuur.
Steeds is ek nie baie ernstig aan ‘t dig nie. Eers in 2006, ná die verpletterende verbreking van ‘n gedoemde verhouding, word gedigte en gedig skryf my letterlike oorlewing. Sedertdien het ek digters-pes. ‘n Tweede bundel lê al by Protea. En daar’s nog ‘n paar honderd gedigte in my joernale en op my rekenaar. Stapels digbundels lê op my bedtafeltjie. Vreemd hoe hierdie lang gesluimerde hartstog nou eers losbars.
Van jou gedigte het ook al elders verskyn, alhoewel Bloot mens ‘n eerste gebundelde publikasie is. Noem vir ons kortliks waar orals van jou gedigte verskyn het?
‘n Hele klompie kinder-/jeuggedigte is gepubliseer in die Afrikaans-taalboeke waarby ek betrokke was. In my McGregor-fase het ek ‘n klompie gedigte aan Tafelberg gestuur vir oorweging vir die bundel Nuwe stemme 2. Dit is aanvaar vir publikasie. Sestien nuwe digters het in hierdie bundel - saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager en in 2001 gepubliseer - gedebuteer. Ek het hier en daar ‘n gedig in versamelbundels gepubliseer; maar dis eintlik niks noemenswaardig nie.
Die titel van jou bundel is nogal treffend aangesien “bloot” in die onverbuigde vorm aan resonansie wen. Watter suggesties lê alles vir jóú opgesluit in hierdie “blootheid”?
Ek het nie juis lank of hard of baie gedink aan ‘n titel vir die bundel nie. Bloot mens het bloot een dag of nag in my kop beland. Ek het geweet dis net reg. ‘n Mens stel jouself baie bloot deur jou gedigte te publiseer, veral as van hulle van ‘n intieme aard is; diep, intense, persoonlike belewenisse. Jy openbaar dele van jouself wat die meeste mense liefs bedek hou. My gedigte toon ook dat ek net mens is, vol allerlei teenstrydighede: bravade en weerloosheid, haat en liefde, wreedheid en teerheid, ‘n intense lewensdrif, maar ook ‘n diep doodsdrang. Ek haat pretensie, voorgee, agteraf. Bloot mens is wie ek is.
Jou verse getuig van ‘n besonderse sterk sosiale bewussyn. So is daar verse oor misdaad, sosiale onregte, omgewingsbewaring en allerhande soorte verslawings. Is jy van mening dat die uitpraat téén onregte ‘n bepaalde funksie van die hedendaagse digkuns is (of behoort te wees)?
Niemand behoort ooit van ‘n digter te “verwag” om oor sekere goed te skryf nie. Myns insiens behoort die digter uit ‘n opwelling van intensiteit oor wat ook al te dig - enige ding onder die son wat hom of haar diep roer, ontroer, aanraak, plesier verskaf.
Ek voel baie sterk oor baie dinge - dinge wat so verkeerd is (myns insiens) dat dit ten hemele skree, maar dit traak so min mense. Goddank kan ek my intensiteite uit-druk in my gedigte; die plofkrag gebruik om iets nuuts te skep. Dit is vir my uiters vervullend. As ek in die proses mense aanraak of wakker maak, loop my beker oor. Dit is vir my verskriklik dat soveel mense wandelende dooies is, verdof en verdoof. Om die lewe onverdoof te ervaar, is geweldig pynlik en ongemaklik, maar myns insiens die enigste pad na hoër bewussyn. Ek is ook uitgelewer aan verslawings, maar ek stry bewustelik daarteen, want vir my is dit die pad van die dood. Ek was al lang rukke in my lewe dood.
Jelleke, met die deurlees van jou verse tref die besonderse manier waarop jy ironie hanteer, ‘n mens. Is dit vir jou ‘n bewustelike tegniek of iets wat natuurlikerwys kom vanweë ‘n bepaalde lewensingesteldheid?
Ek is eintlik verbaas dat jy van die ironie in my verse praat. Dis seker so onbewustelik deel van my dat ek nie eens besef dat dit ook sterk in my verse deurslaan nie. Dis natuurlik ‘n manier om seer te slaan en ek span dit outomaties in as ek woedend-verontwaardig voel oor iets.
In jou verse is daar dikwels ‘n inspeel op die skryfproses as terapie; iets wat ‘n sterk emosionele lading tot gevolg het, te midde van momente van bykans onhanteerbare teerheid, en veral: verwonding. Gaan jy akkoord, of lees ek dalk die emosionele basis van jou verse verkeerd?
Skryf is vir my die verskil tussen lewe en dood, soos in die gedig “Kankerkuur” verwoord word. My verse is dus sterk gelaai. Ek is nie ‘n lou mens nie; ek voel intens, swaai hoog en laag, wat die lewe natuurlik nie baie maklik maak nie. Ek is bly jy sien teerheid in my verse raak … ek was bang hulle hel dalk te veel na die striemende kant oor. Ja, ek is ‘n baie kwesbare mens, ‘n velletjie of twee te min. Ek het bewustelik besluit om my hele self in my verse te ontbloot … van daar ook die titel. Ek het dit oorweeg om die bundel onder ‘n skuilnaam te publiseer, juis oor hierdie ontbloting van my “teer” plekke, maar ná nadenke besluit: Ek is wie ek is - “hier is ek, kant en kaal”. Juis deur die moed te hê om jou kwesbaarheid te wys, toon jy ‘n sekere onkwesbaarheid. Ek het meer respek vir ‘n kwesbare mens wat bewus is van haar/sy kwesbaarheid en dit wys as iemand verpak agter sielkundige skanse/verdowings en dan oorkom as “gebalanseerd” of “normaal”. Ek is onrehabiliteerbaar abnormaal en wens ek het genoeg geld gehad om vir die res van my lewe in sielkundige terapie te wees. By gebrek aan geld skryf ek maar gedigte.
Nog ʼn aspek van jou verse wat die leser opval, is die stilistiese verskeidenheid daarvan. Alhoewel die verse deur middel van toon en tema saamgegroepeer word, wissel die aanbod van kriptiese verse (soos “Kantwerk, p.25) tot langer, verhalende verse (soos “Epos sonder helde of heldinne”, p.43). Dit laat ʼn mens wonder: by wie se verse, uit die Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld, vind jy die meeste aanklank? Of lees jy merendeels oorsese poësie?
Kopieskryfwerk het my gestroop tot kripties. Elke woord moet werk. Met die langer verse kon ek lekker speel met woorde, my geliefkoosde tydverdryf. Ek lees omtrent net Afrikaanse poësie en daar lê ‘n hele klomp nuwe digbundels op my bedtafeltjie. Ek is besig om die drie dele van die nuwe Groot Verseboek deur te lees. Breyten Breytenbach se gedigte, sy hartstog, sy metafore, sy ongeëwenaarde woordspel, slaan my asem weg, letterlik! Van altyd af tot nou. T.T. Cloete is briljant. E.W.S. Hammond het ek onlangs ontdek - ‘n sielsgenoot wat ek ongelukkig nooit in die liggaam ontmoet het nie. Antjie Krog, Ronelda S Kamfer, Gert Vlok Nel, Danie Marais … ek kan nog seker 30 name noem van digters wie se gedigte my diep raak of vermaak.
Jelleke, “Bloot mens” is ʼn besonder sterk debuut en ons hou beslis jou loopbaan voortaan met groot belangstelling dop. Sal jy so vriendelik wees om as toegif een van jou persoonlike gunstelinge uit jou bundel hieronder vir ons lesers oor te tik?
Dankie vir jou mooi woorde. Nogal al my gedigte is my gunstelinge (!), dus is dit moeilik om te kies. “Epos sonder helde of heldinne” was vir my ‘n geweldige ontlading, maar dis te lank om hier te reproduseer. Ek volstaan met “10 September 2007″:
10 SEPTEMBER 2007
My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het
by Tannie Agter een aand
by ons spoorweghuis in Wilgehof-Wes
en sy ons geflitsvang het en ons
agterna gegiggelgil het van skaamte?
Sussie,
wat het Jesus en/of die engele gesê
toe jy daar kom
en het jy jou lewe in 3-D gesien
en vreeslik spyt gekry
en is die skape al van die bokke geskei?
Sussie,
waar sweef jy nou
in jou lang wit nagrok rond
soos jou alkoholiese skoonma
(nou wyle, soos jy weet)
jou gesien het voor jou dood?
Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike
pyn teen die ondraagliker pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.
Sussie,
ons het nou plooie en word grys
en Ma kry hoofpyn nes jy
sy huil maar dis van haar nek
en Pa wankel geraamterig rond
hy werk steeds in die garage.
My Syboksussie,
dit is/was
jou verjaardag vandag.
Ek het nie vergeet nie
en wil net sê:
Sussie, ek kom.
|
|