Posts Tagged ‘Blou’

Nini Bennett. Blou

Thursday, October 25th, 2018

 

 

In die koue nag van die kosmos draai die aarde, die klein, blou planeet. Die digter Archibald MacLeish het gesê: Eeue voor Carl Sagan se Pale Blue Dot was die sterre slegs ligte aan Dante se hemel, en die aarde was die wêreld, die héle wêreld waaroor die mens volgens God se lotsbeskikking geheers het.

Op 14 Februarie 1990 is die laaste foto’s van Voyager 1 ontvang toe dit na die aarde teruggekyk het op ’n verstommende afstand van 5,9 miljard km. Dit het ’n blou kolletjie ingesluit. The Pale Blue Dot is seker een van die mooiste odes wat ooit oor die nat, blou planeet geskryf is. Hier volg ’n uittreksel: Look again at that dot. That’s here. That’s home. That’s us. On it everyone you love, everyone you know, everyone you ever heard of, every human being who ever was, lived out their lives. The aggregate of our joy and suffering, thousands of confident religions, ideologies, and economic doctrines, every hunter and forager, every hero and coward, every creator and destroyer of civilization, every king and peasant, every young couple in love, every mother and father, hopeful child, inventor and explorer, every teacher of morals, every corrupt politician, every “superstar,” every “supreme leader,” every saint and sinner in the history of our species lived there–on a mote of dust suspended in a sunbeam.

Op ’n afstand is die aarde blou. Maar blou is meer as bloot ’n chromatiese kleur, alhoewel The Telegraph se kleurkaart ongeveer 60 skakerings, skadu’s, tinte en tone van blou bevat. Dwarsdeur ons letterkunde figureer die kleur blou as ’n simbool, ’n toestand van syn, ’n uitdrukking van die liriesste en grootste transendentale hoogtes van die menslike verbeelding. Soos geel ’n element van lig bevat, skuil die beginsel van duisternis in blou. Volgens die skilder en kunsteoretikus, Wassily Kandinsky, kan blou verdiep en wegsink in swart: ’n skakering wat die ondraaglikheid van menslike verdriet verbeeld. Dan, aan die ander kant van die spektrum, verloor blou sy betowering vir die mens wanneer dit uitbleik en wegraak in wit.

In haar bekende essay, A Field Guide to Getting Lost, mediteer die skrywer Rebecca Solnit só oor die kleur blou: Vir baie jare voel ek my aangetrokke tot die blou van uiteindes; die blou van horisonne en veraf bergreekse. Die kleur van afstand is ook die kleur van emosie, die sensasie van eensaamheid en begeerte. Blou is ’n kleur wat jy nooit volledig kan bereik nie – sommige lig reis nie al die pad deur die atmosfeer nie, maar raak verstrooi saam met ander molekules in die lug in wat bekend staan as die Rayleigh-verskynsel. Die diep en dromerige melankoliese blou; die blou van atmosferiese afstand en die diepte van water is ’n illusie. Sommige dinge besit ons omdat ons dit verloor het…en sommige dinge is nié so verlore solank ons dit in die blou vergetelheid kan waarneem nie.

Dink aan korale: die swewende marienetuine onder die see. In haar grensverskuiwende Under the Sea-Wind besin die marienebioloog Rachel Carson oor die see en oor verskillende belewenisse van blou. Die monotone duisternis van die diepsee lewer die vreemdste modifikasies van fauna op. Soos die seesones verander en verdiep, verander die kleur van water ook. Tot en met 200 m vanaf die vastelandshelling word die Sonligstreek aangetref. Dit is hier waar fotosintese plaasvind; waar die meeste plante en lewensvorme floreer. Die see se Skemerstreek begin op ongeveer 1000 m afwaarts, voordat die Middernagstreek op 2 km aangetref word. Die diepsee, met sy onbekende trôe en abissale dele breek aan op ’n diepte van 8000 – 11 000 m. Dit word die hadalpelagiese sone genoem, vernoem na Hades of die onderwêreld: die berugte ‘koue nag’ van die oseaan – en dit eggo MacLeish se woorde oor die kosmos.

Op die blinde seebodem leef daar gediertes sonder oë wat aan ekstraterrestriële lewe herinner. Waar die waters langs die kuslyn blougroen – die kleur van lewe – is, vertoon die abissale water swart; of ’n kleur wat selfs swarter as swart kan wees, amper soos vulkaanglas. Die lig in die water doof uit hoe dieper jy gaan: die rooi strale verdwyn na die eerste 300 voet, en daarmee saam, die oranje en geel van die son, die stadige breeklig van strale gefiltreer deur water. Op ’n 1000 voet is slegs ’n diep en donker, fabelagtige blou sigbaar.

Carson vervolg: Om die see te verstaan, moet die mens alle begrippe van lengte, breedte, diepte, tyd en ruimte laat vaar. Geen mens of soogdier kan dit kilometers onder die water waag nie – die waterdruk is te hoog en dit sou noodwendig lei tot ’n inploffing van so ’n liggaam. In die abissale see word alle kleur, alle lig opgeskort. Wetenskaplikes kan marienelewe slegs met gesofistikeerde tegnologiese toerusting bestudeer: die swartduiwel, wat waarskuwend met sy sirenes deur die water blits; of die seespinnekoppe wat met hulle lang speekbene uit die modder peul. In die onderwêreld vorm bentoniese organismes ’n geil gemeenskap van gruwelike en fantastiese kreature – sponse, blomagtige naakslakke, knorhane, heilbotte, buiswurms en oesters, soos antieke beursies, om ’n paar te noem. Dáár waar die menslike oog nie kan sien nie – en waar kleur ophou bestaan.

*

Blou   

 

As aasvoëls ’n broklyf ten hemele neem

die kadawer kluif en reinig tot die laaste ritueel

 

en as ons brandaltare  van verassings agterlaat

en lywe spookwit in kole skei

ja, as ons vuurstof word

 

of ’n stoet ’n mens ter aarde bestel

uitgeloot aan beloftes van wortels

en die ongenadige skoonheid van verval

as vaatbundels nuwe lewe neem

ja, voor ons grondfossiele word

 

en as ons weeksag in water vergaan

met wrakke en skatte in die siersteen

van oseane groei, oor koraalriwwe

tot op die been

as skulpe ons stilte amplifeer

en branders hoogty sketter

as eko-skelette

die verlore tyd aangee en ons

iewers koraalmusiek word

 

ja, as vuur self sterf

en die aasvoëls vertrek,

grond wroet aan die toeverlaat

van nog ’n liggaam

en ook die laaste beenmeel wuif,

die see se asem verslaan

dan sal net die lug oorbly

en as selfs die lug leeggewaai is

 

sal ons blou word,

want blou is die verste kleur

ja, dan sal ons eendag word.

 

Nini Bennett, Boekstaaf 2015.

 

Verwysings:

 

http://www.planetary.org/explore/space-topics/earth/pale-blue-dot.html

http://cecelia.physics.indiana.edu/life/moon/Apollo8/122568sci-nasa-macleish.html

Bennett, N. 2015. Boekstaaf. Pretoria: Cordis Trust-Publikasies.